Die Gilgamesj-epos is die oudste bestaande literêre werk, as ’n mens in terme van letterkunde praat.

 

Wat is ’n epos?

Die algemene definisie van ’n epos is dat dit ’n lang verhalende gedig is, m.a.w., dis ’n storie wat in poëtiese taal vertel word. Daar word ook algemeen aanvaar dat ’n epos gewoonlik die verhaal van ’n held vertel, maar soos u spoedig sal agterkom, dis nie altyd so nie. Gilgamesj, soos dit sal blyk, is eintlik iets van ’n mislukking.

Tussen 1300 en 1100 v.C. is die Gilgamesj-epos op 12 kleitablette in spykerskrif opgeteken. Die seepgladde manier waarop ek dit gaan vertel, is uiters misleidend, want hierdie kleitablette is stukkend, gebroke. Dit vertel ook ’n stukkende verhaal, ’n verhaal van die gebrokenheid van die mens. Maar sonder om u verder te verveel met baie detail, kom ons luister na die storie.

Vriende, Afrikane, Landgenote, spits die ore, ek kom om Gilgamesj te prys, nie om hom te begrawe nie! Ek stel u voor aan koning Gilgamesj, die koning en held van die stadstaat Uruk. Hy is ’n brawe en dapper koning, in tye van gevaar loop hy voor, beskerm hy van agter, hy gee om vir sy mense, hy beskerm die weerloses teen onderdrukking. Kom klim saam met my op die ou-ou stadsmure van Uruk, loop rond, kyk wat daarbinne aangaan…

Wat ’n skok! Jong Gilgamesj is ’n arrogante jong windbol. Hy misbruik sy mag brutaal. Hy laat niemand met rus nie. Hy toets sy kragte teen die jongmans dag en nag, en die jongmeisies…nouja, hulle ontsnap ook nie die koning se attensies nie. Uiteindelik bid die vroue van die stad tot die skeppergodin Aruru. Hulle smeek haar: Jy, Aruru, jy het hierdie rustelose koning geskape. Kom, skape nou sy eweknie, iemand net so sterk en rusteloos soos hyself, sodat ons en ons manne vrede kan hê… Aruru verhoor hul gebede. Sy knyp ’n stukkie klei af, werp dit op die steppe, dit kry lewe, en Enkidu kry gestalte.

Enkidu is vreeslik groot en vreeslik sterk, sy hele liggaam is van hare oortrek, maar eintlik is hy skadeloos. Sy vriende is die wildsbokke by die watergat, hy speel saam met hulle en saam met hulle voer hy ’n vegetariese bestaan. Soos die bokke vreet hy net gras.

Eendag gewaar ’n jagter hoedat Enkidu die strikke uittrek wat hy vir die diere stel, by die aanskoue van hierdie woeste monsteragtige gedaante skrik hy homself heeltemal uit sy geloof. Hy hardloop na sy pappie toe, stom van vrees. Eers drie dae later kry sy woorde terug om te vertel wat hy gesien het. Sy pa gaan vra raad by koning Gilgamesj, en dit kom neer op die volgende: Vat Sjamhat, die prostituut saam – sy sal die woestaard beskaafd maak en hom maniere leer.

Ek onderbreek myself kortliks hier. As ons aan prostitute dink, dink ons aan ’n swak buurt met dowwe rooi ligte — en seks te koop. In die Ou Nabye Ooste was daar ook hierdie soort prostitute, maar daar was ook die tempelprostitute. Hierdie vroue was hoogs gerespekteer in die samelewing, hulle was van die min vroue wat kon lees en skryf. En die tempel, waar hulle praktiseer het, was ’n simbool van religie, kultuur en beskawing. Ons Sjamhat is na alle waarskynlikheid so ’n tempelprostituut.

Terug na die storie. Sjamhat gaan saam met die jagter na die watergat waar Enkidu gewaar is. Vir drie dae en drie nagte sit hulle daar, en Enkidu maak sy opwagting. Die jagter skrik so groot dat hy homself die heeltemal uit die storie uitskrik, en Sjamhat? Wat doen sy?

Sy trek haar klere uit.

 

En Enkidu? Wat doen hy?

Hoe voorspelbaar is ’n man tog! Vir ses dae en sewe nagte hou dit aan. Na die sewende nag is Enkidu verstaanbaar ’n bietjie moeg. Nou wil hy teruggaan na sy ou vriende, die bokke, maar hulle ruik aan hom dat iets verander het, en hulle hardloop weg. Hy wil agter hulle aanhardloop, maar hy kom agter dat iets gebeur het. Hy is nie meer so sterk soos vantevore nie. Sy bene en knieë kan nie meer so vinnig soos vantevore hardloop nie. Hy gaan terug en gaan sit aan die voete van die prostituut om te leer. En sy vertel hom wat sy doel in die lewe is: hy is geskape om ’n kameraad vir koning Gilgamesj van Uruk te wees.

Maar Enkidu is nog nie heeltemal gereed vir die lewe van die stad nie. Hy en Sjamhat oornag by ’n herderskamp. Die herders ontvang hulle baie vriendelik en verwelkom hulle met ’n reuse partytjie. Enkidu is skrikkerig. Dis die eerste keer wat hy voorbereide kos en voorbereide drank sien. Sjamhat stel hom egter gerus. Dis heeltemal veilig — brood en bier is voedsel vir konings en gode. Enkidu eet sewe brode op en drink sewe bekers bier uit, hy kom heeltemal onder die invloed en begin luidrugtig te sing … sy woeste hare val uit, sy vel word glad …

Vergrype aan seks, kos en drank maak van Enkidu ’n beskaafde mens.

Nou is dit tyd om stad toe te gaan. Namate hulle naderkom, merk hulle ’n beroering. ’n Jong man vertel hulle waaroor dit gaan: ’n huwelik is op die punt om voltrek te word, maar voor dit kan gebeur, eis koning Gilgamesj die huweliksregte met die bruid vir homself op.

Enkidu is op die daad woedend. Hy bestorm die huis van die huwelik en versper toegang vir die koning met sy voet. Hulle pak mekaar soos jong bulle. Die mure skud. Die mense kyk toe met afwagting. Hier is die antwoord op hul gebede —iemand met so sterk en so groot soos die koning.

Gilgamesj buig die knie.

Wie wen? Ons weet nie. Dit kan wees dat Enkidu hom om die grond neerdwing. Dit kan ook wees dat hy kniel om Enkidu deur die lug te werp, soos in ’n stoeigeveg. Miskien moet die afleiding wees dat die geveg gelykop eindig. Want uiteindelik soen die twee mekaar en vorm ’n ferm vriendskap. En uiteindelik gebeur die ook so dat die mense van Uruk vrede het en met hul lewens kan aangaan.

Maar nie vir lank nie.

Die gemaklike stadslewe is besig om Enkidu saf te maak. En die ding dat hy ook nie ouers het nie, pla hom. Om die waarheid te sê, Enkidu raak toenemend bedruk. Gilgamesj bemerk dit, en hy het net die antwoord vir depressie: aksie! Avontuur, verkieslik doodsveragtend van aard. ’n Avontuur wat, al sou hulle sterf, hul naam vir ewig sal laat voortlewe. Op hierdie stadium begin Gilgamesj se soektog na die ewige lewe — maar ’n lewe in Naam, om Naam vir homself te maak.

En watter heldedaad, vra hy vir Enkidu, kan beter wees as om Humbaba vankant te maak?

Maar Enkidu sidder by die gedagte. Gilgamesj het nog net van Humbaba gehoor. Hy wat Enkidu is, het hom gesien in die dae toe hy nog wild op die steppe rondgedwaal het. Sy bek is vuur, sy stem is die Groot Vloed, en sy asem is die Dood. Boonop is Humbaba deur die god Enlil aangestel om sy kosbare sederwoude te bewaak, om te sorg dat geen mens of dier naby waag nie.

Maar Gilgamesj lag sy vriend se vrese af, en maak hom af as ’n bangbroek. Enkidu gaan vra raad by die ouer manne van Uruk, en hulle is ook van mening dat dit ’n dwase besluit is. Gilgamesj wend hom tot die jonger manne wat hom natuurlik met groot entoesiasme aanhits — en ’n onwillige Enkidu word saamgesleep.

Maar eers gaan stel Gilgamesj Enkidu aan sy moeder voor – godin Nunsun, godin van die wildekoeie. Ninsun neem die ouerlose Enkidu aan as haar eie seun, maar ook sy is nie gerus oor hul ekspedisie nie. Sy klim op na die dak, sy brand wierook en rig ’n gebed tot Sjamasj, die songod. As dinge skeefloop…sal hy asseblief ingryp?

Intussen vertrek die twee manne op pad na die sederwoud. Dis ’n lang meedoënlose ekspedisie. Hulle reis sonder blaaskans, stop net om elke aand te slaap. En amper-amper wil Gilgamesj kleinkoppie trek. Elke nag word hy rillend en vol hoendervleis wakker, geteister deur die een of ander nagmerrie. Maar hierdie is die Enkidu wat sy drome uitlê, en hom van goeie voortekens verseker.

Uiteindelik kom hulle aan by die sederwoud. Pragtig mooi is die woude teen die hange van die berge…maar onheilspellend gewaar hulle Humbaba se spoor by die ingang van die bos…

En dan is die monster op hulle! Hy beledig hulle gruwelik. Hy noem Enkdu die kind van ’n vis en ’n waterskilpad, en dreig om Gilgamesj se vlees vir die voëls en die krieke te gooi. Gemoedere loop hoog – en ’n geveg breek uit. Die groot berge, Sirara en Libanon sidder, die aarde skeur … soos mis reën die dood op Gilgamesj en Enkidu neer…

Sjamasj onthou Ninsun se gebed. Hy laat dertien stormwinde teen Humbaba opstaan. Die monster is verblind — hy kan nie vorentoe beur of agtertoe skop nie — en die wapens van Gilgamesj en Enkidu oorweldig hom. Nou pleit die arme ding vir sy lewe. Gilgamesj is ’n jong bul van Uruk, en Enkidu ’n held. En as dit lyk asof Gilgamesj wil toegee, herinner Enkidu hom daaraan — die groot gode gaan woedend wees as hulle hiervan uitvind, dis beter om so moontlik met Humbaba klaar te speel. Sonder verdere omhaal van woorde, kap Gilgamesj Humbaba se kop af, hulle vaar die woude in en kap bome af om Gilgamesj se paleis mee te versier, maak ’n vlot en vaar terug na Uruk.

Besmeer van die bloedige geveg, gaan neem koning ’n bad. Hy stroop sy vuil klere af, was die modder en bloed van sy liggaam af, gooi sy lank blink hare oor sy sterk en manlike skouer…

en trek die oog van niemand anders nie as Isjtar — skone godin van liefde…en oorlog. Die oomblik toe sy hom sien, raak sy smoorverlief op hom. Sy wil dadelik met hom trou. Sy belowe hom alles wat ’n man maar voor kan wens: geld, mag, seks. En Gilgamesj? Eers reageer hy diplomaties. Wat kan hy, ’n sterflike mens vir haar, ’n godin bied? Daarna beledig hy haar blatant. Hy herinner haar aan al haar vorige minnaars: arme Tammuz wat sy jaar na jaar na die onderwêreld toe stuur om daar te huil; die bont amandelkraai wie se vlerk sy gebreek het en nou harsteer in ’n boom sit en skreeu; die perd wat sy vir die sweep bestem het; die tuinier wat sy in ’n padda verander het om nou in sy eie handewerk te sit en borrels blaas. Wat is sy kanse? Watter makabere lot gaan sy vir hom uitdink? Dankie, maar nee dankie!

Woedend oor hierdie belediging storm Isjtar die hemele in. Sy staan voor Anu, haar pa, die hoofgod, en Antum, haar ma. Pappie, gee vir my die Hemelbul sodat hy Gilgamesj in sy paleis kan vertrap! eis sy. Haar pa waarsku — die Hemelbul se weiplek is tussen die sterre, op aarde gaan hy amok maak! Maar Isjtar dreig – as haar pa nie aan haar wense gehoor gee nie, gaan sy die sluise van die doderyk oplig sodat die dooies kan uitkom en lewendiges opvreet. Anu is nie bestand teen sy dogter se tirade nie, en met die leisels van die Bul in haar hande, sit Isjtar af aarde toe.

Presies wat Anu voorspel het, gebeur. Die Bul saai verwoesting sover soos hy gaan. Elke keer as hy snork, gaan ’n groot gat in die aarde oop, en ’n klomp mense val daarin. Die derde keer wat dit gebeur, is Enkidu een van die slagoffers. Maar Enkidu spring uit, pak die bul by die stert en roep sy vriend Gilgamesj vir nog ’n lekker geveg. Natuurlik maak hulle die ding dood, kap sy kop af, wei sy hart aan Sjamasj, en Gilgamesj hang die horings as trofee in sy slaapkamer.

Isjtar is gebroke oor die dood van haar geliefde troeteldier. Sy spring op en af op die mure van Uruk en huil en kla. Dit irriteer Enkidu grondeloos. Hy dreig om die agterflank van die Bul in haar gesig te smyt en die derms om haar arms te drapeer. Intussen besig ’n groot optog die heldedade van ons twee vriende. Daardie aand gooi hulle die moeder van alle partytjies en vier fees totdat almal min of meer uit-paas.

Maar iewers word Enkidu wakker van ’n nagmerrie.

 

Waarom, waarom hou die groot gode beraad?

Gilgamesj en Enkidu het te ver gegaan. Hulle het Humbaba en die Hemelbul doodgemaak. Hulle daag die gesag van die gode uit. Hulle tas die eer van die gode aan. Wat is die straf? Nie albei nie, maar een van die twee moet sterf, sodat die ander een vir die res van sy lewe bly treur oor sy vriend. Die lot val op Enkidu.

En dis wat dan ook gebeur. Enkidu word siek en sterf ’n stadige, pynlike en patetiese dood. Gilgamesj doen die nodige. Hy reël vir sy vriend ’n behoorlike begrafnis, met genoeg geskenke om die gode van die onderwêreld tevrede te hou. Maar daar gebeur iets anders met hom. Hy versink in ’n diep en donker depressie. Sy lewe is volkome sinloos, doelloos. Hy kan nie meer sy werk as koning doen nie. Hy bad nie meer nie. Gekleed slegs in ’n leeuvel, verlaat hy sy stad en swerf rond op die steppe. Gilgamesj word Enkidu as’t ware ge-reïnkarneer. Verder ontwikkel hy ’n obsessionele vrees vir die dood. Orals, agter elke hoek en draai wag die dood hom in. Sy vrees vir die dood word ’n hunkering na die ewige lewe. Waar hy eens op ’n tyd die ewige lewe wou bekom deur vir homself Naam te maak, soek hy dit nou in die vlees: in onsterflikheid.

Die persoon wat geheim van onsterflikheid ken, is Uta-napisjtim, die enigste oorlewende van die Groot Vloed. En dis na hom wat Gilgamesj koers kry. Sy tog bring hom tot by die Tweelingberge, daar waar die son soggens opkom en saans weer ondergaan. Die Tweelingberge word bewaak deur die Skerpioen-mense. Hulle blyk egter meer nuuskierig as gevaarlik te wees, want nadat hulle Gilgamesj se droewige verhaal aanhoor, is hulle bereid om hom deur die tonnel onder die aarde te laat gaan. Hy moet net vinniger as die Son reis, anders is dit verby. Die donkerte in die tonnel is dik, maar Gilgamesj beur voort, sonder om voor of agter hom te kan sien. Na ’n moordende jaagtog teen tyd, voel hy die koel Noordewind teen sy gesig — en hy sien lig.

Hy bevind hom op ’n strand, ’n stand aan die oewer van die Waters van die Dood. Die bome en vrugte is alles van edelgesteentes. Hier bly Siduri, die wyse kroegmeisie wat haar gelaat met sluiers bedek en bier in goue vate brou. As sy Gilgamesj gewaar, is sy eers benoud en dink hy is ’n rower of ’n moordenaar en sy sluit haar deure. Maar hy verduidelik sy droewige verhaal en vra wat hy moet doen om oorkant die Waters van die Dood te kom. Siduri raai hom aan om te eet, te drink, wit klere te dra, die lewe met die vrou wat hy liefhet te geniet, en te luister na die kleintjie aan sy hand…

Maar Gilgamesj skop vas. Nee!

Uiteindelik beduie Siduri hom die pad na Ursjanabi, die bootsman van Uta-napisjtim. Hy weet hoe om oor die Waters van die Dood te vaar. Gilgamesj oorrompel die niksvermoedende bootsman, maar doen ook skade. Hy breek die klipgoed waarsonder hulle nie kan vaar nie. In plaas van klipgoed, moet hulle eers houtpale afsaag om die boot oor die water te stuur.

En dan is die groot oomblik daar. Gilgamesj ontmoet Uta-napsjtim van aangesig tot aangesig.

 

Wat is die geheim van die ewige lewe?

Eenmaal, lank lank gelede het die gode besluit om die mensdom met ’n Groot Vloed uit te wis. Die god Ea het die geheim aan sy witbroodjie Uta-napisjtim laat uitlek en hom aangeraai om betyds ’n skip te bou. In die skip het hy die saad van alles wat lewe ingeneem. Die Vloed het uitgebreek en alle lewe op aarde vernietig. Die verwoesting was so erg dat selfs die groot gode bang geraak het en soos honde stert-tussen-die-bene voor die hemelpoorte gaan opkrul. Die storm het egter bedaar en die waters het teruggetrek. Toe Uta-napishtim sy voete op droë aarde sit, het hy dadelik offers gebring. Die gode was teen die tyd deeglik uitgehonger en het soos vlieë rondom Uta-napishtim se offer gekoek. Sy beloning? Die ewige lewe.

Dit was egter ’n eenmalige gebeurtenis. Vir Gilgamesj gaan daar nie nog ’n Vloed wees nie. Maar, as Gilgamesj slaap, die kleinboetie van Dood kan oorwin, het hy ’n kans. Hy moet daarin slaag om vir ses dae en sewe nagte wakker te bly. Gretig gryp Gilgamesj die uitdaging aan. Maar Uta-napishtim wat die mensdom van gewisse uitwissing gered het, ken ook die bedrieglike aard van die mens. Hy gee sy vrou opdrag om elke aan kos te maak en dit by Gilgamesj se koppenent neer te sit. En inderdaad, Gilgamesj het skaars op sy hurke gaan sit, of slaap spoel soos mis oor hom.

Op die sewende dag skud Uta-napisjtim hom liggies — Gilgamesj wou nog maak of hy amper-amper liggies ingedut het, toe wys Uta-napishtim hom die sewe borde kos, in verskillende stadia van verrotting.

Jammer Boet!

Uta-napishtim se vrou kry die sukkelaar egter jammer en oorreed haar man om hom ten minste ’n afskeidsgeskenk te gee. En so verklap Uta-napishtim nog ’n geheim aan Gilgamesj. Op die bodem van die diepsee groei ’n stekelrige plant. Dit waarborg nie die ewige lewe nie, maar dis wel ’n soort van ’n verjongingskuur. As ’n mens daarvan eet, sal jy nie ouer word nie. So stel dit darem die ouderdom en die dood ’n bietjie uit.

Gretig aanvaar Gilgamesj die geskenk Hy bind swaar klippe aan sy voete vas, duik af en kry die plant. Hy gebruik dit egter nie dadelik nie. Uta-naisjtim is vol streke. Eers sal hy die plant op die senior burgers van Uruk uittoets om te sien of dit werk. Maar Uta-napishtim het nou genoeg van sy onwelkom gas gehad. Hy gee sy bootsman, Ursjanabi opdrag om Gilgamesj te aan bad, hom skoon aan te trek, en om saam met hom pad te gee Uruk toe. Hy wil nie een van die twee ooit weer sien nie.

Die twee begin die terugtog. Op pad span hulle uit vir die aand. Gilgamesj sien ’n poel met helder skoon water en besluit om eers ’n bietjie te gaan baai. Die kosbare plant sit hy op die randjie van die poel neer. ’n Slang ruik die aangename geur, seil stilletjies nader en gryp die plant. Gilgamesj is net betyds om te sien hoe die sy ou skubberige vel afgooi en wegseil, jonk en nuut.

Wat het al sy moeite hom gebaat? Die enigste een wat hy gelukkig gemaak het, is die leeu van die aarde. Gilgamesj breek, en huil bitterlik.

Wanneer ons hom weer raakloop, is hy op die mure van Uruk. Hy praat met Ursjanabi, die bootsman.  Vreemd genoeg, hy klink nie depressief of selfs verslae nie. Om die waarheid te sê, dit klink of hy spog.

 

Hoe is dit moontlik?                                  

Gilgamesj het die sin van die lewe ontdek. Dit lê nie in wat hy verloor het of nooit sal kan bereik nie: die sin van sy lewe lê op die mure van Uruk: die sigbare, tasbare bewyse van sy bestaan. Die sin van die lewe lê in die lewe self.