Die huidige geslag het baie verandering beleef. Sedert die wêreldoorloë het baie nuwe invloede oor die wêreld gespoel – atoomkrag, ruimteverkenning, en kommunikasienetwerke. Ons maak reeds gebruik van vervoer wat ons blitsig oor die wêreld neem, en van media wat inligting op ons vingerpunte plaas. Die aardbol het skielik gekrimp tot ‘n “global village”. Ons verwelkom tegnologie wat sonder groot drama vreemde weefsel wegskroei en selfs nuwe liggaamsdele kweek! Tegnologie is onontbeerlik deel van ons toekoms.

Ons veilige en bekende geloofswêreld is egter telkens in die afgelope dekades geskud met elke nuwe tree van die tegnologie en wetenskap. Mense skop maklik vas te midde van voortdurende verandering – té vloeibare grense laat ons onveilig voel.

Ons gebruik soms die kerk as bastion teen verandering. Die aard van die kerk as God se volk is egter dat sy voortdurend herskep word. ‘n Kerk wat vreemd geword het aan haar leefwêreld kan moeilik God se opdrag uitvoer. Daarom moet ons bly reformeer – as ons net in voeling kan kom met die “nuwe wêreld”.

Die postmoderne mens oorskry in sy denke lank reeds die beperkings van tyd en plek. Die kerk se mure is lank reeds “deursigtig”. Ons kan die geleenthede van die nuwe wêreld daardeur sien, soos die mense daarbuite ook die statiese prentjie hierbinne sien.

‘n Hele nuwe geslag mense (die millenials ) word vanselfsprekend groot met die elektroniese media wat hulle in aanraking bring met mense in lande waarvan hulle ouers nog nie eens gehoor het nie. Die taal wat hulle praat is dié van ‘n virtuele speletjieswêreld, met verbeeldingsvlugte en nuwe ontdekkings.

Wat bied die kerk aan die nuwe geslag? God praat met die mens in die taal van sy tyd, in konteks. Ons moet skeppend dink en die beproefde waarhede van ons belydenis in die nuwe idioom leer verstaanbaar maak. En gereed wees om dit daarna weer aan te pas! dit alles terwyl ons steeds aan ouer lidmate ‘n tuiste bied.

Die paradigma (denkmodel) van die kerk moet weer een word van vorentoe kyk, buite die mure. Soos die man van Macedonië wat wink op die ander kontinent, wag daar vandag ook sendingreise na nuwe wêrelde. In die 21ste eeu, met al sy opwinding en uitdagings, het die siniese en hooplose mense juis die boodskap van verlossing deur Christus so nodig,. in hulle eie taal en idioom.

Die tekens van nuwe denke is reeds daar. Ons lees reeds die weeklikse omgeegroeples op ‘n webblad, of ons nou in Pretoria, Londen of Brisbane is. Ons kinders sing die musiek van Christene vanoor die wêreld omdat hulle daarby aanklank vind en dit vir hulle God nóú werklikheid maak. Kan die kerk betyds en voortdurend transformeer vir die nuwe wëreld? Ware kerkwees praat toekomstaal en druk haarself nie in die verlede tyd uit nie.

Die paradoks is dat die kerk ‘n hart het vir lidmate wat vrae stel oor verandering én dat die kerk se standpunte kan verander. Die kerk hanteer ongemaklikheid oor nuwe dinge met deernis én die kerk begelei lidmate tot ‘n egte geloofsuitlewing te midde van verandering.

Jesus, die Waarheid en die Lewe, het radikale verandering gebring in Sy leefwêreld. Daarom is die Gees nou binne ons, in ons reis na die vreemde wêreld van more. Kan die kerk ‘n slag die gemeenskap lei in sy reis, om die nuwe wêrelde vreesloos te betree?
Opgedateer op : Sa 06 Aug 11