“Het swarte gevaar zal er niet zijn als er niet was het honderdmaal grooter witte gevaar…” ‒ DF Malan

Historici debatteer oor die oorspronge van rassime, maar wat in ons geskiedenis duidelik daartoe aanleiding gegee het, was die invoer van slawe (wit meesters teenoor die ‘ander’; status wat geleë was in voorkoms), goedkoop mynarbeid, wit vakbonde gebring deur wit uitlanders, klasseverskille en kleurgebonde rangordes wat deel uitgemaak het van ‘n wrange erfenis.

So verduidelik dr Lindie Koorts, die skrywer van ‘DF Malan en die Opkoms van Afrikaner-Nasionalisme’. Sy is verbonde aan die Sentrum vir Afrikastudies by die Universiteit van die Vrystaat en redakteur van ‘Historia’, joernaal van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika. As historikus ontrafel Lindie die ontwikkeling van Malan van predikant tot politikus en veral die aard van sy denke oor ras en besorgdheid oor die ‘armblankevraagstuk’ ‒  wat ‘n katalis was in die aanleiding tot die amptelike apartheidsbeleid na 1948.

Nes sy pa, was DF Malan (1874‒1959) ‘n predikant. Tydens sy studies in Nederland is hy sterk beïnvloed deur Nederlandse denkstrome van sosiale Darwinisme (rassehiërargieë) en die Nederlandse Reveil Beweging met Duitse romantiese filosowe soos Kant. Terug in SA het die charismatiese evangelisme van Andrew Murray hom aangetrek. Sy roepingsgesindheid (versterk deur die NG Kerk se kweekskool), sy geloof in volkeverskeidenheid as die wil van God en sending-gerigtheid (met ‘n klem op die behoud van kultuurerfenis) het grootliks die pad van sy ontwikkeling bepaal. Boonop was hy lid van die destydse Afrikanerbond, ‘n politieke party in die Kaap. Sy godsdiens en nasionale gesindheid was eng verweef en aangevuur deur pro-Boer-koerante uit Nederland.

Terug in Suid-Afrika (1905), was sy eerste beroep as predikant na die oorlog-verwoeste gebied van Heidelberg, Transvaal. Daarna was hy predikant in Montagu waar hy met wit armoede gekonfronteer is (die eise/verwagtings van arm wit mense sonder opleiding, die karretjiemense en gemengde krotbuurte). Uit sy reisbriewe, “Naas Congoland”, word mens meer wys van sy siening van rebelle en begaandheid oor wit armoede. Hy word genader om die redakteur van “Kerk en Volk” (1912), ‘n strategiese koerant van die Nasionale Pers te wees en later ook van “Die Burger”. Ter wille van onpartydigheid en om die volk te verenig, verlaat hy die kerk en benut hy die groter verhoog van die perswese. Met artikels soos “De Agteruitgang van ons Volk” (1917) openbaar hy sy insig in ongelyke bevoorregting en besef dat die enigste antwoord by opleiding lê. Dit versterk egter ook sy oortuiging vir segregasie in die werkomgewing.

Met Die Groot Vlug (1923 ‒ die ontvolking van die platteland), het arm wit mense sonder opleiding na stede gestroom  met die hoop om op grond van hulle (wit) voorkoms in poste bevoordeel te word. In 1924 het DF Malan die partyleier van die Nasionale Party geword. Met sy fokus steeds op arm wit mense, het hy Swart Onderwys as die groot oplossing begin sien, beide vir sy ideaal van Segregasie en om kompetisie tussen sy arm wit volksgenote, swart en (later ook) bruin mense te verwyder.

Die spreker trek ander drade bymekaar, soos diè van die Carnegie Kommissie (1932) oor wit armoede, die 1938 Eeufees met die tema, “‘n Volk red homself” en die wêreldwye beheptheid met rassewerklikhede wat ‘n toenemende vyandigheid teenoor swart mense en hulle opleiding in die hand werk. Die verkiesingsbeloftes van daardie tyd gaan al meer oor segregasie, afsonderlike vakbonde, skeiding in die werkplek, afsonderlike woonbuurte, die verwydering van bruin kiesers van kieserslyste , die verbod op seksuele verhoudings oor die kleurgrens en gemengde huwelike, asook die uiteindelike skeiding tussen Malan (die idealis) en Smuts (die realis).

Na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog maak DF Malan duidelik ‘n oorgang na ‘n meer ‘positiewe vorm van rasseskeiding’. Onder die Kaaplandse leier van die NP, Paul Sauer, word ‘n meer “opbouende” kleurlingbeleid ondersoek en die Sauer-verslag (1947) word die bloudruk vir latere apartheid (eerste apartheidswette ’49‒’53 – op sosiale bedeling gemik). Die ontwikkeling gee ook beslag aan die latere Swart Onderwys.

“Apartheid het nie uit die lug geval nie.” Die rol van Unie-wording (1910) met die samevoeging van die vier provinsies se onderskeie diskriminerende wette, Herzog (1913) se segregasiewet of Wet op Naturelle Grondgebiede (en die hoogopgegewe selfontwikkeling wat nooit kon realiseer nie omdat die noodsaaklik finansiële bewilliging nooit gerealiseer het nie), het alles ‘n hand gehad in die Nasionale Party-oorwinning in 1948. Daarop het ‘n reeks wetswysigings gevolg soos die wet op gemengde huwelike (’49), die ontugswysigingswet, groepsgebiedewet en wet op bevolkingsadministrasie (’50) gevolg, asook die wet op Bantoe-owerhede, afsonderlike verteenwoordiging van kiesers en die afskaffing van die paswet (1952). Die sogenaamde Kleinapartheid was ‘n sosiale stelsel van aparte geriewe geleenthede. Dus kan ‘n mens sê, DF Malan het daarin geslaag om wit armoede op te hef.  “Die vraag is egter… teen watter prys?”

‒  “Die voordrag… was briljant en ‘n voorreg om daarna te kon luister. …En die bespreking na die tyd was besonder en insiggewend.” Hierdie woorde van Jacques Kriel verteenwoordig ‘n algemene gevoel. Carol Kriel, wat nie teenwoordig kon wees nie, wou weet “of iemand gevra het oor die storie/plot in die Roman Esther wat tog indirek oor DF gaan”.

‒  Hein Reitmann vra na die oorsake van die ‘armblankevraagstuk’ en vind die realiteite ontstellend.

‒  Lindie wys daarop dat geskiedskrywers te min ag slaan op die rol van indiwidue in die geskiedenis. Sy wou die verhaal vertel van die mens, DF Malan, met sy komplekse beheptheid met die Afrikaner se rassedenke wat in die “grys gebied tussen gegewe waarhede” antwoorde wou vind vir die ‘armblankevraagstuk’

IMG_7722-Lindie-Koorts

IMG_7715-Sakkie-stel-voor