EK WONDER…
Deur: Mekeniek
Ek wonder
“April, jou bliksem!”
“Meneer?”
“Hoe lank sit jy al taaiers op wiele, hê?”
“Bietjie lank, Meneer.”
“Ja, nou wonder ek net hoekom jy sommer hier uit die bloute die fokken taaiers verkeerdom begin
aansit.”
Uit hierdie gesprek kan die leser seker aflei
dat ek ‘n mekêniek is. Dit is so, maar ek is ook ‘n
wondermens. Ek wonder altyd oor dinge en goeters.
Ek onthou nog goed toe ek vir die eerste keer in my lewetjie my oor goeters ‘verwonner’ het.
So naby die einde van die groot depressie kry ek by Moeder
toestemming om by my maatjie

‘n
Kaaskop, nes ek te gaan speel. Maar daar was ‘n streng voorwaarde aan verbonde. Net as Vader uit die
huis is mog ek by Lammert gaan speel. Maar voordat Vader tuis is moes ek terug wees, soos in dadelik!
En natuurlik het ek gewonder waarom dit so moes wees, want elke keer, net wanneer ons op ons
lekkerste speel, word ek skielik huis toe geroep. So net voor Vader se tuiskoms.
En dis die eerste keer wat ek begin wonder het hoekom dinge so moes wees. Wat ek eers later begryp
het, was dat ons Gereformeerde mense was en Lammert hulle Hervormers. Woon langs mekaar maar
praat nie met mekaar nie, dis nou maar soos dit is. Vader het darem op ‘n keer stilweg opgemerk dis
jammer dat hulle Hervormers is, want eintlik is hulle tog fatsoenlike mense. En toe besef ek: Vader mog
nooit weet dat ek met ‘n Hervormde vriendjie speel nie, Moeder het dit skelmpies met Lammert se
moeder gereël!
Twee verkluimde kleuters sit bibberend styf teenmekaar voor die klein kombuisstofie en filosofeer.
Buite sneeu dit en ‘n ysige wind noop almal om binne te bly … brrrrr!
Dis ‘n tydjie stil. Dan sê ek ewe juts: “Vader sê dat julle hel toe sal gaan, want Hervormers sing gesange
en dis onbybels.” Lammert antwoord dat sý vader sê Gereformeerdes gaan almal hel toe, want hulle
dink hulle is die enigste mense wat Hemel toe sal gaan.
So, húlle gaan hel toe en óns gaan ook hel toe. Dominee sê dis warm in die hel. “Dit sal lekker warm in
die hel wees, nie so onplesierig koud soos hier nie.”
“Ja, en as ons eendag groot is, dan gaan ek ‘n boot koop en dan kan ons lekker in die hel se warmte
rondvaar. Ek gaan dan die kaptein wees en jy die matroos.”
“Nee, ek wil die kapte
in wees en jy die matroos.”
Die stryery kry alleen end wanneer Lammert se moeder sê dat ons mos altwee kapteins kan wees. Sy het
skynbaar nie die hel storie gehoor nie, maar laat nou toe dat ons in hulle Bybel lees. Daar’s geen ander
leesgoed in hulle huis nie, nes by ons.
Ons kruip onder die tafelkleed in waarvan die kante byna aan die grond raak en besluit dis ‘n kerk. Ons
gaan nou kerk kerk speel. Lammert maak die Bybel oop en lees hardop: “De Heere is mijn herder,” en
met sy wysvinger druk hy ritmie
s op elke woord wat hy lees. Maar ons kan beide nog nie lees nie. Hy sê sommer soos ons geleer is en druk lukraak op enige plek op die bladsy. Dan is dit my beurt om dominee te wees. Ek blaai ‘n paar bladsye om en ‘lees’ hardop: “Prijs de Heere want hij is goed”
Nou is die vet in die vuur. Lammert sê ek lees verkeerd, want ek moet my wysvinger op elke woord wat
ek lees sit. Sy vader en oupa doen dit so. Maar my vader hou sy vinger stil op elke lyntjie wanneer hy
lees, so my vader weet beter as sy vader. Maar om die vrede te bewaar begin ek ook om my vinger op
elke woord te sit wanneer ek kammakastig lees. En dit begin ‘n gewoonte word, selfs toe ek later rêrig
kon lees.
Sondae in die bitter Europese koue wonder ek hoekom die oom voor in die kerk so kwaai met ons praat
en sy vinger so na ons kant toe wys. En ek wonder hoekom hy sulke vreemde klere aanhet. En hoekom
dit en hoekom dat ….
Ek mog oor sommige dinge gedurende die week wonder, maar Sondae …. jongetjie, jy kry ‘n flinke pak
op je bille as jy op Sondag oor iets wonder. Geen vrae nie, geen niks, so op hierdie dag sharrap jy net. En
daardie pragtige groot boek waaruit die oom met die vreemde klere lees terwyl ek hardop in die kerk
daaroor begin wonder terwyl kwaai vaderoë my aankyk …. pasop mannetjie, waag dit net. En dan
wonder ek maar stilweg hoekom ek nie op daai dag mag wonder nie.
Onse Bybel tuis is nou wel nie so groot en mooi soos die kerk s’n nie, maar hieruit word twee keer per
dag na ete gelees. En weereens, hier mag jy ook nie wonder nie. Elke woord word waardig en respekvol
deur Vader uitgespreek, in ‘n stem anders as gewoonlik. En as jy na die tyd durf vra, “maar hoekom ….,”
dan kry jy ‘n dwarsklap hier van Moeder se kant af wat jou soms sulke oulike sterretjies laat sien. Ai! Elke
woord word letterlik gelees en sonder teëspraak aanvaar, en ek wonder …. wag, laat ek liewer maar los
voor ek weer op my herrie kry ….
So gaan die jare maar vol vrae verby en toe ek tot wasdom kom, wonder ek hoekom ek so bevoorreg is
om ‘n vroulief met sulke mooi blou oge te mag kry …. sjoe! En later wonder ek hoekom die groot
meester ons met so ‘n pragtige kindjie toevertrou het.
Op ons troudag kry ons ‘n Huisbybel present en ewe getrou lees ons elke dag vingerwysend daarin,
beginnende by Genesis een
. (Eers na baie, baie jare se moeisame lees kom ons uiteindelik by die “Blye Boodskap” uit. Gmf, wat ‘n vermorsing van tyd!)
Kinddoopdag staan ons voor die kansel terwyl ek wonder hoekom my hempsknope net net wil
oopspring van trots. En ek wonder hoekom ons met die baba vorentoe moet kyk terwyl ek net wil
omdraai om vir die gemeente te sê: Kyk net ‘n bietjie hoe bevoorreg is ons!
Dominee ruk my tot die werklikheid terug wanneer hy met sy diep dreunstem sê hierdie kind is in sonde
ontvang en gebore.
Wat hoor ek … wat hoor ek? Aikona dominee, hierdie mensie is in liefde ontvang en gebore. G’n sonde
hier nie, hoor. En ek wonder daarna hoekom my hele dag deur hierdie blerrie peerkant se simpele
opmerking so bederf word, demmit!
So vyftig jaar of wat gelede word ek gekies as lid van die heel eerste Suid Afrikaanse Antarktiese
ekspedisie, want die slim manne het ‘n mekêniek saam met hulle nodig gehad. Maar ek moet ook van
weerkunde leer en word aangesê om voor die tyd van die goeters op te swot. Slim Dirk is
my leermeester en ek leer van cumuluswolke, weerballonne, Stephenson skerms en nog veel meer
vreemde goeters waarvan ek nooit voorheen gehoor het nie.
Dirk raak later ongeduldig oor my stadige vordering en sê ek moet ophou om my vinger op elke woord
te sit wanneer ek lees. Ek wonder hoekom hy so sê en vertel hom dat dit van toeka af die gebruik is om
so te lees en dis mos hoe dit gedoen moet word.
Die middag na die marteling neem Dirk my na ‘n kroeg en na ‘n dop of twee ontspan ek so ‘n bietjie. Hy
vertel my toe ‘n storie van ‘n jong getroude paartjie wat saam huis opsit. Die eerste Sondag berei die
nuwe bruidjie ‘n skaapboud voor en in die proses sny sy die kante van die boudjie af voordat sy dit
gaarmaak. Haar man raas en sê dat sy die boudjie bederf, mens sny mos nie die ding so op nie. In trane
vertel sy dat dit die regte manier is, want haar ma het haar so geleer. Skoonseun gaan praat met haar
ma daaroor en dié sê toe sy het dit so by háár ma geleer.
Vasberade om hierdie vreemde manier van doen te verstaan, gaan kuier hulle by die ouetehuis en vra
aan Ouma hoekom die kante van die boudjie afgesny moet word. “Ag my kind,” antwoord sy, “toe ons
pas getroud was, was ons so arm dat ons net ‘n klein kastrolletjie gehad het. Om die boud daarin te kry
moes ek maar eers die kante van die boudjie afsny.”
“Net so,” beduie Dirk, “moet ons verstaan dat toeka se mense nie kon lees nie en dit toe maar op die
graad een paddabeen manier met die vinger op elke woord geleer het. Hy sug: “Jong, jy moet wragtag
nou leer om op ‘n konseptuele manier te lees. Vinnig en sonder jou vinger, gehoor! Jy is mos nie ‘n
fundamentalis nie, of hoe?”
“Wat bedoel jy, wat se ding
is ‘n funde … funde … dinges?”
“Man, dis wanneer mens woorde apart lees sonder om te vra of verstaan wat dit eintlik beteken.”
Wil nou nie eintlik ‘n funde…iets wees nie. Ek kyk na ‘n klompie woorde en sê aan myself: “Hoorie self,
wat seg die spulletj
ie nou eintlik aan my?”
Na dae en nagte se gesukkel en koue sweet kom dit tog uiteindelik reg …. wel, byna reg. Ek sal slim Dirk
ewig dankbaar bly dat hy twee dinge aan my geleer het. Eerstens, “lees konseptueel” en tweedens,
“moenie alles wat jy hoor of
sien vir soetkoek opeet nie.”
Op Antarktika is dit nogal koelerig, veral gedurende die drie maande winterduisternis waar die
temperatuur tot minus 50°C kan daal met ‘n gepaardgaande windjie wat so 185 km per uur verby jou
trek wanneer jy met jou dik anorak en ‘n stewige tou om jou lyf buitentoe moet gaan om ops
(observasies) te gaan doen.
My leesgoed was basies ‘n ou Reader’s Digest en die Bybel (daar is ongelukkig in die poolgebied geen
koerant afleweringsdiens nie!). Ure lank tussen my twee groot diesel kragopwekkers sit ek lekker op ‘n
houtbankie en lees die Bybel konseptueel. Op hierdie manier word die lang, donker ure verwyl om
stories op te maak en te sien terwyl ek lees.
Ek lees en sien hoe Kaing en Abeltjie met mekaar fight. En ek dink so by myselwers: Jinne, as elke ou net
sy eie slaapkamer gehad het sou daar mos g’n moeilikheid gewees het nie. (Hier praat ek nou uit
ondervinding!)
“Wat gaan aan, hoekom baklei julle seuns so, hê?”
“Maar Ma, Abel doen nie sy job nie! Elke keer breek sy hoenners uit en gaan vreet in my groentetuin!”
“Ag man, dit was net een keer. Ma, hy maak nou ‘n berg van ‘n molshoop, hy maak mos altyd so!”
“Hey watch’it Abeltjie, vir jou bliksem ek, gehoor?”
Buite dreun die donderweer. “Ja, daar het julle dit nou. Luister net hoe raas God met julle! Gaan nou
dadelik en vra Hom askies dat julle so stout is. Dadelik!”
Nou moet julle darem weet, as God met sy diep stem aan jou beduie dat Hy ontevrede is, dan spring jy,
Boetman. En gaan offer iets net om sorrie te sê, soos in vinnig.
Abel vang skelmpies daai lastige haan wat in elk geval in die middel van die nag almal wakker kraai. Af
met sy kop en dan aan die brand op die sorrie hoop. Lekker rook wat opgaan na God …. Lekker.
Dit het die vorige nag gereën en Kaing pluk so ‘n klompie
groente en sukkel om die nat spul aan die brand te kry. Die rokies waai maar so sukkel sukkel hier by die grond rond maar wil net nie opgaan nie.
Abeltjie hou sy maag vas en krul van die lag as hy sien hoe ouboet sukkel.
Kaing gryp een van sy pa se gholfstokke en die res van hierdie storie ken julle mos. Een ding is egter
seker: Hierdie Kainkie se kaiings het daarna behoorlik gebraai, hoor!
En dan lees ek lekker verder van die tyd toe Isakkie nog so ‘n jong lat was en toe oom Abie ‘n boodskap
van Bo af kry. Nie lank daarna nie, toe seg hy: “Kom Boet, berg toe met ons. Kry solank vuurmaakgoed
bymekaar vir die offer”.
“Offer, Pa? Maar waar is die offerhande dan, hê? “
“Moenie worrie nie, God sal self daarvoor sorg.” En Isakkie wonder of sy pa hooikoors het terwyl hulle
boontoe klim.
Bo gekom pak hulle die brandgoed op die klip en Oom Abie seg aan Isakkie: “Klim Boet, klim!”
“Ag nee jis, seblief Pa, wat maak Pa nou, hê?” Maar Pa met sy aanhoudende hooikoors sê “Cowboys
don’t cry, so sharrap en lê stil.”
En toe Pa met sy Bic aankom, toe praat God hier van bo af: “Los die laaitie uit, ek sien jy was
gehoorsaam. Check daai bos, daar is ‘n bok met sy horings vas in die takke. Gaan haal die ding uit en
offer dit aan My.” En omdat Oom Abie so soet was belowe God hom dat sy nageslag soos die sand van
die see sal wees en uit daai nageslag sal die Messias kom.
Nou wonder ek of ek die storie tot sover reg vertel het, maar anyway, toe lees ek maar aan en kom
hoeka by die eerste bladsy van die Nuwe Testament uit. Hier kom slapenstyd met ‘n vervelige
geslagsregister! Die vader van die en die seun van daai …. ag hoe boring! Maar wag ‘n bietjie, oom Abie
is mos die grootste groot oupa van die wonderlike man, kom ons kyk ‘n bietjie hoe die spulletjie
inmekaarsit.
My dieselenjins soek nou eers ‘n bietjie aandag en dan kom etenstyd, maar ek sal later weer hierna
kyk wanneer ek ‘n kans kry.
Later die middag, (snaaks, middag en dis pikdonker buite. Ek dink die ou in die Bybel wat van die
‘buitenste duisternis’ gepraat het was seker daai tyd ook op Antarktika!), gaan ek verder met my
lekkerlees stories. Hierdie een vertel van ‘n geseënde nooientjie wat ‘n bybie gekry het sonder dat daar
‘n pappie in die buurt was. Dus, vir die verloop van die verhaal kan ou J
ousie (Josef) mos maar buite op die snelweg gaan speel. Hy het tog niks verder met die spulletjie te doen nie, nie waar nie?
Ek kyk so ‘n bietjie rond in die enjinkamer en wonder: “Ek is ‘n mekêniek en ou Jousie was ‘n carpenter. Ek weet nou nie van al die geleerente ouens nie, maar as ons ambagsmanne ‘n girl in die
hande kry, nouja! Hoop maar net Josef was ook so ‘n bietjie geseënd soos in ons armydae toe ons
bluestone in onse koffie gekry het om die hormonetjies so ‘n bietjie in toom te hou.
Ewentwil, ek gaan toe aan’t lese in die geslagsregister nogal heel interessant, maaind joe. Van al daai
stouterts soos wyle tannie Ragab en haar laaitie Boas wat in ‘n B&B gewerk het en toe daai mooi girl,
Rut, bygekom het. En die lys gaan aan en aan tot ons nou by die wonderwerk kom: “…. en Jakob, die
vader van Maria” …. eh, nee wag so ‘n bietjie, wat gaan nou hier aan? Wyle oom Jakob was mos Josef se
pappie, iets klop hier nie. Ek het seker gedroom, want toe ek weer kyk, toe staan daar baie duidelik ….
Jakob, die vader van Josef, die man van Maria ….. Nee magtag, hoe nou? As Jesus direk van wyle oom
Abie afgestam het, hoe op dees aarde kry mens dan die kloutjie by hierdie oortjie? Hierdie kleinseun van
oom Abie het dan al die tyd op die snelweg gespeel! Wonder vandag nog hoe hierdie spulletjie aanmekaar sit.
Nouja, voordat ek julle verder verveel met al my manewales in die enjinkamer, sê ek maar net dat ek
nog met baie pret en plesier heelwat teenstrydighede in die Bybel raakgeloop het.
Terug van die ekspedisie het ek heelwat probleme met kerk en familie opgetel. “Jy is nou wel ‘n baie
oulike ou en ‘n suksesvolle sakeman, maar Broeder, jy het daar in die verre suide darem heeltemal die
spoor byster geraak, jong!” was iets wat ek taamlik gereeld moes aanhoor.
Maar nouja, met alle respekte, as mens eers agter die kap van die byl gekom het, gaan mens mos nie
sommer terug en luister ewe beleefd na al die twak wat van die kansels af verkondig word nie. Ek het
toe maar koebaai aan die kerk en eie familie gesê en toe maar die paadjie alleen begin loop. Maar
darem nie sonder my liewe vrou en kinders nie. Ek weet nie, maar ek vermoed dat hulle ook maar soms
agter my rug hulle koppe skud oor wat die ou vent nou weer aangevang het.
Klompie jare alleen in die woestyn, maar op ‘n dag kom ek in aanraking met ‘n nuwe vriend wat
waaragtig verstaan hoe my ou kop werk. En om alles te kroon seg hy dat daar nog ‘n hengse klomp gawe
ouens is wat dieselfde, of altans amper dieselfde as ek dink, want hulle stry nogal heel vriendelik en
dikwels met mekaar oor die goeters en dinge waaroor ek oor die jare heen so baie gewonder het. En na
al die jare se wonder het ek nou darem uiteindelik rus gevind. Amper.
Dankie Sakkie!
Anoniem