Ek en Johann vra mekaar dikwels af: Waar het ons pad van die hoofstroom geskei? Hoekom het juis ons twee wat passievolop die ou pad meegeloop het en respek het vir tydlose waardes soos vrede en geregtigheid, ons begin losmaak van die eng voorskriftelikheid van ons  geloofstradisie en groepdenke?

Die gedagtes aan ‘n God wat iewers buite ons fisies aardse bestel bestaan, maar wat tog met ons lewens en lot bemoeienis maak,  het kleintyd al my kinderkoppie besig gehou. Hoe kan ‘n mens wat op aarde gebore is tegelyk God ook wees? En hoekom was donderweer en aardbewings toentertyd “die stem van God”, maar nou praat die wetenskap anders? Selfs toe al was Bybelse verhale van lyding, wonderwerke en fisiese genesing ‒ al het dit my aangegryp ‒ eerder stories oor tweede kanse en troos.

Maar grootword was ernstig, en saam met toewyding aan ‘n ‘Bybelse’ lering het die vrae ook meer geword. Veral toe mense uit ‘sektekerke’ ons hoofstroom insypel en ons gehoorsaamheid begin bevraagteken. Saam met ander invloede, soos Amerikaanse evangelisisme en Campus Crusade (CCC), het plaaslike fundamentalisme en onrus gebring en ook my oortuigings geskud. Die vroomheid van hulle ‘charismatiese’ idees het soos wilde saad  begin opskiet, nie sonder teenstand van ons kerkleierskap nie, maar dit was die begin van ‘n verbrokkeling wat tot die huidige kerklike brandpunte en dreigende interne skeiding sou lei.

Ek en Johann was toe al getroud en Johann lid van die kerkraad; as die Broers Kerkraad op jou knoppie druk, dan het die Here self gepraat. Vir die eerste keer het ek ervaar dat kerkmense teen hulle eie mense aanvalle begin loods. Terme soos ‘ware gelowiges’ of  ‘dierbare’ kinders van God’ (teenoor ‘gewone gelowiges’) is rondgegooi en ‘wedergebore christene’ wou in tale praat en die stem van die Heilige Gees ‘fisies’ in hulle ore hoor. My vastigheid is geskud. Die ‘hulle’ en die ‘ons’ het alte veel na die skape en bokke begin klink wat geskei moes word. En waar staan ek?

Eers ‘n lewe later sou my insigte my op ‘n plek uitbring waar ek eerlik aan God self, indien Hy sou luister, die vrae moes vra: Durf ek nuut en ander dink as die geykte meestersverhaal? As Jesus soos ‘n gewone Jood in die Tempel aanbid het en vir ‘n verdieping in die Joodse geloof gepleit het, dan was Hy mos nie ‘n christen nie en het Hy eers na sy dood deel van die Christus-verhaal geword.  Hoekom moet ek, in ‘n wêreld en tradisie wat anders is, steeds ‘n tradisie aankleef met Joodse wortels terwyl my pa ‘n Hollander is met ‘n argwaan teen Joodse sakemanne (die enigstes wat kindertyd my idees kon vorm) en my ma ‘n uit ‘n stoere Afrikaanse boereherkoms stam? Moet mens dan ou oortuigings steeds aankleef wat intussen in ‘n aanklag verander het teen alles wat die wetenskap verkeerd bewys?

… Geen donderslag óf musiek het van Bo weerklink nie.

Maar ek loop my storie vooruit. Die naïewe vertroue van kind-wees het algaande in kommer verander, dat ek te lig geweeg gaan word. Ek het gedurig na kommentare van kenners gegryp, meer oor verskillende teologieë gelees, meer gebid… terwyl my gedagtes rondom Jesus Christus verdiep het.

Op universiteit wou in peïtisme en apologetiek meer te wete kom (die kommunisme was nog die boosheid self), maar vakke soos Wysbegeerte en Sielkunde het my droog gelaat. Tog, iewers in die Letterkunde moes ek eindelik goud raak geboor het!  Dit was eers veel later dat lig begin daag: Ek kom al meer agter hoe selde leraars op kansels na die nuwe kennis oor die ontstaan van Bybelgeskrifte verwys, of die verskillende letterkundige genres uitlig, hoe beeldspraak in die skryfkuns met woorde kan borduur, of na onbekendige oorvertellings en vertalings verwys en verduidelik hoe die prosesse oor lang tye heen betekenisse kon verwar, of dat vele OT Bybelse verhale ooreenkomste toon met ouer verhale uit ander geloofstradisies, en dat mitologie nie ‘n skeldwoord is nie. My slotsom was dat ons kerkvaders nog altyd eenvormigheid in denke voorgestaan het vir totale beheer, maar dat die damwal krake toon. Alle tradisies verander geleidelik en pas aan by die eise van die tyd, net nie die christelike meestersverhaal nie.

‘n Lewenslange leerskool deur Bybelstudiegroepe heen, gedurige naslaan van kundige menings, Bybelstudievriende wat telkens ‘n ‘vreemde’ oortuiging aan myne wou toets en later, selfs as lid van die Kerkraad en afgevaardigde op Sinodes, die tot-stof-getrapte haresplyting van ‘broers’ oor wat die ‘Woord’ sou sê en nie sê nie, het my onafwendbaar bevry om my eie beskouings in my lewe te laat groei. En eie beskouings plus ‘n goeie skoot selfondersoek lei gewoonlik tot ‘n groter kennisbasis, gryser hare en lewenswysheid.

Toenemend het sekere aspekte van ons aardse bestaan sterker na vore getree om my wêreld van verstaan te verruim: die rol van die uniekheid van individue ten opsigte van genetiese herkoms, omgewing en gedrag, maar ook die verband tussen gedrag en die fisiologie van die brein wat keuses betref. Daarom is elke mens vir sy/haar eie groeiende insig, welsyn en keuses verantwoordelik. Die tyd toe mense daagliks aan gevare blootgestel was en vir beskerming in stamverband moes saamkoek en saampraat, is vir altyd verby. Skade en smart is onvermydelik deel van ons bestaan, maar dan ook die voorreg om beter keuse te kan maak om voluit te lewe, spandabelrig liefde te toon en die beste mens vir ander mense te kan wees!

Langs die lewenspad maak ons gedurig keuses, selfs die keuse om van groepsdenke af te wyk, of nie! Met al die nuutste kennis tot ons beskikking en gesien in die lig dat ons eenmalige lewe eindig is en geleenthede besig is om uit te loop, is dit vir my ondenkbaar datdie mens steeds vir mekaar wil voorskryf wat om te dink, te doen en te glo!

Die afgelope klompie jare het Johann en ek die kuddegroep van die NG Kerk verlaat en tuis geraak in ‘n belangegroep (die NHN) wat ten opsigte van geestelikheid en kennis meer werklikheidsgerig is. Ons bring kosbare tye saamdeur in lesings en deel boekinhoude van kundige skrywers uit feitlik elke denkbare dissipline met mekaar. Ons gaan op uitstappies, kuier saam en deel in die voorreg van vriendskappe, terwyl ons menswees in kwaliteit net toeneem.

‘n Verrassende klompie ‘ou’ vriende en selfs ‘n paar familielede verstaan en respekteer die nuwe wêreld. En gelukkig deel ons kinders dit ook. Vir my persoonlik, en oorwegend ook vir die NHN, is toenemende kennis van baie waarde. Veral nuwe navorsing oor onderwerpe soos: die kosmos en die mens se plek en verantwoordelikheid daarin; breinnavorsing en die rol van die neurowetenskap (fisiologies beskou) in die verstaan van ‘geestelikheid’ (‘the mind/spirit); ‘n waardering vir die kunste en kreatiewe vermoë van mense, en ‘n sterk fokus op tydlose waardes soos ‘n verantwoordelike lewenswyse van liefde en omgee vir mens en omgewing. Dit is die uitkomste wat waarde toevoeg tot ons ‘nuwe lewe’ en uitbreiende vriendekring.

My kindertydse vrede en vryheid het teruggekeer ten spyte van lewenseise en pyn. Is dit die veel gesogte ‘tweede naïwiteit’ waarna sommiges verwys, of bloot die belewenis van die wonderlike werklikheid waarin ons bestaan?