• ’n Spektrum en definisies van godsbeelde (in die Christendom)

Die spektrum van godsbeelde kan aan die hand van ’n aantal definisies verduidelik word:

  • Teïsme is die oortuiging dat daar ’n persoonlike god(e) is; god is ’n nie-menslike bonatuurlike wese.
  • Ateïsme is die ontkenning dat daar so ’n wese bestaan of alternatiewelik, bevestig die nie-bestaan van gode.
  • Om die prentjie meer kleur te gee, ’n hele aantal vorme van teïsme kan geïdentifiseer word:
  • Deïsme: die oortuiging dat god/gode bestaan, maar nie met die werlikheid inmeng nie; dit staan buite die univers soos ’n horlosiemaker.
  • Panteïsme: alles is god.[1]
  • Politeïsme is die oortuiging dat daar meerdere gode bestaan.
  • Monoteïsme (monolatrie) beteken in praktyk eintlik monolatrie, die aanbidding van slegs een god eerder as die aanvaarding dat slegs een god bestaan. Monoteïsme kom in twee vorme voor:
  • Inklusiewe monoteïsme: alle godsdienste gaan in wese oor dieselfde god wat net onder verskillende name bekend staan.
  • Eksklusiewe monoteïsme is die siening dat daar net een god is en dat alle ander óf nie bestaan nie óf slegs afgode is.

Die naaste familielid aan ateïsme is agnostisisme, ’n term wat sê dit is nie moontlik om te weet of nie te weet of daar so iets soos gode bestaan nie.

Daar is ’n ander reaksie op teïsme, naamlik, a-teïsme, geskryf met ’n koppelteken. Dit beteken nie-teïsties; god bestaan en is daar, maar is nie ’n persoonlike wese nie.  Die bekenste instansie hiervan is, panenteïsme. Panenteïsme beteken “alles is in god”; god is meer as alles (dus, god is transendent) en tog is alles in god (immanent); god is hier en is tog meer as alles (Borg 1997:32).[2]

 

Een van die bekendste beskrywings van die panenteïstiese god is die van Spong:

“Thus my definition of a non-theistic God is this: God is Being—the reality underlying everything that is… If God is the Ground of Being, you worship this divine reality by having the courage to be all that you can be—your deepest, fullest self… This God is not a supernatural entity who rides into time and space to rescue the distressed. This God is the source of life, the source of love, the Ground of Being. The theistic God of yesteryear is a symbol for the essence, the being of life in which we share. God is life, we say, and we worship this God by living fully.” (Spong 2001:72–73).

 

Daar is ook nog wat mens kan noem nie-realistiese teïsme, of nie-realistiese (non-realist) godsdiens waar die idee van god en godsdiens versmelt. God is dit wat in godsdiens gebeur, naamlik die uitdrukking van hoop of die hoogste menslike ideale. Die Sea of Faith van Don Cupitt en Lloyd Geering is die beste voorbeeld.

“But the dominant philosophy of the Sea of Faith goes further than tracing the history of the self-evident. In non-realism it finds a position that denies the reality of the object that religion is focussed upon, be it God, an ancestral other world or realms variously populated with spirits, sprites and demons. As a result the words religion and God become effectively interchangeable; God, like religion is also a human creation” (Greenfield 2007:2).

 

Wanneer mense die hoogste ideale soos hoop en liefde nastreef, is hulle volgens die nie-realistiese siening besig met godsdiens en noem hulle dit god. 

  • Sewe opmerkings/ kritiese vrae oor die definisies en die debat

In ’n poging om panenteïsme beter te verstaan, will ek oor hierdie spektrum en definisies ’n aantal kritiese vrae vra en/of enkele kritiese opmerkinge maak. Eerder as om panenteïsme bloot te propageer, wil ek eerder hierdie debat problematiseer.

2.1 Elke teïs is eintlik ’n ateïst oor alle ander persoonlike gode, haar/sy eie uitgesluit.

Laat ek begin by die standaard beskuldiging (van monoteïste) teen ateïsme. Mense wat nie in hul monoteïstiese god glo nie, word uitgekryt as ateïste. Dié kritiek is agter slegs ’n uitdrukking van ’n voorkeur en nie van ’n beginsel nie. Soos Dawkins dit gestel het:

“I have found it an amusing strategy, when asked whether I am an atheist, to point out that the questioner is also an atheist when considering Zeus, Apollo, Amon Ra, Mithras, Baal, Thor, Wotan, the Golden Calf, and the Flying Spaghetti Monster. I just go one god further” (Dawkins 2006:53).

 

Kritiek teen ateïsme is dus eintlik net ’n bevestiging twee belangrike aspekte:

  • Die meeste mense wend in elk geval die kriterium van die “rede” en “bewyse” aan om oor of van (ander) gode te praat; die meeste monoteïste is in feite ateïste oor alle ander gode.
  • Die aanspraak van die eie god as bo alle ander verhewe, berus soos alle ander godsdienste, op ervaring en oorgelewerde geloof as basis of bewys.

2.2 Is agnostisisme nie maar net die ateïsme van diegene wat te bang is om te ontken dat daar so iets soos gode is nie?

Dawkins (sien 2006:51–53) verwys na die gelykenis wat Bertrant Russel gebruik het om die saak te verduidelik: daar is ’n teepot wat in ’n wentelbaan om die son beweeg maar is te klein om selfs met kragtige teleskope raak gesien te word. Die bestaan daarvan word in baie ou boeke getuig. Aangesien niemand kan bewys dat dit nie bestaan nie, beteken dit dat ons sal toegee dat ons eintlik net nie verseker weet of dit bestaan of nie bestaan nie. Dus, teepot: agnostisisme of sal ons sê, nee dit bestaan waarskynlik nie: ateepotisme? Redelike denke sal ons waarskynlik daartoe bring om te sê daar is nie so iets nie (ateepotisme).

Op die spektrum van teïsme tot agnostisisme tot ateïsme speel bewyse ’n belangrike rol en word dikwels ingespan teen teïsme. Maar wat sal gebeur as dit teen die ander godsbeelde gebruik word?

2.3 Bogenoemde spektrum van godsbeelde is ’n moderne soeke daarna om godsdienstig te wees

Dit is belangrik om te besef dat byvoorbeeld Spong se uitdrukking van panenteïsme is sý antwoord op die soeke na ’n kontemporêre geloof en nie die gevolg van wetenskaplike studie van godsdiens in die algemeen of die Christendom in die besonder nie. Die wetenskaplike wêreldbeeld speel wel ’n rol hier, maar wat hier gebeur is nie die gevolg van wetenskaplike studie nie. Kom ek illustreer dit met ’n tabel:

Spong se alternatief op teïsme

–     Hoe om godsdienstig/gelowig te wees

–     Wetenskaplike wêreldbeeld

–     Alternatiewe godsbeeld: panenteïsme

 

Wetenskaplike ondersoek

–     Verstaan van godsdiens

–     Wetenskaplike studie

–     Kan geen wetenskaplike godsbeeld produseer nie

 

Die moderne wêreldbeeld laat dit vir sommige nie meer toe om op ’n teïstiese manier oor god te dink nie, en op grond van die veranderde wêreldbeeld kies hulle óf ateïsme óf a-teïsme (byvoorbeeld in die vorm van panenteïsme). Luister byvoorbeeld na Spong:

Yet I do not define God as a supernatural being. I do not believe in a deity who can help a nation win a war, intervene to cure a loved one’s sickness, allow a particular athletic team to defeat its opponents, or affect the weather for anyone’s benefit (Spong 2001:3).

 

Wat hierdie debat nie is nie, is ’n wetenskaplike ondersoek na die verskynsel godsdiens en spesifiek die Christelike godsdiens en op grond daarvan, is panenteïsme ontwikkel nie. Juis om hierdie redes kan en moet die aansprake wat oor en namens panenteïsme gemaak word, getoets word soos wat met teïsme gedoen word. (Ek sal netnou terugkeer na die vraag wat die wetenskaplike studie van godsdiens sou behels). My punt is dat panenteïsme is soos ateïsme ’n reaksie van iemand in ’n moderne wetenskaplike wêreldbeeld teen teïsme en nie die gevolg wetenskaplike studie van teïsme nie — en die twee is totaal verskillende goed.

 

Vervolgens wil ek twee van die aansprake wat deur panenteïsme gemaak word, ondersoek:

  • Teïsme is bloot ’n menslike konstruksie
  • Die teïstiese god bestaan nie regtig nie.

In die volgende drie opmerkings will ek hierdie twee aansprake toets.

2.4 Soos teïsme (en alle ander godsbeelde) berus panenteïsme op ervaringe en is die produkte van ’n sekere wêreldbeeld

Kyk net weer na byvoorbeeld Spong se beskrywing van ’n panenteïstiese god:

There is a reality we call God that is the source of the life we live, the power of the love we share, the Ground of Being that calls us to be all that we can be. I live today in the conviction that I am not separate from this God. I participate in that which is eternal, infinite, and beyond all boundaries. My being is expanded by this experience. Otherness confronts me. Trancendence calls me. God embraces me (Spong 2001:74).

 

Mens kan nie anders as om raak te sien nie dat dit maar net weer ’n uitdrukking is van ’n moderne, uitdyende kosmologie.

Voor-moderne wêreldbeeld

–     Drie verdieping kosmologie

–     Hïerargies:

–     Monargies

–     Manlik/patriargaal

Moderne wêreldbeeld

–      Moderne uitdyende kosmologie

–      Egalitaries

–      Demokraties

–     Geslagsloos/gender sensitief

 

Ek wil nog ’n uitspraak van Spong aanhaal waarin twee frases beklemtoon word: ’n god-werklikheid wat ervaar word.

“Immaturity does not disappear if we do not take hold of our lives and live them responsibly. God is not made real because we think it would be nice if it were so. God is real only if God is real. That is the God-reality which is now my experience”. (Spong 2001:76).

 

Hoekom is ’n panenteïstiese god wat gebaseer op jou diepe ervaringe, teenwoordig en werklik, maar kan ’n teïstiese god, of voorouers of een of ander natuurgees wat ook ervaar kan word, nie teenwoordig of werklik nie? Anders gestel, hoekom is die ervaring van ’n panenteïstiese god as die grond van jou bestaan meer tuis in ’n moderne wêreld as ’n teïsties ervaarde bonatuurlike wese? Nie net is alle godsbeelde aan wêreldbeelde gekoppel nie, maar alle godsbeelde is ewe werklik juis omdat hulle gebou word op ervaringe. Mense glo wat hulle ervaar en ervaar wat hulle glo. Dit is omdat alle godsbeelde (teïsties, panenteïsties, geeste, voorouers, noem maar op) menslike intensionele opjekte is. Die ervaring van gode is werklik, maar dit beteken nie dat die gode wat ervaar word, noodwendig hoef te bestaan nie.

2.5 As teïsme bloot ’n menslike konstruksie is, dan seker ook panenteïsme?

Een van die argumente teen teïsme is dat god bloot ’n menslike konstruksie is. Soos Spong dit verwoord:

“God, understood theistically, is thus quite clearly a human construct. Please let this fact register. The theistic definition of God is a human creation” (Spong 2001:45).

“Theism is a human description of God that has died. I seek to walk beyond the carnage of that description into a new sense of God—a God met not outside of life but at the very heart of life… When I stand in the presence of this God who inhabits the heart of life, I know just why I define myself as a joyful, passionate, convinced believer in the reality of God “(Spong 2001:77).

Mens kan maklik uit hierdie aanhalings die indruk kry dat teïsme bloot ’n menslike skepping is. Die volgende stap is dan om te beweer, dat hy nie regtig bestaan nie: die teïstiese god is nie werklik nie. Maar waarom is ’n panenteïstiese god wat bloot op diepe ervaringe berus, dan ’n werklikheid?

Is alle godsbeelde nie maar net menslike konstruksies nie? Ek weet hierdie opmerking word gemaak in die konteks van teïsmes wat aanspraak maak op openbaring en ’n goddelike wese wat van buite af kom. Maar kom ons sê dan maar eerder dat alle godsbeelde is duidelik maar net menslike skeppings eerder as om die indruk te wek slegs die teïstiese god is ’n menslike skepping. Dit is dan dat ons kan begin vra na die karakter van die gode en godsbeelde eerder as om te insinueer, dat net hierdie of daardie een ’n menslike konstruksie is. 

2.6 Alle godsbeelde, ’n teïstiese en ’n panenteïstiese god, is ewe werklik

Daar is ’n duidelike hïerargie of ontwikkeling te bespeur in die godsbeelde hierbo genoem:

–     Teïsme

–     God = persoon

–     Realisme

–     Panenteïsme

–     God = Grond van Bestaan

–     Kritiese realisme

–     Nie-realistiese teïsme

–     God = hoop/hoogste ideale

–     Nie-realisme

Dit is belangrik om te verstaan wat hier met kritiese realisme en nie/non-realisme bedoel word. Panenteïste sê nie dat god nie werklik is nie, god is werklik maar die idee van ’n bonatuurlike god-wese is nie werklik nie. In kort, slegs die teïstiese god is nie werklik nie. Mense wat in ’n wetenskaplike wêreldbeeld woon word dikwels in die kringe gesê, kan gewoon nie meer glo dat so ’n wese werklik is nie. Mense na Darwin en Einstein en noem maar op, kan nie meer in so ’n wese glo nie

Maar waarom kan die ervaring van die Grond van jou bestaan werklik wees maar jou ervaring van ’n persoonlike god nie? Kan die Grond van jou bestaan werklik wees omdat jy dit ervaar, maar iemand anders se ervaring van ’n persoonlike god kan nie werklik wees nie omdat jy nie kan dink dat daar so ’n god kan bestaan nie? Dus, ons moet bogenoemde voorstelling redigeer. Dit lyk eerder so:

–     Teïsme

–     God = persoon

–     Realisme

–     God is werklik: as bonatuurlike wese

–     Panenteïsme

–     God = Grond van Bestaan

–     Kritiese realisme

–     God is werklik: as grond van bestaan

–     Nie-realistiese teïsme

–     God = hoop/hoogste ideale

–     Nie-realisme

–     God is werklik: as hoop

 

Panenteïsme eis vir sigself ’n posisie op wat dit nie aan ander godsbeelde gun nie: ’n god wat werklik kan wees op grond van ervaringe. Daar is natuurlik ’n ander ironie in die panenteïstiese verwerping van teïsme. Binne die kringe is daar ’n openheid teenoor ander godsdienste en dikwels kry mens opmerkinge dat veel van ander godsdienstige tradisies geleer kan word. Maar die meeste ander godsdienste is ook teïsties (ten minste Judaïsme en Islam). Dit is klaarblyklik slegs die Christelike teïstiese god wat waardeloos is. As alle teïsmes eintlik maar ateïsties is (teenoor alle ander gode bahlawe die eie), is Christelike panenteïsme ook maar ateïsties teenoor teïsme (ander teïsmes uitgesluit?).

2.7 Sal panenteïsme die toetse wat vir teïsme aangelê word, slaag?

“There is a reality we call God that is the source of the life we live, the power of the love we share, the Ground of Being that calls us to be all that we can be. I live today in the conviction that I am not separate from this God. I participate in that which is eternal, infinite, and beyond all boundaries. My being is expanded by this experience. Otherness confronts me. Trancendence calls me. God embraces me.” (Spong 2001:74).

2.8 Opsomming

  • Panenteïsme is een van die reaksies op die wetenskaplike wêreld se verwerping van ’n teïstiese, goddelike wese is en dat dit god sien as die grond van bestaan. God is werklik, maar is nie meer ’n wese nie.
  • Dit lyk asof gode of godsbeelde almal ewe werklik is, omdat hulle die produk van bepaalde wêreldbeelde is en op ervaring berus wat binne die wêreldbeeld sin maak.
  • Hierdie strategie om te beweer ander godsbeelde is agterhaal, nutteloos, uitgedien of onwetenskaplik, het beperkinge.

Jy kan alles vergeet wat ek gesê het, maar as dit jou kan help om die volgende te begryp, het ek iets reggekry:

  • Mense dink nie hul god (alle gode) bestaan omdat hy/sy/dit bewys is nie.
  • Mense dink die hele pakkie van hul godsdiens is werklikm wat insluit:
    • Dat die god werklik is
    • Dat die werklike god ervaar word.

Ek wil nou terugstaan en baie kortliks ’n heel ander perspektief gee op die denke oor hierdie pakkies wat gode en godsbeelde insluit, naamlik, ’n wetenskaplike perspektief.

  • Die wetenskaplike studie van gode en godsbeelde

Ek het reeds daarop gewys dat teïsme deur panenteïsme vervang is in die proses om beter sin te maak in ’n wetenskaplike wêreldbeeld en kosmologie. Maar panenteïsme self is hoegenaamd nie die produk van wetenskaplike navorsing nie. Die wetenskappe gaan op ’n heel ander manier met gode en godsbeelde om en gaan nooit ’n meer wetenskaplike of moderne godsbeeld na vore bring nie. Die rede is eenvoudig omdat die wetenskap ons help om die werklikheid, insluitende die religieuse werklikheid, beter te verstaan. Dit is ’n manier van kyk na die werklikhede, insluitende menslike werklikhede wat, onder andere, insluit werklkhede waarin mense oortuigings deel waar gode ‘n deel van die oortuigings en gevolglik, van menslike ervaringe is. ’n Wetenskaplike perspektief verklaar nie gode en godsbeelde weg nie, maar soek na verklarings vir gode en godsbeelde as aspekte van die menslik-ervaarde wêreld. In die beter verstaan daarvan is daar inderdaad ’n groot bydrae te maak tot meer menslike en aanvaarbare (humane) godsbeelde en godsdiens.

Wetenskap is ’n sistematiese, kontroleerbare en verifieerbare ondersoek van die werklikheid. Wetenskappe wat godsdiens bestudeer is legio en ek gaan net ’n paar voorbeelde noem. Die wetenskaplike studie van aspekte van die Christelike godsdiens omsluit baie fasette. Vanaf die wetenskaplike studie van die dokumente tot die wetenskaplik historiese studie van die geskiedenis daarvan. Maar ek wil nie hierna verwys nie. Ek wil wys op die wetenskaplike studie van godsdiens of van godsbeelde vanuit ’n paar ander wetenskappe.

Ek kan begin met die kognitiewe en neurowetenskappe wat na vele fasette van godsdienstige ervaringe kyk, hetsy ekstatiese of meditatiewe ervaringe. Ekstatiese ervaringe kan insluit spreek in tale, visioene, ervaringe van besetenheid deur ’n bose of vriendelike gees, buite liggaamlike ervaringe, ens. Meditatiewe en eenheidservaringe is nie ekstaties nie, maar vind eerder plaas in toestande van algehele ontspanning of ontlediging en sluit in ervaringe van eenwording met alles. Studies kyk na wat gebeur in mens se brein tydens godsdienstige ervaringe soos meditasie, visioene en ander alternatiewe bewussyns ervaringe.

Vanuit hierdie soort studies word daar ook op ’n heel ander manier gekyk na die werklikheid van godsdiens. Alle gode en godsdienstige objekte kan gesien word as menslike intensionele objekte. Saam met Dennet (sien 2006:210–216) argumenteer ek dat gode intensionele werklikhede is wat bestaan op grond van menslike konvensies en instellings. Saam met al die dinge wat deur taal en kultuur geskep kan word wat mense se lewens rig, bepaal en as werklik ervaar word, is gode so ’n werklikheid. Dit is die goed wat werklik is en werklikheidebepalend is en hulle kan nie vernietig word deur slegs empiries te probeer bewys hulle bestaan nie regtig nie. Hulle kan net uit diens gestel word wanneer ’n kultuur dit nie meer bruikbaar of aanvaarbaar vind nie.

Godsdienstige ervaringe is inderdaad werklik omdat hulle ingeskryf is in ’n sirkel van betekenis waar oortuiginge in stand gehou word deur ervaringe en ervaringe geïnformeer word deur oortuiginge. Elkeen van die ervaringe as kultureel ingeklede ervaringe is eg menslik, heel natuurlik en baie werklik vir mense wat in die betrokke kultuur en godsdiens gesosialiseer is.

Daar is oorgenoeg studies wat vir ons aantoon hoedat godsdiens, godsdienstige rituele, godsdienstige genesings en godsdienstige ervaringe heeltemal verstaanbaar is in terme van ons evulusionêre ontwikkeling, biologiese en neurologiese komposisie (sien byvoorbeeld Boyer 2001). Maw, die meeste van die dinge is verstaanbaar as die gevolg van die soort evolusie, liggaam en breine wat ons het.

“As long as our brains are arranged the way they are, as long as our minds are capable of sensing this deeper reality, spirituality will continue to shape the human experience, and God, however we define that majestic, mysterious copncept, will not go away” Newberg, d’Aquili and Rause 2001:172.

Nie net ’n persoonlike bonatuurlike god nie, maar ook ’n panenteïstiese of elkeen van die honderde ander bonatuurlike wesens wat in die tientalle godsdienstige tradisies voorkom, kan aan die hand van ’n sogenaamde moderne wetenskaplike wêreldbeeld tot niet verklaar word. Maar die wetenskappe doen juis nie dit nie, maar verklaar en verstaan elkeen van hierdie as sosiale, kulturele en psigologiese werklikhede.

Die laaste vraag is dan: Watse bydra lewer so ’n verstaan van godsbeelde? Meer presies, Wat help dit in die vraag om panenteïsme as alternatief tot teïsme beter te situeer?

 

  • You will know them by their fruits not their roots: wat is die karakter van jou god(delike)?

Ek dink hierdie wetenskaplike ondersoek of perspektief het vir ten minste twee groepe mense iets te sê.

4.1       Ek wil by diegene begin wat buite enige godsdienstige tradisie staan of krities is oor godsdiens as sodanig. Ek dink dit word al moeiliker om soos Richard Dawkins (2006) en Sam Harris (2004) alle godsdiens as irrasioneel af te maak. Die komplekse aard van godsdiens as werklikheid skeppende en werklikheidservaarde realiteite kan gewoon nie meer deur sogenaamde wetenskaplike analise vernietig word nie.

Net so min as wat jy die kulturele waarde wat aan goud as edelmetaal geheg word kan vernietig deur chemiese analise, net so min kan jy met wetenskaplike argumente die kulturele werklikhede wat deur godsdiens in stand gehou word deur wetenskaplike analises vernietig. Maar deur ’n kulturele waardeverandering kan mens goud se status onmiddelik vernietig (byvoorbeeld, hipoteties indien ontdek sou word dat die dra van goud veroudering bevorder sou die kulturele status daarvan as edelmetaal onmiddelik vedwyn).

Maar die belangrike saak wat Dawkins en Harris ook aanspreek, naamlik, die effek en impak van godsdienstige oortuigings op ons wêreld, is van die uiterste belang vir elkeen mens, gelowige of nie. Ons kan nie anders as om uiters krities te wees teenoor godsdientige idees wat sigself aanbied as verklarings van en vir die natuurlike en menslike werklikhede nie. Godsdienste, indien hulle met respek wil voortgaan, sal hierdie les moet leer. En ons kan dit nie genoeg kere sê nie.

Tegelyk, in die lig van die werklikheidsvormende krag van gode en godsdiens kan ons ook nie meer vlieë vang oor watter god is nou eintlik werklik en watter nie. Ons moet ons eerder deurlopend besig hou met die vraag na die karakter van gode of godhede. In ’n wêreld waar godsienstige taal in staat is om ons tot op die rand van wêreldvernietiging te bring, moet een van die deurlopende vrae wees na die moraliteit van verskillende godsbeelde.

 

4.2       As mens op soek is na ’n alternatiewe godsbeeld is, of wil deelneem aan aan sinvolle godsdienstige aktiwiteite, is hierdie perspektief ook nie sonder waarde nie.  Eerstens kan en gaan dit nie bevestig dat panenteïsme beter as teïsme is nie. Beide is menslike skeppinge wat uitdrukking vind binne sekere wêreldbeelde en nou daaraan gekoppel is. Ek self twyfel nie dat dit veel meer sin maak om in ’n moderne wêreld ’n teïstiese met ’n panenteïstiese te vervang nie. Maar die keuse volg nie noodwendig nie.

Tweedens, die blote toe-eiening van ’n godsbeeld of godsdienstigheid hoef nie verwerp te word net omdat die wêreldbeeld verander het nie. Wetenskaplike studie het nie bewys dat gode nie bestaan nie.

If we are right, if religions and the literal gods they define are in fact interpretations of transcendent experience, then all interpretations of God are rooted, ultimately, in the same experience of transcendent reality. This hold true whether this ultimate reality actually exists, or is only a neurological percpetion generated by an unusual brain state. All religions, therefore, are kin. None of them can exclusively own the realist reality, but all of them, at their best, steer the heart and the mind in the right direction (Newberg, d’Aquili and Rause 2001:165)

 Maar ook diegene wat aktief godsdienstig is en wil wees, kan nie langer ontkom aan die vraag: wat is die karakter van jou god en dra die geloof en ervaringe by tot ’n beter of slegter samelewing.