Deur: ABEL PIENAAR

Datum : So 04 Okt 09

Vandat ek kan onthou wonder ek oor die bestaan van God. Want, indien daar nie ’n God is nie, sou ek my uitkyk op die lewe sodanig moes aanpas om nuwe sin te vind.

Hoe sou ek lewe en dood verstaan sonder ’n hemel en ’n hel?

Hoe sou ek die sin van die lewe verstaan sonder sonde en vergifnis?

Hoe sou ek getroos word sonder die woorde: “Daar is ’n God wat vir my lief is en wanneer ek doodgaan, wag daar ’n plekkie vir my in Sy koninkryk ver anderkant die wolke”?
Ek moes net weet! Bestaan God of is dit ’n menslik geskepte idee? Is daar bewyse vir Sy bestaan? Mag ek sulke vrae vra?

Die vraag oor God se egtheid het aan my gekarring soos ’n irriterende kind. Ek kon eenvoudig nie die twyfel afskud nie. Om sekerheid te kry het ek teologie gaan studeer. Maar na ses jaar en twee grade later moes ek erken die vraag was nog net so brandend soos voorheen.

As leraar van ’n bekende makro gemeente in die stad, het ek egter baie vinnig bekend geword as ’n dinamiese en charismatiese prediker. Ek moes my vrae mooi netjies wegbêre – sodat ek kon preek en “perform” soos ’n goeie Christen prediker.

Gedurende hierdie tyd het ek so nou en dan my twyfelvrae na vore laat kom, maar is sommer vinnig reggehelp met opmerkings soos “Almal twyfel nou en dan, geloof is juis om nie bewyse te hê nie!” Dan het ek my vrae weer netjies weggepak en probeer vergeet. Ek het egter oor die jare geleer dat vergifnis wel moontlik is, maar vergeet nooit! My vrae het soos goeie ou vriende gereeld kom kuier en ek moes oor die jare al harder en harder werk om hulle in hulle donker plekkie te hou. Hoekom kon ek nie vrae oor God vra nie? Hy is dan Almagtig! My paar nietige vragies kon tog niks aan God se Almag doen nie! En so het ek op ’n pad begin stap wat my van ’gewilde dominee Abel’ geneem het tot ‘een van daardie mal, vals ateïste’!
Ek het uit die NG kerk as predikant en as lidmaat bedank. Hierna het ’n woestyn-tydperk aangebreek waar ek my geloof totaal verloor het. Maar tot my krediet kan ek noem dat ek nooit ophou soek het nie. My soektog was egter nie meer net vanuit die Christendom nie. Ek het Boeddhisme begin bestudeer en praktiseer. Ek het filosofie en sielkunde begin bestudeer. Ek het my doktorsgraad in die filosofie van Godsdiens gedoen. Wat ek nie toe besef het nie, was dat ek besig was om ’n “nuwe” spiritualiteit vir myself uit te trap.