Inleiding

Richard Dawkins se boek The God Delusion is na my mening een van die belangrike boeke wat vanjaar gepubliseer is. Dis nie ’n boek wat ’n mens maklik in godsdienstige boekwinkels in Suid-Afrika sal vind nie. In die voorwoord stel hy dit nadruklik dat hy aan ateïste wil toon dat hulle ’n gelukkige en gebalanseerde lewe kan lei. Voorts dat hulle moraliteit nie onder verdenking staan nie en derdens dat hulle intellektueel kop en skouers bo diegene uitstaan wat hulle deur godsdienstige leiers aan hulle neuse laat rondlei. Hy spreek voorts die hoop uit dat sy boek ateïste sal help om uit die kas te kom sodat hulle ’n regmatige plek in die samelewing kan beklee. In sy eie woorde: “My dream is that this book may help people to come out” (Dawkins 2006:4). Dawkins wil dus nie vir die onbekeerdes preek nie, maar vir diegene wat reeds ’n denkskuif gemaak het.

Sy boek bestaan uit tien hoofstukke waarvan die eerste vyf handel oor die onhoudbare idee dat daar ’n teïstiese god is. In hoofstuk ses en sewe bespreek hy die verhouding tussen godsdiens en moraliteit. In hoofstuk agt en nege wys hy op die wreedhede en ellendes wat teïstiese godsdienste tot gevolg het. In die laaste hoofstuk beklemtoon hy dat sin en betekenis nie van buite die mens kom nie. Sin en betekenis word deur mense geskep. Na regte sou ’n mens kon sê dat die laaste drie hoofstukke vir ateïste gemoedsrus moet gee dat hulle op die regte pad is en dat hulle hulle nie deur godsdienstige en politieke leiers moet laat boelie nie.

 

2          ’n Kort oorsig van sy argumente oor god en godsdiens

 

Om sy doel te bereik, begin Dawkins met ’n uitspraak van Albert Einstein. Hy het by geleentheid gesê: “I don’t try to imagine a personal God; it suffices to stand in awe at the structure of the world, insofar as it allows our inadequate senses to appreciate it” (Dawkins 2006:9). Alhoewel Dawkins waardering vir hierdie stelling het, meen hy dat wetenskaplikes hulle van religieuse taal moet weerhou. Dit skep volgens hom net verwarring en wek die indruk dat wetenskaplikes en teoloë besig is om dieselfde gesprek te voer. Volgens hom verdien godsdienste nie die soort respek en ereplek wat dit in die Westerse samelewing beklee nie. Dit belemmer nie alleen gesonde gespreksvoering nie, maar ondermyn die humane en liberale waardes waarvoor vele mense oor eeue heen gestry het.

Om verder lyf aan sy argument te gee, begin Dawkins om die idee dat daar ’n persoonlike god of gode bestaan, af te skiet. Volgens hom wil hy nie ’n spesifieke godsdiens aanval nie, maar godsdiens in die algemeen. In sy eie woorde: “I am not attacking any particular version of God or gods. I am attacking God, or gods, anything and everything supernatural, wherever and whenever they have been or will be invented” (Dawkins 2006:36). Alhoewel hy dit benadruk dat hy nie ’n spesifieke god of godsdiens aanvat nie, kan hy nie anders as om spesifek te raak nie. Hy kan eenvoudig nie by die algemene bly nie, maar moet gedurigdeur na die spesifieke verwys. Dis daarom nie vreemd nie dat hy die hoofstuk wat oor die “God-hipotese” handel, met die volgende stelling begin:

 

The God of the Old Testament is arguable the most unpleasant character in all fiction: jealous and proud of it; a petty, unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a mysogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully (Dawkins 2006:31).

 

Die steling is na my mening bedoel om te skok. Dit geld ook van die stelling van Thomas Jefferson (die eertydse president van die VSA) wat hy op dieselfde bladsy aanhaal: “‘The Christian God is a being of terrific character – cruel, vindictive, capricious and unjust’” (Dawkins 2006:31). Die godsbegrip wat hy hier aan die orde stel, staan algemeen bekend as teïsme en dit is dan ook teen teïsme wat hy hoofsaaklik reageer. Hy omskryf teïsme soos volg: “There exist a superhuman, supernatural intelligence who deliberately designed and created the univere and everything in it, including us” (Dawkins 2006:31).

Dit is wel korrek om te sê dat die antieke Israeliete, die vroeë Jode en die eerste Christene ’n teïstiese godsbeeld gekoester het, maar dit is verkeerd om die historiese ontwikkelinge te ignoreer en voor te gee dat al die skrywers van die Ou Testament, alle Israeliete, alle Jode en alle Christene dieselfde idee oor god gekoester het. Jack Nelson-Pallmeyer (2005:8) gee ’n baie beter perspektief wanneer hy die volgende oor die Bybel skryf: “The Bible presents diverse and irreconcilable images of God, incompatible explanations for historical disasters or triumphs, and conflicting ideas for how to live a faithful life.” Dawkins sou na my mening beter gevaar het met sy kritiek deur uitsluitlik op die tradisionele Christelike godsdiens te fokus en uit te wys hoedat die Latynse kerkvaders ’n meesterverhaal geskep het wat in hulle dag sin gemaak het, maar wat later vir vele mense nie meer sin maak nie omdat dit verweef is met die antieke drieverdieping heelal en die siening dat alles om mense draai. Günther Weber, die “bekeerde Katoliek” stel dit treffend:

 

The notion that God, the creator of the universe, became incarnate on earth, a cosmic speck of dust, in a human being, a chance product of evolution, could only have been formulated by people whose view of the world was imprisoned in a quite naive geocentricity and anthropocentricity, and who through no fault of their own knew nothing of the real position of human beings in the cosmos (Weber 1998:16)

 

In hierdie hoofstuk bespreek Dawkins ook deïsme, agnostisisme en die sogenaamde NOMA-beginsel. Hy erken dat deïsme ’n voorwaartse stap was, maar meen dat dit ook nie regtig bevredig nie: “The deist God is certainly an improvement over the monster of the Bible” (Dawkins 2006:46). In hierdie geval word daar steeds aan ’n persoonlike skeppergod vasgehou. Hierdie god het alles aan die gang gesit (byna soos ’n groot horlosiemaker), maar hom toe daarvan onttrek sodat dit op sy eie (volgens die ingeboude wetmatighede wat die horlosiemaker daarin gesit het) afloop.

Hy skiet ook agnostisme af en sê dat agnostisiste eintlik draadsitters is wat nie kant wil kies nie. Daar is volgens Dawkins oorgenoeg bewyse om onomwonde te kan sê dat daar nie ’n teïstiese god is nie. Wat vreemd is, is dat hy homself wel as ’n soort agnostikus klassifiseer! Hy stel ’n skaal van een tot sewe op waar een vir “oortuigde teïs” en sewe vir “oortuigde ateïs” staan. Volgens hom staan hy by ses: “I count myself in category 6, but leaning towards 7 – I am agnostic only to the extent that I am agnostic about fairies at the bottom of the garden” (Dawkins 2006:51).

Die idee van NOMA  (“non-overlapping magisteria”) van Stephen Jay Gould (2002) skiet hy ook af. Met NOMA word bedoel dat die wetenskap sy terrein het waarop hy opereer en godsdiens sy terrein. Dis ’n geliefde beginsel wat ook in Suid-Afrika aanhang geniet. So word gesê dat die wetenskap met die empiriese werk en godsdiens met die vraag na sin en die kwessie van reg en verkeerd. Die twee terreine het na regte niks met mekaar in gemeen nie en die beoefenaars van die twee “wetenskappe” het byna niks vir mekaar te sê nie.

Om sy punt in hierdie hoofstuk finaal te illustreer, verwys Dawkins na die gebedseksperiment wat geen onweerlegbare resultate opgelewer het nie. Nóg diegene vir wie gebid is, nóg diegene vir wie nie gebid is nie, het enige dramatiese verbetering in hulle siektetoestand beleef (Dawkins 2006:63).

In die derde hoofstuk bespreek Dawkins die Middeleeuse teoloog Anselmus (1033-1109) se vyf bewyse vir die bestaan van God. Die bewyse behels die volgende:

  • God is die “onbeweeglike beweger” wat alle beweging in die heelal aan die gang gesit het.
  • Die eerste oorsaak. Alles het ’n oorsaak en God is die eerste oorsaak waarsonder niks kan bestaan nie.
  • Die kosmologiese argument. Daar moes ’n tyd bestaan het toe alle fisiese dinge nie bestaan het nie. Hierdie “iets” wat voor alles bestaan, is God.
  • Die argument gebaseer op graad. Waaraan meet ons goedheid, geregtigheid, liefde, ens? Volgens Anselmus is God die maatstaf vir goedheid, geregtigheid, liefde, ens.
  • Die argument gebaseer op ontwerp. Alles wek die indruk dat dit spesiaal ontwerp is vir die doel waarvoor dit bestaan. Dink aan die jagluiperd, die leeu, ens.

 

Hy voeg nog hierby die volgende vier argumente:

  • Die argument gebaseer op skoonheid. Mooi musiek, kunswerke, ens. toon dat daar ’n persoonlike god bestaan wat aan die mens hierdie artistieke vermoëns gegee het.
  • Die argument gebaseer op persoonlike ervaring. Volgens Dawkins is daar baie mense wat hulle daarop beroep dat God met hulle gepraat het.
  • Die argument gebaseer op die Bybel. Hiervolgens beroep mense hulle op die Bybel as God se openbaring wat finaal duidelik maak dat daar ’n God is.
  • Die argument gebaseer op die feit dat daar wetenskaplikes was/is wat godsdienstig is. Dink aan Isaac Newton, Galileo Galilei, Johannes Kepler, en in ons dag Arthur Peacock, Russel Stannard, en John Pilkinghorne.

 

Hy bespreek elkeen van hierdie argumente en kom met snydende en soms humoristiese kritiek na vore. Neem as voorbeeld die uitspraak van sommige gelowiges dat God persoonlik met hulle gepraat het (argument 7). Hy neem die huidige president van die VSA as voorbeeld en sê dan: “George Bush says that God told him to invade Iraq (a pity God didn’t vouchsafe him a revelation that there were no weapons of mass destruction)” (Dawkins 2006:88).  En oor wetenskaplikes wat godsdienstig is (argument 9), sê hy die volgende: “I suspect that most of the more recent ones are religious only in the Einsteinian sense which … is a misuse of the word” (Dawkins 2006:99).

In die vierde hoofstuk bou Dawkins voort op sy argumente waarom daar nie ’n persoonlike god soos dit tradisioneel verstaan is, kan bestaan nie. Hier kom die sienings van kreasioniste veral onder die loep. Hy begin met die bekende storie wat hy terugvoer na Fred Hoyle. Hy sou gesê het dat geen mens aanvaar dat ’n Boeing 747 geskep is omdat ’n stormwind oor ’n skrootwerf gewaai het nie. Soms hoor ‘n mens ‘n soortgelyke argument: Geen mens aanvaar dat ’n woordeboek tot standgekom het vanweë ’n ontploffing in ’n drukkery nie. Dis ’n geliefde argument van kreasioniste, maar Dawkins wys daarop dat evolusie nie met toeval of kans te doen het nie, maar met natuurlike seleksie. Natuurlike seleksie is dus nie gelyk te stel aan toeval of kans nie.

Volgens Dawkins tree daar soms mense navore wat ons bewussynsvlak ’n trappie hoër lig (“consciousness-raising”). Geoloë is een voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die lang en komplekse geskiedenis van die aarde. Feministe is nog ’n voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die ander geslag en hulle reg op gelyke behandeling. Darwin en Wallace is ’n derde voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die lang en ingewikkelde geskiedenis agter alles wat tans lewe. Deur natuurlike seleksie wat saamhang met omgewingsfaktore het komplekse lewende dinge uit minder komplekse lewende dinge ontstaan. Deur natuurlike seleksie groei daar uit minder komplekse lewende dinge meer komplekse lewende dinge. Dawkins gebruik hier die beeld van ’n berg met loodregte kranse aan die voorkant, maar ’n skuinsvlak aan die agterkant. Ongeveer soos die Magaliesberge noord-wes van Pretoria. Van voor gekyk, lyk dit onmoontlik om die kruin sonder hulpmiddels te bereik. Van agter kan die kruin maklik sonder enige hulpmiddels bereik word, maar dit gaan ’n tydjie duur om daar uit te kom. In sy eie woorde: “Evolution, by contrast, goes around the back of the mountain and creeps up the gentle slope to the summit: easy!” (Dawkins 2006:122). Sy boek Climbing Mount Improbable illustreer die beginsel deur na oë en vlerke te kyk. Op grond hiervan maak hy die opmerking dat as ons iets van God weet, dan is dit dat God oneindig kompleks moet wees (Daskins 2006:125).

Dawkins wys daarop dat kreasioniste op gate in ons bestaande kennis teer en dit gebruik om die evolusieleer belaglik te probeer maak en ’n argument te bou vir die bestaan van ’n teïstiese god. Hy wys egter daarop dat evolusionêre bioloë erken dat as ’n enkele fossiel in ’n verkeerde geologiese stratum sou voorkom, dit die hele teorie sou beduiwel. Iets soos gefossileerde hase in Prekambrium rotslae (Dawkins 2006:128). Maar niemand het nog so iets gevind nie. Die Waterberge in die Limpopo-provinsie bevat byvoorbeeld geen fossiele nie, want dit bestaan uit van die oudste sedimentêre gesteentes op aarde. Dit was deel van die eerste fases in die ontstaan van die aardplate toe daar nog geen lewende dinge bestaan het nie. Hierdie berge is ouer as die Himalayas, wat ontstaan het vanweë die druk wat die Indiese aardplaat op die Euroasiese aardplaat uitoefen. As daar fossiele van hase of van mense in die Waterberge gevind sou word, sal dit die evolusieteorie omverwerp. Kreasioniste se grootste probleem, volgens Dawkins, is dat hulle nie bereid is om te dink en te wonder nie. Sodra hulle hulle vasloop, gryp hulle na die godhipotese. Hierdie “siekte” kan teruggevoer word na die kerkvader Augustinus (354-430) wat nuuskierigheid afgewys het as ’n sondig drang. Charles Freeman bespreek in sy boek The Closing of the Western Mind: The rise of faith and the fall of reason (2003) hoedat die Christelike geloof sedert die vierde eeu wetenskaplike nadenke begin dwarsboom het.

Dawkins wys vir oulaas, voordat hy na die oorsprong van godsdiens kyk, na die nuwere pogings van kreasioniste om die idee van intelligente ontwerp te propageer. Hulle wend hulle nou tot die ontstaan van lewe. Hy erken dat die ontstaan van lewe slegs één keer op aarde plaasgevind het. Maar dit vereis nie ’n teïstiese god (’n intelligente ontwerper) om lewe te geskep het nie. Hy maak hier van die idee van Brandon Carter, John Barrow en Frank Tipler gebruik. Hulle praat van die “antropiese beginsel”: alles wat nodig was vir lewe om te ontstaan, was op hierdie planeet teenwoordig. Een hiervan is water in vloeibare vorm. Die planeet is nie te warm (sodat water verdamp), en ook nie te koud (sodat dit vries) nie. Klaarblyklik moet ‘n planeet soos die aarde waar lewe ontstaan het, ook ‘n sirkelvormige baan hê. ‘n Eliptiese baan kan dit te ver van die son neem en dit kan probleme meebring. Voorts speel die planeet Jupiter die rol van “stofsuier” deurdat dit asteroïedes intrek en nie toelaat om binne die aarde se aantrekkingsveld te kom nie. Naas dit speel die maan ook ‘n groot rol. Dit stabiliseer die aarde se tolaksie. Volgens Dawkins is daar twee alternatiewe om die ontstaan van lewe te verklaar (1) die “antropiese beginsel”, en (2) God. Kreasioniste kies vir (2), terwyl hy vir (1) kies.[1] Alles was net reg op aarde sodat lewe kon ontstaan (Dawkins 2006:137). Nadat lewe ontstaan het, het natuurlike seleksie mettertyd ingeskop en tot die diversiteit van lewende dinge aanleiding gegee. Na regte was daar ‘n tweede groot onwaarskynlike gebeurtenis en dit is toe selle met kerne (die eukariote) ontstaan het. Volgens Eloff (1975:11) het hierdie oorgang die langste geduur: “Dit is duidelik dat die langste tydsverloop die oorgang tussen prokariote (organismes sonder ‘n kern) en eukariote (oranismes met ‘n kern) is nl. 63% van die totale tyd sedert die skepping van die aarde.” Die ontstaan van lewe is ’n kans van een uit ’n miljoen. Die ontstaan van selle met kerne is nog so ’n kans, en die tot-bewussyn-kom ‘n derde. Al drie hierdie ‘onmoontlikhede’ is op ons planeet voltrek, daarom is ons hier en kan ons dink en redeneer.

Die “antropiese beginsel” geld ook ten opsigte van die totale kosmos. Ons lewe nie net op ‘n vriendelike planeet nie, maar ook binne ‘n vriendelike kosmos. Volgens Martin Rees is daar ses fundamentele konstantes wat nodig is om die soort kosmos op te lewer waarin ons lewe. “Each of these six numbers is finely tuned in the sense that, if it were slightly different, the universe would be completely different and presumably unfriendly to life” (Dawkins 2006:141-142). In hierdie gedeelte van hoofstuk vier kruis hy swaarde met hedendaagse Britse wetenskaplikes wat ook godsdienstig is.  Dit sluit in manne soos Russel Stannard, John Pilkinghorne, Richard Swinburne, en Keith Ward. Hier spreek hy weer die gedagte uit dat indien daar ‘n god sou wees, daardie god oneindig kompleks sou wees. Iets bokant ons begripsvermoë. Hy vertel ook van ‘n slegte ondervinding tydens ‘n kongres oor wetenskap en godsdiens wat by Cambridge gehou is. Sy argumente is begroet met aanvalle. Daar is onder ander gesê dat sy wêreldbeeld steeds negentiende eeus is: “My whole world-view was condemned as ‘nineteenth-century'” (Dawkins 2006:156). Diegene wat die gesprekke oor ‘n moontlike nuwe hervorming in die Afrikaanse dagblaaie oor die afgelope vier jaar gevolg het, sal weet dat die soort argument ook teen die “nuwe hervormers” gebruik is. Hulle is glo nog vasgevang in die paradigma van moderne tyd en het nog glad nie in die postmoderne era gearriveer nie!

In hoofstuk vyf (die slothoofstuk in die afdeling oor die godsidee) probeer hy die vraag beantwoord waarom godsdienste bestaan. Alle kulture ken ‘n vorm van godsdiens. Volgens Dawkins moet daar een of ander verklaring vanuit die evolusionêre biologie te bied wees. Hy wys daarop dat daar soms “vreemde” gedrag onder diere te vind is, byvoorbeeld die gedrag van sommige voëls. Hulle tel miere op en druk dit in hulle vere in (op Engels “anting”). Ons weet nie vir seker waarom hulle dit doen nie, maar dit moet een of ander funksie vervul. Dit geld ook van godsdienstige handelinge. Alhoewel dit nie logies verklaar kan word nie, moet daar redes wees waarom alle kulture godsdienstige handelinge ken. Dit moet een of ander funksie vervul ter wille van oorlewing. Hou dit moontlik verband met groepseleksie en groepslojaliteit? Die kwessie van “in-groep” lojaliteit. “Ons” teenoor “hulle”. Dawkins skiet dit af as ‘n moontlike verklaring vir godsdiens. Volgens hom is godsdiens ‘n byproduk van iets anders. Daardie “iets anders” is die kumulatiewe kennis wat oor jare opgebou is. Kinders leer dat ouer mense meer van die lewe weet as hulle en as hulle wil oorleef, om ag daarop te slaan. Dit lei later tot “blinde vertroue” en kinders leer nie om vir hulleself te dink nie. Godsdiens teer op hierdie “blinde vertroue”. Na regte moet ons sê dat natuurlike seleksie kinderbreine toegerus het met die geloof dat hulle ouers en ouer mense oor goeie kennis beskik om te oorleef. Gevolglik aap die kinders hulle ouers en ander na. Hulle kan nie onderskei tussen die waarskuwing: “Moenie naby die rivier met krokodille gaan nie” en “Moenie op Sondag werk en daardeur die gode ongelukkig stem nie.” Beide is opdragte en word aanvaar op gesag van ouers en ouer mense. Godsdiensleiers is terdeë bewus van die beïnvloedbaarheid van kinders vandaar die spreuk: “Give me the child for his first seven years, and I’ll give you the man” (Dawkins 2006:177). Maar kinders besit ook ‘n natuurlike bewussyn van dualisme. Hulle aanvaar dat daar ‘n onsigbare wêreld is. Daarom is hulle ook lief vir feëverhale. Hulle is ook van nature teleoloë, bedoelende, hulle glo dat elke ding wat hulle sien ‘n bepaalde doel (Grieks: “telos”) het. Bome is daar vir voëls om in nes te maak, ens. Dit dra daartoe by dat hulle maklik beïnvloedbaar is wanneer dit by godsdiens kom. Kinderbreine kan maklik deur “mentale virusse” geïnfekteer word. Dawkins kies dus vir die “‘gullible child’ theory” om godsdiens te verklaar (2006:188).

Om sy teorie nog verder te onderbou, gebruik hy ook sy idee van “meme” wat van geslag tot geslag oorgedra word. ‘n Meem is ‘n kulturele patroon wat van geslag tot geslag voortgesit word. Godsdienste is ‘n samestelling van ‘n aantal verbandhoudende meme. Dit vorm ‘n geslote singewende eenheid wat dan van geslag tot geslag oorgedra word. Hy wys ook op hoe maklik ‘n nuwe kultus kan ontstaan deur na die “cargo cult” van die inwoners van sommige Stille Oseaaneilande te verwys. Hierdie kultusse het ontstaan toe Westerlinge daar aangekom het en daardie mense se voortbestaan bedreig het. Daar het ‘n soort messiasfiguur opgestaan wat allerlei wonderlike dinge aan die inwoners beloof het. Hulle moes ook sekere opofferings doen soos om van hulle geld ontslae te raak, want hulle sal nuwe geld ontvang en nuwe bestaansmoontlikhede. (Die verhaal van Nongqawuse van die Xhosas hier te lande lewer vergelykende materiaal.)

 

3          Die verhouding tussen moraliteit en godsdiens

Hoofstukke ses en sewe fokus hoofsaaklik op die kwessie van moraliteit en hoe dit met godsdiens verband hou. Baie gelowiges vind dit onverstaanbaar dat mense goed sal wil lewe indien hulle nie godsdienstig is nie. Godsdiens is vir hulle die basis vir ‘n goeie lewe. Hy verwys in hierdie hoofstuk na vele briewe wat hy ontvang het en waarin hy as ateïs uitgekryt word vir ‘n “slegte mens” en “skuim” wat eendag in die hel sal brand.

Net soos in die vorige hoofstuk probeer hy ook in hierdie hoofstuk ‘n verband uit te wys met evolusie. Waarom tree mense moreel op en gee hulle vir ander mense — selfs onbekendes — om? Waar kom die goeie Samaritaan in ons vandaan? Dawkins vestig onmiddellik die aandag daarop dat alhoewel die menslike gene selfsugtig is, beteken dit nie dat die mens as sodanig ook selfsugtig sal wees nie. In die dierewêreld vind ons byvoorbeeld gedrag waar ‘n spesie ter wille van oorlewing groepe vorm wat vir mekaar omgee. Vergelyk meerkatte. Dít wys dat “omgee” nie uitsonderlik is en met godsdiens verband hoef te hou nie. In menslike samelewings speel die kwessie van reputasie ‘n groot rol. Dis waarom skinder so belangrik is. So word iemand ander se reputasie gebou of afgebreek. Dit is volgens Dawkins volkome verstaanbaar waarom ‘n in-groep vir mekaar sal omgee, maar die uit-groep sal ignoreer. Dit gaan immers om oorlewing.

In hierdie hoofstuk bespreek hy ook gevallestudies wat Marc Hauser (‘n bioloog verbonde aan die Universiteit van Harvard) uitgevoer het. Hy het vraelyste opgestel waarin hy mense se reaksie toets op fiktiewe gebeurtenisse. Hy stel mense voor morele dilemmas. Hulle moet as t’ ware kies tussen die duiwel en die diepblou see. Een voorbeeld is die spoorwegtrok wat onbeman besig is om op vyf mense wat aan die spoorlyn werk, af te pyl. Jy kan egter die trok op ‘n ander spoor stuur deur ‘n wissel te gooi sodat die trok op ‘n syspoor beland. Ongelukkig staan daar ‘n werker op die spoor wat waarskynlik getref en gedood gaan word. Meeste mense kies om liefs een mens dood te maak as om die vyf te laat sneuwel — ongeag of hulle Christene, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, ens is. ‘n Ander voorbeeld is die een van vyf ernstige siek mense in die hospitaal wat almal een of ander orgaanoorplanting moet ondergaan om aan die lewe te bly. In die wagkamer sit ‘n persoon wat aan al die vereistes voldoen sodat die vyf aan die lewe kan bly. Sal jy hom “doodmaak” sodat sy organe aan die siekes geskenk kan word en hulle kan bly lewe? Byna deur die bank antwoord mense “nee” — ongeag hulle godsdienstige oortuiging. Waarom? Hulle voel eenvoudig dat dit nie reg is om ‘n gesonde lewe te neem ter wille van die behoud van die ander vyf nie.

Vele gelowiges mense meen dat godsdiens ‘n voorvereiste vir morele optrede is. Waarom sal mense moreel lewe as daar geen beloning is nie, vra hulle? Dis ‘n vraag wat al in die rigting van die “nuwe hervormers” gewerp is: “Waarom enigsins godsdienstig wees en moreel korrek lewe as daar geen beloning in die lewe hierna is nie?” Dawkins wys tereg daarop dat so ‘n redenasie beteken dat mense erken dat hulle bereid is om dood te maak, te steel, te verkrag bloot omdat hulle dan geen vrees vir straf sal koester nie. Dis volgens hom ‘n betreurenswaardige rede vir morele optrede. Hy reageer hierop met die stelling: “Perhaps I, too, am a Pollyanna to believe that people would remain good when unobserved and unpoliced by God” (Dawkins 2006:228).

In hoofstuk sewe fokus Dawkins op die tydgees (Duits “Zeitgeist”) wat daartoe aanleiding gee dat mense se morele waardes skuif. Dit het niks met die Bybel en godsdiens te doen nie. Om die waarheid te sê, die Bybel en godsdiens is dikwels struikelblokke wanneer ‘n broodnodige verskuiwing moet plaasvind. Dink aan slawerny en die regte van vrouens. Die verandering het nie vanuit kerklike of godsdienstige kringe gekom nie. Godsdiensleiers het die verandering wel later vanuit die Bybel probeer motiveer en regverdig. Dit geld ook apartheid en die gesprekke oor mense met ‘n homoseksuele oriëntasie.

Om sy punt te illustreer wys hy daarop dat die Bybel op twee maniere mense se morele optredes kan beïnvloed: (1) deur direkte opdragte, en (2) deur die optredes van karakters in die Bybel self. Hy neem sy lesers vinnig deur die Ou en die Nuwe Testament om uit te wys dat hierdie boeke nie regtig goeie materiaal bied vir morele riglyne nie. Wat die Ou Testament betref, kies hy tien voorbeelde:

  1. Die verhaal van Noag (Gen 6-9)
  2. Die verhaal van Sodom en Gomorra (Gen 19)
  3. Die verhaal van die Leviet en sy vrou (Rigt 19)
  4. Abraham in Egipte (Gen 12:9-20))
  5. Die offer van Isak (Gen 22:1-19)
  6. Jefta en sy dogter (Rigt 11)
  7. Moses en die episode van die goue kalf (Eks 32:25-29)
  8. Moses se aanval op die Midianiete (Num 31)
  9. Moses en die Moabitiese vroue (Num 25)
  10. Die verhaal van Josua se inname van die land.

 

Aan die einde daarvan sê hy dan: “I do not believe there is an atheist in the world who would bulldoze Mecca – or Chartes, York Minster or Notre Dame,  the Shwe Dagon, the temples of Kyoto or, of course, the Buddhas of Bamiyan”  (Dawkins 2006:249). My probleem met sy voorbeelde is dat hy die Ou Testament net soos fundamentaliste benader. Alles word op een vlak gelees en daar is geen bewys dat hy sensitief is vir historiese ontwikkelings op die terrein van Israel se godsdiens nie. As teenhanger van sy eerste voorbeeld (die Noagverhaal) sou ek graag na die verhaal van Jona wou verwys. Die Godkarakter in daardie verhaal tree totaal anders op as die een in die Noagverhaal. Wie die Ou Testament sensitief lees, sal ontdek dat daar ook ander stemme in die versameling boeke is en dat ons ook met verskillende godkarakters te doen kry.

Wanneer dit kom by sy Nuwe-Testamentiese voorbeelde geld dieselfde beswaar. Hier verwys hy na die erfsondeleer en die leer van die versoening en hou beide voor as leerstellings van Paulus terwyl dit in werklikheid leerstellings is wat uit die vierde en die elfde eeu nC dateer. Die erfsondeleer kom van Augustinus (354-430) en die tradisionele versoeningsleer is ‘n produk van Anselmus (1033-1109). Hierdie twee lesers beroep hulle natuurlik op Paulus, maar ten onregte. Hulle het die Bybel nie goed gelees nie. Dit word vandag deur vele Nuwe-Testamentici erken. Een van die feitefoute wat Dawkins maak, is om die brief aan die Hebreërs aan Paulus toe te skryf (2006:253). Maar hy is wel reg deur hierdie Christelike leerstellings as moreel twyfelagtig uit te wys. John Hunt wys dit ook uit. Hy skryf: “The idea of Original Sin runs counter to everything science tells us, from anthropology through to zoology. It is contrary to the teaching of Jesus, the Bible, common sense, experience and morality” (2004:198). Hy kon ook na Cees den Heyer van Nederland verwys het. Cees het as kerklike professor bedank omdat hy uitgewys het dat Jesus nie die versoeningsleer verkondig het nie (Den Heyer 1998). Daar is ongekende druk op Cees uitgeoefen en dit het hom maak bedank.

Dawkins neem ook die liefdesgebod onder die loep en wys tereg dat dit na regte net op die in-groep van toepassing was, maar hier vergeet hy om te vermeld dat Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel het. Die Samaritaan verbreek die in-groep idee sowel as die reinheidsreëls. Van die materiaal wat Dawkins in hierdie afdeling van hoofstuk sewe bespreek, is nogal skokkend. Hy maak wel hierdie soberende opmerking: “I do not deny that humanity’s powerful tendencies towards in-group loyalties and out-group hostilities would exist even in the absence of religion” (Dawkins 2006:260). Hy is korrek wanneer hy daarop wys dat mense se morele waardes nie uit heilige boeke kom nie, maar uit die algemene menslike norme van die dag. Dit was die tydgees wat tot die afskaf van slawerny gelei en aan vroue stemreg besorg het. Hier erken hy dat Britte wat in die vroeë dekades van die twintigste eeu geleef het as rassiste geklassifiseer sou word indien ons vandag se maatstawwe as riglyn sou gebruik. Hy wys self daarop dat bekende bioloog Thomas Henry Huxley (1825-1895) die volgende rassitiese opmerkings neergeskryf het: “No rational man, cognizant of the facts, believes that the average negro is the equal, still less the superior, of the white man” (Dawkins 2006:266). Maar dan kom hy tot Huxley se redding en sê: “It is commonplace that good historians don’t judge statements from past times by the standards of their own” (Dawkins 2006:266). By die lees van hierdie stelling het ek gewonder waarom hy nie hierdie beginsel ook van toepassing maak op die uitlatings van die Ou- en Nuwe-Testamentiese skrywers nie? Waarom lees Dawkins hulle uitlatings sonder om die historiese konteks in ag te neem? Klaarblyklik om fundamentalistiese Christene by te kom. Maar daar is ander groeperinge in die Christendom wat die Bybel totaal anders lees en nie die tradisionele Christelike dogmas as ewige waarhede bekou nie. Daar is Christene wat die wetenskaplike wêreldbeeld van vandag aanvaar, maar wat nie fundamentaliste is nie.

 

4          Fundamentalisme en absolutisme

In hoofstukke agt en nege probeer Dawkins verduidelik waarom hy so heftig teen Christen fundamentaliste (en ander godsdienstige fundamentaliste) reageer. Hy erken dat hy ‘n passie vir die wetenskap het en dat hy aanstoot neem wanneer mense hulle oë sluit vir feite wat boekdele spreek: “As a scientist, I am hostile to fundamentalist religion because it actively debauches the scientific enterprise” (Dawkins 2006:284). Hy verwys na die geval Kurt Wise wat ‘n paar grade in geologie en paleontologie verwerf het, maar later so deur fundamentalisme beïnvloed is dat hy omgeswaai en alles wat die wetenskap hom geleer het, prysgegee het. Hier sou ek Dawkins aan die geval Lester Grabbe bekend wou stel. Hy was ‘n volslae fundamentalis wat vir die tydskrif The Plain Truth geskryf het. Wetenskaplike studie van die Bybel het hom egter tot ander insigte gelei en vandag is hy ‘n gerekende Ou-Testamentikus aan die Universiteit van Hull (vgl Grabbe 1987)ul

. Daar is dus verhale wat die teendeel vertel en dit gee ‘n mens hoop. Klaarblyklik hang sulke ommeswaaie met persoonlikheidstipes saam.

Die moontlikheid van doodstraf vir enige negatiewe opmerking oor ‘n godsdiens vind Dawkins veral verontrustend. Hy bespreek ‘n aantal gevalle en wys daarop dat veral Moslems sulke stappe voorstaan en ook nie huiwer om dit te neem nie. Die kwessie van mense met ‘n homoseksuele oriëntasie is nog ‘n geval waar godsdienstige oortuiging mense besluite laat neem wat onverstaanbaar is. Hy verwys na die tragiese geval van Alan Turing wat saam met John von Neumann as die “vaders van die rekenaar” getipeer kan word. Turing was homoseksueel. Dit het op die lappe gekom en uiteindelik tot sy selfmoord gelei omdat hy nie kans gesien het vir tronkstraf nie. Hy verwys hier ook na spesifieke Amerikaanse evangeliste en politici met hulle uitgesproke standpunte oor homoseksualiteit. Hulle sluit in Jerry Falwell, Jesse Helms en Pat Robertson.

‘n Derde saak  wat hy indringend bespreek, is die kwessie van aborsie. Hy neem ‘n baie liberale standpunt in en wys ook daarop dat die bekende storie wat rondom Beethoven vertel word wanneer mense aborsie bespreek, allerlei stertjies bykry net om die geval soveel meer dramaties te maak (Dawkins 2006:289-301). Sy stelling dat gematigde godsdiens ruimte skep vir mense met fundamentalistiese oortuigings en dat alle godsdiens in die beskuldigde bank staan, is na my mening oordrewe. Ek hou daarom meer van die volgende stelling van Baggini (2003:106):

 

I am not then convinced that a strong case can be made that religion is essentially and especially harmfull. Nor do I believe that a firm belief in the falsity of religion is enough to justify militant opposition to it. At root, though, I think my opposition to militant atheism is based on a commitment to the very values that I think inspire atheism: an open-minded commitment to the truth and rational enquiry.

 

In hoofstuk nege neem Dawkins die negatiewe invloed wat godsdiens op kinders het onder die loep. Voorbeelde wat hy bespreek is die gedwonge doop van Joodse kinders in onder andere Spanje gedurende die 19de eeu. Dan volg daar die kindermolestering deur Katolieke nonne en priesters. Hy verwys ook na pastoor Ted Haggard wat na die publikasie van sy boek erken het dat hy ‘n keer of wat seksuele omgang met ‘n gay persoon gehad het. (In ‘n heruitgawe van Dawkins se boek gaan hy definitief hierdie geval voorhou as van die soort skynheiligheid wat by pastore, priesters en ander godsdiensleiers te vind is.) Alhoewel hy uitgesproke is oor die kwessie van die godsdienstige indoktrinasie van kinders wil hy tog ruimte laat vir die bekendstelling van kinders aan godsdienstige literatuur. Die Bybel hoef volgens hom nie weggegooi te word nie en kinders kan steeds daaruit leer.  Maar kinders moet die reg behou om dinge te bevraagteken en te bespreek.

Die slothoofstuk van sy boek is ‘n kort nabetragting en daarin beklemtoon Dawkins dat ons net hierdie lewe het om te leef en te geniet. Volgens hom is dit een van die groot bydraes van ateïsme tot die Westerse wêreld. Baggini neem ‘n soortgelyke standpunt in wanneer hy die fokus op godsdiens, in plaas van ateïsme, plaas: “Religion encourages us to seek rewards in the illusory next world rather than in this one and therefore robs people of the motive to make the most of the only life they have” (Baggini 2003:105). Maar dan beklemtoon Dawkins verder dat dit ons is wat betekenis aan ons lewens gee. Ons hoef nie verouderde godsdienstige idees aan te hang om sin te ervaar nie.

 

5          Slotopmerkings na aanleiding van Dawkins se boek

Ervaring het my geleer dat niks oor tyd heen dieselfde bly nie. Om te stry teen die evolusieleer is om hierdie basiese beginsel wat byna oral waar te neem is, te misken. Ek aanvaar dus dat die spesie waartoe ons behoort, het langs die weg van natuurlike seleksie en omgewingsfaktore, oor eeue heen, uit ander spesies ontwikkel en gegroei het. Voorts aanvaar ek ook dat dood sedert die vroegste tye onafwendbaar deel van lewe op aarde is. Dood is nie die gevolg van ’n oortreding wat ’n oervoorouer begaan het nie. Lank voordat daar enige mensspesie op aarde gewandel het, het dood reeds bestaan. Elke lewende ding wat al op aarde bestaan het, moes sterf sodat nuwe dinge gebore kon word, groei en gedy. Sonder dood is die voortgang van lewe klaarblyklik nie moontlik nie.

Ervaring het my ook geleer dat geen enkele lewende ding na sy dood op een of ander geheimsinnige wyse bly voortbestaan nie. Olifante, renosters, arende en suikerbekkies leef nie na hulle dood in daardie formaat voort nie – homo sapiens gevolglik ook nie. Alle spesies gee aan die aarde terug wat hulle tydens hulle lewens van haar geneem het sodat uit hulle boustene nuwe dinge mag ontstaan.

Net soos wat die Kopernikaanse revolusie in die sterrekunde ons verstaan van die aarde se plek in die heelal radikaal verander het, so het die Darwiniaanse revolusie in die biologie ons verstaan van die mens se plek binne die geheel van lewende dinge, radikaal verander. Kopernikus het bewys dat die aarde nie die sentrum van die heelal is nie. Darwin het op sy beurt bewys dat homo sapiens nie die sentrum van alle lewende dinge is nie. Die tradisionele Christelike godsdiens (na regte die Latynse teologie van die vierde en vyfde eeu) is oordrewe behep met mense en hulle sogenaamde voortbestaan na die dood. Die leiers van hierdie vorm van die Christelike geloof verkondig teen alle redelikheid in dat dood ’n god se straf op ’n oortreding is wat ’n oervoorouer begaan het. Die tradisionele Christelike godsdiens buig mense krom en laat hulle gedurigdeur na hulle eie naeltjie staar. Dit wek by mense die indruk dat alles op aarde en in die heelal om húlle en hulle doen en lates draai. Die Kopernikaanse en Darwiniaanse revolusies het mense weer regop laat staan en hulle hulle eie onbenulligheid en verganklikheid laat besef. Meer nog, dit het mense se verweefdheid met alles wat lewe en al gelewe het, belig. Mense is nie alleen eendagvliegies gemeet teen die ouderdom van die aarde en die totale kosmos nie, maar hulle dra in hulle liggame dieselfde soort organe wat vele ander soogdiere het. Verder is daar liggaamsdele wat hulle behoort te herinner dat hulle mettergaan geword het wat hulle is. Hulle het steeds ’n reptielbrein wat ingebed is in ’n hoogsontwikkelde soogdierbrein. Hulle soogdierbrein het wel verder ontwikkel sodat homo sapiens oor die vermoë beskik om te kan praat, dink en redeneer.

Homo sapiens het dus langs die weg van evolusie besondere vermoëns bygekry en dit is waarskynlik die rede waarom hierdie spesie steeds hier is. Maar of hulle vir altyd hier gaan wees, is te betwyfel. Die tekens is reeds daar dat hulle hulle eie en ander spesies se voortbestaan op aarde ondergrawe. Paleontologie wys daarop dat daar by tye groot uitsterwings plaasgevind het. Dalk is ons op pad na so ’n uitsterwing, maar die keer sal dit die gevolg wees van die aksies van ’n hoogsontwikkelde maar uiters onverantwoordelike spesie.

Ek hoop dat dit duidelik is dat ek die nuwere kennis aanvaar en dat ek nie die wetenskaplike wêreldbeeld as foutief of belaglik beskou nie. Ek hang nie kreasionisme aan nie en weet dat diegene wat só dink en redeneer die Bybelboeke nie kultuursensitief lees nie. Húlle lees en interpreteer die Bybel en die belydenisskrifte ééndimensioneel en het geen aanvoeling vir die feit dat dinge oor tyd heen verander nie. Ek staan baie nader aan Dawkins as aan diegene wat ons weet te vertel wat vyf minute na ons dood met ons gaan gebeur. Ek staan nader aan Dawkins as aan diegene wat nog in erfsonde glo en meen dat ons sterf omdat ’n oervoorouer ’n god kwaad gemaak het. Ek staan nader aan Dawkins as aan diegene wat glo dat Jesus êrens in die hemel aan God se regterhand sit en dat hy een of ander tyd gaan terugkeer en dat wanneer dit gaan gebeur alle mense op aarde hom sal kan sien. Ek meen egter wel dat Dawkins onnodig daardie wetenskaplikes wat godsdienstige taal gebruik en diegene wat met ’n nuwe godsbeeld eksperimenteer, van intellektuele hoogverraad beskuldig (Dawkins 2006: 19). Dit is jammer dat hy wat terdeë bewus is dat dinge oor tyd heen verander, nie begrip vertoon vir die feit dat godsdienste (wat ’n kulturele produk is) ook oor tyd heen verander nie. Die Christelike godsdiens soos dit vandag manifesteer, is nie die Christelike godsdiens van die eerste drie eeue na Christus nie. Judaïsme soos dit vandag manifesteer, is nie die Judaïsme wat Jesus beoefen het nie. Jesus was tuis binne die vroeë Judaïsme en het nie ’n vroeë vorm van die Christelike godsdiens beoefen nie. Hy het die idee van ‘n drie-eenheid glad nie geken nie en sou dit ook nie onderskryf het nie. Omdat ek ouers en familielede het wat die Christelike godsdiens beoefen en self binne daardie tradisie grootgemaak is, kan ek dit verstaan en deels daarmee identifiseer. Anders as Dawkins meen ek egter dat ons hierdie tradisie kan hervorm sodat dit steeds sin en betekenis aan mense kan gee wat in die een en twintigste eeu leef. Langs die weg van historiese ondersoek na Jesus wat in Nasaret gebore is en ondersoek na die boodskap wat hy as profeet en wysheidsleermeester verkondig het, kan ons ons vry maak van religieuse fundamentalisme en fanatisme sodat ons kan omgee vir ander mense en die aarde en al die spesies wat daarop leef. Ons hoef nie onsself gebonde te ag aan die formulerings van teoloë wat in die vierde en vyfde eeu nC geleef het nie. Ek dink nie meer teïsties oor God nie, maar a-teïsties, dit wil sê: nie-teïsties. Die goddelike is vir my te vinde in die natuur en in die verhouding met alles rondom my. Die idee van panenteïsme (dat die goddelike in alles te vind is, maar ook méér as alles is) open vir my weë om sin en betekenis aan my lewe te gee.

[1] Vergelyk Wilhelm Jordaan se kritiek hierop in sy artikel “‘Waanbeelde’ vir ‘n sinvolle lewe’ in Beeld (Woensdag 22 November 2006), p. 18.