1. Inleiding

Mens sou die hantering van lyding met ’n eenvoudig formule kon weergee: G + R = U (G = Gebeure wat die lyding veroorsaak soos siekte, verlies in een of ander vorm: egskei­ding, dood van ’n kind, misdaad; R = ons persoonlike en gemeenskaplike Reak­sie daarop; U = die Uitkoms wat kan wees hoop of wanhoop, pessimisme of optimis­me, blydskap of hartseer).

 

Ek sal hier aantoon dat in die pre-moderne periode lyding veral hanteer is met ver­wysing na ’n ander dimensie waar God is. Binne ’n modernistiese raamwerk het natuurwette ’n groot rol gespeel. Post-moderne denkers verwys veral na gesprek om sinergie teen lyding te monster.

 

Baie mense het ’n redelike negatiewe siening van die lewe. Hulle is net gelukkig as hulle ongelukkig is. Toe ek in die weermag was, was daar ’n korporaal wat ons elke oggend wakker gemaak het met ’n tipiese diensplig-rympie: “Word wakker, word wakker, Gister was erg, vandag is nog erger.” Natuurlik het hy ander woorde as “erg” en “er­ger” gebruik. Die feit dat julle lag wys dat ’n goeie begrip nog steeds net ’n halwe woord nodig het! Hierdie voorbeeld, meen ek, toon, dat lyding, ’n negatiewe siening van die lewe, waarskynlik die normale is.

 

Gewoonlik het ons min beheer oor G, die Gebeure, die lyding wat oor ons kom. In my praatjie gaan dit veral oor R, ons Reaksie daarop, want hieroor het ons tot ’n groot mate beheer en dit kan ’n positiewe uitkoms tot gevolg hê. Die drie diskoerse wat aan die orde kom, Pre-Modernisme, Modernisme en Post-Modernisme, ontwikkel elk ’n tipiese spiritualiteit om lyding te hanteer, en berus ook op ’n tipiese wêreldbeeld.

 

Ons wêreldbeeld het te doen met die wyse waarop ons onself en ons omgewing voor­stel. Spiritualiteit het te doen met die manier waarop ons sin en betekenis gee aan ons lewens. Dit verskaf ’n antwoord op die vrae: “Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Waarom is ek hier? Waarheen is ek op pad?” Hierdie vrae is tipies-menslike vrae. Volgens alle aanduidings is dit nie vrae wat diere en plante vra nie. Diere lewe vol­gens instink, die id. Diere rou nie oor die dood nie; diere problematiseer nie die le­wensiklus nie. Toe menslike selfbewussyn ontstaan het, toe, volgens Freud die id by die ego gevoeg is, en ’n proses begin is wat uiteindelik die superego produseer het, het lyding problematies geword. Homo Sapiens egter het tussen 100,000-50,000 jaar gelede taligheid ontwikkel en simbole begin gebruik om te kommunikeer. Volgens die teoloog, Paul Tillich, het dit die skok van die moontlikheid om nie te bestaan nie, tot gevolg gehad. Freud noem dit die trauma van selfbewussyn.

 

Mense het dus bewus geraak dat hulle teenoor iets anders staan: teenoor hulleself, teenoor ander mense, teenoor die omgewing. Die term angst word gebruik om die emosie wat met selfbewussyn gepaard gaan uit te druk. Ons almal ervaar dit omdat ons verstaan hoe broos ons is, hoe nietig in hierdie groot wêreld, hoe onveilig, hoe sterflik, hoe magteloos, en hoe eensaam. Filosowe noem hierdie bewussyn nihilisme.

 

Vanuit ’n evolusionêre perspektief is nihilisme nie bevorderlik vir oorlewing nie. Om te wil oorlewe het die menslike spesie ’n behoefte aan sinvolheid, permanensie en sta­biliteit. Nihilisme, ’n besef van sinneloosheid, verganklikheid en doelloosheid onder­myn die wil om te lewe, en kan selfvernietigende gedrag tot gevolg hê.

 

Om hierdie nihilisme te besweer is daar in die pre-moderne era ’n bepaalde reaksie teenoor die wisselvallighede en lyding, inherent aan die menslike bestaan, ontwikkel. Dis moeilik vir ons om primitiewe mense se lyding voor te stel. Van die oudste homi­niede skelette is so oud soos 4 miljoen jaar. Een daarvan is van ’n kind, ongeveer elf jaar oud. Mense het nie lank geleef nie. Kindersterftes was hoog. Volwassenes het moeilik ouer as dertig jaar geword. Die dood van kinders of ouers het genetiese trauma veroorsaak, asook verlies aan sekuriteit. Natuurrampe het katastrofiese lyding tot gevolg gehad soos verhongering en blootstelling aan die elemente.

 

  1. Die Hantering van Lyding in die Pre-Moderne Era

Plato se filosofie, meen ek, is die kulminering van die wyse waarop pre-moderne mense hulle wêreld ervaar het. Wat my betref is die Christendom bloot ’n populêre vorm van Platonisme. Die vernaamste kenmerk van Plato se denke is dualisme, ’n op­vatting dat daar ’n sigbare en ’n onsigbare wêreld is, en dat die sigbare wêreld vanuit die onsigbare verklaar word. Volgens hierdie tipe denke word menslike lyding deur kragte in die onsigbare wêreld veroorsaak.

 

Vandag leef hierdie wêreldsiening steeds in ons taal voort, bv. “Ek weet nie wat in my ingevaar het nie” sê ’n man wat by ’n buite-egtelike verhouding betrokke geraak het. “Die duiwel is alweer los” sê ’n ma wie se kinders aan die baklei gaan. “Hy het soos ’n bestene teruggeveg” sê ’n sportkommentator to Nadal amper vir Federer in die Wimbledon finaal gewen het.

 

In die Christendom is alle bo-natuurlike magte gereduseer na ’n persoonlike God wat almagtig is, alwetend, alomteenwoordig, goed, transendent, ewig en aan die kant is van ’n bepaalde groep. Hierdie siening van God staan as teïsme bekend. God is le­wendig, gesond en in beheer. Hy openbaar homself aan tussengangers. Die meester-narratief is dat ons geskape is, in sonde verval het, deur ’n proses van lyding voorberei word vir die ewige lewe, sterf, en opstaan na ’n nuwe bestaansvorm. Die soort denke wat gebruik word om lyding te hanteer, is deduksie. Paslike optrede teenoor lyding word deduktief afgelei uit die geopenbaarde Woord van God. Die skema hieronder is ’n voorstelling van die deduktiewe denkproses.

Figuur 1: Deduksie

Raadpleeg die Bybel.

Pas dit toe op lyding

Praktiese hantering van lyding

Gepaardgaande hiermee was daar ’n Paradigma van Beheer-en-Beveel: Gesag kom van bó af, en mense moet ónkrities gehoorsaam wees. Jy mag nie vir jouself dink nie. (Die Weermag is natuurlik bekend vir hierdie paradigma. Eenkeer het ek ’n opdrag van die Sersant Majoor gekry om uit te voer. Dit moes in ongeveer tien stappe plaas­vind en sou my sou so vyf ure neem om te voltooi. Toe hy weg is, het ek dit na drie stappe gereduseer en sou dit binne ’n uur kon voltooi. Voordat ek klaar is, kom hy terug en vra my wat ek besig is om aan te vang. “S’majoor, ek het gedink …” “Jy is nie hier om te dink nie” het hy gebulder. “Jy is hier om bevele uit te voer!” Dit is hoe die Paradigma van Beheer-en-Beveel werk. )

 

Jakobus 1:9-11 is ’n goeie voorbeeld van hoedat lyding in die pre-moderne tyd han­teer is. Dit begin met ’n bevel, “Wees bly as jy ly!” Die wyse waarop hierdie paradoks lyf gegee is, is deur middel van ’n Skeppingsmite. Die mens bestaan uit ’n liggaam (aards en boos) en ’n siel (hemels en goed). Lyding is God se “tough love” om van jou ’n beter mens te maak, sodat jy eendag hemel toe kan gaan. Dit word met ’n me­tallurgiese metafoor verduidelik. Ystererts is ’n mengsel van suiwerhede en onsuiwer­hede. Dit word gehammer, fyngestamp en tot helse temperature verhit; dit ondergaan lyding. Die eindresultaat is nie vernietiging nie, maar ’n meer duursame en perma­nente metaal, naamlik yster. Hoe meer dit geslaan, verhit en afgekoel word, hoe sterker word dit. Net so word die siel deur lyding verfyn tot volmaaktheid.

 

Agrariese prosesse, soos wynmaak, is ook gebruik om oor lyding te praat. Wynkorrels word stukkend getrap, dit verrot, en die resultaat is ’n nuwe produk, naamlik wyn wat meer duursaam is as die vorige. Net só is die aardse lewe ’n proses van aftakeling en vertrapping sodat die mens tot ’n nuwe bestaanswyse kan oorgaan wat ewig is. Jere­mia 12:5 hanteer ’n oorlogsmetafoor: “As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in ’n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?” Lyding is God se “tough love”. Dit is nooit bo-menslik nie. Jesus het aan die kruis gely sodat ons nooit bo ons kragte beproef sal word nie.

 

Lyding is ook gesien as God se “tugmeester.” God straf jou om jou op die regte pad te bring. Toe ek lank terug aan ’n gemeente verbonde was, het ’n ouderling gereeld by my gekla oor ’n gesin wat nooit hulle voete in die kerk gesit het nie. Een Sondagog­gend is die hele gesin toe daar. By navraag sê hy, die man was in ’n motorongeluk. Toe gaan besoek hy hulle en sê, “Dis omdat julle nie kerk toe kom nie!” In ons taal, dink ek, noem ons hierdie siening “Die blinde sambok!” In die spesifieke gesin het dit nie lank gehou nie! Binne die Nuwe Testament is daar talle voorbeelde dat lyding verklaar is as God se straf op sonde. Deur die sonde te bely, kon die resultaat daarvan verdwyn.

 

“Godsdiens” het dus ontstaan as ’n manier om lyding te hanteer. God kon op verskil­lende maniere aangeroep word: deur rituele (offers), of gebede (om ingryping), of lof­sange, of God se tussengangers wat jou met olie salf (Jakobus 5:13), ensomeer.

 

Die voordele van die pre-moderne hantering van lyding is duidelik. Mense het lyding aanvaar, mekaar ondersteun, en die oorlewing van die spesies moontlik gemaak. Godsdiens funksioneer as “opium vir die gees” wat die lewe vir mense draaglik maak want daar is ’n “Pie in the sky when you die.”

Ongelukkig was daar ook verskeie nadele. Die eerste is dat kreatiewe denke gewelda­dig onderdruk is. Op hierdie wyse is die werklike immanente oorsake van lyding nie aangespreek nie. Dit is nie toevallig dat die Donker Eeue gevolg het nadat die Chris­tendom die amptelike kultus van die Romeinse Ryk geword het nie. Godsdiens self het ook baie lyding veroorsaak.

 

Die argument teen die pre-moderne wyse om met lyding te werk, is alreeds in die vierde eeu v.C. deur die Griekse filosoof, Epicurus, gewen met wat as die “Epikurese Paradoks” bekend staan: “As God alwetend is, almagtig en goed, waarom ly mense?” Hy het daaruit afgelei dat só ’n God nie bestaan nie, anders sou ons ’n beter wêreld gehad het. Jode se ervaring van die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog het Richard Rubenstein, ’n ateïstiese Joodse teoloog laat skryf: “I am compelled to say that we live in the time of the ‘death of God.’ . . . The thread uniting God and man . . . has been broken. We stand in a cold, silent, unfeeling cosmos, unaided by any purposeful power beyond our own resources. After Auschwitz, what else can a Jew say about God?”

 

In moderne musiek is daar ook ’n reaksie teen die onderdrukking van kreatiwiteit wat inherent aan die Beheer-en-Beveel Paradigma is. Harry Chapin het in 1978 ’n liedjie geskryf oor kinders en verlore onskuld. Hy noem dit “Flowers are red.” Dit gaan oor ’n seuntjie wat vir die eerste keer skooltoe gaan. Hy kry vetkryte in die hande, en be­gin blomme teken. Omdat die wêreld kleurvol is, gebruik hy elke kleur vetkryt. Maar sy onderwyseres sê: “Dis verkeerd”:

“Flowers are red young man, green leaves are green.

There’s no need to see flowers any other way

Than the way they always have been seen.”

Streng het sy hom verbied, maar hy het aangehou om die kleure van die oggendson en die reënboog te gebruik. Uit woede laat sy juffrou hom in die hoek staan, wat hom baie bang en eensaam laat voel. Iets in hom het gebreek en uiteindelik sê hy vir die juffrou:

“Flowers are red, green leaves are green.

There’s no need to see flowers any other way

Than the way they always have been seen.”

Toe die seuntjie en sy ouers verhuis, gaan hy na ’n nuwe skool. Hier glo sy nuwe juf­frou dat teken pret moet wees en moedig hom aan om soveel kleure as moontlik te gebruik. Die liedjie eindig met die hartseer woorde:

“But that little boy painted flowers
in neat rows of green and red.
And when the teacher asked him why
this is what he said… and he said

Flowers are red, green leaves are green
There’s no need to see flowers any other way
Than the way they always have been seen.”

 

  1. Die Hantering van Lyding in die Moderne Periode

Die filosowe René Descartes en Bertrand Russell is goeie verteenwoordigers van die moderne periode. Vir hulle word kennis nie geopenbaar nie, maar verkry; en wel deur deur die sintuie en rasionele argumentasie (empirisisme). Volgens hulle kom die mens in die wêreld met ’n tabula rasa, as ’n leë skryftablet, en deur middel van ons sintuie ontwikkel ons in ons koppe ’n afbeelding van die wêreld. Descartes noem dit ’n sen­sorium, ’n soort innerlike bioskoop, van hoe die werklikheid is. Die siening van God is nie Teïsties nie, maar Deïsties. God is die krag of mag wat alles in beweging gesit het, soos ’n horlosiemaker wat ’n horlosie maak en opwen, en nou loop alles af vol­gens bepaalde wetmatighede. Dit is dus ’n beperkte dualisme. God is nie bó nie, maar buite die kosmos, in ’n ander dimensie as jy wil. God openbaar homself in sy skep­ping (natuurteologie). Die tipiese manier van denke is induktief soos in die figuur hieronder aangedui:

 

Figuur 2: Induktiewe Denke

 

Gevalle van lyding wat met ’n oop gemoed benader moet word

 

Vorming van hipoteses oor

die oorsaak van lyding

Gevolgtrekkings: praktiese hantering van lyding

Jy begin nie met algemene waarhede wat jy byvoorbeeld uit die Bybel aflei nie, maar jy analiseer die feite van elke situasie. Die paradigma is nog steeds dié van beheer-en-beveel, maar nou van onder-af: Kundiges en tegnokrate sal ’n beter wêreld skep.

 

Ook hierdie wêreldbeeld het in ons algemene taalgebruik inslag gevind. As jong mense verlief raak, sê ons “daar is elektrisiteit tussen hulle”. My seun antwoord, toe ek hom vra hoekom hy my rekenaar se harde skyf uitgevee het, “Pa, al wat ek kan dink: dis swak genetiese materiaal!”

 

Volgens Russell het lyding natuurlike oorsake. Dit is veral ekonomies van aard, om­dat mense veg vir beperkte hulpbronne. Beleidsrigtings soos geboortebeperking, on­derwys vir almal, en die aborsie van abnormale fetusse sal lyding minimaliseer. In die teologie ontstaan daar sienings dat God nie ingryp nie. Hy is by prosesse betrokke, aangesien hy die wetmatighede van hierdie prosesse vasgelê het (prosesteologie). Die funksie van Godsdiens is nou om betrokke te raak by God se plan of bloudruk vir hierdie wêreld. “Gebed verander nie God nie, maar die persoon wat bid” sê Kierke­gaard. Binne hierdie raamwerk preek dominees dan só oor gebed: “As jy bid, bid asof alles van God afhang. As jy opstaan, doen, asof alles van jouself afhang.” Talle boeke is geskryf met temas soos, “Ontdek God se plan vir jou lewe!” Dus: Gesondheid, voorspoed en rykdom is joune, as jy volgens die ingeskape wetmatighede lewe.

 

Hierdie teologie word goed geïllustreer deur ’n insident tydens die Tweede Wêreld­oorlog toe ’n jong seun deur die Nazi’s by ’n konsentrasiekamp opgehang word. Ter­wyl hy besig is om te sterf, vra een van die omstanders, “Waar is God nou?” Waarop iemand antwoord, “Hy hang daar saam met hom.” God ly dus saam met ons, maar meng nie in met historiese en natuurprosesse nie wat redelik wetmatig verloop.

 

En die manier om die Bybel te lees, moet aan kundiges oorgelaat word. Strukturele benaderings help kundiges om die “boodskap” van God af te lei, wat universeel is. Menslike elemente word hierdeur omseil. Die Bybel is dus ’n kombinasie van inspira­sie en menslike kreatiwiteit. Objektiwiteit is die wagwoord.

 

Niemand sal seker die voordele wat modernisme vir ons almal gebring het, die gewel­dige tegnologiese vooruitgang, ontken nie. Ons pluk elke dag die vrugte daarvan. Ons leef langer, en ons lewenskwaliteit is waarskynlik beter as wat ons ouers s’n was. En tog ly ons steeds, en ervaar ons dat lyding nie met eenvoudige maatreëls uit die weg geruim kan word nie. Lyding is té eenvoudig na wetmatighede gereduseer. Ons wil nie meer hoor van “jam” gister en “jam” môre nie, maar “jam” vandag.

 

  1. Lyding in die Post-Moderne Periode

Volgens Spong is daar sterk aanduidings dat die pre-moderne en moderne maniere om lyding te hanteer, uitgedien is. Die tradisionele “God as opium vir die gees” werk nie meer nie. Ons soek na ander alternatiewe. So drink ons tee of koffie (sommiges sê hulle kan nie die dag daarsonder begin nie) met die opkikkermiddel kaffeïene daarin, wat ook in Coke en Pepsi en ander koeldrank gebruik word. Dan is daar ook die ge­bruik van alkohol wat ’n integrale deel van ons lewe geword het om te ontspan—in ’n restourant, na werk, selfs in ’n vliegtuig. Ook die gebruik van nikotien is besig om toe te neem, ondanks pogings om dit te beperk. Dit verskaf mense die geborgenheid wat hulle as babas ervaar het. (Die grootte van ’n sigaret is dieselfde as die tepel van die moederbors. Die aksie om die rook in te trek is dieselfde as ’n baba se suigaksie om melk te kry. Selfs die temperatuur van die rook is soortgelyk as dié van moeders­melk.) Baie mense vind dit nodig om met so ’n “nikotien-fopspeen” deur die lewe te gaan. Intussen het anti-depressante wêreldwyd ’n multi-biljoen Dollar industrie ge­word—Prozac, Librium en Vallium is vandag huishoudelike name. Voeg daarby die toename in selfmoord—in Suid-Afrika, ná kersfees, het ons die sogenaamde self­moordseisoen so Januarie tot Maart—en die toename in sinnelose geweld. Dit alles dui vir Spong daarop dat die tradisionele God as opium vir die gees nie meer werk om lyding te verdoof nie.

 

Die profete van die Post-moderne periode is Kierkegaard, Nietzche en Immanuel Kant. Kant het aangedui dat die wêreld ons eie skepping is. Met ons woorde, ons be­grippe, en ons metafore, gee ons struktuur en sin aan ons wêreld. (In die Ou Testament word dit met die similee van die Pottebakker uitgedruk; maar nou is ons self die pot­tebakkers, die kunstenaars, nie God nie.) Die basiese wêreldsiening is nihilisme. Dit is vir ons om daaraan te ontsnap.

 

Dit is taal en simbolisering wat ons anders maak as die diere. Johannes 1:1,14, die bekende proloog van die Johannesevangelie kan nuut gelees word as: “In die begin was daar gesprek en die gesprek was God en in die volheid van die tyd het gesprek ons vlees ingekom.” Vryheid van spraak in al sy vorme is dus die hoogste goed, en dit moet lei tot konsensusvorming.

 

Alle dualisme word nou laat vaar. Die heelal het nie meer ’n binne- en ’n buitekant nie. Die meesternarratief is nou evolusie en die Oerknal, gegrond op Darwin, Einstein en Hawkins. As gevolg van hierdie siening word die teïstiese God deur Nietzche as dood verklaar. Teoloë soos Cupitt begin praat van ’n religielose religie. Godsdiens word nou vervang met die woord spiritualiteit. Volgens Spong is God nie êrens buite nie, maar immanent. God is in alles, en alles is in God. God is, soos alle simbole, ’n menslike konstruk. Ons kan slegs vra en redeneer of dit sin het om nog steeds God as ’n konsep te gebruik. Gebed se sin word al hoe meer beperk (want daar is nie iemand wat luister nie). Meditasie as ’n luister- en bewuswordingsproses het meer nut. Die Bybel is ’n kultuurproduk. Dit het hoogstens historiese waarde en die hermeneutiese metode om iets van waarde te kry, is dekonstruksie. God is sinvol as ons daarmee ’n stel waardes bedoel. Dan kan ons Habakuk 3:17 nuut lees as ’n toewyding aan ’n stel waardes:

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen klein­vee in die kampe wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

 

Die leidende denkmetode is abduksie, soos in die figuur hieronder

Figuur 3: Abduktiewe Denke

Maak nie saak of jy by ’n algemene waarheid begin, of by die feite nie; jy moet die heeltyd probeer om teenvoorbeelde te vind. Falsifikasie, nie verifikasie, is verant­woordelik vir ’n ongehoorde ontploffing in wetenskaplike kennis.

 

Die paradigma is nie meer hiërargies (top-down) nie, maar demokraties (bottom-up). Dit gaan meer oor luister en dien, as beheer en beveel. God is nie ’n God van sommi­ges nie, maar van almal. Ons liefde is nie vir party nie, maar vir die kosmos (self, medemens, natuur). Die onderskeid tussen God se voorsienigheid en menslike verantwoordelikheid, die sakrale en die profane, verdwyn. Dit word twee kante van dieselfde muntstuk.

 

Die hantering van lyding is (a) deur die kragte van sinergie te monster—ondersteu­ningsgroepe is baie belangrik (b) deur die gegewenes van die menslike situasie dapper te aanvaar: dood, verganklikheid, eensaamheid, sinneloosheid, nihilisme. Ons kan self sin daarvan maak. (c) Gesprek, dialoog, luister, solidariteit betoon, is van die uiterste belang. (d) Die erkenning van die bydrae van diversiteit—elkeen van ons het iets om by te dra. Die mens is basies goed.

 

’n Gedig van Davna Markova gee uitdrukking aan hoe mense in ’n post-moderne era hulle spiritualiteit wil uitleef:

 

I will not die an unlived life, I will not go in fear

 of falling or catching fire.

I choose to inhabit my days,

to allow my living to open to me,

to make me less afraid,

more accessible,

to loosen my heart

until it becomes a wing,

a torch, a promise.

I choose to risk my significance:

To live.

So that which came to me as seed,

goes to the next as blossom,

and that which came to me as blossom,

goes on as fruit.

 

Oor die monstering van sinergie maak Italo Calvino ’n opwindende opmerking. In sy boek, Invisible Cities, vertel Marco Polo telkens wanneer hy van ’n ontdekkingsreis af terugkom sy wedervaringe aan Kubla Khan. Die slotparagraaf lui:

 

“And Polo said: ‘The inferno of the living is not something that will be; if there is one, it is what is already here, the inferno where we live every day, that we form by being together. There are two ways to escape suffering it. The first is easy for many: accept the inferno and become such a part of it that you can no longer see it. The sec­ond is risky and demands constant vigilance and apprehension: seek and learn to rec­ognize who and what, in the midst of the inferno, are not inferno, then make them en­dure, give them space.’”

 

Die Nuwe Hervorming Netwerk is vir my só ’n ruimte waarbinne ons op ’n sinvolle en eietydse manier uitdrukking kan gee aan ’n eenvoudige formule: G + R = U.