Agtergrond en konteks

Die inligting waarop hierdie lesing gebaseer is is grootliks geïnspireer deur die boek van Tim Jackson met die titel van ‘Prosperity without growth: Economics for a finite planet’. Jackson is die Ekonomiese Kommissaris by die Verenigde Koninkryk se Volhoubare Ontwikkelings-kommissie, die regering se onafhanklike adviesliggaam. Hy is ook Professor in Volhoubare Ontwikkeling by die Universiteit van Surrey en Direkteur van die Navorsingsgroep oor Lewenstyl, Waardes en Omgewing.
In hierdie nuwe, ontwikkelende en multidissiplinêre vakgebied is daar baie vrae wat nog nie antwoorde het nie en vind die debat nog net in sekere kringe plaas. Gevolglik is daar nog baie meningsverskille oor watter benaderings gevolg moet word. Die sienings en inligting is meer op ontwikkelde lande van toepassing, maar hierdie lesing is ook op die ontwikkelde deel van Suid-Afrika gemik. Die inhoud sal moontlik ‘n mate van ongemak veroorsaak of selfs die bloeddruk opjaag. Die doel is egter om in te lig, die debat te stimuleer en mense moontlik tot aksie aan te moedig. Wees gewaarsku, hierdie boodskap is in sekere kringe nie populêr nie, omdat dit met bestaande sienings en belange bots.
Ek is nie ‘n ekonoom of omgewingsekonoom nie, maar ‘n ingenieur met ‘n multidissiplinêre agtergrond en onder andere ‘n Magister in Bedryfsleiding. My spesialisgebied is energie (konsultasie, navorsing en beleid) wat ook skakel met die omgewing, ekonomie en menslike gedrag.

1.  Inleiding

Welvaart is die gevoel dat dinge vir ons reg verloop, volgens ons hoop en verwagtings en dat dit ‘n aspek van kontinuïteit insluit. Daar is dus ‘n vertroue dat die situasie in die toekoms ook sal geld. Soos persoonlike welvaart bydra tot die welvaart van familie, vriende en die breër gemeenskap, word dit ook beskou as die antwoord op hongersnood, behuisingsnood, armoede en ongeregtigheid – die hoop vir ‘n beter wêreld van veiligheid en vrede.
Maar die mensdom is besig om hierin te misluk. Ons tegnologieë, ons ekonomie en ons sosiale aspirasies is swak belyn met enige sinvolle uitdrukking van welvaart. Die visie van die sosiale proses wat aangespoor word deur ‘n voortdurende toename in materiële goedere, is fundamenteel nie volhoubaar nie. In ons daaglikse soeke na die goeie lewe is ons sistematies besig om die basis van ons toekomswelvaart te erodeer. Ons loop die gevaar om ons vooruitsig op ‘n gedeelde en volhoubare welvaart te verloor. Onder andere gaan dit oor ons aktiwiteite, ons menslike natuur en die beperkings van ons ekologie. Die mensdom sal ernstig aan hierdie beperkings moet aandag gee.

Die kernvraag is hoe welvaart moontlik is in ‘n wêreld onder druk, met beperkte hulpbronne en ‘n bevolking wat binne dekades meer as nege miljard sal wees. Die algemene benadering is om mikpunte vir welvaart in ekonomiese terme te stel en om voortdurende ekonomiese groei as die metode te beskou om dit te bereik. Hoër inkomstes beteken meer keuses, ryker lewens en ‘n beter kwaliteit van lewe vir die wat daarin deel. Of dit is in elk geval die konvensionele wysheid. Die benadering word gebaseer op ‘n toename in die bruto binnelandse produk (BBP) per kapita, wat breedweg ‘n maatstaf is om die ekonomiese aktiwiteit van ‘n staat of streek te meet. BBP groei is daarom oor die laaste dekades een van die belangrikste beleidsdoelwitte in die wêreld. Dit is sekerlik noodsaaklik vir die wêreld se armste lande. Maar geld dieselfde logika vir die ryk lande of die ryker deel van ontwikkelende lande? In hulle geval word oorlewingsdoelwitte meer as bevredig en die oormaat van verbruikersgoedere dra min by tot materiele gemak.

Die outeur meld: ‘In a world of finite resources, constrained by strict environmental limits, still characterised by ‘islands of prosperity’ within ‘oceans of poverty’, are ever increasing incomes for the already rich really a legitimate focus for our continued hopes and expectations? Or is there perhaps some other path towards a more sustainable, a more equitable form of prosperity?’ Ons sal weer en weer na hierdie vraag terugkeer, maar vir baie ekonome is die idee van welvaart sonder ekonomiese groei totaal ondenkbaar. Welvaart is egter nie sinoniem met inkomste en besittings nie; toename in welvaart is nie dieselfde as ekonomiese groei nie; meer is nie altyd beter nie.

Om meer te lees oor  die Welvaart Sonder Groei: Ekonomie vir ‘n Eindige Planeet, Kliek asseblief op die PDF  hier onder:

Welvaart-Lesing-Red.pdf