There is nothing nobler or more admirable than when two people who see eye to eye keep house as man and wife, confounding their enemies and delighting their friends. (Homer)

We must acknowledge that violence is not the same as anger. While anger is an emotion, violence is a behaviour. We must also acknowledge that violence is always a choice, noting that most men who are violent towards their partners do not usually display similarly violent or abusive behaviour towards others. (Danny Blay)

  1. Inleiding

In die jongste Marie Claire (Februarie 2009) verskyn verskeie naakfoto’s van bekende persone om mense bewus te maak van geweld teen vroue. Kan so ’n projek die gewensde resultate oplewer? Dra hierdie foto’s nie maar net by tot die uitbuiting van die vroulike liggaam nie? Sal mans wat hierdie foto’s sien aangespoor word om vroue te mishandel, of om vroue te respekteer? Joan Hambidge lewer in By (Saterdag 24 Januarie 2009) goeie kommentaar wanneer sy skryf: “Om hierdie foto’s as ’n veldtog teen geweld te gebruik, klink ondeurdag, juis omdat die meeste kykers openlike naaktheid as vulgêr ervaar.”

Godsdienstige uitsprake soos die van Rick Warren wat pas by Barack Obama se inhuldiging opgetree het, is ook nie bevorderlik om vroue te bemagtig nie. Volgens ’n internetbron het hy die volgende gesê: “Abuse is no excuse for women to seek divorce.” Vroue mag nie sondermeer van hulle mans skei indien laasgenoemde hulle mishandel nie, want Maleagi 2:16 sê: “God haat egskeiding”. Daar is volgens Warren nie ’n teks wat onomwonde sê dat vroue wat mishandel word met ’n geruste hart van hulle mans mag skei nie. As God egskeiding haat, moet vroue mishandeling eerder verduur as om te skei.

  1. Definisie

Die 1998 RSA wet op gesinsgeweld definieer geweld baie breed. Afgesien van fisiese, seksuele, emosionele en ekonomiese mishandeling sluit dit ook intimidasie, agtervolging, teistering, skade aan eiendom, betreding van eiendom, ens. in.

In ’n PowerPoint aanbieding met die titel “‘When I call for help’: A Pastoral Response to Domestic Violence” wat op die internet beskikbaar is, definieer ’n groep Katolieke biskoppe in die VSA gesinsgeweld soos volg :

“Domestic violence is any kind of behavior that a person uses to control an intimate partner through fear and intimidation. It includes physical, sexual, psychological, verbal and economic abuse. Examples include battering, name calling and insults, threats to kill or harm one’s partner or children, marital rape, or forced abortion.”

Dis interessant dat hierdie Katolieke biskoppe vroue wat in ’n verhouding leef waar hulle mishandel word, wil bemagtig om uit sulke verhoudinge te ontsnap.

  1. Omvang van geweld

Die volgende gegewens kom uit ’n bron wat enkele statistiek weergee oor geweld tussen paartjies in die VSA (“Christian Coalition Against Domestic Abuse” 2009):

  • 1 uit elke 3-4 vroue sal mishandeling beleef aan die hand van hul lewensmaat;
  • 1 uit elke 6 mans sal fisiese geweld beleef;
  • 50-56% van alle huwelike ervaar ’n vorm van mishandeling;
  • 1 uit elke 3 jongmense sal fisiese geweld in ’n “dating relationship” ervaar;
  • 44% vroue in mishandelende verhoudings word verkrag deur hul mishandelaar;
  • Meer as 3.3 miljoen kinders is toeskouers van geweld tussen ouerpare;
  • 40-60% kinders wat in sulke gesinne leef, word ook mishandel.

’n Ontstellende stelling in die betrokke artikel is die volgende: “People with strong religious beliefs stay longer in abusive relationships because it gets mixed up with their faith beliefs”. Godsdiens bemagtig nie vroue of mans wat deur hul lewensmaats mishandel word nie.

Hoe lyk die Suid-Afrikaanse prentjie? In navorsing in die RSA is die volgende bevind (Vetten 2005):

  • 27% vroue in die Oos-Kaap; 28% in Mpumalanga, 19% in die Noordelike Provinsie word fisies mishandel;
  • in 15 landelike gebiede in die Suid-Kaap is tot 80% van die vroue slagoffers van huishoudelike geweld;
  • 44% mans wat vir een van die Kaapse munisipaliteite werk, het erken dat hulle hul lewensmaat mishandel;
  • in 1999 het 8.8 per 100 000 van die vroulike bevolking ouer as 14 jaar gesterf aan die hand van hul lewensmaat – die hoogste syfer ter wêreld!
  1. Aard van geweld

Geweld tussen heteroseksuele paartjies is nie ’n eenrigtingstraat nie, maar vroue is dikwels aan die ontvangkant. Mishandeling vind meestal in die huis, saans en oor naweke plaas. Kinders is gewoonlik die toeskouers. Dit kom onder alle bevolkingsgroepe, ouderdomme, gesinsgroottes en sosio-ekonomiese strata voor. Daar is wel aanduidings dat dit meestal voorkom by persone met lae kwalifikasies, lae inkomste en lae beroepstatus (Spangenberg 1985).

Navorsers onderskei drie fases in die siklus van fisiese geweld (Spangenberg 1985):

  • Die fase waar spanning spiraalvormig vermeerder tot ’n punt waar daar nie meer beheer daaroor is nie.
  • Die fase waar die geweldadige insident plaasvind en spanning ontlaai word.
  • Die fase waar daar berou, liefde, toegeneëntheid en hoop is.
  1. Verklarende teorieë

Die volgende is enkele teorieë wat die verskynsel probeer verklaar (vgl Spangenberg 1985):

  1. Geestesongesteldheid

Dit kom in ongeveer 7% van die gevalle voor en bied dus nie ‘n volledige verklaring vir geweld nie.

  1. Manlike dominansie

Hierdie teorie probeer geweld van die man teenoor die vrou verklaar, maar spreek nie geweld van die vrou teenoor die man aan nie.

  1. Frustrasie-aggressie teorie

Hierdie teorie verklaar geweld as frustrasie wat opbou en uiteindelik uitloop op geweld. Dit verklaar egter nie waarom net sommige individue gewelddadig reageer op frustrasie nie.

  1. Alkohol en dwelmafhanklikheid

Alkoholmisbruik speel ‘n baie groot rol in die geweld tussen heteroseksuele pare, maar kom ook voor by pare waar alkohol nie misbruik word nie.

  1. Sisteemteorie

Die teorie is ‘n holistiese benadering wat van die standpunt uitgaan dat die geheel meer is as die som van die samestellende dele. Die samestellende dele reageer op mekaar en word deur mekaar beïnvloed.

  1. Bydraende faktore

Ten opsigte van die individu word die volgende as bydraende faktore beskou:

  1. Geestesongesteldheid
  2. Jaloesie
  3. Verbale aggressie
  4. Swak selfbeeld
  5. Alkoholmisbruik
  6. Seksuele frustrasie
  7. Werksonbevrediging
  8. Werkloosheid
  9. Swak finansiële posisie (armoede)
  10. Toeskouer van geweld tussen ouers
  11. Mishandel as kind

Wat die gemeenskap betref, kan die volgende bydraende faktore genoem word:

  1. Kwesbaarheid van die kerngesin:

– ondersteuningsisteme soos die uitgebreide gesin verdwyn:

– verhuising en isolasie in die gemeenskap maak gesinslede ook meer aangewese op mekaar vir emosionele ondersteuning.

  1. Kulturele waardes

– Vroeer jare in Brittanje kon ’n man sy vrou slaan solank die instrument waarmee sy geslaan word nie groter is as die man se duim nie, Dit het bekend gestaan as die “rule of the thumb”

– Die patriargale gesinsisteem waar die man domineer en in beheer is van die gesin. Hy neem besluite namens sy vrou en kinders. Hy beskou hulle dikwels as deel van sy besittings. Dit kom ook voor in tradisionle Afrika-kulture waar manlikheid geïllustreer moet word in hoe jy beheer uitoefen op jou vriendin en lewensmaat(s) (Jewkes, Levin & Penn-Kekana 2002)

– Christelike mensbeskouing en waardes soos onder andere gehuldig deur mense soos Rick Warren en ander “evangelicals”. Die volgende sake akn genoem word: Die verhaal van Adam en Eva en die erfsonde; die man wat die hoof van die huis is en vroue wat onderdanig moet wees aan hulle mans; die huwelik is heilig en moet ten alle koste in stand gehou word; lyding is edel en die Chsitelike weg is een van vergewe en vergeet (vgl. Shannon-Lewy & Dull 2005).

  1. Geweld in die samelewing

– TV-programme, rekenaarspeletjies waarin geweld voorkom, oorloë, onluste, xenofobiese aanvalle.

Die waarneem van geweld dra dikwels by tot afstomping. Dit word as normaal beskou. Iemand het hierna verwys as “renostifisering”. Mense raak dikvellig en traak-my-nie-agtig.

 

  1. Die effek op die individu, gesin en gemeenskap

Die effek op die individu kan die volgende behels:

  1. Fisieke beserings by die slagoffer;
  2. Emosionele skade (angs, vrees, vernedering, woede, depressie, aangeleerde hulpeloosheid, swak selfbeeld);
  3. Aanrander toon berou, is apologeties, desperaat, ervaar skuldgevoelens, regverdig gedrag;
  4. Selfmoord en moord kan deur beide partye gepleeg word;
  5. Kinders ervaar angs, vrees, ontrekking, aggressie, swak akademiese prestasie, psigosomatiese klagtes (hoofpyn, hakkel, enurese, depressie, selfmoordpogings). Geweld tussen die egpaar kan uitbrei en oorgaan tot kindermishandeling.

Hoekom bly die vrou dikwels in so ’n verhouding? (Spangenberg 1989:35):

  1. Sy bly hoop dat haar man sal hervorm;
  2. die man het beloof om te verander;
  3. sy het geen ander heenkome of verblyf nie;
  4. sy vrees haar man;
  5. dit ontbreek haar aan geld en lewensmiddele op eie bene te staan;
  6. verlating mag tot egskeiding lei en vir die vrou spel dit mislukking.

Die effek op die gemeenskap:

  1. Die regsisteem (polisie en howe traag). Die polisie is dikwels traag om betrokke te raak in huishoudelike verskille en dispute. Hulle negatiewe houding teenoor die klaer is omdat laasgeneomde dikwels die klag wat ingedien is, terug trek en dus die polisie se tyd mos.
  2. Die gesondheidsisteem (simptome word behandel, maar dring nie deur na die oorsaak nie). Die mishandelde vrou word dikwels van een instansie na die ander verwys sonder dat iemand regtig ingryp.
  3. Ondersteuningsisteem (gefragmenteerd en ongekoördineerd). Daar is min toevlugsoorde en finansiële ondersteuing om die lydende party te kan help, is gering. Die mishandelde vrou ontrek dikwels aan berading omdat hulle vrees dat hulle kinders verwyder sal word.
  4. Godsdiensleiers beleef dikwels inerne konflik tussen dit wat die sekulêre wêreld sê, en die kerklike leerstellings en Bybeltekste. Vroue word dikwels na mishandelende omstandighede teruggestuur met die opdrag om beter vroue te wees, vir hulle mans te bid en hulle mans na die Here te lei. Tussen 2% en 67% van mishandelde vroue klop eerstens aan by hul predikant, pastoor, priester vir hulp. Hierdie pastorale beraders verwys selde en probeer hulp verleen in isolasie in plaas daarvan dat ander instansies se hulp ingeroep word (vgl. Shannon-Lewy & Dull 2005).

’n Voorbeeld van die staat se onvermoë om die wet op Gesinsgeweld (1998) toe te pas, is die geval Staat versus Engelbrecht 2005 (Vetten 2005:10):

  • 9 keer verhuis om haar man te ontkom;
  • 3 pogings aangewend om hom te skei;
  • Balju het 6 keer gefaal om die man vir die egskeiding te dagvaar;
  • Gesinsadvokaat het nooit die dokumentasie voltooi oor die toesig van die kinders nie;
  • 3 pogings aangewend om ’n beskermingsbevel te bekom;
  • Polisie het gereeld haar klagtes onttrek of geweier om dit te aanvaar;
  • Polisie adviseer man om ’n beskermingsbevel teen haar te kry.

In Junie 2002 het sy haar man versmoor terwyl hy geslaap het. Sy is skuldig bevind en gevonnis. Wat haar vonnis was, is nie in die betrokke artikel verstrek nie.

  1. Kan die geweldsiklus verbreek word?

Wat die individu betref, is die volgende belangrik ter voorkoming van geweld:

  • Kweek ’n positiewe selfbeeld by die kind en die volwassene;
  • Leer gesonde konflikhanteringsmeganismes aan;
  • Leer om goed te kommunikeer en te luister;
  • Ouerlike beheer oor rekenaarspeletjies & geweldadige TV-programme;
  • Woon ouerleidingsprogramme by;
  • Gesonde alkoholgebruik.

Gaan vir terapie indien geweld reeds voorkom. Van die benaderings wat gevolg word, is:

  • Narratiewe terapie;
  • Imago-terapie;
  • Kognitiewe gedragsterapie;
  • Spanningshantering en ontspanningstegnieke;
  • ’n Holistiese benadering soos die van Nimro (Nasionale Instituut in sake Misdaadvoorkoming en die Rehabilitasie van Oortreders) wat bekend staan as “Intimate Partner Violence Program”.

Wat die gemeenskap betref, is die volgende belangrik:

  • Sensitiseringsprogramme: 16 dae van geweld teen vroue en kinders;
  • Goeie toepassing van wette soos Wet op Gesinsgeweld;
  • Vroeë identifisering van risikogevalle;
  • Opleiding van verskeie professionele persone soos geneeshere, polisie, onderwysers, maatskaplike werkers, predikante;
  • Armoedeverligting en die vermindering van geweld in die samelewing;
  • Verandering van mense se kulturele en godsdienstige persepsies wat bydra dat geweld instand gehou word.
  • Predikante moet geleer word om ’n teologie van bemagtiging te beoefen in plaas van ’n teologie wat verdraagsaamheid en lyding aanmoedig.