1. INLEIDING: MANS IS VAN MARS EN VROUE IS VAN VENUS

Die vertrekpunt in een van die populêrste boeke van ons tyd Men are from Mars/Women are from Venus, geskryf deur die Amerikaner John Gray, is dat mans en vroue onherroeplik van mekaar verskil. Om hul verhoudingslewe te verbeter en die manlike en vroulike rolle te beoefen, is dit volgens hom allereers nodig dat mans en vroue dié verskille erken en dán probeer uitwerk hoe hulle gelukkiger kan saamleef.

 

Uit die populariteit van Gray se selfhelpboek en die alledaagse diskoerse oor die “ware aard” van mans/seuns en vroue/meisies kan mens aflei dié soort opvatting word nog wyd gehuldig.

 

‘n Mens kan Gray se boek dan verstaan as die maksimalisering van verskille tussen mans en vroue en dat man-wees in die 21 ste eeu  slegs verstaan kan word as dat mans volledig anders as vroue is.

 

Ek wil dié algemeen aanvaarde idee anders inklee deur te sê man-wees kan net verstaan word in die konteks van vrou-wees en die geskiedenis wat aan die opvatting oor radikale verskille beslag gegee het. Eers as ons dit in hart en niere begryp, sal ons begin verstaan wat man-wees in die 21ste eeu kan wees.

 

My vertrekpunt is dat die oënskynlik onherroeplike verskille tussen mans en vroue wesenlik  stereotiperings is waarvan die oorsprong vêr terug in die mens se geskiedenis lê. Soos met alle stereotiperings die geval is, is hulle nie noodwendig volledig onwaar nie, maar kom neer op oorveralgemenings wat ander moontlikhede verswyg of onderdruk.

 

  1. BIOLOGIE VAN MAN-WEES

Die elementêre biologie van man-wees – dat die man sterker, vinniger en kragtiger as die vrou is – moet alleers geplaas word in die raamwerk van ‘n oerbeeld wat tegelyk die mistiek van en die beweerde verskille tussen mans en vroue onderlê.

 

Die oerbeeld: Die man het die vrou geneem, sy saad gestort en sy het dit ontvang. ‘n Kind is verwek en word deur die vrou gesoog en versorg, en dit is die manier wat vas en klaar deur die “natuur” gegee is.

 

Hou in gedagte vir ons gesprek dat dié biologiese gebeure of feit steeds verstaan word as as die rudimentêre grondslag van man-wees en vrou-wees.

 

Hoe beleef vroue dié rudimentêre toedrag? Naas vroue wat dit as ‘n onveranderbare lewensfeit aanvaar, is daar ander moontlikhede. ‘n Voorbeeld:

 

‘n Vroue-karakter in ‘n roman reflekteer by haarself en verlang na “iets meer” van vrou-wees en in die verhouding tussen man en vrou na eeue se ondergeskiktheid, binne die raamwerk van genoemde oerbeeld. Sy verlang daarna om by die man wat sy liefhet ‘n kind te hê wat in haar ‘n “onnoembare honger” sal stil. En vervolg dan:

 

“Dié wond. Hoe deurdringbaar is ek. Vrou. Sou ‘n man dit ooit waaragtig begryp? By hom is alles uitwendig; alles hang uit; steier driftig omhoog. Maar ek moet my oopstel, moet hom veroorloof om my in te dring, in my self in, van buite-af, in. Ingeneem soos ‘n stad. ‘n Bres in die muur. En dat ek nie daarsonder wil nie, nie kan nie, maak dit erger.”

 

‘n Mens sou ure oor die betekenis van hierdie sin kon praat. Dit is ‘n vrou (Andrea Malgas) wat praat, maar die skrywer van die roman is ‘n man – André  P. Brink in die roman, “Die Muur van die Pes.” Wat wel iets sê oor die moontlikheid van begrip – om die posisie en ervarings van ‘n ander mens (‘n vrou) empaties en verbeeldingryk jou eie te maak.

 

In ‘n heel ander trant lamenteer die digter Marge Pierce met sinisme oor dié oerbeeld en sy implikasies in die gedig “Meaningful exchange”:

 

The man talks

the woman listens.

The man is a teapot

with a dark green brew

of troubles.

He pours into the woman.

she carries his sorrows away

sloshing around in her belly.

 

The man swings of lighter.

sympathy quickens him.

He watches women pass.

He whistles.

 

The woman lumbers away.

Inside his troubles are

snaking up her throat.

Her body curls delicately

about them, worrying, nudging

them into some new meaningful shape

squatting now at the very centre of her life.

 

How much lighter I feel,

the man says, ready

for business.

How heavy I feel, the woman,

says: this must be love

 

Kom ons toets hierdie oerbeeld van radikale verskille aan genetiese gegewens. Volgens dr. David Page van die Whitehead-instituut vir biomediese navorsing in Amerika is mans en vroue geneties eintlik baie eenders. Wat dus geneties in die man is, is ook in die vrou aanwesig. Die enigste werklike verskil lê in die 23ste geslagsbepalende chromsoompaar (XX = vrou en XY=man) wat die unieke geslagskenmerke en kragverskille van vrou en man voortbring, hormonale verskille en asook seksuele oriëntasie wat kan manifesteer in heteroseksualiteit en homoseksualiteit.

 

 

Dit is so dat mans na verhouding meer testosteroon (of androgeen) produseer en vroue meer estrogeen. Maar dié hormone, asook ander, is nie uniek aan net man en vrou nie. Dit wat in die man is, is ook in die vrou. Hoe hierdie hormone verband hou met gedrag wat as tipies “manlik” (byvoorbeeld aggressief en mededingend) en tipies “vroulik” (byvoorbeeld onderdanig, versorgend en sag) beskou word, word egter sterk beïnvloed deur roltoewysings en verwagtings kenmerkend van die stereotiperende patriargale diskoers.

 

Genetiese ooreenkomste tussen man en vrou het bepaalde implikasies. Só byvoorbeeld reken bioloë/sielkundiges soos Rose, Lewontin en Kamin dat al is dit so dat net ‘n vrou geboorte kan gee en soog, is die idee dat vroue kinders móét versorg, vertroetel en grootmaak ‘n patriagale voorskrif en nie ‘n biologiese noodwendigheid nie. Mans sou die grootmaak van kinders ook kon doen in ‘n samelewing wat dit aanvaar en goedkeur.

 

En verder dat mans en vroue se seksuele identiteitsontwikkeling, ongeag die geneties-bepaalde seksuele kenmerke en hormoonvlakke, van die vroegste ouderdom af  ten nouste verband hou met sielkundig-kulturele verwagtings en norme. Susan Greenfield, ‘n professor in sinaptiese farmakologie, sluit hierby aan deur te sê daar is baie “oorywerigheid” by mense wat glo jy is wat jou genetika voorskryf. By wyse van spreke reken diesulkes genetika het die man onherroeplik tot “Mars” en die vrou onherroeplik tot “Venus” verban. In terme van die voorafgaande uiteensetting blyk dit nie sonder meer geldig te wees nie.

 

Volgens Greenfield geld juis die teendeel as ‘n erkende wisselwerkingsbeginsel in ag geneem word, naamlik: Hoe hou ‘n bepaalde geen, ook dié wat met seksuele identiteit te make het, verband met die funksies van 1 miljoen ander gene, 100 000 voortdurend wisselende breinverbindings en insette uit die omgewing (dinge soos kulturele voorskrifte, verwagtings en norme)?

 

  1. STEREOTIPERING VAN MAN-WEES

Teen die agtergrond van die gevestigde oerbeeld en die relativering daarvan op grond van genetiese getuienis, is die vraag hoe die idee van ‘n “ware man” en ‘n “ware vrou” wat elk volledig anders is, so ingeburger geraak het as ‘n natuurgegewe?

 

‘n Soort antwoord moet gesoek word in die wyse waarop die biologiese feit van manwees en vrouwees in die mens se geskiedenis omgewerk is tot patriargale ordening, die verset daarteen en die gesamentlike konsekwensies daarvan.

 

Wat gebeur het in die eeue-oue ontplooiing van die verhouding tussen man en vrou is dat die biologies-gegewe en opvallende groter fisieke krag van die man geneem is as die verwysingspunt vir seksuele en ander roltoewysings aan man en vrou.

 

Saam daarmee het ‘n diskoers ontstaan wat oor die eeue tot vandag toe verfyn is en voorskryf wat die verskille tussen mans en vroue is. Dié diskoers dikteer dan wat die “ware aard” van man en vrou is  – soos dit gedra word deur ouerlike opvoeding (seun, wees soos pa; dogter wees soos ma), huweliksberading, huweliksformuliere, die populêre raadgeebedryf in glanstydskrifte, in TV-sepies en rolprente, in advertensies en deur grappies rondom teetafels, braaivleisvure en in kroeë. En dit sluit in hoe mans en vroue hul seksuele identiteit, en alles wat daarmee saamgaan, móét beleef en tot uitdrukking mág bring.

 

In die proses is manwees en vrouwees gestereotipeer volgens die opvatting dat die verskille tussen hulle biologies bepaald is. Vandaar die vele stereotipes oor eksklusief manlike eienskappe – selfgeldend, mededingend, avontuurlik, aggressief, onafhanklik, rasioneel en taakgerig. En insgelyks eksklusiewe vroulike eienskappe – dat hulle sensitief, sag, ondersteunend, simpatiek, afhanklik, lief vir kinders, emosioneel en mensgerig is.

 

Wat interessant is, in ‘n moderne perspektief, is navorsing wat sê dat dié stereotipes tot vandag toe nie wesenlik verander het nie en steeds die “tradisie” is.

 

Saam met sterotipering kom normgewende stellings soos: ‘n Vrou/man se plek is tog….; Vroue/mans kan tog nie dieselfde….; my vroulike intuïsie sê; my manlike ego dikteer…; ensovoorts. Sulke opvattings oor die inherente biologies-gegewe eienskappe van mans en vroue word subtiel van geboorte af ingeskerp, en algaande word seuns en dogters in ‘n knyptang geplaas om te leef volgens die verwagtings én die illusies rondom “dienende Martha’s” wat maar mag huil as hulle so voel en “verowerende Sarels” wat dapper moet wees en nie mag huil nie.

 

Is mans bewus daarvan hoe hulle gestereotipeer word? Dat dit hulle in ‘n knyptang plaas van die opvatting dat jy ‘n man is omdat jy jou soos ‘n man gedra – waar die gedrag voorgeskryf word? En dat die stereotipering tot hul skade is?

 

Ek het geen twyfel dat dit al meer die geval word nie. Twee voorbeelde – albei tragies-komies. In sy roman “Voor ek vergeet” skryf André P Brink: “Ek kan die dae onthou wanneer geluk daaruit bestaan het om in ‘n modderkol op die rugbyveld in die grond ingeboor te word en byna verdrink te word in 5cm modderwater, met vier of vyf of agt man wat bo-op my sit en my enkels draai of knieë in my lieste druk of my balle probeer verpulp of happe uit my ore byt of in my gesig poep. Dit was mos waarom manwees gedraai het; het dit sin en substansie daaraan verleen, dit was die lewe.”

 

Plaas hiernaas die gedig van Jan de Bruyn (wat onlangs oorlede is) waarin hy dink oor die begrafnis van sy ma:

 

Maar in die skare stilte

Was sy nêrens nie

Later het dit wel weer dag geword

‘n more vreemd vol son en duiwe

in die bome

maar in dieptes gans verlore

het ek onder gesang

ver agter snikke en stemme afgedaal

en in ‘n sakdoek wat my moeder lank gelede

met ‘n ander weggaan

in my hand gedruk het

het ek weer soos ‘n kind

maar onhoorbaar soos ‘n man

in haar arms gehuil.

 

Huil, ja – maar onhoorbaar soos ‘n man (dit behoort te doen).

 

  1. DIE OORHEERSENDE NORMGEWEWENDE EN MEDEDINGENDE DISKOERSE OOR MAN-WEES

Ek het heel aan die begin gesê stereotiperings is nie noodwendig volledig onwaar nie, maar kom neer op oorveralgemenings wat ander moontlikhede verswyg of onderdruk.

 

Vir die stereotiperings oor man-wees (en vrou-wees) gebruik ek die sterk begrip “fabrikasie” waarmee ek sê stereotiperings is wesenlik uitgedinkte opvattings wat algaande opgeneem word in ‘n normgewende diskoers wat dikteer, soos onse Steve Hofmeyr sou sê: “Dis hoe dit is.”

 

En onthou dat stereotipes kragtige vormers van gedrag is. Hulle skep verwagtings, wys rolle toe en word algaande selfvervullende profesieë. Jy word algaande wat ander van jou sê en dink, soos Goethe op ‘n keer gesskryf het.

 

Waar kom die fabrikasies vandaan? Ek het reeds in die verbygaan verwys na patriargale lewensopvattings. Waarmee die man hiërgies hoër geplaas word as die vrou wat ‘n ondergeskikte posisie laer af in die hiërargie beklee.

 

Die Franse filosoof Jacques Derrida toon aan dat die ganse westerse filosofiese en populêre denktradisie daarop gemik was om die werklikheid in terme van begrippe-skemas te verstaan of ontleed wat op die keper beskou uit taalmatige, binêre opposisies bestaan: Byvoorbeeld:

 

Man/vrou

Vader/moeder

Manlikheid/vroulikheid

Onafhanklikheid/afhanklikheid

Mag/onmag ensovoorts

 

In vele sulke opposisies is dit die versweë veronderstelling dat daar ‘n hiërargiese orde is. Dit beteken dat die eerste term in enige gegewe begrippe-paar (soos man/vrou; vader/moeder; onafhanklikheid/afhanklikheid) ‘n positiewe betekenis het en waardevoller is, terwyl die tweede term (soos vrou; moeder; afhanklikheid) ‘n negatiewe betekenis het en as minder waardevol geag word en dus geringskat kan word.

 

Mens sou kon argumenteer dat dié soort hiërargiese voorstelling tot groot mate beslag gekry in die Judaïes-Christelike tradisie, soos dit onder andere in die Bybel aangeteken staan, en wat nog steeds as basis dien vir die normgewende diskoers.

 

Om maar een voorbeeld te noem: die verhaal van Ahasveros en Vasti in die boek Ester. Lees dit gerus.

 

Dié soort patriargale uittings kan vermenigvuldig word uit die Bybel en so ook die toepassing daarvan in die hedendaagse wêreld. Maar terselfdertyd moet mens byvoeg dat daar vele teenvoorbeelde in die Bybel is wat daarop dui dat die patriargie toe al uitgedaag is. So, die verset kom van vêr.

 

‘n Sleutelkenmerk van ‘n patriargale hiërargiese opstelling van die wêreld en sy dinge is dat taal ‘n magtige instrument word om die hiërargie in stand te hou.

 

Daar is talle taalvoorbeelde van ‘n hiërargies opgestelde, manoorheerste wêreld. Verwys na Dale Spender se werk “Man made language” wat in die 1980’s verskyn het en waarin sy aantoon hoe mans die gebruik van taal manipuleer en tot eie voordeel aanwend – op die versonderstelling dat mans “op die man af” praat en dat vroue net klets.

 

Vervolgens bepaal ek my by twee konkrete voorbeelde – idiome of spreekwoorde en limericke.

 

In haar boek “Source of all evil: African Proverbs and sayings on women” toon Mineke Schipper in ‘n ontleding van tagtig Afrika-tale aan dat daar ‘n oorwig van negatiewe spreekwoorde is wat vroue voorstel as die bron van alle kwaad; dat hulle soos duiwels is en ‘n las op die man plaas. Terselfdertyd is daar relatief min spreekwoorde oor mans – wat beteken dat vroue se swye en mindere plek ‘n vanselfsprekendheid is en waar mans in beheer van die taal is.

 

Sulke spreekwoorde word algaande die gangbare volksielkunde, wat onveranderlik bepaal hoe vroue is, hoe hulle hul moet gedra en hoe daar met hulle gewerk moet word. Soos ‘n Shona-spreekwoord inderdaad sê: die een wat beheer het oor spreekwoorde kry sy (sic) sin.

 

Maar die taalstorie geld, nie verrassend nie, wyer as Afrika. In die “Penguin Dictionary of Proverbs” se 187 kategorieë word een hele kategorie gewy aan vroue, maar daar is nie ‘n aparte kategorie waarin mans getipeer word nie.

 

Die spreekwoorde oor vroue word onder dertien opskrifte aangebied – meesal negatief. Daar word uitgewy oor die gevaar van die vrou, haar wispelturigheid, impulsiwiteit, huigelary, haar trane, gebrek aan wysheid, beperkte redeneervermoë, haar tong, behoeftes en pligte. Dan is daar ‘n hele groep spreekwoorde oor hoe mans vroue moet hanteer.

 

Dieselfde patroon kom voor in die “Penguin Book of Limericks.” In die voorwoord word verduidelik dat limerick se sêkrag in die speelse, stout of kru onfatsoenlikheid daarvan geleë is.  Wat insiggewend is dat die wese van ‘n limerick met die vrou vereenselwig word. In die woorde van die manlike spreker, Morris Bishop:

 

The limerick is furtive and mean

You must keep her in close quarantine

Or she sneaks to the slums

And propptly becomes

Disorderly, drunk and obscene

 

Al meer vroue is vandag intens bewus van die dominante manstaal waarmee hulle getipeer word en tot mindere mense gereduseer word. Vandaar werke soos Alicia Ostrikert se boek met die veelseggende titel “Stealing the language” waarin gepoog om anders oor vroue te praat en nuwe lewensmoontlikhede vir vroue én mans te bedink.

 

Ook in Afrikaans word die “steel” van die taal deur vroue sigbaarder. In die verhaalbundel deur vroue-skrywers Vrou:mens ,saamgestel deur Corlia Fourie (1992), is die invoeging van die leesteken ná “vrou” beduidend. Want vrou dubbelpunt mens beteken dat die enigsins pejoratiewe betekenis van die samestelling “vroumens” gerelativeer word – soos dit gebruik word in die (manlike) versugting: “Ai, julle vroumense darem.”

 

Die leesteken vestig die aandag op ‘n onlosmaaklike verband  tussen die begrippe; dat die identiteit “vrou” allereers verstaan en verduidelik moet word binne die kader van die identiteit “mens.” Dus: dat “vrouwees” nie begryp moet word in teenstelling met, of in ooreenstemming met “manwees” nie, maar allereers as  “menswees.”

 

In ‘n Klaaglied vir Koos deur Lettie Viljoen, oftewel Ingrid Gouws (1984), dink die verteller hoe moeilik dit is om haar van haar man los te maak ná jare se passiewe vereenselwiging met sy beskikkingsmag en denkwyses: “… na haar man se vertrek is sy sonder identiteit, is sy naamloos, is sy verward: ‘My liewe man, jou bitter en swart venyn was my verwysingsraamwerk…’ En dan wens sy dat dit anders was: ’As ek toegang gehad het tot ‘n ondergrondse/subversiewe/alternatiewe diskoers om jou posisie aan te dui. As ek dan voorts my beperkte posisie kon oorskry/oorstyg deur die gebruik van hierdie subversiewe/alternatiewe taal…’ ”

 

Juis die taal word die instrument om vroue se identiteit as mens te bevestig en van daaruit verkennings te doen oor ‘n nuwe ervaring van hul waarde, hul liggaamlikheid met insluiting van erotiese en seksuele begeertes, en die verset teen patriargale opvattings daaroor. In dié verband verteenwoordig byvoorbeeld Alicia Ostriker se Stealing the language; die bundel Ladies’ Home Erotica (1984); en die Afrikaanse versamelbundel van gedigte Die dye trek die dye aan (1998) – waarin mans en vroue bydraes lewer oor “lyflike liefde” –  betekenisvolle, grensverskuiwende uitdrukkings van erotiese taalontginning deur vroue.

 

Wat al hierdie dinge sê, is dat daar algaande ‘n mededingende diskoers ontstaan het wat deur vroue, en soms ook deur mans, gevoer word en wat patriargale opvattings en praktyke in elke lewensfeer toets en uitdaag.

 

Twee belangrike vorme van uitdaging kan getipeer word as regstellende en omverwerpende feminisme:

 

Eersgenoemde is eerstens onthullend van aard deurdat dit vroue se pyn, lyding, onmag en ontnemings blootlê. Soos Anne Bradstreet dit in 1650 digterlik gedoen het, en daarmee ‘n metafoor bied oor hoe die wêreld van vroue was en te dikwels nog is – in die privaatheid van die familielewe, in sosiale kringe en in die werkplek:

 

I am obnoxious to each carping tongue

Who says my hand a needle better fits.

If what I do prove well it won’t advance,

They’ll say it’s stolen, or else it was by chance.

 

Tweedens is regstellende feminisme proaktief eerder as reaktief. Waarmee vroue met gepaste drif sê: ”Ons hou nie van die manier waarop die sisteem werk nie. Dit maak ons seer. Dit benut nie ons vermoëns nie en laat ons sonder mag. Ons gaan dit verander en vra mans om ons te help.”

 

Die Suid-Afrikaanse grondwet wat aan vroue politieke, ekonomiese, seksuele en artistieke gelykheid toeken, is ‘n produk van samewerkende proaksie. Maar dit is nie ‘n volmaakte instrument nie. Regstelling moet ‘n leefwyse word.

 

Hierteenoor word omverwerpende feminisme gedra deur ‘n woedende reaktiewe gees van wrewelrigheid, blamering en ‘n begeerte om oor mans te triomfeer – die bordjies te verhang; dat Derrida se hiëragiese voorstelling as’tware omgekeer word met “vrou” as die eerste en positiefste term. Met die uitgangspunt dat vroue onskuldige slagoffers is van ‘n historiese en voortgaande manlike komplot.

 

Daar is vele variasies op dié tema waarin vroue voorgestel word as selfgenoegsame, onafhanklike wesens. Só byvoorbeeld skryf Sally Gearhart (in The Future – if there is one – is Female) elke kultuur moet ‘n vroue-toekoms beaam; vroue moet die verantwoordelikheid neem vir die voortbestaan van homo sapiens; en die getal mans moet verminder word tot 10% van die menslike ras; as’tware ‘n klein “teelpoel” vorm.

 

Sulke aansprake waarin vroue voorgestel word as die “redders” en mans as die “probleem” ondermyn vroue én mans se proaktiewe suksesse. Juis omdat dit dikwels water op die meul is van mans én vroue wat openlik of heimlik verkies dat die ou patriargale orde van mans maghebbend “bo” en vroue onderdanig “onder” gehandhaaf word.

 

Welmenende vroue én mans moet hulle hierteen verset. ‘n Beter bedeling vir vroue moet ‘n onstuitbare krag word; ‘n krag wat terselfdertyd die geheim van mans en vroue se gesamentlike menswees bevestig.

 

Saamgeneem sê dié dinge die volgende: Slegs wanneer mans kennis neem van die aard van die normgewende diskoers oor mans en vroue, hoe dit tot stand gekom het en in stand gehou word, en hoe dit hul menswees beperk, kan daar sprake wees van nuwe moontlikhede vir man-wees en vrou-wees in die 21ste eeu.

 

Voor ek ‘n paar dinge sê oor die nuwe moontlikhede vir man-wees in die 21 ste eeu eers ‘n nuttige en speelse gevallestudie om die beleërde man van ons tyd wat nog steeds in die kader van patriargie vasgevang is, te verken. Ek noem dit: man, motor en testosteroon.

 

  1. MAN, MOTOR EN TESTOSTEROON

Is dit ‘n oorwegend  mansding – om agter die stuurwiel van ‘n motor ‘n voortsnellende, aggressiewe “Mnr. Hyde” te word terwyl die skafliker “Dr. Jekyll”-persoonlikheid by die huis agterbly? Snelstrik en waagstuk keer hom nie en word hy blokkeer, borrel dinge soos doodsveragtende spoed en woede uit ‘n fontein van testosteroon.

 

Dié vraag kom gereeld by ‘n mens op wanneer jy die jongste berig lees oor ‘n jaagduiwel wat sy rieme styfgeloop het. Gereeld hoor mens van voorvalle waarin mans aangekeer word omdat hulle teen duiselingwekkende spoed gejaag het, of aan straatwedrenne deelneem. Om nie eens te praat van padwoedevoorvalle wat so gereeld soos klokslag voorkom en nou en dan ‘n lewe eis nie.

 

Dié soort verbintenis met hul motor is sekerlik nie waar van alle moderne mans nie. Maar statistieke lieg nie. Dit is inderdaad oorwegend mans wat motor- en jaagbehep is en weet van “petrol in my hare, petrol in my oë” en “koue, koue Caltex in my voet”, soos die digter George Louw skryf in “Die duister doel”.

 

Die spoed maak my gedagtes los,

ek speel die spel met ligte,

met petrol in my hande en bang

bang jare in my hart

 

Die verklaring hiervoor lê in ‘n ineenstrengeling van genetiese, sielkundige en kulturele faktore wat saamwerk om man en motor ineen te rank – soos siel en liggaam.

 

Sam Keen, ‘n bekende skrywer oor die rites van manlikheid, reken mans het evolusionêr ‘n “krygerpsige” bekom. Dit sê mans het ‘n groter biologiese kapasiteit vir aggressie en vyandigheid wat in woede kan omsit. Dit word onder meer bepaal deur die manlike hormoon, testosteroon, wat sinoniem is met hoër aggressievlakke, impulsiwiteit en ‘n behoefte aan stimulering.

 

Daarby hou testosteroonvlakke ook verband met die afskeiding van ‘n bepaalde breinensiem (monoamienoksidase) wat weer verbind word met risikoneming, ‘n voorkeur vir spoed en allerlei soorte prikkelsoekende en antisosiale gedrag.

 

Maar dié geneties gegewe “gereedhede” word ook aangewakker deur eeue oue patriargale kulturele opvattings oor die aard en uitlewing van “ware manlikheid”.

Soos om die ganse lewe (ook die pad) te sien as ‘n strydperk waar van die man verwag word om beheer te neem; heroïes op te tree; avontuur, gevaar en opwinding te soek; kragdadigheid tot ‘n deug te maak; mee te ding; en om die man se sagter vroulike moontlikhede te onderdruk.

 

Die motorbedryf is radarsekuur op dié krygerpsige ingestel. Al in 1909 – enkele jare nadat Ransom Eli Olds die eerste massavervaardiger van motors (die Oldsmobile) geword het – skryf Filippo Marinetti in sy “Futurist Manifesto” só oor die komende versmelting van mens en masjien, van man en motor:

 

“We shall sing a hymn to the man at the wheel who hurls the lance of his spirit across the earth, along the circle of its orbit…The world’s magnificence has been enriched with by a new beauty; the beauty of speed. A roaring car… is more beautiful than the Winged Victory.”

 

Dié verband tussen man, motor, krag en potensie het in die l950’s in die VSA ‘n soort kultus geword. Groot en kragtige Amerikaanse motors soos die Mercury Marauder, die De Soto Adventurer, die Buick Roadmaster en die Nash Lafayette is ontwerp om deur werkverrigting en spoed die man te oortuig dat hy agter die stuurwiel, a la die simboliek van vader Freud, sy vrees vir seksuele impotensie kan besweer en fantasieë van kragdadigheid kan uitleef.

 

Al is die motorbedryf nou veel meer ingestel op prys, brandstofverbruik en veiligheid, gebruik motorreklame steeds die “taal van manlikheid” om die versmelting van man en motor te in te skerp. Vandaar frases soos die “wegblaaskrag uit die blokke”, “rillings langs jou ruggraat”; die “polsing van adrenalien met elke ratverwisseling”; en dat “net jou hartklop dié enjin kan klop.”

 

En vroue word nog steeds in advertensies gestereotipeer as die geïmponeerdes wat blinkoog lam in die knie raak en “oe” en “a” oor die polsende man met sy slank, glansende, sidderende motor. Daarmee kom die simboliese suggestie van die samehang van man, motor, vrou, erotiek en viriliteit. Alles deel van die gestereotipeerde verhoudingspel met die man as seksuele “jagter” (ook agter die stuur) en die vrou as die wagtende, ontvangende “prooi.”

 

Wat dit alles sê in die breë sê, is is dat ‘n motor steeds vir baie mans die vervulling van die manlike krygerpersoonlikheid is; ‘n territorium van mag, seksuele fantasering en vertonerige kragdadigheid.

 

Maar die einste manlike krygerpsige is in die moeilikheid. Enersyds is daar steeds samelewingskragte wat die uitlewing van die krygerpsige aanpor. Maar andersyds word dit toenemend gediskrediteer en word mans aangemoedig om ander opvattings oor manwees, buite die patriargale voorskrifte, te huldig.

 

Vele mans beleef dié “nuwe bedeling” as ‘n aantasting van hul manlikheidsbegrip en beleef ‘n rolverwarring – ook in hul tradisionele seksuele jagterrol. Ander is doodgewoon in verset teen wat hulle beleef as “ontmanning” en dra ‘n streslas van algemene ongelukkigheid en ‘n lewenswoede wat na binne gekeer is.

 

Hierby kan gevoeg word samelewingstres in veelvuldige vorme – soos politieke onmag, die effek van regstellende aksie, die druk om self werk en ‘n inkomste te skep, ‘n algemene gejaagdheid, die toenemende paddrukte in spitstye, gevoelens van onveiligheid weens misdaad en ‘n somber toekomsvisie oor hulself en die gesin.

 

Saam gelees, beteken dié toedrag dat baie mans op pad werk toe, selfs tydens vakansies, met psigiese “bagasie” in hul motors klim; dat hulle versamelde lewenswoede hul stresweerbaaheid tot die uiterste toe beproef en besonder vatbaar maak vir roekelose padgedrag en alles wat daarmee saamgaan.

 

In sy essay “Die Vakansieganger” skryf Etienne van Heerden oor die “die pa met witgeklemde kneukels agter die stuur. Hy sit vooroor geboë; die motor ‘n verlengstuk van sy moeë oujaarslyf. ‘n Jaar van uitputting is op sy motor se dakrak opgedoek…”

 

Die pa se oë trek stip om één gedagte. Hy moet tot elke prys ‘n ander motor verbysteek. Want dít “word alles wat hom in die loop van die jaar in die weg gestaan het: stiksienige base, vrot kliënte, onbetroubare kollegas, misdadigers.”

 

Sam Keen sluit hierby aan met sy beskrywing van die gestresde manlike motoris: “So men, the designated warrior, gradually form “character armour’, a pattern of muscular  tension and rigidity that freezes them into the posture that is appropriate only for fighting – shoulders back, chest out, stomach pulled in, anal sphincter tight, balls drawn up into the body as far as possible, eyes narrowed, breathing foreshortened and anxious, heart rate accelerated, testosterone in full flow. The warrior’s body is perpetually uptight and ready to fight.”

 

Wat mens wil laat vra: Waarheen is jy op pad, meneer? Wat is jou haas?

 

Daarmee die vraag: is daar nuwe moontlikhede van man-wees?

 

  1. NUWE MOONTLIKHEDE (“FABRIKASIES?”) VAN MAN-WEES

Ek reken dat die voorafgaande verduideliking van die herkoms van fabrikasies oor man-wees – soos dit in die bondgenootskap van biologie en patriargie gevestig geraak het en die dekonstruksie daarvan – inderdaad nuwe moontlikhede open. Waarskynlik is die nuwe moontlikhede ook maar fabrikasies, maar met ‘n belangrike verskil: dat dit vir mans moontlik geword het om buite die dwangbuis van patriargie ander maniere van man-wees te bedink en te beoefen; nuwe rolle te aanvaar sonder om te vra of jy daardeur minder man word.

 

Tekenend hiervan is die toenemende kultuur van “androgenie”. Dit kom daarop neer dat daar mans en vroue is wat nie in die tipiese patroon van manlikheid en vroulikheid pas nie, en aldus manlike sowel as vroulike eienskappe en gedrag vir hulself toe-eien – soos dit byvoorbeeld na vore kom in kleredrag en algemene voorkoms.

 

‘n Voorbeeld hiervan is, volgens leefstyltydskrifte, die sogenaamde “metro-man” of  “metroseksuele” man – ‘n heteroseksuele man wat “in kontak” is met sy vroulikheid en na sy vel en voorkoms omsien en juweliersware dra. Die akteur Tom Cruise en die sokkerster David Beckham is bekende voorbeelde.

 

Dan is daar die überman – modebewus maar wat nog steeds ‘n dapper krygerpsige het, rugby kyk op Saterdaemiddae, maar darem oor dinge soos kuns, gedigte en kubisme kan en wil praat.

 

Natuurlik is daar opposisie hierteen uit die geledere van die retroman of grotman (ook retrovroue en grotvroue) wat steeds in die patriargale kultuur wil floreer en dit tot elke prys in stand wil hou.

 

In ‘n sekere sin is al die genoemde nuwe moontlikhede oppervlakkighede wat nie die dieperliggende bestek van man-wees in die 21 ste eeu betrek nie. Daarom ‘n paar gedagtes rondom die begrip deelnemingsmistiek as die bron van man-wees, vrou-wees en mens-wees in die 21ste eeu.

 

Deelnemingsmistiek behels die hereniging van die vermeende teenoorgesteldes (man en vrou); dat die misterie van man en vrou herwaardeer moet word; dat mans en vroue grondliggend eenders en anders is binne die bestek van argetipiese moontlikhede – die animus en die anima waarna Carl Jung al lank gelede verwys het, maar nie tot wasdom in lewenspraktyk gekom het nie.

 

Waarin lê die ontdekking van nuwe moontlikhede? Miskien lê dit in kommunikasie en emosionele intimiteit. Hieroor skryf Lorraine Becker: “ Kommunikasie (tussen man en vrou) is ontsettend belangrik…elkeen van ons is ‘n engel met net een vlerk – om te kan vlieg moet ons aan mekaar vashou. Naas ‘intercourse’ is daar ook ‘outercourse.’ Wat, saam geneem, die dinge is wat man en vrou se liggaam en gees verenig en in ewewig hou.

 

Emosionele intimiteit is dié eienskap wat meebring dat man en vrou nie net mekaar aanraak in fisieke nabyheid nie, maar mekaar ook in emosionele nabyheid vind. Om daardeur die “heilige grond” van ‘n ander se binnewêreld met respek, agting, deernis én verwondering te betree. Want dan hoor jy in die ander se nood en verlangens ook joune, en word joune deur die ander gehoor. Om daarmee waar te maak wat die filosoof Wilhelm Dilthey op ‘n keer gesê het: verstaan is die terugvind van jou in my.

 

Dít bring die “verbinding” tussen man en vrou en is die diepste sin van “intercourse” wat deur ‘n “outercourse” gedra word. En daaruit kom nuwe horisonne oor man-wees en vrou-wees.

 

Kommunikasie en emosionele intimiteit waardeur man en vrou uitreik na mekaar  loop uit op en word versterk deur die voorneme om volslae verbonde en toegewyd aan mekaar te wees. Hierdie eienskap behels ‘n fundamentele vertroue dat onderlinge bystand ‘n werklikheid is waarop man en vrou kan reken – bystand in al die vorme waartoe die onderlinge weet en verstaan van mekaar kan lei: om mekaar te versorg; om verby gebreke en weerloosheid mekaar se krag en weerbaarheid raak te sien; hulp te verleen; rolle te ruil; te troos; te beskerm; en te vermaan. Dan hoef jy nie te vra: is dit wat ‘n man of ‘n vrou behoort te wees nie. Dan is jy wat jy is en jy doen wat jy doen omdat jy dit wil doen en omdat dit nodig is.

 

Dié soort toewyding bring realisme in die verhouding tussen man en vrou; ‘n realisme wat verhinder dat hulle op loop sit met opgedroomde of voorskriftelike denkbeelde oor en verwagtings van mekaar.

 

Dit wat dan tussen man en vrou gebeur en wat beslag kan gee aan nuwe moontlikhede word dan soos ‘n kristal wat met elke beweging die betowering en die misterie van nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat. Dan is daar verassings en wendings wat die misterie van man en vrou bevestig en nooit laat ophou nie.

 

In sy kortverhaal Wife-wooing skryf John Updike (in Cochrane, 1969) met humor, deernis, weemoed, nabetragting, gelatenheid, vreugde, ergernis en verwondering hieroor. En roep terselfdertyd, enigsins vermom, die oerbeeld op waarmee ek my voorlesing vanoggend begin het – nie as ‘n “wond” nie, maar as “genesing.”

 

Hy vertel hoe hy en sy gesin op ‘n Sondagaand op die vloer sit en eet. En hoe sy vrou “toelaat” dat haar swart romp – dieselfde romp wat sy vroeër die dag gedra het toe sy klavier gespeel het by die Sondagskool – afgly van haar opgetrekte knieë en  haar dye en die “absolute geografie van haar lyf” blootlê.

 

Dan dink hy: “What soul took thought and knew that adding ‘wo’ to man would make a woman? The difference exactly. The wide w, the receptive o. Womb. In our crescent the children for all their size seem to come out of you towards me, wet fingers and eyes, tinted bronze. Three children, five persons, seven years. Seven years since I wed wide warm woman, white-thighed. Wooed and wed. Wife. A knife of a word that for its final bite did not end the wooing. To my wonderment.”

 

So al denkend en verwonderend begeer hy om by haar te wees, en hy help om alles op te ruim en die kinders in die bed te sit – “limitlessly patient, paternally good.” Later in die slaapkamer wil hy die lig afskakel, maar sy sê sy wil nog die boek lees wat haar fassineer: “No. Wait. Just till I finish this chapter. I’m sure there’ll be something at the end.”

 

En hy dink: “I lie against your filmy convex back.You read sideways, a sleepy trick. I see the page through the fringe of your hair, sharp and white as a wedge of crystal. Suddenly it slips.The book has slipped from your hand. You are asleep. Oh cunning trick, cunning. In the darkness I consider. Cunning…”

 

Dan in die oggend as hy wakker word, dink hy: “… to my relief you are ugly. Monday’s wan breakfast light bleaches you blotchily, drains the goodness from your thickness…The skin between your breasts a sad yellow. I feast with the coffee on your drabness. Every wrinkle and sickly tint a relief and a revenge. The children yammer. The toaster sticks. Seven years have worn this woman.”

 

Maar dan kom die aand. Die kinders slaap reeds en in die bed worstel hy in sy gedagtes met werksake. Dan: “You rustle the book…vanish upstairs into the plumbing; the bathtub pipes cry.  So I am taken by surprise at a turning when at the meaningful hour of ten you come with a kiss of toothpaste to me moist and girlish and quick; the momentous moral of this story being, An expected gift is not worth giving.”

 

Oplaas is die kapasiteit om lief te hê die onverwagte geskenk wat man en vrou ontvang het en weer en weer en weer aan mekaar teruggee – op maniere wat hulle nie begryp nie, maar waarsonder hulle nie kan leef nie. Omdat die liefde die grootste is – buite begrip, maar binne die bereik as mens jou hart daarop sit en bly wonder hoe dié

wonder bly.

 

Dit gebeur wanneer mans en vroue kan sê (Wilhelm Jordaan, 1987):

Kom ons stig ‘n maatskappy

ek en jy (een)

sonder winsmotief

besit ons niks.

Hê mekaar

net lief.

 

Dan staan man-wees, vrou-wees en mens-wees in die volle betekenis van die dubbelpunt  (: ) man:mens en vrou:mens as feesviering van menswees.