1. Inleiding

Verlede jaar, 2009, was die 200ste gedenkjaar van Charles Darwin se geboorte op 12 Februarie 1809. Vrydag 12 Februarie vanjaar, sou hy 2001 jaar oud gewees het en is Darwinday weer wêreldwyd gevier. Met reg word sy prestasies en genialiteit oral met groot akklamasie herdenk, maar nêrens het Emma Darwin, sy vrou van 43 jaar, nog ‘n spreekbeurt gekry nie. Haar bydrae tot sy sukses is onmeetbaar, nie in die sin dat sy hom geïnspireer het deur wetenskaplike insette te lewer nie, want Darwin se genialiteit is toe te skryf aan die gene van sy talentvolle voorouers, maar sy was die medium waarin hy kon bestaan en werk. Sy het die omgewing geskep waarin sy ‘gene’ tot hulle reg kon kom. Daar is geen twyfel dat hy nie sonder haar kon bereik wat hy bereik het nie. Sy was ook ‘n besondere vrou in eie reg. Ons is dit aan Emma Darwin verskuldig om haar verhaal te vertel.

My belangstelling in Emma het in Julie verlede jaar begin toe ons in die dorpie Sevenoaks in Kent (20 kilometers suidoos van Londen) gekuier het. Daar loop ek toe vir twee pond ‘n effe moeg-geleesde biografie van Emma Darwin op ‘n sypaadjie-boekstalletjie raak. Hierin ontvou die ander kant van Charles Darwin se lewe en haar ervaring van ‘n lewe saam met hom, opgeteken in haar briewe en dagboekinskrywings. Emma Darwin se sestig dagboeke en ‘n leeftyd se familiebriewe word vandag in die Cambridge Universiteitsbiblioteek bewaar.

  1. Agtergrond

Naby Sevenoaks, tussen die groen lanings van die Kentse platteland, ontdek ons ook Down House, die groot vierkantige verdiepinghuis waarin die Darwins vir veertig jaar gewoon het, waar hulle hulle kinders grootgemaak het, waar hy On the origin of species en The descent of Man geskryf het en waar hy in 1882, en veertien jaar later ook Emma, in 1896, gesterf het.

Charles en Emma se lewe saam is vervleg met hulle agtergrond. Charles Darwin en Emma Wedgwood het mekaar van kleintyd goed geken want hulle was bloedneef en -niggie met ‘n gemeenskaplike oupa, Josiah Wedgwood l, stigter van die beroemde Wedgwood pottebakkersryk waarvan die ware in elke Europese koningshuis gepryk het. Elizabeth die Grote van Rusland het gespog met ‘n volledige Wedgwood eetservies met Engelse natuurtonele op elke bord. Harrods, die groot afdelingswinkel in Londen se buitekant is geteël met Wedgwood teëls uit die fabriek van Emma en Charles se voorvader. Die Wedgwoods en Darwins was welgestelde aristokratiese families in Victoriaanse Engeland. Hulle was deel van die opkomende professionele klas van uitvinders, handelaars en geleerdes wat gegroei het uit die Industriële Rewolusie wat in die middel-sewentienhonderd in die Middellande van Engeland ontstaan het.

Hulle het onder mekaar getrou en ‘n hegte vriendskaps- en familieband het ontstaan, hoewel hulle agtergronde verskil het. Die Darwins het universiteitsopleiding gehad en hulle was godsdienstig-vrydenkend. Charles se pa Robert Darwin, en sy oupa Erasmus Darwin, was suksesvolle mediese dokters uit die Shrewsbury-omgewing. Die Wedgwoods daarenteen, was handelaars en skeppende kunstenaars en toegewyde Unitariërs. Die kenmerk van die Unitariese geloof is dat hulle nie in ‘n drieënige God glo nie. Dit is welbekend dat Emma en die kinders, as hulle die plaaslike Anglikaanse kerk besoek het, hulle rug gedraai het op die kansel terwyl die geloofsbelydenis gelees word.

Emma se verhaal begin met haar geboorte in 1808 op die familielandgoed Maer in Staffordshire, die jongste van agt kinders. Sy het ontwikkel in ‘n borrelende, alomgeliefde en pragtige jong vrou. Soos ons later weer sal sien, was netheid en orde nie haar sterkste punt nie. Haar bynaam was ‘Miss Slip-Slop’ omdat die lewe vir haar oor belangriker dinge gegaan het as om weg te pak en reg te pak. Hierdie eienskap van Emma het Charles se soort van navorsing goed gepas. Haar ordelike ouer sussie, Fanny, was haar beste vriendin en die twee was onafskeidbaar. Hulle pa, Josiah Wedgwood ll, of Jos soos almal hom geken het, en haar ma Bessie Allen, het, raar vir daardie tyd, geglo in ‘n goeie opvoeding vir hulle dogters. Gewone dagskole was daar nie en Emma het sangonderrig van ‘n operasangeres uit Londen gekry; ’n taaltutor het in Maer Hall by die familie ingewoon en Frans by haar ingeprent. Die biblioteek  in Maer Hall was gevul met boeke oor elke denkbare onderwerp en Emma was altyd intellektueel gestimuleer. In 1825, op sewentienjarige ouderdom neem haar ouers vir haar en haar susters met ‘n perde-koets op ‘n Grand Tour deur Europa waar sy die kunsgalerye, museums en opera ingedrink het en opgewonde skryf oor ‘n trop buffels wat hulle in die suide van Italië raakgeloop het. Buffels in Italië? Wel, kyk maar op Google, die trop is nou nog daar. Nietemin, Emma was ‘n buitengewoon ingeligte jong vrou vir haar tyd. Sy was, wat ons sou noem, ‘n Renaissance-vrou wat iets van alles geweet het. Sy was ‘n uitstekende pianis en is in Londen onderrig deur beroemde pianiste, onder meer Frederic Chopin self, beweer sommige bronne. Sy het intens belang gestel in die politieke intriges van die tyd en aktief geagiteer vir slawevrystelling. Trou was nie vir haar ‘n opsie nie.

Haar ernstige nefie Charles Darwin, met sy passie vir jag en die versameling en klassifikasie van goggas, plante en klippe, het sy vervelig gevind. In haar dagboeke en briewe is ook min verwysings na hom en sy epiese vyf-jaar-lange reis om die wêreld in die HMS Beagle wat van 1831 tot 1836 geduur het. In hierdie tyd het  Emma ‘n pynlike tragedie ervaar. Haar geliefde Fanny word in Augustus 1832 siek en sterf ‘n week later aan cholera. Dit het vir Emma tot introspeksie gedryf en sy word meer ernstig en diep gelowig. Vir die eerste keer vind sy werklike troos in die Unitariese tradisie van haar voorouers. ’n Onwrikbare geloof in ‘n lewe na die dood en die krag van gebed word die geloofstrukture waarop sy vir die res van haar lewe sou steun.

  1. Voorspel tot ‘n liefdesverhaal

In Oktober 1836 kry Jos ‘n brief van Charles Darwin om te sê die Beagle het vasgemeer in die Plymouth-hawe en hy sou graag Maer Hall besoek om deel te neem aan die jagseisoen op die landgoed wat pas begin het. Charles se terugkeer en sy kuier in Maer Hall, in Emma se 28ste jaar, het haar lewe ingrypend verander. Dit was ‘n ander Charles. Met nuwe respek luister sy na sy vertellings van vreemde lande en mense en teorieë oor die evolusie van die spesies. En vir die eerste keer is Emma verlief.

Vir Charles het verliefdheid en trou nie so maklik gekom nie. Hy het besef dat dit van hom verwag word, en sy familie het druk op hom uitgeoefen, maar Emma was in elk geval ‘so much his superior in every respect’, skryf hy later, dat hy min moed gehad het om haar as vrou te kry. Nou benader Charles, die toonbeeld van rasionele denke, ‘n irrasionele  onderwerp uit ‘n suiwer analitiese oogpunt. Hy gaan sit en analiseer die voordele en nadele van die getroude lewe in twee kolomme: ‘Marry’ en ‘Not marry’.

In die voordele-kolom skryf hy:                           In die nadele-kolom skryf hy:

Kinders (as dit God se wil is)Konstante maat en vriend op die oudag wat in hom sal belangstel.

Objek om as geliefde te dien (‘n seksobjek?) en om mee te speel. ‘Better than a dog in any case’.

‘n Huis en iemand om dit te versorg.

Bekoring van musiek en vroulike gebabbel.

Dié dinge is goed vir ‘n mens se gesondheid, maar ‘n groot verlies aan tyd!

 

Vryheid van beweging ingeperk.Gemis van gesprek met intelligente mans by klubs.

Geforseer om familie te besoek.

Die uitgawes en spanning wat kinders meebring, miskien rusies.

Verlies aan tyd – kan nie saans lees nie. Gewig optel van  ledigheid.

Meer verantwoordelikheid en minder geld vir boeke. Maar dan weer is dit baie sleg vir die gesondheid om te veel te werk.

Uiteindelik kry die voordele die oorhand in die argument as hy sê:

‘My God, it is intolerable to think of spending ones whole life, like a neuter bee, working, working, & nothing after all. No, no won’t do. Imagine living all one’s day solitarily in smoky dirty London House. Only picture to yourself a nice soft wife on a sofa with good fire, & books & music perhaps. Compare this vision with the dingy reality.’ ‘Cheer up, (hy moet homself moed inpraat want hy is nie lus vir die spulletjie nie) one cannot live this solitary life, with groggy old age, friendless & cold & childless staring one in ones face, already beginning to wrinkle.’  Let wel, emosies en liefde speel geen rol nie!  Hoe het Emma hom nie verander nie!

In November 1938 skraap hy sy moed bymekaar om vir Emma die jawoord te vra. Charles is verras as sy onmiddelik instem en nou veroorloof hy sy gevoel en emosies om die oorhand te kry in sy minnebriewe. Uit sy ouerhuis in Shrewsbury skryf hy in sy eerste brief aan Emma: ‘My own dear Emma, I kiss the hands with all humbleness and gratitude which have so filled up for me the cup of happiness. It is my most earnest wish that I may make myself worthy of you’.

Hulle trou stil in die volgende jaar op die Maer-landgoed. Die huweliksontbyt was kort want die koets het gewag om hulle Birmingham toe te neem vanwaar die nuwe spoorlyn na Londen pas voltooi is. Na ‘n verblyf van drie jaar in Londen waar hulle eerste kind, William, gebore is, trek Charles en Emma na Down House in Kent.

  1. ‘n Eenheid van teenoorgesteldes

Hier in Down House begin Charles nou sy loopbaan wat vir hom beroemdheid sou verwerf vir alle tye. Hulle huwelik sou ‘n eenheid van teenoorgesteldes wees:

Hy was metodies en geroetineerd. Elke dag dieselfde tyd stap hy met sy kierie dieselfde paadjie op die Downe landgoed en neem elke plant en goggatjie waar. Sy was gemaklik, gesellig en ongeërg. Sy ordelikheid orden noodgedwonge ook haar lewe.

Hy was altyd gespanne en onseker van homself omdat hy die stabiliteit van ‘n ma op agt-jarige ouderdom veloor her. Sy was vol selfvertroue uit ‘n groot gesellige, warm familie.

Hy kom uit ‘n onvaste agtergrond van die Darwin-skeptisisme. Sy kom uit ‘n vaste basis van die Wedgwood-geloof.

Hy waarsku haar dat hy ‘n alleenloper is, maar vertrou dat sy hom sou leer dat daar groter geluk is as om teorieë en data in afsondering te versamel. Sy skryf aan hom – sy kon haarself altyd beter op papier as in woorde uitdruk – oor haar vrees dat die verskil in hulle geloofsoortuigings verwydering in hulle verhouding sou bring. Sy waardeer sy openheid teenoor haar en glo dat sy twyfel oor God wat sy navorsing meegebring het en wat mettertyd tot agnostisisme en ongeloof sou lei, eerlike soeke na die waarheid is, en daarom nie sonde kan wees nie. Lewe na die dood was vir haar ‘n werklikheid en sy wou nie aanvaar dat hulle ooit geskei sou wees nie. Daarom is dit ‘n tragiese ironie dat hulle uiteindelik apart begrawe is.

  1. Die kinders

Uit die huwelik is tien kinders gebore. Emma noem dit haar ‘affliction’ om vir twaalf jaar lank, tot haar ag-en-veertigste jaar, permanent swanger te wees. Ná een geboorte-vry jaar, skryf Charles aan sy vriend, Hooker, ‘Emma has been very neglectful of late, we have not had a child for one whole year!’ Geboortebeperking was vir hom onaanvaarbaar, nie net omdat dit deur die kerk verbied was nie, maar wie sal die kolonies koloniseer as die bevolking beperk word? Haar bevallings was moeilik en sy het elkeen met angs tegemoet gegaan, maar gelukkig is chloroform in die tyd uitgevind en is haar laaste drie kinders met behulp daarvan gebore. Die dosering was nog onbekend en toe die dokter met een bevalling laat opdaag, het Charles sommer die nodige gedoen met ‘n oordosering wat haar vir ‘n uur en ‘n half bewusteloos gelaat het. Dis vir my mooi dat sy tòg probeer het om die swangerskappe te beperk want in haar dagboeke is die ‘veilige tye’ van die maand sorgvuldig met kruisies gemerk. Die metode het uiteraard nie vir haar so goed gewerk nie. Sy was ‘n toeganklike en toegewyde ma. Elke dag moes die kinders rondom haar sit terwyl sy hardop vir hulle uit Dickens en Thackeray voorgelees het.

Maar, ‘in Victorian times there were many little coffins’ want aansteeklike siektes het soos veldbrand versprei van die een dorpie na die ander en hulle het drie kinders aan die dood afgestaan van wie die laaste, Charles Waring, Downsindroom gehad het. Van kleinsaf het Charles het sy gedrag waargeneem en aangeteken. Toe hy op tweejarige ouderdom aan witseerkeel sterf, kon hy dit aanvaar op grond van die ‘survival of the fittest’-beginsel. Maar die tienjarige, liefdevolle en intelligente Annie se dood aan tuberkulose in 1850, het sy geloof finaal geknou. Emma se troos was dat hulle weer met haar herenig sou wees, maar vir Charles was sy ‘a flower cut down into the dust.’

Onder Emma se invloed het die Darwinkinders met vryheid, sonder die gebruiklike Victoriaanse outoritêre ouerskap, grootgeword. Vry spel was belangriker as reëls. Charles het ‘n glyplank gemaak waarop hulle en hulle ma op die trappe van die verdiepinghuis afgegly het en kleuters het oor die sitkamermeubels geklouter terwyl hy sy teorieë neergepen het. Die kinders onthou dat sy ‘galloping tunes’ op die klavier gespeel het en dan is die meubels opsygeskuif sodat die kinders kon gallop en dans. The origin of species het in 1859 inderdaad teen ‘n ‘disturbed background’ tot stand gekom.

Charles was nie ‘n streng pa nie, hy het die kinders graag gesoen en gedruk. Hy het hom met ses pennies laat omkoop om die werk te los en saam met hulle buite te speel. Hulle was ook sy oë en het die plantmonsters versamel waarmee hy geëksperimenteer het. Die huis het in ‘n museum verander en Emma was ongesteur deur die slymerige plante, verottende skulpe en dooie voëls, gestuur vanoor die hele wêreld, wat as Down House se binneversiering moes dien. In haar swanger toestand kon die reuke nie aangenaam gewees het nie. By tye moes sy klavier speel vir wriemelende wurms in ‘n bakkie sodat Charles hulle reaksie op musiek kon waarneem!

  1. Charles se gesondheid

Maar Charles se gesondheid het alles van haar gevra. Na sy terugkeer van sy reis op die Beagle het hy vir die res van sy lewe, dit is 46 jaar, gely aan ‘n kroniese ingewandsiekte wat hy in Suid-Amerika opgedoen het. In sy reisjoernaal verwys hy na ‘a great black bug of the Pampas’ wat hom in Argentinië gebyt het. Die gogga was ‘n draer van Chagas se siekte wat gepaard gegaan het met erge hoofpyne en krampe en braking (Emma skryf, ‘the sound of violent retching filled the house’). Die braking is voorafgegaan deur aanvalle van bewerasie, histeriese huilbuie en die gevoel dat hy besig is om dood te gaan. Dan het Emma by hom gesit, sy slape masseer om die hoofpyne te verlig, klavier gespeel en ligte romans voorgelees om hom te kalmeer.  Tydens ‘n aanval in die nag kon sy hom glad nie alleen laat nie, want, het hy geskryf, ‘without you I feel most desolate. I long to be with you and under your protection, for then I feel safe.’

Daar bestaan vandag ‘n sterk vermoede dat Charles Darwin ook Asperger-sindroom gehad het. Sy genialiteit, obsessiewe gedrag, aanvalle van depressie en skuheid vir mense wil daarop wys. Buite sy studeerkamervenster is ‘n spieël aangebring sodat hy kon sien as gaste arriveer en dan het hy onttrek. Emma se daaglikse hantering van sy eksentrieke gedrag moet ons bewondering vir haar laat toeneem, meer so omdat sy self ernstige migraine-aanvalle gekry het. Sy is ook die een wat jaarlikse seevakansies gereël het sodat hy kon afskakel.

The descent of man sien die lig in 1871 en sy vrees vir ‘n storm van kerklike kritiek, ook van Emma, omdat die afkoms van die mens daarin lynreg teen die Bybelse skeppingsverhaal indruis, bring weer hewige episodes van die siekte aan. Spotprente van Charles as ‘n oerang-oetang verskyn oral teen die lamppale en in die koerante. Maar die publiek se denke het tog aanbeweeg en dit word beter ontvang as Origin. Emma het albei boeke geproeflees en met haar kennis van verskeie tale, vertaal sy nou vir hom die briewe wat van oraloor instroom en ontvang die groot wetenskaplikes wat by die voordeur aanklop. Uit sy briewe is dit duidelik dat hy sy vrou oneindig waardeer het. Charles was ‘n gelukkige mens en hy het homself as geseënd beskou.

Maar sy gesondheid het vinnig agteruit gegaan. Hy het geweldig gely en die wens uitgespreek: ‘If only I could but die’. Op 18 April 1882 sterf Charles Darwin op 73 jarige ouderdom. Dit het in die nag gebeur en Emma was nie by hom nie want sy het vir ‘n rukkie gaan rus. Hy het ook gevra dat sy nie geroep word nie.

Die begrafnis sou in die dorpie Downe plaasvind. Die plaaslike skrynwerker, Lewis, het reeds die eenvoudige rof-afgewerkte kis gemaak soos Charles dit wou hê en die George & Dragon oorkant die kerk het gereed gemaak om die begrafnisgangers te ontvang, toe op aandrang van Charles se wetenskaplike vriende, aan Emma getelegrafeer word om toestemming te kry dat hy in Westminster Abdy te ruste gelê word. ‘n Berugte vrydenker in die Abdy vereer? Konvensionele Anglikane was geskok en die inwoners van die dorpie diep teleurgesteld oor haar besluit, maar Emma se toestemming was haar laaste opoffering aan hom, ‘because she loved him’, skryf hulle dogter Etty.

  1. Afskeid en daarna

Sy het afskeid geneem terwyl sy in die tuin gestaan en kyk het hoe die swart lykswa, getrek deur vier swart perde, onder ‘n grys hemel met sy stoflike oorskot van die huis af vertrek op die sestien kilometer reis na Londen waar hy in die Abdy in staatsie sou lê. Emma sou nie daar wees nie. Die familie was verteenwoordig deur die kinders en Parsons, die ‘butler’ van die huishouding. Sy het die dag alleen en stil in Down House deurgebring. Sy sou gebid het dat sy haar geliefde Charles weer sou sien om nooit weer geskei te word nie.

Die volgende dag was sy geamuseer om die oordrewe taalgebruik van ‘n Unitariese predikant se beskrywing van die seremonie in die koerant te lees: ‘The nation’s grandest temple of religion opened its gates and lifted up its everlasting doors and bade the King of Science to come in’. Sy het Ps 24 herken: ‘Hef op julle poorte ja verhef julle ewige deure dat die Erekoning kan ingaan.’

Maar die struktuur van haar wêreld het in duie gestort. Haar hele lewe het om Charles gedraai en sy streng ritme het haar ontspanne geaardheid georden. Sy moes haar lewe herskep rondom die familie.

Van nou af het Emma net die somers in Down House deurgebring. Sy het ‘n groot huis, The Grove, in Cambridge gekoop waar sy in die winter gewoon het. Twee van hulle seuns, Francis en Horace, het ook huise op die landgoed laat bou en ‘n ogie oor haar gehou. Nou het sy haar verdiep in die filosofie waarvoor sy nooit voorheen tyd gehad het nie. Maar sy het begin doof word en haar oë het dof geword. Artritis het haar gewrigte vervorm. Haar geheue was nog goed en in 1896 was dit moeilik om te glo dat sy 88 jaar oud is. Sy was in Down House op 27 September toe sy skielik siek word terwyl sy besig was om Henry James te lees. Toe Etty, hulle enigste oorlewende dogter, vir haar gaan nagsê, was sy besig om soos gewoonlik haar horlosie op te wen, toe sy agteroor val op die kussing. Sy het nie weer bygekom nie.

Dit was ‘n stil begrafnis en al die winkels in Downe se hoofstraat was gesluit en die huise se blindings toegetrek terwyl die blomlose begrafnisstoet verby gegaan het. Van haar kinderdae tot haar oudag was Emma geliefd en gerespekteer deur almal wat haar geken het, en tog het sy onaangeraak en pretensieloos gebly. Nie roem of kritiek het haar beïnvloed nie. Sy het ‘n skerp intellek en humor na die huwelik gebring. Sy was die matriarg van die familie en die hart van Charles Darwin se lewe. Na sy dood het sy steeds haar verstand en gees ontwikkel. Baie bewus van die geloofsverskille tussen hulle, het sy elke kloof met liefde oorbrug. Sonder haar, sou Charles waarskynlik ‘n toegewyde wetenskaplike gewees het, maar ernstig gestrem deur swak gesondheid.

As jy weer deur Westminster Abbey loop terwyl die orrelis oefen vir die volgende staatseremonie en jy gaan staan by die plak op die vloer skuins onder Sir Isaac Newton se monument, wat Charles Darwin se graf aandui, dink aan Emma Darwin. In 1896 is sy begrawe in die kerkhof van die Sint Mary’s kerkie in die stil Kentse dorpie Downe. Haar graf is moeilik om te vind, die gras is lank en die woorde op die grys grafsteen is verweer. Haar requiem word gesing deur die voëls in die bome van die kerk se tuin. En sy sou dit nie anders wou gehad het nie.