1. Inleiding

In die Kindheidsevangelie van Thomas word allerhande verhale oor Jesus se jeug vertel. In een vertelling word gesê dat terwyl hulle gespeel het, het ’n ander seun hom per ongeluk teen die skouer gestamp. Jesus het kwaad geword en vir hom gesê: “Jy gaan niks verder nie.” Die kind het net daar dood neergeslaan.

Weet iemand dalk waar die volgende teks geskryf staan? “Jesus cast the first stone”

Wil iemand waag om te sê wat die teks beteken? Waarskynlik dink jy dat dit ook ’n teks uit een van die sogenaamde apokriewe evangelies is en verwys na ’n verhaal oor Jesus wat iemand met ’n klip gegooi het. Of, indien jy die idiomatiese betekenis ken, sou jy kon dink dit verwys na ’n insident waar Jesus inderdaad die eerste beskuldiging teen iemand ingebring het.

Dit was ’n opskrif in die studentekoerant The Cambridge Student van 23 Oktober 2008 en die eerste woorde van die berig lees as volg: “Magdalene made the short trip to Jesus to face last years runners-up in the league. It was a cold, overcast day, and unfortunately the rugby didn’t light the place up (Magdalene College: 13; Jesus College: 40)”.

Jesus en Magdalene is bekende kolleges van Cambridge Universiteit en die teks verwys na die uitslag van ’n rugbywedstryd.

Ons weet wat die teks sê, maar voordat ons voldoende agtergrondinligting bekom het, weet ons nie noodwendig wat dit beteken nie, omdat dieselfde teks op heelwat verskillende maniere verstaan kan word. Anders gestel, afhangend van wat ons oor die konteks en agtergrond weet, beteken die teks totaal verskillende dinge en kan dit na uiteenlopende werklikhede verwys. Om die teks in konteks reg te verstaan, moet mens sekere inligting in ag neem.

Eerstens moet jy idiomatiese taal verstaan. Tweedens, dat die woorde na kolleges by Cambridge verwys en derdens moet jy jou losmaak van die “misleidende” konteks van verstaan wat ek met die aanhaling uit die Kindheidsevangelie van Thomas geskep het.

Die teks handel nie oor die figuur Jesus nie, maar oor ’n kollege wat sy naam dra. In kort, jy moet ’n kultuur-sensitiewe lees toepas indien jy wil weet wat dit beteken en waarna die teks verwys. Daarom wil ek voorstel dat die tekste oor Jesus se opstanding ook op ’n kultuur-sensitiewe manier gelees moet word.

  1. ’n Kultuur-sensitiewe lees van die opstandingstekste

Kom ons begin by wat die tekste sê. Ek wil vier kort aantekeninge oor die tekste maak:

Eerstens: Geen NT teks beskryf die opstanding self nie. Dat Jesus opgestaan het, word afgelei uit ander goed waaroor die tekste berig of wat deur engele berig word.

Tweedens: Die berigte oor die leë graf word oorheers deur die optrede van engele (in sommige tekste word hulle manne in blink klere genoem). Interessant dat niemand die vraag vra of die wesens ook letterlik, liggaamlik en werklik daar teenwoordig was nie.

Derdens: Die een element wat deurlopend in elke Nuwe-Testamentiese teks oor die opstanding van Jesus beklemtoon word, is dat Jesus “gesien” is of aan mense “verskyn” het.

Vierdens: Myns insiens kan daar geen twyfel wees dat elke enkele Nuwe Testamentiese skrywer gedink het dat Jesus uit die dood opgestaan het of uit die dood opgewek is. En dit is presies wat die Kerk oor die eeue geglo en verkondig het.

Ons weet nou wat die tekste sê (ek verondestel kennis van die inhoud van die tekste). Ons weet dat daar geskryf staan dat hulle gedink het Jesus het opgestaan of is opgewek.

Verstaan ons wat dit beteken?

Weet ons presies wat hulle oor Jesus se opstanding geglo of verkondig het? Ek wil dit afbreek in twee verskillende vrae:

Wat het hulle gedink toe hulle gesê het Jesus het opgestaan of is opgewek?

Waarom het hulle gedink Jesus het uit die dood opgestaan of is opgewek?

Kom ons begin met Jesus se onmiddellike volgelinge.

2.1  Die eerste volgelinge (dissipels) van Jesus

Om die vrae te beantwoord moet ons heelwat weet oor hulle verstaan van die werklikheid of hoe hulle gedink het die wêreld werk. Ons moet ten minste drie fasette van hulle wêreldbeeld begryp.

2.1.1  Ons moet begryp wat hulle idee van ’n mens en die menslike liggaam was

  • volgens die “fisika” van hulle tyd, is alles wat bestaan uit konfigurasies van vier elemente (lug, aarde, water en vuur) opgebou: anders gestel, materiële dinge kon in verskillende konfigurasies van die elemente voorkom; ’n liggaam kon dus materieel wees in meer as een weergawe: ’n “spirituele” liggaam was steeds materieel, maar in ’n ander konfigurasie as ’n vleeslike liggaam;
  • mense, werklike mense, kon in verskillende konfigurasies van vlees, siel en/of gees bestaan en verskyn;
  • liggame kon deur geeste, demone en so meer beset word;
  • voorouers kon in ’n mens se liggaam intrek (soos oor beide Jesus en Johannes die Doper vermoed is) en ’n gestorwe voorouer kon weer in ’n ander gedaante verskyn (vgl die vraag oor Jesus se identiteit);
  • lewe na die dood was algemeen aanvaar: sommige voorouers was nog aktief betrokke. Die meerderheid mense in die antieke wêreld, Jode ingesluit, het gedink dat daar een of ander vorm van lewe na die dood is.

Dus: Jesus het in ’n liggaam opgestaan wat volgens hulle verstaan gekontrueer is.

2.1.2  Ons moet die spektrum van na-doodse (na-lewe) toestande waaraan hulle geglo het, in ag neem

Die meeste mense in daardie tyd het geglo dat mense na die dood in een of ander vorm bly voortbestaan of bly voortleef – hulle het net oor die formaat verskil.

2.1.3  Ons moet die aard van ’n eerste eeuse rasionaliteit begryp

Soos die meerderheid mense op die planeet vandag, het hulle in ’n wêreldbeeld geleef waarin visioene, drome en ander ervaringe, wat ons vandag alternatiewe bewussynservaringe noem, deel was van hul alledaagse lewe en het kennis verskaf oor die werklikheid. Sulke ervaringe word gevoed deur oortuigings en die oortuigings word bevestig deur die ervaringe. Wat hulle as werklik en werklikheid ervaar en aanvaar het, is geglo en beleef of ervaar (byvoorbeeld wanneer voorouers soos Moses of Henog aan iemand verskyn het).

As mens die tekste in die lig van hierdie kennis lees, is dit duidelik dat Jesus opgestaan het in ’n eerste eeuse liggaam op grond van visioenêre ervaringe wat deel van hulle rasionaliteit en aanvaarde bronne van kennis oor die wêreld was en in ooreenstemming met hulle na-doodse sieninge. Anders gestel: binne ’n bepaalde wêreldbeeld het hulle sekere visioenêre ervaringe (berigte waarin engele met mense gesels asook verskyninge van Jesus) as ’n opstanding uit die dood beskryf.

Terwyl mens vanuit ’n kultuur-sensitiewe benadering hierdie sieninge kan verstaan, beteken dit nie dat mens dit hoef te deel of te onderskryf nie. Terwyl visioene vir hulle werklik was en kennis tot die werklike lewe gebied het, is dit in ons verstaan niks meer as neurologiese ervaringe wat soos alle ander bronne van kennis (denke, logika, tradisie, ens) beoordeel moet word nie. Insgelyks is dit baie moeilik om vandag hulle verstaan van die menslike liggaam te deel. Maar laat ek dit beklemtoon, binne hulle ervaring van die werklikheid, was hierdie dinge so werklik soos my en jou verstaan van die wêreld en ervaring van die werklikheid.

Net een opmerking oor die leë graf: reeds in die Nuwe Testamentiese tyd het mense geweet dat ’n leë graf nie ’n bewys is dat iemand opgestaan het nie, want ’n lyk kon gesteel gewees het. ’n Leë graf kan nie bewys iemand het opgestaan nie, maar as jy oortuig is iemand het opgestaan, is die konsekwensie dat sy/haar graf ook leeg is. Dit is presies waarom hulle die verhale oor die leë graf vertel het. Maar die leë graf is byvoorbeeld vir Paulus geen bewys van Jesus se opstanding nie — wel die feit dat Jesus aan sovele verskyn het. Net soos met die talle ander Joodse voorouers en gestorwe profete wat oënskynlik gereeld in die eerste eeu aan mense verskyn het (of kon verskyn), was daar geen argumente of die persone se grafte nou leeg of vol (beendere?) was nie. Wie menswees en lewe-na-dood soos hulle ervaar het, hardloop nie telkens na ’n graf om te sien of dit leeg of vol is wanneer ’n voorouer aan iemand verskyn het nie.

2.2  Die kerk van die 1ste tot die 21e eeu

Reeds in 1 Korinthiërs 15 kry ons ’n aanduiding dat sommige mense in Jesus se opstanding glo oor ander redes as eie ervaringe, naamlik dit wat aan hulle oorgelewer is. Let daarop: daar word nie gesê julle sal elkeen ’n visioenêre ervaring van die opgestane Jesus hê nie — nee, reeds vanaf die Nuwe Testamentiese tyd word aanvaar: glo wat aan julle oorgelewer is. Ons kan dit noem: geloof in geloof — glo in dit wat deel van ons kulturele common sense is en sulke oortuigings word bevestig deur ervaringe.

Ons almal leef in wêrelde waarbinne ons baie dinge aanvaar of “glo” bloot omdat dit so aan ons oorgedra is deur ons kultuur en dit konstrueer die werklikheid vir ons.

Voorbeelde:

  • Eetgewoontes: Ons sal met gemak Hannie die hennetjie eet, maar nie Sarel die slang, of Wagter die hond nie. Die meeste Westerse mense sal naar word (fisies reageer) as jy hulle vertel hulle het so pas vir Wagter in die mond gesit. Objektief gesproke is vleis maar net vleis, maar wat ons glo oor die wêreld bepaal ons “werklikheid”.
  • Kleredrag: Ons trek ‘n sekere soort klere aan en nie ‘n ander soort nie.
  • Ons glo in vryheid van spraak en gelyke regte vir alle mense (vroue ingesluit), private eiendomsreg, monogamie: dink aan die debakel oor poligamie toe drie vroue as eerste lady opgetree het. Wat is rasioneel waar aan enige van die oortuigings?
  • Dink aan patriotisme: groot mans staan en huil op ’n rugbyveld as hulle volkslied gespeel word. Wie van ons verstaan dit nie? Wie van ons sal die eis aanlê dat as jy dit glo moet jy dit kan bewys? Hoe bewys jy jou patriotisme is rasioneel? Hoekom moet die kerk “bewys” Jesus het regtig “opgestaan” voordat dit as ’n geloofsposisie aanvaar gaan word. Alle mense glo sekere goed sonder dat dit bewys is of bewys kan word.

Die opstanding het deel van die geloof van die kerk (“common sense” oortuigings) geword. Hulle deel dieselfde wêreld en werklikheidservaring as die eerste dissipels: dus, visioene van ’n opgestane (belangrike) persoon is ’n kultureel aanvaarbare rede. Die Kerk glo die geloof in Jesus se opstanding soos dit aan hulle oorvertel is en vir eeue het die Kerk Jesus se opstanding elke Sondag “beleef,” ervaar en herdenk sonder om na bewyse te vra.

Kom ons vra die twee vrae ten opsigte van Kerk deur die eeue:

  • Wat het die kerk oor die eeue heen oor Jesus se opstanding geglo? Net soos die eerste dissipels, het hulle geglo dat hy werklik “liggaamlik” opgestaan het.
  • Waarom het hulle dit geglo? Dit was deel van die kerk se teologie of geloofsoortuiging en hulle het die kulturele voorwaardes (lewe na dood, voortbestaan van voorouers en die belang van visioenêre ervaringe) met die eerste dissipels gedeel.

Dit was eers toe hierdie kulturele voorwaardes vanaf die laat 18e eeu met die Verligting, Westerse rasionaliteit, wetenskap, ens, bevraagteken is, dat hierdie oortuiging onder skoot gekom het. Laat ek dit verduidelik met die voorbeeld van Jesus wat die eerste klip gooi. Vir eeue het die kerk die nodige kulturele kennis gehad in terme waarvan hulle oortuig was dat Jesus uit die dood opgewek is of opgestaan het. In terme van hulle wêreld het dit sin gemaak, maar toe die kulturele raamwerk bevraagteken is, het die debat skielik verskuif na die letterlikheid van die teks. Sedertdien handel die debat of Jesus die klip gegooi of gerol het. Was dit ’n klip of ‘n baksteen? Was dit Jesus wat gegooi het en het ons genoeg getuienis oor die klipgooiery? Dit is presies wat in die Kerk se geskiedenis gebeur het toe die kulturele voorwaardes van hul geloof nie meer aanvaar is nie en daarom is daar sedertdien twee nuwe standpunte oor Jesus se opstanding.

2.3  Behoudende/konserwatiewe/ortodokse teoloë vandag

Wat dink/glo hulle oor Jesus se opstanding en waarom dink hulle dit?

Ek wil drie opmerkings maak:

  • Hulle dink Jesus het letterlik, liggaamlik of werklik opgestaan. Al word dit nooit eksplisiet gesê nie, het daar volgens die siening twee wonderwerke met Jesus se opstanding plaasgevind: ’n lyk het lewendig geword en die opgestane liggaam is verander in ’n nie-materiële of materieel getransformeerde liggaam, want die opgestane Jesus bestaan of leef vandag steeds in ’n liggaamlike vorm; sommiges is eksplisiet hieroor dat hy in ’n liggaam van getransformeerde materialiteit bestaan.
  • Hulle dink dit is presies wat die tekste sê; dit is tog duidelik dat as jy die Nuwe Testament lees, soveel tekste Jesus se liggaamlike opstanding bevestig. Indien die standaard historiese metode gevolg word wat kritiese navorsers volg, dan kom hulle tot die gevolgtrekking daar is voldoende onafhanklike, betroubare bronne wat bevestig dat ’n wonderwerk (of wonderwerke) gebeur het en Jesus liggaamlik opgewek is. As soveel onafhanklike, betroubare getuies dieselfde “feite” bevestig, het dit sekerlik gebeur.
  • Hulle dink ook dit is wat die Kerk nog altyd geglo en verkondig het. Met ander woorde, sogenaamde konserwatiewe geleerdes dink hulle siening is dieselfde as dié van die eerste dissipels en die kerk deur die eeue heen. Dit is net formeel korrek.

2.4  Wat sê die kritiese teoloë?

Daar was geen letterlike, liggaamlike opstanding nie, en die tekste moet hoogstens as mites gesien word, of dit moet metafories verstaan word of as kerklike teologie. Die rede is basies tweërly:

  • Wonderwerke vind nie plaas nie en daarom is aanpsrake oor Jesus se opstanding misleiding, of teologiese interpretasies deur sy vroegste volgelinge.
  • Die tekste vertel van ’n wonderwerk, van ’n lyk wat lewendig geword het of getransformeer is, en tekste wat sulke goed vertel, is mites of kerklike teologie of misleiding.
  1. Enkele gevolgtrekkings en slotopmerkings

3.1  Om ja en nee te sê oor Jesus se opstanding

Ja en nee vanuit ’n kultuur-sensitiewe lees beteken iets anders as die ja en die nee van die huidige debat. Diegene wat die tekste op ’n kultuur-sensitiewe manier lees, besef dat (soos die teks oor die “gooi van klippe”) die tekste nie oor objektiewe gebeure in tyd en ruimte handel nie, maar die uitdrukking is van mense se diepste ervaringe en oortuigings wat uitgedruk is binne die raamwerk van hulle wêreldbeeld. Wie dit lees asof dit na sulke gebeure verwys, is soos diegene wat die klipgooi teks lees asof dit na ’n persoon verwys.

Om ja te sê is eerstens om te erken dat dit waarvan die tekste praat en dit wat die kerk deur die eeue verkondig het, vandag nog verstaan kan word as die ernstige en oortuigde sieninge van mense wat binne hulle wêreld hul ervaringe en oortuigings in onderlinge harmonie beleef het.

Ja beteken om te erken dat Jesus letterlik in ’n eerste eeuse konsepsie van liggaamlikheid opgestaan het en dat die “opstanding” in ooreenstemming met hulle ervaringe van die werklikheid was. Dit beteken ook dat Jesus se opstanding (soos die voortbestaan van talle ander voorouers) verstaan kan word as uitdrukking van hulle ervaringe van ’n na-lewe bestaan.

Ja kan ook beteken dat die kerk deur die eeu die geloof in Jesus se opstanding geglo het soos patriotisme deel van mense se diepste oortuigings is. Ek dink dit het tyd geword om ook weer erkenning te gee aan die Kerk se siening oor die eeue heen vir wat dit was: geloof in dit wat oorgelewer is en voortdurend ervaar is en nie bewys is of bewys kan word nie.

Nee, dit beteken nie noodwendig Jesus se lyk het lewend geword en in ’n andersoortige materialiteit voortbestaan nie; nee, dit is nie iets wat jy glo omdat dit (histories of andersins) bewys is nie, maar jy glo dit of daarin, finish en klaar. Nee sê ook dat hoewel mens begrip en respek vir hulle werklikheidservaringe en uitdrukkings kan hê, beteken dit nie dat wat vertel word, net so gebeur het nie (wie sal vandag nog aanvoer die engele was werklik, liggaamlik teenwoordig by die graf?)

Tegelykertyd moet ons dit ook krities bekyk. Omdat die fokus na die Verligting in die 18e eeu verskuif het na die letterlike (in ons sin van die woord) verstaan van die tekste en tradisies (die moderne vraag is: het Jesus werklik, liggaamlik letterlik opgestaan of nie?; alternatiewelik word geargumenteer: die graf was leeg of vol), het ons nooit by die belangrikste vrae uitgekom wat ons behoort te vra nie. Die kritiese studie van Jesus se opstanding kan nie wees of dit gebeur het of nie (net so min as wat dit kan wees of patriotisme werklik is of nie). Maar dit moet wees: Is dié geloof goed? Is patriotisme en voorouer verering en die geloof in Jesus se opstanding goed vir die samelewing, en/of die kerk? Bevorder sulke oortuigings vrede en welwese en lei dit tot sinvolle menswees en spirituele gesondheid of tot geweld, uitbuiting ens?

3.2  Drie verskillende maniere om die tekste te lees

Soos met die teks oor die “gooi van klippe”, kan die tekste oor Jesus se opstanding asook die kerklike tradisie van 2000 jaar op ten minste drie verskillende maniere gelees word.

Ironies genoeg deel beide kritiese en konserwatiewe navorsers vandag twee kenmerke: beide groepe dink die tekste vertel van gebeure (wonderwerke) in ons wêreld en wêreldbeeld en beide dink onafhanklike, betroubare getuienis of historiese navorsing kan dit bevestig of ontken dat iemand werklik, liggaamlik uit die dood opgestaan het. Met ander woorde, goeie historiese navorsing sou die opstanding van Jesus kon ontken of bevestig. Hulle verskil net oor die uitslag van die toets: een groep dink dit kan histories bewys word en die ander betwyfel dit. Beide dink ook dat die kerk se siening deur die eeu ’n bewysbare saak was of op “feitlikhede” berus het.

Maar handel die tekste, om mee te begin, oor gebeure wat so bevestig of ontken kan word? Vanuit ’n kultuur-sensitiewe lees sien mens iets anders raak in die tekste. Vanuit dié perspektief is dit net so futiel om te vra of Jesus letterlik, liggaamlik, werklik (in ons verstaan van die woorde) opgestaan het, as om te vra of Jesus regtig die eerste klip gegooi het.

Sodra mens besef dat presies dieselfde teks deur jou verstaan van die werklikheid tot betekenis gebring word, dan is die groot vraag nie meer of die tekste dit sê of nie sê nie, maar watter verstaan van die tekste die beste is. As jy wil praat van “die evangelie”, watter verstaan bring dit in gedrang? Vanuit die perspektief van ’n kultuur-sensitiewe benadering is die groot uitdaging om te aanvaar dat daar mense is (die meerderheid op die planeet vandag) wat op grond van sulke ervaringe (soos visioene) aanvaar dat gestorwe mense in allerlei vorme (liggaamlik, werklik) voortleef en met hulle kommunikeer.

3.3  ’n Kultuur-sensitiewe benadering vra dat ons die wêreld anders sien

’n Kultuur-sensitiewe benadering is in die eerste plek nie maar net ’n poging om die tekste op ’n ander manier te lees nie, dit is om die wêreld anders te verstaan. Dit is om die pluraliteit van menslike werklikhede ernstig op te neem en te besef dat alle mense nie ons verstaan van die werkikheid deel nie. Anders gestel, dat ons verstaan van dinge nie vir alle mense normatief gemaak kan word nie.

Daarom is die belangrikste rede vir my interesse in hierdie debat nie soseer om uit te pluis watter verstaan van Jesus se opstanding die beste is nie. Daartoe het ek hopenlik ’n bydrae gelewer. Dit is om raak te sien hoe ons voorverstaan, wêreldbeeld, ens. ’n rol speel in hoe ons tekste lees en ander mense verstaan en veral hoe ons radikale verskille hanteer.

Etnosentrisme is ’n vorm van kulturele geweld en fundamentalisme is etnosentrisme met ’n godsdienstige sousie oor. Etnosentrisme is die siening dat alle ander mense en sieninge aan my of ons verstaan van die werklikheid gesien, verstaan en beoordeel moet word. Wat ’n ander persoon of teks ookal sê, verstaan en beoordeel die etnosentris dit vanuit sy of haar siening van dié werklikheid. ’n Fundamentalis gaan net een stappie verder en verklaar daardie siening tot kánon; dit is nie net die enigste korrekte siening van dinge nie, dit is ook goddelik gesanksioneer.

In die wêreld van pluralisme word aanvaar dat alle mense nie noodwendig in dieselfde wêreldbeeld leef nie. Dus, wat “letterlik”, “werklik” en “liggaamlik” is, is nie vir alle mense dieselfde nie. En diegene wat aanspraak maak op gebeure wat vir hulle werklik is, maar nie vir my of ons werklik is nie, is nie noodwendig versteurd nie. Hulle is anders en net so min as wat ons siening normatief moet wees, net so min hoef ons hulle siening en ervaringe van die werklikheid te deel. Ons hoef nie almal te aanvaar dat mense wat engele, voorouers of vir Jesus gesien het, het iemand objektief gesien nie.

Ek sluit af: vir die eerste dissipels was “die evangelie” van die opstanding dat ’n eerste eeuse opgestane liggaam gegrond in hulle ervaringe (visioene) vir hulle werklik was; volgens die Kerk deur die eeue was dit dieselfde soort liggaam, maar gegrond in dit wat aan hulle oorgelewer is; vir kritiese Nuwe-Testamentici is dit bloot ’n mite of vervalsing terwyl dit vir konserwatiewe Nuwe-Testamentici liggaamlik werklik (in ons sin van die woorde) is. Daarom is die vraag nie of “die evangelie” op die spel is nie, maar watter een, want daar is nie so iets soos “die evangelie” nie. Daar is slegs verskillende interpretasies van dieselfde tekste en die vraag is, soos met die “klippe gooi” voorbeeld, watter verstaan van “die evangelie oor die opstanding” het die tekste die beste verstaan? Maar jy sal waarskynlik nie die vraag so kan stel as jy ’n literalis of fundamentalis en nie ’n pluralis is nie.

Daar is diegene wat soos selfaangestelde godsdienstige polisiemanne “die evangelie” wil beskerm sonder om te besef dat dit maar net hul eie verstaan daarvan is. Ironies genoeg is dit juis hulle wat aanspraak maak om in die verlengde van die geloofstradisie te staan, wat nóg die oorspronklike tekste nóg die kerklike tradisie se andersheid en unieke eie respekteer. En tragies genoeg, dit is juis uit hierdie geledere dat die ergste vorme van kulturele en godsdienstige geweld teen ander na vore kom. Ek sê tragies genoeg, want as my kultuur-sensitiewe lees van die tekste waar is, is enige lees wat ’n letterlike, werklike liggaamlike opstanding in ons sin van die woorde voorstaan, ’n etnosentriese verdraaiing daarvan.

Die vraag oor “Jesus se opstanding” konfronteer ons met meer as net die historiese vraag van het dit (so) gebeur of nie. Dit stel ons voor ’n meer fundamentele vraag: hoe gaan ons om met ons tekste en tradisie en met ander interpretasies daarvan? ’n Hedendaagse ketterjagtery wat gebasseer is op ’n etnosentriese misverstaan van die tekste is veel erger as die verwerping van Jesus se opstanding as ’n letterlik, liggaamlike gebeure. Anders gestel, ware bevryding kom wanneer mens die bril raaksien waarmee jy die werklikheid sien of die teks interpreteer en nederig genoeg is om jou interpretasie te relativeer.

Dalk is die 200 jaar van etnosentirese “mislees” van die tekste en die tradisie die grootste struikelblok om tot sinvolle dialoog te kom. Dit help nie ons praat oor die prentjies voordat ons oor die brille gepraat het wat die verskillende prentjies moontlik maak nie.