Samevatting

Jesaja 7:13-14 is nie ‘n profesie van ‘n maagdelike geboorte nie. Die kind wat Immanuel (“God-is-aan-ons-kant”) genoem word, is een van Jesaja se eie seuns. Matteus 1:18-25 lê Jesaja uit om in te pas by ‘n Grieks-Hellenisties mitologiese raamwerk. Jesus was Maria se buite-egtelike kind, moontlik by ‘n Romeinse soldaat, Panthera. Die leerstuk van die maagdelike geboorte berus op ‘n foutiewe en negatiewe siening van die vrou se rol in biologiese voortplanting. Dit funksioneer as ‘n meestersimbool vir uitgediende patriargale waardes. Jesus word nêrens direk in die Ou Testament voorspel nie. Die teologiese raamwerk van ‘n heilsgeskiedenis, berus op ‘n onaanvaarbare teologiese determinisme. Die nadele van hierdie visie is dat dit die status quo onkrities legitimeer, of ‘n passiewe fatalisme by mense tot gevolg het. Die Nuwe Hervorming wil ‘n teologie van verantwoordelikheid vestig om mense betrokke te kry in die kreatiewe dans van die lewe. Daar is iets bevrydends daarin dat ‘n buite-egtelike seun van 2000 jaar gelede nog steeds ‘n positiewe invloed op mense lewens kan hê.

Inleiding: Determinisme
Een van die take van die Nuwe Hervorming, is die ontrafeling van ‘n web, ‘n patroon van denke, wat oor eeue heen gespin is. Deel hiervan, is die dogma dat God ‘n bloudruk het vir hierdie wêreld. Die geskiedenis is besig om volgens hierdie plan uit te speel. Die teologiese woord hiervoor is heilsgeskiedenis , terwyl die filosowe van determinisme— ‘n geloof dat God selfs die onheil en teenspoed in my lewe tot my eie beswil oor my laat kom. Die leerstuk van die maagedelike geboorte van Jesus, is deel van die groter leerstuk van die heilsgeskiedenis . Hiervolgens word Jesus in die Ou Testament voorspel, en hierdie voorspellings word in die Nuwe Testament vervul. Daar is nie ‘n enkele teks in die Ou Testament wat ‘n direkte voorspelling van Jesus is nie.

Vir my as individu het die determinasie perspektief die implikasie dat ek soos ‘n klein stukkie van ‘n groot legkaart inpas in ‘n groter prentjie. Rick Warren se boek, Living a Purpose Driven Life eksploiteer hierdie visie. Ons taak is bloot om God se plan vir ons lewens te ontdek en daarby in te val. Ek sal aantoon dat daar nie só ‘n meesterplan is nie. Ons is geroepe om self op ‘n positiewe manier aan ons lewens sin te gee.

Hierdie siening dat die geskiedenis vooraf deur God gedetermineer is, kom uit die Bybel self. Ek lees eers Jesaja 7:13-14, en daarna ook Matteus 1:18-25. Eers sal ek gesels oor die geskiedkundige agtergrond van elke teks, kyk na maagdelike geboortes in die kultuur toé, en ten slotte vra wat dit vir ons beteken.

Die geboorte van ‘n kind
Ongeveer 700 jaar voor Jesus se geboorte, hoor ons (Jes 7:13 -14):

Toe sê Jesaja: “Luister, geslag van Dawid! Is dit nie vir julle genoeg om mense te vermoei nie, dat julle ook my God moet vermoei? Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”

So ongeveer 90 jaar ná Jesus se geboorte, skryf Matteus ‘n stukkie geskiedenis neer (Mt 1:18 -25):

18 Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria aan Josef verloof was, nog voordat hullegetroud was, het dit geblyk dat sy swanger was. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.

19 Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.

20 Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

21 Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volg van hulle sondes sal verlos.”

22 Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23 “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

24 Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou.

25 Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Uitleg van Jesaja
Om hierdie twee stukkies letterkunde te verstaan, moet ons dit in konteks probeer plaas. Koning Agas van Juda is in die moeilikheid: twee ander konings wil hom aanval (7:1). Jesaja troos hom en sê dit sal nie gebeur nie (7:7). Hy gee hom ook ‘n teken ( my parafrase) : “‘n Jong vrou is [by haar man] swanger, en gaan binnekort ‘n seun in die wêreld bring. Sy moet hom God-is-Aan-Ons-Kant noem” ( 7:14 ). Jesaja beloof verder dat, vóór hierdie seuntjie verstand kry, die twee konings se lande verwoes sal lê ( 7:15 ). Hy praat dus glad nie oor iets wat 700 jaar later gaan gebeur nie, maar binnekort.

Wie is hierdie jong vrou en haar seun? In 7:3 wys Jesaja sy seun, Sear-Jesub (“‘n-Bietjie-sal-Terugkeer”) vir Agas, as ‘n teken dat dinge goed sal afloop—daar sal ‘n klompie Jode uit die ballingskap terugkom. In 8:3 gee Jesaja ‘n ander seun van hom die naam “Plunder-en-Roof-is-Naby.” Dit is ‘n teken dat Agas se vyande geplunder gaan word. In die volgende hoofstuk, 8:18 , sê Jesaja dat hy en sy kinders “lewende getuies” is dat die Here hulle gaan help. Heelwaarskynlik praat Jesaja dus van een van sy eie kinders wat “Immanuel” of “God-is-Aan-Ons-Kant” genoem is. Daar is ook geleerdes wat dink koning Agas se vrou swanger was. Jesaja moedig hom dan aan om sy kind die naam “Immanuel” te gee, “God-is-aan-ons-kant.”

Die historiese perspektief van ons profeet is dié van determinisme. God in die kosmos se boonste verdieping, is besig om die geskiedenis soos ‘n stuk materiaal op ‘n weefmasjien uit te weef. Jesaja, as profeet, het insig in wat gaan gebeur; hy het ‘n telefoonlyn boontoe. Wanneer die oorlogswolke saampak, gee Jesaja vir hulle hoop. Sy eie of dalk die koning se kind kry ‘n simboliese naam: God baklei aan hulle kant.

Uitleg van Matteus
Matteus skryf, soos Jesaja, teen die agtergrond van ‘n kosmos met drie verdiepings. Wat hier op aarde gebeur, is die resultaat van dinge wat deur God gedetermineer is. Nou is dit ‘n engel in ‘n droom wat Josef se internetkonneksie boontoe is. Matteus vertel dat Josef “verloof” was. Dit is natuurlik nie korrek vertaal nie. In dié tyd was daar nie ‘n onderskeid tussen “verloof” en “trou” nie. ‘n Dogter, sodra sy begin menstrueer, is aan ‘n man gegee as sy vrou. Die verhouding het dan ontwikkel totdat hulle uiteindelik sou seks hê. Hier staan bloot dat hulle getroud was, maar nog nie seks gehad het nie. Dit blyk toe dat Maria swanger was. Vir Matteus is hierdie swangerskap van die Heilige Gees afkomstig. Hy verander aan die Jesaja teks om hier uit te kom. ‘n Jong vrou wat swanger is (teenwoordige tyd), is nou ‘n maagd wat sal swanger word (toekomstige tyd). Die naam Immanuel het nou te doen met verlossing van sonde, en nie met aan wie se kant God is in die oorlog nie. Skraap ons hierdie mitologiese raamwerk, kan mens tot geen ander gevolgtrekking kom as dat Jesus buite die eg gebore is nie.

Die tradisie dat Jesus ‘n buite-egtelike kind was, is baie oud. Om die waarheid te sê, dit kom in die Bybel self voor. Die oudste Evangelie, Markus, wat so ongeveer 85 n.C. geskryf is, het glad nie die verhaal van die maagdelike geboorte nie. Markus 6 vertel dat Jesus eenkeer na sy geboortedorp teruggekeer het. Op die sabbat het hy in die sinagoge gepreek. Toe sê die mense (6:3): “Is hy dan nie die timmerman, ‘N SEUN VAN MARIA en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Hierdie versie spreek boekdele. ‘n Kind se afkoms is altyd van vaderskant aangedui, behalwe waar die kind buite-egtelik was; dan is dit van moederskant af gedoen. Volgens buitebybelse tradisies het Maria ‘n verhouding met ‘n Romeinse soldaat gehad. In ongeveer 178 n.C. skryf Celsus (sy geskrifte is verbrand; ons ken hom net uit Contra Celsum , Origines se verweer), dat Jesus se pa ‘n Romeinse soldaat, Panthera, was. In die Joodse Talmud word daar na “Jesus, die seun van Panthera” verwys. Palestina is deur Romeinse soldate beset rondom ons Christelike jaartelling. In die Rynland, Duitsland, is ‘n grafskrif gevind waar ‘n Romeinse soldaat en boogskutter, Panthera, begrawe is, nadat hy in Palestina diens gedoen het en toe in 9 n.C. oorgeplaas is. Dit is moontlik dat hy die biologiese pa van Jesus wat gebore is kort nadat Maria begin menstrueer het, waarskynlik op 12/13-jarige ouderdom. Oor die aard van die verhouding tussen Panthera en Maria sou mens net kon spekuleer—verkragting is nie uitgesluit nie.

Andries van Aarde het ‘n boek geskryf, Fatherless in Galilee waarin hy aantoon hoe Jesus se hele siening van God as vader ontwikkel het, omdat hy deur sy gemeenskap ‘n aardse vader ontsê is; dit was Jesus se meganisme om sy omstandighede te hanteer.

Maagdelike Geboortes in die Ou Tyd
Ons moet verstaan dat maagdelike geboortes nie onbekend was in daardie tyd nie. Per definisie was ‘n held, soos byvoorbeeld Herakles, se pa ‘n god, en sy ma ‘n aardse maagd. Spore hiervan is in die Ou Testament. Genesis 6:1-4 vertel:

“Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, 2 het die hemelwesens [=gode] gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou [eufemisme] met die dogters van hulle keuse. … 4 In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens [=gode] na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.”

Oor talle belangrike mense is die verhaal versprei dat hulle pa ‘n god was, byvoorbeeld die filosoof Plato en Alexander die Grote. Hierdie siening, om iemand se belang ná die tyd terug te verklaar as dit dit op goddelike genetiese materiaal berus, het ontstaan omdat mense nie mooi verstaan het hoe voortplanting werk nie. Die vrou se funksie is gesien as dié van ‘n blompot. Die enigste bydrae van die vrou in die proses is om ‘n houer of ‘n veld te verskaf waarin die manlike saad kan groei (Aristoteles Generatio Animalium 1.728a). Die digter, Aeschylus skryf in sy werk, die Eumenides dat die ma slegs die saadjie wat geplant is, voed. Die ware ouer is die een wat die saadjie plant.

Hierdie siening het ‘n invloed op sedes gehad. Mans kon maar rondloop om hulle genetiese materiaal te versprei. Vroue moes kuis bly, sodat haar kinders die man se genetiese samestelling kon voortdra. Die huweliksmoraliteit het ontwikkel rondom sake soos erfreg en die konsentrasie en behoud van produksiemiddele binne ‘n familie.

Gevolglik berus die maagdelike geboorte storie op ‘n uiters negatiewe siening van die vrou. Dit is onmoontlik om ‘n storie voor te stel dat ‘n aardse man ‘n hemelse godin bevrug om ‘n heldin in die wêreld te bring. Maria is passief in Matteus se verhaal — die storie is niks anders as ‘n verkragting deur ‘n bo-natuurlike manlike krag nie. Alle inligting in die storie word aan Josef gekommunikeer. God tree hier op soos ‘n feudale landheer wat die ius primae noctis , die reg van die eerste nag, uitoefen. Die landheer het die reg gehad om, wanneer een van sy onderdane trou, die eerste kind by haar te verwek. Hier eis die kosmiese landheer hierdie reg op, en, soos reglose bywoners, moet Josef en Maria dankbaar daarby inval. Om hierdie verhaal in verband te bring met kloning en dat ‘n maagdelike geboorte in hierdie konteks verstaan moet word, is om die hele aangeleentheid verkeerd te verstaan. Daar is gevolglik geen plek meer in ‘n moderne teologie vir die leerstuk van Jesus se maagedelike geboorte nie.

Slot: ‘n Teologie van Verantwoordelikheid
Daar is vir my talle nadele daaraan om die geskiedenis in ‘n raamwerk van determinisme te beleef:

Dit gee die wat mag het ‘n rede om nie te verander nie. In die ou Suid-Afrika is Romeine 13 (“…en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.”) gebruik om die apartheidsregime te stut. Gekoppel met die mite dat God Afrikaanse mense in Suid-Afrika geplant het om ‘n nasie te wees en tot aan die einde blank en dominant te bly, en die lig van die evangelie te versprei, het oneindige leed en ellende tot gevolg gehad. Die opvatting dat daar ‘n “skeppingsorde” is wat die rolmodellering van mans en vroue in die huwelik bepaal, kinders se plekke vaslê in blindelingse onderdanigheid, is gif vir ons samelewing. Dit is een van die vernaamste oorsake van geweld teenoor vroue en kinders in ons land. Dit bring ons by die tweede nadeel:
Johnny Steinberg skryf in Business Day van 15 November 2004 :
“But what a strange journey white supremacism has travelled. It has no voice in public discourse. It has no political party and no newspaper. Instead, it has migrated, fully intact and unscathed, deep into private life. Robbed of a public platform, it has not died, but mutated into a new attitude one of resignation, fatalism, depression. It has become, above all, an ideology of dispiritedness.”

‘n Deterministiese siening van die geskiedenis maak mense fatilisties en passief om dinge maar net gelate te aanvaar as komende uit Gods hand. Ons behoort dinge soos moraliteit, reg en geregtigheid, in berekening te bring wanneer ons praat oor sake soos regstellende aksie en misdaad. Ek dink dat hierdie opvatting die rede is waarom Afrikaanse mense oor die algemeen apaties geword het in die nuwe Suid-Afrika; ons raak nie betrokke by dinge soos die Gemeenskaps Polisiërings Forum of partypolitiek nie. Een van die belangrike take van die Nuwe Hervorming Netwerk is om ‘n teologie van menslike verantwoordelikheid te ontwikkel. Ons reglement verklaar: ” Ons visualiseer ‘n nuwe era waar inligting vrylik kan vloei sonder vrees vir verkettering, marginalisering, of vervolging. Elke mens, man, vrou of kind, behoort in staat te wees om in nuwe verhoudings tot hulleself, hulle omgewing en God te kan leef om die beste te kan wees waartoe hulle in staat is.”

As ons immanent, dit wil sê, sonder verwysing na ‘n derde kosmiese verdieping, kyk na oorsake en gevolge, kan dit bevrydende effekte hê. Ons kan verstaan hoe oorerwing en omgewing ons gedrag bepaal. Maar ons kan ook ons uniekheid en eiewaarde besef. Ons hoef nie dinge gelate te aanvaar nie; ons kan ‘n verskil maak.

Daar is vir my iets bevrydends en positief daarin dat ‘n buite-egtelike seun van 2000 jaar gelede, Jesus van Nasaret, my rolmodel is. Dit is soos ons huishulp wie se matriekdogter ‘n ruk terug deur ‘n bende van tien verkrag is. Nog steeds kry die kinders in haar familie name soos Hope , Grace , Beauty , en Freedom— ‘n naamgewende verwagting dat ons en ons kinders dinge kan verander; ons is nie uitgelewer aan magte waaroor ons geen beheer het nie.

Ek lees eenkeer van ‘n man wat een oggend vroeg op die strand gestap het. Langs die see het duisende seesterre gelê wat deur die gety uitgespoel is. In die opkomende son sien hy ‘n silhoette van ‘n dansende figuur. Soos hy nader stap, sien hy dis ‘n man wat die seesterre optel en een vir een in die see teruggooi. Toe hy naby kom, vra hy die ou wat hy doen. “Ek gee hierdie seesterre ‘n tweede kans . Hulle kan nie hier in die son oorleef nie.” “Maar daar is duisende op die strand! Hoe kan jy ‘n verskil maak?” “Wel” sê hy, terwyl hy optel en een teruggooi, “ek het ‘n verskil vir hierdie een gemaak.” Die ou het gebuk en saam met die man seesterre begin teruggooi.

‘n Nuwe Hervorming perspektief op Kersfees is dat ons betrokke sal raak by die kreatiewe dans van die lewe. Ons is nie langer passiewe toeskouers nie, maar akteurs.