[Vandeesmaand probeer Diek ‘n bietjie meer lig gooi op ‘n omstrede tendens in die godsdienstige gespreksvoering in Afrikaanse geledere.]

Sowat 11 jaar gelede het ‘n nuwe begrip hom in die plaaslike godsdienstige landskap tuisgemaak: Nuwe Hervorming. Dit het ‘n periode van hewige en soms bitsige debatvoering in kerklike kringe, die openbare pers en op die internet ingelui. Mettertyd het die stof ietwat gaan lê en is die sogenaamde nuwe hervorming (NH) nie meer so hewig onder skoot nie. Die tyd is dus nou meer geleë om perspektief te probeer kry op dié verskynsel wat gemoedere so gaande gemaak het.Sover bekend is die debat ingelui – en die term bekend gestel – toe die toekomskundige, dr Piet Muller, in ‘n tydskrifartikel gewys het op sekere tendense in teologiese denke wêreldwyd wat hy as ‘n nuwe soort hervorming gekenskets het. Die reaksie op die artikel was oorweldigend, in so ‘n mate dat hy dit in die boek, Die Nuwe Hervorming (Protea Boekhuis, Pretoria, 2002), wat kort daarna onder sy redaksie verskyn het, vergelyk het met ‘n damwal wat gebreek het. Dit was duidelik dat die tendens wat hy raakgesien het, ook hier te lande indruk gemaak het.

Vrae wat nou, nadat die NH min of meer deel van die godsdienstige landskap geword het, in verband daarmee gevra kan word, is onder meer die volgende: Wat word onder die NH verstaan en wie is die nuwe hervormers? Wat is die kenmerke van die NH? Is dit wat die NH voorstaan, regtig nuut? En kan die NH werklik as ‘n hervorming beskou word?

Vra mens wat onder die NH verstaan word, moet jy antwoord dat dit verskillend geïnterpreteer kan word. Die begrip word nl. in ‘n eng en in ‘n breë sin gebruik. Dit hang daarmee saam dat die term plaaslik grootliks in Afrikaanse kringe voorkom. Daar is weliswaar enkele Engelstalige skrywers wat van ‘n “new reformation” praat, maar sover ek kan vasstel, is dit hier te lande in Engelse kringe taamlik onbekend.

In die eng sin slaan dit plaaslik hoofsaaklik op Afrikaanse teoloë en hulle volgelinge. In dié geval het dit vir baie mense veral betrekking op prof. Sakkie Spangenberg, omdat Spangenberg heelwat geskryf het om sy standpunte onder die openbare aandag te bring. Maar ook andere, soos proff. Hansie Wolmarans, Pieter Craffert en Pieter Botha, sal as vaandeldraers van die NH gereken word. Die NH kan verder gelyk gestel word met die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN), waarby dié teoloë betrokke is, ‘n organisasie met ‘n eie webwerf (www.nuwe-hervorming.org.za) en lede wat van tyd tot tyd byeenkomste hou.

Diegene wat wyer lees, en veral ook nuwe hervormers in die eng sin, sluit dikwels buitelandse skrywers by die NH in, en sodoende kry die begrip ‘n breër betekenis. Name van Amerikaanse en Engelstalige Bybelkenners soos Marcus Borg, John Dominic Crossan, Robert Funk, John Selby Spong, Bruce Malina en soms ook dié van Nederlandse teoloë soos Cees den Heyer en Harry Kuitert duik veral in dié verband op. Ek is egter nie seker dat al dié teoloë en skrywers hulle noodwendig met die NH of NHN sou vereenselwig nie. ‘n Groep Bybelkundiges wat soms ook as nuwe hervormers beskou word, is die sogenaamde Jesus Seminar in Amerika, maar ook in dié geval is dit waarskynlik ‘n te groot lading vir die begrip. Hierdie vaer, minder duidelik omlynde groep, kan, met insluiting van die plaaslike NH’ers, die NH in die wyer sin genoem word.

Wat die kenmerke van die NH sou wees? Hierop is nog minder ‘n eenvoudige antwoord te gee. Die NH, sowel in die eng as in die wyer sin, is nl. alles behalwe ‘n eenvormige beweging met eenduidige konfessionele uitgangspunte en strategiese doelstellings wat deur alle geesgenote gedeel word. Dit is ook nie, minstens hier te lande, soos die hervorming van Luther en Calvyn, ‘n wegbreekaksie wat uiteindelik op ‘n nuwe kerk met ‘n nuwe belydenis wil uitloop nie. Dit is eerder ‘n breë tendens binne die Christelike tradisie ten opsigte waarvan daar slegs gemene delers aangetoon kan word.

Die oorkoepelende tendens sou geformuleer kon word as ‘n strewe om die Christelike tradisie te herbedink teen die agtergrond van ons post-moderne tydsgewrig, die moderne wetenskap en die uitkomste van die Bybelwetenskap. Dit hou in dat God, Jesus, die Bybel en sekere leerstukke van die Christelike kerk geherkonseptualiseer word. Hoe dit gedoen word, verskil van geval tot geval en van persoon tot persoon, veral as die NH in sy breë konteks bekyk word. In nie een geval kan daar geldig veralgemeen word nie; daar kan slegs op tipiese voorbeelde gewys word. Wat hier volg, moet dus nie sonder meer in die skoene van elke sogenaamde nuwe hervormer geskuif word nie. Al wat dit wil sê, is dat dit tiperend van die NH in die breë sin is.

Wat die Bybel betref, word daar oor die algemeen weg beweeg van die gedagte dat die Bybel die woord van God is.

Wat die Bybel betref, word daar oor die algemeen weg beweeg van die gedagte dat die Bybel die woord van God is. In plaas van “woord van God” of “God se woorde in mensetaal” word daar eerder gepraat van “mensewoorde oor God”. Die uitdrukking “basisdokument van die Christendom” word ook gebruik. In samehang daarmee word sterk klem daarop gelê om die Bybel in konteks te lees. Die Bybel se historiese, kulturele en literêre kontekste word beklemtoon, wat kan inhou dat dit ook gelees moet word as mitologie of metaforiek wat met geskiedenis vermeng is. Die implikasies hiervan vir inspirasieteorieë is voor die hand liggend.

Ten opsigte van Godsdenke is daar ‘n onmiskenbare wegbeweeg van die teïsme, d.w.s. die konseptualisering van God as ‘n Skepper-God met eienskappe soos almag, alomteenwoordigheid, alsiendheid, alwetendheid en dies meer, wat van buite die kosmos beheer oor alles daarbinne uitoefen. In plaas daarvan word bv. eerder gesê dat God Gees of ‘n Misterie is. Nuwe hervormers is ook geneig om panenteïsties oor God te dink, wat beteken dat Hy sowel binne as buite die skepping aanwesig is. (Dit kan inhou dat “God” ook in die individu aanwesig is). Daar is verder ‘n neiging om van “die Goddelike”, “die Goddelike Prinsipe” of “die Goddelikheid” eerder as van “God” te praat, om sodoende weg te kom van die opvatting dat God ‘n persoon is.

In die geval van Jesus word daar veral histories na Hom, as mens, gekyk. Pogings word aangewend om vas te stel wie Hy was en wat Hy werklik gedoen, gesê en verkondig het. Daar is ‘n algemene neiging om Hom te sien as “Rabbi Jeshua”, die Jood, die wysheidsleraar, eerder as die “(seun van) God” (wat in die idioom van die tyd “begenadigde van God” eerder as “Goddelike seun” beteken het). Die wonderwerke van Jesus, sy genesings, sy maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart is deel van die historiese probleem. Sommige nuwe hervormers beskou al hierdie dinge as verklaarbaar binne ‘n literêre, psigologiese en/of kulturele konteks, en nog ander as verhale met ‘n mitologiese of metaforiese inhoud.

Die herkonseptualisering van God en Jesus het onder meer implikasies vir kerklike leerstukke soos die Drieëenheid. Sonder ‘n teïsties gekonsipieerde “Vader-persoon” en ‘n goddelik gekonsipieerde “Seun” kan daar nl. nie meer sprake wees van drie persone in een nie. Nuwe hervormers sal ook hieroor verskil. Sommige sal die Drieëenheidskonsep sonder meer verwerp, ander sal dit doodgewoon ignoreer, en nog ander sal sê dat dit nie ‘n wesenskenmerk van die Goddelike is nie, maar wel ‘n manier om oor “Hom” te dink of “Hom” te belewe.

Nie net leerstukke nie, maar ook kernbegrippe soos sonde (insluitende erfsonde), berou en vergifnis moet herbedink word wanneer teïsme verwerp word. Nuwe hervormers gee na my wete nie veel aandag hieraan nie. Een uitsondering is Marcus Borg, wat ‘n paar hoostukke daaraan wy in sy boek The God we Never Knew.

Een van die implikasies van NH-denke wat genoem kan word, is die posisie van die Christelike godsdiens ten aansien ander gelowe. As God Hom nie in Jesus geopenbaar het nie en die Bybel is nie deur God geïnspireer nie, volg dit logies dat die Christelike godsdiens nie die enigste ware godsdiens is nie. Daar is dan ook nuwe hervormers wat toegee dat die Christelike geloof nie vertikaal bo-aan die godsdiensleer staan nie, maar horisontaal naas ander godsdienste. ‘n Verdere implikasie, wat egter nie dikwels verwoord word nie, is natuurlik dat verskille binne die Christendom – en dit sluit by implikasie die NH in – ook in beginsel gelykwaardig is.

Die vraag is nou of die denkbeelde van die NH, altans dié wat as voorbeelde dien van die tendens wat as sodanig bekend staan, werklik nuut is. Die antwoord is nee en ja.

Die denkbeelde wat in NH-kringe gevind word, is alles behalwe nuut. Elkeen wat hier genoem is en haas elke ander een wat nog genoem kon word, het reeds voorheen in die geskiedenis van die Christendom opgeduik. Trouens, die meeste daarvan, indien nie alle nie, was in een of ander vorm so vroeg as die eerste twee eeue nC al in Christelike kringe aanwesig, soms net in ‘n ander idioom. Uit wat ons vandag van die vroeë geskiedenis van die Christendom weet, blyk dit dat daar verskeie groepe Christene, of beter gestel: Jesus-volgelinge, was wat anders oor God, Jesus en die Bybel gedink het as die ortodoksie wat eers in die 4de eeu nC sy finale beslag gekry en ander tradisies verdring het.

En dan moet bygevoeg word dat sommige opvattings in NH-kringe net meer radikale wendings is van opvattings wat reeds in hoofstroom-kerke aanwesig is. Min teoloë sal bv. vandag nog simplisties teïsties oor God dink, en haas almal sal daarop aandring dat die Bybel in konteks verstaan en gelees moet word.

Dus, feitlik geeneen van die tipiese denkbeelde wat in die NH na vore kom, is as sodanig nuut nie. Die NH nuut in soverre dit in ‘n nuwe denkklimaat ontstaan het en leef. Dit is nuut in die sin dat dit die moderne wetenskap, en veral bevindinge omtrent evolusie en die ontstaan van die kosmos, ernstig opneem. Dit is nuut omdat dit kan steun op vordering in die Bybelwetenskap, voortgaande argeologiese vondste, ontdekkings soos die Dooie See-rolle en die Nag Hammadi-tekste, en beter kennis van ou tale. Dit is gevolglik in staat om ou insigte in ‘n nuwe idioom te formuleer en teen ‘n nuwe agtergrond te projekteer. Die impak daarvan bestaan in die omvang en konsekwensies van al die insigte wanneer dit by mekaar getel word. Dié insigte is natuurlik ook nuut vir ‘n konserwatiewe lekepubliek wat nie kennis dra van wat buite eie kring aangaan nie.

Vra ons of die NH ‘n egte hervorming is, is die antwoord weer ontwykend, weer ‘n ja-en-nee, afhangend van wat mens onder hervorming verstaan.

Die woord hervorming word in Afrikaanse kringe veelal met die 16de-eeuse hervorming in verband gebring, terwyl hervormer veral die name van Luther en Calvyn oproep. Dit kan, ietwat onbeholpe, die reformatories-historiese verstaan van hervorming genoem word. Die vraag is of die NH ‘n hervorming in dié sin is, met ‘n hedendaagse Luther of Calvyn aan die stuur.

Die antwoord is sonder meer nee. Die NH toon nòg inhoudelik nòg prosesmatig enige ooreenkomste met die 16de-eeuse hervorming. Die aard van die geskilpunte met die ortodoksie is van ‘n heel ander aard en op ‘n heel ander vlak as dié wat Luther en Calvyn met die kerk van hul tyd gehad het. Trouens, die hervormers van destyds het essensieel binne die kader van die ortodokse belydenisskrifte gebly, terwyl die NH reeds grootliks daarbuite beweeg. Die NHN het, vir die huidige altans, ook geen voorneme om ‘n eie kerk te vorm nie, veral nie gekoppel aan politieke steun, soos in die geval van Luther nie.

Wat die NHN betref, is daar geen teken van ‘n institusionele hervorming op die horison nie. Dit is in geen sin van die woord ‘n nuwe kerk nie. Bestudeer mens die waardes, visie, missie en doelstellings van NHN, soos dit op hul webwerf uiteengesit woed, kom jy trouens min, indien enigiets, teen van wat hierbo i.v.m. die denkbeelde van die NH gesê is. Dit het m.a.w. geen belydenis of iets wat daaraan herinner nie. Dit blyk slegs uit artikels en ander bydraes tot die webwerf hoe lede dink. Daar is ook niks wat aan die organisasie van ‘n kerk herinner nie. Wat jy wel vind, is ‘n inisiatief wat ‘n oop gesprek rondom spiritualiteit en aanverwante aangeleenthede wil bevorder, wat inligting in dié verband wil verskaf en wat ‘n onderlinge ondersteuningsgroep vir sy lede wil wees. Dus geen hervorming in die reformatories-historiese verstaan van die woord nie. Ek sal egter nie verbaas wees as daar mettertyd uit, of in samehang met, die NHN iets soos nuwe gemeentes ontwikkel nie.

Daar is egter ‘n ander, semantiese manier om hervorming te verstaan. ‘Her-vorm’ beteken nl. ‘oor vorm’ ‘weer vorm’, ‘opnuut vorm’. Hervorming is m.a.w. sinoniem met vernuwing en verandering. Dit beteken gevolglik ook dat ‘n hervormer ‘n vernuwer is. Uit hierdie oogpunt kan hervorming op twee vlakke plaasvind, die institusionele en die individuele. In die eerste geval verander kerke se leerstellings, belydenisse, opvattings of uitkyke, en in die tweede geval individue se opvattings teen die agtergrond van dié van die kerk en/of die aanvaarde ortodoksie.

Kerke en tradisies verander en vernuwe vanself, sonder om te skeur soos in die geval van die 16de-eeuse hervorming. Die Katolieke Kerk van vandag is lankal nie meer die Katolieke Kerk van die tyd van die Hervorming nie, en die NG Kerk van vandag lankal nie meer die kerk wat Van Riebeeck met hom na die Kaap gebring het nie. ‘n Resente voorbeeld van interne institusionele hervorming is die aanvaarding van die Belhar-verklaring deur die VGK, wat ‘n vernuwing van dié kerk se belydenis geword het. Dié soort hervorming kan egter ook haas ongemerk plaasvind. Oor tyd vind dit trouens gedurig plaas, soos in die geval van sekere standpunte van prof Johannes du Plessis (1868-1935) wat vroeër heftig veroordeel is, maar later byna ongemerk deur die NGK aanvaar is. Op die institusionele vlak het die NH oënskynlik nog min, of geen, indruk gemaak. In dié sin is dit dus, minstens voorlopig, ook geen hervorming nie.

Hervorming op die individuele vlak kom voor wanneer daar in individue se opvattings ‘n verskuiwing weg van die aanvaarde ortodoksie plaasvind. In dié sin is die land vol hervormers. Ben du Toit se boek, God. Geloof in ‘n Post-Moderne Tyd, het die pre-moderne denkwyse wat nog taamlik algemeen in die ortodoksie vaardig is, bevraagteken. Piet van Staden se boek, Towards a Greater God. The Evolution of Religion, het ‘n uitdaging aan die kerk met sy bestaande denkpatrone gerig om vernuwend aan die toekoms te dink. En dan is daar teoloë in die NG Kerk teen wie die Evangeliese Inisiatief ‘n tydjie gelede hul grofgeskut opgestel het omdat eersgenoemdes die teologiese terrein na hulle oordeel te vernuwend verken. Dit is maar drie voorbeelde van individuele denke wat hervormend is.

Dit is egter nie net teoloë wat hervormend dink nie. Leke van elke oortuiging interpreteer leerstellings en kerklike beginsels dikwels só dat dit afwyk van wat hulle deur hulle kerke geleer word. Nie noodwendig op ‘n dramatiese wyse nie, maar dikwels heel beskeie en huiwerig. Ook nie noodwendig verantwoord of deurdag nie, maar soms naïef en onlogies. Vir die individu, egter, net soos vir die teoloog, is dit vernuwende, veranderde denke, is dit hervorming. In dié semantiese sin van die woord is baie van ons, miskien selfs die meeste, dus ook hervormers.

Dit is in dié opsig dat die NH ‘n hervorming is; dit is hervorming op individuele vlak, hervorming in die denke van individue. As sodanig is dit nie nuut nie; dit is so oud as die Christelike tradisie self. Waarin Die NH wel verskil van die soort hervorming van diegene wat daarbuite staan, en veral van die soort hervorming in die denke van leke binne die ortodoksie, is die betreklik radikale aard en omvang van die “nuwe” denke. Dit is wat die godsdienstige gesprek hier onkant betrap het.

Dus: hervorming, nuut of andersins, is nie die alleen-eiendom van die NH nie. Kerke hervorm gedurig, al besef hulle dit nie altyd nie, en individue se godsdienstige denke hervorm ook dikwels, hulle weet dit miskien nie. Intussen lyk dit of die NH, minstens as ‘n tendens in individueel hervormde denke, gekom het om te bly.

*Hierdie bydrae is ‘n verwerking van ‘n artikel wat voorheen in GRASnuus verskyn het.

Diek van Wyk

Kliek hier vir die ⇒ Nuusbrief 12