1.         Inleiding

 

Almal van ons vind ons self een of ander tyd in ’n lewensruimte waar die bekende antwoorde op lewensvrae net nie meer sin maak nie. Nuwe inligting, nuwe omstandighede, ’n krisis of gewoon net nuwe vrae bring ons op ’n plek van onsekerheid, ons planne werk nie meer uit nie.

 

Ek het die afgelope 3 jaar deur so ’n situasie gegaan. Ons het alles wat ons het, en ook nié gehad het nie, belê in ’n droom wat ons absoluut geglo het kom van ‘die Vader se hart’. Ons het geglo dat God is die outeur van ons droom, as ons bly glo en hoop sal Hy dit laat werk.

 

Onder die seile van geloof, hoop en liefde het ons die lewensoseaan aangepak op pad na ons droom. Aanvanklik het dit goed gegaan, die wind het saggies gewaai, en ons droom het gegroei ons was koersvas op reis. Die finansies was daar, die regte mense het gekom om te help en wanneer die storms opkom het ons daardeur geseil, vas oortuig dat niks verkeerd kan gaan nie.

 

Maar ten spyte van ons pogings en optimisme, het die storms net hewiger geword, en kort voor lank het ons on in ’n nagmerrie bevind waar elke nuwe dag suiwer hel was, veral maandeinde as die personeel se lone en ander rekeninge  betaal moes word.

 

Dié ervaring het groot teleurstelling en ontnugtering teweeg gebring.

 

En só kom baie mense op ’n punt in die lewe waar al die geloof ‘om berge te versit’ nie genoeg is om byvoorbeeld ’n huwelik te red, genesing te bring óf  ’n projek te red nie. Wat nou?

 

Dít is wat ek die ‘transformasie-spasie’ noem.

 

2.         Transformasie-spasie

Die metafoor van die wurm wat uiteindelik ’n vlinder word vind ek baie gepas om ons reis deur die lewe te beskryf.

 

Die wurm is absoluut gefokus, dit ( wurms het nie ’n geslag nie) het één doel voor oë, en dit is om te vreet. Wurms het ’n onbevredigbare aptyt. Die eerste ding wat gevreet word is sy eiertjie, sy huisie waarin hy ontwikkel het tot ’n wurm, daaarna vreet hy al die blare in sy omgewing. Die wurms verwoes die plante waarop hulle loop, net soos ons dit vandag in die wêreld met sy onbeteuelde verbruikerskultuur vind. In die kapitalistiese stelsel met sy verbruikerswaardes wat toegespits is op duur motors, huise, klere, juweliersware, kos, ens., het mense geld nodig om te bestaan. Daar is gewoon net nie meer genoeg geld nie, die inkomste-skuld verhouding in baie lande is totaal buite verband. Die VSA en lande in die Eurosone is besig om hulle ongebore kinders aan skuld te verkneg, want pa en ma het nie meer ’n uitweg nie, die wurms moet vreet,  en so begin die politici nou om die wurms te voer met die groen dollar en euro-blare!

 

Waar lê die oplossings vir ons dag? Méér blare? Of gaan die wurms hulle aptyt vir blare verloor? Vlinders eet omtrent nie, hulle suig net die soet nektar uit blomme, hulle het nie ’n aptyt vir groen blare nie. Hulle het oë vir die kleurvolle blomme, vlieg van blom tot blom en in die proses voeg hulle waarde toe tot die ekologie deur kruisbestuiwing.

 

Die ganse wêreld is in die transformasie-spasie. Politieke en ekonomiese leiers probeer ou formules laat werk, maar die kapitalistiese wurm is nou besig om sy eie stert te begin vreet.

 

Ek vind die volgende model sinvol om die situasie te beskryf:

 

3.        Die ‘Sigmoid’-kurwe

 

Die lewensiklus van verhoudings, idees, besighede, organisasies en volke word dikwels aan die hand van die sg. Sigmoid of S- kurwe verduidelik.  Charles Handy het die begrip op die tafel geplaas in sy bekende werk: The empty raincoat

Die idee, besigheidsdroom, verhouding of wat ook al, begin gewoonlik op ’n hoë noot, maar in die proses van probeer en tref word baie finansies, denke en emosionele kapitaal geïnvesteer in die inisiëringsfase. Die groeifase neem ’n aanvang wanneer dinge begin uitgesorteer raak, die toekoms word helder, daar is duidelike fokus, suksesformules en -planne is agtermekaar, die besigheid of verhouding moet nou groei. In dié tyd is goeie bestuur en fokus nodig.

 

Ons kan dit ook vergelyk met die wurmfase, die lewensformule is duidelik ‘vreet en groei’ van ’n klein wurmpie (besigheid) tot ’n groot wurm of besigheid. In die volwasse stadium gaan dinge klopdisselboom, die geld kom in, daar is sekerheid oor die toekoms, almal weet wat om te doen. Maar soos dit in die lewe gaan, begin omstandighede te verander. Onvoorsiene uitdagings klop aan die deur, kompetiesie kom met nuwe idees, kliënte se aptyt verander en dít is waar baie besighede begin taan, die son gaan onder en die einde is in sig, in baie (besigheids-) kontrakte word ’n sogenaamde ‘sunset clause’ ingeskryf om dié tyd kontraktueel vas te vang.

 

Of in ’n huwelik is die kinders uit die huis, pa en ma sit in die ‘leë nes’ vir mekaar en kyk en weet nie meer wat om te sê nie, elkeen is in sy of haar eie lewe verstrengel, hulle weet alles van mekaar af, daar is geen opwinding nie, die glorie van gister het verdwyn en hulle gaan net aan omdat die pyn van skei groter is as die pyn van bly.

 

Dit hoef egter nie noodwendig so te gaan nie. Die mens het ’n ingeboude vermoë om ’n tweede kurwe te begin. Hulle kan vars idees in ’n situasie skep om ’n nuwe kuur in die verhouding of organisasie  te bring.

 

Die tydsberekening van die tweede kurwe is egter van kardinale belang. As ‘n mens te vroeg is, strem dit groei, mense verloor fokus en raak gefrustreerd. Aan die ander kant,  as hulle te lank wag en die afname het reeds begin, is daar nie meer interne bronne, geld, mense, ‘emosionele kapitaal’, of die begeerte om voort te gaan nie en uitendelik vrek die wurm. Ongelukkig kom die energie en aptyt vir verandering eers wanneer dit amper te laat is.

 

Die tweede kurwe moet begin net voor die piek van volwassenheid bereik word. Grafies kan dit soos volg voorgestel word:

Omdat die kurwe eers deur die ‘mogge-het-troffe’-fase gaan moet daar nog genoeg bronne en die vermoë wees om dit moontlik te maak. Die probleem kom egter in ’n organisasie of verhouding wanneer  mense begin torring aan die suksesformules.

 

‘Alles loop goed, waarom nou nuwe dinge probeer?,’  hoor ons dikwels. Dit bring spanning mee. Baie mense skop vas, hulle kan nie onsekerheid verdra nie, hoekom moet dit wat al die jare goed gewerk het nou verander of selfs opgegee word?

 

Dié wat met die nuwe idees kom, is glad nie gewild nie. Dit is ’n fase van paradoks en die spanning manifesteer sigself dikwels as ‘polariteite’ of teenoorgesteldes  van ‘oud en nuut’, ‘konserwatief en progressief’, ‘verkramp en verlig’ (vir diegene wat nog dié deel van die Afrikaner geskiedenis onthou!).

 

Dit is duidelik dat die Afrikaner hom-/haarself weer (steeds?) in ’n transformasie-spasie bevind en as die paradoks  en polariteite nie goed bestuur of hanteer word nie lei dit tot marginalisering , of selfs skeuring, en soms word mense gewoon net uitgegooi of afgesny. In ’n huwelik loop dit dikwels op ’n egskeiding uit.

 

4.        Die geheim van polariteite

 

Ons kan die metafoor van ’n battery gebruik om lewe in die transformasie-spasie te beskryf.  ’n Battery bestaan uit twee pole, negatief en positief en wanneer die twee pole direk aan mekaar gekoppel word spat die vonke! Daar is groot twis oor wie nou eintlik reg is, die positiewe of die negatiewe pool. Elkeen verdedig sy/haar standpunt met passie en oortuiging… en die vonke spat! As leiers verskil, word die volgelinge gevra om ’n keuse te maak. Almal is bekommerd, want as ons so aanhou om die battery te vonk, gaan dit pap en onbruikbaar word. Hoe stop ons die vonke?

 

Baie vredemakers ag dit hulle taak om konsensus te bereik. ‘Eendrag maak mag,’ roep hulle van die kantlyn af! Die een probeer die ander van sy/haar standpunt oortuig, hulle probeer die besluitloses se ondersteuning met sterk oortuigingsmeganismes te verkry.  Soms gebruik hulle mag om die ander te domineer en uiteindelik gee die een in, of hulle vind ’n kompromie. Dan is albei aan die selfde pool gekoppel. Die vrede is herstel.

 

‘Uiteindelik stem almal saam, dankie tog,’  sug die vredemakers! Die soort van vrede wortel in konsensus en eendersheid, almal praat dieselfde taal, het dieselfde doelwitte, dieselfde waardes, glo dieselfde en het dieselfde groepsidentiteit. Konsensus is die gom wat die spul aanmekaar hou.

 

My vriend David Molapo sê altyd oor die huwelik:

 

‘If you don’t have the same VISION, you will have DIVISION and then comes DIVORCE.’

 

Daar is ook ’n ander opsie as ons nie kan ooreenstem nie, ek noem dit in Engels die FIFO proses: FIFO in Engels staan vir: Fit In or Fly Of. Elke instelling het sy eie FIFO prosesse, in die huwelik is dit egskeiding, in die kerk is dit ‘sensuur’, Julius Malema en sy vriende het so pas die politieke proses van ‘opskorting’ ervaar.

 

Dit is die twee opsies wat gewoonlik deur konsensussoekers gebruik word om vrede of eenheid in ’n groep te herstel. Daar is baie tegnieke oor die jare ontwikkel om konsensus in groepe, organisasies en verhoudings te bring en as almal snoesig in dieselfde nes, uitgeveer met dieselfde doelwitte, waardes, geloof en beginsels saamleef, het ons ‘geariveer’! Wat meer wil mens hê!

 

Ongelukkig is konsensus deesdae ’n luukse, die menseregte-filosofie van ons dag gee aan elkeen die reg tot vryheid van spraak en …? Soveel tonge, soveel opinies.

 

Hoe maak ons om eenheid te kry as ons nie meer die luukse van konsensus of uniformiteit  het nie? Uniformiteit word van klientyd in ons ingedril, ons dra dieselfe skooluniform, het dieselfde identiteitsimbole, praat dieselfde taal, gaan na dieselfde kerk toe, lag vir dieselfde tipe grappe, eet dieselfde kos, ens. Dis só lekker!

 

Die uitdaging van ons dag, veral in Suid-Afrika, is hoe ons eenheid in diversiteit  kan vind — veral waar diversiteit konflikterend van aard is, kan daar eenheid van teenoorgesteldes wees? Hoe kan ons die twee teenoorgestelde pole in dieselfde battery verenig? Wat moet ons prysgee? Ons waardes? Ons manier van glo, of nie-glo-nie? Ons identiteit?

 

Mense wat konsensus najaag, word dikwels gemotiveer deur ’n fundamentele vrees vir verlies. Hulle voel dat hulle die waarhede waarin hulle glo moet beskerm en bewaar. Die nes moet uitgeveer bly vir die nageslag. Almal wat die vere wil uitpluk word met suspisie bejeën en word uiteindelik ons vyand. Ons kan maar dink aan die vrese  waarmee ons as Afrikaners grootgeword het. Ek onthou nog hoe ons geskiedenisonderwyser (van die sestigerjare) vir ons geleer het oor die drie gevare wat ons Afrikanernes bedreig: Die Rooi Gevaar (kommunisme) die Swart Gevaar (die swart Uhuru-golf uit Afrika wat ons wittes almal die see gaan indryf) en dan nog die Roomse Gevaar (die Pous en sy mense wat ons kosbare Protestantse geloof bedreig). Dié drie vrese was die gom wat ons aanmekaar gehou het: ‘Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika!’

 

Vrees is een van die kragtigste motiveringsmeganismes om mense te mobiliseer. Mao Zedong het gesê: ‘My vyand se vyand is my vriend’. Kyk maar hoe wêreldleiers vrees gebruik om volke te mobiliseer. George Bush was ’n klinkende voorbeeld hiervan, toe hy nie vir Bin Laden in die hande kon kry nie, gaan hy vir Sadam Hussein en vir twee termyne kon hy vlieg onder die vaandel van vrees en hy het baie ander leiers laat saamvlieg!

 

In die transformasie-spasie moet mense hulle vrees oorkom en leer om meer intelligent met paradoks, teenoorgesteldes of polariteite te werk. Om terug te keer na die metafoor van die battery, in plaas van om die afstand tussen die pole te hou het iemand die polariteite intelligent gebruik om ’n gloeilamp te laat skyn en dít is die lewensformule van interkulturele intelligensie waarna ons soek!

 

Polariteite is ingebed in ons bestaan op aarde, neem dit weg dan tuimel alles ineen. Die natuur soos ons dit ken, is afhanklik van polariteite, atome het positiewe kerns en negatiewe eletrone, ons planeet het ’n noordpool en ’n suidpool, lig en duisternis ens.

 

God skep natuur, die mens skep kultuur, en die kulture het dikwels ’n lae toleransie of selfs afversie vir polariteite. Ons het mos almal van die boom van die kennis van ‘goed en kwaad’ geëet en van daardie dag af beheer vrees ons lewe. Ons bedek  ons naaktheid met vyeblare en kruip weg vir God! Ons verlaat die Paradys druipstert en probeer sedertdien alles met ons dualistiese logika uitredeneer, dit gaan oor goed en kwaad, God en die duiwel,  hemel en hel, swart en wit, man en vrou, positief en negatief, ons lewe draai om die maak van keuses en so rol ons voort van geslag tot geslag!

 

5.        Lewe in die transformasie spasie

 

Hoe leef mens in die transformasie-spasie? Net soos die wurm, die papie of larwe en die skoenlapper hulle seisoene het, het mense, verhoudings, organisasies en volke hulle seisoene vir groei (restourasie) en transformasie, die wysheid lê daarin om te bepaal in watter seisoen ons ons bevind.

 

Die toerusting vir leef in die transformasie-spasie vind ons in drie lewensvaardighede: geloof, liefde en hoop. Daar is oor die jare baie geskryf oor dié drie, ons vind dit in die Bybel, maar ook in ander godsdienste. Mense gee verskillende definisies aan geloof, liefde en hoop; ek wil spesifieke definisie en toepassing  gee aan die  drie kwalitiete as vaardighede om intelligent in die transformasie-spasie te leef. Ons kan dit ‘inter-kulturele intelligensie’ noem, of soos ek dit in Engels noem ‘Flip side intelligence’. In die ontwikkeling van die konsep het ek veral gesteun op die werk van Danah Zohar,  ‘Spiritual Intelligence’ waarin sy die werking van die menslike brein beskryf, vir die spesifieke toepassing van die begrippe geloof, liefde en hoop neem ek egter volle verantwoordelikheid.

 

5.1      Geloof: STAP UIT

 

(ps. Ek is nie ’n teoloog nie, het nie Grieks en Hebreeus geleer  nie, wat volg is ’n sosioloog en ’n medemens se poging om antwoorde te kry op die lewens vrae wat baie van ons kwel!)

 

Vir baie mense gaan geloof oor ‘wat jy glo’. Die inhoud van die geloof is belangrik, ons wil egter geloof in die transformasie konteks sien as  ’n lewens vaardigheid of ’n proses. Ons defineer geloof as die vermoe om uit te tree uit jou veilige nes, jou vesting van waarheid en jou self kwesbaar te maak. In die Bybel word Abraham dikwels aangehaal as die ‘vader van geloof’. Hy het die warmte van sy familie verlaat, uitgestap uit sy gemaksone die woestyn in… ‘sonder om te weet waar hy sou kom’.  Hy het agter ’n onmoontlike droom aangeloop, en volgehou om te glo, self al was sy vrou Sara, biologies gesproke,  totaal oor die muur.

 

Siddhartha, die eerste Boeddha, verlaat sy vader se paleis en vereenselwig hom met die leed en pyn van mense van sy dag: dit neem geloof.

 

’n Sakeman of -vrou verlaat die sekuriteit van ’n korporatiewe werk en begin iets nuuts op grond van ’n droom of ’n geleentheid wat hulle raak sien. Dit beteken nie dat ’n mens dit noodwendig verwerp nie, ons kan altyd weer daarna toe teruggaan.

 

Die mens, anders as diere, het ’n baie swak instinktiewe vermoë. Mense is aangewese op ’n leerproses waardeur hulle die kulturele formules wat hulle instaat stel om op die planeet te oorleef internaliseer. Deur dié proses word patrone in die mens se brein vasgelê, sodat die mens ’n behoefte ontwikkel om te konformeer. Die mens het egter ook  die eksistensiële kapsiteit om te eksternaliseer of om uit te tree, om ‘nee’ te sê vir die aanvaarde kulturele patrone en dit stel hom in staat om kreatief met sy leefwêreld om te gaan. Dit is in hierdie vermoë van die mens waaraan ons geloof wil koppel. Almal het dit ontvang, maar almal beoefen dit nie, die kragtige meganismes van straf (vrees) en vergoeding wat gepaard gaan met die internaliseringsproses  verhoed baie mense om die vermoë van eksternalisering of geloof te beoefen. Gewoonlik kom dit eers as die laaste uitweg, wanneer ons alles probeer het, en geen uitweg meer oopsien nie. Hierdie vermoë of geloof is krities vir oorlewing in die transformasie-spasie.

 

Ons kan dit ook verduidelik aan die hand van die alledaagse aktiwiteit van loop. ’n Mens staan met twee voete geanker en goed gebalanseer op die grond, maar om te kan loop moet ons een voet op lig, vir ’n oomblik is ons van balans af, kwesbaar en onseker, tot ons weer twee voete op die grond het. Kyk maar na babas wat begin loop, die onsekerheid, hulle soek iets om aan vas te hou tot hulle die vrees oorkom het, tot loop as’t ware natuurlik kom, dit is nie meer ongemaklik nie.

 

Is dit dalk wat bedoel word met ‘die regverdige sal deur die geloof lewe?’  Loop is vir my niks anders as ’n alledaagse poging van ‘polariteitsbestuur’, om te deel van die ongemak van ‘van balans af wees’. Ek is altyd gefassineer met akrobate en gimnaste wat skynbaar so gemaklik in die lug rond sweef!

 

5.2      Liefde: STAP IN

 

Die mens het nie net die vermoë om uit te tree nie, hy of sy kan ook toetree. Ons wil die liefde hier as ’n lewensvaardigheid beskryf. In Engels definieer ons dit as ‘the ability to deal with incompatibility’- die vermoë om met onaanpasbaarheid te werk.

 

Liefde het oor die jare baie definisies ontwikkel, dit word gewoonlik aan ’n aangename ervaring gekoppel. Die seksuele konnotasie van ‘liefde-maak’ is maar een voorbeeld hiervan. Baie godsdienste het liefde as ’n sentrale tema vir hulle formules vir menslike saamleef. Jesus plaas die liefde ook sentraal in sy boodskap wanneer hy sê dat alle wette en godsdienstige aksies word in die een wet van die liefde vervat. Van sy apostels, soos Johannes, koppel selfs God se identiteit aan die liefde, wanneer hy sê: ‘God is Liefde’. Dit klink baie romanties en positief, tot ons verstaan wat Jesus bedoel met Liefde. Na my wete is Jesus die eerste godsdienstige leier wat dit so blatant noem:

 

‘Julle moet julle vyande lief hê, seën die wat julle vervolg,’ ens.

 

Wanneer ons met ’n skok agterkom dat die Julius Malema’s van die dag en sy ‘Youth League’, die korrupte politici, die kriminele wat ons goed en lewens bedreig die objekte van ons liefde is, sing ons gou ’n ander deuntjie. Dan soek ons vir ’n ‘generaal om ons te lei’ in die stryd teen die vyand. Hulle trek die vere uit ons ‘Afrikanernes’ uit, die nes word ondraaglik en ons wil uit, Australië of Nieu-Seeland lyk deesdae na ’n goeie opsie. ‘Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika,’ sug ons saggies vir oulaas en vee ’n traan uit die oë, wanneer ons die trappe van Qantas Air opklim.

 

Dié wat dit regkry om die liefde so toe te pas, is besig om die pynlike proses van transformasie te deurleef. Ons kan nie liefde leer deur mooi boeke en gedigte oor die liefde te lees  nie, dit kom alleen as ons bereid is om vreesloos toe te tree tot die leefwêreld van ons vyand.  In die sin is ‘vyand’  nie noodwendig ’n ander persoon is nie, dit kan omstandighede wees of selfs daardie irriterende gewoontes of optrede in onsself . Wanneer ons in liefde toetree tot my of die ander (se) wêreld, doen ons dit met ’n oop gemoed, met die intensie om te VERSTAAN en te LEER, nie om saam te stem of te oortuig nie.

 

Ons smokkel nie ons swaard in ons vyand se huis in nie, ons vat ons vergrootglas saam om beter te sien, ons  vrees het ruimte gemaak vir ’n eksploratiwe nuuskierigheid om insig te kry in die waardes en beginsels wat hulle (die ander) lewe rig. Ons neem nie die wapens van ons waarhede saam nie, ons probeer nie ‘dissipels te maak nie’, ons vra vrae wat ons help om te verstaan. In die sin wil ek die woord respek gebruik, liefde en respek gaan hand aan hand, in Engels spel ons respek soos volg: ‘re-spect’ wat ‘re-look’ beteken, kyk weer, ‘you may find diamonds in the dust of differences’, iemand het gesê dat ons dikwels meer van ons vyande as ons vriende leer. In die groeifase leer ons van ons vriende, in die transformasie-spasie leer ons van ons vyande.

 

Ek vra dikwels die mense in my werkswinkels  of Christene Moslems kan vertrou? Baie keer kom die antwoord gou: NEE! Ek glo egter dat Christene wel Moslems kan vertrou om MOSLEMS te wees — en andersom. Dit vereis egter dat hulle mekaar verstaan, en mekaar ruimte gee om die beste te wees wat wat hulle kan. Dit is die intensie van die liefde, nie om ander te omvorm tot hulle inpas in my eng definisies nie, maar om ruimte te skep vir andersheid.

 

Ek glo dat dié vertaling van die liefde sekerlik nie baie gewild sal wees nie, dit is te pynlik, dit vereis lyding en oënskynlike verlies aan identiteit en gerief, soos iemand vir my sê:  ‘Dit klink na harde werk!’

 

Maar dit is presies wat die transformasie-spasie vereis. Wanneer babas begin loop, is hulle baie onseker, hulle val en staan op, val weer, kry seer en só gaan dit aan totdat hulle dit regkry, totdat loop en hardloop tweede natuur word dan geniet hulle die vryheid van beweging.

 

Om gedurig in jou vyand se kamp rond te kuier, om uit te reik na dit wat jou irriteer, om soos die jong arend uit jou snoesige, uitgeveerde nes uitgehaal te word en op die harde rotse rond te dwaal is glad nie aangenaam nie.

 

‘Wat se lewe is dit? Ma bring gewoonlik die kos, veer die nes uit, wat gaan aan met haar!?’  sal die klein arendjie uitroep, ‘Is dít moederliefde!?’, en wanneer sy boonop die klein arendjie oor die die kranse stoot voel hy heeltemal omgekrap en deurmekaar!

 

“My God, God waarom het U my verlaat!”  roep hy uit vir hulp, want daar is nêrens iets waaraan die arendjie kan vashou met sy kloue of bek nie… sy einde het gekom, dis reguit graf toe nou! Dan probeer hy die flappe aan sy sye, wat tot dusver redelik nutteloos was, te gebruik. Hy strek dit uit, klap dit op en af, en begin die ruimtes in te vlieg.

 

So is die liefde vir die wat hulle vrees vir die oop ruimtes oorkom het, hulle is vry om op die wieke van die wind te seil, die hoogtes te geniet, hulle vrees vir die onbekende het in eksploratiewe nuuskierigheid verander, elke dag is ’n nuwe leerervaring… so gaan dit met die mens wat sy vyand leer liefkry, selfs wanneer jy jou eie vyand geword het!

 

Vlieg is nie meer harde werk nie!

 

Dit is interressant om daarop te let dat al die chromosome wat ’n skoenlapper maak reeds in die wurm is, dit is egter latent en kom eers uit wanneer die wurm sy ‘wurmnatuur prysgee’ en die transformasieproses sy gang gaan.

 

Die derde vermoë wat ons nodig het om in die transformasie-spasie te leef is die vermoë om te hoop.

 

5.3      Hoop: STAP OP

 

Hoop word diwels gekoppel aan die ‘inhoud’ van hoop, wat jy op hoop oorheers jou drome, begeertes en gesprekke. Ons wil egter hoop sien as ’n proses, dit gaan nie net oor WAT jy hoop nie, maar DAT jy hoop, dit is ’n eksistensiële vermoë wat die mens het om die groter prent te sien. Hoop in die sin wat ons dit hier gebruik is dus meer as om net die eindpunt te definieer. In die wurmfase egter, sou hoop dit kon beteken want die eindpunt is duidelik, ons wil meer, groener, sappiger blare hê. In die wurm se groeifase is die WAT meer belangrik as die DAT. In die transformasiefase is dit amper ondenkbaar vir ’n wurm om die lewe van die skoenlapper te antisipeer, sy beste poging sou wees om vlerke aan die vet lyfie te sit en probeer vlieg! In die transformasie-spasie werk hoop altyd saam met die prosesse van geloof en liefde, dit bring ’n fundamentele optimisme. Die ou Nederlandse gesegde klink hier van pas te wees: ‘Die eind sal seker zalig zijn’.

 

Dit is interessant dat daar ’n nuwe skool in die sielkunde ontwikkel wat redelik veld wen en dit is begin met Martin Selligman se werk oor die ‘Positiewe psigologie’. As ’n proses bring hoop balans, dit sien die groter prent, dit integreer, bring dinge by mekaar wat nie normalweg bymekaar hoort nie — dit bring ’n negatiewe en ’n positiewe pool bymekaar uit om ’n lig te maak!

 

Hoop as ’n proses maak die toekoms oop as ’n eindelose geleentheid van moontlikhede, dit skep ’n eksistensiele opgewondenheid en moed, hoop oorwin vrees vir die onbekende… dit het Abraham vir ’n leeftyd laat rondswerf in die woestyn sonder om die finale resultaat van sy droom te sien.

 

6.        Slot

 

As leiers het Mandela en De Klerk vir ons ’n nuwe Suid Afrika belowe, hulle het dit nie gedefineer nie, maar vir ons gesê HOE om daar te kom: deur konstruktiewe dialoog waardeur ons almal deur ’n transformasieproses kan ontwikkel om as ’n volk gestalte te gee aan iets nuuts. Dit is egter so jammer dat die fokus nie meer op konstruktiewe dialoog is nie, dit het verander in ’n kookpot van magspel en selfverryking ten koste van die miljoene verarmdes vir wie die ‘bevrydingstryd’ tot opheffing van lewenskwaliteit moes lei.

 

Ek bly glo, dat as ons konstruktiewe dialoog met die elemente van geloof, liefde en hoop kan beoefen het ons dalk die resep vir die Suid-Afrikaanse skoenlappers om te vlieg gevind?

 

o – O – o

 

Die gedagtes is oor baie jare se akademiese studie en praktiese ervaring ontwikkel. Die volgende paar verwysings mag die leser se eie transformasie-reis stimuleer:

 

Handy, C: The Empty Raincoat, Arrow Business Books, 1994.

Hölscher, F et al: Diamonds in the Dust, Ongepubliseerde werk, verkrygbaar van die webwerf of die outeur.

Johnson, B: Polarity Management, HRD Press, 1992.

Seligman, M: Authentic Happiness, Nicolas Brealey Publishing, 2002.

Zohar, D and Marshall, I: Spiritual Intelligence: The Ultimate Intelligence. Bloomsbury Publishing Plc. London. 2000.

 

Fritz Hölscher

Tel: 082 850 3434

E pos: fholscher@gmail.com