Die mensdom sit elke jaar 26 000 miljoen ton koolstofdioksied in die lug deur die gebruik van fossielbrandstowwe, wat andersins in die aarde vasgevang sou bly. Wat moet die mens doen om die moontlike klimaatimpakte te verminder, of beter nog, te vermy?

Die eerste vraag is wat klimaatsverandering met die NHN uit te waai het. Ons noem in ons waardes dat “…ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons natuurlike omgewing. Ons streef daarna om met morele integriteit op te tree…”. En ons doelstellings sluit in “… om deur oop gesprek mense te ondersteun om vrede te hê met hulleself, akkommoderend met ander mense saam te leef, en verantwoordelik met hulle omgewing om te gaan” en “om gesprek met verskillende wetenskaplike dissiplines en kunsuitinge te inisieer…”. Dit is dus duidelik dat ons waardes die natuurlike omgewing insluit en verklaar waarom ons hierdie onderwerp vandag bespreek.

Een benadering tot die debat oor klimaatsverandering is uit die oogpunt van volhoubare ontwikkeling soos gedefinieer deur die Brundlandt (1989) definisie: “…meeting the needs of the present without compromising the ability of future generations to meet their own needs“. ‘n Gebalanseerde verhouding tussen omgewingsvolhoubaarheid, ekonomiese volhoubaarheid en sosiale volhoubaarheid is essensieel vir lang termyn volhoubaarheid, en die debat oor klimaatsverandering is een van die beste voorbeelde waar hierdie model tot die uiterste beproef word.

Die afgelope jaar het klimaatsverandering hoofstroom geword by Jan en alleman en elke dissipline het begin deelneem. Ekonome soos Stern bereken dat aksie om klimaatsverandering stop te sit, die mensdom sowat 1% (vandag) en 5% (vertraagde respons) van die wereldekonomie (GDP) gaan kos. Politici soos Gore het aandag getrek met sy film wat al $50m verdien het, en dit nogal vir ‘n dokumenter. Die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) se wetenskaplikes het ook toenemend konsensus dat die mensdom se invloed op die verhoogde konsentrasies van koolstofdioksied in die atmosfeer beduidend is. Die Kopenhagen konsensus, en die Millenium doelwitte wat uit die Wereldberaad van 2002 in Johannesburg gedefinieer is stem almal saam dat klimaatsverandering die grootste en duurste uitdaging is wat die wereld in die gesig staar, in vergelyking met talle ander uitdagings soos byvoorbeeld konflik, korrupsie, onderrig, oordraagbare siektes, migrasie, ondervoeding, sanitasie en water.

Die oorsake van klimaatsverandering word hoofsaaklik toegeskryf aan ses groenhuisgasse. Maar dit is veral koolstofdioksied, wat in die atmosfeer toegeneem het soos gemeet oor die afgelope 50 jaar, met ‘n effek op wereld temperatuur wat al sowat 150 jaar gemeet word, en rekonstruksies van die afgelope eeue toon almal ‘n ontstellende toenemende tendens. Die effek op klimaat is meer kompleks, maar toenemend wys die wegsmelt van gletsers en ander natuurverskynsels wat hier gebeur. Die emissies van kweekhuisgasse is ook afkomstig van bykans elke moontlike sektor van ons hedendaagse lewe, van die landbou, tot vervoer, kragopwekking tot huishoudings wat almal bydra tot die probleem; hierdie sektore verseker weer ‘n hoe kwaliteit van lewe met sosiale en ekonomiese implikasies en gevolglik is daar nie net een skuldige party wat sake moet regstel en wat dan die probleem gaan laat verdwyn nie.

Projeksies toon dat ondanks die toename in gebruik van hernubare energiebronne soos wind, hidro of biomassa, of die toenemende gebruik van kernkrag (wat elkeen weer sy eie unieke probleme skep), die wereld vir eers steeds van olie, gas en steenkool gebruik gaan maak om die wereldekonomie aan die gang te hou, veral in ontwikkelende lande wat steeds probeer om die hoe lewensstandaarde van die Weste vir hulle inwoners te verseker. Die formule wat groenhuisgasemissies bepaal, gaan nou saam met ekonomiese welvaart, populasieaanwas en energieverbruik. Van hierdie drie bied die laasgenoemde deur middel van minder koolstofintensiewe energieverbruik, die enigste tegnologiese oplossing wat nie soveel met persoonlike keuses inmeng nie soos beperkings op ekonomiese welvaart of populasieaanwas nie.

Dit bring ons terug by die definisie van volhoubare ontwikkeling en die kritiese balans van ekonomiese oorwegings soos welvaart en groei, sosiale oorwegings soos die reg op energie en vervoer, en die beperkte kapasiteit wat die omgewing het om emissies te absorbeer, by die mens se wil om iets te doen. Daar is natuurlik ook spanning tussen die ‘have’s’ wat die impakte van klimaatsverandering relatief maklik kan absorbeer en die ‘have not’s’, veral onderontwikkelende lande, wat die hardste geraak kan word wanneer klimaatsverandering grootskaalse impakte het.

Ter afsluiting, die rol van die NHN in die omgewingsdebatte soos klimaatsverandering het verdere bespreking nodig. Ons moet ongetwyfeld kennis neem van die klimaatsdebatte en kan ook as individue ‘n rol speel om ons omgewingsvoetspoor verantwoordelik te bestuur en so klein as moontlik te hou. Maar of die NHN as organisasie uitgesproke wil raak oor die debat is te betwyfel. Die kritiese massa van NHN lede met genoegsame kennis oor die onderwerp van klimaatsverandering is moontlik te beperk om daar ‘n sinvolle bydrae te lewer.