1. Idee-Werklikhede

Politieke, sosiale, ekonomiese, en ‘n hele rits ander materiële omstandighede kan beskou word as die fisiese manifestasie van dit wat in die gemoed van die mens te vinde is. Die gedagte aan ‘n stoomtrein loop vir lank deur die verbeeldingsvlugte van vele entrepreneurs en moderne tegno-entosiaste. Die een uitvindsel bou voort op die voriges, totdat Engeland en Europa verdwyn onder  swart roetsmeersels uitgespoeg deur steenkoolgedrewe ystermonsters en die industriële rewolusie. Elke wiel, bout, plaat, drukmeter, en koper pyp, wat elk op eie reg gearriveer het as idée in die kop van die tegnikus of ontwerper, sweer saam om die totaliteit van yster wat die lokomotief opmaak teen die hange van ‘n berg uit te slinger.

Dit is in oomblikke van brute kragdadigheid wat sekere idees, soos die van tanks, en bomwerpers, in die werklikheid ontvou as fisiese manifestasie. My bestaan is in hierdie verband ‘n knaende bewussyn van die wyse waarop sekere gedagtes, of gedaantes uit die soel skaduwees van die idée-wêreld beslag vind in, en gestalte kry as werklikhede. Nie alle idees maak dit nie, maar soms gebeur dit tog dat een deurglip. Hiermee word alles nie gereduseer tot ‘n platvloerse dualisme van idée versus materie nie. Inteendeel, die besef dat die een op die ander inwerk, maak dat dit byna onmoontlik is om die idée van die aarde los te maak van die harde meetbare fisieke werklikheid van ‘n bal grond wat deur die ruimte slinger.

Die gevolg van die besef dat idée en werklikheid ineengevleg is, is gewoonlik ‘n spanningsveld wat in die mens se denke en handeling oopgaan. Aan die een kant is daar die wye oopte en onversperde weë waar die gedagte-oog kan wy oor groen vlaktes. Aan die ander kant is daar die knaende bewussyn dat selfs die boerbokke nou begin swaar trek as gevolg van ‘n gebrek aan reën en die droogte wat selfs windpompe laat pak om te trek. Dus staan die mens vasgevang in die nul-oomblik tussen die gedagte van dit wat was, en dit wat jy wil hê; tussen die verlede en die toekoms; tussen die lewe en die dood. Lewe is ‘n nul-oomblik met ‘n begin en ‘n einde. Wat voor die begin is, en dit wat dalk na die einde kom, is onwerklik. Die mens se aardse geheue van lewe is verder ook bloot ‘n verbeeld-en-onvoltooide reis. Daarom is die aarde beskryfbaar as ‘n oorlogsfront van lewens wat in die nul-oomblik, soos Jack-in-a-box uitspring en skreeu: hoesit; hoekom is ek hier; is daar iets om te drink? Die lewe is bloot ‘n guerrilla se oorlewingsveldtog teen die hange van die onoorkombare bergreeks van die niet: die ewige nul-oomblik.

Net so belangrik as die fisiese stryd wat in die valleie van Afghanistan,  oor die vlaktes van Irak, in die Yemeni woestyn, op die strande van Libanon, deur middel van selfmoord bomtoestelle in Pakistan, en in die doolhowe van die Gaza strook, gevoer word, is die oorlog van idees. Idees wat in hierdie verband ‘n belangrike rol speel is geskiedenis en die soms konflikterende historiese aansprake wat op spesifieke stukke aarde betrekking het. So is die Huil-muur, as moontlike argeologiese oorblyfsel van die tempel van Salomo van kritiese historiese belang vir Joodse gelowiges. Maar, letterlik ‘n paar meter verder staan Al Aqsa, die tweede mees heilige Moskee in die ryk van Islam. Hier skuur broeders uit dieselfde geloofs-voorvader naamlik Abraham nooit skouers met mekaar anders as wanneer polisie en militants slaags raak, of wanneer bulldozers inrol om Palestynse vrugteboorde of huise plat te stoot. Dit is by die skakelbord van die denke wat materiële werklikheid omskep word in die martelkamers van Abu Ghraib tronk in Bagdad. Dit is in die denkproses van sosiale vervreemding en fundamentalistiese oorgawe aan brutaliteit wat die selfmoord-bommer homself omgord met sy laaste belt om van homself ‘n sone van ontdermde intensiteit op ‘n besige straathoek te maak.

Om die vraag van die virus van die einde te kan vra, om so ‘n ondersoek te loods, is dit nodig om eers ‘n vae belyning te gee van die moontlike plekke en wyses waar die virus ditself sal manifesteer. Hierdie is dus nie ‘n absoluut finale omskrywing nie, nog minder is dit ‘n feit dat daar iets soos die virus van die einde bestaan. Hierdie is dus ‘n vraende ondersoek na plekke, omstandighede, en denk-regimes waar die virus van die einde kop uitsteek. Alles eindig, dus het die virus van die einde niks met dood te make nie. Die virus van die einde steek sy kop uit op plekke waar mens-op-mens geweld gevoer word onder die dogma van een of ander vlag; ‘n onwrikbare geloof in die feit dat ander mense wat nie jou geloof deel nie, afgemaai kan word soos grasse in die veld; daar waar wetgierige heersers mense lamlê onder ‘n juk van twyfel, self-kastyding, en ‘n obsessiewe skuldkompleks.

Daar is vele boeke al gepleeg oor die vergrype van gelowe. Die wyse waarop Spanjaardse priesters in Mexiko, in die naam van God, ‘n hele beskawing met behulp van siektes en warm ysters wat in oogholtes gedruk word, tot niks maak. Katolieke brandstapels dwarrel nog deur die kollektiewe geheue van verskeie “sektes” wat ‘n minder materialistiese- en meer barmhartige variant van die Christendom wou uitdra: martelkamers, afgesnyde vingers, lywe by kruispaaie gekruisig as boodskap aan ongelowiges, stede wat ingeval is om die hele bevolking plus honde en katte en koeie dood te bloei.

Die historiese opkoms van die wit Europese man, gewapen met wetenskap, rasionaliteit, imperiale wapens, Koninklike goedkeuring, en ‘n Bybel in die aktetas (net vir ingeval), is in hierdie verband die beste moontlike voorbeeld van ‘n masker wat Europese moderniteit gedra het, en wat steeds aan die voorpunt van planetêre geweldpleging staan. Net so erg as die wit Europese man is die selfmoordbommer wat met ‘n vyf ton trok vol wilde springstof in ‘n lewendige mark inploeg, om net daar en dan ‘n gebed op te stuur en die knop te druk. Al wat oorbly is ‘n moerse gat in die grond, en ‘n Faust-agtige mark wat ruik na die poorte van die hel. Tog sal die martelaar heelhuids opgeneem word in die hemel. Die mens is wat die mens ditself toelaat om te wees. Die mens is ‘n gevolg van keuses, en die materiële omdtandighede wat ons omvou ‘n maatstaf van chaos in die siel.

Die virus van die einde muteer natuurlik. Soos wat die wit Europese kolonis ‘n vrugbare teelaarde vir die virus van die einde daarstel, bied ander gelowe en media praktyke natuurlik ook geil gronde vir voortplanting. Die virus van die einde brul soos ‘n leeu in die draaiboeke, flitse, en gedagte-regimes wat deur Hollywood sirkuleer. Hoeveel keer het King-Kong-agtige kreature, monsters uit die see, vreemde visse, die Russe, terroriste, planetêre klimaats-katastrofes, en geheime organisasies of mense uit die diepste dieptes van die buitenste ruim reeds New York, of die aarde en alles wat daarmee verband hou verwoes? Hierdie mag nie religieuse idees wees nie, maar tog sinspeel die metafoor op die kultureel-en-religieus ingeprent-de konsep dat die aarde op een of ander stadium, hetsy dit deur middel van ‘n komeet of as gevolg van die finale afrekening ingestuur deur God, sy gat sal moet sien.

‘n Heel ander genre van films soos Matrix, Terminator, Alien, Chronicles of Riddick, en so meer speel met tegnologiese temas verwikkel met die komplekse stryd teen supermagte en intelligente masjiene. In hierdie tipe kykvermaak word die gedaante van die aarde as oorlogsfront tussen bepaalde entiteite en idees instand gehou. Verder vleg dit ook goed met ‘n reeds daargestelde kulturele verwagting dat my ekonomie, my land, my taal, volk, of wêreld-ryk se toekoms net verseker kan word indien ek andere uit my pad hou. Hiper-kapitalisme het die afgelope paar jaar sy oorverhitte stryd om die akkumulasie van nommers op skerms lelik verloor. Dus kan die virus van die einde se skelm spoor ook hier raakgesien word. Die virus van die einde floreer op omstandighede van of ekstreme self-versekerdheid en arrogansie, of op die tydstip waar arrogansie ‘n spies in die sy kry. Die ryk gebou op skuld en entoesiastiese mark-instrumente wat bloot met nommers goël in goed soos hedge funds en futures, het te staan gekom teen die harde feit dat vraatsugtigheid uiteindelik ‘n lelike globale ekonomiese krisis kan baar.

Hoeveel skuld kan een nasie op ditself verenig? Die era van globale ineengeweefde telekommunikasie beteken ook dat swerms aandele rondom die planeet sirkuleer soos ‘n elektroniese migrasie vonkvoëls. Hul vlerke glinster deur die oneindige nag van die virtuele ruim, ‘n ruimte wat opsig self vir sommige aardbewoners ‘n parralelle heelal van ontvlugting uit die beknoptheid van materie en lyflike werklikheid geword het. Die Internet is soos ‘n sub-psigoties-Post-Freudiaanse agglomerasie van als wat menswees is: glinsterende gedigte; breaking news; hiper sadistiese pornografie; doodsbendes wat selfmoordprooi op geselskamers soek; Jihadi’s wat hul paradoksale boodskappe versprei; informasie en disinformasie kampanjes; onbemande vliegtuie wat deur middel van Playstation-agtige meganismes gestuur word om ‘n trok vol Taleban van die aarde te vee; dobbel; dop; d..s; dagga; celebrity skinner en Oprah Winfrey se planne vir môre aand se dinner… alles beskikbaar via die gemaklike mengsel van “Human Interfaces”, naamlik: ‘n sleutelbord; muis; skerm; web-kamera; en skype kopstuk.

Ingebed in die moeras van materiële welvaart is die knaende bewussyn dat die ekonomie nie teen ‘n oneindige kurwe kan bly groei nie. Daar is net soveel steenkool, net soveel olie en knoffelbotter wat uit die aardkors en die gedweë spene van Mietsie die koei gepomp kan word. Natuurlike beperkinge staan soos spoedwalle in die pad van die mens se juigende tog die toekoms in. Skalks net soort van bewus van die feit dat ‘n lewe van middleklas non-welvaart ‘n uitsondering op die reel van lewe vir die oorgrote meerderheid van ander mense op die planeet is. Verbruikerskultuur, en mense wat hulself oorgee aan die gedagte dat andere moet sterf sodat “ek en my dogma kan voortleef,” deel ‘n buurt in die stad van Nihiliste. Beide omarm slaafs die dogma van die modehuise en meegaande skelet-modrelle, al verskil is dat die kleedsels anders lyk. Hollywood is nie net ‘n teelaarde vir die virus van die einde nie, dit is waarskynlik, soos die Taleban in Afghanistan, klassifiseerbaar as aktiewe agente van die virus van die einde. Die middelgrond van menslike bestaan kan net verstaan word indien die ekstreme posisies en optredes waartoe die spesie instaat is, lewendig voor die verbeeldings-oog gebring word.

  1. Neo-konserwatiewe denke en die Dajjal

Ons spoor die reuk van die virus van die einde op vele plekke op. Dit is in die ego van politieke uitsprake en planetêre strategie wat mens die kristallisering van die virus van die einde moet probeer opspoor. Stefan Halper en Jonathan Clarke (2004:281) argumenteer dat die interpretasie van die 9/11 terroriste aanval as sou dit ‘n geval van staat-tot-staat geweld wees, was tot ‘n groot mate beïnvloed deur die neo-konserwatiewe denkskool wat op daardie stadium die leisels van mag in Washington gehou het. Waarom sou ‘n terroriste aanval, geloods deur ‘n nie-staatsorganisasie, naamlik Al Qaeda, lei tot die inval en omverwerping van die ordes in beide Afghanistan en Irak? Voor hierdie vraag beantwoord kan word moet eers verwys word na die feit dat president Bush, tesame met figure soos Dick Cheney, Donald Rumsfeld, en Paul Wolfowitz die politieke produkte was van ‘n verreikende strategie wat neo-konserwatiewe akteurs gedurende die neentiger jare geloods het om Amerika se rol in die wêreld orde te verseker en uit te bou.

Die invalle van Irak en Afghanistan is volgends Halper & Clarke (2004:182) die lang-termyn gevolg van die wyse waarop neo-konserwatiewes die Amerikaanse openbare diskoers beïnvloed het. Gedurende die jare negentig merk hulle op dat:

“We have discussed above how the neo-conservatives’ soft power strategies involved building a shadow defense establishment across a number of think tanks and policy institutes, from which they were able to promote and disseminate their intellectual alternative for American foreign policy… We also look at how they formed alliances with like-minded political groups within the Christian evangelical community.”

Die argument wat Halper & Clarke ontwikkel ontvou langs twee asse; enersyds het die neo-konserwatiewe politieke strategie binne Amerika afgehang van die skep van forums, en die opstel van netwerke waar die media, institute en velerlei ander instellings aangewend is as platforms vanwaar hul visie vir Amerika uitgedra kon word. Belangrik in hierdie verband is die verhouding tussen neo-konserwatiewes en die regse, of ver-regse evangelistiese manifestasies van die Christendom in Amerika.

Dit is interessant om op te merk, soos wat Halper & Clarke (2004:197) aandui, dat:

“Neo-conservatism and the religious right both emerged in the 1990s as essentially Republican forces. Led by Ralph Reed, a talented political strategist, Robertson’s Christian Coalition played a decisive role in the midterm elections of 1990 and 1994. Like neo-conservatism, the religious right became a strong force for criticism in the media against the Clinton White House.”

Die dag toe George W. Bush ingesweer is as president (na ‘n lelik beknoeide verkiesing), het die regs-religieuse groepe van die VSA die hardste gejuig. Hoewel die politieke verhouding tussen die neo-konserwatiewes en die ver-regse Christen fundamentaliste in die VSA nie noodwendig aanleiding gegee het tot die invalle van Irak en Afghanistan nie, moet dit tog opgemerk word dat die religieuse stem beslis bygedra het tot die ondersteuning van ‘n militêr-avontuurlustige Wit Huis onder leiding van Bush II.

Maar, wat is die sentrale temas van die denke wat gepraktiseer word deur neo-konserwatiewe denkers? Halper & Clarke (2004:11) dui aan dat hedendaagse neo-konserwatiewes verenig is rondom drie kwessies, of idees, naamlik:

  1. ‘n Oortuiging wat uit religieuse denke voortgebring word, naamlik dat die menslike toestand bepaal word deur ‘n keuse tussen “goed en kwaad”. In hierdie verband word aanvaarbare politieke optrede dan ook uiteraard gedefinieer as die bereidwilligheid om teen kwaad/boosheid op te tree;
  2. Die verhouding tussen state word op oer-realistiese wyse gedefnieer deur militêre kapasiteit en die bereidwilligheid om instrumente van mag en geweld aan te wend indien ander state die stryd aangesê moet word;
  3. Die sentrale internasionale fokus van neo-konserwatiewe internasionale denke is die Midde Ooste en “internasionale Islam” as sentrale politieke teater waarin Amerikaanse belang uitgebrei en/of beskerm moet word.

So ‘n kras en skerp belyning van die politieke omgewing, soos gepredik deur neo-konserwatiewe diskoers, het telkemale vorm aangeneem in president Bush se “Axis of Evil”, en die knaende sinspeling op die feit dat die Globale Oorlog teen Terreur (GOT) eintlik ‘n implisiete stryd teen  boosheid, booswigte, en agente van internasionale wanorde is. Dit is dus niks minder as ‘n  historiese ironie dat dit juis in die tweede jaar van die Bush- en neo-konserwatiewe era  sou gebeur – dat Osama bin Laden ‘n suksesvolle terreur-aanval op die VSA sou uitvoer nie. Die gevolg, sowel as oorsaak, van 9/11 is vandag steeds aanvoelbaar in die vorm van vele fundamentalistiese koue fronte, en wydverspreide oorlogsfronte waar magte mekaar ‘n skadustryd aansê.

  1. Hoor jy die trompette?

Hoewel die volgende ‘n ekstreme voorbeeld mag wees, is die doel daarmee om te wys hoe internasionale politieke verwikkelinge, in hierdie geval Iran, deur sekere religieuse groepe geïnterpreteer word binne ‘n religieeus-apokaliptiese idioom. Die Philadelphia Trumpet (Augustus 2006) verwys in ‘n artikel op die eerste bladsy na die verwagte koms van die Mahdi, wat deur Shia Moslems beskou word as ‘n nodige teken van die komende einde van die wêreld. Gerald Flurry, die redakteur, skryf:

“Iranian President Mahmoud Ahmadinejad believes the Mahdi will return in two or three years – or even sooner if somehow he can create an international crisis… This should alarm us. Imagine: Iran is the world’s top terrorist-sponsoring nation. It is about to get nuclear bombs, and its leaders believe a nuclear war will speed the return of their version of the Messiah. That means they are eager for a nuclear war. And once you start a nuclear war, how do you stop it?”

Nie net word krasse veralgemenings verkoop as ware feite nie (Iran is beslis nie die wêreld se grootste borg van terreur nie), maar belangriker nog, ook word die konfrontasie oor Iran se kernprojek soomloos verbind met die diskoers van die einde soos gevind in beide Islam en Christen denke. Die “vyand” wat hier opgeroep word het dus ‘n aardse gestalte in die vorm van president Ahmadinejad van Iran, terwyl die wyse waarop Iran gesien word, bepaal word deur die apokaliptiese verwagting wat in beide Islam en die Christendom teenwoordig is. Die blote idée van die apokalips, Armageddon en die finale boksgeveg tussen die magte van goed- en kwaad, word dus aangewend as onsigbare gom wat die veralgemenings, apokaliptiese verwagtinge, en konkrete manifestasie van konflik saambind in ‘n effektiewe eskatologie van die einde. Hierdie konfrontasie strek wyd soos ‘n verbeeldingsveld waarin elke individu sy/haar eie redding, verdoemenis, pyn, hoop, skandalige optrede, en vrees vir- of bloeddorstige lus vir geweld, gereflekteer sien. Dis is in die spieëlvelde van die gedagte wat die masker van ‘n gedagte nie net ‘n gedaante-skaduwee is nie.

Die virus van die einde steek sy kop hier uit. Dit is in die hande van mense wat godsdienstige tekste op letterlike wyses lees wat die instrumente gevind word. Hierdie instrumente rig, bepaal, kersten, brand, vervolg, klap, skiet, martel, hang, en kruisig nie net opponerende idees nie, maar ook insgelyks die mense wat hul lywe beskikbaar stel as kamele om die idees in die stof van die wêreld te versprei. Die lewe van die profeet Jesus, sowel as die wedervaring van verbanning en teenstand wat die profeet Mohammad moes beleef na sy prediking van Islam begin het, dui vir mens op die kragdadig-materiële teensreaksie wat mens te wagte mag wees indien jy ‘n nuwe idée begin voete gee in die konflik-sone van die ondermaanse werklikheid.

2          Die Dajjal en die internasionalisering van onderdrukking

Na boontoe is sekere opmerkings gemaak oor plekke en kontekste waar die virus van die einde mag kop uitsteek. Dit moet reeds duidelik wees dat die virus van die einde nie net verwys na die verwagte einde van die wêreld nie. Hierdie virus het veel meer te make met die verhouding wat godsdiente op verskeie vlakke bewerkstellig: verhouding van mens tot aarde; verhouding van mens tot mens; verhouding van mens tot hemel- en/of hel. Die aarde as tydelike tuiste vir die siel is dus enersyds van geen belang nie, omdat dit verwoes sal word en omdat die lyf sal dood gaan. Tog, andersyds is dit van absolute, byna totalitêre belang, want die siel se na-doodse reis word in sy intieme detail bepaal deur elke sekonde se optrede in hierdie stofpaleis. Dus is die aarde ‘n oorlogsfront van siele wat stry om die poorte van ewigheid te beset. Is dit hoekom industrieë en mense voortgaan om oneindige verbruik-siklusse in werking te stel op ‘n planeet wat eindige hulpbronne het? Die virus van die einde het nie ‘n lyf nie, dit is ‘n tussentoestand waarin die mens in die onmoontlikheid van sy tydelike situasie homself die reg eien om as absolutis sy naam in die vergangbare sand van ‘n verdoemde planeet te verewig.

Dit is in die hopeloosheid van die menslike toestand wat apokaliptiese gedagtes uit die hingsels van Godsdiens breek om as selfstandige denk-regimes die mens se denke oor, en benadering tot andere- en die aarde, te vervorm. Hiermee bevraagteken ek nie die openbaring van godsdienste nie. Hiermee word een godsdiens nie teen ‘n ander afgespeel nie. Die gedeelde fokus op die einde is wat hier op die spel is. ‘n Kollektiewe verwagting, tot dusver vir duisende jare uitgestel, word dus ‘n holistiese teelaarde vir die virus van die einde. Dit lei tot die opheffing van wedersydse respek, en in die plek daarvan neem magsvergrype oor as die enigste lewensvatbare voertuig vir oorlewing op aarde. Die mens dink dinge die werklikheid in.

Soos die Christendom, verwag Islam ook die wederkoms van die profeet Jesus. In beide tradisies sal dit ‘n teken wees van die koms van die oordeelsdag. Tog is daar verskeie klemverskille tussen die openbaring van die einde soos gekommunikeer deur die profeet Muhammad, en die algemeen aanvaarde eskatologie van die einde soos vasgevang in die boek Openbaring van die Christen Bybel.

Ahmad Thomson (1997:3) beskryf vele van die Hadith (opgeskrewe gesegdes van die profeet van Islam) waarin die einde en tekens daarvan beskryf is. Hiervolgens sluit van die tekens in: dat armes hoë geboue sal bou waarin die mense hulself sal sit en prys; dat daar veel meer vrouens as mans op die planeet sal wees; dat familie bande ontdaan gemaak sal word; dat tyd baie vinnig sal verbygaan; dat mense wat die waarheid praat nie geglo sal word nie, maar dat die leuenaar ‘n groot horde volgelinge sal hê; daar sal baie oorloë en moord wees; aarbewings en vloede sal aan die orde van die dag wees; die wat mense doodmaak sal nie weet wie hulle doodmaak nie, terwyl die wat doodgemaak word nie weet hoekom hulle om die lewe gebring word nie; dat daar min betroubare mense sal wees; dat mense eerder in die sterre sal glo as om geloof in God te hê; dat sommiges sal probeer om die woestyne groen te maak; argumente en stemme wat in woede skreeu sal in heilige plekke van gebed gevind word; die son sal in die Weste opkom met die moontlike betekenis dat die planeet se magnetiese pole omswaai; die maan sal verbrokkel en die Dajjal (die Islamitiese ekwivalent van die Anti-Chris) sal sy opwagting maak.

Die Dajjal het vele dimensies van manifestasie. Volgens Thomson (1997:6) het die Dajjal drie eienskappe, naamlik:

  1. As individu
  2. As ‘n wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen
  3. As ‘n onsigbare mag wat in die skaduwees werk

As fisiese manifestasie is die geskrifte spesifiek op die punt dat die individu wat as dajjal tevoorskyn sal kom net een oog sal hê. Belangrik is die feit dat die dajjal gelyktydig deur almal reg rondom die wêreld gesien sal kan word. In hierdie verband verbind verskeie analises van die Hadith die dajjal as “wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen met die elektroniese media en die televisie. In hierdie verband merk Thomson (1997:6) op dat:

“Dajjal will show you water, but you will not be abel to drink it. Dajjal will talk of the Garden, and make it seem like Fire. Dajjal will talk of Fire, and make it seem like the Garden. These descriptions all fit the characteristics of today’s media systems and communications technology, and especially the manner in which they are largely used. The Dajjal is also described in the hadith as having many eyes on both sides and travelling about the world in large hops.”

As individuele fisiese manifestasie sal die Dajjal een oog hê. Maar, as wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen sal hy baie oë (dalk soos kamera lense?) aan beide kante hê. Hoe dit ookal sy, die feit bly staan dat die apokalips, in Islamitiese denke, soos in die geval van die Christendom, gepaard gaan met spesifieke tekens en gebeure. Die Dajjal sal as ‘n tipe wêreld-orde tevoorskyn kom, ‘n orde wat op ekonomiese en tegnologiese wyses die onderdrukking van gelowiges sal bewerkstellig. Uit hierdie ongelooflike orde sal die individu, Dajjal, tevoorskyn kom met wonderwerke en magiese metodes om swak siele die rat voor die oë te draai.

Die konkrete belewenis van mense in die Midde Ooste spreek van oorloë in Afghanistan, Irak, sektariese stryd om beheer oor regerings en grondgebied. Dus interpreteer mense soos Osama bin Laden die Saudi koningshuis se lang-termyn strategiese verhouding met die VSA as onaanvaarbaar en ‘n teken dat hulle saamsweer met die historiese vyand van Islam, naamlik die “Weste”. Dus word terreur op internasionale skaal, gemik op instellings, installasies, skepe, geboue, en persone van die VSA en geallieerde magte ‘n toelaatbare “militêre strategie” in die stryd teen ‘n internasionaal onderdrukkende wêreld-orde gelei deur die VSA.

Die vraag op hierdie stadium is nie of daar enige waarheid in die verskillende openbaringe van die einde steek nie. Die vraag is eerder hoe daardie verskillende tradisies, en verwagte eindes, uiteindelik ‘n impak het op die mens se algemene benadering tot die krisisse wat die planeet op hierdie stadium omvou. Van internasionale finansiële en klimaats-rampe, tot moord en doodslag, van tsunamis tot aardbewings, blyk dit of die virus van die einde ‘n intersubjektiewe toestand mag wees. Indien die mens sou oorgee aan die flink verleidinge van die virus van die einde wat aanteel in plekke waar haat, hebsug, en heksejagte hoogty vier, sal individue dit al hoe moeiliker vind om verantwoordelikheid te kan, of wil neem, vir die wyse waarop almal bydra tot die vele krisisse van ons tyd.

Van omgewingsverandering, tot pogings om die historiese wanbalanse in Suid Afrika reg te stel, vra dit nie net regerings-aksie en beleid nie. Omgewingsverandering verg dat elke individu se lewenswyse, en verhouding tot die natuur verander. Kan so ‘n verandering gebeur in ‘n wêreld van absolutes? ‘n Wêreld waar vier persent van die bevolking, in sommige “ontwikkelde state”, soveel as tagtig persent van daardie land se welvaart besit? Die virus van die einde marsjeer gemaklik op sosiale grondgebied gekenmerk deur strakke ongelykheid en die meegaande maskers van gekultiveerde kragdadigheid om die onderdane ondergeskik te hou. Daar is dalk ‘n rede hoekom royals, generaals, sommige diktators, en ouens soos Michael Jackson wit handskoene dra. In verband met die psige wat posvat onder omstandighede van onderdrukking, merk Breyten Breytenbach (1991:27) op dat:

“Die wit warlords, hulle het gewéét daar was geen Rooi Gevaar nie. Vir hulle was alles ‘n beplande strategie om van die staat ‘n skrikbewind te maak. Maar eintlik weet ons almal, van kleins af, hoe om die wrede werklikheid te verdoesel onder die noodgedwonge skyn van ordentlikheid. Is ons dan nie daarin geskool vanaf kansel, in klaskamers en kroeë, deur Afrikaanse koerante en kultuurgewasse en politieke gauleiters nie?”

  1. Nietzsche en die siekte-toestand genaamd gesondheid

Kultuurgewasse kanker steeds voort as voertuie van kollektiewe identifikasie. Die mens, as kommunikatiewe gedierte, is in hierdie verband hoogs vatbaar vir virulente idees. Veral idees wat met slim propaganda-veldtogte en ingeplante agente perpetueer word. Dit is in die oordra, interpretasie, en skep van kollektiewe betekenis wat die basiese infrastruktuur van die menslike gegewe (sosiale, politieke, ekonomiese, en kulturele werklikhede) daargestel word. Soos wat argitektoniese wonders oprys om wolke se sagte pense te kielie met antennas en vreemde buise op die dak, word die idée van ‘n mens of groep samesweerders ‘n tasbaarheid. Om hierdie samevloei te verstaan is ‘n holografiese beeld van menslike bestaan nodig. So ‘n holografiese beeld moet beide die materiële omstandighede en die dinkruimtes van die mens, insluit. In hierdie verband volg ek ‘n strak Marxistiese afdraaipad want Marx het iets beetgehad.

‘n Holografies-deursigtige prent van die menslike toestand moet dus twee elemente verbind en op dieselfde oomblik sigbaar kan maak. Hierdie elemente is:

  1. Optredes, en materiële manifestasies soos piramide, pondok, mooi boek, vliegtuig, of slim bom kan in hierdie verband as voorbeelde van fisiese manifestasies geneem word.
  2. Die voorgaande moet dan verbind word met ontasbare veranderlikes soos elektroniese pulse wat op hul beurt gestimuleer is deur ‘n gedagte en chemiese reaksie in iemand se kop.

Dit is in die verweefdheid van verbeelding en werklikheid dat die oersop van die brutale potensialiteit soms oorkook en ons bestaan as mense lelik bevuil of befomfaai.

Is die virus van die einde ‘n simptoom, of ‘n siekte? Is die virus van die einde ‘n simptomatiese gevolg van ‘n vooraf-bestaande maar tot op hede ongediagnoseerde siekte? Het die virus van die einde ‘n selfstandige bestaan, of is dit bloot ‘n opportunistiese reisiger wat soms die lyf van die oer Cha-Os aanneem om soos die spreekwoordelike bul in die breekwarewinkel te snuif, skop en kopstamp?

Dit is moontlik om die spore van die Cha-Os op te spoor in plekke soos Mogadishu, op Madrid se treinstasie, in London se underground, in New York se finansiële distrik, in Nairobi toe ‘n Amerikaanse ambassade gebom is. Die spore van die Cha-os kan weliswaar op die grens tussen Noord- en Suid-Korea aangetref word, terwyl die virus as stille insurgent sy teenwoordigheid rugbaar maak in die dwelm oorloë van Mexiko, Brazil, en die onderwêreld van plekke soos Detroit. In Sentraal Europa het die Cha-os en die virus van die einde Kosovo aan flarde laat gaan, terwyl die Niger Delta in Wes Afrika waarskynlik ‘n permanente basis aan beide die virus en dié se lyflike inkarnasie naamlik die Cha-os bied. Tog, indien mens ‘n meer intieme belyning van die eienskappe van die virus wil bewerkstellig sal dit nodig wees om te noem dat staats- sowel as nie-staats agente kan optree as teelaarde vir die virus. Verder nog kan ekonomiese praktyke soos dié waar lywe slaafs en vir ure onder dwinglandy in “Sweat Shops,” Gucci sakke en Nike skoene vir die lieplappers en lumpenproletariaat van Mode-gurus stik. Dus is die virus van die einde moontlik siekte, helfte van die oorsaak, en uiteindelik niks anders as ‘n permutasie, gevolg, of refleksie van die mens se optredes in sy gekose konflikterende (a)-sosiale kollektiewiteite nie.

Gilles Deleuze (2001:58) merk op dat Nietzsche se perspektief op siekte ‘n bepaalde verskuiwing van denke verlang. Volgens Deleuze het Nietzsche klaarblyklik geglo dat siekte ‘n perspektief op gesondheid is, terwyl gesondheid weer daarenteen vir mens die geleentheid bied om siekte vanuit ‘n ander hoek gade te slaan. Deleuze beur voort in die digte plantasie van Nietzscheaanse denke, en merk op dat:

“…Illness is not a motive for a thinking subject, nor is it an object for thought: it constitutes, rather, a secret intersubjectivity at the heart of a single individual.”

Wanneer ek verkoue kry is ek intens bewus van die godgegewe gawe, of die evolusionêr-verfynde reuk sintuig. Die siekte is dus ‘n perspektief op my gesondheid, terwyl dit ook nie ‘n objek van my denke is nie. Soos ‘n geheime energie verbind dit die individu in ‘n intersubjektiewe bewussynsveld. Die ek wat siek is, is in my gedagtes brutaal gesond, want die geheue van die reuk sintuig spoor my aan om die wollerigheid van die verkoue te verban uit die nat snotvoue van my lyf.

Indien siekte en gesondheid op hierdie wyse beskou word (waar die een bloot ‘n nuwe perspektief op die ander bied), is daar nie ‘n objektief en vasgestelde werklikheid genaamd siekte of gesondheid nie. Werklikheid is in hierdie verband ‘n flikkerende en fluktuerende reeks wedervaringe, impulse, nies buie, fiksheid, gesondheid, en hart krampe. Onderliggend aan Nietzsche se flikkerend-fluktuerende werklikheidsbeeld identifiseer Gilles Deleuze (2001:65) iets anders wat ‘n fundamentele impak het op die gedagte van waarheid, hy argumenteer:

“Nietzsche replaced the ideal of knowledge, the discovery of the truth, with interpretation and evaluation. Interpretation establishes the “meaning” of a phenomenon, which is always fragmentary and incomplete; evaluation determines the hierarchical “value” of the meanings and totalizes the fragments without diminishing or eliminating their plurality.”

Die mens is as wig ingedryf tussen die vergetelheid van die pas afgehandelde oomblik (verlede), en die onmoontlikheid en onvoorspelbare onvoorspelbaarheid van die nou-nou (toekoms). Soos ‘n tol spin die mens in die vakuum van hierdie oomblik. En hierdie oomblik wat ek dink ek kan vasvang tussen wysvinger en duim sal vinniger onder my naels uitglip as wat ‘n weerligstraal ditself van my plukkend-rokende liggaam kan losruk. Die individu is ‘n banneling op die kuslyn van samegestelde betekenis.

Die kwessie van sosiaal samegestelde betekenis word helder voor die oog gebring indien Nietzsche se gedagtes verder onder die loep geneem word. Want, deur die ideaal van absolute kennis, naamlik die ontbloting van die “waarheid,” te vervang met interpretasie en evaluasie, slaag Nietzsche daarin om die mens as demagoog van betekenis te ontbloot: die mens is potesieël dus ‘n Betekenis-Diktator. Die is op die kruisweë waar kompeterende interpretasies van die aardse werklikheid ontmoet, wat die moontlikheid van konflik daargestel word. Op hierdie wyse lig Nietzsche die sluier op die geheime kamers van denk-regimes en gedagte-diktatorskappe waar die waarheid nie gevind sal word nie, maar, waar in die plek van waarheid, ‘n orde van mens-gegewe betekenis opgeroep word. Die hiërargiese opstapelling van idees is ‘n Avatar van die fisieke ordes wat uit stof en modder opgeroep word. Psigiese beheer, en instellings waardeur die “wet” of idees van die “orde” deur middel van fisiese geweld afgedwing kan word (soos polisie of militêre padblokkades) is dus die twee mees belangrike instrumente wat die top dog, die Groot Baas, Big Cheese, Generalissimo, President, of Outokraat moet aanwend om die hele swermende kasarm van sosiale betekenis aan die lewe te hou.

Dit is deur middel van die interpretasie van die natuur, interpretasie van wette, interpretasie van gebare en figure sowel as die interpretasie van godsdienste en geskrifte oor menslike orde, dat die betekenis van fenomene en gebeurtenisse vasgestel word. Begrip van die betekenis van ‘n bepaalde teks of gebeurtenis hang dus af van die wyse waarop dit geïnterpreteer word: is die weerligstraal wat gistraand my hut aan vlamme geslaan het ‘n slegte teken of gevolg van ‘n vloek wat iemand oor my uitgespreek het?; is die weerligstraal bloot ‘n matematies-bepaalde ontlading van energie tussen wolk-en grond?

Wanneer evaluasie op die spel kom word ordes daargestel. Die evaluasie van ons menslike interpretasie van gebeure en natuur verskynsels, lei tot die ordening van werklikheid. Die evaluasie van die hemelruim as sou dit saamgestel wees deur ‘n statiese aarde, met die son en hemelruim wat rondom dit wentel, stel in hierdie verband ‘n denk-regime, of ‘n orde van betekenis daar. So kom die virus van die einde tevoorskyn op plekke waar ‘n individu of groep se evaluasie, en interpretasies van werklikheid, hul noop om enige van die vergrype te onderneem wat na boontoe uitgewys is. Die virus van die einde kan dus, soos Nietzsche se perspektief op siekte, ‘n manifestasie wees wat lig werp op dit wat die mens ag as sosiaal gesonde optrede en denke.

Dit is in sommige politieke en godsdienstige kringe heeltemal sosiaal aanvaarbaar om ander groepe, kleure, of tipes mense te sien as uitwisbaar. Die voortbestaan van ‘n filosofie van rasse-meerderwaardigheid hang aktief af van die skoling van mense in vorme van haat. Vir Nazi’s is dit sosiaal aanvaarbaar om vark koppe voor Joodse sinagoges te gooi. Die ekstremis se visie van gesonde optrede is dus ook net mooi presies die plek waar die siekte- en virus van die einde vastrapplek in werklikheid sal vind. Die betekenis strukture wat opgerig word deur gelowe, ideologieë, of ‘ismes,’ is opsig self nie gevaarlik nie. Daar moet net gelet word op die wyse waarop die ‘ander’, die een wat nie van my, my kerk, my land, of ras is nie, gedefinieer word. Dit is in die interaksie tussen mense, ordes, gelowe, en denk-regimes dat die virus van die einde tevoorskyn sal kom indien sulke interaksies bepaal word deur ‘n “dis jy of ek, dude…” houding. Die intersubjektiewe manifestasie van die virus van die einde noop mens dus om weer kers op te steek by mistici en denkers wat kan help om tussentoestande te verstaan, eerder as om behep te raak met die analise van ordes.

Mens kan die idée van die einde van die wêreld slegs verstaan indien dit gesien word as ‘n perspektief op die begin van dinge. Mens kan die kwansuise doods-begeerte van die selfmoord bommer slegs verstaan as ‘n perspektief op lewe. Deur my lyf op te offer as soldaat in die groot GOT stryd, of deur myself op te offer as martelaar in Jihad, vestig ek ‘n perspektief op lewe. Deur dood te gaan in die hitte van die stryd teen boosheid (soos wat beide die neo-konserwatiewes en Al Qaeda hul operasionele omgewings definieer) verwerf ek lewe na die dood. Omdat lewe na die dood vir my ‘n gewaarborgde sekerheid is kan ek die glasfuik van die lyf offer op die bloedstapel van my dogma. Lewe op aarde is dus niks anders as ‘n skrille kontras nie. Die ontwrigting wat ‘n oorlog oor die koppe van collateral damage laat losbars, is inderdaad ook ‘n perspektief op die gedagte van ‘n toestand genaamd vrede. Dit is wanneer die absolute spanningslyne van menslike interaksie lei tot openlike geweldpleging dat ‘n mens insig kan kry op die toestand van intersubjektiewe diskommunikasie. Boosheid help mens om engele beter te verstaan, terwyl Satan ‘n perspektief op god mag wees.

  1. Die vrot lappe vlees van die einde

Nie net het Friedrich Nietzsche ‘n formidabele uitdaging aan hardlywig-modernistiese sisteem-filosofieë gerig nie, maar meer nog het hy die basiese gedagte van wat ‘n “filosoof” is, fundamenteel gewysig. Gilles Deleuze (2001:66) argumenteer in hierdie verband:

“The philosopher of the future is the explorer of ancient worlds, of peaks and caves, who creates only inasmuch as he recalls something that has been essentially forgotten.”

Om die toekoms te verstaan is dit nodig om in die dieptes van vergete verledes rond te delf. Die mens as belewer van die absolute nul-oomblik moet dus besef dat die toekoms en verlede baie nader aan mekaar is. Deur dit wat vergete is op te roep, bring die filosoof ouer lyne van intensiteit terug na die hede. Op hierdie wyse, en hierdie is blote spekulasie aan my kant, aksentueer dit die feit dat tyd weliswaar relatief is, soos gesien in die Einsteiniaanse idioom. Die posisie en spoed waarmee ‘n liggaan deur ruimte beweeg bepaal volgens Einstein die persepsie en meegaande belewenis van tyd.

Deleuze gebruik interessante woorde om Nietzsche se opvatting te omskryf. Hy verwys na die “iets” wat vergete is. Indien iets wat vergete is teruggebring word na die hede, indien dit in herinnering opgeroep word, is daardie iets wat Nietzsche in gedagte het, alvolgense Deleuze (2001:66):

“That something, according to Nietzsche, is the unity of life and thought. Modes of life inspire ways of thinking; modes of thinking create ways of living. Life activates thought, and thought in turn affirms life. Of this pre-Socratic unity we no longer have even the slightest idea. We now have only instances where thought bridles and mutilates life, making it sensible and where life takes revenge and drives thought mad, losing itself along the way. Now we only have the choice between mediocre lives and mad thinkers.”

Die eenheid van lewe-en-denke verseker dat my perspepsie van die einde van die wêreld, en die “tekens” of drake wat ek in die wolke sien, in mekaar verstrengel word om my te oortuig dat die einde op hande is. Verder leer ons hier uit Deleuze dat denke deur lewe geaktiveer word, terwyl die denke lewe affirmeer. Dit is in die denke wat gruwelike dade van moord en doodslag verantwoord word. Die breuke tussen gedagte en werklikheid lei volgens Deleuze tot ‘n situasie waar die denke lewe mutileer. Denke dryf die mens voort tot die wildste optredes denkbaar wat derduisende karkasse en verminktes agterlaat. Dit is nie die bom wat vermink nie, dit is die redes wat vir die gooi van die bom gegee word wat die mens aan die ontvangkant van sy twee gesonde bene skei. Die B52 bomwerper wat sy vrag ammunisie uit sy maag laat val is die brandpunt van verskeie strategiese gedagtes, en politieke redes vir hoekom hierdie spesifieke vallei, om hierdie spesifieke uur, op hierdie gegewe dag aangeval moet word. Die B52 is bloot ‘n instrument wat die uitroeptekens van sekuriteits-denke oor die koppe van een of ander “vyand” laat afkom.

Daar is nie meer waarheid nie. Al wat oorbly is evaluasie en interpretasie. Indien die virus van die einde ‘n intersubjektiewe gevolg van kollektiewe disrespek en wedersydse onderdrukking is, beteken dit dat oorlog verklaar moet word op die denk-regimes, gedagte-diktatorskappe, en betekenis-outokrasieë wat die mens se denkruim beset.

Bibliografie

Breytenbach, Breyten. 1971. Om te vlieg: ’n opstel in vyf ledemate en ’n Ode. Kaapstad: Buren-Uitgewers.

Breytenbach, Breyten. 1991. Hart-lam, ’n leerboek. Kaapstad: Taurus.

Deleuze, Gilles. 2001. Pure immanence: essays on a life. New York: Zone Books.

Flurry, Gerald. 2006. A clash of civilizations is imminent. The Philadelphia Trumpet, August 2006, p.1.

Halper, Stefan & Clarke, Jonathan. 2004. America alone: the neo-conservatives and the global order. Cambridge: Cambridge University Press.