Deur: Sakkie Geldenhuys

Opgedateer op : So 07 Aug 11

Volgens die deskundiges bestaan die heelal etlike miljoene jare; bestaan dit uit ‘n ontelbare aantal hemelliggame waarvan slegs ‘n geringe getal aan die mens bekend is; word daar na bewering voortdurend nuwe hemelliggame geskep; is die planeet aarde maar slegs ‘n spikkel in die kosmos; bestaan daar op grond van die beperkte kennis waaroor die mens beskik, slegs op aarde sinvolle lewe. Maar nou is dit so dat daar aan die een kant mense is wat verskillende soorte godsdienstige en nie-godsdienstige teorieë aanhang en hulle lewens daarvolgens rig of probeer rig. Maar aan die ander kant is daar diegene wat ‘n dag tot dag bestaan voer (sy dit in weelde of in armoede) wat min gepla is oor godsdiens.

Op die planeet aarde voer die mens sy bestaan óf in samewerking met, óf in opposisie tot die plante- en die diereryk, en is daar ook voortdurend, van die vroegste tye af, spanning en oorloë tussen mense. Die enigste oogmerk van plante en diere, sy dit op land of in water, is om te oorleef en voort te plant. By plante en diere is dit dus net die fisiese voortbestaan wat saak maak.

Plante is vir lewe afhanklik van die natuur en hulle beskermings- en verdedigingsmeganismes is beperk, met die mens en dier hulle grootste bedreiging. Diere teer op plante en ander diere vir hul voortbestaan. Die uiteindelike oogmerk van plant en dier is om voor voltooiing van hulle lewensiklus, voort te plant. So volg dan die een kringloop na die ander — geboorte, groei en uiteindelike dood..

Die mens word van plant en dier onderskei deurdat hy, benewens ‘n hoër intellek, ook oor ‘n innerlike gees of siel beskik. Nieteenstaande hierdie bykomende ‘eienskap’ voer primitiewe en minder beskaafde mens min of meer dieselfde bestaan as plant en dier. Die meer beskaafde mens beroem hom daarop dat hy ‘n lewe voer met die oog gerig op ‘n hiernamaals na voltooing van sy lewensiklus. As dit nie so was nie, sou die mens se bestaan identies wees aan dié van plante en diere. Maar helaas is hierdie groep in die minderheid.

Te midde van al die filsosofiese teorieë, tesame met wetenskaplike navorsing, staan of val dié minderheidsgroep by die geldigheid van hulle beskouing oor lewe na die dood. Ek self worstel met die vraag hoe geldig hierdie beskouing(s) is.

Voordat dié vraag sinvol beantwoord kan word, moet ons eers klarigheid kry oor die begrippe hemel en hel. In die eerste plek is daar diegene wat onwrikbaar glo dat hemel en hel plekke is, êrens in die heelal waarheen die menslike liggaam (fisies of in ‘n verheerlike vorm) uiteindelik sal gaan. Die hemel is ‘n plek waar die mens wat op aarde ‘n godvrugtige lewe gevoer het, vir ewig in liefde en vrede sal voortleef, terwyl hel die plek van ewige verdoemenis is. Binne hierdie groep is daar sekeres wat verkondig dat die siel van die mens wat godvresend gewandel het, onmiddellik na afsterwe hemel toe gaan — en baie dominees sê dit ook reguit so by begrafnisse. Ander predik dat hierdie verhuising eendag, êrens in die toekoms na die opstanding gaan plaasvind. Hoe dit ookal sy, hemel en hel word deur beide groepe as plekke geïdentifiseer, beskryf en besing.

Dan is daar ander mense wat met hierdie siening verskil. Hulle standpunt kom in hoofsaak daarop neer dat hemel en hel nie plekke is nie maar ‘n toestand in die menslike bewussyn. Vir hulle beteken dit dat die mens sy bewussyn kan instem op ‘n regte verhouding met iets buite homself. Die mens kan in volkome harmonie daarmee leef. Vir hulle gaan dit om die ervaring van ‘n hemelse toestand of ‘n verhouding met die ‘iets’.

Die alternatiewe keuse, volgens hierdie denkwyse, is om jou af te sluit van die wêreld buite jouself. Doen ‘n mens dit ervaar jy die hel. Dit is wat ‘hell’ in Engels beteken — ‘to separate, to exclude.’ Jy bou as ‘t ware ‘n muur om jou. Jy leef in jouself, vir jouself en dus in disharmonie met die res van die dinge om jou. Jy sluit jou effektief af van die hemelse toestand en begeef jouself in ‘n ‘helse’ toestand.

Sou ‘n mens die voorafgaande beskouings van hemel en hel as plekke enersyds of as toestande of verhoudings andersyds as uitgangpunt neem, moet jy besin oor hoe dit met die begrip ‘hiernamaals’ versoenbaar is.

Indien die sienswyse ondersteun sou word dat hemel en hel fisiese plekke is, ontstaan die vraag: Gesien die onpeilbare omvang van die kosmos, waar is dié plekke geleë? As dit tog wel êrens in die kosmos wou wees, dan het daar volgens die een siening oor die eeue reeds ‘verhuisings’ daarheen plaasgevind, maar sal dit volgens die ander siening, eers eendag met die opstanding gebeur. Neem egter in ag dat die kosmos etlike miljoene ligjare groot is en dat reise na die eindes van die kosmos menslik onmoontlik is. Hemel en hel klink net te veel na ‘n gekkeparadys wat die mens self opgetower het. Aanvaar ons die sienswyse van die ander mense, naamlik dat hemel en hel ‘n toestand in die mens se bewussyn is, kom die hele begrip van hiernamaal in die gedrang.

Nóg hemel, nóg hel, nóg hiernamaals maak egter vir my logiese sin.