Definisie van mitologie

Mites is per definisie verhale wat vertel is om te verduidelik hoe die wêreld werk en hoe belangrike historiese gebeure verstaan moet word. Bo-aardse wesens of gode is gewoonlik ingespan om by die verklarings uit te kom.

Uit die aard van die saak is geskiedenis, geheue en verbeelding  vrylik na smaak in die mengsel saamgevoeg om ‘n genoeglike, aanvaarbare storie tot stand te bring.

Hoe geloofwaardig is hierdie stories? Kom ons sê sommer uit die staanspoor vir mekaar ‘n paar dinge oor mites:

Mitologie is stories en moet dus nie letterlik gelees word nie. Weliswaar is dit verhale met ‘n baie belangrike boodskap, maar waar boodskap en verpakking verwar word, kan die resultaat die leser lelik laat kleitrap. Ons het te doen met verhale wat uit die staanspoor nooit bedoel was om letterlike verklarings vir die werklikheid aan te bied nie, maar eerder om die verteller(s) se verwondering oor ‘n wêreld wat buite hulle bereik lê, te verwoord en om die een of ander vorm van kontak met hierdie misterie te bekom.

Mitologie is dus ‘n manier om oor ander-wêreldse konsepte te praat in terme van hierdie-wêreldse begrippe. Freud het ‘n mite gedefinieer as ‘n verhaal wat die waarheid in simboliese vorm vertel. Dit druk eksistensiële of godsdienstige waarhede uit wat dikwels nie verifieerbaar is nie, maar dit doen nie afbreek aan die waarheidskarakter daarvan nie.

Derdens is mites nie staties nie, maar deurloop ‘n ontwikkelingsgang. Soos mites van geslag na geslag en selfs van een volk na ‘n ander oorgedra is, het hulle gedurig verander om by nuwe omstandighede aan te pas.

Verband tussen godsdiens en mitologie?

Dit behoort reeds duidelik te wees: as ‘n mens oor God praat, probeer jy in menslike taal gestalte gee aan ‘n saak wat nie onder woorde gebring kan word nie. Al moontlikheid wat dan oop is, is om God te probeer beskryf aan die hand van dinge wat wel aan ons bekend is. Ons kan dus hoogstens sê: God is iets soos ‘n hemelse Vader, ‘n goeie Herder, die Brood van die lewe (m.a.w. ‘n beskermheer en versorger), die Lig van ons lewe, ensovoorts. Dit bly egter beperkte begrippe wat God nooit kan vasvat nie. En belangrik: dit is steeds net simboliese/metaforiese maniere om oor God te praat. God kan tog nie letterlik ‘n skaapwagter of ‘n pa of ‘n stuk brood wees nie! Ons kan sê: die mens beskik net oor (selfgeskepte) prentjies van God en die meeste hiervan is uiters gebrekkig (bv, Moses sien God net in die verbygaan, van agter af).

Meestal het ons natuurlik geen probleem hiermee nie. As ons lees hoe die gode heerlik baljaar het onder die aardse meisies, dan glimlag ons daaroor (net soos ons glimlag oor die kronieke van vader Zeus se vryery met aardse meisies wat lees soos die statistieke van ‘n konynboerdery)! Maar ons oordeel nie te streng nie, want ons besef dat dit alles maar net verhaaltjies was waarin die primitiewe geloof en kennis van daardie tyd se mense tot uitdrukking gekom het.

Dis alles goed en wel, solank ons oor ander se godsdiens praat. Maar sodra ons eie geloof op die spel kom, dan is daar geen plek vir mitologie of simboliese taal nie: dan is ons skielik met die aller waarheid besig. Al Zeus se kinders by aardse maagde neem ons met ‘n knippie sout, maar vir Christene is Maria se goddelike bevrugting is ‘n ononderhandelbare werklikheid. Zeus alleen het talle godseuns verwek, maar Jesus is die eniggebore Seun van God… En terloops, hoe het hierdie bevrugtiging plaasgevind? Met Zeus was daar geen twyfel nie! Maar in die vroeë kerk was daar idees soos: deur Maria se oor – daar kon tog niks seksueels gebeur het nie!

Gevolgtrekking

Hiermee sit ons viervoet midde-in ons tema: hoeveel mitologie skuil daar dalk in ons eie Christelike godsdiens? En – ons is huiwerig om te vra – sit ons vandag met heidense verhale aan die wortel van ons godsdiens weens die kruisbestuiwing wat langs die pad tussen verskillende mitologieë plaasgevind het? Dit is hierdie hipotese wat ek toets in nuwe boek oor mitologie in ons godsdiens (Dit kom van ver af: Mitologiese voetspore in die Bybel, 2013).

Skeppingsmites

Ons almal ken die skeppingsverhale wat vroeg in Bybel opgeteken staan. Ons weet ook dat dit verhale is wat redelik laat in die geskiedenis ontstaan het, tydens die Joodse ballingskap. Teen hierdie tyd was byvoorbeeld die Egiptiese en Babiloniese skeppingsverhale lank al ou nuus. Al hierdie stories vertel van die oer-chaos wat getem moes word, meestal in die vorm van ‘n monster wat verslaan moes word. Die Babiloniese held Marduk moes byvoorbeeld vir Tiamet, die oermonster verslaan. Psalm 83 eggo hierdie sentiment as ons lees hoe Jahwe met die Leviatan klaarspeel.

En hoe het die mens ontstaan?

In die Chinese skeppingsverhaal het Yu-ti die mens uit klei geskep. Die Griekse god Prometeus het later dieselfde gedoen en die Egiptenare het geglo dat God die groot Pottebakker is wat die mens uit die klei van die Nyl gevorm het. Die God van Genesis wat die mens uit stof van die aarde vorm, is dus allermins oorspronklik.

Maar waar die God van Genesis deur sy Woord skep, plaas dit Hom nie in ‘n ander kategorie as al die ander gode nie? Ongelukkig is ook hierdie eienskap nie oorspronklik nie. Volgens een Egiptiese skeppingsverhaal wat dateer uit ongeveer 4000 vC het die gode uit die mond van die Groot Skeppergod voortgekom. In ‘n ander weergawe word vertel dat Hy hulle geskep het deur sy stem of woord. Die gode het op hulle beurt die res van die skepping tot stand gebring. ‘n Tweede Egiptiese skeppingsverhaal vertel dat die god Atum gemasturbeer het en in een ontploffende ejakulasie het die aarde, die planete en die sterre tot stand gekom (‘n prewetenskaplike definisie van die Big Bang teorie?)!

Alle volke van die wêreld het hulle eie skeppingsverhale vertel. Al die verhale – die Bybelse skeppingsverhaal inkluis – teoretiseer oor hoe die skepping plaasgevind het. Geen een kan ‘n ooggetuieverslag wees nie: hoe weet die Bybelse outeurs wat gebeur het?

Dit plaas alle skeppingsverhale op dieselfde vlak. Maar die Joodse en Christelike godsdiens het hulle stories as die aller waarheid aangebied.

“Kernwaarhede” van die Joods-Christelike skeppingsverhale – Aannames in die spervuur

By die lees van die Bybelse skeppingsverhale, duik die vrae op:

  • Is die mens eensklaps volmaak op die aarde geplaas of is hy (soos die natuurwetenskappe sê) ‘n evolusionerende wese soos die res van die skepping?
  • Is die verhaal van die Sondeval ʼn kernwaarheid?

Erich Fromm se sterwenswoorde aan sy vriend Robert Fox is betekenisvol:

“Why is it, Bob, that the human race prefers necrophilia to biophilia? Why do we prefer love of death to love of life?”

Overgesetsynde – hoe het dit gebeur dat ons godsdiens so skuldbelaai en lewensku geword het? Sonde het ontaard in ‘n blywende toestand (‘n seksueel oordraagbare siekte!) in plaas van ‘n keuse wat ons uitoefen. Die mens is ‘n slagoffer van oorerwing gemaak en al wat vir ‘n gelowige oorbly, is ‘n lewe van ly en bely. Miskien kan die Christene by die heidene leer wat die lewe werklik behels. Wanneer die Babiloniese held Gilgamesh die boodskap ontvang dat onsterflikheid die mens nie beskore is nie, is daar darem dié troos:

“Eet tot jy versadig is, / wees dag en nag vrolik, maak van elke dag ‘n vreugdevolle feesdag, / dans en speel, dag en nag! / Klee jouself kwistig, was jou hare en bad jou liggaam. / Gee ag aan die kind wat jou hand vasgryp, / geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet. / Want dit is die kwota wat aan die mens toebedeel is.”

Dit is nie heidense raad nie, want wat ons hier lees, staan woordeliks in Prediker. Jesus het self gesê: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Selfs Christene mag die lewe geniet! Waarom dan die gedurige getob oor sonde en die permanente verbod op genot? Ook dat ons gedurig in ‘n staat van oorlog moet verkeer teen ons sondige natuur en allerlei bose geeste in die lug?

Matthew Fox, nog ‘n man wat anders durf dink (sien sy boek Original Blessing), beskou die oersonde eerder as ‘n oer-seën! En hy was nie enigste wat in hierdie terme gedink het nie: Girandoun interpreteer die “Uitskop uit die tuin” as ‘n geleentheid tot groei (Jung).

Posisie van die vrou

Op ʼn tyd in die geskiedenis was ʼn matriargale godsdiens aan die orde van die dag. Uit die godinmoeder se vrugbare skoot – en nie uit die mond van die Vader nie – het alles voortgekom wat bestaan.

Maar mitologiese simbole verander soos die samelewing verander. Die Bybel is geskryf in ‘n patriargale tydvak. Die profete van Israel is almal manlik en onder hulle pen word die rol van die vrou drasties afgeskaal. Selfs die slang, wat in ou kulture ‘n simbool van wysheid was, word nou die booswig. En die vrou die oorsaak van die sondeval…

As ons in die Ou Testament lees van die profete se verbete geveg teen afgodediens, dan word daar eintlik verwys na die profete se nimmereindigende stryd teen die moederkultusse. Godsdiens verkeer in ‘n oorgangsfase, van matriaraal na patriargaal, en die profete beding slegs vir ‘n patriargale God. En hulle doen dit deur die vorige simbole te demoniseer (ons sien ooreenkomste in die wegdoenmet apartheidsimbole en plaasvervangende naamveranderings).

Die siening van die vrou is en was dus tyd en maatskappygebonde! Hou hierdie opvattings hoegenaamd water in ‘n moderne samelewing? Gaan die Bybel die toets van die Suid-Afrikaanse grondwet slaag?

Mites van oorsprong

(Hiermee bedoel ons mites wat handel oor die oorsprong van volke asook godsdienste.)

Joseph Campbell vat dit kernagtig saam:

“The world is full of origin myths, and all are actually false. On the surface they may appear to have been composed as conscientious history. In depth they reveal themselves to have been conceived as myths: poetic readings of the mystery of life from a certain interested point of view. But to read a poem as a chronicle of fact is – to say the least – to miss the point.”

Hierdie soort mites is sekerlik toepaslik op die Joodse verhale van Abraham en die aartsvaders, die verslawing in Egipte… en die eksodus is alles mites wat ten doel het om die oorsprong van die volk Israel te verklaar én dit natuurlik so rooskleurig moontlik voor te stel.

In die ontstaan van die Christelike geloof was dieselfde beginsel opnuut werksaam. Maar ons loop ons storie vooruit…

Soos Abraham versoek is om sy seun te offer as toets vir sy geloof in God, lees ons in die Griekse mitologie hoe die gode deur die orakel van Delphi aan ‘n koning die opdrag gee om sy seuns Phrixos en Helle te offer aan die gode as bewys van sy gehoorsaamheid. Hierdie keer is daar ook ‘n dreigement by: bring jou kinders op die altaar om die lewe, of anders sal jou oeste misluk! Die verhaal is dus op ‘n ou fertiliteitsritueel gebaseer. Onder die druk van sosiale verantwoordelikheid teenoor die volk (en ook hulle oeste kom hier in die gedrang), aanvaar die koning sy opdrag. Bewoë neem hy die mes in sy hand, en ja, natuurlik verskyn daar ‘n ram uit die hemel wat die twee broers op sy rug laai en met hulle terugkoers hemel toe – net soos Elia in sy vuurkoets. Ook in die verhaal van Abraham is sy fertiliteit ‘n deurlopende tema.

ʼn Opvatting wat op hoë mitologiese pilare rus, is die idee dat die Jode die uitverkore volk van God is. As ons na fotobeelde van die Holocaust kyk, is dít hoe ‘n uitverkore volk daar uitsien?

As die gode toornig word, dan wis hulle die mensdom uit in ‘n vloed, soos in Noag se verhaal.

Maar Noag en sy gesin was nie die eerste vloedslagoffers nie!

In ‘n Hindoe vloedverhaal word vertel dat die nageslag van Adamis en Hevas (Adam en Eva!) so verdorwe geraak het, dat Brahma besluit het om hulle te straf. Vishnu het egter vir Vai-vasvata gebied om ‘n skip te bou wat groot genoeg is vir hom en sy familie, asook twee verteenwoordigers van elke dierespesie en saad van elke plant op aarde. Kort daarna het die reëns gekom: vir veertig dae en veertig nagte het die reën op die aarde neergestort totdat alles op die aarde omgekom het. Hierdie Noag het ook drie seuns gehad.

‘n Dergelike drama speel hom af in die Assiro-Babiloniese mitologie. Die mens is maar steeds in die sop: hulle maak te veel geraas en die gode besluit om hulle uit te wis in ‘n groot vloed. Die god Ea gryp egter in en besluit om die mens te waarsku. Hy dra sy boodskap oor aan Uta-Napishtim. Hy gee hom opdrag om ‘n groot skip te bou en om die saad van alle lewe op aarde in sy ark in te neem. Gehoorsaam aan sy opdrag, vergaar Uta-Napishtim al die diere asook sy eie gesin aan boord. Soos Ea voorspel het, begin dit reën: ses dae en ses nagte sonder ophou. Op die sewende dag het die weer opgeklaar (die skeppingsiklus is sewe dae; die vernietiging daarvan neem ewe lank). Sewe, soos in ‘n trapgedig.

Die skip het tot ruste gekom op die piek van berg Nisir. Eers het Uta-Napishtim ‘n duif uit die skip uitgestuur, opgevolg deur ‘n swaeltjie, maar nie een van die twee kon land vind nie. Oplaas stuur hy ‘n kraai uit en dié het nie teruggekeer nie. Toe weet hy dat die aarde droog genoeg is. Hy en sy gesin het die skip verlaat en ‘n dankoffer aan die gode gebring.

Na die hele drama is die godin Ishtar so geraak deur al die vernietiging wat die gode aangerig het, dat sy haar halssnoer van haar nek afgehaal en dit aan die hemel opgehang het (die reënboog).

Vloedverhale kom wyd verspreid voor, maar die argeologie bevestig nie ‘n wêreldwye vloed nie. Vloedverhale kom voor in lande wat aan die see geleë is of wat riviere het wat gereeld hulle walle oorstroom. So gesien, is die vloedverhale ‘n uitdrukking van die mens se vrees dat hy nie sy omgewing kan beheer nie. Die mites vertel moontlik van die deurbreek by Gibraltar van die Atlantiese oseaan na Middellandse see met ʼn heel waarskynlike tsoenami tot gevolg.

Neem ons die psigologie in ag van die feit dat skeppings- en vloedverhale dikwels as ‘n pakket aangebied word, kan ons die verbeelding nog vryer teuels gee. Dan kan mens die parrallelle van skepping en vloed met die ontstaan en geboorte van die menslike fetus beskou as die simboliek wat in die mitologie ingespan is om die ontstaan van die mensdom en volkere te verduidelik! As ‘n mens in ag neem dat die mens na konsepsie (skepping) vir nege maande in water ronddryf voordat hy met ‘n “vloed” (breek van die vrugwater) gebore word, is hierdie beskouing dalk nie vergesog nie.

Op ʼn drafstappie deur die Ou Testament

Bybel Mitologie
God is ons hemelse Vader. Die Sumeriese god Anu was die hoofgod wat as vader van die gode vereer is.
God onderneem ‘n aandwandeling in die Paradys saam met sy skepsels. Anu bewandel “Anu se weg.”Die Chinese moedergodin His Wang Mu neem ook ‘n aandwandeling in die Chinese paradys.
Eva word uit Adam se rib gekep. Die Sumeriese moedergodin Ninkhursag genees die skeppergod Enki se ribbebeen deur vir Nin-ti te skep. Haar naam beteken “vrou van die rib”.
Die Paradys is die oorspronklike ideale toestand waar daar geen skeiding tussen God en mens bestaan nie Die Grieksehet die Goue Era waar die mens permanent fees gevier het.
In die tuin van Eden is daar vier riviere en die boom van die lewe. Mesopotamiërs ken ook vier riviere wat lewe uitdra na die verste uithoeke van die wêreld.Die boom van die lewe was ‘n algemene simbool in die antieke wêreld
Die mens word geskep na die beeld van God. Die skeppingsmedium is stof. Die Sumeriese moedergodin skep Adam se voorloper (Enkidu) na haar eie beeld uit klei.
Na die sondeval ontdek die mens dat hy naak is en maak klere van velle. Enkidu word verlei deur ‘n tempelprostituut en hulle bedek hulle naaktheid met kledingstukke van leer.
Die sonde kom deur die vrou in die wêreld. Die Griekse Pandora se nuuskierigheid is die oorsaak van peste en siektes.
God plaas ‘n verbod op die eet van die vrugte van die boom van die lewe. Die Orpheus-taboe: Orpheus mag nie omkyk na sy geliefde Eurydice solank hulle uit die onderwêreld beweeg nie. Vergelyk Lot se vrou.
Moederbelofte: die saad van die vrou sal die slang se kop vermorsel. ·        Babilonië: Semiramis sê na haar seun Ninus se dood dat hy die beloofde saad van die vrou is wat die slang se kop sal vermorsel > vergoding.·        Die Egiptiese Horus word uitgebeeld waar hy ‘n slang se kop met sy spies deurboor.
Na die vloed vergryp Noag homself aan die vrug van die druif en lê naak in sy tent. Dit lei tot die vervloeking van Gam. Die Hindoes vertel van ene koning Satyavarman wat homself na ‘n groot vloed vergryp het aan heuningbier. Hy het drie seuns gehad: Shem, Sham en Jyapeti. Sham het op sy vader afgekom waar hy naak op sy bed lê en hy is vervloek om sy broers se kneg te wees. History she ain’t!
Die toring van Babel word gesien as sonde teen God. Die Babiloniese tempeltoring was ‘n poging om kontak met die gode te bewerkstellig.
God gebruik 10 plae om die Egiptiese farao se opinie te swaai. Enlil en later Baäl gebruik ‘n reeks plae om die mens te tugtig.Die plaag van Tebes in Sophocles se Koning Eudipus.
God in beheer van die natuur – water uit ‘n rots en klief die Skelfsee. Verslaan die Leviatan. Marduk verslaan die seemonster Yam.
Kanaän is die land van melk en heuning. Josua stuur 12 verspieders om die land te verken. Ras Shamra tablette (opgrawings uit die ou Ugarit) sê: Dit reën olyfolie en die riviere loop oor van heuning.Odysseus se vrugbare land van die La-stri-gone. Ook hy stuur verspieders uit en die inwoners is reuse.
God se naam is Elohim, die meervoud van El. El die hoofgod van die Semitiese panteon.
Uit respek mag God se naam nie uitgespreek word nie. Die Fenisiërs verbied die uitspreek van God se naam uit vrees dat vreemdelinge Hom kan oproep en teen sy eie mense draai.
Die wet van Moses beklemtoon liefde vir God en jou naaste. Die “goue reël” wat universeel is: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.
Moses moet sy arms in die lug hou om die oorwinning oor die Amelekiete te verseker. Hy word bygestaan deur Hur en Aäron. Die Egiptiese god Shu hou die liggaam van die hemelgodin Nut op om hemel en aarde te skei. Twee hulpgode ondersteun sy arms.Atlas dra die wêreld op sy skouers.
Bileam se pratende donkie. Dionysos sit met die eerste babelaas en hy gaan raadpleeg die godin Dodona om ‘n kuur te vind. ‘n Donkie dra hom oor ‘n moeras wat sy weg versper en uit dankbaarheid beloon hy die esel met die gawe van spraak.
Batseba bind vir Simson met sewe toue vas. Hera probeer vir manlief Zeus tem deur hom met die hulp van drie medegode met rieme vas te bind.
Dawid verslaan die reus Goliat en kap sy kop af. Die Ierse held Cuchullain verslaan die gevreesde seuns van Nechtan en kap hulle koppe af.
Dawid tem Saul se buie met sy harpspel. Die visitekaartjie van Orpheus was die lier. Met sy spel kon hy mens en dier bekoor.
Dawid en Jonatan. Gilgamesh en sy boesemvriend Enkidu.
Dawid die oorwinnaarsheld. Die oorlogsprestasies van Achilles.

Die Nuwe Testament

Ons het die Ou Testament onder die loep geneem. Maar die Nuwe Testament is tog sekerlik vry van mitologiese invoede? Die Bybel verklaar self in 2 Petrus 1:16:

“Toe ons julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons sy majesteit gesien.”

Geboorteverhale

Terwyl die Christendom getooi is met vele kunswerke van Moeder en Kind, is die Egiptiese erfenis ryk aan kunswerke van Isis met haar suigling Horus, seun van Osiris.

Vergelyking van die geboorte van Jesus met die Egiptiese mitologie:

  • Van beide Horus en Jesus word daar gesê dat hulle voor hulle geboorte bestaan het (pre-eksistensie).
  • Horus word by geboorte as die woord van sy vader beskryf. Sy pleegvader se naam was Seb en sy moeder Nu, ook genoem Meri. Johannes noem vir Jesus die vleesgeworde Woord en sy ouers is Josef (Jo-seb) en Maria. Onnodig om te sê, beide geboortes was maagdelik.
  • Beide Jesus en Horus spog met ‘n adellike afkoms en albei het bekend gestaan as “die eniggebore seun van God”.
  • Jesus se geboorteplek was Betlehem (wat beteken “Huis van Brood”), terwyl Horus uit Annu kom (wat beteken “Plek van Brood”).
  • ‘n Spesiale ster in die hemel kondig beide geboortes aan. Horus se geboorte word bygewoon deur drie sterrekykers wat die ster Sirius (die môrester) gevolg het as padwyser. Hulle bring geskenke vir die klein kindjie.
  • Die bose koning Herodus wat die kindermoord inisieer, het ‘n voorloper in die persoon van Herut (Herodus). Sommige historici is van mening dat Herodus soveel as tien jaar voor Jesus se geboorte aan Palestina onttrek is. Om hom by Jesus se geboorte te betrek, blyk dus ‘n stap te wees wat eerder die mitologie as die geskiedenis dien. Die ooreenkoms tussen die twee heersers se name was waarskynlik net te aantreklik om te ignoreer.
  • Beide moeders ontvang goddelike waarskuwing dat hulle babas in gevaar verkeer. Horus se ouers vlug uit Egipte uit; Jesus se ouers vlug met hulle pasgebore baba na Egipte toe.

Die ooreenkomste eindig egter nie by die geboorteverhale nie –

  • Jesus maak die aanspraak dat hy en die Vader een is en wie hom sien, het die Vader gesien. Horus het ook bekend gestaan as die seun in wie die vader gesien kan word.
  • As inkarnasie van die songod was Horus die lig van die wêreld, verteenwoordig deur die alsiende oog van Horus. Hy het ook bekend gestaan as die goeie herder wat tradisioneel uitgebeeld is met ‘n herderstaf in sy hand. Daarom is hy beskou as die lam van God. Al hierdie eienskappe is net so op Jesus oorgedra.
  • Altwee hierdie godseuns het as kinders in tempels onderrig gegee, maar “verdwyn” tussen die ouderdom 12—30; ‘n periode waarvan ons niks weet nie.
  • Jesus word met die aanvang van sy bediening gedoop deur Johannes die Doper; Horus is gedoop deur Anupp die Doper (beide op dertigjarige ouderdom). Altwee die dopers is later onthoof! Wie van hulle het nou eerste kop verloor? Nie een van die twee kan hierop aanspraak maak nie: Orpheus was voor hulle.
  • Na die doop word Jesus deur Satan in die woestyn versoek. Horus het dieselfde paadjie geloop: hy word deur die bose Sut op ‘n bergpiek versoek.
  • Horus het twaalf volgelinge gehad, wat ooreenstem met Jesus se twaalf dissipels.
  • Jesus het bekend geword as die Christus; Horus was die Krit.
  • Beide ervaar ‘n verheerliking op ‘n berg en het bergpredikasies gelewer.
  • Jesus genees blindes; Horus gee sig aan ‘n mummie.
  • Beide Jesus en Horus het op water geloop.
  • Met die voeding van die skare gebruik Jesus by een geleentheid vyf brode, by ‘n volgende sewe. Horus het twee duisend jaar vroeër sewe brode gebak om Osiris te voed.
  • Horus wek sy vader en ‘n ou man genaamd El-Azar-us uit die dood op, Jesus maak vir Lasarus weer lewendig.
  • Beide Horus en Jesus sterf ‘n kruisdood en word gekruisig tussen twee booswigte. Albei gaan maak ‘n draai in die hel en word na drie dae weer opgewek uit die dood.
  • Die basiese Egiptiese drie-eenheid Osiris, Isis en Horus blyk die model te wees waarop die Christelike Drie-eenheid geskoei is.
  • Ander konsepte wat nie uniek Christelik is nie: wyse manne wat hulde bring, die verskyning van ‘n ster, maagdelike konsepsie, stemme/hemelkore wat die geboorte aankondig, verhale oor kinderslagting wat ‘n vlugmotief noodsaak, ensovoorts, kom by die geboortes van alle groot godsdiensleiers voor.
  • Die volgende konsepte is ook nie uniek Christelik nie:
  • Jesus was nie die enigste “seun van God” nie
  • Jesus was nie die enigste wonderwerker nie (al die wonderwerke – genesings, voeding van skares, opwekking uit die dood, water in wyn verander – is ontleen aan verhale wat lank voor Jesus se bestaan in omloop was)*
  • Die doop en nagmaal kom in baie godsdienste voor
  • Byna elke middelaar tussen God en mens – en daar is baie van hulle! – word beskryf as die “weg.”
  • Die worstelende godseun (Jesus in Getsemane) behoort tot die universele agenda van die mitologiese held
  • Tradisioneel kom elke held tot ‘n val as gevolg van óf ‘n inherente Achilleshiel, óf die verraad van een uit die binnekring
  • En, jammer om u te ontnugter, maar die held wat sterf om die mens met God te versoen, is ook nie uniek Christelik nie…

*Opmerking: Daar is geen wonderwerke nodig om verwondering te ontlok nie! Ons kan in vervoering raak oor die boodskap en lewe van Jesus sonder om ons aan sy wonderwerke te vergryp.

  • Luister na die volgende twee aanhalings:

“Thou has saved us by shedding thy eternal blood.”

“Have they sacrificed thee? Do they say that thou has died for them? He is not dead! He lives for ever! He is alive more than they, for he is the mystic one of sacrifice. He is their Lord, living and young for ever!”

Bogenoemde twee aanhalings is ‘n mooi opsomming van die sterwe en opstanding van Jesus. Die plaasvervangende funksie van sy dood word veral in die eerste aanhaling baie mooi onderstreep. Daar is net een diskrepansie: nie een van die aanhalings is van toepassing op Jesus nie. Die eerste verwys na die Persiese held Mitras, die tweede na die Egiptiese god Osiris.

Dit onderstreep net die feite: die simboliek wat die kerk om die lewe en sterwe van Jesus geweef het, is nie oorspronklik nie, maar leengoed uit ander godsdienste. Die Osiris-aanhaling vertel van godsdienstige oortuigings wat 4000 jaar ouer as die Christelike godsdiens is!

Tereg kom Campbell tot die gevolgtrekking dat –

“…the myth of the dead and resurrected god whose being is the life-pulse of the universe has been known to the pagans millenniums before the crucifixion of Christ.”

Gooi mens hiermee die spreekwoordelike jakkals in die hoenderhok? Plaas hierdie aannames die hele ruggraat van die Christelike geloof op die spel?

Slotgedagtes

Wie die Bybel en Christelike simbole letterlik wil lees, sal enduit verdedigend moet optree. Die kernmotiewe waarvan die Christelike godsdiens hom bedien, kom in alle groot godsdienste voor. Mense het deur die eeue heen hulle prentjies van God en hulle idees van hoe die mens met God versoen kan raak, in verhale uitgedruk. Maar die Christendom het hierdie verhale gaan verletterlik en boonop vaste dogmas rondom hulle sienings van God geweef. Dit is waarvoor baie hedendaagse mense vandag sê: “Nee dankie!”

Persoonlike pleidooi van die skrywer:

Terug na die mitologie!  (Was die outeurs van die Bybel nie maar net uitstekende beoefenaars van die verhaalkuns nie?)

Die doel van my navorsing was nooit om godsdiens te na te kom nie, maar bloot om die taal of idioom waarin die Bybel geskryf is meer verstaanbaar te maak. Die Bybel buite die mitologiese konteks waarin dit geskryf is, maak eenvoudig nie sin nie! En omgekeerd: as ons die mitologiese inhoud weer na waarde ag, kan ons waarde toevoeg tot ʼn dieper insig in die unieke bundel verhale.

As my benadering ontstellend is, vra ek onvoorwaardelik om verskoning. Tog hoop ek dat dit ook die weg oopmaak tot ʼn dieper verstaan van die God van die Bybel en die Christelike geloof.

Eindelik het ons almal maar net prentjies van God en kan ons die mitologie slegs dank verskuldig wees dat so baie van die prentjies waarmee mense hulle God deur die eeue heen geteken het vandag steeds in verhaalvorm behoue is.

–oooOOOooo–

In die outeur se boek, Dit kom van ver af, word daar ook ingegaan op onderwerpe soos:

  • Mitologiese kruisbestuiwing tussen buurgodsdienste
  • Jesus as mitologiese held (motief van ‘n held wat die wêreld moet red, kom wydverspreid voor in Messiasversugtinge (van die Jode en Afrikaners insgelyks, ‘n soort De Larey wat die boere moet kom lei)
  • Mitologiese voorlopers van Jesus (Jesus was nie die enigste, nie die eerste en ook nie die laaste Messiasfiguur nie)
  • Mitologiese agtergrond van die Jesusverhaal (verdagte ooreenkomste tussen Jesus en ander verlossersfigure se lewensverhale)
  • Die stryd tussen die geslagte (hoofgodin as moeder, of vadergod met geen voorkeurkinders?)
  • Ontwikkeling van die Christus-mite
  • Moontlikheid vir ‘n meer moderne interpretasie van die lewe (eerder as die sterwe) van Jesus
  • Sin in die opstanding vir ‘n postmoderne Christen?
  • Gaan Jesus ‘n demitologisering oorleef?
  • Mitologiese voetspore in hedendaagse films
  • Mitologie in aksie in ou en meer moderne kunswerke
  • Solarmitologie : Hiervolgens verwys Simson se haarverlies en sy tanende kragte na die gang van die son wat met die koms van die winter al flouer word en Jesus se twaalf dissipels na die twaalf tekens van die diereriem. Was Jesus dalk ‘n songod?

Lank lewe die storievertellers!

Kontakbesonderhede van die skrywer

Ben Barnard

082 562 5757/083 386 3958

ben.barnard@engelvoelkers.com