Deur: PEGGY PILLINGER

Datum : So 27 Jan 08

In haar poging om hierdie vraag te beantwoord, kyk Peggy na tradisies wat vir vele Protestantse Christene totaal onbekend is. In die vierde eeu nC het daar veral in die Oosterse Christendom ’n aversie ontstaan teen die verwêreldliking van die kerk. Keiser Konstantyn (275–337) het verdraagsaamheid teenoor Christene voorgestaan en Keiser Theodotius die Grote (346–395) het die Christelike geloof tot godsdiens van die ryk verklaar.

Hy het egter verder as dit gegaan en die idee van ’n Drie-eenheid op sy onderdane afgedruk, “ketters” verbied om byeenkomste te hou, en “heidense” tempels laat verwoes. In reaksie hierop het sommige Christene in die oostelike dele van die Romeinse ryk hulle aan die kerk en die samelewing onttrek.

Die een (kerk) was vir hulle maar net die keersy van die ander (samelewing). Asketisme het ontstaan. Dis veral askete wat stilte en meditasie deel van hulle godsdienstige lewe gemaak het.

Vir Peggy wat in die Katolieke tradisie groot geword het, is hierdie idees van ontrekking en afsondering nie vreemd nie. Sy was immers vir 23 jaar deel van die Karmelitiese orde wat stilte en afsondering belangrik ag en dit aktief beoefen.