Beste NHN Lid of Belangstellende

KOMENDE SONDAG SE MIDRANDBYEENKOMS        

Tydens ons byeenkoms in die MBA Conference Centre Ouditorium in Midrand gaan Chris de Weerdt sy veel bewoë wedervaringe met ons deel in ‘n skyfievertoning: “Ervarings van die eerste Suid Afrikaanse Antarktiese ekspedisie: 1959 tot vroeg 1961”.

Chris, wat lid van hierdie eerste ekspedisie was, vertel: “Laat in 1959 het die Suid-Afrikaanse regering op die nippertjie besluit dat Suid Afrika as nuwe lid van die Antarktiese verdrag die Noorweegse basis in Antarktika sal beset wanneer dit deur hulle ontruim sou word. Hannes la Grange, lid van die Trans Antarktiese ekspedisie van 1957 moes binne ses weke ‘n wetenskaplike span saamstel wat met die MV Polarbjorn na Antarktika moes vertrek. Om binne ses weke ‘n volledige span te identifiseer en te kies, én voorrade vir twee jaar bymekaar te skarrel, was ‘n byna bo-menslike taak.

Hierdie eerste sending het senuwees tot die uiterste gespan en uiteindelik ‘n besonder hoë tol geëis. Was daardie lewensverliese ‘n ongeluk of moord; en ‘n ander geval selfmoord? Was dit dalk inderdaad ‘n “moordende” poging?

Kom luister en gesels gerus saam. Vir kennismaak en saamkuier, drink ons vanaf 09:00 tee.

NHN SEMINAAR 30 AUGUSTUS

Met ons 10e bestaansjaar is die seminaartema vanjaar: “Die NHN as vernuwer in die Afrikaanse samelewing: perspektiewe op religie en wetenskap, ons geskiedenis en die karakter van die huidige samelewing en die samelewing se uitkyk op die toekoms en en die rol van hoop”. Ons sal hiertydens rondom hierdie knooppunte bestek opneem en besin oor ‘n pad vorentoe.

Die seminaar vind vanaf 08:30 tot 16:00 by Zambezi Lodge in Montana, Pretoria plaas. Vanaf 17:00 hou ons ‘n skaapbraai en kuier weer lekker saam. Die seminaarfooi is R195 per persoon en die braai se koste R130 per persoon. Vir navrae of besprekings kontak Corlia Reitmann by corliareitmann@telkomsa.net

DIE NHN SE NUWE POSLYS (EN WEBBLAD)

Ons nuwe webblad is aktief, hoewel daar nog groeipyne is. Jou kommentaar hierop sal verwelkom word.

Om in die toekoms kennisgewings van die NHN se aktiwiteite te ontvang, moet jy op ons nuwe webwerf registreer by https://www.nuwe-hervorming.co.za/argief/?page_id=67  Die vorige poslys is nie meer aktief nie.

 

NHN-groete

Johan Talma (nms NHN UK)