Die keuse van die titel van my praatjie is berekend en nie moedswillig nie. Dit berus op die vertrekpunt dat Suid-Afrika sedert die vestiging van ’n demokratiese bestel, in ruim mate ’n verskeurde land is waarin die menseverskeidenheid nie met mekaar klaarkom nie. Ou en nuwe woedes, beskuldigings en verontskuldigings volgens raslyne ontbrand gereeld – soos die onlangse openbare debat oor die “Reitz-vier” duidelik illustreer.

Teen dié agtergrond gaan ek vier temas toelig en voorlê vir gesprek:
1. Waarom is dit nodig om die lang historiese pad van wittes se rassisme teenoor swartes steeds te verken? – teen die agtergrond van die gewilde aanspraak dat ons die verlede moet begrawe en aanbeweeg.
2. Die aard van die verinneweerde swart Afrika-mensheid en die probleem van die “de-kolonisasie” van swartmense se psige. Hoe hang dit saam met swart rassisme jeens wittes?
3. Die ontleding van enkele tekste om “geprivatiseerde” wit rassisme bloot te lê, byvoorbeeld die grappe wat vertel word en die versweë aanname dat swartmense nie die intellektuele bekwaamheid en vaardighede het om staatsbestuur te laat werk nie.
4. Die voorwaardes vir ’n nie-rassige samelewing en die kweek van ’n diepgesetelde verdraagsaamheid as ’n breedlopende burgerlike norm.

Allereers moet ek die effens kru titel van my praatjie in konteks plaas:

Die onlangse openbare debat oor die “Reitz-vier” en die Eskom-verleentheid is gekenmerk deur ou en nuwe woedes, beskuldigings en verontskuldigings volgens raslyne. Dermate dat kommentators sê rassisme in ons land is erger as ooit — in elk geval erger as 5–6 jaar gelede. Die trant van die debat herinner aan ’n soort sinnelose taalbrousel wat mens tot sinisme kan stem. Soos Breyten Breytenbach dit verwoord het in sy parodiërende “Die Toneelstuk”. Ek haal aan: “Ons erken dat hap-hap appa-appa apartheid Moermekaarlanders diepgaande sosaties sosiale, ek-ekonomiese, kaltjeril en see sielkundige skade berokken het… Ons verbind ons pols en enkel daartoe om ons vermoëns, middele en juwele en energie coca-cola individueel en gatsamentlik aan te wend om rassisme met stam en wortel en tak en taal uit te roei om ’n nie-gemeenskap te bevorder wat tot voordeel sal strek van alle base in Moermekaarland.”

Die vraag, ter wille van versoening in ’n verdeelde land: Hoe ontmoet én, ja, ont-moer ons mekaar in Moermekaarland? Daarby kom ek later. Maar vooraf, voor ek enigiets oor rassisme sê. Die mens is van nature geneig om in taal te kategoriseer; ’n vermoë met bewese waarde én bewese ellendes.

Bewese waarde: dit merk dinge af; trek grense sodat ons helder kan onderskei, dink en doen. Dit bevorder ontwikkeling. Wat jy gekategoriseer het, kan jy beheer.
Bewese ellende: aterosklerose van die kategorieë – die grense en kategorieë verhard so dat ons oplaas eintlik nie meer helder kan onderskei, dink en doen in die lig van ander of nuwe moontlikhede, of veranderende omstandighede nie. Ons klou vas en hou. Ons kan grense nie oorsteek nie. Dit rem ontwikkeling.

Voorbeelde: Dogmas. Kategorisering geld ook opvattings oor mense en groepe mense. Van die begin af was dit natuurlikerwys so. Daaruit kom die idee van “ons” en “hulle”. Dit het bewese waarde — om “ons” af te merk as anders as “hulle” op grond van ’n klomp oorwegings.

Dit opsigself is nie ’n probleem nie. “Ons en “hulle” kan saam vreedsaam bestaan op ‘n grondslag van die aanvaarding van wedersydse gelyke waarde en respek. Dit word egter ’n probleem as “ons” en “hulle” wat dieselfde ruimtes moet deel begin meeding om “skaars goedere”, of om gesogte goedere te bekom en toe te eien — soos gebied, grond, minerale rykdom, geld, voorspoed, werk, mag en geleenthede vir uitlewing van wat geag word as kultuureie dinge (skole, kerke, tale).

Die sielkundig verleidelike manier om die “ons” te handhaaf en die mededinging vir meer van die skaars dinge te regverdig, is om “ons” van groter waarde te ag as “hulle.” ’n Meganisme hiervoor is stereotipering (vaste, onbuigsame indrukke oor die “hulle” — uit die Griekse woorde stereo en typos). Stereotipering skep ten opsigte van “ons” positiewe verwagtings op grond van die veronderstelde hoër waarde, en negatiewe verwagtings van die “hulle” op grond van hulle veronderstelde mindere waarde.

Sulke stereotipering skep ten minste twee soorte ellendes: Eerstens, blindheid vir die moontlikheid dat “ons” en “hulle” eintlik baie in gemeen het: tegelyk anders en eenders is. Tweedens, in die mededinging om skaars goedere, is daar ’n gevaarlike (soms georkestreerde) samespanning; ’n soort versweë of uitgesproke solidariteit wat maak dat mense onkrities die “ons”-saak, waaroor dit ook al mag gaan, steun en die “hulle”-saak tot iets minder verklaar, of die meriete daarvan negeer.

Dié twee produkte van stereotipering is die elementêre elemente, die brandhout op die vuur van rassisme: Om konstant, of insidenteel, negatiewe verwagtings te koester (selfs te vertroetel) oor “hulle” vanuit die “ons”-perspektief; en om ’n onkritiese, omarmende solidariteit vir die “ons”-saak te vertoon.

’n Derde produk van stereotipering wat met die voorgaande saamhang, is diskriminerende praktyke — uitsluiting van skaars goedere op subtiele en openlik georkestreerde maniere deur die aanwending van mag (persoonlike mag, politieke mag, ekonomiese mag).

Dit, in ’n neutedop, is ’n eeue-oue patroon en nou nog in ons Moermekaarland. Wit doen dit met swart en swart doen dit met wit; wit doen dit met wit en swart met swart. Wat “ons” doen met “hulle” en “hulle” met “ons” word dan gedra deur die verskriklike wet van vooroordeel, of dan letterlik vooraf-oordeel: Dink oor en tree op teenoor ’n ander soos wat jy dink hy is en hy word wat jy dink hy is — die euwel van selfvervullende profesie.

Ná 15 jaar van demokrasie die vraag: hoe is dit gesteld met die verhouding tussen swart en wit? Luister jy na mense (wit en swart) hoor jy loflike verhale van hoe goed dit gaan in die daaglikse omgang — hoe begrip, vertroue en respek gegroei het. Dit sou gek wees om die werklikheid en samelewingsvormende, nie-rassige waarde daarvan te onderskat.

Maar dit sou ewe gek wees om te reken daar is nie ’n teenkant nie — hoe die stereotiperingskultus telkens in rassisme ontvlam in die openbare politieke ruimtes rondom omstrede sake — soos met die Reitz-aangeleentheid en nou weer met die Eskom-fiasko. Die sielkundige dinamiek hiervan is gelaai met diep emosie en prosesse waarvan die intensiteit ons dikwels ontsnap. Ek kan slegs die buitelyne vir ons gesprek vandag verskaf.

Om mee te begin, reken ek dit is onmoontlik om begrip hiervoor te hê as mens nie die saak in sy historiese konteks beskou nie — al sê baie mense ons moet nou aanbeweeg; wegkom van die verlede. Juis ons wat wit is, het die plig om die geskiedenis te verreken omdat rassisme, histories gesproke, sy oorsprong in wit denke oor die aard van swart mense het. Wat vanselfsprekend nie te kenne dat swart mense nie in staat is tot rassisme teenoor wittes nie. Daarby kom ek aanstons.

Wat vertel die geskiedenis ons hieroor — gegewe die moontlikheid dat die geskiedenis verander met elke herbesoek en herinterpretasie? Dis ’n komplekse saak, maar daar is ’n patroon wat ek wil opsom as ’n treurige verhaal van hoe Westerlinge eeue lank die ganse Afrika-mensheid tot ’n mindere mensheid verklaar het — dikwels bedoeld en soms onbedoeld.

Die bewyse hiervoor is talryk en uiteenlopend. Om maar enkeles te noem: Reeds in die sesde en sewende eeu was daar in Europa allerlei mites in omloop oor die “eksotiese monstermense” van Afrika — soos die afdrukke van houtsneewerk deur Hartman Schediel (1493) aandui.

In een van die gewildste reisbeskrywings van die Renaissance in die 16de eeu (dié van Mandeville) word swart mense beskryf as “ a fulle cursed peple — wylde men that ben hidous to loken on”; dat hulle monsters is wat verwek word wanneer die geeste van die hel met Membroth, die seun van Gam, kopuleer. Die Mandeville-reisbeskrywings het die grondslag geword van die deursnee 16de eeue Westerling se kennis van die Afrika-mensheid.

Victor Kiernan (in sy “Lords of Humankind”) som die indruk op as sou die Afrika-mensheid, vanuit die westerse perspektief, neerkom op ’n “eksotiese dier”, gans anders as die Westerling; met ’n tweederangse siel en ’n liggaam waarvan die senustelsel afgestomp is en nie so vatbaar vir pyn as dié van die Europeër nie.

Met Jan van Riebeeck se koms na die Kaap in 1652 is soortgelyke indrukke geboekstaaf en het dit voortgegaan namate ekspedisies die binneland verken het — soos die skrywer JM Coetzee dit aantoon in sy boek “White Writing”en Alex Buchardt in sy “The anatomy of power”. Sulke indrukke as ‘n vermenging van feit en fiksie was die agtergrond van die Renaissance-gedrewe klassifikasiewetenskap (herinner my inleidende opmerkings oor kategorisering in dié verband) aan die begin van die 16de eeu. Toe was die woord “ras” vir die eerste keer gebruik — vir enige natuurkategorie, byvoorbeeld die ras van visse.

Later (1758) is klassifikasie volgens “ras” uitgebrei na mense — soos in Linnaeus se “systemae naturae”. Hierin word voorsiening gemaak vir vier klasse homo sapiens: americanus, europaeus, asiaticus en afer. In dié klassifikasie is velkleur, haartekstuur en ander opvallende fisieke eienskappe aangevul deur sielkundige eienskappe. Oorwegend positiewe eienskappe word vir eersgenoemde drie klasse genoem, byvoorbeeld dat Europeërs innoverend en skerpsinnig is. Maar in die geval van “afer” (Afrika-mense) word slegs drie negatiewe eienskappe genoem — lui, sorgeloos en slinks.

Uit sulke sogenaamde wetenskaplike klassifikasieskemas is ’n rashipotese ontwikkel waarvolgens rasseverdelings hiërargies geplaas is — met die Europeërs bo en die Afrika-mens “onder” in die hiërargie. Hierdie hiërargiese verdeling, wat volgens hedendaagse antropologiese navorsing deur Philip Tobias en andere, geen wetenskaplike biologiese basis het nie, is in die laat 19de en vroeg 20ste eeu nog skerper afgeteken met die leerstellings van sosiale Darwinisme — dat die rashiërargie deur natuurlike seleksie tot stand gekom het.

Uit hierdie gegewens kom dié duidelike indruk: Wanneer ’n swart mensheid — eers in die eksotiese ruimtes van die verbeelding en dan in taal (ook dié van die wetenskap) — volgens sulke opvattings beskou en behandel word, is ’n verhouding geskep waarin, metafories gesproke, ’n wit “meester” alle beskikkingsreg oor die “swart “slaaf” het. Daardeur is ’n magsverhouding geskep van die “meerdere” wit “ons” en “mindere” swart “hulle” en kom die volle meganisme van stereotipering en diskriminering in werking.

Die wit meester is dan in beheer van die ander se liggaam en gees. Jy kan daaroor dink soos jy wil en daarmee maak soos jy wil. Jy kan dus doen soos die Reitz-vier gedoen het met hul “sqeeuzas” én ruimhatig vir hulle vrugte en groente van die plaas af bring want jy is tog lief vir hulle wat jou kamers skoonmaak en opruim.

Dit is hierdie soort verstaan van “ons” versus “hulle” wat die diepste betekenis gee aan Jonathan Jansen se onlangse boek met die titel: “Knowledge in the blood” — die soort verstaan wat oor eeue versamel is en natuurlikerwys as ’n vanselfsprekenheid aangewend is in verhoudinge tussen swart en wit.

Apartheidsideologie, in aansluiting by die koloniale mentaliteit, het aan hierdie toegeëiende beskikkingsreg wetlik beslag gegee en die Suid-Afrikaanse leefwyse daarvolgens gevorm. Watter ontwikkeling daar ook al was en watter voordele en vooruitgang swart mense hierdeur bekom het, was op die keper beskou te wyte aan ’n ekonomie van bruikbaarheid eerder as ’n etiek van geregtigheid, agting en gelyke menswaardigheid.

Dit is hierdie liggaamlik en sielkundige verinneweerde Afrika-mensheid wat in Suid-Afrika hul verlore menswaardigheid opeis — ongelukkig dikwels, geoordeel aan die aard van huidige staatsbestuur, in die trant van Albert Camus se waarneming wat sekerlik ten dele gevorm is deur sy ondervinding van die dekolonisasie van Algerië. Hy sê: “The slave begins begins by demanding justice and ends by wanting to wear a crown. He must dominate in his turn.”

Juis die maniere waarop “regverdigheid gevind” is (byvoorbeeld deur noodsaaklike regstellende aksie te vervang met ’n meedoënlose projek wat net enkeles bevoordeel; korrupsie; swak dienslewering; nepotisme en so kan mens aangaan) het olie op die vuur van altyd sluimerende rassismes geword. Vandag in Suid-Afrika het die histories-ontwikkelde kru stereotipering van swartes deur wittes grootliks in die openbaar verdwyn, of leef heimlik voort in privaat vertroetelde sentimente rondom braaivleisvuurtjies en in leunstoelgesprekke.

Maar in die plek daarvan het iets gevaarlikers gekom — ’n nuwe soort stereotipering wat deur die ou stereotipes gevoed word met ’n geraffineerde soort rassisme as stalmaat. Dikwels word dit gedra deur sleutelsinnetjies soos: “Ek was nog nooit ’n rassis nie — of ek wil nou nie rassisties klink nie, maar….” Voorbeelde hiervan sluit die volgende in: Eerstens, die wit telkaarthouers wat swart onvermoë en onbevoegdheid die skuld gee vir elke ding wat skeefloop sonder om dit wat reg loop, wat goed is en verbeter het, aan te teken. En sonder om die ontnemende geskiedenis met min geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling te verreken.

Tweedens, klein sabotasies. Om byvoorbeeld ’n program van regstellende aksie te steun en toe te pas, maar versuim om behoorlike opleiding aan die swart aangestelde te verskaf. En later word daar gekla dat swartes nie die motivering, wilskrag en werketiek het om goeie geleenthede te benut nie

Derdens, passiewe aggressie en vermakerigheid by die werkplek of in sosiale situasies — spesifiek daar waar swart mense nog in die minderheid is. Hiermee word die boodskap uitgestuur dat die “ander” onwelkom is en nie tussen “ons” hoort nie. En agterna word die vanselfsprekende ongemak, verleentheid en foute gesien as bewys dat “hulle” nie kan opleef aan gelyke status nie.

Hierby kom ’n soort verlekkering oor die profetiese ergste wat nog kom — ingeklee in sinnetjies soos: “Ek (ons) het julle mos gesê swartes het nie die vermoë om hul agterstand in te haal nie.” In die praktyk sal hulle nie aan gelyke status gestand kan doen nie. Hulle kan nie organiseer nie, nie woorde in dienslewerende dade omskep nie. (As daar tyd is vandag, sal ek graag enkele opmerkings wil maak oor ’n soort wetenskapsgedrewe rasssisme rondom swartes se intellektuele vermoëns.) Dit is dié soort denke wat die klimaat vir voortgaande kru en onmenslike optrede teenoor swartes in stand hou — met oënskynlik vernuftige rasionalisasies, rassistiese grappies, meewarige laggies oor werklike en vermeende onbeholpenheid en met berekende afsydigheid.

Maar nou die vraag: Watter effekte het wites se eeue-lange en plek-plek voortgaande negatiewe siening oor die aard van die swart mensheid op swartes gehad?
As ons aanvaar dat westerse innovasie, vermoëns en bekwaamhede oor eeue ontwikkel het en as’t ware ’n vanselfsprekende, ingeburgerde rigtingwyser geword het oor hoe en waarom dinge gedoen word soos dit gedoen word, moet mens die omgekeerde moontlikheid stel: Enorme agterstande wat betref vermoëns en vaardighede wat gekom het uit gebrekkige kennis en geleenthede om vermoëns te ontwikkel. En die afwesigheid van ‘n vanselfsprekende prestasiegedrewe kultuur. Maar meer as dít: die selfpersepsie of internalisering by swart mense dat hulle nie tot meer in staat is as wat wit maghebbers (in die vorige bedeling) van hulle dink nie.

Ek haal Steve Biko (1978) hieroor aan: “We were in our history as black people on the verge of caving in spiritually, culturally and psychologically to … the sheer power of psychosocial domination … we were almost reduced into self-negation and other forms of mindlessness… All in all the black man has become a shell, a shadow of a man…completely defeated, drowning in his own misery, a slave, an ox bearing the yoke of oppression with sheepish timidity.”

Juis hierteenoor het die swart bewussynsbeweging stelling ingeneem; dat dié soort self-opvattings skadelik vir swart mense en die ganse samelewing is en dat dit wel omkeerbaar is — vir Biko in die gees van dialoog met die wit heerskappy en by die ANC in die gees van gewapende verset wat uiteindelik gelei het tot die sukkelende, onvolwasse politieke demokrasie wat ons nou het.

Baie swart mense — juis in die steeds groeiende middelklas — het algaande en veral sedert 1994 op baie maniere die geïnternaliseerde negtiewe selfbeeld omgeskakel in ’n positiewe selfbeeld van menswaardigheid en bekwaamheid. Natuurlik is daar ook arrogante selfoorskatting — soos mens dit dikwels kry in die geledere van “ontplooide kaders” wat beloon is vir lojaliteit eerder as hul werklike bekwaamhede. Maar eeue se verrinneweerde mensheid verdwyn nie met politieke bevryding en politieke mag nie. Paulo Frere, die Latyns-Amerikaanse opvoedkundige, toon aan hoedanig kolonisasie van die psige (die slawerny van die gees) voortduur na politieke bevryding: wanneer die “slaaf” wat nou “meester” is (en die mag het) hom/haar steeds beleef as synde ’n slaaf in die oë van die een wat voorheen die mag gehad het. Henry Jeffreys, bruin redakteur van “Die Burger”, noem dit die onsigbare psigiese letsels van apartheid se ergste ellendes.

Die swart Amerikaanse geleerde Shelby Stone verskaf in sy boek, The content of our character, belangrike sleutels oor dié saak: Mense wat as ’n groep voorheen onderdruk was, vind dit moeilik om die pynlike herinnerings van onderdrukking en die negatiewe beoordeling van hul mensheid te ontgroei. Sulke herinnerings, sê Stone, is die swaarste juk op die skouers van voorheen onderdruktes. Hiermee bedoel hy die geringste vermoede dat ras ’n noemer is in ’n bepaalde situasie roep die ou letsels en geheuebeelde van ’n vorige bedeling op. En daarmee saam kom ook die diepgesetelde angs dat jou mensheid en vermoëns, opnuut geminag of onderskat word; dat niks eintlik verander het nie. Iets gering soos ’n kritiese stemtoon of gesigsuitdrukking wat normaal in die gewone gang van die lewe is, bring die pynlike koloniale en apartheidsverlede terug: die meerdere en bedrewe wit “meester” wat opnuut neersien op die mindere swart “slaaf”. Hiermee saam kom die spontane gevoel — eerder as ‘n rasionele gedagtegang — dat die “kolonisasie” van die swart mens se gees steeds voortduur. Dit verklaar die gemak waarmee swart mense dikwels, as ’n emosionele refleks, die raskaart uithaal wanneer wittes ontledend, objektief en welmenend tekortkomings in swart staatsbestuur aantoon.

By baie swart mense skep dié toedrag die ervaring dat hul selfwaarde en bekwaamheid altyd “gekleur” sal wees deur dit wat hulle dink wit mense van hulle dink. Woede, arrogansie, toeëiening (entitlement ) en die onvermoë om die “bagasie” van die verlede neer te sit, is nie vreemd in sulke toedragte nie. Hieruit kom swart stereotipes oor witmense — byvoorbeeld dat wit mense wat kla oor tekortkomings in staatsbestuur is onpatrioties, rassisties, anti-transformatories, en getrou aan wittes se aard, beterweterig en neerbuigend teenoor swart mense.

Noudat swart mense die politieke mag het, ontlok sulke stereotiperings uiteenlopende reaksies by wit mense. Eerstens is daar diegene wat raskaart met raskaart beantwoord, as ’n soort van emosionele knie-refleks. Daar is geen ontledende debat nie; bloot woord-ammunisie wat op mekaar verkwis word vanuit die selfregverdigende loopgrawe van blinde solidariteit met die eie saak.

Maar daar is ook ander reaksies. Baie wit mense wat goed begryp hoe diep ontnemend apartheid was, en sedert 1994 met veranderde gesindhede en daadkrag hul gewig ingewerp het om heropbou, transformasie en restitusie te bewerkstellig protesteer die teen die etiket van rassisme sodra welmemende kritiek uitgespreek word. Hulle protesteer teen die valse indruk wat geskep word dat swartes se voortgaande en toenemende armoede, ellendes en agterstande uitsluitlik die nagevolge van apartheid en wit uitbuiting is. Dit bevorder nie net ’n selfkoesterende slagofferstatus, ’n toeëieningsmentaliteit en die verdoeseling van aantoonbare vergrype in staatsbestuur nie, maar hou ook opportunistiese aandrang in stand dat wit mense steeds hul skuld moet bely en dat dit nog steeds “betaaldag” vir die struggle is.

Daar is egter ook ’n nuwe stel stereotipes — van swart teenoor swart — wat juis te make het met met die toenemende felle kritiek op swart staatsbestuur vanuit die geledere van die swart middelklas; soos die Eskom-debakel aangetoon het. Swartes wat swartes kritiseer word “coconuts” genoem — swart van buite maar wit van binne; met die impliksie dat hulle nie solidariteit met die swart saak vertoon nie.

Hedendaagse rassisme word juis gekompliseer deur dié soort solidariteit by swart politieke leiersfigure — waar die etiket “rassisties” doelbewus en vir poltieke gewin gebruik word om die verlede vars te hou; presies dit wat gebeur het in die Eskom-sage. Die gevaarlike uitwerking van hierdie polarisasies is dat aanhoudende stereotipering van mekaar kragtige negatiewe verwagtinge skep wat in ons verhoudings met mekaar uitgespeel word in die vorm van die reeds genoemde self-vervullende profesieë.

Laat my toe om teen die agtergrond van die breë patroon wat ek geskets het, enkele “tekste” te ontleed omdat dit prototipies is van wat dikwels op verskillende leefvlakke daagliks tussen swart en wit gebeur. En om ook ’n grap ontleed om te wys hoe hedendaagse grappe parasities op ou rassismes is.

In sy boek Duskant die geskiedenis vertel Frederik Van Zyl Slabbert dat hy en pres. Thabo Mbeki sedert 1985 tot 1994, toe Mbeki adjunkpresident geword het, gereeld goeie kontak en samewerking gehad en hy beskryf hul destydse verhouding as “gemaklik in mekaar se geselskap.” Op ’n aand in 1994 stel Mbeki dié vraag aan Slabbert: “Wat sou jy doen as jy adjunkpresident sou word?” Slabbert antwoord: ”Ek sou ‘n aantal komitees van deskundiges in sleutelareas aanstel om my gedurig daaraan te herinner hoeveel ek nog moet leer en hoe onkundig ek is.” Slabbert skryf Mbeki het waarskynlik aanstoot geneem en vervolg: “Waarom? Ek het nie ’n benul nie. Maar dit was die einde van ons gemaklike verhouding.”

Wat het hier tussen twee hoogs intelligente en bekwame mense — een wit een swart — gebeur? Een moontlike antwoord is dat Slabbert se nuttige voorstel net té direk en té voorskriftelik was en dat Mbeki dit as kritiek op sy vermoëns beleef het. Dit was waarskynlik die steeds gekoloniseerde gees wat gereageer het. Só gesien, is die situasie veel komplekser as net ’n geval van kritiek en oorgevoeligheid vir kritiek. Dit gaan oor ’n diep groep-emosie wat oor eeue ontwikkel het en gesneller word sodra daar kritiek is.

Maar in die Slabbert-Mbeki-geval sou mens kon sê Slabbert het tog bewese struggle-getuigskrifte by Mbeki verdien. Waarom het húlle goeie verhouding dan versuur? Die gedeeltelike antwoord is dat Slabbert as individu, ondanks sy getuigskrifte in die stryd teen apartheid, steeds nominaal gesien is as ’n “verteenwoordiger” van ’n groep (wit mense) wat swart mense se onderdrukking bewerkstellig het. Hoe Mbeki op Slabbert gerageer het, kom neer op rassisme — om die negatiewe verwagting te hê dat Slabbert se kritiek ’n ontkenning van Mbeki se vermoëns as mens is. Anders gesê: die vermoede van rassisme by ’n ander, lei tot eie rassisme op die basis van solidariteit met alle swart mense wat onderduk en ontneem was in die verlede.

Die tweede meer onlangse voorbeeld: By ’n onstuimige aandeelhouersvergadering van die Reserwebank protesteer ’n wit aandeelhouer teen die president, mnr. Tito Mboweni, se optrede. Mboweni vererg hom en sê iets in die trant van: “Moenie met my praat asof ons in die ou bedeling is nie.” Wat is die sneller vir dié uitpluk van ’n raskaart wat in dié geval, volgens alle getuienis, nie op ’n rasmotief by die wit aandeelhouer berus het nie — bloot kritiek op die manier waarop Mboweni die vergadering gelei het.

Weer eens: Mboweni se reaksie is rassisties in soverre hy gereageer het op die negatiewe verwagting dat die lid van die direksie se kritiek in die kader val van die “ou manier” waarop ’n wit mens met ’n swart mens praat. Sulke rassisme is verstaanbaar, maar onverskoonbaar in in die breër konteks van die soeke na ’n nie-rassige samelewing.

Nou die grap. Die konteks: Radioman John Robbie voel ongemaklik oor ’n grap wat hy gehoor het en al vir verskeie mense in private geselskappe vertel het. Wil by luisteraars weet wat hulle dink: ’n Swart man uit Afrika kom op die Heathrow-lughawe in Engeland aan. Op sy skouer sit ’n groen-geel papegaai. By die doeane vra ’n amptenaar hom: ‘Is daar baie van dié waar jy vandaan kom?’ Waarop die papegaai vloekend antwoord: ‘Ja, daar is f….. miljoene van hulle.’

Rassisties, vernederend? Ja, as mens die grapkonteks én die grapteks noukeuriger ontleed. Vir eers die feit dat swartes eeue lank deur kolonialisme, en apartheid as ’n uitloper daarvan, tot mindere mense verklaar is, vergeleke by wittes. Dié verlaagde status het uitgeloop op allerlei stereotipes oor swartes, byvoorbeeld dom, lui, onopvoedbaar, slinks en sonder inisiatief. Die grapteks sluit op ’n bepaalde manier hierby aan: Dit is die papegaai, wat net ’n “naprater” van mensetaal is, wat die amptenaar se vraag antwoord — só of die voël wat op die swart man se skouer sit ’n intelligenter gesprekvoerder as hý is. Hierdeur word die swart man se geletterdheid (en so ook sy opvoedbaarheid en gespreksvernuf ) as iets onhaalbaars voorgehou. Voeg hierby die papegaai se verwysing na swartes as die miljoene “hulle”, en dit is duidelik die grap plaas swartes as ’n groep buite die kring van die wit “ons.” Voorts roep die papegaai se swetsende antwoord die assosiasie op van tradisionele bevolkingsaanwaspatrone in Afrika, oorbevolking en die ellendes wat daarmee saamgaan — sonder om die Afrika-kultuur se historiese waardes van en respek vir ’n groot en uitgebreide gesin te verreken.

Die grap behels dus niks anders nie as ’n voortgesette kru stereotipeing van swartes; met die newe-indruk dat daar te veel van hulle is én ’n bedreiging inhou. Grappe soos dié, en nog kruer as dié, word steeds in baie wittes se gemoed vertroetel; én floreer in gesprekke in hul wonings, by braaivleisvuurtjies en by die werkplek. En dikwels is die verweer dat daar net goedig gespot word, en dat oordrewe politieke korrektheid tog nie ons sin vir humor moet wegneem nie.

Hierdie soort geprivatiseerde rassisme van wittes teenoor swartes is die groot jakkals wat die sukkelende samelewingswingerd kan verwoes. Want dit maak dat wittes in hul gemoed, steeds stereotiperend, ’n filosofie van “dit is maar soos hulle (die swartes) is”, en gevolglik min doen om met ’n nuwe soort respek die “ons-hulle”-grense te probeer afbreek. Want waarom sal jy oor jou swart landgenote ánders dink as jy reken hulle is maar soos jy dink hulle is — nie beter as ’n pratende papegaaie wat bloot mensetaal kan naboots nie. Die vraag is: kan ons, swart en wit, werklik aanbeweeg — die verlede begrawe soos baie mense sê — as ons nie die subtiliteite van die negatiewe verwagtings wat swart en wit van mekaar het begryp nie?

Teen dié agtergrond enkele gedagtes oor aanbeweeg op die moeisame pad na ’n nie-rassige en minder rassistiese samelewing. Wat is die voorwaardes?

Dit is swart politieke leiers se burgerlike plig om nie net die aard van die juk waarna Stone verwys te begryp nie, maar dit af te lê as ’n saak van die verlede; om die manipulering van die raskaart vir eie gewin te staak. Soos wat baie gewone swart burgers dit regkry in hul omgaan met ’n nuwe geslag wittes wat saam met hulle as medeburgers vorentoe wil beweeg — sonder die raskaart en die meegaande “ons-hulle”-verdeellyn.

Eweneens is dit wittes se plig om die snykant van die juk empaties na te voel en in berekening te bring in die inhoud en styl van hul kritiek op swartes. Dit beteken natuurlik nie geen kritiek nie. Kritiek, kritiek en nogmaals kritiek is die waarborg vir volwasse demokratiese samelewing — om die Sokratiese steekvlieg te wees wat die staatsperd wakker en op sy pote hou.

’n Sleutelbegrip op die moeisame pad is verdraagsaamheid tussen “ons” en “hulle” ter wille van ‘n uitgebreide “ons” wat wit, swart en bruin kan akkommodeer. Maklik gesê, maar moeilik om te doen. Miskien juis omdat die begrip verdraagsaamheid so ligtelik verstaan word. Dit beteken dinge soos “duld” en “uitstaan” wat verstaan kan word as lydsame, passiewe aanvaarding. Daarom is dit nuttig om terug te gaan na die woord se wortelbetekenis om iets dieper as dít te snap. Die Latynse oorsprong van verdraagsaamheid (“toleransie”) suggereer drie eienskappe van verdraagsaanmheid: “om te verduur”; “om op te tel” en “om te dra.”

Alles saamgeneem, is verdraagsaamheid ’n aktiewe, omvattende gevoelshouding wat sê: terwyl jy ánders as ’n ander mens dink en doen, dra jy die ander se opvattings en optredes saam asof dit jou eie is. Daardeur verstaan jy beter hoekom ’n ander mens, of groep mense, dink en doen soos hulle doen. Juis daarom kan jy nie en wil jy nie die ander se opvattings en optredes geringskat nie.

Hoe kweek ons verdraagsaamheid in praktiese terme? Ek baseer my idees op navorsing in kontekste waar rassespanning en rassisme geld.
• Die breë oorkoepelende voorwaarde is dat daar kontak moet wees tussen swart en wit moet wees, verkieslik spontaan eerder as georkestreerde gedwongenheid. Maar gedwonge kontak kan ook werk op voorwaarde dat die volgende dinge in plek is: Kontak moet plaasvind op die basis van sigbare gelyke status waar dit as rolmodel kan dien. Die probleem hiermee is om dit op ’n egte manier te laat plaasvind — nie paternalisties nie; nie neerbuigend nie; en nie stroperig omhelsend nie.
Waar kontak by wyse van dekreet of regulasie plaasvind (soos in geïntegreerde koshuise) moet die deelnemers “inkoop” in die hoër waarde van nie-rassigheid en onderlinge begrip. In die skepping van gelyke status is dit belangrik om nie daarvan ’n “kleurblinde” projek te maak nie. Gelyke status beteken dus nie dat jy sê daar is geen verskille wat in ras gesetel is nie. Daar is sulke verskille, maar dit maak geen mens minder of meer menswaardig nie.

• Die kontak moet uitloop op die vertelling van persoonlike ervarings en opvattings. Dit is natuurlik dat mense “ras” kan beleef as ‘n geval van “ons” en “hulle”. Daarom is dit bevrydend om ook ’n gedeelde mensheid te ontdek via mekaar se “stories” — dat “hulle” stories oplaas ook “ons” stories bevat; en dat “ons” stories die grondstof van “hulle” stories het. Dit kom neer op die ontdekking van ‘n gewaardeerde eendersheid te midde van ’n gewaardeerde andersheid — soos byvoorbeeld hoe Eurosentriese waardes en gebruike Afrosentriese waardes en gebruike (caritas en ubuntu) gelyktydig anders en eenders is.
• Die kontak moet uitloop op samewerking rondom gedeelde belange. Die rasharmoniëringswaarde lê onder meer daarin dat mense wat op nie-mededingende wyse leer saamwerk het, dit moeilik vind om agterna die rasgedrewe mentaliteit van “ons” versus “hulle” te handhaaf.
• ’n Vierde voorwaarde is dat daar in die samelewing ’n deursurende sentiment moet bestaan dat rasse-harmoniëring ’n gesogte waarde is waarsonder ’n samelewing nie kan vorder nie.
Die owerheid — tesame met kultuurorganisasies, gemeenskapsforums, kerke, skole en universiteite — is die belangrikste instrumente in die vestiging van so ’n sentiment. Dit is die voorwaardes vir ontmoeting en ont-moering in Moermekaarland. Het die owerheid en ons werklik die wil daartoe om van Moermekaarland te kom tot Steve Biko se siening van die Beloofde Land? “…there shall be no minority, there shall be no majority, just the people…”

(Lesing gelewer op 15 November 2009 tydens ’n NHN-Midrandbyeenkoms.)