1          Inleiding

— NHN webblad

Op die NHN se webblad staan daar dat ons “oop religieuse gesprek” in Suid Afrika wil bevorder. Maar wat sou ’n “oop religieuse gesprek” wees en is dit hoegeneemd moontlik om so iets te hê? Wat is die voorwaardes vir “oop gesprek”? Het ons nege jaar na die stigting van die NHN iets daarvan gerealiseer? Leef ons wat ons preek en is ons webblad ‘n voorbeeld van ’n oop religieuse gesprek en het ons self ’n kultuur van “oop religieuse gesprek” gevestig?  En wat sou so ’n kultuuur wees?

 

— Neels, Sakkie en die webblaaie

Toe ek aanvanklik die onderwerp voorgestel het, het ek nie geweet dat Neels Jackson ’n artikel sou publiseer en Sakkie Spangenberg sy ses redes as reaksie daarop teen die NHN webmuur sou spyker en Abel Pienaar dieselfde op sy blog sou doen nie. Ek kon ook nie die aard van die reaksie op Beeld se webblad antisipeer nie. Maar noudat dit alles plaasgevind het, dankie vir die meevaller. Ek gaan dit as voorbeelde gebruik van wat oop religieuse gesprek is en nie is nie of kan of nie kan wees nie. Ek dink dat hierdie voorbeelde ons kan help om na te dink oor wat dit sou beteken om ’n oop religieuse gesprek in SA te voer.

 

2          Wat oop religieuse gesprek nie is nie

Ek wil begin by die reaksie op Beeld se webblad na hul plasing van Sakkie se reaksie op Neels se artikel ’n paar dae vroeër. (Daar is iets in dat Sakkie sy artikel op ons webblad aanbied as ’n reaksie op Neels maar ek kom daarop terug).

Opvallend is die persoonlike aard van meeste reaksies — óf teen óf vir Sakkie (en selfs Neels). Maar gesprek en debat gaan nie oor persone nie. Dit gaan nie daarom om vir of teen Sakkie en Adrio of Neels of wie ookal kies nie. Behalwe diegene wat teksversies aangehaal het as vermeende argument, was daar geen debat oor enige van die redes wat Sakkie aangevoer het nie. Ek dink nie oop gesprek beteken dat elke Jan rap en sy maat blindelings hul opinies, menings en gevoelens kan uitspreek nie. Dit is natuurlik die gevolg van die ontwikkeling in IT tegnologie. Sam Harris het iets hiervan mooi verwoord:

“On this front, the internet has simultaneously enabled two opposing influences on belief: on the one hand, it has reduced intellectual isolation by making it more difficult for people to remain ignorant of the diversity of opinion on any given subject. But it has also allowed bad ideas to flourish—as anyone with a computer and too much time on his hands can broadcast his point of view and, often enough, find an audience. So while knowledge is increasingly open source, ignorance, is too” (Harris, S. The moral landscape 2010:123).

Ten spyte van die moontlikhede wat die tegnologie ons bied, dink ek nie wat ons op die Beeld webblad gesien het, is wat oop religieuse gesprek is nie. Wat is dit dan?

 

3          Oop religieuse gesprek as die verspreiding van kennis/inligting

Op ’n baie elementêre vlak is oop gesprek die beskikbaarstel van en toegang tot inligting en kennis. Tydens ons gesprek aan die begin van die jaar het ek daarop gewys dat die NHN nege jaar gelede tot stand gekom het in ’n tyd en situasie waar die drie susterskerke se kwaai ooms die beskikbaarheid van inligting bepaal het. Die oogmerk was om nuwe inligting, ander stemme en alternatiewe perspektiewe beskikbaar te stel.

Die aard en styl van die NHN was dus ’n anti-beweging. Ek dink dit het ontstaan as ’n protes teen en dit het ons styl en inhoud bepaal. Dit het, myns insiens, egter gou oorgegaan in ’n disseminaring van kennis. Die talle aanbiedinge hier by Midrand is ’n aanduiding van die groot hoeveelheid kennis en inligting oor die Bybel en die Christendom wat beskikbaar gestel is. Deur die disseminasie van kennis en inligitng is en was die NHN baie suksesvol om oop religieuse gesprek te bevorder.

 

4          Oop religieuse gesprek as ’n poging om mekaar ernstig op te neem

Daar is ’n tweede sin waarin oop religieuse gesprek redelik voor die hand liggend is, en dit is om direk dit wat die ander ander aanbied ernstig te neem in gesprek.

 

— Debat met Sakkie?

Sakkie het sy stellings op ons eie webblad geplaas. En daar was stilte! Toe daar na ’n paar dae geen reaksie is nie, toe voeg hy self ’n paar motiverende opmerkings en aanhalings by. En daar was geen reaksie nie. Nie dat ek dink ons Sakkie moes ondersteun nie, maar dit was ’n geleentheid om oop gesprek met hom te voer, want ek dink elkeen van sy stellings roep om reaksie. Nie net omdat dit op ons webwerf is nie, maar ook omdat dit ’n geleentheid was om oop religieuse gesprek te beoefen.

Laat ek een voorbeeld gebruik om my punt te illustreer van wat ek dink moes gebeur het (en drie vingers wys na my as ek na julle wys). Sy derde stelling lees:

— Kerke misken die Joodsheid van Jesus en dat hy homself nie met die idee van ’n Drie-eenheid sou vereenselwig het nie. Jesus sou as Jood homself nooit aan Jahweh gelyk gestel het nie. Hy sou homself nooit as die letterlike seun van Jahweh voorgehou het nie.

Hierdie stelling vra vir gesprek en ek wil vier opmerkings maak om dit te illustreer:

— eerstens, histories weet ons dat ’n Jood, nie net enige Jood nie, maar een van slegs twee fariseërs uit die eerste eeu wie se name ons ken, naamlik, ’n ene Paulus, het gedink dat Jesus die seun van god is. Hy het Jesus seun van god en kurios (meester) genoem en elke ander term wat vir Jahwe gebruik is, op Jesus toegepas. Ten minste een Jood en waarskynlik al die Jode en Jodegenote vir wie hy geskryf het, het gedink Jesus is die seun van god/god.

— tweedens, die implisiete aanname van die stelling is dat Jode in Jesus se tyd monoteïste was. Dit is interessant dat Sakkie ’n blinde kol het vir hierdie teologiese of ideologie argument wat veral deur Protestante verkondig word (onder andere teen die RK se verering van Maria). Maar geen Jood in die 1e eeu was ’n monoteïs nie. Hulle was hoogstens monolatriste — dit is, mense wat gesê het jy kan net een god aanbid. Min, indien enige persoon, in die 1e eeu het die bestaan van talle gode ontken. Soos elke ander nasie het die Jode ’n panteon van gode gehad — hulle s’n was net baie hiërargies met Jahwe heelbo, maar sy engele en soms sy vrou êrens onder op die leer.

— ek dink Jesus het inderdaad gedink hy is die seun van god en het dit uitgedruk met twee terme wat die evangelies vul: seun van die mens en koningkryk van god. Daar staan nêrens geskryf dat Jesus gedink het hy is god of ’n middelaar na god toe nie (ten minste, dit is die argument), daarom was hy nie. Maar my punt hierbo is dat as ons sy lewe en woorde (seun van die mens en koningkryk van god tesame met ander soos “ek is die weg en die waarheid en die lewe”, “ek en die vader is een”, ens) interpreteer, lyk dit inderdaad asof hy so gedink het.

— my laaste opmerking hieroor: die implisiete aanname in Sakkie se argument, naamlik, die kerk kan nie sê Jesus is god of die seun van god nie, want hy het dit nie self gedoen nie, werk nie. Jahwe, Allah, die gans andere en Jesus is gode nie omdat hulle dit self verklaar het nie, maar omdat mense gesê het hulle is gode. Dit is wat godsdiens is. Dit is die data wat ons moet ernstig neem as ons oor hierdie of enige ander godsdiens wil praat.

Met die voorbeelde wil ek probeer sê wat ek dink op ons webblad moes gebeur het. Ons moes oop en ernstige debat gevoer het oor wat Sakkie gesê het. Stilswye is nie debat nie en stille ondersteuning van Sakkie se stellings ook nie (en die vingers wys na ons almal). Oop religieuse gesprek vir die NHN kan nie net wees om by wyse van spreke vir Adrio of die NGK te kritiseer nie.

 

— Debat met Neels?

Dit help natuurlik nie (en dit is deel van my interne oop gesprek) dat Sakkie self ook nie vir Neels ernstig opgeneem het nie. Hy bied sy stellings op ons webblad aan as reaksie op Neels, maar sonder enige gesprek oor wat Neels te sê het. Dit is so asof my stellings jou stellings kan troef. Die feit dat Sakkie doelbewus provokatiewe en gelade taal gebruik (insinuasies van mislei, onwaarhede verkondig, ens) dra ook nie juis by om gesprek te bevorder nie.

 

Ek wil nie beweer dat Sakkie nie die reg het om op die manier te reageer nie; ek gebruik dit as voorbeeld in my vraag na wat oop religieuse gesprek is of kan wees.

 

Laat ek net, in ’n poging om verder iets te sê/illustreer van oop gesprek, twee opmerkings maak oor Neels se artikel. Dit is ook belangrik vir wat ek later wil sê.

 

Die eerste is dat Neels se belydenis oor god en Jesus hom nie ’n verstokte fundamentalis maak nie, maar oop vir die lewe en die samelewing. Hierdie belydenis is vir hom die voertuig om medemenslikheid en liefde te bevorder. Hy is nie blind vir die foute nie, maar werk vir die goeie. Wat is fout daarmee as jou god en jou godsdiens van jou ’n beter mens maak en van die aarde ’n beter plek. Moet die vraag nie wees: maak godsdiens van jou ’n beter of slegter mens en bevorder of ondermyn jou geloofsoortuigings ’n meer humane wêreld nie? Neels se opmerking daag kritiek soos die van Sam Harris uit deur te sê dat godsdiens juis van hom ’n beter mens maak en van die wêreld ’n beter plek. As ons oop religieuse gesprek wil voer sal dit goed wees indien ons op ons webblad ook hierdie aspekte van sy argument ernstig bespreek. Is dit inderdaad so dat godsdiens, spesifiek die Christelike godsdiens, van die wêreld ’n beter plek maak?

 

— met wie praat jy waaroor en op watter manier?

Neels raak in sy artikel ’n ander punt aan wat ek dink in hierdie debat vreeslik belangrik is. Kom die kritiek van binne of van buite? Kritiseer jy omdat jy van die kerk/geloof/belydenis iets beter wil maak, of omdat jy dit van buite wil verwerp/afbreek/uitroei? Met ander woorde, die saak van oop religieuse gesprek is veel meer kompleks as die disseminasie van kennis of net om mekaar ernstig op te neem. Dit gaan ook oor die vraag: met wie praat jy waaroor en op watter manier? Hoe praat jy oor mense? Hoe praat jy met mense? Wat beteken dit om ’n ander te respekteer en wat is dit om ’n gespreksgenoot te wees?

 

Hoewel dit op die oog af na voor die hand liggend en eenvoudige vrae lyk, is dit alles behalwe die geval. Ek wil dit illustreer deur na drie verskillende scenarios te verwys waar daar oor godsdiens, met ’n spesifieke gehoor, met vaste oogmerke en op baie spesifieke maniere gepraat word. Oop religieuse gesprek in elkeen van hierdie scenarios is iets heeltemal anders en dit kan ons help om te vra hoe doen ons dit. Om dit nader huis toe te bring sal ek afsluit deur na die afgelope week se debat te verwys as voorbeeld.

 

5          Scenario 1: Die XXX, hard core of supersterk “weg-met-godsdiens” kritiek

Ek wil begin met die trippel X ouens — die New Atheists (Richard Dawkins, Sam Harris en Christopher Hitchens) wat die regte harde kritiek teen godsdiens verwoord. Met wie praat hulle waaroor en op watter manier?

Hulle praat nie met nie, maar oor godsdiens. Soos ek dit verstaan is hulle kritiek teen godsdiens tweeledig:

— teen godsdiens as instelling

Godsdienste is soos towery (witchcraft) in die Middeleeue; dit het geen bestaansreg nie en moet as sosiale instelling beveg en verwyder word. Dit is onmoontlik om al hulle argumente te lys, maar dit handel oor die effek van godsdiens op die samelewing of die impak daarvan op mense se lewens.

— teen godsdiens as geloofsoortuigings of geloofsinhoude

Die meeste godsdienstige oortuigings is vir hulle ewe absurd, irrasioneel en sonder enige basis in die werklikheid. Die maagdelike geboorte en opstanding van Jesus is natuurlik die hoof verdagtes in die Christendom, terwyl ander godsdienste volgens hulle hul eie absurde gelowe en oortuigings het wat ook onder die mes van hul rasionele oordeel deurloop.

Die trippel X kritici bied hulle kritiek vrylik aan as akademiese of intellektuele kritiek binne die samelewing. Juis daarom is dit een terrein vir ons om aan die gesprek deel te neem — nie om Dawkins of Harris as die nuwe bybel te verwelkom nie, maar ook self aan kritiek te onderwerp.

Ek wil net op een aspek wys, naamlik, hulle positivistiese waar-vals kritiek van godsdiens. Laat ek dit met ’n voorbeeld verduidelik: gestel hier stap iemand in en sê: ek is Napoleon Bonaparte. Waar/vals kritiek sal sê daar is genoeg historise en ander bewyse dat Napoleon lankal dood is en wat meer is, gister het hy vertel dat hy Adolf Hitler is. Dus, hy praat nonsens; dit is vals. Dit is presies hoe hulle met godsdienstige tekste omgaan.

Bedink hiernaas wat mens kan noem kontekstuele interpretasie of kritiek. Dit is juis sy aansprake dat hy Napoleon en Hitler is, asook die feit dat hy dalk breinskade opgedoen het, of skitsofrenies is, of onder die invloed van verowing is, of aan grootheidswaan lei, wat alles die data is wat verklaar moet word. Dit is ’n styl van kritiek wat nie in die positivistiese nie, maar in die hermeneutiese tradisie staan en probeer om die saak waaroor dit gaan met behulp van analitiese kategorieë binne konteks te verstaan.

Laat ek dit baie duidelik stel: die kontekstuele kritiek se antwoord op die waar-vals kritiek is nie, ja hy is Napoleon omdat hy so sê nie. Dit is, hoe verstaan ons die kompleksiteit van menslike kultuur, handelinge, persepsies, ens wat aanleiding gee tot sulke uitsprake. Kritiek is nie om bloot te verwerp nie, maar om deeglik onder die loep te neem. Die historiese oordeel of hy dalk Napoleon kan wees is maar een aspek van dié kritiek.

Ek noem hierdie voorbeeld, want dit is een van die redes waarom mense soos Dawkins en Harris nie juis ernstig opgeneem word binne godsdienswetenskaplike kringe nie. Daardie navorsingsagenda word lankal nie meer bepaal deur vrae of godsdiens reg of verkeerd is, bestaan of nie bestaan, rasioneel of nie is, maar worstel met die feit dat die meeste mense op die planeet godsdiens beoefen wat enorme effekte het. Hulle is lankal verby die vrae of mense glo omdat gode werklik bestaan. Gode is werklik omdat mense glo (en nie omdat hulle noodwendig bestaan nie) en die vrae is of ons dit beter kan begryp met byvoorbeeld neurologiese en sosiale en psigologiese en ander insigte.

Die literêre kritikus Terry Eagleton vergelyk Dawkins se kennis van godsdiens met iemand wat oor biologie wil praat maar slegs ’n Britse voëlgids tot sy/haar beskikking het. Nie net hulle waar-vals styl nie, maar ook hul siening van godsdiens en historiese prosesse moet ernstig bevra word en oop religieuse gesprek moet hieraan deelneem.

 

6          Scenario 2: XX of sekteagtige kritiek van godsdiens

Daar is ’n tweede soort kritiek wat nie van buite kom nie, maar op ’n manier van binne. Soos sektes wat met mekaar meeding om die ware en eintlike evangelie, gaan dit hier nie oor vrae soos óf daar gedoop moet word óf nie en of doop dalk gevaarlik kan wees of nie, maar of dit klein- of grootdoop is en met ’n koppie of ’n bad vol water. Sekteagtige kritiek is ’n interne debat oor die waarheid.

As voorbeeld wil ek verwys na Bob Funk en die Westar Instutuut waarvan die eerste program die Jesus Seminaar was wat ’n doelbewuste program gevolg het om die kerke in Amerika te korrigeer. Christene is verslaaf onder die kerk se idee van Jesus as die Christus en ly aan godsdienstige ongeletterdheid. Hy dink die Christendom kan deur historiese verstaan en kritiek vanuit ’n moderne wêreldbeeld gestroop word van omtrent alles waarin hulle vir 2000 jr glo en voortbestaan aan die hand van Jesus se wyshede.

Ek noem hierdie sektariese kritiek omdat dit in wese sê die kerk moet so lyk en nie sus nie. Hulle praat oor die godsdiens, indirek met hulle, maar met die oog om dit te hervorm. Die belangrikste insig oor hulle styl is dat hulle die meesters is van waar-vals kritiek in Jesus navorsing.

Die enigste ruimte waar die debat eintlik voltrek is, was in akademiese kringe. En vir meer as twee dekades het die Jesus Seminaar inderdaad heelwat akademiese debat gestimuleer en van tyd tot tyd openbare belangstelling gewek met media vertonings. Maar hierdie 200 jaar oue styl van kritiek het eintlik net die teenpool versterk van diegene wat wou bewys die meeste van wat in die evangelies oor Jesus geskryf is, is waar. Ek wonder net, ’n godsdiens bestaan by grasie van die aanbidding van hulle god, in hierdie geval noem hulle hom Jesus Christus. Hoe dink iemand dit kan voortbestaan sonder die god?

Is dit vir die NHN enige iets meer as ’n interessante debat om van kennis te neem?

 

7          Scenario 3: X of suikerlagie kritiek van godsdiens

Die derde soort kritiese gesprek oor godsdiens kom van diegene wat volledig binne staan, maar die grense so bietjie wil uitstoot. Hierdie gesprek het ’n spesifieke adres en meestal ook ’n gehoor, naamlik, hul eie kerkgemeenskap. Hier dink ek aan John Selby Spong en hier te lande Julian Müller.

Spong wil dalk verder gaan as Julian. God is vir hulle ’n werklikheid maar in ’n panenteïstiese sin en nie ’n teïstiese sin nie; die opstanding berus op ’n ervaring en Jesus se opgestane liggaam is ’n misterie wat nie deur liggaamlikheid ingeperk kan word nie; hul lewens van geloof is een wat pendel tussen sekerheid en twyfel. Hulle wil eintlik net ’n ander lagie suiker op die koekie hê en steeds in die pakkie bly.

In ’n sekere sin is buitestaanders uitgesluit van die gesprek en is dit ook irrelevant wat jy van hul verskille met die kerk dink. Mens sou kon sê dit is goed dat daar sulke verskille en debat daaroor is. Dit toon ten minste dat die kerk of ’n spesifieke kerk nie heeltemal verstok is nie en openbare debat toelaat.

Buitestaanders sou wel aan die gesprek kan deelneem en ten minste op twee gronde (en dit geld ook die voorafgaande kategorie). Wie geïnteresserd is in die onderwerp sou inhoudelik kan deelneem aan die debat, sê nou maar, oor die verstaan van Konstantyn se rol in die vorming van die kerk se beleidenisse. In daardie sin is dit ’n openbare terrein.

Tweedens sou mens ook kon vra na die soort van argumentasie wat gebruik word. Deelnemers aan ’n debat is dikwels so opgeneem deur die inhoud en veral om hul eie standpunt te verdedig, dat hulle geen idee het oor die aard van hul argumentvoering nie.

Neem die voorbeeld van panenteïsme wat teenoor teïsme verkondig word. ’n Panenteïstiese godsbeeld korreleer beter met “die werklikheid” word gesê en is meer aanvaarbaar binne ’n uitdyende kosmos. Maar as ’n teïstiese godsbeeld ’n menslike skepping is dan is ’n panenteïstiese ook mos net ’n menslike skepping? Dan het dit niks te doen met ’n korrelasie met die werklikheid nie, maar is dit ’n manier om die werklikheid te skep. Hoekom is ’n panenteïstiese god, of die groot niks of die groot alles as sodanig beter as die idee van ’n persoonlike god? Elkeen van hierdie godskonsepte is ewe werklik vir diegene wat dit glo en het ewe veel en ewe min kans om te bewys dat dit korreleer met “die werklikheid”. Indien een eties beter as ’n ander is dan is dit waarom dit beter is en nie omdat dit beter met “die werklikheid” korreleer nie.

Vanuit ’n kognitiewe en neurologiese perspektief is elkeen van die gode en godsoortuigings (selfs die spiritualiteit van “flow”) niks anders as breinprosesse nie. Hoekom kan mense nie ’n boom, gees of ’n persoonlike god in die ruimte as betekenisvol ervaar nie? Die suikerstrooiers self kan maar ophou met die pseudo-argumente en toegee ’n persoonlike god kan vir mense net so sinvol wees as ’n gees, ’n groot niks, of wat ookal. Vir diegene van ons wat buite die kring staan sou dit interessant kan wees om die aard van hul argumente te ontleed, maar kan min erg hê aan wie nou eintlik die debat wen.

 

8          Die NHN en oop religieuse gesprek?

Waar staan ons as NHN ten opsigte van oop religieuse gesprek? Met wie wil ons oor wat praat? Hoekom sal ons ’n mediaprogram hê om as NHN (of individue binne die NHN) deel te neem aan die publieke debat oor (die Christelike) godsdiens. Wat wil ons vir wie sê? Hierdie nadenke het my laat besef dat dit goed is vir die NHN om doelbewus hieroor te besin.

Ek het reeds gesê dat ek dink die NHN is suksesvol met kennisverspreiding. Dalk moet ons daaraan dink om doelbewus te fokus om ander ernstig op te neem sodat as daar ’n debat is, dat mense na ons webwerf toe kom om na goeie analises en kritiek te kyk. Dalk moet ons oop religieuse gesprek begin deur ernstig met mekaar te praat. Ons het steeds die anti- etiket en dit gaan nie verander as ons nie iets daaraan doen nie. Wat daarvan as ons webblad die eerste word wat gekenmerk word nie deur stellings en anti-kommentaar nie, maar een waar oop religieuse gesprek aktief beoefen word?

As voorbeeld van ’n interne oop gesprek wil ek afsluit met enkele opmerking oor Sakkie en Abel se bydraes die afglope week. Sakkie gee ses redes waarom hy nie meer in die hoofstroom Christelike kerk is nie en Abel verduidelik op sy blog waarom hy nie meer in die tradisionele kerk is nie. Ek wil dit egter doen teen die agtergrond van my eie verduideliking waarom ek nie meer deel van ’n kerk is nie.

Ek is nie meer deel van ’n kerk nie om dieselfde rede waarom ek nie lid is van ’n sinagoge of moskee of ’n natuurgroepie wat in die maanlig onder die sterre dans nie: geen georganiseerde godsdienstigheid het enige sin in my lewe nie. Ek is net so min ’n ateïs as wat ek ’n a-golfer is, want ek beskryf myself nie aan die hand van kategorieë wat vir ander mense belangrik is en sin maak nie. Dit beteken nie dat ek nie ook ’n teologie in die sin van ’n posisie oor wat van lewensbelang is (ultimate values), het nie.

Ek leef egter in ’n land wat deur die Christelike tradisie gedomineer word en in ’n wêreld waarin godsdienste een van die belangrikste sosiale kragte is en tussen mense op die planeet wat oorwegend godsdienstig is. Soos met misdaad wat vir my geen persoonlike sin het nie, het ek ’n kulturele, sosiale, politieke en intellektuele belang by godsdiens. Dit is vir my belangrik om die werking en historiese ontstaan daarvan te verstaan en deesdae veral die neurokognitiewe dinamika van godsdiens. Daarom dink ek gesprekke wat kennis genereer en kritiek wat na bogenoemde belange van godsdiens (in ons geval veral die Christelike godsdiens) kyk, is die moeite werd om bespreek te word.

Vir my is alle godsdienste ewe werklik vir diegene wat dit aanhang. Ek deel nie die sentiment dat ons respek moet hê vir alle ander godsdienste, maar nie vir teïste of mense wat Jesus as god beskou, beleef en bely nie. Die werklikheid van teistiese en panenteïatiese gode is presies dieselfde as die groot niks of die groot alles of die diep (of vlak) flow van jou persoonlike spiritualiteit. Soos met die Napoleon aanspraakmaker hierbo is elkeen van hierdie vir my die data, die werklikheid van godsdiens, wat ons moet aanvaar en respekteer en nie net waar-vals etikette gee nie. Respek beteken nie dat ek enige een van hulle letterlik hoef op te neem nie.

Teen die agtergrond en in die lig van bogenoemde bespreking, wil ek enkele opmerkings maak oor die aard en styl van Sakkie en Abel se bydraes die week. Daarmee wil ek hulle uitnooi/uitdaag tot oop religieuse gesprek.

Abel s’n lyk vir my na die dubbel X, die sekteargument: myne is beter as joune. Dit is verstaanbaar want ’n vorm van persoonlike spiritualiteit het vir hom die plek ingeneem van die tradisisionele Christendom. Vir hom is die stellings/verduideliking soort van ’n terreinafbakening. In terme van sy reaksie op Neels wonder mens net of dit nodig is om Neels s’n af te kraak. Abel self vind sin om vanuit sy eie tyd “oor God” te praat en hy verdedig mense van ander gelowe wat omgee, liefde, geregtigheid en versoening beleef in hulle godsdienste, se bestaansreg. Kom ons laat die vraag daar of hierdie gelowiges (die aanbidders van Zeus, Baal, Allah, hekse, voorouers, die groot niks, of klippe en stene), almal so verdraagsaam is. Ek lei uit sy pleidooi af dat die ander godsdienste asook die soort persoonlike spiritualiteit (met of sonder ’n panenteïstiese god) wat hy verkondig, inderdaad vir mense hierdie betekenis het. Hoekom kan al die soort gelowe vir mense goed wees, maar nie ouens wat glo Jesus is regtig god se seun nie? Hoekom kan al hierdie ander dinge vir mense sinvol wees maar nie mense wat dink Jesus het vir hulle sondes gesterf nie? As ’n godsdiens mense uitbuit, skade aandoen, ens dan is dit die probleem en nie die feit dat hulle in geeste, klippe of sonde glo nie.

Sakkie sê waar hy nie meer is nie, maar mens weet nie waarvoor hy staan nie. Dus, ek weet nie hoeveel X’e om hom te gee nie. Maar ek kan nie anders as om te wonder met wie wil hy oor wat praat nie. Hier is ’n voorbeeld. Toe ek in Sakkie se eerste stelling die vraag Jerusalem of Galilea lees (wat natuurlik nie na die wederkoms verwys nie, maar na die plek van die opstanding) en sy aanhalings van Weber oor of Adam en Eva nou regtig die eerste mense was, toe dink ek onwillekeurig aan Isak du Plessis se boekie, Nasaret of Egipte, wie is reg? Dit is ’n voortsetting van die waar-vals kritiek wat ook in die debat laasjaar oor die opstanding met Licona en Craig gevoer is. Hoe ver kan ons nog met daardie 200 jaar oue debat vorder? Dink weer aan my Napoleon voorbeeld en vra jouself af wat die waarde van daardie soort kritiek kan wees.

My tweede en laaste voorbeeld is een wat Sakkie en Abel deel, naamlik, dat die Christelike godsdiens mense in ’n drieverdieping wêreldbeeld gevange hou. In alle billikheid, daar is ander godsdiente met veel meer verdiepings wat bewoon word deur wesens soos geeste en demone en kragte van proporsionele dimensies. Is ’n drie- of ’n vier of enige verdieping wêreldbeeld binne ’n geloofsraamwerk as sodanig problematies? Wat is so skadelik aan die idee van ’n drieverdieping wêreldbeeld en wat is dit anders as al die ander voorkeure wat mense het oor klere, en kos en ander kulturele oortuigings of wêreldbeelde? Behalwe dat jy nie daarvan hou nie? Ek mag ook dink so ’n wêreldbeeld is stupid, maar ek dink dit ook van die eet van honde en slange. Maar is die oortuigings as sodanig ’n probleem, want as mens na ’n oorsig oor godsdienste kyk, is daar veel erger dinge waaraan mense glo.

Omdat ek nie weet hoeveel Xe om vir Sakkie te gee nie, wil ek ten laaste in die kritiese gesprek met hom ’n heel eenvoudige vraag vra. As die kerk nou hierdie ses redes oorweeg en hulle afsweer, sal hy dan teruggaan? Indien nie, is dit nie regtig die redes waarom jy uit die kerk uit is nie. Ek sê dit omdat ek hom wil uitdaag om te verklaar waaroor wil hy met wie praat met die oog op wat. En ek vra dit eintlik aan ekeen in die NHN, myself ingesluit, dat ek dink dit is uiters belangrik om te besin en vir onsself uit te klaar (debat te voer) oor hierdie vraag: as ons oor godsdiens besin, met wie wil ons oor wat praat met die oog op watter uitkomste?