Inleiding: ’n Poppespel eksperiment

’n Paar jaar gelede het Jesse Bering en David Bjorklund ’n interessante eksperiment by die Florida Atlantic University in die VSA gedoen. Hulle het vingerpoppe gebruik om ’n storie vir 8–12 jaar oue kinders te vertel. Dit handel oor ’n likkewaan en ’n muis. Die likkewaan sien ’n verdwaalde honger muis en reken dis nie ’n slegte ete nie. Die poppespel eindig met die woorde, “Wel dit lyk of ons bruin muisie deur die likkewaan opgeëet is. Bruin muisie leef nie meer nie.”
Hierna het Bering en Bjorklund die kinders ondervra oor wat dit beteken om “nie meer te leef nie”. Hulle het die volgende vrae gevra:
Is die muisie nog honger?
Is die muisie nog vaak?
Wil die muisie nog steeds huis toe gaan?

Die meeste kinders het geantwoord dat die muis nie langer kan eet of drink nie. Die oorgrote meerderheid, veral die kleintjies, het geglo die muis kan nog steeds dink; was nog steeds lief vir sy ma, en het nog steeds van kaas gehou. Die navorsers het hulle resultate publiseer in ’n 2002 artikel met die titel “The natural emergence of afterlife reasoning as a developmental regularity.” Volgens hierdie navorsers se bevindings is ons verstand só geprogrammeer dat dit bewussyn veronderstel — selfs by die dooies. Ons sukkel om bestaansloosheid te verbeel. Ons wil leef. Ons wil uit die doodslaap opstaan.

Die weduwee van Nain

In Lukas 7:11–17 lees ons só ’n opstandingsverhaal. Jesus kom by ’n dorp met die naam van Nain. By die dorp se ingang is daar ’n dooie wat uitgedra word om begrawe te word. Dit is die enigste seun van ’n weduwee. “Hy gaan toe nader en vat aan die baar… en Hy sê, ‘Jongman, Ek sê vir jou staan op!’ Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee” (Lk 7:14–15).

’n Dooie Stad Herleef

Geneve was in die sestiende eeu ’n dooie, stagnerende stad van omtrent 13 000 mense. In 1536 het die stadsraad ’n 27-jarige predikant beroep om die kerk daar te hervorm en te herorganiseer. Sy naam was Johannes Calvyn en hy sou daar werk tot en met sy dood op die ouderdom van 55 jaar — behalwe vir ’n periode tussen 1538–1541 toe hy uit Geneve verban was.
Die Swart Dood, die Groot Pes, was nog lank nie in Europa uitgewoed nie. Gedagtig aan die einde wat more of oormore kan kom, het morele standaarde verswak. Groot getalle kinders is buite die eg gebore. Volgens historici het mense die groot aantal godsdienstige vakansiedae wat die Katolieke Kerk gevier het, gebruik om te eet en te drink en rond te slaap, “want môre sterf ons.” ’n Opkomende middelklas in Frankryk wat hulle veral tuisgevoel het binne die Reformasie, het al hoe meer onrustig begin word. Minerale en grond is deur die Rooms-Katolieke Kerk beheer en hulle het gevoel dat dit onproduktief lê. Misdaad was ook algemeen.
Gevolglik het die demokraties-verkose stadsraad van Geneve besluit om hulleself onafhanlik van die Katolieke Hertogdom van Savoje te verklaar. Die Switserse Konfederasie het hulle militêr ondersteun en huursoldate gestuur. Selfs binne die stad, in Calvyn se eie woorde, was daar “verdeeldheid en ernstige en gevaarlike partyskappe.” Die stadsraad kon nie die strydende groepe verenig nie. Die stad self was ekonomies aan die agteruitgaan, oorbevolk, arm met baie vlugtelinge. Om die stad te laat “opstaan” moes Calvyn die volgende uitdagings die hoof bied:

Hy moes probeer om die strydende faksies te versoen;
Hy moes goeie verhoudinge met die Switserse Konfederasie handhaaf, en genoeg belastings invorder om die soldate se soldy betaal;
Familiewaardes en die deug van harde werk moes herstel word;
Die ekonomiese agteruitgang moes omgekeer word;
’n Verdedigingsmuur moes om die stad gebou word;
’n Onderwyssisteem moes opgebou word;
’n Welsynsisteem vir die armes moes georganiseer word; en
Gesondheidsorg moes ingestel word — veral vir hulle wat deur die Pes aangetas is.

Hoewel die Stadsraad self verantwoordelik was vir kerklike organisasie, het Calvyn baie invloed gehad. Alle stadsraadslede het op die Konsistorie (of Kerkraad) gedien. Gedurende die laaste jare van sy lewe was Geneve baie naby aan ’n teokrasie — ’n regering deur God (via die kerk). Kom ons kyk ’n bietjie hoe Calvyn te werk gegaan het. (Ek neem sy Kategismus as vertrekpunt, want dit was die “indoktrinasieboekie” wat in die kerk gebruik is). Sy strategie was drieledig: (1) om mense se gedrag te beïnvloed (’n horisontale dimensie); (2) om mense teologies te motiveer om dit te doen (’n vertikale dimensie) en (3) om sosiale kontroles in te stel.

Ons begin met die horisontale dimensie:
Volgens Calvyn se siening van die vyfde gebod, is van kinders verwag om hulle ouers te gehoorsaam, asook almal wat optree in die plek van ouers, soos byvoorbeeld die magistrate — selfs die slegtes, want God sal hulle straf indien hulle oneerbiedig optree. Belastings moes betaal word en ander burgerlike pligte nagekom word. Die stadsbestuur het só die nodige respek en ondersteuning van die burgers gekry.
Jesus se goue reël moes in tussenpersoonlike verhoudings uitgeleef word: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Op hierdie manier kon die wonde tussen die verskillende faksies genees word.
Hy het die waardigheid van elke lid van Jesus se liggaam beklemtoon. Mense moes soos die lede van ’n liggaam saamwerk en werk asof hulle vir God werk. Só het selfs die nederigste werk waardigheid verkry.
Alle vorme van wellus is verbied en seks is beperk tot die huwelik — dit om familiewaardes te herstel.
Die sesde gebod is sterk beklemtoon en diefstal in alle vorms is verbied en gestraf, of dit nou deur geweld was of wanvoorstelling. Só is die probleem van misdaad aangespreek.
Die negende gebod is gebruik om alle vorme van kommunikasie eerbaar te maak: valse getuienis en valse ede wat taboe. Só is eerlike besigheid en goeie regering bevorder.

Hoe kry jy nou mense om op hierdie manier te leef? Jy motiveer hulle (a) deur ’n mitologiese geloofsisteem en (b) deur middel van ’n sisteem van sosiale beheer.
In die Kategismus is mense geleer om die stories van hulle eie lewens te sien as deel van ’n baie groter storie of meesterverhaal. Kortliks het daardie verhaal só gelui:

God het die heelal eenmalig geskep. God se wil word in die Skrifte geopenbaar. Gevolglik bevat die Bybel ’n betroubare rekord van mense se oorsprong, situasie en eindbestemming, asook voorskrifte vir morele gedrag. Mense is na God se beeld geskep. God bestuur die geskiedenis in detail, en bestem (predestineer) sommige mense vir die hel en ander vir die hemel. ’n Mens bestaan uit ’n siel en ’n liggaam. Deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid is die menslike natuur bederf en dit bestem mense vir die hel in die hiernamaals. God het sy Seun, Jesus, gestuur, om sy uiterverkorenes te red en voor te berei vir die oordeelsdag. Voor die oordeelsdag gaan daar ’n verwoestende oorlog wees tussen God en die Anti-Chris, die Pous van Rome. Hierdie oorlog sou binnekort uitbreek en Christus wil hê sy kerk moet herbou en gerestoureer word voor hy terugkom.

Calvyn het ook verwantskapsterme soos “broer,” “suster” en “vader” gebruik om sy mense in ’n organismiese gemeenskap byna soos familie te laat saamleef.
Selfverloëning is hoog geag, omdat die menslike van nature korrup was. Dit het veroorsaak dat mense makliker ingeval het by hierdie ooerkoepelende organiese beheer.
Omdat God die geskiedenis beheer, moes mense aanvaar dat dinge soos peste, plae, droogtes, en leërs wat jou land inval, rampe is wat deur God beskik is om mense te toets en te beproef. Versoekings moet weerstaan word en gebed moet gebruik word as selfondersoek (“sondebelydenis”). Die carpe diem filosofie (“gryp die dag/geniet die dag”) is só teengewerk.
Hierdie vertikale, mitologiese, geloofsisteem is versterk deur ’n bepaalde sosiale organisasie en beheermeganismes. Die herders of leraars moes deur hul prediking en onderrig rebelse mense onderwerp. Tydens vergaderings kon hulle mekaar ook roskam. Ondermyning van die sisteem van binne af is só teengewerk. Daar is hoë standaarde gestel vir elke amp (herder, leraar, ouderling, diaken, magistraat). Die ouderlinge moes toesig hou oor die gedrag van die kudde.
Besluitneming op alle vlakke was deur middel van konsensus. Gevolglik het mense ingekoop in die besluitnemingsprosesse asook in die besluite self.
Die leraars (doctores) moes die jeug onderrig en help om al 55 vrae van Calvyn se kategismus te memoriseer. Die Akademie van Geneve is gestig en studente regoor Europa het hier kom inskryf.
Die diakens het ’n welsynsisteme ontwerp en aan die gang gehou. ’n Hospitaal vir plaagslagoffers is gebou. Daar is aan die dakloses losies verskaf. ’n Dokter en chirurg is voorsien vir hulle wat nie gesondheidsorg kon bekostig nie. Geld is vir liefdadigheid ingesamel en op ’n geval-vir-geval-basis uitgedeel. Rekenkundige prosedures is ingestel om kullery te voorkom. Slagoffers van die Pes is besoek en die predikante het lootjies getrek om die risiko van besmetting eweredig te versprei.
Die bekende kerklike sensuursisteem is ingestel. Die hoofdoel hiervan was om Calvyn se interpretasie van pro-sosiale gedrag af te dwing. Dans was verbode en as jy nie kerk toe kom nie, kon jy gestraf word. Die reëls is konsekwent toegepas en jou rang, rykdom, of sosiale posisie het nie hond haaraf by die kerkraad gemaak nie. Die kerkraad kon jou “oproep” om verantwoording te kom doen.
Dit wil voorkom asof Calvyn daarin geslaag het om ’n dooie stad op te wek. Hy het ’n organismiese sisteem geskep wat die burgers van Geneve saamgesnoer het om deur kollektiewe optrede ’n stel doelstellings te verwesenlik. Lewensvoorskrifte was eksplisiet; dit is onderbou met ’n teologiese meesterverhaal en afgedwing deur sosiale beheermaatreëls (o.a. lyfstraf en doodstraf). Hierdie sosiale eksperiment was só suksesvol dat dit na ander Europese lande en stede uitgevoer is. Dit was egalitarêr (soos die Khoi San) en, volgens Max Weber, het dit aanleiding gegee tot die Protestantse werksetiek en die gees van kapitalisme wat die onderbou van talle moderne samelewings vorm.
Calvinisme in Geneve het funksioneer soos evolusie op die vlak van die spesies. Die Reformasie het talle sosiale eksperimente uitprobeer; baie het misluk, Geneve s’n het egter gewerk. Handel het floreer, arbeidsuitsette het toegeneem; die familie-eenheid is herstel; bedelaars het van die strate af verdwyn en misdaad het dramaties afgeneem.
Calvyn se Akademie sou deur die wet van onbedoelde gevolge daartoe lei dat selfs die Bybel ontledend (krities-wetenskaplik) ondersoek is.
Maar laat ons nie Geneve se donker kant vergeet nie. Vroue het dit swaar gehad. “Praatsug”, het hy gesê, “is ’n vrouekwaal”. Hy het vroue oor die algemeen beskou as oppervlakkig, met minderwaardige breinkapasiteit, en geneig om te skinder. Hy het geleer dat vroue aan mans onderdanig moet wees, omdat dit só deur God vereis word.
Geneve was ’n onverdraagsame stad. Verskillende mense is tereggestel oor leerkwessies — Servetus was een, omdat hy ondermeer gesê het — teen dit wat die Bybel verkondig — dat Palestina nie oorloop van melk en heuning nie. Maar dit was sy standpunt oor die Drie-eenheid wat hom op die brandstapel laat beland het.
Die eksterne kontroles van die stad was neerdrukkend. Herders moes hul kudde een keer per jaar gaan besoek en “optjek”. As jy met jou vrou dans, kon dit jou in die tronk laat beland.
Omdat mense moes doen wat God beveel, was daar ’n hoë mate van anti-intellektualisme. Calvyn het Copernicus aangeval omdat laasgenoemde geleer het die aarde is rond en dat dit om die son wentel. Psalm 93:1 het as motivering vir sy standpunt gedien: “Die aarde is vas. Dit kan nie beweeg word nie.”

Charles Darwin

’n Meesterverhaal wat in sekere omstandighede ’n stad kon laat herleef, kan onder ander omstandighede ontaard in iets wat onderdruk en versmoor. Charles Darwin (1809–1882) het dit uitgewys. Vir hom het hierdie meesternarratief dit geword wat kreatiwiteit, wetenskaplike vooruitgang en die oopbreek van nuwe horisonne belemmer.
Dit het nie maklik gekom nie. Sy vrou, Emma Wedgewood, was diep godsdienstig en was bekommerd dat sy wetenskaplike ondersoek sy sieleheil in gedrang sou bring. Hy het by Cambridge ingeskryf om ’n priester te word maar het al hoe meer in die geskiedenis van die natuur geïnteresseerd geraak. Hy en sy vrou was altwee Unitariërs wat die leer van die drie-eenheid verwerp het.
In 1831 het hy aan boord die HMS Beagle vir vyf jaar lank verskillende spesies van diere versamel. Mens sou kon sê dat sy siening van God ontwikkel het vanaf ’n teïsme (’n God wat ingryp in die geskiedenis — tydens sy reis op die skip HMS Beagle), na deïsme (’n God wat skep deur natuurwette, maar nie inmeng nie — spore hiervan is in sy boek, The Origins of the Species, te vind) tot uiteindelike agnostisisme (rondom 1879 met sy ontkenning dat ons enigiets noemenswaardig van God uit die natuur kan aflei). Uiteindelik was godsdiens vir hom een van die oorlewingsmeganismes van die stam of groep, (waarvan Geneve ’n goeie voorbeeld is). Sy siening was dat alle spesies met verloop van tyd vanuit gemeenskaplike voorouers ontwikkel het deur die proses van natuurlike seleksie. Die idee van natuurlike seleksie het geleidelik sy siening van God en godsdiens verander.
Terwyl hy op sy skeepsreis was, sou hy dikwels die Bybel aanhaal om morele kwessies te besleg — ’n teïstiese soort handeling en opvatting. Later sou hy sê dat hierdie opvattings oor God wetenskaplike ondersoek benadeel; dit bederf wetenskaplike teorievorming. Die rede hoekom mense in God glo, is soos ’n klein apie wat skrik vir ’n slang en dit word só oor geslagte heen ingeburger dat dit langsamerhand instink word.
Wonderwerke is onmoontlik, omdat daar natuurwette is wat nog steeds verskillende vorme van lewe voortbring. Die leerstelling van ’n perfekte aarde en ’n die sondeval is vals, want daar kan geen spore van só ’n paradyslike toestand gevind word nie. Inteendeel, die mens het uit aap-agtige voorouers ontwikkel en is nie ’n bietjie minder as die engele geskep nie (Psalm 8:6), maar ’n bietjie meer as die ape.
Vanweë interne teenstrydighede in die Bybel self asook teenstrydighede met wetenskaplike waarneming, bevat die Bybel geen spesiale openbaring nie. Hy skryf soos volg aan ’n korrespondent: “I am sorry to have to inform you that I do not believe in the Bible as a divine revelation, and therefore not in Jesus Christ as the Son of God.”
Die leerstukke van hemel en hel in die hiernamaals was vir hom totaal onaanvaarbaar. Dit sou beteken dat mense wat nie “ortodoks” glo nie, soos sy eie pa, broer en sy beste vriende, almal hel toe gaan.
Die geskiedenis van die natuur verloop ook nie planmatig nie; daar is nie ’n bloudruk daaragter nie. Sy aanvanklike siening dat God elke struktuur met ’n doel geskep het, werk nie. Daar is talle strukture wat nie voor- of nadelig is nie. Ander kon beter gewees het as dit deegliker beplan was. (Blykbaar is die lae rugpyn was ons ontwikkel soos ons ouer word, die gevolg van die feit dat ons van vierbeniges afstam en dat ons skelet nooit behoorlik aangepas het om regop te loop nie.). Toeval, willekeur en onvoorsienigheid dryf ewolusie. Dawkins som dit goed op: “We are the product of a process that never had us in mind.”
Die analogie van die vakman wat skep (deïsme), is a valse analogie. ’n Vertakkende koraal is ’n beter analogie om evolusie mee te verduidelik. As ons dieselfde voorouers deel as ander primate, word die konsep van “siel” ook problematies — op watter stadium in die ontwikkeling van primate is die siel ingevoeg? Watter getuienis het ons hiervoor?
Moraliteit is ’n oorlewingstrategie; dit maak ’n groep sterker versus ander groepe. Sy eie ervaring van lyding (sy lieflingsdogter, Annie, is in 1851 dood op die ouderdom van tien jaar), asook die ontsaglike lyding in die natuur (spesies wat op groot skaal uitsterf), het hom verder laat twyfel aan ’n persoonlike welwillende godheid.

Teologie

Die woord “teologie” is ’n teenstrydigheid en eintlik ’n naamfout. Mense dink dit is amper iets soos “biologie” wat alle lewensvorme (bios) bestudeer (logos). Teologie wek die inderuk dat dit god (theos) bestudeer (logos). Die hart van die teologie word egter in 1 Johannes 4:12 uitgedruk: “Niemand het God nog ooit gesien nie.” Teologie is dus nie ’n vakwetenskap soos biologie nie, want dit bestudeer nie ’n objek wat direk waargeneem kan word nie. Om teologie só te beoefen, is soos om voetspore in die los sand van die woestyn te ondersoek; of ons nou hierdie voetspore “openbaring” of “natuurlike teologie” noem, dit bly moeilik debatteerbaar. Om die waarheid te sê, wat vir een “voetspore” is, is vir die ander toevallige merke gelaat deur die waai van die wind. Openbarings weerspreek mekaar; wie sal nou besluit watter openbaring is reg, en watter verkeerd? Dit laat my dink aan ’n storie van ’n sielsieke inrigting. ’n Stem klink op in die nagstilte: “Julle moet na my luister! Ek is Napoleon.” “Wie’t vir jou gesê jy’s Napoleon?” vra ’n ander stem. “God het my vertel” kom die antwoord. “Nee, ek het nie!” sê ’n derde stem. Wie kan nou sê wat is godsopenbaring en wat nie?
Ten diepste is teologie vir my die studie van God se afwesigheid (nihil). Dit vertel die verhaal van hoe ons opstaan uit nihilisme.

“A Small Good Thing”

Raymond Carver is ’n bekende Amerikaanse skrywer. Iemand het hom uitgevra oor sy geloof en hy het gesê dat hy ’n ateïs is, maar dat hy wel in die opstanding glo. Een van sy bekendste kortverhale is “A Small Good Thing.” Ek vertel dit oor as ’n gelykenis om te illustreer hoe goeie teologie behoort te lyk.

Want die opstanding uit die dood is soos ’n ma wat ’n besoek by die bakker afgelê het. Sy het ’n verjaarsdagkoek vir haar seuntjie bestel. Soos die bakker se gewoonte was, met sy radio in die agtergrond wat country-musiek speel, het hy laatnag gewerk om die koek te bak. Hy het ’n ruimteskip gemaak, dit met sterre versier en agt kersies in die rooi versiersuiker geplaas.
Niemand het die koek kom afhaal nie. Dieselfde dag op pad skool toe het ’n motor die seun raakgery. Sy ouers het by hom in die hospitaal gewaak, want hy was in ’n koma. Hulle het niks geëet nie, baie gebid en beurte gemaak om huis toe te gaan en te bad en skoon aan te trek.
Die eerste nag was dit die ma se beurt. Die bakker was kwaad vir sy kliënte. Rondom middernag het hy gebel en die pa het die foon beantwoord. “Daar is ’n koek hier wat nie afgehaal is nie!” het die bakker gebulder. Die pa het glad nie geweet waaroor dit gaan nie en die foon neergegooi. Terug by die hospitaal het hy sy vrou vertel van ’n nare oproep wat hy gekry het.
Die volgende aand het die vrou huis toe gegaan en die man het by die seun gewaak. Laatnag het die foon weer gelui. “Is dit oor my seun?” het sy ontsteld gevra. “Ja, dit is!” het die stem gesê. “Het jy van hom vergeet?” Woedend het die bakker die foon neergegooi. Sy het teruggejaag hospitaal toe, maar niemand dáár het geweet van die telefoonoproep nie.
Die volgende dag is die seuntjie dood. Lank na middernag lui die foon weer. Haar man het gaan antwoord. In die agtergrond kon hy net country-musiek hoor speel. Die ma het egter besef dat dit die bakker is. Ontsteld en woedend ry hulle na die winkelsentrum toe om die man te gaan konfronteer oor sy slegte maniere.
Hulle skree vir hom en vra: “Watter soort mens is jy om ons in die middel van die nag te bel oor ’n verjaarsdagkoek?” Hy skree vir hulle: “Watter soort mense is julle wat ’n koek bestel, dit nie afhaal nie, en nie betaal nie? Watter soort ouers is julle wat jul eie seun se verjaarsdag vergeet? Weet julle nie dat ek sestien uur elke dag werk nie?” Die ma gil dat haar seuntjie dood is. “Ek wou jou kom vrekmaak, jou blerrie Bliksem!” het sy geskel. “Ek wou jou dood hê. Skaam jou! Skaam jou!” en in trane uitgebars.
Die bakker het toegelaat dat sy hom met haar woorde kruisig. Hy het haar aangehoor en hulle daarna uitgenooi om te sit. Hy het koffie gaan maak en ’n vars bruin brood uit die oond gehaal. Hy het dit vir hulle gebreek en hulle kon die melasse en die graan ruik. Vir die eerste keer in drie dae het hulle geëet. Hulle het die donker growwe brood met koffie afgesluk. Hy het gesê dat hy jammer is oor die misverstand. Hulle het gepraat oor hoe hul seun dood is en hoe onregverdig die lewe was. Hy het gepraat oor die kind wat hy nooit gehad het nie, en hoe eensaam hy was. Hulle het tot vroegmôre gesels en die lig wat bleek op die winkelvensters begin val het, glad nie gesien nie en ook nie daaraan gedink om huis toe te gaan nie.