1. Die rede vir die vraag

Ek weet nie of dit in alle huweliksverhoudings so is nie, maar my ervaring gedurende die eerste jare van my en Dina se huwelikslewe was dat ons dikwels die plekke en insidente wat goeie herinneringe vir ons ingehou het, herbesoek het. Dit was nie altyd ’n fisiese herbesoek van ’n plek nie. Soms was dit bloot net ’n virtuele herbesoek of ’n hervertel van ’n gebeurtenis wat vir ons beide mooi en goeie herinneringe ingehou het. Soms het ons vir mekaar ’n foto uit ’n album gewys; soms net ’n storie vertel. Deur die plekke en gebeurtenisse weer te besoek, het ons aan mekaar bevestig waarom ons verlief geraak en mekaar uiteindelik as lewensmaats gekies het. Soos die jare aangestap het, het die herbesoeke en hervertellings minder geword, maar dit kom steeds voor. Ek vermoed dat ander mense soortgelyke ervarings het. Hierdie herbesoeke en hervertellings is na my mening die sement van ’n verhouding.

Die titel van my lesing vanoggend is bedoel as ’n herbesoek van ons verhouding met die Nuwe Hervorming. Dis ’n herbesoek met die oog op die bevestiging van ’n verhouding. Die aanloop tot en uiteindelike stigting van die Nuwe Hervorming Netwerk hou vir baie van ons goeie herinneringe in. Die Nuwe Hervorming het weliswaar begin met lesings van Pieter Botha, Pieter Craffert, Piet Muller, Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans. Hierdie vyfstuks het in 2002 die gesprek oor ’n moontlike nuwe hervorming binne die Christendom aan die gang gesit. Verskeie mense het tydens hierdie vroeë fase aan ons gevra: “Stig iets waarby ons kan aansluit en waarin ons kan tuisvoel.” Dit is hoe die NHN tot stand gekom het — op versoek.

Van ons kan die geleentheid herroep toe ons in 2004 by ’n gastehuis in Centurion vergader het om oor die moontlike stigting van ’n organisasie te praat. Ander sal onthou hoe ons later daardie jaar by die krieketklubhuis van RAU in Johannesburg byeengekom en die eerste “ampsdraers” gekies het. Nog ander onthou die diens wat ons in die Shelanti-kapel op 31 Oktober 2004 gehou het. Nog ander sal die keer in 2006 onthou wat ons hier in Midrand vir die eerste keer byeengekom het. Die ouditorium het ons aangespreek, want ons kon mekaar in die oë kyk tydens en na die lesings. Die feit dat ons almal weer en weer Midrand toe kom en hier deelneem en saamkuier, bevestig dat ons iets aan die NHN en aan die Midrandbyeenkomste het. Verskeie mense het die afgelope tyd aan my gekommunikeer dat dit vir hulle ’n jammerte sou wees indien ons die Midrandbyeenkomste sou afskaal. Dit sou skade doen aan die karakter van die NHN, want die Midrandbyeenkomste het die enjinkamer geword.

Terwyl ek die lesing voorberei het, het ek Linky de Bruyn se almanak van 2006 uit een van my boekrakke gehaal, want dit is een van daardie NHN-memonto’s wat ’n mens nie sommer wil weggooi nie. Linky het ons aangemoedig om meer van die seisoene en die seisoenswisselinge te maak. Die kunswerke op die almanak het dan ook die vier seisoene herroep. Op die voorkant van die almanak staan die woorde: “Gefokus leef ons in harmonie met die kom en gaan van seisoene.” En toe vang my oog die woorde: “Maart & April is vir voorraadopname.” Vanoggend se lesing is dus ook ’n soort voorraadopname. Dit wil kyk na wat die NHN in sy “stoorkamers” het vir latere gebruik. Het ons deur die jare ’n paar goedere bymekaar gemaak vir ons voortgesette lewensreis? Ek glo wel so, daarom het ek twee kolomme vir die voorraadopname saamgestel: (1) die nuwe hervorming — ’n godsdiensding, en (2) die nuwe hervorming — méér as net ’n godsdiensding.

2. Die Nuwe Hervorming — ’n godsdiensding

Ons sal nie daarvan kan wegkom dat die NHN sy oorsprong te danke het aan gesprekke oor uitgediende kerklike belydenisse, Christelike leerstellings en oor nuwere navorsing oor Jesus van Nasaret nie. Die artikels op die NHN se webbladsy bevestig dat die NHN se wortels dáár lê en die publikasie Die Nuwe Hervorming (Muller 2002) bevestig dit ook. Die boek Hier staan ek … en ek is nie alleen nie (Van Wyk, Nolte & Atterbury 2011) illustreer dit ook alhoewel die boek sy oorsprong nie direk uit die geledere van die NHN het nie. Van die skrywers is egter lede van die NHN of vereenselwig hulle met die NHN se waardes.

Een van die redes vir die stigting van die organisasie was juis om aan mense wat ontuis geraak het binne die Christelike kerke en nie meer die tradisionele belydenisse en leerstellings kan beaam nie, ’n tuiste te bied. Hier kan hulle met ander mense wat dieselfde ongemak beleef, sosialiseer en gesprek voer sonder vrees vir ostrasering. Hier kan hulle inligting bekom en van skrywers te hore kom wat nie huiwer om kritiese vrae oor die Christelike godsdiens te vra en wat bereid is om te interpreteer en te herinterpreter nie.

’n Tweede rede vir die stigting van die NHN was om ’n beweging tot stand te bring wat oop religieuse gesprek bevorder. Baie mense het gevoel dat ons pas uit ’n era kom waar kritiese bevraagtekening nie as ’n deug beskou is nie. Mense wat kritiese vrae gevra het, hetsy oor die politieke beleid van die vorige bestel, hetsy oor die tradisionele Christelike belydenisse en leerstellings, is gewoonlik gemarginaliseer en geostraseer. Wat sedert die stigting van die NHN geblyk het, is dat “oop religieuse gesprek” nie vir almal binne die NHN dieselfde betekenis inhou nie. Vir my persoonlik hang hierdie soort gesprek saam met die kritiese inspeel op die openbare religieuse gesprekke, handelinge en ook kerklike leerstellings en belydenisse. Dis waarom ek van tyd tot tyd koerantbriewe en –artikels skryf. Godsdiens speel só ’n belangrike rol in ons samelewing dat die NHN na my mening sy plig sou versaak indien ons nie krities inspeel op hierdie gesprekke en handelinge nie. Ter motivering verwys ek slegs na die volgende sake wat die afgelope vyf/ses maande in Afrikaanse koerante en tydskrifte vermeld is of ter sprake gekom het:

• die Hervormde Kerk se verklaring oor apartheid;
• die NG Kerk se besluit oor predikante met ’n homoseksuele oriëntasie;
• die NG Kerk se gestoei met die Belhar-belydenis;
• die Gereformeerdes Kerke en die vrou in die amp van lerende ouderling;
• die ANC se eeufeesvieringe en predikante en teoloë se kommentaar daarop: “Theological and Ethical Reflections on the 2012 centenary celebrations of the African National Congress”;
• die AGS en Angus Buchan;
• die rol wat godsdienstige oortuigings in die Lotter-kinders se handelinge gespeel het.
• hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitnodiging aan senior regters om ’n konferensie van John Maxwell by te woon;
• die wyse waarop byna alle Afrikaanssprekende sangers deesdae met die Christelike godsdiens flankeer.

Diegene binne die NHN vir wie godsdiens nie meer van belang is nie, moet maar vir lief neem met diegene wat hulle nog daarmee besig hou, daaroor lees, nadink en artikels skryf. Maar eersgenoemdes kan daarvan verseker wees dat diegene wat nog aan godsdiensgesprekke deelneem, nie fundamentaliste is nie, maar wetenskaplike kennis oor die ontstaan van die heelal, die aarde en lewe op aarde ernstig opneem. Die eerste drie waardes van die NHN maak dit onomwonde duidelik dat dit binne híérdie grense is wat daar oor godsdiens en oor Jesus van Nasaret nagedink, geskryf en gepraat word. Die eerste drie NHN-waardes lees soos volg:

• Ons aanvaar dat wanneer ons oor die goddelike praat, ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in Jesus van Nasaret leer ken.
• Ons koester die beste van ons erfgoed in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies. Dieselfde geld vir ons nalatenskap op die gebied van musiek, kuns, letterkunde en wetenskap.
• Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie maar neem die huidige wêreldbeeld ernstig op.

Die huidige wêreldbeeld hou met ten minste twee sake verband (1) die ontstaan van die kosmos, (2) en die ontstaan van die aarde en lewe daarop. Die kerklike belydenisse en Christelike leerstellings is verweef met die antieke wêreldbeeld en die antieke verstaan van die mens. Philip Kennedy verwys hierna as ’n “defunct cosmology and anthropology”:

The trouble with unswerving repetition of orthodox doctrines is that the doctrines were formulated on the basis of a defunct cosmology and anthropology stemming principally from the towering figures of Aristotle and his teacher, Plato. (Kennedy 2006:254)

Wanneer ons dus binne die NHN oor godsdiens en oor Jesus van Nasaret praat, neem ons as vertrekpunt die huidige wêreldbeeld. Ons neem ook die huidige stand van navorsing rondom Jesus van Nasaret ernstig op. Op die vraag waarom ons dan net op die Christelike godsdiens fokus, is die antwoord doodeenvoudig: Meeste van ons het in daardie godsdienstradisie grootgeword en is deur daardie tradisie beïnvloed. Dis ons as ’t ware met moedersmelk ingegee. Die Christelike godsdiens vorm ook die onderbou van die Westerse beskawing en geskiedenis.

Die NHN behoort die rol van ’n godsdienstige waghond in ons samelewing te speel. Ons plig is nie net om nuwere navorsing rondom die Bybel en Jesus van Nasaret aan gewone mense bekend te stel nie. Waar die Bybel misbruik word om mense te benadeel, mag ons nie swyg nie. Waar kerklike leerstellings en kerklike praktyke mense te na kom, moet ons ons stemme laat hoor. Ook waar daar onrealistiese verwagtinge en vrese by mense aangewakker word. Hier dink ek onder andere aan die idee van ’n nabye wederkoms en wêreldeinde gegrond op die sogenaamde Maia-kalender.

3. Die Nuwe Hervorming — méér as net ’n godsdiensding

Die Nuwe Hervorming is egter meer as net ’n godsdiensding. Ek hoef dit eintlik nie te betoog nie. In die voorafgaande gedeelte het ek reeds daarop gewys dat ons oor die Christelike godsdiens, die Bybel en Jesus van Nasaret dink, praat en skryf binne die raamwerk van die huidige wêreldbeeld. Ek het ook reeds daarop gewys dat hierdie wêreldbeeld met twee groot veranderinge verband hou: (1) ’n verandering in ons beeld van die heelal, en (2) ’n verandering in ons mensbeskouing. Die twee persone wat as die vaders van hierdie veranderinge in die geskiedenis aangeteken staan, is Nicolas Copernicus (1473–1543) en Charles Darwin (1809–1882). Die veranderinge wat uit hierdie twee persone se navorsing voortgevloei en die impak daarvan op wat tradisioneel geglo is, vat Lloyd Geering kort en kragtig saam met die woorde:

As the Copernican revolution displaced the earth from the center of the physical universe, the Darwinian revolution displaced the human species from its unique place among all species as that made in the image of god. (Geering 2009:24)

M.M. Walters (1996:49) het oor Copernikus ’n treffende gedig gemaak wat ook die gevolge van sy navorsing en insigte uitspel:

Met Copernicus het die aarde sy waardigheid verloor:
geen middelpunt ooit weer of rusplek vir Sy voet —
net stippeltjie stof in ’n oneindigheid van heelal en planete.
Die hemel is gereduseer tot leë ruim, die mens
tot oomblikke in die geskiedenis van sterre.

Onmoontlik is dit om langer te aanvaar
dat die Bedenker, Maker, Mag agter die nuwe opset
na dié stippeltjie sou daal, mens word, ly en sterf
om die sinneloosste van sondes deur niksduidendes.
Ons leef vir altyd in die nachschein van Nikolai Kopernik.

Die navorsing en insigte van Charles Darwin is net so aardskuddend en lewensveranderend. Evolusionêre biologie het Westerlinge se verstaan van hulself as mense radikaal verander. Die besef het by vele gedaag dat ons en die mensape miljoene jare gelede ’n gesamentlike voorouer gehad het en dat ons nie losstaan van die res van die lewende dinge op aarde nie. Voorts weet ons dat die verskil tussen mense dikwels net veldiep is, maar omdat ons spesie duisende jare gelede oor die aarde versprei het, het daar verskillende kulture en godsdienste ontwikkel. Die tragiese van die mensdom se geskiedenis is die drang om te oorheers; om mag oor ander uit te oefen. Dit het in ons tyd ernstige bedreigende afmetings begin aanneem toe sekere lande kernwapens ontwikkel het en hieroor maak Philip Kennedy die onhutsende opmerking:

The dropping of an atomic bomb on Hiroshima on 6 August 1945 ushered human beings into a new predicament and phase in their history “not envisaged anywhere in the Bible or by subsequent Christians up to 1945” (Kaufman 1985:16). Never before had humans possessed the technology to obliterate themselves. (Kennedy 2006:257)

Maar daar het ’n ander krisis ontstaan waarvan min mense in die Weste aanvanklik bewus was: Die Westerse lande se olievoorrade is besig om af te neem en hulle raak meer en meer afhanklikheid van olie uit die Midde-Ooste om hul ekonomieë te dryf en in stand te hou. Dit het reeds gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n rol gespeel, maar weinig historici het dit uitgewys. Die aanval op die Twin Towers het vir die eerste keer vele se oë geopen om te vra: “Maar wat sit agter die aanvalle? Is dit bloot twee beskawings wat met mekaar bots? Is dit bloot twee godsdienstige sisteme wat hiervoor verantwoordelik is (fundamentalistiese Moslems en fundamentalistiese Christene), of is hier meer op die spel?” Die rol wat olie en olievoorsiening in die oorloë wat tans gevoer word speel, moet nie geïgnoreer word nie. Sommige lande reken dat die enigste manier om olievoorsiening te verseker, is om beslag daarop te lê — en dit word soms onder die dekmantels van “regime-verandering” en “verdemokratisering” gedoen.

Natuurlik het ons as individue weinig invloed op die besluite van regerings behalwe dat ons op grondvlak ons misnoeë met sekere beleidsrigtings te kenne kan gee. Wat ons wel kan doen, is om met verdraagsaamheid en respek teenoor ander mense wat ander kulture beoefen en ander godsdienste aanhang, te toon en met mense oor alle grense heen saam te werk. Die NHN het hieraan uitdrukking probeer gee deur die volgende twee waardes te formuleer:

• Ons streef daarna om medemenslik en verdraagsaam teenoor alle mense op te tree, ongeag geslag, seksuele oriëntasie, geloofsoriëntasie, fisieke vermoë, en groepsverband.
• Ons beskou diversiteit en godsdienstige pluralisme as positiewe verskynsels.

In die tussentyd het ’n derde groot bedreiging sigbaar geraak: die mensdom is besig om die planeet met sy aanwas en drang na oorheersing, dood te wurg. Ons as mense het ’n geweldige impak op die aardsisteem. In ons eie land word riviere besoedel en raak skoon drinkwater ’n skaars kommoditeit. Dis ontstellend wanneer ’n mens lees dat hierdie probleem wêreldwyd voorkom en dat tot 6 000 kinders per dag van diaree sterf omdat hulle nie toegang tot skoon drinkwater het nie. Dit is dubbel die getal mense wat gesterf het in die aanval op die Twin Towers op 11 September 2001. Dit gebeur daagliks en niemand maak hieroor ’n ophef nie (Kennedy 2006:258).

Dit is hierdie soort inligting wat NHNners tot die besef gebring het dat ons nie maar net op kerklike belydenisse en Christelike leerstellings kan fokus nie. Ons het besluit dat die lewe hier en nou belangrik is en dat ons daarop moet fokus om meer hieroor ingelig te word en ons deel te doen om die planeet vir ons nageslagte te bewaar. Een van die NHN se waardes maak hiervan melding:

• Ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons natuurlike omgewing. Ons streef daarna om met morele integriteit op te tree.

Uit die temas wat ons by Midrand gedek het, het dit mettergaan duidelik geword dat daar ’n verskuiwing in ons aanvanklike gesprekke plaasgevind het. Pieter van der Merwe het dit ’n keer goed saamgevat deur te stel dat dit vir ons meer en meer om die Lewe gaan. Die lewe hier en nou, het hy verder uitgebrei, kom veral in vier kontekste tot uitdrukking:

• Ons spirituele konteks — die bewussyn en omgang met die misterie van die lewe;
• Ons kosmologiese konteks — ons fisiese wêreld soos dit mikro (ons blou planeet) en makro (die heelal) manifesteer;
• Ons sosio-politieke konteks — met klem op makro-gebeure plaaslik en internasionaal, maar sonder party-politieke kontaminasie;
• Ons gemeenskapskonteks — met die klem op ons eie onderlinge maar ook ander sosiale verhoudinge.

NHNners is klaarblyklik baie gemaklik met drie van hierdie kontekste, maar die vierde een, naamlik ons sosio-politieke konteks, is ietwat van ’n tammeletjie. Sodra ons ’n spreker oor hierdie onderwerp kry, raak mense ongemaklik. Miskien is dit omdat ons uit ’n era kom waar godsdiens en politiek dikwels verweef was, miskien is dit omdat ons nog nie die NHN se waardes goed geïnternaliseer het nie.

4. Ter illustrasie en ’n pleidooi

Toe die DA-Jeug (spesifiek die studente organisasie op Tuks) vroeër vanjaar ’n plakkaat versprei het waarop ’n witman en ’n swart vrou mekaar omhels, het ek gewonder wat die NHNners daaroor dink. Van die koerantberigte het verkondig dat die studente Suid-Afrikaners ’n bietjie wou skok. “In ons toekoms”, so lees die Afrikaanse vertaling, “sou jy nie twee keer gekyk het nie.” Met die woorde “ons toekoms” het die studente duidelik gesinspeel op “ons verlede”. Wat het in ons verlede gebeur wat die foto op die plakaat vir sommige mense onaanvaarbaar maak? Natuurlik die “Wet op Verbod van Gemengde Huwelike en Artikel 16 van die Ontugwet” van 1957. Dit was grootliks op aandrang van die NG Kerk dat hierdie wet ingestel was. ’n Mens sou ook kon stel dat kerklike teoloë die regering ondersteun het in die daarstel van hierdie wet. Etienne de Villiers en Johann Kinghorn skryf soos volg hieroor:

In die vroegste NG Kerk-verslae oor rasseverhoudinge (dié van 1948 en 1951) word die Skrifverbod op gemengde huwelike direk afgelei uit die feit dat die Israeliete by geleentheid verbied is om met heidense volkere te vermeng (De Villiers & Kinghorn 1984:124).

Verder op dieselfde bladsy skryf hulle:

Veral sedert die sestigerjare het ’n ander poging om aan te toon dat gemengde huwelike in stryd is met die Heilige Skrif en gevolglik in stryd met die wil van God is, sterk aan invloed gewen. Volgens dié argument sou gemengde huwelike in stryd wees met die volkereverskeidenheid wat die Heilige Skrif leer (De Villiers & Kinghorn 1984:124).

Toe ek die plakkaat sien, het die inligting oor die destydse Ontugwet en Adam Small se gedig “What abou’ de lô” (1975:52–54) weer in my kop begin maal:

Diana was ’n wit nôi
Martin was ’n bryn boy

dey fell in love
dey fell in love
dey fell in love

sê Diana se mense
what abou’ de lô
sê Martin se mense
what abou’ de lô
sê almal die mense
what abou’ de lô

sê Martin sê Diana
watte’ lô
God’s lô
man’s lô
devil’s lô
watte’ lô

sê die mense net
de lô
de lô
de lô
de lô
what abou’ de lô
what abou’ de lô

Diana was ’n wit nôi
Martin was ’n bryn boy

dey go to jail
dey go to jail
dey go to jail

sê Diana se mense
we tol’ you mos
sê Martin se mense
we tol’ you mos
sê almal die mense
we tol’ you mos

sê Martin sê Diana
what you tol’
what God tell
what man tell
what devil tell
what you tol’

sê die mense net
de lô
de lô
de lô
de lô
what abou’ de lô
what abou’ de lô

Diana was ’n wit nôi
Martin was ’n bryn boy

Diana commit suicide
Martin commit suicide
Diana en Martin commit suicide

sê Diana se mense
o God behoed
sê Martin se mense
o God behoed
sê almal die mense
o God behoed

Martin en Diana
died for de lô
God’s lô
man’s lô
devil’s lô
watte’ lô

sê die mense net
de lô
de lô
de lô
de lô
what abou’ de lô
what abou’ de lô

Ons kom uit ’n tyd waar die staat aan mense voorgeskryf het met wie hulle mag sosialiseer, vriende mag wees, op wie hulle verlief mag raak en met wie hulle mag trou en die Afrikaanse teoloë het met hulle vingers op die Bybelteks alles beaam.

Ek meen dat die NHN allermins polities neutraal staan as ek na ons waardes kyk en ek sê dit ook op grond van die volgende aanhaling uit ’n boek van Rachael Kohn:

After September 11 it is impossible not to seriously consider the political implications of religious beliefs. The women and girls who are cruelly abused by men and are forced into silence by tribal laws, the Church culture that protects its own clerics when they are known to be perpetrators of crimes, the extremist religious communities that believe critics should be “rubbed out” and different religious communities subjugated, if not eliminated are acting politically. Equally, the religious community that refuses to either oppress women or protect criminals, that refuses to preach and fund terrorism and fosters friendship and dialogue with other religious communities, that examines honestly the social consequences of its beliefs and opens its doors to a changing society is also acting politically. (Kohn 2003: 212-213)

Ek het die onderwerp “Die Nuwe Hervorming — net maar ’n godsdiensding” ook om ’n spesifieke rede vanoggend aangeroer. Daar was heelwat onderonsies die afgelope tyd op die NHN se Facebook-bladsy. Die vonke het soms gespat soos gespreksgenote mekaar aangevat het. Na my oordeel het sommige mense allermins die NHN se waardes uitgedra. Daar is soms met negatiewe terme na mense van ander kleur verwys. Soms het van die gespreksgenote mekaar ook persoonlik aangeval en nie meer die saak beredeneer nie, maar die persoon bygekom.

Ons gaan vanjaar tydens ons jaarlikse seminaar by Weesgerus besin oor waar mense aan hul waardes kom en of net godsdienstige mense moreel leef. Ons gaan ook ernstig besin oor die NHN se waardes en vra of ons dit moet herformuleer en herbeskryf na aanleiding van die veranderinge wat die organisasie ondergaan het, maar in die tussentyd wil ek ook vra dat ons met respek na ander mense sal verwys en dat ons die NHN se naam hoog sal hou. Die Nuwe Hervorming is inderdaad meer as net ’n godsdiensding. Dit het ook met ’n lewenswyse te doen. Kom ons neem professor Johann Degenaar, die eerste persoon aan wie ons in 2009 ’n erekode toegeken het, se woorde ter harte. Hy skryf soos volg in sy boek met die titel Evolusie en Christendom: ’n Opstel oor Teilhard de Chardin (1965):

’n Nuwe eeu eis nuwe benaderings. Religie as ’n terugtrekking uit die wêreld en as binding aan buitewêreldse magte waardeur persoonlike sieleheil ’n sentrale rol speel, moet vervang word deur aardsgerigtheid, sinvolle daaglikse ervaring en verantwoordelike betrokkenheid by mense en gebeurtenisse. Godsdiens as rituele apartheid moet vervang word deur openheid tot die wêreld en solidariteit met die menslike geslag in ’n strewe na ’n nie-godsdienstige eenheid tussen mense (Degenaar 1965:87).