Die Wetenskaplike Skeppingsverhaal

Deur: Hennie Strydom, met bywerking deur Siep Talma

Die mensdom, soos wat ons dit uit die geskiedenis ken, is maar die puntjie van die ysberg van evolusie wat plaasgevind het oor ‘n ontsaglike tydsverloop. Dit is trouens moeilik om die onmeetlikheid van die betrokke tydperke te visualiseer.  Astronomiese waarnemings van die laaste paar eeue en veral die van die Hubble teleskoop, stel astrofisici in staat om die vormingsprossesse en die ouderdomme van planete, sterre en die Melkweg te bepaal, asook die tyd wat verloop het vanaf die oerknal tot nou (13.7 miljard jaar).  Geologiese stratifikasie en radio-aktiewe datering weer, stel ons in staat om die geologiese ontwikkeling van die aarde, lewe op die aarde en die argeologiese ontwikkeling van die mens oor die verlede te bepaal.  ‘n Eenvoudige manier om die ontwikkelingstyd van die heelal te verstaan, is om dit op te som en uit te druk in ‘n enkele aardse jaar. Elke miljard jaar van die heelal se geskiedenis sal volgens hierdie metode gelyk staan aan 27 dae. Die ontstaan van die heelal kan dus soos volg in ‘n een jaar tydperk opgesom word:

Die kosmiese almanak

1 Januarie:
Die oerknal. Die heelal begin groei.

1 Mei:
Die ontstaan van die Melkweg: ons eie galaksie.

13 Augustus – 11 September:
Die ontstaan van ons son. Ontstaan van ons planetestelsel deur die versameling van stof wat deur
swaartekrag aangetrek word.

12 – 27 September:
Die aarde-maanstelsel word gevorm.

Geologie: Die vorming van die aarde se konsentriese struktuur, naamlik kors, mantel en kern vind
plaas. Die aarde se atmosfeer bestaan uit metaan, ammoniak en waterstof maar nog geen suurstof
nie. Groot ontgassings vind plaas. Die hidrosfeer begin vorm, en ‘n saamgevoegde oer-kontinent
verrys uit die oer-oseaan.

‘Lewe’ begin met die ontwikkeling van eensellige organismes in die warm oseaan. Splytplante
(bakterieë, eensellige blougroen wiere) begin verskyn. Stikstof en koolsuurgas ontstaan in die
atmosfeer. 28 September – 1 November:

Geologie: Die uitbarsting van vulkane is ‘n alledaagse gesig. Die rotse van onder andere Barberton se hooglande en die Witwatersrand se sedimente word in hierdie periode gevorm.

Plante: Fotosintese van die blou-groen wiere stel suurstof in die atmosfeer vry en so begin vrye
suurstof deel van die hidrosfeer vorm.

2 November – 13 Desember:
Suurstof in die atmosfeer neem ten koste van koolsuurgas toe.
Geologie: Die Bosveld stollingskompleks met al sy minerale bars uit.
Klimaat: ‘n Warm, vogtige see-klimaat met baie min variasie bestaan op aarde.
Plante: Prokariota (blougroen wiere, draad- en kolonie-vormers) en bakterieë is al aanwesig. Hieruit volg eukariotiese swamme en eensellige groenwiere.
Diere: Selle sonder kerne wat gevorm is, word gevolg deur Eukariota (selle met kerne), wat gevolg word deur eensellige diere wat ontwikkel in Mesozoa (meerselliges).

14 – 18 Desember:
Klimaat: Die Kambriese Ystyd begin; die gemiddelde atmosferiese temperatuur daal na ongeveer 15°
C.
Plante: Meersellige blougroen- en groenwiere oorheers steeds die toneel.
Diere: Die Kambriese ‘ontploffing’ vind plaas en meer as 1000 verskillende soorte Invertebrata
(ongewerwelde diere) ontstaan in die see: Protozoa (eenselliges), Arthropoda (trilobiete), Mollusca (kop- en armpotiges), Echinodermata (see-sterre), Coelenterata (korale en kwalle), Porifera (sponse).

19 Desember:
Diere: Diere bly steeds beperk tot die water. Eerste kaaklose werweldiere (pantservisse) neem vorm
aan.

20 – 21 Desember:
Geologie: Die Kaapse berge word gevorm.
Klimaat: ‘n Kort interglasiale (opwarming) periode volg en die temperatuur styg tot ongeveer 22°C.
Dit word gevolg deur nog ‘n ystyd.
Plante: Bruin en rooi wiere ontstaan in die water. Die eerste primitiewe varingagtige plante sonder wortels en blare verskyn op land.
Diere: Visse met kake, seelelies en reuse skerpioen-tipes (Eurypterida) verskyn in die see.

22 – 23 Desember:
Geologie: Kontinentale vergletsering vind in die Suidelike Halfrond plaas weens kontinentale
verskuiwings.
Klimaat: ‘n Matige klimaat veroorsaak dat woude in vogtige moerasstreke ontwikkel.
Plante: Eerste boomvormige, varingagtige plante verskyn op land.
Diere: Vinnige evolusie van visse lei tot die ontstaan van haaie, Ichthyostega (vierbenige visse),
longvisse en selakante. Later ontwikkel die eerste werweldiere op land, asook duisendpote, myte en
vlerklose insekte.

24 Desember:
Geologie: Steenkoolvorming in die moerasgebiede gee aanleiding tot die vergroting van
landgebiede. Dit sluit die steenkoollae van die Karoo in.
Klimaat: Die Noordelike Halfrond het ‘n tropiese klimaat teenoor droë warm somers en droë koue
winters in die Suidelike Halfrond.
Plante: Varingagtige plante soos perdesterte en boomvormige wolfskloue begin floreer.
Diere: Insekte ontwikkel vlerke en die eerste reptiele ontstaan.

25 Desember:
Geologie: Afsplitsing van dele van Gondwanaland begin plaasvind. Vergletsering in Midde-Afrika.
Droogtes in die Noordelike Halfrond laat woestyne aldaar uitbrei.
Plante: Naaksadiges, byvoorbeeld broodbome, en ander primitiewe keël-draende bome ontwikkel.
Diere: Land-reptiele en soogdieragtige reptiele, asook Hipposaurusse kom te voorskyn.

26 Desember:
Klimaat: In die Noordelike Halfrond neem die reënval toe en mere ontstaan in die vroeëre
woestynlandskap.
Diere: Die oorgang van reptiel na soogdier begin. Die eerste skilpaaie en dinosouriërs maak hul
verskyning, asook die voorvaders van paddas en die moderne beenvisse.

27 – 28 Desember:
Geologie: Die Drakensberge word gevorm deur ‘n vulkaniese basaltvloei.
Plante: Blomplante, denne en sipresse verskyn, hoewel broodbome en ander keëldraende bome nog
die plantegroei oorheers.
Diere: Buideldiere en voëls verskyn op die aardverhoog.

29 – 30 Desember:
Diere: Die nuwe aankomelinge van dié tyd is die loopvoëls, vlugvoëls, slange, krimpvarkies en molle.
Dinosouriërs en vlieënde reptiele sterf uit aan die einde van die Kryttydperk.
30 Desember, 12:00:
Geologie: Die huidige vorm van vastelande ontplooi.
Plante: Huidige plante is aanwesig.
Diere: Knaagdiere, hase, konyne, primitiewe hoefdiere, die voorvader van die erdvark en die eerste
primate maak hul verskyning.

30 Desember, 21:00:
Diere: Walvisse, eerste olifante, renosters, perde, varke, kamele en vlermuise ontwikkel.
Primate: Die evolusie van primate se frontale lobbe in die brein begin.

31 Desember:
Hier volg nou ‘n opsomming van sekere antropologiese gebeure wat almal “oujaarsdag”
plaasgevind het, uitgedruk in ure, minute en sekondes:
06:32 – Vroegste groot ape, katte, honde, ystervarke, dassies en skurwepaddas.
13:12 – Ramapithecus-ape, bere, eekhorings, kameelperde en beeste.
21:12 – Hominidae, hiënas en regte olifante.
22:30 – Australopithicus africanus leef in die Krugersdorp omgewing. Die eerste mense: Homo
habilis, Homo erectus, asook perde.
Wat die mens betref:
23:00 – Klipwerktuie word vervaardig en wydverspreid gebruik.
23:46 – Vuur word vir huishoudelike doeleindes ingespan.
23:56 – Die begin van die mees onlangse Ystydperk. Homo sapiens begin vanuit Afrika die wêreld
bevolk.
23:59 – Die ontstaan van rotskuns in Europa.
23:59:35 – Die Neolitiese kultuur van die laat Steentydperk begin. Mense begin vestig. Dorpies word
gebou, pottebakkery ontwikkel. Die domestikasie van diere en plante begin.
23:59:43 – Dit is die jaar 4004 vC waarin die aarde volgens die berekeninge van aartsbiskop Ussher
geskep is.23:59:47 – Stonehenge, fase I word gebou.
23:59:50 – Menes is waarskynlik die eerste koning van Egipte en stig na bewering Memphis as
hoofstad.
23:59:51 – Die totstandkoming van die Akkadiese ryk, en die ontstaan van die Akkadiese alfabet.
23:59:52 – Die regskodes van Hammurabi in Babilon.
23:59:53 – Die Miceners stig kolonies in Spanje in 1500 vC. Die Bronstyd gedy en kom tot volle
ontwikkeling in Sjina. Die vroegste datering van die Olmeke-kultuur in Mexiko.
23:59:54 – Die oorgang na die Ystertydperk met die ontdekking van die kuns van ystersmeltery,
waarskynlik in die Middellandse See-gebied. Die vorstehuis van Israel ontstaan met die salwing van
Saul as koning.
23:59:55 – Die geboorte van Boeddha.
23:59:56 – Die geboorte van Jesus. Euklides ontwikkel die meetkunde. Die wet van Archimedes.
Ptolemeïese sterrekunde. Die totstandkoming van die Romeinse Ryk.
23:59:57 – Die ontstaan van zero en desimale in die Indiese rekenkunde. Die val van Rome. Die
Moslemveroweringe.
23:59:58 – Die Maya-beskawings in Suid-Amerika. Die Sung-dinastie in Sjina. Die Bisantynse Ryk. Die Mongoolse inval. Die Kruistogte.
23:59:59 – Die Renaissance in Europa. Seereise deur die Europese nasies en die Ming-vorstehuis van
Sjina. Die opkoms van eksperimentele wetenskaplike tegnieke.
Tans:

Die wydverspreide ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie. Die opkoms van ‘n globale
kultuur. Die verwerwing van selfvernietigende middele. Ruimtereise en die soeke na buiteaardse
intelligensie of lewe. Die genetiese revolusie.
Opgedateer op : Vr 29 Jun 12