1. Die verkeerde persoon vir die tema

Toe ek versoek is om te gesels oor die tema, hoe mense wat hulself breedweg met die Nuwe Hervorming Beweging identifiseer, hul standpunte op ’n oop en eerlike manier met ander mense kan deel sonder om verhoudinge te verwoes, het ek dadelik “ja” gesê. Ek het ook gesê, ek dink nie ek is die regte persoon om hieroor te praat nie. In my persoonlike lewe is daar ’n hele paar verwoeste verhoudings:

  • My een broer het alle kontak met my verbreek.
  • Binne die Hervormde Kerk waar ek vir omtrent dertig jaar deeltyds predikant was, is ek onoffisieel, so lyk dit my, as persona non grata Twee maal is ek byvoorbeeld toegang tot kansels in die Hervormde Kerk geweier. Die eerste keer was toe ’n oud-lidmaat, in Vrededorp, oorlede is. Haar familie wou volgens haar wense hê dat ek die diens lei; dit is geweier. Dit tweede geval was toe my skoonma oorlede is. Ook hier is besluit dat ek dit nie uit die Hervormde Kerk mag waarneem nie.[1]
  • Radio Sonder Grense het my ook klaarblyklik op hulle swartlys geplaas. Vanaf die middel tagtigerjare het ek gereeld godsdienstige uitsendings waargeneem, deelgeneem aan Oop Gesprek en in 1998 die tweede prys ontvang vir die beste godsdienstige uitsending. Ná die stigting van die NHN het dit oornag opgedroog. Slegs SAFM, SABC2 en DSTV vra my nog so af en toe vir ’n bydrae.

So, ja, ek is nie eintlik die regte persoon om te sê hoe dinge gedoen moet word nie. En ek deel nie hierdie pyn met julle om myself enigsens as a slagoffer voor te stel sodat julle my moet jammer kry nie. Ek is groot en volwasse genoeg om te verstaan dat die situasie ook deur my eie styl van dinge doen, ontwikkel het. Verder was ek nog altyd die teenoorgestelde van paranoïes: ek funksioneer asof almal deel is van ’n sameswering om my welsyn te bevorder! Een van my gunsteling liedjies is Edith Piaf se “Je ne regrette rien” — Ek is oor niks spyt nie! — waarmee ek steeds een honderd persent identifiseer. Vir elke deur wat vir my toegegaan het, het nuwes oopgegaan. Selfs al kon ek, sou ek nie vandag dinge in retrospek verander nie.

Met die tema, “Napraters en Vrydenkers” hoop ek om julle aan die gesels te kry oor sake soos:

  • In watter situasies gebeur dit dat ons ons idees met ander mense wil deel?
  • Is ons sieninge die moeite werd om lug te kry?
  • Hoe lyk ons onmiddellike teikengehoor en watter strategieë van kommunikasie kan moontlik gebruik word om ’n kommunikasie-kanaal oop te kry?

Kom ons bekyk hierdie drie vrae ’n bietjie van nader.

  1. Tipiese situasies

Een ding wil ek baie duidelik stel: ek het nie ’n vreeslike brandende begeerte om op ’n persoonlike vlak “sendingwerk” te doen nie. Dit gebeur egter dat mense my openlik vra oor my godsdienstige standpunte. Dan sal ek dit met graagte deel. Soms kan mens ook in ’n situasie belande waar iemand se optrede, só duidelik gegrond in tradisionele godsdienstige idees, ander mense skade doen. Moontlik sou dit ’n geleentheid wees om ’n bietjie lug te gee aan idees — om nou maar ’n simpel voorbeeld te noem: Sê nou maar iemand is krities beseer en ’n verantwoordelike persoon besluit om te bid eerder as om die ambulans te bel. Dan sou ek ingryp. Natuurlik, is daar ook die meer formele kanale soos die NHN se webwerf, of briewe in koerante. Volgens die beginsel van vryheid van spraak sou mens graag sulke geleenthede benut om ons standpunte so effektief moontlik te stel.

Maar is dit enigsens die moeite werd om idees te deel?

  1. Hoekom idees deel?

Een van die grootste uitdagings vir die een en twintigste eeu is hoe daar globaal groter samewerking tussen mense kan kom om ’n veranderende omgewing te kan hanteer: klimaatsverandering, natuurrampe, epidemies, en armoede. Die aardbewings in Japan verlede week met die gepaardgaande Tsoenami’s het my opnuut laat besef dat ’n tradisionele teologie gladnie opgewasse is om sulke fenomene te hanteer nie.[2] Ek wil dit illustreer met ’n liedjie wat Mario Lanza in die vyftiger jare gesing het. Dit was baie gewild en is op troues, begrafnisse, doopgeleenthede, mondigwordingvieringe, goue bruilofte, en verjaarsdae gesing. Miskien onthou jy nog die woorde. My oorlede ma het die plaat gereeld gespeel — nog op een van daardie ou grammofone waar jy gereeld ’n nuwe kopernaald moes insit as die oue stomp geword het: “I’ll walk with God.” Die lirieke (geskryf deur Paul F. Webster) is:

 

I’ll walk with God from this day on;

His helping hand I’ll lean upon.

This is my prayer, my humble plea,

May the Lord be ever with me.

There is no death, though eyes grow dim

There is no fear when I’m near to Him

I’ll lean on Him forever

And He’ll forsake me never.

He will not fail me

As long as my faith is strong,

Whatever road I may walk along.

I’ll walk with God, I’ll take His hand.

I’ll talk with God, He’ll understand.

I’ll pray to Him, each day to Him

And He’ll hear the words that I say.

His hand will guide my throne and rod

And I’ll never walk alone

While I walk with God.

 

Lanza se liedjie gee goed uitdrukking aan populêre idees oor godsdiens: As jy geloof het, sal God jou help; jou vrese besweer; jou die ewige lewe gee; jou gebede beantwoord; jou beskerm; jou lei. Dit is ’n meesleurende teologie, maar daar is vir my iets afwesig, iets verdraaids, iets oormatig simplisties.

Die woord “ek” of “my” verskyn negentien keer in die liedjie. Dit maak godsdiens nogal baie ego-sentries. Ons hoor alles van wat God vir my doen, maar niks wat ek vir God doen nie. Sou dit só populêr wees, as ons die liedjie oorskryf volgens die tema dat EK saam met ander mense wil loop; dat EK die swakkes sal ondersteun; sal help; klagtes en gebede sal aanhoor; daar wees vir iemand; die verlorenes sal lei; die moedeloses sal opwek tot ’n nuwe lewe? Ek dink nie só nie. Dit klink te veel na werk!

Lanza se liedjie, meen ek, is hoe meeste Afrikaanse mense godsdiens ervaar. Ekself het in my lewe geleer dat die regte antwoorde nie altyd die maklike antwoorde is nie; dat godsdienstige kitsoplossings geen langdurige waarde het nie; en dat kortpaaie dikwels ompaaie is, en dat die lewe, soos die beroemdste van alle bufferplakkers verklaar, onregverdig is.

Ek deel Sam Harris se standpunt dat sekere kulture meer aangepas is om mense se welsyn te bevorder as ander.[3] Verder lyk dit my is die hoofstroom Afrikaanse kultuur nie net ongesond nie, maar terminaal siek. Die onverdraagsaamheid wat ons só goed ken, die polarisering en afsplitsende groepvorming verhinder samewerking. Ons het net woorde, dialoog, gesprek om op een of ander manier samewerking te bevorder. Hoekom wil ons saamwerk? Hier stem ek met Richard Holloway saam dat dit die moeite werd is om die lewe in die algemeen te bevorder.[4] Dié kultuuraspekte wat destruktief is behoort op ’n verantwoordelike wyse aangespreek te word.

Ek dink nie dit is moontlik om ’n kritiese gesprek binne die Afrikaanse kerke aan die gang te kry nie. “Dubbelpraat” is ’n religieuse diskoers wat vervolmaak is om mense van teenoorgestelde standpunte te laat dink jy ondersteun altwee. Wanneer jy suksesvol van ’n kansel of ’n verhoog af wil praat kan jy dit nie waag om té ondermynend of krities te wees nie. Werklike dialoog is in elk geval nie moontlik nie. Die suksesvolste sprekers is hulle wat daarin slaag om die gehoor se idees terug te reflekteer en te versterk. Selfs openbare debatte soos dié waarin Sakkie, Pieter en ek deelgeneem het oor die “opstanding” teen Craig en Licona kan nie daarin slaag om mense enigsens van standpunt te laat verander nie. Ek dink ons het die argument gewen, maar die debat verloor — presies omdat deursnee mense op gesagsargumente reageer.

Ds. Albert Cruywagen (NG-Kerk Riebeeckpark) se uitlatings oor gebed is ’n goeie voorbeeld. Volgens Beeld van 28 Februarie 2011 het hy gesê gebed werk nie as dit oor goddellike ingryping gaan nie (byvoorbeeld dat God jou kinders op die pad moet bewaar; of dat God dit moet laat reën nie). Prof Piet Strauss, moderator van die Algemene Sinode het hierop gereageer (Beeld 2 Maart 2011). Volgens hom word nie alle gebede verhoor nie; God weet beter as ons. Dit is natuurlik nie akkuraat nie. As ons na duidelike voorbeelde kyk soos af ledemate, mense wat hulle oë verloor het, ’n rugmurg wat af is, of dat dooies opgewek moet word, beantwoord God NOOIT hierdie gebede nie. Jy kry nie dat party dooies weer lewendig word, of sommige geamputeerde ledemate weer teruggroei nie. En dan gaan Strauss voort om te sê dat God deur sy natuurwette regeer — dubbelpraat op sy beste en al verklaring wat ek kan vind vir hierdie teologiese kibbeling is om mense aan die slaap te sus; hulle moet tog net nie dink dat gebed in die vorm van Goddellike ingryping ’n illusie is nie!

Kom ons doen dus ’n bietjie kultuurkritiek. Hoe lyk die Afrikaanse kultuur breedweg? Nouja, ek weet dat julle mag verskil oor my analise. Ek praat egter uit persoonlike ervaring en moontlik sal jy dit deel of nie. Met my praatjie vanoggend wil ek eerder probeer om vry en oop gesprek te bevorder sodat ons ons sieninge op grond van rasionele argumente kan verdedig of aanpas. My hoofdoel is nie om jou van my standpunte te oorreed nie.

  1. ’n Siek Afrikaanse kultuur

Daar het ’n artikel van my in die nuutste Pomp verskyn (so terloops, Hendrik Venter, die redakteur, sê Pomp beteken nie wat dit beteken nie!) Dit was getiteld, “Die Wêreld Volgens Angus Buchan.” Hierin het ek Buchan se teologie ontleed. Hy maak, onder andere, die volgende stellings:

  • Dit is God se wil dat mans die leierskap in ’n huishouding moet waarneem (dus, patriargie is Godgegewe).
  • God gryp in ten gunste van gelowige mense. Die ergste droogte in ’n duisend jaar in Australië is gebreek nadat hy ’n byeenkoms daar toegespreek het (Februarie 2009). Die dag na sy saamtrek het dit begin reën.[5] Gebed het al siekte stres, depressie en die “siekte”(!) van homoseksualiteit genees.
  • Die Bybel is God se onfeilbare woord.

My verklaring vir die feit dat sy ondersteuners uit  bykans 100% Afrikaanse mans bestaan, is dat dit baie te doen het met die verlies aan politieke mag wat Afrikaanse mans as ontmannend ervaar. Dit wil voorkom asof dit veral Afrikaanse emigrante is wat sy saamtrek in Australië bygewoon het.

Willem van den Berg, een van die grootste “Sh*t Stirrers” wat ek ken, het die artikel vir van sy kennisse deurgegee, en hy het die volgende reaksie aan my gestuur. Dit is vertroulik gemerk; dus gaan ek nie die persoon identifiseer nie. Ek dink in elk geval hierdie brief verraai baie van die kenmerke van wat ons kan noem die hoofstroom of populêre Afrikaanse kultuur wat op ’n naïewe teologie (ek noem dit “boereteologie”) berus. Kom ons kyk hierna:

Die persoon wat die brief aan Willem gestuur het, sê hy ondersteun Mnr X, sy neef, se sieninge omdat dit baie “gematig” is. Hy beskou “lingse” sieninge as dié van mense met “onderontwikkelde breine.” Konswerwatiewes het goed ontwikkelde selfverdedigingsmeganismes, terwyl die met “lingse sienings” in ’n droomwêreld leef. My artikel is deel van die Antichris of Dier wat besig is met ’n geweldige groot aanslag teenoor die Christendom.[6]

Hieruit kan ons al klaar ’n interessante teologiese basis aflei, naamlik dat die geskiedenis gedetermineerd is en op ’n oorkoepelende meesterverhaal berus: die verdrukking in die eindtyd voor die wederkoms van Christus.

Mnr X begin sy brief deur te vra of ek “Mnr of Mev of Mej Wolmarans” is, want “Met ’n naam soos Hansie weet geen mens nie.” Deur spottenderwys vir my te vra of ek regtig ’n man is, word iets oor die skrywer verraai, iets wat mens byna jammer vir hom laat voel: dat hy self as kind uitsprake moes hoor soos “Jy huil soos ’n meisietjie” of “Jy is ’n sissie.” Is dit tipies van Afrikaanse mans dat die anima in Jung se taal deur ons manier van seuns grootmaak onderdruk word?

Die brief wemel verder van verwysings na die bo-natuurlike: die hel, demone, die direkte openbaring van die Heilige Gees (Angus Buchan), asook die valse profete van die eindtyd, die addergeslag (waarvan ek een is). Hy sê, “Jy het ‘n vieslike vuil ‘teologiese bek’ vol kritiek maar geen liefde nie.” My artikel is volgens hom ’n “stuk onsinnige ondeurdagte gemors.” Hy gaan voort:

Maar jy staan in die kraal van die modern wetenskaplike teoloe wat verwoes, verniel, dood en ongeloof saai so ver soos wat hulle loop. Die teologiese instansies is vol van hulle, die kansels word deur hulle beset, hiedie klomp egoistiese skuim wat dink hulle weet beter as God. Hulle wat hulleself buite die skepping plaas en dan vir almal vertel dat God lieg, dat Hy nie regtig bedoel wat Hy geskrywe het nie. Die spul wat Afrikanerwaardes verkrag. Die spul wat apartheid aan die hand van die Bybel verdedig en wanneer die politieke druk kom, gat omswaai en skielik dieselfde apartheid veroordeel aan die hand van die dieselfde(hervertaalde Bybel). Die spul wat vir almal wil vertel dat Bloedrivier God se fout was en nie God se ingryping nie!

Jou tipe teoloe vertel ons  moet die gelofte ignoreer, vrede maak met God se vyande, hulle voete soen en vir die res van ons lewe ons alies afwerk om hulle te voed, op te voed, te evangeliseer, op te hef. Dieselfde God? Nee, my God se Woord staan vas van geslag tot geslag en Hy is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie. Ek gaan nie die tekse kwoteer nie want ek vermoed jy en jou spul sal met blydskap ander betekenisse daaraan gee.[7]

Hy reken dat die plaasmoorde, misdaad en korrupte regering, en die ekonomiese diskriminasie teen Afrikaanse mense voor die voete van mense soos ek gelê moet word; ons het die nuwe regering “ingeskryf” en “ingepraat.” Angus Buchan verklaar die Bybel soos dit is. Mnr X se brief getuig van trauma en woede, ’n onvermoë om vrede te maak met die veranderde politieke situasie en daarin te funksioneer, en ’n poging om iemand daarvoor te blameer (sy brief strek veel wyer as my artikel).

Kom ons probeer dus met ’n paar penstrepe die tipiese populêre Afrikaanse kultuur skets onder die rubrieke van godsdiens, filosofie, waardes en leierskapstyle.

  1. ’n Tipering van Afrikaanse kultuur

5.1                   Godsdienstige Vertrekpunte

In hierdie afdeling gee ek ’n paar opposisies waar die eerste lid telkens Afrikaanse populêre kultuur verbeeld, en die tweede ’n alternatiewe moontlikheid:

  • Die Afrikaanse volk is deur God uitverkies[8] teenoor die prinsipiële gelykheid van alle mense.
  • Afrikaners is ’n ware Christelike minderheid teenoor Afrikaners as ’n misleide en onvolmaakte groepering.
  • Die mensdom is inherent sondig[9] teenoor daar is goed in almal van ons, ’n gedeelde medemenslikheid .
  • Afrikaners is slagoffers teenoor Afrikaners is die viktimiseerders. (Dit gee aanleiding tot die onderdrukking van ’n gebalanseerde historiese bewussyn).[10]
  • Historiese determinisme teenoor kontingensie. God beheer die geskiedenis. Ek het eenkeer ’n begrafnis gehou van ’n twaalfjarige meisie wat in ’n ongeluk dood is omdat haar pa dronk bestuur het. “Dit was haar tyd” het hy met groot oortuiging verklaar.
  • Bygeloof teenoor realisme. My ouma het geglo as jy jou hare en naels sny, moet jy dit verbrand; so-nie kan die huishulp byvoorbeeld dit in die hande kry, en jou daarmee toor. Bygeloof is ingeburger in ons kultuur.
  • Goddellike ingryping teenoor menslike verantwoordelikheid. Vroeër jare is biddae vir reën gehou, op grond van die uitgangspunt dat God daarop sal reageer. Die Slag van Bloedrivier word verklaar as die gevolg van ’n kontrak wat met God gesluit is.

Dit laat my dink aan die man wat dringend ’n parkeerplek moes kry. Hy was só desperaat dat hy begin bid het, “Here, gee my ’n parkeerplek en ek sal ophou rook; ek sal ophou drink; ek sal ophou om vrouens te jaag; ek sal elke Sondag kerk toe gaan.” Toe trek daar skielik ’n motor voor hom uit waar hy kan parkeer, en hy sê, “Here, moenie worry nie. Ek het sommer gou self een gekry!”

  • Apokaliptiese siening van die geskiedenis teenoor die hier en nou is waar ons almal se bestemming is.
  • Verlossende geweld (die leerstuk dat God Jesus martel en straf as soenverdienste vir ons sonde) teenoor geweld is destruktief.

 

  • Lewensfilosofie

 

  • Protestantse werksetiek teenoor kultuur van “entitlement”
  • Die doel heilig die middele[11] teenoor jy kan nie die waarheid deur leuens dien nie.

5.3                   Waardes

  • Respek vir gesag (kragdadige leierskap) teenoor kritiese verantwoordbaarheid.
  • Patriargale gemeenskap (pa se woord is wet; kinders moet gesien word en nie gehoor word nie), teenoor ’n oop, gelyke, en demokratiese huisgesin.
  • Motivering deur geweld (lyfstraf verheerlik) teenoor motivering deur rasionele debat/gesprek.
  • Die belang van die groep (konformisme) teenoor individuele regte.

5.4                   Leierskapsparadigma

  • Beheer en beveel teenoor dien en bevry.
  • Beheer oor vloei van inligting[12] teenoor vrye vloei van inligting.
  • Onbuigsaamheid teenoor buigsaamheid en aanpasbaarheid.
  • Sentrale gesag (rompslomp; non-toerekeningsvatbaarheid; ja-broers in hoë posisies) teenoor desentralisering.[13]
  • Outoritêre leierskap teenoor deelnemende leierskap.
  • Anti-intellektualisme teenoor intellektualisme.

In Oktober 2010 het Kyknet byvoorbeeld ’n program (Robinson Regstreeks) uitgesaai oor Pastoor Johan van Wyk van die Solid Rock Kerk wat beweer hy doen wonderwerke (o.a. dat “goudstof uit die lug op mense in sy dienste neerdaal” en dat hy al ’n persoon van VIGS deur gebed genees het.) In ’n kort insetsel het ek gesê daar is geen teoloë meer by goeie teologiese instansies wat die wonderwerke van die Bybel as histories lees nie. Op 26 Oktober 2010 verskyn daar ’n brief in die Burger, p. 9. Dit is van die Kerkraad, NG-Kerk Heideveld, in Port Elizabeth:

Ons wil getuig dat ons steeds wonderwerke van God ervaar en dat ons lidmate daarvan kan getuig – en dat ons glo in Sy Goddelike krag en almag. Jesaja 44:2 word aangehaal: “Ek weerlê die geleerde mense. Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.”

 

Daar is nie ’n woord oor die belaglike aansprake van die pastoor nie — net soos daar niks ampteliks van die kerke is oor Buchan se fantastiese uitsprake nie.

 

5.5                   Klassifikasie van Afrikanerkultuur

 

Navorsers klassifiseer verskillende kulture op ’n kontinuum van oop tot geslote; ek het dit nou in die titel van my praatjie weergegee as napraters en vrydenkers. Dit wil voorkom asof die populêre Afrikaanse kultuur die eienskappe van ’n geslote kultuur dra:

  • Die onkritiese aanvaarding van gesag teenoor
  • Afhanklikheid van leiers/ regering—teenoor selfgenoegsaamheid.
  • ’n Fatatlistiese siening van die geskiedenis en gebeure teenoor die toekoms is in my hande.
  • Oop vir misbruik van mag, nepotisme, korrupsie teenoor ingeboude balanse wat dit beheer;
  • Onvermoë om met verandering om te gaan teenoor hanteer uitdagings;
  • Gebrek aan toerekeningsvatbaarheid—teenoor toerekeningsvatbaarheid en deursigtigheid.
  • Kollektiwisties in organisasie teenoor sterker fokus op die individu.
  • Locus van gesag is ekstern (dus, meer onbetroubare individue) teenoor interne gesagslokus (meer betroubare individue).
  • Onvermoë om andersdenkendes te hanteer teenoor moedig kritiese denke aan.
  • Gesentraliseerde gesagstrukture teenoor gedesentraliseerde gesagstrukture.
  • Beloon middelmatigheid teenoor moedig uitnemendheid aan.
  • Outoritêre gesagsuitoefening teenoor demokratiese en deelnemende bestuurstyle.

 

Indien ons dus aanvaar dat die rede waarom ons lede is van die Nuwe Hervorming Netwerk, is omdat daar iets drasties fout is met waar ons vandaan kom, is die vraag hoe ons dit in gesprekke of openbare forums kan hanteer.

 

  1. Gespreksstragegieë

 

Ek glo dat die NHN die breë beginsels van ’n oop kultuur ondersteun; dat dit gesond is; en dat dit ’n waardige wyse is om die uitdagings van die 21e eeu, om lewe in al sy vorme te bevorder, die hoof te bied. As jy ’n Bybelversie daarvoor soek, wat van Johannes 1:1 “In die begin was daar gesprek; en die gesprek was God en in die volheid van die tyd het hierdie gesprek in ons liggame kom woon.”

 

Hoe hanteer ons dit in ons gesprekke?

  • Ons moet verstaan en onthou waar ons vandaan kom. Dit sal my miskien help om persoonlik minder skerp en meer empaties te wees.
  • Ons moet verstaan hoe mense se koppe werk; en hoekom hulle alternatiewe standpunte as bedreigend ervaar.
  • Neem kennis van die teenargumente en hanteer dit logies een vir een.
  • Gebruik die soort diskoers wat mense verstaan. Teen die Christelike mantra dat “Jesus vir ons sondes gesterf het” kan ons ’n paar tekste aanhaal wat sê, “dit is nie offers wat Ek (God) wil hê nie…”
  • Deur die bal te speel en nie die persoon nie; konsentreer op die feite. Ad hominem[14] argumente plaas mense op die verdediging.
  • Deur stories kan mens veral wys op die negatiewe effek van hierdie geslote kultuur; mense indentifiseer met stories. Italo Calvino, meen ek, pas dit uitstekend toe in sy Cosmicomics. Dit is ’n versameling kortverhale (oorspronklik in Italiaans in 1965 gepubliseer, en in 2009 deur Penguin in Engels uitgegee). Elke verhaal neem ’n wetenskaplike feit en bou ’n storie rondom dit. ’n Wese, genaamd Qfwfq is gewoonlik die verteller.

 

In All at One Point is die wetenskaplike waarheid dat alle materie, die hele skepping saam bestaan het in ’n enkele punt. “Naturally, we were all there—old Qfwfq said—where else could we have been? Nobody knew then that there could be space. Or time either: what use did we have for time, packed in there like sardines?”

 

Die storie lê klem op die eenheid wat tussen alle mense bestaan; ook tussen ons en alles wat nie-mens is. Dit, meen ek, is die soort inhoude wat die NHN moet oordra in die tye wat ons beleef.

 

  1. Gevolgtrekking

 

Ek het probeer om die vraag te beantwoord hoekom NHN-gesindes met die breë Afrikaanse kultuur in gesprek wil tree, omdat dit siek en ongesond is: die bygeloof, die onverdraagsaamheid, die ant-intellektualisme, die eis tot konformisme. Ek het ook ’n paar riglyne probeer gee hoe hierdie gesprek dalk meer suksesvol kan wees: dat ons met feite werk, die teenargumente ken, narratiewe strategieë gebruik, en van die bekende na die onbekende beweeg.

 

Ten slotte miskien: dalk is dit onvermydelik dat ons vanweë ons standpunte gemarginaliseer word; dat verhoudings verwoes word veral met dié wat naby ons is. Dit sal nie die eerste keer in die geskiedenis wees wat dit gebeur nie; ook nie laaste keer nie. Ons sal altyd die vreugde van nuwe vriendskappe en nuwe familiebande ervaar wat dalk baie meer duursaam en eg is as die wat verbreek is.

 

Ek wil afsluit met ’n aanhaling uit ’n ander boek van Calvino, vertaal as Invisible Cities. Die keiser, Khubla Khan ondervra Marco Polo oor die stede wat hy besoek het. Khubla Khan raak bedruk; al die stede lyk of hulle vir die hel, die inferno, bestem is.

 

And he said: “It is all useless, if the last landing place can only be the infernal city, and it is there that, in ever-narrowing circles, the current is drawing us.” And Polo said: “The inferno of the living is not something that will be; if there is one, it is what is already here, the inferno where we live every day, that we form by being together. There are two ways to escape suffering it. The first is easy for many: accept the inferno and become such a part of it that you can no longer see it. The second is risky and demands constant vigilance and apprehension; seek and learn to recognize who and what, in the midst of the inferno, are not inferno, then make them endure, give them space.”

[1]           Ek het die diens uiteindelik vanuit die St Columba’s gemeente van die Presbiteriaanse Kerk in Parkview waargeneem.

[2]           Baie Christene verklaar natuurrampe as God se straf, of God se manier om ons uit te toets. Ek kan my glad nie hiermee identifiseer nie. Daar is gewoon natuurlike oorsake vir sulke gebeure.

[3]           Harris, S. 2010. The Moral Landscape. How Science Can Determine Human Values. New York, London, Toronto, Sydney: The Free Press.

[4]           Holloway, R. 1999. Godless Morality. Keeping Religion out of Ethics. Edinburgh: Canongate.

[5]           Mens sou kon argumenteer dat Buchan en sy groep gelowiges dit ’n bietjie oordoen het, want dit het nie ophou reën nie!

[6]           Sien Openbaring 13.

[7]           Die aanhaling is direk ge-“copy” en ge-“paste.”

[8]           Die sterk druk onder Afrikaanse mense tot konformisme en ’n sterk stamverbondenheid, word deur hierdie proposisie verklaar.

[9]           My ervaring van Afrikaanse bestuurstyle (veral in die ou bedeling) was: jy moet polisiemanne oor polisiemanne aanstel; dinge moet oormatig gereguleer word; daar is wantroue in deregulering. In die Hervormde Kerk is gemeentes byvoorbeeld net toegelaat om die liedere te sing uit amptelike liedboek.

[10]          Die aanleidende oorsaak vir my bedanking uit die Hervormde Kerk was ’n memorandum wat ek aan die Algemene Kerkvergadering van 2002 voorgelê dat die kerk ’n skulbelydenis moet doen oor Apartheid. Tot op datum, sover my kennis strek, is ’n behoorlike skuldbelydenis deur die kerk waar die kerk verantwoordelikheid aanvaar vir die onreg wat teenoor swartmense gepleeg is, nog nie gedoen nie.

[11]          Ek het telkens by byvoorbeeld Algemene Kerkvergaderings insidente ervaar, soos byvoorbeeld dat ek ’n spreekbeurt kry; dat die voorsitter die vergadering vir ’n paar minute verdaag; dat direk ná die verdaging ’n doktorale student van die voorsitter ’n spreekbeurt kry, wat dan ’n persoonlike aanval op my doen. Hieruit het ek die afleiding gemaak dat dit nie om die beginsel gaan van deur eerlike debat die waarheid te dien nie; maar om deur ’n oneerlike vorm van manipulasie politieke agendas te dien.

[12]          Kerklike tydskrifte oor die algemeen is propagandisties van aard; “die ander kant van die saak” word gewoonlik nie toegelaat nie. Die beste teologiese debatte vind nie binne die amptelike kerklike tydskrifte plaas nie.

[13]          Al wat ek kan sê, die ANC het goed by die boere geleer, en daarop verbeter.

[14]          In my persoonlike ervaring van die kerk, is persoonlike aanvalle die vernaamste manier waarop kontensieuse verskille gedebatteer word. Volgens Beeld van 2 Maart is Ds Albert Cruywagen deur lesers uitgeskel as ’n valse profeet, ’n sot, ’n idioot, ’n skande vir die bediening, siek in die kop, en ’n stommerik. Wat ’n getuigskrif van Afrikaanse (gelowige) mense se vermoë om rasioneel te debatteer!