Deur: Arenda Erasmus
Ek was `n gelukkige alleenkind wat graag bedags in gedagtes versonke op die plaas rondgedwaal en
klippe en volstruiseierdop krale versamel het, soms soggens of vroegaand op die kruin van die rantjie
agter ons huis gesit en kyk het hoe die son opkom of ondergaan. Die spel van lig en skaduwee het my
gefassineer. In die soel someraande het ons dikwels op komberse buite gelê en sterrekyk en dit was dan
wanneer my pa sy (ook maar gebrekkige) kennis van die sterrehemel met my gedeel het. Dit was vir my
`n ewige bron van verwondering. Dan het hy my attent gemaak op die wondere van die natuur, deur
God geskep.
My ouers was gelowig, maar nie fanaties godsdienstig nie. Ek dink ek weet van net twee geleenthede
waarop my pa nagmaal gebruik het. Verder het hy verseg om ‘n oordeel oor homself te eet en drink. Die
Bybelstories was vir my mooi, hoewel soms `n bietjie vergesog. Soos die een oor Jona in die walvis en
die ander een oor Noag en sy Ark. Selfs `n kind, soos ek tóé was, kon met `n stok aanvoel dat iemand
hier vir iemand lieg. Ek het toentertyd natuurlik niks van mites en metafore en allerhande ander slim
definisies geweet nie.
Op agt is ek dorpskool toe omdat my nuwe sussie op ses maande nog aanmekaar geskree het en my ma
nie meer tyd gehad het om vir my skool te hou nie. Dorpskool was vir die eerste twee jaar `n nagmerrie.
`n Vreemde wêreld van woelende, vallende, bakleiende, Juffrou se aandag soekende klein mensies het
voor my oopgegaan. Ek het van Maandag tot Vrydag gehuil omdat ek daar was en weer van Vrydag tot
Maandag omdat ek moes teruggaan. Dus: trane, plus minus 24/7, behalwe vakansies. Ek weet nou nog
nie hoe my ma dit gehou het nie.
Die eerste jaar het ek by `n Godvresende, soms knorrige ou tannie, loseer. Ek mog nie maats ontvang nie omdat hulle in haar blomme sou trap, ek moes met warm water tande borsel en ek moes `n kappie opsit skool toe (in die winter natuurlik ‘n “pixie cap”) tot die kinders se groot vermaak. Dit was nie baie
bevorderlik vir inskakeling by en aanvaarding deur my portuurgroep nie, daarom is ek die jaar daarna
koshuis toe.
Die gevolg was verdere komplikasies, soos byvoorbeeld:
1. Sondagskool
bywoning is essensieel vir jou redding en daarsonder verbeur jy jou kans op die hemel.
Sondagskool kon ek nie bywoon nie; ons het te ver van die dorp gewoon. My pa kon nie
Maandag, Vrydag en Sondag heen en weer ry nie. Hy moes nog boer ook en petrol word nie uit
waterkrane getap nie.
2. Liewe Jesus staan in die sentrum van jou bestaan en jy moet Hom onvoorwaardelik liefhê.
Sover dit Jesus aangaan, het ek altyd gedink hy staan in verhouding tot God soos ek staan tot my ouers:
onderhorig. Hierdie nuwe reëling was vir my `n bietjie verwarrend. Dan nog, van God vrees (soos in bang wees) het ek goed geweet, maar liefhê? Nee, ek weet nie. Ek het hom dan nie eers regtig geken nie! Ek dink persoonlik Satan was my grootste aansporing tot `n “godvrugtige lewe” wat dit ook al mog
beteken.
Ongelukkig, volgens die kinders, was dit in elk geval te laat om iets aan my godsdienstige opvoeding te
doen. Daardie jaar was 20 Augustus geskeduleer vir die wederkoms; dit was voor die deur en al wat ek
kon doen, was om vreesbevange te wag. Die dag het natuurlik sonder slag of stoot gekom en gegaan en
my met meer twyfel gelaat. Sê nou van die ander voorspellings in die Absolute Waarheid was ook nie
waar nie?
Ek was volwasse en reeds getroud met my skoolkys toe ek vir die eerste keer `n ervaring met die
bonatuurlike gehad het. (En nee, ek is nie `n skisofreen nie!).
Dit het in my ouerhuis gebeur, waar spoke nie welkom was nie. Seks en spoke het destyds dieselfde obskure ruimte gedeel en ek het onderneem om vir niemand daarvan (die spookervaring) te vertel nie. Ek het ook nie, maar nou het ek wel kennis geneem van `n verdere dimensie, of ek wou of nie. Hierdie voorval en enkele daarna het my laat besef dat daar lewe na die dood is. Dië inligting net ter syde; dit is net om my latere geloofsbelydenis te ondersteun.  Ons het dit nie toe geweet nie, maar drie pragtige, sli
m kinders later (twee dogters en `n seun), was die wonderlikste tyd in ons lewe ten spyte van die meet en pas om kop bo water te hou, soos al ons vriende en kennisse. Gelukkig wis ons nie hoe na aan verander die hele scenario was nie.  In 1972 word ons tweede seun vroeg gebore. Vandag sou so `n baba geleef het, maar in daardie jare was die tegnologie nog nie so ver gevorder nie en hy sterf binne enkele ure. Toe my man die lykie die volgende oggend gaan opeis, moes hy hoor dat ons kind saam met al die uitgediende organe van ander mense in die verbrandingsoond gegooi is. Ek was ontroosbaar en het soos `n wandelende doodskis gevoel. En gelyk, glo ek.  Twee jaar later raak ek weer swanger, hierdie keer met heelwat beter vooruitsigte. Ná die twaalfde week is ek vol moed hospitaal toe vir `n klein prosedure wat `n herhaling van die vorige episode sou voorkom. Toe ek bykom, moes ek hoordat die ginekoloog niks kon doen nie; my baarmoeder was aan my rug vasgegroei. Die volgende byna vier maande sou ek in vertwyfeling op my rug deurbring. Ook hierdie dogter word prematuur gebore en leef slegs twee dae. Ek onthou hoe ek met haar nog warm liggaampie in my arms gesit en betraand afgekyk het in die onskuldige, stil gesiggie en geweet het dat die storie oor erfsonde presies dít is ‘n storie. Hierdie keer was ek hartseer, opstandig, kwaad vir God.
Ek het daaraan gedink dat die straf vir die sonde die dood is, maar wie se sonde? Myne? Dit kon tog nie
hare wees nie? Tensy die storie oor reïnkarnasie nie `n storie is nie.
Ek kry `n boek, ‘”Die Man uit Us” waarvan ek die skrywer se naam nie kan onthou nie, present. By die
lees van Job se vashou aan die geloof, ten spyte van al sy teëspoed, begin dit vir my lyk asof ek my
terugslae as seëninge moet beskou. Dit beteken tog dat God bemoeienis met my maak? Maar snags
slaap ek skelm met `n lappop in my arms om die verlange te stil.  Dit was `n desperate tyd, waarin
TYD my grootste vyand was. Hoeveel eindelose jare sou ek nog met hierdie onbeskryflike pyn moes leef? Maar tyd het gelukkig ook `n ander sy:
Verdowing.
Mettertyd word die ontsaglike seer beter en soms sien ek selfs `n skrefie lig. Geleidelik keer alles terug
na normaal, maar die letsels bly. So ook die groter volwassenheid. Ek weet nou dat ek so iets volgende
keer beter sou kon hanteer. Nietemin sit ek dikwels in die kerk en wonder op watter sin uit watter
koerant die preek gebaseer is en ek raak al hoe meer skepties oor wat aan ons in die naam van die
“Liefde” opgedis word. As dít is hoe God maak met iemand wat hy lief het, was ek bly hy haat my nie!
Maar ook hierdie opstand verdwyn geleidelik toe ek besef dis “waarhede” soos deur die kerk vertolk.
Ongeveer dertig jaar later is ons vir `n week in Umhlanga Rocks by ons oudste dogter, Titta, en
skoonseun aan huis. Skoonseun se broer was ook die naweek daar en sou die Sondagoggend vroeg
vertrek; ons `n bietjie later, ná ontbyt. Saterdagaand het Titta soos gewoonlik kom nagsê en gaan slaap
klaarblyklik blakend gesond; met die belofte van `n heerlike ontbyt voor ons gaan.
Die volgende oggend het my man en ek nog gelê en luister hoe die twee broers groet, toe ons meteens
`n geskarrel hoor, ons kamerdeur oopvlieg en haar swaer sê ons moet dadelik kom, daar is iets verkeerd
met Titta. Toe ek by haar kom, was sy reeds blou. Ek het instinktief geweet dis verby, maar haar man en haar pa het aangehou met resussitasie totdat die reddingspan en van haar man se kollegas opgedaag het. Ek kan nie ons totale ontreddering beskryf nie ek wil ook nie. Na sewe en `n half jaar is die seer nog te rou om oop te gooi vir ontleding.
Die eerste ding waaraan ek gedink het, was dat sy dae gelede vir my gesê het sy kan vir alle praktiese
doeleindes nie meer aan die kerk behoort nie. Daar was te veel teenstrydighede en sy kon haar nie meer
met die praktyke versoen nie. Met haar sterfte was ek tot die dood toe ontsteld. Wat nou van haar
kosbare siel? Totdat haar huishulp vir my sê: “If there is a heaven, my madam ran into it.” Toe besef ek
God kyk anders as die mense.
Daar is twee roudienste vir haar gereël. Die eerste in Umhlanga Rocks, waar sy gewoon en gewerk het
en baie vriende gehad het en die tweede in Bloemfontein, waar sy gebore is, skoolgegaan, gestudeer,
gewerk en ook `n magdom vriende en familie gehad het. Die dag voor die diens in Bloemfon
tein het ons plaaslike N.G. predikant, wat haar terloops glad nie geken het nie, maar ingewillig het om die diens te lei, kom besoek aflê om onder meer te vra oor watter gedeelte ons wou hê hy moes preek. Ons het gesê, maar hy het die volgende dag met `n totaal ander gedeelte op die preekstoel geklim. Glo `n preek wat hy reeds uitgewerk en voorheen met vrug gebruik het.
Die hele gesin was in die sitkamer saam toe ons tweede dogter in trane vra:
“Dominee, waar is sy
nou?”
Sy selfvoldane antwoord: ”
Wel, as sy in Christus gesterf het, weet ons waar sy is, maar andersins kan ek nie sê nie”.
`n Latere groot wysheid deur dieselfde predikant toe ek hom vra waar in die Bybel die versie verskyn waarin daar staan dat elkeen volgens sy eie geloof salig word, was dat dit uit die nuwe vertaling weggelaat is omdat dit te verwarrend was. Dit was tóé dat ek myself begin afvra het hoeveel nog weggelaat en amper erger hoeveel bygevoeg is.
My kind was buite haarself en haar boetie moes haar veld toe neem en kalmeer. Hy was trouens die een
wat as jong kind al vrae begin vrae vra en die antwoorde vir homself uitgewerk het. Vir jare het hy reeds
sy standpunte met my gedeel en bespreek. Natuurlik het ek vasgeskop, gebid en gehoop dat hy tot
besinning sou kom. Tevergeefs. Hy het net gesê hy weet wat hy weet en dat hy nie langer kan huigel nie.
Vyf maande en twee dae later, met ons nog aan die worstel oor ons dogter se dood, kom die oproep om
half twaalf die nag: Ons seun het selfmoord gepleeg.
Ek kan net onthou dat ek plat op die vloer in die badkamer gesit en aanhoudend gesê het: “Nee, dit kan
nie wees nie! Nee, dit is nie so nie!” Maar dit was inderdaad so.
Ons was drie weke tevore vanaf Bloemfontein by sy kunsuitstalling in Sandton, het lekker gekuier en
glad nie onraad vermoed nie. Ek het geweet dat as ek ooit afsluiting wou kry en weer normaal wou
funksioneer, ek uitsluitsel oor sy waarskynlike ewigheidsbestemming moes kry wat volgens die kerk die
“warmplek” was. Onthou, nie net het hy nie meer konvensioneel geglo nie,
hy het ook sy eie lewe geneem.
Ek kry weer `n boek present. Hierdie keer is die skrywer Elizabeth Kübler
Ross, `n psigiater wat navorsing oor naby dood ervarings gedoen het; en ek lees sommer al haar ander geskrifte ook. Katvoet, want sê nou ek gaan dood voordat ek kon boete doen oor hierdie vergryp? My nuuskierigheid is egter geprikkel en ek waag dit om ook `n boek deur ‘n ds. Du Plessis uit die jare veertig (dink ek) wat hom (dink ek ook) sy amp gekos het, te lees. Daarna lees ek Willem de Klerk se “Die vreemde God en Sy mense.” Hierdie boeke gee my die moed om voort te lees en tussendeur my eie geloofstrukture te ontwikkel.
Ek begin soos `n besetene lees; alles oor die dood en hiernamaals waarop ek my hande kan lê. Teen
hierdie tyd het ek die leisels tussen die perde ingegooi. Ek wou in elkgeval nie sonder my kinders in die
hemel wees nie, so, as dit my by die oordeel ten kwade gereken word, “so be it”. (Kleinsus het in hierdie
stadium ook reeds die dogma gegroet).
Op `n dag lees ek die lesersbriewe in die koerant en hier, wonder bo wonder, kry ek die epos adres van
die vriendin wat my soms aan die hare uit die put gesleep het ná die verlies van die babas. Ek maak
dadelik kontak en stel vas dat sy ook juis op haar eie verkennende geloofsreis is. Na al die jare tussenin,
waarin ons mekaar so te sê verloor het, vind ons dat niks regtig verander het nie. Ons hervat ons
vriendskap asof ons mekaar gister laas gesien het.
Sy stel my voor aan die Bloemfonteinse tak van die NHN, oftewel “die Ketters”. Met ons trek Pretoria toe sit ons ons NHN lidmaatskap met vrug voort.
Namate meer en meer waarhede vir my ontvou, raak my gedagtegang meer gefokus en maak ek ten
slotte met myself kennis en kan ek uiteindelik probeer sin maak uit die beproewings en twyfel wat my
lewe gekenmerk het.
So, waarin glo ek en wat glo ek nie?
God:
Is die een vaste punt in my lewe. Ek weet dis `n baie onlogiese stelling, maar die waarheid is dat ek net
eenvoudig `n anker buite myself nodig het. Verder glo ek vas dat my betekenisvolle ervarings met die
bonatuurlike `n manier is om vir my te sê: “ Ek is hier en Ek hou jou vas.” Dus `n betrokke, persoonlike
God, maar steeds nie een wat hom laat omkoop of voorskryf nie. Ek skram daarvan weg om te probeer
om God se gedagtes en motiewe te verklaar. Ek glo nie dit lê op die mens se weg om sy Wese te
analiseer nie. (Terloops, hoe en wanneer het dit gebeur dat die geloofsklem vanaf God na Jesus verskuif
het?)
Jesus:
Ek is `n leek, maar kon nêrens `n geskrif teologies of andersins opspoor waar Jesus homself as deel van
`n drie eenheid voor gestel het nie. Ek glo dat hy wel as groot profeet op aarde was en `n wonderlike
lewe van die hoogste integriteit gelei het. Sondeloos? Ek weet nie. Daar skiet die dogma homself in die
voet met die leer van die erfsonde. Kan selfs `n goddelike wat ook volkome mens is, sonder sonde
wees? En die ander Groot Profete van ander gelowe? Waar kom hulle vandaan? Wie se seuns is hulle?
Kan God moontlik ook húlle Vader wees? Ek glo ook dat hy opgestaan het geestelik. Geen vlees en bloed kan deur mure beweeg en wil lekeurig verskyn en verdwyn nie. Ek het eerstehandse kennis daarvan. Voorts is ek mos self `n kind van God, so inderwaarheid is Jesus my sterk Ouboet wat ek idealiseer en probeer navolg.
Die Heilige Gees:
Eers moet ek sê dat ek aan God as onder meer alom teenwoordig dink. Om dit te kan wees, moet Hy, na
my beperkte oordeel, Gees wees. Vir my kom dit dus daarop neer dat God Gees is. Soos wat ek ook
eerstens gees is, hoewel met die beperkinge van die vlees opgesaal. Dus sien ek myself as `n monoteïs in
die ware sin van die woord. Ek moet net byvoeg dat ek myself nie aanmatig om God in `n boksie te
probeer plaas en Hom per mý definisie van wie Hy is, probeer inpas nie. Volgens die Bybel het Hy mos
self gesê:
“Ek is wat Ek is”.
Punt.
Satan
:
Ek glo dat God, wat ook  almagtig is, heeltemal in staat is om sy eie sake te bedryf en ek glo nie dat hy in
sy almag die bystand van so `n handlanger nodig het nie.
Die Hel: