Agtergrond

Selfs so vroeg as die periode van die doelbewuste vergeesteliking en verkerkliking van mense in Europa (500 tot 1500 n.C.) sien ons die spore van grootskaalse godsdiens kritiek en sekularisme. (Sekularisme word hier gesien as ʼn vrywording van voorskriftelike religieuse mitologie, kerklike dogma en –binding.)

Heftige kritiek teen godsdiens en geloof kry ons, onder talle andere, in die baie bekende filosofieë van: Spinoza (1632-1677), d’Holbach (1723-1789), Kant (1724-1804), Hegel (1770-1831) en Nietzsche (1844-1900). Vandag is die godsdienskritici van veral die hoofstroom godsdienste, te veel om op te noem.

Die Eksistensialisme met die filosofie van veral Martin Heidegger (1889-1976) sluit mooi aan by die godsdienstige gedagtes van die post-modernisme. Die sogenaamde “syns-historiese oorwinning van die religie”. Hy ken alleen die mens se aardse syn waarby geen gode betrokke is nie. Die mens is “in der welt sein” en aldus self vir sy heil op aarde verantwoordelik.

Volgens B.J. van der Walt verskyn meeste literatuur aangaande die sekularisme eers in die helfte van die vorige eeu. Dit is egter reeds in 1928, met die Wêreldsendingkonferensie in Jerusalem, dat sekularisme as die enkel grootste stille vyand van die Christendom verklaar is.

In Suid-Afrika was die sekularisme, naas die oorheersende fundamentalisme, altyd onder die Afrikaanssprekendes sluimerend teenwoordig.  Ná die ontstating in 1994 en die val en latere ontbinding van die Nasionale Party, het ʼn jarelange verhouding tussen Staat en Kerk tot ʼn einde gekom. ʼn Totale Nasionaal-Afrikaans-Christelike struktuur het feitlik oornag verkrummel. Die vastigheid wat deur kerk, politiek en godsdiens in die patriargale apartheidsbedeling voorsien is, het verdwyn. Almal voel herderloos, verneuk en ontnugter.  Grootskaalse politieke, godsdiens en kerk kritiek neem veelvoudig, veral ná hierdie periode, toe.

Dit sou te simplisties wees om die oplewing van sekularisme in Suid-Afrika slegs voor die deur van die gebeure na 1994 te lê.  Ons weet dat hierdie verskynsel hom ook, om vele ander godsdienstige, kerklike en sosiale redes, hier ter lande asook wêreldwyd, as aanhoudende proses, voordoen.  Wat ek egter sê is dat veral die benarde posisie van kerke in Suid-Afrika, verder aangevuur en gekompliseer is deur die politiek-staatkundige vervreemding na 1994.

Die susterkerke het hul vanselfsprekende bevoorregte sosiale en ondersteunende posisie van ʼn staat- en politieke ideologie verloor en is sodoende stadig maar seker ook sy lidmate, deur sy eertydse voedingsbron van Christelike Nasionale Onderwys, kwyt.

Mense staan nou skepties teenoor die ou dissiplinêre Staat/Kerk-benadering en daarmee saam ook spesifiek teenoor die NG Kerk.  Die legitimiteit van die NG Kerk, met al sy bagasie van die verlede asook al die aanpassings in kerk beleid om hul eie politieke bas te probeer red is nog steeds, deur die huidige owerheid, onder groot verdenking.

Die susterkerke staan, wat hul aansien betref, as kaartehuise wagtende op totale ineenstorting of totale hervorming. Ook ander instellings wat die Afrikaner-establishment na 1948 in stand moes hou, is die een na die ander gekonfronteer met die keuse om te vernuwe of te verdwyn.

Die beskermde heenkome wat lidmate onder die ou bedeling polities, kerklik en ekonomies ervaar het, is weg.  Lidmate van ons kerke is nou ontnugter en onseker en spat uitmekaar.  Hulle sluit by ʼn verskeidenheid ander kerklike denominasies aan of raak totaal afvallig van enige kerklike aktiwiteit.  Onseker lidmate bly nog aan – of besluit nog.  Kerksake word nou ernstig heroorweeg.

Vir veral die NG Kerk het benoude oomblikke skielik aangebreek.  Sy magtigste wapen, naamlik sy getalle, het nou met tot 100 000 lidmate sedert 1996 afgeneem.  Voorwaar ʼn krisis.  Een debat volg op die ander: Skrifgesag en -vertolking; seksualiteit; kerkvereniging; hoe die Bybel vandag gelees moet word en die moontlike herstel van die verhouding tussen Afrikaner kerk en die heersende staatsorde.

In die Noorde met sy groot getalle teoloë vlam jarelange debatte, rondom ʼn moontlike nuwe wyse waarop die Bybel gelees en vertolk moet word, op – ook ʼn nuwe wyse waarop sy inhoud aangebied moet word.  In die Suide met sy komplekse wit- en bruin verhoudinge gaan dit hoofsaaklik oor kerkvereniging.

Het hierdie kerklike binnegevegte mense verder verwar? – en sou mens kon beweer dat ons susterkerke hierdeur self ook vir die grootskaalse sekularisme en uittog van sy lidmate uit die georganiseerde Afrikaner kerke in Suid-Afrika verantwoordelik kon wees?

Tydens persoonlike- en e-pos gesprekke met mense wat die kerk verlaat het, het talle “ander” redes vir kerkverlating en sekularisme na vore gekom. Ek noem enkele hiervan:

Die voorskriftelike lewenspatroon wat Christene, sonder goeie rede, moet volg.  Soos een persoon opgemerk het; Hy sien beslis nie kans om meer onder die reëls van 2000 jaar gelede te leef nie.

  1. Die inligting revolusie wat meebring dat lidmate makliker inligting kan bekom wat nie noodwendig met kerkleer saamstem nie.
  2. Die binnegevegte van predikante oor aspekte soos kerkeenheid, die vrou in die amp, skeppingsleer, maagdelike geboorte, opstanding ens.
  3. Die verkiesing van ʼn gesin- Sondag eerder as ʼn kerk- Sondag. Dit het skielik nie meer belangrik geword om kerk toe te gaan nie. Mense spandeer liewer hul Sondag by hulle gesinne. Een persoon merk op: “Ek slaap liewer by die huis!”.
  4. Nuwe kerk gewoontes laat lidmate nie meer tuis voel nie. Byvoorbeeld die toenemende Emosionele- en Charismatiese kerkdienste. Veral by die NG-kerke.
  5. Persoonlike sienings aangaande die Godheid wat nie strook met die siening van predikante en die massa nie.
  6. Verkiesing van privaatheid van geloofsdenke en die stigting van informele huiskerke.
  7. Ontnugtering in tye van verlies – siekte/dood/lyding. Kerk/geloof/gebed bring nie regtig enige oplossings en vertroosting nie.
  8. Kundige mense aanvaar nie meer die status of opinie van predikante nie. Sommige predikante kom selfs oningelig of oneerlik voor.
  9. Sommiges meen dat die kerk, met sy besorgdheid oor sy voortbestaan, sy werklike doel en funksie vergeet het.

As ons wêreldwyd kyk: watter aspekte het, en gee steeds aanleiding tot sekularisme en kerk verlating?

Ongeloof omdat daar nie ʼn universele godsdiens en geloof is nie.

Volgens David B. Barrett se gereelde wêreldwye opnames aangaande godsdiens groepe en soos gepubliseer word in Encyclopedia Britannica asook in die World Christian Encyclopedia, was daar met ʼn skatting in 2005 reeds nagenoeg 4300 verskillende en uiteenlopende geloof groepe geïdentifiseer. Elkeen met sy eie god of gode, dogma en rituele. Sektariese gelowe, gevorm uit genoemde 4300 groepe, tel nagenoeg 40000. ʼn Groter getal verskillende denominasies wat gevorm word uit die hoof-groepering van godsdienste vermeerder amper op ʼn daaglikse grondslag.

Alhoewel ons daarvan bewus is dat dit onmoontlik is om die getalle van die onderskeie geloof groepe van die wêreld akkuraat te kan bepaal, is die statistiek wat  Barrett in hierdie verband aantoon, tog interessant.  Hy gee die volgende benaderde persentasies: Islam (Shiite, Sunni) 21% Hindoeïsme 14% Buddisme 6% Chinees- tradisioneel 6% Animisme 6% nie-godsdienstig (ateïsties, agnosties, humanisties, sekularisties ens.) 16% Judaïsme 0.64% en Sikkisme 0.36%.  Die grootste groep is die Christendom 31% met ook die grootste mate van verdeeldheid onder groepe en denominasies. Hierdie groepe bring mee dat daar volgens Kenneth Humphreys in 2005 meer as 700 aangepaste Bybels in omloop was – uitsluitlik met die doel om ʼn verskeidenheid eie Christelike agendas te pas. Groepe waarna verwys word sluit in die hoofstroom Christene soos die Katolieke, Protestante en Anglikane tot Kwakers, Jehova getuies en selfs die Christen-slanghanteerders en -gifdrinkers. Tussen hierdie pole bestaan nog honderde ander onafhanklike en andersdenkende Christen groepe.

Die feit dat derduisende gelowe verskillende en uiteenlopende dinge glo en ook eie dogmas aanhang, verseker ons dat al hierdie gelowe, uitgangspunte en soms radikale gedrag tog nie almal “reg” of “waar” of “heilig” kan wees nie! Talle, indien nie alle gelowe nie, glo dus in hoogs aanvegbare ideologieë (verouderde mitologie en dogma) wat met die jare as letterlik vertolk is.

Dit is dan ook geen wonder nie dat die Fransman Baron d’Holbach reeds in 1772 tereg vra: Indien daar dan Een Almagtige en Universele God bestaan, waarom is daar dan nie Een Universele Godsdiens en geloof nie?

Ons leer verder van Barrett se persentasies dat elke geloofsgroep absoluut daarvan oortuig is dat hulle alleen die Goddelike “waarheid” in pag het en dat hulle, in die meeste gevalle, al die ander geloofsgemeenskappe hel toe mag stuur. Só sou die Christendom 70% en Islam 80% van alle ander geloofsgroepe die ewige verdoemenis oplê.

Die agterdog wat gode en godsdiens mitologie skep

Meer as 2400 jaar gelede is Sokrates, die klassieke Griekse filosoof, ter dood veroordeel omdat hy nie in die gode van die staat geglo het nie, en omdat hy die jeug sou aanmoedig om die geloof van die dag te bevraagteken. Hy is gedwing om gif te drink.

Vandag weet ons niks meer van dié gode waarvoor Sokrates vermoor is nie.  Hulle bestaan slegs as vae mitologie.

Die fabrisering van gode het egter nie opgehou nie. Grieke, Egiptenare, Moslems, Christene, Nore, Hindoe en Jode.  Gode en nogmaals meer gode.  Niks verander in die aanpak van godsdienste nie.  Slegs die name en getalle van die gode het verander!

Geïnspireer deur die navorsing van Godfrey Higgins (1772-1833) en Gerald Massey (1828-1907) voer Alvin Boyd Kuhn (1880-1963), in verdere navorsing aan, dat die Bybel se oorsprong te danke is aan die mitologie van talle ander paganistiese godsdienste en dat die oorgrote gedeelte van die Christen geskiedenis in die Egiptiese mitologie nagespoor kan word.  Hy voer ook verder aan dat die inhoud van die Bybel simbolies van aard is en geensins werklike gebeure beskryf nie.  Volgens hom het die letterlike interpretasie van die Bybel-simboliek in die loop van die derde eeu begin en word tot vandag as “waarheid” voorgehou.

Kyk ons na die Wetenskap, sien ons vooruitgang.  Ou idees en tegnologie word voortdurend vervang met nuwes.  Toe die mensdom byvoorbeeld ontdek het dat die aarde rond is, het hy die plat-aarde-teorie weggegooi.  Meeste godsdienste hou egter, onverbiddelik vas aan hul geloofsperspektief van duisende jare gelede.

  1. Landman skryf:

“Teologie in Suid-Afrika is ʼn “non-event” Hier mag teologie nie gebeur nie. Teologie is die enigste wetenskap in die land wat nie mag ontwikkel nie. Dit mag nie nuwe insigte ontdek of nuwe interpretasies op die tafel sit nie.”

Joseph Campbell (1904-1987) maak dit sy lewenstaak om navorsing te doen in die vergelykende mitologie soos dit manifesteer in die groot verskeidenheid godsdienste van die wêreld. Sy navorsing word vasgevang in sy boek; The Masks of God. Hy beskryf hoe elke geloofsgroep ʼn eie “masker” van hul godsbeskouing dra. Hierdie maskers is onder andere saamgestel uit aspekte soos kultuur en groepsbelange, politiek, lewens- en wêreldbeskouing, individuele voorkeure en bygelowe.

ʼn Fundamentele siening van Campbell is dat die uitgangspunt van alle spiritualiteit ʼn soeke is na die onkenbare krag waaruit alle dinge ontstaan het, tans bestaan en waarna alles weer sal terugkeer. Saam met die brandende behoefte om kontak met die transendentale te maak, en veral sy vrees vir die onbekende, verlaat die mensdom hom op die mitologie (ʼn primitiewe verklaring van die onverklaarbare) en word ʼn verskeidenheid “stories” meermale metafories van geslag tot geslag oorgedra. Dele van hierdie vertellings word met tyd en tradisie aangeleer, verletterlik en as vaste geloof aanvaar en veral binne kultuurverband uitgeleef.

Gode, drake en hekse is dus hoofsaaklik antieke hersenskimme wat hul oorsprong in die onderontwikkelde verstand van barbare gekry het.  Oor die eeue heen het die mens ook sy gode voortdurend, volgens sy behoeftes, aangepas. Vir die hoof-gode is tempels gebou waarheen mense hul offers kon bring. Elke huisgesin het ook hul eie persoonlike god of gode gehad wat na persoonlike belange omgesien het. Talle metaforiese vertellings, oor hoe die skepping van die aarde en die mens plaasgevind het, was as waarheid in omloop.

Dink aan die Christene se aangepaste oorname van die baie bekende storie uit Mesopotamië (5000 VC) waar vertel word dat die gode van dié tyd ontevrede was met al die harde werk wat hulle moes doen. Hulle het na hulle hoofgod (Enki) gegaan en gevra dat hy liewer slawe vir die baie en harde werk moet voorsien. Hy het ingestem en het toe die mens (na die beeld van die gode) uit klei geskep en sy asem van lewe in hulle ingeblaas. Klink hierdie “inblaas” van asem, gemaak uit klei en geskape na die beeld van god dalk bekend?

Die gode An, Enlil en Enki is ook een van die ouere voorbeelde in die geskiedenis waar die sogenaamde drie-eenheid ter sprake kom.

J.J.  Penning skryf dat, alhoewel steeds meer en meer mense, deur navorsing, die herkoms van godsdienste en geloof-stories verstaan en veral die letterlike onmoontlikheid van hierdie stories insien, dien dit tog vir die massas as ʼn kruk om op te staan – ʼn manier om die werklikheid te ontsnap deur ontvlugting te soek in verbeelding en emosie.

Dit is vir meeste mense onaanvaarbaar dat hulle ʼn eenmalige, unieke en verganklike lewe het en in hul vrees vir die onbekende van die dood, verskans hulle hulself agter een of ander geloof en oortuiging waardeur vertroosting vir hul probleme en vrese gevind kan word.

Met meeste gelowe, identifiseer die individu hom/haar ook met ʼn bepaalde groep wat dieselfde glo en dieselfde kerkleer (dogma), sakramente en rituele beoefen. Binne groepsverband voel hulle veilig en waardeer hulle die belangstelling en ondersteuning van hul geloofsgroep veral in tye van onsekerheid.  Die gelowige voel ook dat sy besonderse geloof aan hom/haar die riglyne van sy/haar moraliteit, dissipline en “aanvaarbare” lewenshouding gee. Kry ook ʼn “lisensie” om ander te vermaan!

J.L. van der Walt beskryf die gevoel van vaste geloof as ingebed in ons diepste bewussyn. ʼn Aspek wat amper ʼn onlosmaaklike deel van ons menswees uitmaak. Die enigste manier waarop die legitimiteit van ons geloof-mitologie bevraagteken kan word, sou wees om dit die objek van doelbewuste, persoonlike ondersoek en navorsing te maak.

Mense is egter traag en uiters bang om tot hierdie stap oor te gaan en beskou ʼn eie geloofsondersoek as taboe, en veral as ʼn sonde van vertwyfeling. Só gesien, kan enige geloof gesien word as ʼn geestelike “toestand” waarby ʼn groot mate van instinktiewe, primitiewe en irrasionele gedrag by betrokke is.

Die baie bekende evangelis John Wesley (stigter van die Metodiste kerk) beskryf die handeling en rituele van veral die Charismatiese Christelike godsdienste as;

“a species of madness”

Individue is ook meermale, afhangende van hul unieke affektiewe lewe (gevoelslewe) teenoor hulle kognitiewe (verstandelike) ingesteldheid, meer geneig tot of vatbaar vir suggesties ten opsigte van geloofsake.  Hierdie toestand word binne groepsverband verder versterk. ʼn Sielkundige toestand wat ek sou kon beskryf as ʼn religieuse predisposisie.

Godsdienstige fundamentalisme as natuurlike uitvloeisel van die Modernisme

Die fundamentalisme as godsdienstigheid wil alle denke en handeling van sy lidmate beheer. Alles met reëls en regulasies vaslê en ook ander gelowiges onder dieselfde regulasies probeer bring. Hierdie rigiede uitgangspunt doen hom voor binne die Christendom, Judaïsme en Islam.

Die oorheersende denkwyse van die fundamentalis is dat daar ʼn sentrale heilige skrif is wat onfeilbaar is en altyd ʼn antwoord sal verskaf op menslike nood en probleme. ʼn Lewensoriëntasie word sodoende geskoei rondom die Bybel, Tora of Quran.

Ons beskik oor die enigste “ware” kerk en geloofsoortuiging (kerkisme). Ons is die aanhangers van die purisme: Glo en respondeer soos ons, of julle is onwelkom. Interpretasies van die heilige antieke boeke word wette. Ons is godsverknog, kultuur pessimisties en teken dus heftige beswaar aan teen enige vorm van vernuwing van ons geloof.  Die letterlike vertolking van ons geskrifte is ononderhandelbaar.

Die probleem met hierdie soort van fundamentalistiese uitgangspunte tot die godsdiens bring mee dat daar voor-wetenskaplik met leerinhoude omgegaan word.  Hier dink ek aan Dr.  Louw Alberts wat gedurende die EI (Evangeliese Inisiatief) in 2008 in Pretoria suggereer dat die maagdelike geboorte van Christus dalk ʼn Goddelike “kloning” sou kon wees!  Wat doen Alberts?  Hy knak, buig en breek die werklikheid om in sy eie Christelik-reformatoriese verwysingsraamwerk in te pas.  Vaste gelowe is dus, selfs vir gerespekteerde wetenskaplikes, nadelig vir die goeie funksionering van die verstand.

Hierdie lewensingesteldheid word veral deel in die opvoeding van ons Afrikaner kinders en word doelbewus uitgebou in huise, skole en universiteite.

Afrikaner- tersiêre instellings onderskryf ʼn voorgeskrewe Christelike wetenskaplike beleid en -filosofie.  Beleid soos die jare lange Christelike Hoër Onderwys-beleid (CHO) van die Potchefstroomse Universiteit en filosofie soos die “enigste” en aanbevole voorskriftelike filosofie van Herman Dooyeweerd (1894-1977).

Owerhede van universiteite skryf voor dat ʼn fundamentalistiese godsdienstige benadering deel moet wees van alle studente se studie en navorsing. Die sogenaamde Reformatoriese kennisleer word die resultaat hiervan.

Wanneer die filosoof Sue Blackmore, (Universiteit van Bristol) oor tersiêre opleiding skryf, sê sy: “Religious belief is inconsistent with reason and corrosive to the human mind – and I don’t want to live in a world where it is respected”. En beweer verder: Indien enigiemand hom die reg toe-eien om sonder rede of bewyse aan een of ander antieke boek te “glo”, sou hy/sy ook ontvanklik wees vir alle ander vorms van dogma, giere, dwaling of besoedelde idees. So ook, mense wat hul klakkeloos oorgee aan die gelowe en bygelowe wat hul opvoeders by hulle gelaat het, sal nooit werklike vryheid van denke hê nie. Hulle sal altyd ʼn gevangene van die onvoorspelbaarheid van geloof, bygeloof en dogma bly.

Die hele benadering tot veral Universiteits- opvoeding is om te leer hoe om vir jouself te dink, die waarheid te respekteer, teorieë te kritiseer en idees uit te ruil. Die Wetenskap voorsien die tegnologie en navorsing instrumente om onafhanklik te kan dink en ander se standpunte te evalueer. In hierdie situasie is geen ruimte vir vaste gelowe en vooropgestelde denkpatrone nie.

Die uitgangspunte van die modernisme teenoor die post-modernisme

Die post-modernisme word verstaan as ʼn stel kultuur perspektiewe wat ontstaan het in die tydperk van die “laat kapitalisme” (die fase na die tweede wêreldoorlog).

As uitgangspunt en logika gebruik die post-modernisme ʼn kritiese teorie by aspekte soos die literatuur, drama, argitektuur, joernalistiek, ontwerp, ekonomie, die reg en die godsdiens.

Die post-modernisme is ʼn internasionale “wegbreek” van die modernisme wat deur die fundamentalistiese uitgangspunte van die vorige tydperk gekenmerk is.  Waar die modernisme hoofsaaklik met beginsels soos identiteit, eenheid, outoriteit en sekerheid gewerk het, het die post-modernisme aandag begin gee aan verskille, pluraliteit en skeptisisme.

Dit gee veral met rigtings soos die filosofie en die godsdiens ruimte vir ʼn verskeidenheid oortuigings en menings.  Hierdie uitgangspunt wil dus nie alles beheer of definieer en voorskryf nie.

Die aard van geloof afvalligheid in ʼn tydperk van post-modernisme

Met geloof afvalligheid bedoel ek “sonder god”. Dié begrip sou ook verder uitgebrei kon word as die verwerping in die glo van alle bonatuurlike wesens en verskynsels wat algemeen met “gode” verbind sou kon word. Ongelowiges glo byvoorbeeld ook nie in ʼn hemel, hel, engele, heilige geeste, wonderwerke of lewe na die dood nie.

Omdat die woord ongelowigheid met “ateïsme” verbind word, is daar ʼn veelheid van nuanses in betekenis wat hierdie begrip kan aanneem. Dit word ʼn begrip van groot debatvoering. Praktiese ateïsme, waar die mens totaal goddeloos en onverskillig lewe, is hoofsaaklik verantwoordelik vir ʼn soeke na ʼn “sagter” term om teoretiese ateïsme (ʼn beredeneerde ontkenning van (ʼn) god(e) en bonatuurlike verskynsels) te beskryf.

Oor die afgelope dertig jaar kom daar dan vele ander terme na vore om meer spesifieke bedoelinge met die begrip, ateïsme, te omskryf.  Mense beskryf hul eie afvalligheid dan met begrippe soos; Vrydenker, Gnostikus, Agnostikus, Skeptikus, a-Christelik of a-Moslem ens.

Vir baie lank sien die ateïsme hulself as direkte opposisie van die teïsme.  Hierdie benadering bring mee dat die sekulêre gemeenskap baie stadig beweeg na gemeenskappe met ware sekulêre etiek en post-Christelikheid.

Deur ʼn studie van die werk van die Fransman Michel Onfray, kom ons onder die indruk van die talle strominge en benaderinge onder die hedendaagse sekulêre gemeenskap. As gevolg van ʼn gebrek aan spasie word slegs na ʼn klein aantal belangrike begrippe en ideologieë (uitgangspunte), almal wat met mekaar inter-verweef is, kortliks verwys:

Intellektuele sekularisme

Wetenskaplike vordering op bykans alle terreine, dwing die mens terug na die intellektualisme, rasionalisme en strukturalisme.  Hierdie benadering tot die godsdiens haal gewoonweg mitologiese- en godsdienstige inligting uitmekaar en gee nuwe betekenisse aan die “verborge strukture” daarvan.

Met die gevorderde inligting tot hul beskikking, ontstaan ʼn doelbewuste verstandelike dekonstruksie van byvoorbeeld aspekte soos ʼn ingeburgerde godsbegrip, kerklike dogma, asook godsdienstige gebruike en -rituele.

Die post-moderne intellektuele sekularisme raak dus bloot ontslae van gode, gelowe, bygelowe, bonatuurlike verskynsels, kerkisme, dogma, rituele en alle ander gebruike en handeling wat by enige religie betrokke mag wees.

Alhoewel die intellektuele sekularisme dramaties in hul geloofsaanpak van die Christendom verskil, bestaan daar geen verskil in hul waardesisteme nie. Beide se uitgangspunte ten opsigte van aspekte soos medemenslikheid, meelewing, vergifnis, vrygewendheid en alle ander optrede waarby menslikheid (“goddelike gedrag”) geopenbaar moet word, is presies dieselfde.

Die intellektuele sekularisme wil ook nie noodwendig ʼn naambordjie van sekularis, agnostikus of ateïs om sy nek dra nie. Hy sien homself bloot as opgevoede mens van die 21 ste eeu wat, omdat hy nie met die gelowe en ideologie van godsdienste saamstem nie, na post-godsdienstigheid strewe. Die mens is in staat om beheer oor sy eie moraliteit, optrede en gedrag uit te oefen. Hy het nie ʼn bonatuurlike wese nodig om hom hiermee by te staan nie.

Christelike sekularisme

Hierdie begrip kan na drie afsonderlike benaderings tot die Christelike godsdiens verwys:

  1. “Christelik” sonder God. Hierdie “Christen” glo geensins in enige god of bonatuurlike wesens en verskynsels nie. Onderskryf ook nie die kerkleer of gebruike van die kerk nie.  Hulle aanvaar wel die moraliteit van die Christelike geloof. Hierdie mense maak dus ‘n onderskeid tussen wat “goddelik” mag wees en dit wat kerkisties is.
  2. “Christelik” en wie nog steeds in God glo, maar die fee-verhaal elemente asook voorskriftelikheid en dogma uit hul Christenskap haal.
  3. “Christelik” sonder God en wie steeds met ʼn bepaalde Christen groep konformeer en wie self, om verskuilde redes, gereelde kerkbywoners is. Byvoorbeeld; Kerkbywoning om sosiale redes of omdat die res van my familie die kerk bywoon of vir die “voordele” wat kerkbywoning mag inhou.

Watter argumente gebruik die Christelike sekularisme vir sy ingesteldheid?

  1. Hulle beleef godsdiens slegs as ʼn spirituele ervaring.
  2. Daar bestaan nie ʼn “ander wêreld” as die materiële wêreld waarin hulle leef nie.
  3. Daar bestaan geen ander lewende wesens as slegs die lewe soos hulle dit op aarde ken nie.
  4. “Geloof” bestaan nie afsonderlik van die menslike verstand nie.
  5. “Geloof” is wat mense bedryf gedurende hul eie spirituele ervarings.
  6. “Geloof” verteenwoordig ʼn meelewende ingesteldheid teenoor lewe, die natuur en ander mense.

Wat is die voordele van die Christelike sekularisme?

  1. Die mens word gedwing om verantwoordelikheid vir sy optrede te aanvaar.
  2. Die mens word gesien as in staat om dinge vir homself te doen.
  3. Die mens hoef nie meer “moeilike” probleme te verduidelik wat met geloof in ʼn bonatuurlike wese vereenselwig word nie.
  4. Die mens is nie meer teen die vordering in die wetenskap gekant nie.

Die negatiewe of stille sekularisme

Die negatiewe sekularisme weerhou hulself van uitgesprokenheid aangaande die teïsme. Die handelinge en probleme van die godsdiens val totaal buite hul veld van belang.

Die positiewe of uitgesproke sekularisme 

Positiewe of uitgesproke sekularisme verdedig, net soos die teïsme, hul standpunte met al die oortuigings tot hul beskikking. Hierdie mense raak betrokke by die godsdiens debat.

Die post-moderne sekularisme

Die post-moderne sekularisme slaag ten volle in die verstandelike dekonstruksie van antieke gelowe en godsdienste asook in die her-formulering van ’n ander spiritualiteit en godsbegrip. Dit is nie ’n “nuwe” godsdiens nie! – Liewer ’n “nuwe” denkproses, ingesteldheid en gedrag. Hulle dink totaal verby die moontlikhede wat die Christendom aanbied. Hulle is dus post-Christelik.

Die post-moderne sekularis poog nie om kerke af te breek nie – eerder om iets anders op ʼn ander manier te bou. Poog ook om ʼn nuwe etiese en morele sisteem ten opsigte van die wêreld daar te stel. ʼn Pragmatiese sisteem tot voordeel van die mens op aarde en sy omgewing (natuur) – nie ʼn sisteem deur God en vir God nie.

Tom Harpur beskryf bostaande uitgangspunt kort en bondig in die volgende woorde: “Every religion whose ethical core is summed up by the word “compassion” or “loving-kindness” to all other creatures without exception has a vision of the truth and is a valid “way” to Transcendence.”

Richard Kearney gebruik die woorde “ana-theos” (God after God) om bogenoemde gedagte vir die 21ste eeu te vestig en skep die begrip “anatheism” (anateïsme) wat verwys na n “nuwe” kultuur perspektief, paradigma, gedrag, optrede, beweging of posisie tussen die teïsme en ateïsme vir dié dinge wat die mens as goddelik belewe en ervaar. ’n “Veranderde” of “aangepaste”  lewens- en wêreldbeskouing waar ’n goddelike lewensingesteldheid belangriker is as die aanbidding van antieke gode.

Goed en kwaad sal altyd daar wees om mee rekening te hou maar nie omdat hierdie twee dinge enigiets met godsdiens, geloof of nie-geloof te make het nie. Hierdie twee dinge het eerder te make met die daaglikse strewe om die beste moontlikhede vir die mensdom te verseker.

Sonder godsdiens, kerkisme en priesters kyk die mens verby die vuur van die hel en die liggies van die paradys. Daar is geen rede om ʼn ontologie van nadoodse beloning of straf aan te hang nie – aldus ʼn etiek sonder transendentale toestemming, vrees en skuldgevoelens.

Slot opmerkings.

Alhoewel mense al vir eeue godsdienste en kerkisme wantrou, is dit veral in die tydperk van die post-modernisme, gekombineer met tegnologiese vooruitgang en die gepaardgaande kennis ontploffing, wat meebring dat mense van die 21ste eeu, “anders” oor gode en wêreld-godsdienste dink.

Grootskaalse wantroue in die behoudende, voorskriftelike en dogmatiese optrede van godsdienste, maak dat veral die fundamentalisme onder groot verdenking is. Sekularisme, asook ʼn soeke na ʼn nuwe godsbegrip en spiritualiteit, is die direkte uitvloeisel hiervan.