1. “Welkom, o stille nag van vrede” (Koos du Plessis, 1971)

 

Lied 358

 

Welkom, o stille nag van vrede,

onder die suiderkruis,

wyl stemme uit die ou verlede

oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

 

Hoor jy hoe sag die klokke beier

in eeue-oue taal.

Kyk, selfs die nagtelike swye

vertel die ou verhaal.

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

 

  1. “The Christmas pageant”/ Die Kersskouspel (1994)

 

“Undoubtedly the best-known story in the gospels is the Christmas story. Surprisingly, however, what has become to be known and reenacted each year as the nativity pageant does not exist in Scripture” (Ord & Coote 1994:16).

 

Vra enige Sondagskoolkind waar Jesus gebore is en jy gaan tien teen een die antwoord kry: ‘In ’n stal in Betlehem’. Jaar vir jaar voer mense in kerke en soms ook in laerskole die geboorteverhaal van Jesus op. Hierdie geboorteverhaal staan natuurlik nie in die Bybel nie — altans nie in die vorm wat dit opgevoer word nie. Die geboorteverhaal wat opgevoer word, vermeng nie net die gegewens van die evangelie van Matteus en Lukas nie, maar sommer ook ’n klompie kerklike dogmas. Dis in werklikheid ’n roereierverhaal. Niemand gee egter om nie, want terwyl die verhaal opgevoer word, word sulke mooi liedere gespeel en gesing dat ons ons verstand uit rat haal en meegevoer word. Ook kettingwinkels dra daartoe by dat ons ons verstand uit rat haal. Hoe mooi sing Boney-M dan nou die tradisionele Kersliedere — om nie eens te praat van ons eie Afrikaanse sangers en sangeresse nie: ‘Long time ago in Bethlehem, so the Holy Bible says, Mary’s boy child Jesus Christ was born on Christmas day.’

Kom ons lees ’n keer die twee geboorteverhale kort na mekaar en baie noukeurig.

Matteus se geboorteverhaal (1:18–2:23) gee te kenne dat Josef en Maria in Betlehem gewoon het en dat Jesus daar gebore is (Matteus 1:18–25). Kort hierna het daar wyse manne uit die Ooste by koning Herodus kom navraag doen oor die geboorte van die koning van die Jode. Volgens hulle het ’n ster sy geboorte aangekondig. Herodus is totaal uit die veld geslaan wanneer hy hiervan hoor. Skielik is nie net hy ontsteld nie, maar sommer die hele Jerusalem (bedoelende al die Joodse godsdiensleiers). Hy raadpleeg dan die Joodse skrifgeleerdes en priesterhoofde: ‘Waar sal die messias gebore word?’  Let daarop dat die wyse manne navraag doen na die koning van die Jode, maar Herodus doen navraag na die messias (vgl Matt 2:4). Slegs iemand wat noukeurig lees, sal die verskil raaklees. Die skrifgeleerdes anwoord Herodus deur uit Miga 5:1 aan te haal: ‘En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir die volk Israel ’n herder sal wees.’

Kontroleer mens hierdie aanhaling deur terug te blaai na die Ou Testament is daar interessante verskille. In Miga 5:1 staan die volgende: ‘Maar jy, Betlehem-Efrata,  jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom, wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer.’            Matteus se weergawe het die volgende verskille: (1) Miga maak gewag van die clan Betlehem-Efrata, terwyl dit in Matteus lui Betlehem in die streek Juda. (2) Volgens Miga is Betlehem-Efrata van die kleinstes onder die families in Juda. Volgens Matteus is Betlehem beslis nie die kleinste onder die families in Juda is nie. Die rede vir laasgenoemde wysiging hang moontlik saam met die feit dat die messias nou gebore is. Betlehem is nou beslis nie die kleinste nie. Die eerste verskil hang weer saam met  die Griekse vertaling van die Ou Testament. Die verteller haal nie uit die Hebreeuse teks aan nie, maar uit die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Wanneer die wyse manne in Betlehem aankom, gaan die ster botstil staan bokant die plek waar Jesus gebore is. Hulle gaan dan in die huis en vind Maria met die Kind. Hierna haal hulle hulle geskenke uit hulle reissakke en keer dan na hulle land terug sonder om by Herodus ’n draai te maak. Die feit dat die geskenke as goud, wierook en mirre beskryf word, het lesers verlei om te dink dat daar drie wyse manne was. Die Christelike tradisie het hulle selfs name gegee: Kaspar, Melchior en Baltasar.

Nadat die wyse manne vertrek het, waarsku ’n engel Josef in ’n droom dat Herodus van plan is om Jesus te vermoor daarom word hy aangeraai om met Maria en Jesus na Egipte te vlug (Matt 2:13–15). Hier bly hulle tot na Herodus se dood sodat Jesus soos Moses ook ’n eksodus ( = uittog uit Egipte) kan beleef. Die verteller haal soos voorheen weer ’n Ou-Testamentiese teks aan: ‘Uit Egipte het Ek my seun geroep’ (Hos 11:1). Lees mens ook hierdie teks in die Ou Testament is dit duidelik dat dit nie ’n direkte voorspelling is nie, maar bloot ’n verwysing na die Israel se uittog uit Egipte: ‘Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.’

Die verteller neem ons nou twee tree terug en vertel van die gebeure in Betlehem nadat die gesin daar weg is (Matt 2:16–18). Herodus het, nadat hy agter gekom het die wyse manne het hom in die steek gelaat, alle seuntjies in en om Betlehem van twee jaar en jonger laat vermoor. Vir ’n tweede keer roep die verteller die eksodusverhaal in herinnering. Onthou dat die farao ook die klein seuntjies laat vermoor het (Eks 1:15–16). Die verteller se Jesus begin dus almeer na ’n tweede Moses lyk! Volgens die verteller is hierdie gebeure ook deur ’n profeet voorspel. Daar staan immers in Jeremia 31:15 ‘’n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.’ Jeremia het met hierdie ‘profesie’ bloot die gevolge van die Babiloniese ballingskap (587vC) in herinnering geroep. Dit is asof hy vir Ragel die aartsmoeder van die Judese volk hoor huil het tydens die wegvoering na Babilonië.

In Matteus 2:19–23 neem die verteller ons weer terug. Maar dié keer na Egipte om Jesus se uittog te beleef. Vir ’n derde keer kommunikeer ’n engel in ’n droom met Josef en vertel hom dat Herodus dood is. Hulle kan terugkeer na die land Israel. Die veronderstelling is dus dat Josef en Maria teruggaan na Betlehem, maar op reis daarheen, kry Josef weer ’n opdrag: ‘Gaan liefs na Galilea en nie na Judea toe nie’ (Matt 2:22). Herodus se seun Herodus Argelaos is in Judea aan bewind en dit kan vir die Kind gevare inhou. Die gesin gaan woon dan in Nasaret. Nogal vreemd as mens in aanmerking neem dat Herodus Antipas (Herodus die Grote se ander seun) daar aan bewind was! Waarom sou hy dan nou nie ’n gevaar vir die Kind inhou nie? wonder mens.

Vir ’n vierde keer is die verteller gereed met ’n voorspelling uit die Ou Testament om ook hierdie episode met ’n profesie te onderbou. Hierdie keer tower hy egter een op: ‘Hy sal ’n Nasarener genoem word, want die profete het so gesê’ (Matt 2:23). Bestudeer mens die Ou-Testamentiese profete noukeurig, vind jy geen teks wat meld dat die messias ook ’n Nasarener sal wees nie. Die bedoeling met die fiktiewe profesie is om Jesus weer in Nasaret te kry (waar hy na alle waarskynlikheid gebore is). Die skrywer skep dus sy eie voorspelling!

Nou kan Jesus van Nasaret se eintlike lewensverhaal begin (Matt 3–24). Die skrywer het met sy geboorteverhaal (wat sy eie kreatiewe skepping is) drie dinge bereik: (1) Hy het Jesus se geboorte van Nasaret na Betlehem verskuif en so te kenne gegee dat Hy ’n seun van Dawid is. (2) Maar Jesus is nie net ’n ’n seun van Dawid nie, Hy is ook ’n kleinkind van Moses. Sy lewe as baba was ook bedreig en Hy het self die uittog herbeleef. Jesus word inderwaarheid ’n tweede Moses, daarom gaan Hy ook die berg op en preek die Wet (Matteus 5:1–48). Voorts kan mens duidelik vyf redevoerings in die evangelie onderskei (Matt 5–7, 10, 13, 18, 24–25). Die Matteusevangelie het dus ’n eie Pentateug. (3) Die Ou Testament word die basis vir die verhaal oor Jesus. Al die gebeure wat tydens sy geboorte plaasgevind het, is volgens die skrywer se oortuiging, deur die profete voorspel — dit geld ook van ander gebeure in sy lewe. Die Matteusevangelie maak baie van sinspelings en voorspellings uit die Ou Testament gebruik, want die skrywer skryf vir Jode en wil hulle oortuig dat Jesus die voorspelde messias is wat God se koninkryk weer sigbaar gemaak het.

Lukas se geboorteverhaal is aansienlik langer as Matteus s’n. Maar dis eweneens ’n kreatiewe skepping van die skrywer.

 

Matteus bevat geen berig wat suggereer dat Josef en Maria in Nasaret gewoon het nie. Daar is geen berig oor ’n sensusopname wat hulle gedwing het om na Betlehem te reis nie; geen reis per donkie nie; geen “krip”-toneel; geen engele, en geen skaapwagters nie.

 

Vir sover dit Matteus betref het die familie in Betlehem gewoon. Hy is hier in ’n huis gebore. Nie in ’n stal en ’n krip soos die Kersskouspel dit wil hê nie.

 

Lukas vertel nie van ’n huis in Betlehem nie. Daar is nie ’n ster nie. Daar is nie wyse manne uit die ooste nie. Geen koning Herodus wat klein seuntjie laat vermoor nie. Geen vlug na Egipte nie; geen “eksiliese periode” nie; geen poging om na Betlehem terug te keer nie. Volgens Lukas het die familie in Nasaret gewoon. Die sensusopname dwing hulle na Betlehem. Dis in Lukas waar die familie geen herberg vind nie. Dis in Lukas wat die engele optree en die skaapwagters besoek aflê.

 

Hulle keer na Nasaret terug nadat Maria al die reinheidsgebruike rondom ’n geboorte vervul het: “Toe hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp Nasaret” (Luk 2:39)

 

“The problem with most people who want to take the Bible literally is that they often do not take it literally enough. Paying close attention to what Scripture actually says reveals that we are dealing with two irreconcilable stories” (Ord & Coote 1994:17).

 

  1. Die kriptoneel

 

Verskillende uitbeeldings van die kriptoneel, maar let op watter diere immer teenwoordig is: ’n Bees en ’n donkie. Waarom? Daarvoor moet ons in Jesaja 1:3 gaan soek. Die diere is simbolies van die heidene (bees) en die Jode (donkie). Dit was veronderstel om ’n negatiewe boodskap oor die Jode te kommunikeer. Hulle erken nie Jesus as die Messias nie. Dit het die Jode dwarsdeur die eeue aanstoot gegee.

 

Hierdie uitbeelding het gelei tot ’n mooi Afrikaanse Kersverhaal: Jaffie: ’n Eselsroman van Eitemal (J. du P. Erlank). En ’n gedig van Dirk Opperman:

 

Kersliedjie

 

Drie outas het in die haai Karoo

die ster gesien en die engel geglo,

 

hul kieries en drie bondels gevat

en aangestryk met ’n jakkalspad

 

al agter die ding wat skuiwend skyn

op ’n plakkie, ’n klip, ’n syferfontein,

 

oor die sink en die sak van Distrik Ses

waar ’n kersie brand in ’n stukkende fles,

 

en daar tussen esels en makriel

die krip gesien en neergekniel.

 

Die skaapvet, eiers en biltong

nederig gelê voor God se klong

 

en die Here gedank in gesang en gebed

vir ’n kindjie wat ook dié volk sou red …

 

Oor die hele affêre het uit ’n hoek

’n broeis bantam agterdogtig gekloek.

 

D.J. Opperman: Blom en baaierd (1956)

 

  1. Drie kritiese vrae

 

  • Was Jesus in 1 n.C. gebore?
  • Was Hy op 25 Desember van daardie jaar gebore?
  • Was Hy werklik in Betlehem gebore?

 

  1. Wat maak ons met Kersfees?

 

Ons kan ons nie heeltemal los maak van die tradisie waarbinne ons groot geword het en wat oorheersend is in die Westerse samelewing nie. Ons kan wel krities hieraan deelneem en Christene daaraan herinner dat die geboorteverhale in Matteus en Lukas ’n ander boodskap verkondig as wat die kerke aan ons voorhou. Dalk kan ons ook kritiese vrae vra oor die verhouding tussen die Christelike godsdiens en een van die magtigste ryke wat al ooit op aarde bestaan het – naamlik die VSA. Jack Nelson-Pallmeyer wys in hierdie verband op ’n paar belangrike sake.

 

“Christianity began as a nonviolent, anti-imperial religious reforms movement within Judaism and later morphed into the official, militaristic religion of the very violent Roman Empire” (Nelson-Pallmeyer 2005:11).

 

“In the midst of violent story lines that dominate the Bible and most expressions of Christianity, there is a nonviolent, anti-imperial stream associated with the historical Jesus. This nonviolent stream challenges imperial understandings of human and divine power and rejects the notion that superior violence saves” (Nelson-Pallmeyer 2005:11).