Kan ons ‘n nuwe Meesternarratief met ‘n nuwer, of beter verklaringskapasiteit daarstel?
“In die meeste Afrikaanse mense se lewensverhale speel die groot storie van die Christelike geloof ‘n beslissende rol. Elke oomblik van geboorte af word ingeweef in die verhaal van skepping, sondeval, verlossing en weersiens in die lewe hierna. Dis ‘n verhaal wat mense in ‘n sekere mate vervreem van die wêreld waarin hulle leef. Dis ‘n verhaal wat mense selfs van ander mense vervreem omdat hulle te vreemd is vir die raamwerk waarbinne die ander leef.
“Die Meesterverhaal van die Christelike geloof is ‘n verhaal wat mense afrig in onkritiese denke. Maar dit is ‘n sterk verhaal. So sterk dat ‘n hele samelewing daardeur gevorm en vervorm word. Om buite die raamwerk van hierdie verhaal te gaan staan en nuwe sin in die lewe te soek, bring noodwendig spanning mee. Spanning in jouself, spanning met die mense wat deel is van jou lewe en spanning met die groter wêreld waarin ‘n mens leef. Dit bring ‘n mens uiteindelik by die vraag of daar ‘n ander groot storie is waarbinne jy jou eie storie kan weef. Kan ‘n mens ná God en geloof weer sin in die lewe vind? Is daar ‘n groter storie wat die lewe beter kan verklaar as die geloof met sy potensieel misleidende karakter? Is daar ‘n God buite die geloof?”
(Die man aan die woord illustreer sy wroeging deur ‘n gedig wat hy geskryf het na ‘n selfmoordpoging en dood van ‘n vrou, sy eerste ervaring as jong leraar langs iemand so reddeloos.)

DIE SELFMOORD VAN DS DE WAAL
Om dood te gaan is maklik, sê dominee De Waal,
maar daar is mense wat onnodig moeite doen:

Glenda het die helfte van haar kop
met ‘n rewolwerskoot verpulp.
Hy het haar hand in Bara vasgehou
toe sy geveg het om te sterf.
En God sal weet hy het gebid
gebid gebid gebid
verby die bloed, verby die snot, verby die huil
tot by fokkol voel oor dood.

Liana het ‘n trekker langs die pad gekies,
haar skedel soos spanspek gekraak.
Hy het haar begrafnisdiens gelei
en God gevra hoe kan dit wees?
Die Here weet hy het gehuil
gehuil gehuil gehuil
verby die Woord, verby die graf, verby die hel
tot by fokkol voel vir God.

Nou meen hy doodgaan moet minder moeite wees.
Dis net ‘n kwessie van
gaan slaap, staan op, gaan slaap, staan op, gaan slaap
totdat jy jou doodverveel.

Die skrywer het vroeg in sy lewe reeds aan die bevraagtekening van die geykte begin toegee. Dit was vir hom noodsaaklik om na sin en waardes agter die algemeen aanvaarde te soek. Maar dit het hom ook in sy beroep as leraar en in sy persoonlike lewe meer spanning besorg as wat enigiemand vrywillig homself op die hals wil haal. Op ‘n manier het dit aanleiding gegee tot die “Groot Klag” wat ‘n groep lidmate teen hom by die Ring gelê het. En al is hy grootliks onskuldig bevind, het die spanning uitgekring en antwoorde hom steeds ontwyk. Daarom vra hy na ‘n groter storie, een wat die sin van die lewe beter kan verklaar as die geloof-storie met sy potensieel misleidende karakter.
“Aan die hand van my eie storie wil ek probeer om hierdie en ander vrae te beantwoord. Dalk vind dit ‘n interseksie met ‘n groter verhaal met meer betekenismoontlikhede.” Hy vertel van Socrates en die drie stappe waardeur die “unexamined life” (van die onnadenkende mens) tot ‘n nadenkende en eindelik na ‘n vertellende lewe en nuwe betekenismoontlikhede kan groei.
“Godsdiens is, wat my betref, soos ‘n 1001 Arabiese nagte. Net soos die koning van Persië se mooi jong vrou vertel alle gelowiges 1001 onvoltooide stories in ‘n poging om so die ‘Koning’ se nuuskierigheid te behou en sodoende te kan bly lewe.” Hy vertel dan drie stories uit sy eie lewe om moontlike skakeling te vind met ‘n groter verhaal, of dalk ‘n nuwe meesternarratief.
Hy herroep die nag voor die aanbreek van die jaar 2000, ‘n gebeurtenis wat met vele eindtyd-voorspellings en donkere teoriëe van verwoesting gepaard sou gaan. Sy hele familie was op die plaas bymekaar om die Nuwejaar in te wag. Die stilte van die laaste tien minute voor twaalf is geleidelik verdring deur die suising van wind en ‘n naderende storm. Meteens is die afwagting dramaties beëindig toe daar klokslag twaalfuur ‘n geweldige donderslag en kletterende haelbui neerkom – wat hom gedwonge laat wonder: “Here, was almal dan tog reg gewees?” Hy verduidelik: “Die meeste mense soek na lewensin. Daarom is ons so geneë om binne die skema van ‘n grand narrative in te glip.” Was dit vrees wat selfs ‘n nadenkende mens laat teruggryp na ‘n bekende narratief? Tog was hy op daardie tydstip steeds vasberade om as predikant te dien.
Maar as predikant het sy soektog na nuwe sin verdiep. Feitlik alle mense soek na sin, maar daar is so baie wonder en so min antwoorde. In sy vrae na ‘n mensliker lig begin hy al meer wonder: “Kan die wetenskap, met sy beter verklaringskapasiteit as godsdiens, die alternatiewe groter storie wees?” Dit bring ook groot spanning mee. Hy vertel van hoe hy gestoei het met die probleme van homofobie en ander gemeenskapsvraagstukke. Hy het self ‘n gay vriend gehad met wie hy nie wou stry nie. Hy wou die besware van die ‘homofobe’ op ‘n Christelike manier benader, maar al waarvan hy seker kon wees, was dat hy ‘n nuwe menslikheid bepleit, ‘n groter aanvaarding, die verdediging van die gemarginaliseerdes – en dat die wetenskaplike benadering ‘n groter verklaringskapasiteit het. “Maar die wetenskap is net ‘n raamwerk. ‘n Raamwerk is nie genoeg om ‘n grand narrative te wees nie.
“Elkeen van ons wat Afrikaans praat, selfs keurige Afrikaans, doen dit nooit bewustelik met die oog op die taalkundige vereistes agter elke sin nie. Die tegniese aspekte van taalkunde is net die raamwerk vir taal. Maar dit is nie poësie nie. Poësie gebeur nie as mens ‘n fundamentalistiese taalkundige is nie. Dit gebeur net as ‘n mens ‘n vertellende ingesteldheid het.
“Wetenskap is die taalkunde van die nuwe storie wat ek wil vertel. Hierdie Groter Storie is daar, of ek en jy dit nou erken, of ontken. Dit bly die basis van alle lewe. Swaartekrag, relatiwiteit, evolusie, of wat ook al, gebeur sonder jou of my toestemming. Maar ons storie gaan ons self moet maak. Ons gaan beautiful poetry moet maak.
“Die rede waarom ons gaan sukkel om poësie te maak is omdat vrydenkende mense en ateïste individualiste is. En individualisme dra die risiko dat ons in vergetelheid kan verval sonder om ‘n noemenswaardige bydrae tot die lewe te maak. Tensy ons bereid is om ‘n nuwe storie te skryf, een waarin die wetenskap die raamwerk is en die lewe die poësie.
Hy sluit af met die woorde van Sting se “If I Ever Lose My Faith In You”. Die woorde van veral die herhalende koortjie bevat die sleutel tot Izak du Plessis se slotgedagtes. Hy stel dit as ‘n soort persoonlike verklaring, sy vertroue in medemenslikheid as ‘n ewige verbintenis.

“If I Ever Lose My Faith In You”
You could say I lost my faith in science and progress
You could say I lost my belief in the holy church
You could say I lost my sense of direction
You could say all of this and worse but

If I ever lose my faith in you
There’d be nothing left for me to do

Some would say I was a lost man in a lost world
You could say I lost my faith in the people on TV
You could say I’d lost my belief in our politicians
They all seemed like game show hosts to me

If I ever lose my faith in you
There’d be nothing left for me to do

I could be lost inside their lies without a trace
But every time I close my eyes I see your face

I never saw no miracle of science
That didn’t go from a blessing to a curse
I never saw no military solution
That didn’t always end up as something worse but
Let me say this first

If I ever lose my faith in you
There’d be nothing left for me to do

Izak du Plessis