(Die NHN se plek in ‘n plurale, postmoderne samelewing- waardevol of waardeloos?)

Tata Mandela word ‘n ikoon van waardigheid en verdraagsaamheid.  In dieselfde week as sy 90ste verjaarsdag skryf Jon Qwelane “beledig my as jy wil maar moet my net nie gay noem nie”.  Batman, in die sadistiese The Dark Night, is ‘n warm rolmodel vir die middelklas-jongmense.  ‘n Swart ML500 in Sandton se nommerplaat lees “ENVY ME GP”.  Haatspraak, geweld en misdaad, obsessiewe materialisme, seksuele wangedrag…Dit lyk of ons samelewing se morele kompas  buite beheer begin draai.  Of dalk nie? Is dit nie maar net ‘n geval van ons wat ons plek in ‘n plurale, postmoderne samelewing moet vind nie? 

Die (skynbare) probleem: ‘n veranderende tydsgees?

There seems to be a steadily shifting standard of what is morally acceptable… Something… has shifted in all of us, and the shift has no connection with religion. If anything, it happens in spite of religion, not because of it (Richard Dawkins)

Hoe lyk ons samelewing vandag?  Daar gebeur deesdae so baie dinge wat die voorblaaie van sekere koerante haal dat mens jou hande saamslaan en vra: wat is verkeerd met ons land?

Ons almal ken voorbeelde van wat ‘verkeerd is’ – hier is ‘n paar:

  •  Suid-Afrikaners kom in opstand teen sogenaamde vreemdelinge en vermoor sestig voordat die haat bedaar.  Wie kan die foto van die brandende Mosambieker vergeet?
  • Die strategiese wapentransaksie ter waarde van verskeie biljoene rande lei tot sensasionele korrupsieskandale en hofsake.  Wie kan die Shaik-broers vergeet, om nie die huidige ANC-President te noem nie?
  • Huidige geweldstendense en seksuele teistering van vrouens en kinders.  Wie sal ooit die tragedie van die verkragte baba kan vergeet?
  •  Wanadministrasie deur onopgeleide of onervare staatsdiensbeamptes in sleutelposisies.  Wie kan die dosyne baba-sterftes by die Mount Frere hospitaal in die Oos-Kaap vergeet?  Of die duisende staatsdiensamptenare wat hulleself help aan sosiale welsynstoekennings?
  •  Maar moet ook nie die vermoë van besighede om mense uit te buit, agterweë laat nie.  Wie is nie geskok oor die onderduimse samewerking van bakkerye en banke nie?

Terselfdertyd kan ons almal ook voorbeelde opnoem van uitsonderlike prestasies deur Suid-Afrikaners.  Dink maar aan die volgende (kortlys) mense wie se impak ver buite Suid-Afrika se grense strek:

Sport, of dit nou krieket, rugby, golf, swem of atletiek is (net nie sokker nie)

Die intellektuele en kulturele wêreld: Phillip Tobias, Sol Plaatjie, Jan Hofmeyr, Adam Tas, Jan Smuts, Olive Schreiner, Beyers Naudé, Steve Biko, Zackie Achmat, Shaka, Moshoeshoe, Nongqawuse, Modjadji, George Bizos, Richard Goldstone, Ian Player, JRR Tolkien, Alan Paton, Herman Charles Bosman, CJ Langenhoven, Christiaan Barnard, Athol Fugard, Sakkie Spangenberg, Lucky Dube, Joseph Shabalala, Johan Botha, Zapiro, Brenda, Tretchikoff, William Kentridge, Gerard Sekoto, David Goldblatt

Besigheidsmense: Raymond Ackerman, Barney Barnato, die Oppenheimer-familie, die Rupert-familie, die Wessels-familie, Sol Kerzner, Cecil Rhodes, Mark Shuttleworth, Donald Gordon, Tokyo Sexwale, Patrice Motsepe, Cyril Ramaphosa

Ons Nobel-wenners: Albert Luthuli, Nelson Mandela, FW de Klerk, Desmond Tutu , Doris Lessing, JM Coetzee, Nadine Gordimer, die Internasionale Paneel op Klimaatsverandering (van wie Fred Goede ‘n lid was), Max Theiler (viroloog)

Soveel prestasie en vooruitgang, gemeng met soveel tragedie.

Waar staan ons nou?

Ons bevind ons tans in Suid-Afrika midde-in ‘n sosio-politieke oorgang met onsekere uitkomste.  Die politieke verklaring vir vandag se turbulensie is dat:

  • Ons samelewing ‘n oorgangsfase beleef, weg van outoritêre magsmisbruik, na ‘n demokratiese vorm van samelewing.
  • Ons die proses as traumaties beleef.  Die impak van ‘n land se geskiedenis kan die oorgangsfase vertraag en uitrek.
  • Volgens die demokratiseringsteorie dit ‘n generasie of twee neem alvorens die samelewing normaliseer.
  •  Die normaliseringsproses gelei moet word deur ‘n nie-rassige (of veelrassige) middelklas wie se positiewe waardes die samelewing kan anker.

Iets wat die teorie egter geneig is om mis te kyk, is dat verandering in Afrika dikwels gekenmerk word deur ‘n alles-omvattende stryd om beheer tussen diegene wat demokrasie voorstaan en diegene wat eenparty-beheer voorstaan.

Ons leef nou in so ‘n vertraagde oorgangsfase met doe volgende kenmerke:

  • Die normaliseringsproses sukkel om te gevestig te word omdat ons nog nie vrede met die verlede gemaak het nie (hetsy kolonialisme, apartheid, of bevrydingstryd).
  • Die politiek word gekenmerk deur die bogenoemde stryd om beheer.
  • Die politiek is kompleks want ons vind voorstanders van beide kampe in alle en enige organisasies, insluitende die ANC, die regering en die staatsdiens.

Vertraging van die oorgang na normalisering kan egter soveel skade doen dat die proses in trurat gaan en ons weer ‘n periode van outoritêre magsmisbruik kan beleef.  Hiervolgens word die groeiende middelklas ontwortel en populiste neem die leisels oor.  Ons sal hierdie punt bereik wanneer die stryd tussen demokrasie en eenparty-beheer deur laasgenoemde gewen word.

Wat staan hierdie wordende middelklas te doen om die normaliseringsproses op dreef te hou?  Hierdie groep mense moet leiding neem en gee, op alle terreine.  My kortlys van beroemde Suid Afrikaners hierbo dui die omvang van die uitdaging aan.

Die dieper vraag is egter: op grond van watter stel waardes, oortuigings of verwysingsraamwerk? (vroeër het ons dit ‘n mens se lewens- en wêreldbeskouing genoem).  En hoe dit moet geskied?

Sosialisering – hoe ons ons plek in die samelewing kry (en verloor)

Vanuit die raamwerk van die sosiologie en sielkunde, weet ons dat sekere meganismes aan die werk is wat samelewings rig, waarvan sosialisering die belangrikste is.  Barry Stacey open sy boek oor politieke sosialisering met hierdie sin:

Die menslike baba word gebore in ‘n georganiseerde samelewing en neem vanaf geboorte sy of haar plek in daardie samelewing in.

Hiervolgens verwys sosialisering na die onwikkelingsprosesse waardeur elke persoon die kennis, vermoëns, oortuigings, waardes en houdings verwerf wat hom en haar in staat stel om min of meer, maar nie noodwendig gewillig nie, as effektiewe lid van die samelewing te funksioneer.  Die sleutel-agente waardeur hierdie prosesse werk is die familie, skool, naskoolse opleiding, en werk.  Politieke organisasies, die massa-media en portuurgroepe speel ook ‘n rol.

Deur middel van hierdie ontwikelingsprosesse leer die individu om met ander saam te leef al sou waardes en gedragspatrone van een generasie na ‘n ander mag verskil.  Alhoewel hierdie aannemingsproses gedurende kinder- en jeugjare krities belangrik is, bring volwassenheid sy eie sosialiseringsproses.  Die lewensiklus word gekenmerk deur ervaring van werk, die ekonomie, die getroude lewe, ouerskap, politieke gebeure, veroudering en aftrede.  Dramatiese gebeure soos oorlog, armoede, migrasie of politieke omwentelings het net so ‘n groot impak op die mens se lewensiklus.

Sosialisering het nie noodwendig beskaafde waardes of gedrag tot gevolg nie.  (‘n Neiging tot vyandskap en geweld kan van een na ‘n volgende geslag oorgedra word.  Trouens, gegewe die konflikpotensiaal in en tussen mense (veral in terme van klas, religie, geslag en ras) moet ons erken dat sosialisering dikwels bydra tot onbeskaafde waardes en gedrag, vooroordeel en haat, wanorde en geweld.)  Om sosialisering dus bloot te sien as ‘n meganisme vir die grootskaalse inkoop in ‘n tradisionele sosiale orde, is duidelik onvoldoende.

Elke moderne samelewing het mense wat dominante norme, waardes en gedragspatrone herbeoordel en verwerp of daarvan afwyk om sodoende by te dra tot sosiale verandering.  Hand aan hand hiermee gaan hersosialisering – die proses waar vroeëre gedragspatrone verwerp en nuwes aanvaar word as deel van ‘n oorgangstydperk in ‘n persoon se lewe. Dit vind deurentyd in die menslike lewensiklus plaas (Schaefer en Lamm, 1992:113).   Hersosialisering kan ‘n diepsinnige ervaring wees, waar die individu ‘n skerp breuk met die verlede beleef en ‘n behoefte ervaar om te leer, sowel as om blootgestel te word aan ingrypend verskillende norme en waardes.

Die huidige sosiaal-politieke turbulensie bied dus aan ons goeie geleentheid vir vernuwing!

Kom ons kyk na drie moontlike waarde-modelle wat deel van ‘n nernuwings- en (her)sosialiseringsproses kan vorm ten einde ons kompas te “herkalibreer”:

Model Een: Ubuntu

Niemand minder as die huidige staatspresident het in 1998 die probleem as volg gestel:

“An ill wind has blown me across the face of Africa. I have seen the poverty of Orlando East and the wealth of Morningside in Johannesburg. In Lusaka, I have seen the poor of Kanyama township and the prosperous residents of Kabulonga.

And I have heard the stories of how those who had access to power, or access to those who had access to power, of how they have robbed and pillaged and broken all laws and all ethical norms and with great abandon, to acquire wealth…

It is out of this pungent mixture of greed, dehumanising poverty, obscene wealth and endemic public and private corrupt practice, that many of Africa’s coups d’etat, civil wars and situations of instability are born and entrenched.”

En in 2007 bied hy ‘n oplossing aan:

Ons samelewing is vasgevang in in ‘n hebsugtige individualisme wat ons sosiale verbondenheid, die waarde en beoefening van samehorigheid ondermyn en die grondliggende beginsel van Ubuntu – umntu mgumntu ngabanye! -verwerp.

Dalk moet ook ons die vraag vra waarom ‘n Afrika-wêreldbeskouing soos Ubuntu nie die middelpunt kan wees waarteen ons die waarde-modelle van ander kulture kan opweeg of evalueer nie?

Ubuntu, wat ons daaraan herinner dat ‘iemand ‘n persoon is deur ander mense’

  • Laat nie ruimte vir individualisme wat die gemeenskaplike belange van ‘n samelewing oorheers nie.
  • Druis loodreg in teen die begrip dat ‘n individu die begin en einde is, sonder dat terselfdertyd die aanname gemaak word dat ‘n individu sonder regte is, of ontbeerlik is in die geheel-opset van die stelsel.

Model Twee:  Die Morele Herlewingskampanje

Hierdie is ‘n regeringsinisiatief, wat ‘n interessante lewens- en wêreldbeskouing aanbied.  Die fokus van die kampanje is om ‘n etiese en morele gemeenskap te bevorder deur middel van positiewe waardes.

Hier is ‘n voorbeeld van die kampanje se handves van positiewe waardes:

  • Respekteer Menswaardigheid en Gelykheid
  • Bevorder Vryheid, die Oppergesag van die Wet en Demokrasie
  • Bevorder Materiële Welsyn en Ekonomiese Geregtigheid
  • Verhoog Gesins- en Gemeenskapswaardes
  • Handhaaf Lojaliteit, Eerlikheid en Integriteit
  • Verseker Harmonie in Kultuur, Geloof en Gewete

Die werking van die kampanje is egter problematies.  Janine Rauch het onlangs in ‘n ontleding tot die volgende gevolgtrekking gekom:

Die ontwikkeling van die morele herlewingsinisiatief in Suid-Afrika het die begrip saamgevat as beide misdaadvoorkoming en nasiebou.

In sommige gemeenskappe het die inisiatief vernuwing geïnspireer met ‘n bepaalde geestelike en godsdienstige aard; in ander weer ‘n sterk Afrika nasionalistiese ideologie.

Merkwaardig, en waarskynlik slegs vanweë die verdraagsaamheid teenoor diversiteit  eie aan Suid-Afrika, is hierdie inherente verwarring oorkom en het die inisiatief ‘n reeks uiteenlopende belangegroepe ingesluit  – konserwatiewe godsdiensgroepe, sekere beginsels van die sakegemeenskap, politieke partye, die regering en intellektuele.

Wat egter nog bewys moet word, is of ‘n beweging van hierdie aard, wat grootliks ideologies van aard is enige betekenisvolle gevolge met betrekking tot die versterking van die gemeenskapstruktuur en die vermindering van misdaad sal hê.

En voeg by Janine se opmerkings by: tot watter mate gaan die morele herlewingsinisiatief deur die huidige strydende politieke kampe (demokrasie vs eenparty-beheer) gekaap word?

Model Drie: die NHN

Beste vriende, ons ken mos die NHN se waardes en benadering en hoe ons dink ons dit moet uitleef.  (Let veral op die laaste sewe punte):

  • Ons aanvaar dat wanneer ons oor die goddelike praat, ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in Jesus van Nasaret leer ken.
  • Ons koester die beste van ons erfgoed in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies. Dieselfde geld vir ons nalatenskap op die gebied van musiek, kuns, letterkunde en wetenskap.
  • Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie en neem die huidige wêreldbeeld ernstig op.
  • Ons waardeer die uniekheid, eiewaarde, gelykheid en potensiaal van elke individu. Ons erken die inherente vermoë van individue om te groei en om groter hoogtes te bereik deur met mekaar saam te werk.
  • Ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons natuurlike omgewing. Ons streef daarna om met morele integriteit op te tree.
  • Ons streef daarna om medemenslik en verdraagsaam teenoor alle mense op te tree, ongeag geslag, seksuele oriëntasie, geloofsoriëntasie, fisieke vermoë, en groepsverband .
  • Ons bevorder kreatiewe en innoverende denke.
  • Ons beskou diversiteit en godsdienstige pluralisme as positiewe verskynsels.
  • Ons verbind ons tot ‘n etos van samewerking.

Laat ons dus (probeer) bepaal:

  • Hoe vergelyk die NHN se waardestelsel met die ander twee modelle?
  • Is daar ander alternatiewe?
  • Is die NHN-model bemarkbaar as oplossing vir die probleem van ‘n “stukkende morele kompas”?
  • Wat is die kern-boodskap met die oog op die toekoms?
  • Wil ons die toekoms help rig?