“Die evolusieteorie maak die nie-bestaan van God logies noodwendig” (Richard Dawkins)

My dank vir die voorreg om met u te kom gesels oor die evolusieteorie met spesiale verwysing na Richard Dawkins se uitspraak dat die teorie van evolusie  dit logies noodsaaklik maak om ateïsme voor te staan. Dit sou as ’n radikale stelling beskou kan word. Ek wil dan ook argumenteer dat die evolusieleer inderdaad radikaal is en daarom meen ek dat ons hieraan aandag sal moet gee.

Ons kan onsself die volgende vrae afvra: Wat is evolusie? Wat sê dit vandag vir ons? Waarom is daar so iets soos evolusie? Waarom is daar so baie pragtige maar ook aaklige dinge in die natuur? Wat beteken dit alles? Is die mens die hoogtepunt van die skepping? Op hierdie vrae en dergelike vrae probeer die evolusieteorie antwoorde verskaf.

Die woord “evolusie” kom van die Latynse woord evolvere wat beteken om “uit te rol.” In ’n sekere sin is dit wat evolusie vandag letterlik nog beteken, naamlik “die uitrol van een spesie uit ʼn ander” (in Engels: speciation). Dis nuwe spesies wat uit voorafgaandes ontstaan. Almal gaan uiteindelik terug na voorgangers tot uiteindelik primitiewe organismes soos mikrobes. Hierdie lang lyn van afstamming staan ook bekend as evolusionêre kontinuïteit. Die evolusieteorie is vandag die fundamentele en standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Sedert Charles Darwin (1809–1882) die moderne evolusieteorie verwoord het, was daar tot vandag toe debatte en kontroverse. Vandag handel die debat hoofsaak oor ID, oftewel “Intelligent Design”. Die vraag is: Was en is daar ’n goddelike ontwerp agter die biologiese prosess in die natuur? Dis veral fundamentaliste binne die Christendom, Islam en Judaïsme wat evolusie verwerp en meen dat die skeppingsverhale ’n alternatiewe basis bied vir die idee van evolusie. Die vraag wat ons onsself hierrondom kan afvra, is: “Is kontroverse per se altyd iets negatiefs?” Ek meen nie so nie. Dit hang natuurlik af. Indien die debat op ’n hoë argumentatiewe vlak gevoer word, kan kontroverse iets baie positief wees. Dit laat mense dink, selfstandig dink oor sake. Dit verruim hul visie. Dit leer hulle om ander se sienings beter te ken en leer hulle ook om hul eie siening beter te ken en te verstaan. Dit slyp dus jou eie sieninge. Wanneer die gesprek egter op blote emosionele vooronderstellings of argumente berus, dan word dit “lae vlak” argumentering en dra nie veel by tot verstaan nie.

Ek wil vanoggend die volgende sake kortliks as agtergrond aansny: Eerstens, na regte is Charles Darwin nie die grondlegger van die evolusieteorie met sy boek Origin of Species (1859) en Descent of man (1871) nie. Die idee van evolusie gaan terug na die Griekse filosoof Anaximander (611–547 vC). Hy het die basiese gedagte dat een spesie uit ’n ander “uitrol”, geformuleer. Anaximander stel dit dat lewe in die oseaan ontstaan het vanweë sonlig se interaksie met water. Hy het nog nie die begrip “energie” geken nie en praat dus van sonlig. Primitiewe eenvoudige lewe ontstaan in water, ontwikkel tot visse, visse migreer land toe en ontwikkel so tot plante en diere. Uiteindelik volg die mens. Darwin se oorspronklikheid is nie geleë in die idee van evolusie nie, maar in die feit dat hy daarin geslaag het om dit tot ʼn moderne kousale teorie te ontwikkel. Darwin het onder andere onder die wetenskapsfilosoof William Whewell en die sterrekundige Herschel studeer. Albei was sterk Newtoniaans-kousaal georiënteerd en het beklemtoon dat oorsaaklikheid (die wet van oorsaak en gevolg) grondliggend aan die wetenskap is. Elke selfde oorsaak het altyd dieselfde wetmatige gevolg. Hiermee hang saam induktiewe veralgemenings uit waarneming wat gelei het tot die formulering van natuurwette. Darwin se ideaal was om die Newton van biologie te word. Wat Newton vir die natuurwetenskappe was, wou hy vir die biologiese wetenskappe wees. Darwin ontwikkel dus evolusie tot ʼn kousale teorie. Dit doen hy deur natuurlik seleksie as kousaal prinsipe te ontwerp. Kousale verklaring (dieselfde oorsaak lei tot dieselfde gevolg) is vandag steeds van kardinale belang in wetenskaplike verklarings. (Daar het wel in die tussentyd meer as hierdie siening in die wetenskap bygekom.) Anders as die prosesse in die fisika en chemie is biologiese prosesse meer kompleks, daarom is voorspellings in evolusie en biologie in die algemeen minder moontlik. Dit maak egter nie van die evolusieteorie ’n minder wetenskaplike teorie nie. Die evolusieteorie is vandag ’n teorie wat bevestig is. Daar bestaan oorgenoeg bewyse om dit as waar te kan aanvaar.

In vandag se tyd word die evolusieteorie soms aangevul met ’n alternatiewe teorie, maar wat na my mening nie teenoor die evolusieteorie staan nie. Dit is die teorie van panspermia. Letterlik beteken dit “die saai van biochemiese molekules of selfs biologiese organismes deur komete en meteoriete in die heelal.” Die pan verwys na “oral” in die heelal, terwyl sperma “saad” beteken. Panspermia het dan so lewe op aarde ge-“jumpstart” toe biochemiese omstandighede reg was. Dit gebeur oral in die heelal. Organiese molekules is inderdaad deur NASA-ondersoeke in komete en meteore ontdek en bevestig. Hierdie biochemiese molekules onstaan veral in gasnewels tussen sterre. Die grondleggers van die idee van panspermia is die Griekse filosoof Anaxagoras. Die twee moderne wetenskaplike wat dit tot ’n moderne teorie ontwikkel het, is die sterrekundiges Fred Hoyle en Chandra Wicremasinghe.

Ons moet egter onderskei tussen mikro- en makro-evolusie. Die twee is deel van mekaar, of twee kante van dieselfde munt. Die mikro-evolusieteorie stel dit dat evolusie binne een enkel spesie plaasvind, terwyl die makro-evolusieteorie sê dat evolusie van een spesie na ’n ander kan plaasvind. So byvoorbeeld is in vandag se tyd bevind dat evolusie van dinosourus na voëls plaasgevind het. Ou spesies verdwyn gewoonlik, maar nie altyd nie. Neem as voorbeeld die selakant (’n ouer vis wat herontdek is) en sekere insekte. Dis ou spesies wat nie uitgesterf het nie. Die nuutheid en radikaliteit van die evolusieteorie het die effek op fundamentalistiese denke gehad dat fundamentaliste onderskei het tussen die twee. Maar dit is wel so dat sommige fundamentaliste redeneer dat hulle nog mikro-evolusie kan aanvaar, maar makro-evolusie misken. Hierdie standpunt van fundamentaliste is nie op wetenskaplike insigte gebaseer nie, maar op ’n fundamentalistiese en letterlike interpretasie van die twee skeppingsverhale in Genesis (Gen 1 en Gen 2–3).

Ek wil beklemtoon dat daar geen, maar geen goeie wetenskaplike rede is waarom mense uitgesluit moet word van evolusie nie. As ons daarop let dat daar vele ooreenkomste is tussen mense en ander diere, soos byvoorbeeld dieselfde tipe skelet en liggaamlike organe en stelsels, is dit byna ondenkbaar om die mens wel uit te sluit. Dink aan die volgende ooreenkomste: bloed en bloedsirkulasie; die rol van die hart en longe; die brein endie senuweestelsel, en vele ander. As die evolusieteorie verkeerd moet wees, dan is al hierdie ooreenkomste een reuse toeval. Dit kan tog wees nie. Die ooreenkomste wys ’n bepaalde samehang uit.

Konvergensie (beweging na eenvormigheid) is iets wonderliks in die evolusieteorie, maar terselfdertyd ook ʼn vorm van bevestiging van die evolusieteorie. In die evolusieteorie speel natuurlike seleksie ’n groot rol: die natuur selekteer ʼn bepaalde organisme (plant, dier, mens — na regte is die mens ook ’n dier). Met ander woorde as kameelperde wat eers kort nekke gehad het met veranderende omstandighede in die natuur (soos klimaat en voedsel) mettertyd lang nekke ontwikkel om voedsel vir oorlewering te bekom, selekteer die natuur die lang nekke en oorleef hulle. Dit word ’n genetiese tendens en diegene met lang nekke oorleef en word ’n nuwe kameelperdspesie. Die met kort nekke is nie geskik genoeg vir die natuur nie en verdwyn gevolglik. Dis ook maar wat “survival of the fittest” inhou en nie juis ’n “oorlog” tussen spesies of individue nie. Die bewussyn wat by seker spesies (insluitende die mens) voorkom, is ook so ’n seleksie deur die natuur. Bewussyn en veral selfbewussyn is egter ʼn baie goeie seleksie en dis nie vreemd dat die natuur dit meer as een keer gesellekteer het nie. So het bewussyn by verskillende spesies (wat in terme van tyd en plek geen verband met mekaar het nie) meer as een een keer deur evolusie ontstaan. Met ander woorde evolusie herhaal homself. Die oog het al veertig (40) keer onafhanklik van mekaar in verskillende spesies ontstaan. Neem as voorbeeld die mens en die seekat. Die seekat en die menslike oog is feitlik dieselfde tipe oog, maar het onafhanklik van mekaar in die twee spesies geëvolueer. Ons sal seker saamstem dat walvisse/dolfyne en vlermuise nie familie van mekaar is nie. Tog het albei op hul eie sonar ontwikkel. Om dieselfde rede meen ek dat evolusie elders in die heelal op soortgelyke wyse gaan plaasvind. Gegee dat alles uit dieselfde chemie, biochemie, dieselfde natuurwette ontstaan, kan dit kwalik anders dat daar groot ooreenstemming tussen ons en “extraterrestrials” (nie-aardbewonders) sal wees. Konvergensie meen ek, sal daar soos hier voorkom en natuurlike seleksie sal daar soos hier ’n rol speel. Hoewel daar uiteraard ook verskille sal wees, meen ek dat selfbewuste wesens dáár baie soos ons sal wees. Dis ook Chandra Wicremasinghe, die bekende wetenskaplike wat panspermia voorstaan, se gevolgtrekking.

Hoe pas ons, homo sapiens, in by die teorie van evolusie? Fundamentaliste verwerp die gedagte dat ons geheel en al deel is van evolusie. Dit bots met hul verstaan van die twee skeppingsverhale in Genesis. Volgens hulle verstaan, is die mens die kroon van God se skepping en is hulle geskep na die beeld van God. As die mens uit sjimpansees ontwikkel het dan moet God ʼn aap wees, want hulle moet dan ook na sy beeld geskep wees. Ander mense wat nie noodwendig fundamentalisties is nie, het ook soms ’n probleem met die teorie van evolusie, vir soverre dit die mens betref. Dit voel net ongerieflik om die mens met ʼn sjimpansee gelyk te stel. Dit tas volgens hulle die waardigheid van menswees aan. Baie waardes soos medemenslikheid, liefde, wetenskap, tegnologie kom volgens hulle in die gedrang. Die mens is te hoogstaande en anders as sjimpansees en diere om daarmee gelyk gestel te word.

Hieromtrent die volgende: Nuwe bevindinge toon aan dat die mens nie direk afstam van die primate soos sjimpansees nie (ek sou egter nie probleme daarmee gehad het nie, indien dit wél so sou wees nie). Die mens, sjimpansees gorillas en orang-oetangs stam van ʼn gemeenskaplike mensagtige voorganger (hominied) af. Die Barcelona wese wat sowat 13 miljoen jaar gelede geleef het, lyk na ’n baie sekere kandidaat vir hierdie voorganger. ʼn Fossiel van hierdie wese is in die omstreke van Barcelona in Spanje gevind. Dis ʼn mens-aap (Pierolapithecus catalaunicus) wat geleef het voor die afsplitsing van sjimpansees. Hierdie aapmens se ribbekas en skedel is aapagtig, so ook dui die kort tone en klein hande aan dat dit nog aan takke gehang het. Die wese is kleiner as die hedendaagse sjimpansees. Gorillas en orang-oetangs het later afgesplits.

Tot sover lyk dit of die mens en mensagtiges in Afrika ontstaan het. Ons meer direkte voorgangers is die Australopithecus Africanus (die Taungwese en andere aapagtiges) en in die noorde van Afrika Australopithecus Afarensis. Albei hierdie spesies het sowat 3 miljoen jaar gelede geleef en het waarskynlik reeds regop geloop. Hulle breinkapasiteit was effens minder as die hedendaagse sjimpansee. Hulle is voorafgegaan deur die Ardipothecus wat sowat 4.4 miljoen jaar gelede in Ethiopië geleef het. Hierdie spesie het nog sterker aap-karaktertrekke as die twee australopithecii gehad. Ondertussen is die “missing link” tussen die twee soorte in April 2006 ontdek. Hiedie spesie het kake en tande van biede soorte. ’n Mate van verrassing was egter die ontdekking van die Noumai skedel in Tjaad (Sahelanthropus tchadensis). In tyd het dit ná die Barcelona wese geleef, maar volgens sommige navorsers skyn dit weer ʼn voorganger van sowel die ardipothecus en australopithecii te wees en het 6-7 miljoen jaar gelede geleef. Verrassend egter was die bevinding dat die Noumai wese meer homo sapiens gelyk het as wat dit veronderstel was om te wees. Die wese is meer sapiens as australopithecus! Die breinkas is soortgelyk aan die sjimpansees, terwyl die gesig en tande (met die effens afgeplatte voorkop) mensagtig lyk. Die tande se patroon is definitief mensagtig. Dis dus ouer as die australopithecii en ardipothecii maar is meer mens soos die latere homo sapiens! Paleontoloë verkies om dit onder die genus homo te klassifiseer.

Hieruit is dit baie duidelik dat die mens volgens die teorie van evolusie nie net sinvol inpas by evolusie nie, maar dat die skakels (“missing links”) tussen ons en aap-mense duidelik is. Radikaal soos wat dit is, moet ons aanvaar dat ons en die aapagtiges een groot familie vorm. Waarom het die mens dan anders as die sjimpansee so geweldig vooruitgegaan op wetenskaplike en tegnologiese asook andere gebiede? Waarom het ons taal en die ape nie? Volgens die bevindinge van die voltooide genoomprojek die afgelope twee jaar met betrekking tot mens en sjimpansee, is die genetiese verskil tussen mens en sjimpansee slegs 2.7%. Dis is eintlik ʼn klein verskilletjie wat geweldige effekte gehad het! Sowel aap as mens het die FOXP2 gene. By die mens kom die paar proteïne ietwat meer voor en is aktief in die brein. Dit het die effek gehad dat die mens beter beheer oor sy strottehoof- en mondspiere verkry het as sjimpansees en gorillas. Dit het gelei tot die ontwikkeling van taal by mense wat ook denke sterker gestimuleer het as by ape. Daar is natuurlik ook ander redes vir die ontstaan van taal. Hieruit volg egter nie dat die groot ape nie ingestel is op taal nie. Ondanks die agterstand kan hul wel menslike taal nie net aanleer nie, maar ook sinvol gebruik. Sommige sjimpansees kan tot meer as een duisend (mens)woorde sinvol aanwend (nie nabootsing nie) en leer op eie inisiatief ook hul “kinders” menslike taal as aanvullend tot hul eie kommunikasie aan. Volgens dieselfde genoomprojek-navorsers is die ontwikkeling van ape se brein (vanweë natuurlike seleksie) besig om te versnel terwyl die mens s’n besig is om te verstadig. Dit beteken dat die lied van David Kramer (“Die ou aarde”) waarna Sakkie aan die begin verwys het, in terme van die teorie van evolusie, besig is om letterlik waar te word!

Wat maak nou dat die evolusionêre bioloog, Richard Dawkins, onomwonde stel dat die evolusieteorie die nie-bestaan van God logies noodwendig maak. Dawkins sê dat hy na sy volledige aanvaarding van die evolusieteorie met groter gerief ateïsme kan aanvaar en verdedig. Met ander woorde as ’n mens die evolusieteorie as ʼn feit sou aanvaar (en na my mening is dit ʼn wetenskaplike feit) beteken dit (volgens Dawkins) dat jy nie ʼn ander keuse het as om ateïsme te onderskryf nie. Anders gestel, geloof in God is onversoenbaar met die teorie van evolusie. Dis óf die een, óf die ander. Jy kan nie altwee gelyktydig aanvaar nie. Is dit ʼn goeie en geldige argument? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers kyk na die radikaliteit van die teorie van evolusie. En soos reeds gesê, die teorie van evolusie is inderdaad radikaal. Die Westerse mens moes die afgelope eeu aansienlike verskuiwinge in denke maak. Hulle moes hulle wêreldbeelde of paradigmas radikaal verander.

Die Westerse mens het vir eeue, vanaf Aristoteles (384–322 vC) met sy beskouing van die heelal, tot by die Renaissance (1500–1650 nC) in ʼn veilige heelal geleef. (Nie dat alles altyd letterlik veilig was nie!) Dit was ’n heel statiese heelal met vaste fondamente. Die aarde is as die middelpunt van die heelal beskou. Rondom die aarde beweeg soliede konsentriese sirkels met die planete, son en maan en vaste sterre. Dis die bo-aardse. Die ondermaanse is aards, gemaak uit die vaste fisiese materie, die vier element water, vuur, grond en lug. Dis verganklik en veranderbaar. Die bo-aardse, die hemelliggame is van ʼn totaal ander materie gemaak, ʼn geestelike materie. Dis ewig en onveranderbaar. Hierdie geestelike materie is die “quintessensie” (letterlik die vyfde element). Hierdie heelal is ʼn stewige vaste entiteit — onveranderbaar en onversteurbaar. Alles het hul vaste plekke bo of onder. Alles beweeg ook na hul vaste plekke (daar was nog geen idee van gravitasie nie). Ligte stowwe soos rook beweeg altyd opwaarts, boontoe na hul vaste plekke aldaar. ʼn Klip is weer swaar en hy het sy plek altyd na onder. Alles is seker en jy weet waar jy staan. Jy het as mens ’n vaste plek in die heelal.

Gedurende die Middeleeue (500–1500 nC) word dit net so oorgeneem, maar geïntegreer met die Christelike teologie van Augustinus (354–430), Thomas Aquinas (1225–1274) en andere. By Dante (1265–1321) kom hierdie Aristotelies-Ptolemaiese wêreldbeeld baie sterk na vore. Die enge konsentriese sirkels word nou ook met die morele orde vereenselwig. Hoe hoër jy wegbeweeg vanaf die aarde, deur die “intelligensies”, hoe suiwerder en meer moreel word dit tot by die engele en uiteindelik tot by God as die suiwerste morele orde. God is dan heel bo. Hy is suiwer gees, sonder materie en dus heilig. Alles het nog steeds hul netjiese eie plekke. Die hel, die inferno, is ondergronds. Ook daar beweeg jy af in grade van sleg tot die heel slegte waar die duiwel letterlik troon. Mense is die middelpunt van die aardse bestaan. In hulle is daar die kombinasie van die goeie (gees) en die slegte (liggaam, materie, oftewel stof). Dis duidelik dat die Westerse mens veiligheid, sekuriteit en geborgenheid binne hierdie verstaan van die heelal ervaar het. Hulle het geweet waar God se troon is en waar die duiwel sit. Alles het presies netjies in hul plekke ingepas. Dis logies dat as hierdie hierdie vaste sekerheid versteur sou word, dit ʼn geweldige effek moets hê. (Ek moet wel noem dat ’n kenner van die Grieks-Hellenistiese filosofie, Christos Evangeliou, van mening is dat Aristoteles glad nie met Dante en ook nie met die Middeleeuse wêreldbeeld sou saamgestem het nie.)

Na die Middeleeue word die sekerheid van die Aristoteliese wêreldbeeld versteur deur nuwe teorieë en ontdekkings. Met Isaac Newton (1642–1727). na Galileo Galileï (1564–1642), tree die nuwe wetenskaplike wêreldbeeld van die moderne tyd na vore. Daar word radikaal afstand gedoen van die Middeleeuse Aristoteliese wêreldbeeld. Die Engelse filosoof, Francis Bacon (1561–1626), trek met sy “idole leer” te velde teen die ongetoetsde vulgêre idees wat op “die markplein” opgetel word. Dis nou die Skolastiese Middeleeuse denke en wêreldbeskouinge.

Isaac Newton verklaar gravitasie en die beginsel van kousaliteit as iets wat universeel dwarsdeur die heelal voorkom. Belangrik is dat in hierdie nuwe Newtonse paradigma daar net een soort materie voorkom en bestaan. Dit is dwarsdeur die heelal te vind. Daar is nie twee soorte materie nie — die bo-aardse en die ondermaanse materie. Materie is materie en is oral dieselfde. Die aarde, planete en sterre bestaan uit dieselfde materie. Die aarde is ’n planeet soos enige ander een en andersom. Die planete bestaan nie uit ’n ander soort materie as die aarde nie. Daar is dus geen radikale verskil tussen hemel en aarde nie. Verder is die heelal oneindig. Die vaster sekerheid van die Aristoteliese eindige begrensde heelal verval dus. Tensy dit geswenk word deur ’n eksterne krag of objek, beweeg alle objekte in reguit lyne tot in die oneindige in die heelal. Ruimte en tyd is absoluut. Daar is geen bevoorregte plekke in die heelal nie. Ons kan die radikale verandering tipeer as die verdwying van die gelaagde heelal (die drieverdieping heelal). Daar is geen middelpunt in die heelal nie — die aarde is allermins die middelpunt! Gevolglik is daar ook geen morele orde wat ooreenstem met die vlakke van die heelal nie.

Hoewel astrologie nog voortbestaan, verloor dit sy basis en word die onderskeid tussen astronomie en astrologie duidelik getrek. Vir die mens was dit ’n soort eksistensiële krisis: die ou geborgenhede verval en verdwyn. Dit bestaan selfs nie meer nie. Daar is geen vaste plekke en bewegings nie. Alles word vaag en onseker. Waar is God se troon nou? Waar is die duiwel? ’n Gevoel van onsekerheid, ongeborgenheid  en selfs angs pak die Europese mens beet.

Dit was radikaal maar ook nog nie heeltemal só radikaal nie: Newton behou tog heelwat van die ou beskouinge. God is in die heelal nog steeds vir Newton teenwoordig as Suiwer Gees. Dit beteken dat die idee van Gees, die geestelike, bewussynsmatige, denke en intensie, steeds in die heelal geld. Dis die basis van alles onder en agter alles. God is die Ontwerper, Skepper en Onderhouer van alles. Hy is die absolute kosmiese maatstaf van tyd, ruimte en beweging. Die Latynse uitdrukking sub specie aeternitatis (“uit die blik van die ewige”) gee nog hieraan uitdrukking. God plaas die nie-stoflike gees/siel in die mens. Newton tref ook ’n baie sterk onderskeid tussen mens en dier — steeds in aansluiting by Aristoteles se sienige. Soos die filosoof René Descartes (1596–1650) sê Newton ook dat die dier geen gees of siel (bewussyn) het nie —behalwe miskien sintuie. Lewelose materie kan egter geensins funksioneel wees nie. Dit kan nie dinge laat beweeg of iets bewerkstellig nie. Dis iets doods. Daar moet iets geesteliks daaragter wees wat dit funksioneel kan maak. Anders kan  niks verander nie. Materie kan nie inisiatief neem nie; kan ook niks aktiefs oordra nie. Vir die verklaring van veral komplekse verskynsels, is die geestelike noodsaaklik. Die Engelse filosoof John Locke (1632–1704) onderskryf dieselfde siening baie sterk wanneer hy sê: “As daar iets ewig moet wees, laat ons sien watter soort van wese (Being) dit moet wees? En dis voor die hand liggend — Rede (in die sin van rasionaliteit). Die wese wat alles kan voortbring, moet noodwendig ’n kennende/denkende wese wees. “Want dis tog onmoontlik om te dink dat barre denklose materie ’n denkende wese kan voortbring, niks sou uit sigself materie kan voortbring nie” (Op ’n ligter noot praat Dawkins in sy The God Delusion van die Ultimate Boeing! Dis ‘n sinspeling op genoemde Being van John Locke.) Anders as Richard Dawkins sou Locke hiervolgens gesê het dat die heelal met gravitasie, die bestaan van God logies noodsaaklik maak. By sowel Newton as Locke sou mens van ’n dualiteit van gees en materie kon praat, terwyl dit by Descartes tot ’n sterk dualisme ontwikkel word.

Newton self het egter geen erg aan die kerk of georganiseerde godsdiens gehad nie. Paradoksaal was die volgende: hy beoefen ’n streng induktiewe kousale wetenskap. Tog het hy ’n groot belangstelling in die okkulte en alchemie gehad. Hy het tewens meer boeke hieroor in sy biblioteek gehad as oor fisika en sterrekunde. Maar hy het nooit die okkulte in sy wetenskap ingebring nie.

Maar uiteindelik kom die sterkste vorm van radikaliteit na vore. Dis die sieninge van Charles Darwin (1809–1882) en die evolusionêre biologie wat daarna ontwikkel. Dis die mees radikale teenpool van die Aristoteliese denke en wêreldbeeld. Sonder Darwin sou Dawkins nie sy stelling kon maak dat ateïsme die logiese gevolg van die teorie van evolusie is nie. Hoewel Darwin nog nie meer eksplisiet praat van materie teenoor gees nie, doen hy dit tog in beginsel duidelik. Goddelike ontwerp, geestelike beginsels word heeltemal uitgehaal uit sy standpunt. Darwin praat wel baie van “creation” as mens sy twee werke lees. Daarmee bedoel hy egter nie skepping soos dit in die Christelike leerstellings voorgehou word nie, maar die natuur se evolusionêre gang met natuurlike seleksie as skeppingsbeginsel. Natuurlike seleksie skep dinge. Met die natuurlike seleksie keer Darwin alles om — dis ’n revolusionêre verskuiwing weg van Newton en Locke. Hoewel Darwin nog nie vra na die herkoms van lewe nie, is dit wel duidelik dat hy ’n biochemiese oorsprong veronderstel het met sy oersop-hipotese. Dis die “warm pond” waarvan hy praat. In hierdie oersop lei biochemie tot biologie. In beginsel dus: uit lewelose materie kom uiteindelik die geestelike en die denke. Die bewussynsmatige. ’n Verdere verskuiwing is dat Darwin ook die dierlike bestaansvorm hierby betrek. Ook baie diere beskik oor bewussyn, denke, logika en toon selfs soms iets van ’n etiese gedrag.

Met hierdie revolusie, verander die rigting van verklaring in die wetenskap. Dis nie meer verklaring vanuit die hoëre na die laere toe nie — iets wat vir Newton aanvaarbaar sou wees — maar andersom, van die laer materie na die hoëre bewussyn. Daar is nog steeds ontwerp (“design”), maar nou radikaal andersom. Daar is nie ’n plan of ontwerp vooraf nie, maar wel agterna. Ná die proses van natuurlike seleksie verskyn die ontwerp. So lei natuurlike seleksie evolusie stap vir stap tot meer komplekse dinge oor lang periodes. Onbewuste, blinde kousale natuurkragte en wette bepaal alles deur natuurlike eleksie. Dis waarom Richard Dawkins se een boek The blind watchmaker heet. Dit volg hieruit dat daar geen verklarings is met doele wat bereik moet word nie. Doele trek gebeure en proses van voor, soos by Aristoteles, uit die toekoms. Die teorie van evolusie met natuurlike seleksie as skeppingsbeginsel streef geen doel na nie, maar skep algaande sonder enige beplande einddoel. Oorsaaklikheid trek nie van voor nie, maar stoot van agter. Dit beteken meganiese oorsaaklike verklarings waar daar geen intensies in die natuur is nie. Om dít te verduidelik, praat die filosoof Daniel Dennet van skyhooks en cranes as werkende beginsels.

Hierdie lyn van argumentering in die teorie van evolusie is deur die neodarwinisme uitgebrei deur die inkorporering van genetika in natuurlike seleksieproses. Juis dit voer Dawkins baie ver met sy werk The selfish gene. Volgens hom is gene die primêre en fundamentele drywers in die evolusionêre proses. Hierdie gene het geen intensies of bewussyn nie. As molekules het die replicators eers kopieë van hulself maak. Gene wil oorleef en wil ewig bly bestaan en nie soos organismes “uitsterf” nie. Liggame van mens, plante en diere is blote oorleweringsmasjinerieë vir gene. Hulle is bloot draers van die gene. Hulle kom en gaan, maar gene bly. Na analogie van die gene, ontwerp Dawkins die meme gedagte. Hiervolgens vat idees soos “demokrasie” of “ewige lewe” pos as die tyd daarvoor ryp en vatbaar is. Hulle plant hulself dan voort. Ons moet egter onthou dat dit ’n analogie is en later was Dawkins ook minder entoesiasties oor die idee van meme. Dit het mettertyd veral onder die jeug baie populêr geraak en selfs meem-kultusse het ontwikkel (byvoorbeeld in Brittanje). Dis iets wat Dawkins glad nie mee sou saamgaan nie.

As die teorie van evolusie dan so radikaal is (en dit is inderdaad), volg dit daaruit dat alle etiek verval? Met ander woorde — ons dink met ons brein en ons brein ontwerp etiek. Maar ons brein is deel van ons liggame en ons liggame is die produk van natuurlike seleksie (soos wat ons genus sapiens ook is). Etiek veronderstel ’n vrye wilsbesluit, die keuse tussen alternatiewe of opsies. Alleen as daar sprake is van ’n vrye wilsbesluit, kan jy kies tussen eties reg of verkeerd, alleen dan is keuses moontlik. Maar as alles deur natuurlike seleksie (met gene as dryfveer) kousaal bepaald is, is ons etiese denke “hard wired”. Dit is met ander woorde geneties vasgelê dat ons sekere gedrag sal openbaar en nastreef. Daar is dan geen sprake van vrye keuse nie. Daar kan geen sprake wees van werklike etiek nie. Keuses is nie werklike keuses nie. Alles is vooraf bepaal of gedetermineer. Indien ons keuse hard wired sou wees, is daar geen werklike keuses nie en dus geen werklike etiek nie. Is dit hoe die teorie van evolusie dit sien? Ek meen nie so nie. Hoe moet ons die teorie van evolusie dan hieroor verstaan?

By baie spesies sou mens sekerlik van hard wiring kon praat. Die gedrag van ’n akkedis, ’n skaap of bees is sekerlik hard wired (tensy nuwe evidensie hieroor na vore tree). Daar is dus geen sprake van etiese optrede by hulle nie.  Alhoewel Darwin nie sterk idees oor etiek by die mens uitgespreek het, is dit tog duidelik (soos blyk uit sy Descent sowel as Origins) dat hy nie etiek as ’n saak van hard wiring sien nie. Hy suggereer dat andere hieroor verder sal moet besin en hy verwys onder andere na Thomas Henry Huxley (1825–1895) en veral Herbert Spencer (1820–1903), die eerste evolusionêre filosoof. Tans is dit die sosiobiologie (dit word deesdae “evolusionêre psigologie” genoem vanweë kritiek) wat sterk werk oor etiek. Hier is dit Robert Ardrey en Edward Wilson wat hieraan aandag gee. Die mees belangrike meen ek is egter die werk van Richard Dawkins in die verband. Dit kom in veral sy boek Selfish Gene na vore. Dawkins is na my indruk hier verbasend “gematigd” (as dit die regte woord sou wees). Hy is glad nie geneig tot ekstremes nie. In talle gedeeltes van die boek Selfish Gene kom dit duidelik na vore dat hy reken dat etiek geen reslose produk van ons gene is of hoef te wees nie. Indirek, ja, bepaal ons gene en natuurlike seleksie wel etiek. Maar nie direk nie. “I am not advocating a morality based on evolution.”  Dawkins gaan in die werk uit sy pad uit om selfs die naturalistiese drogargument  (naturalistic fallacy) te vermy. Dawkins meen dan ook dat die onderskeid tussen “is” en “behoort” gehandhaaf behoort te word. Wel is dit so dat ons gene selfsugtig is (nie in die sin van met beplande intensie nie) maar ons is van nature só geneig met die oog op ons oorlewering. Maar, sê Dawkins, ons kan en behoort dit teen te gaan. Dit gaan in die menslike samelewing tog nie maar net om die oorlewing van die sterkste nie — altans dit behoort nie so te gaan nie.

Dawkins se basiese veronderstelling dat die indirekte effek van die teorie van evolusie met natuurlike seleksie as dryfveer, én die direkte effek van die evolusieteorie, van mekaar onderskei moet word, maak vir my baie goeie sin uit. Dit was tewens nog altyd my eie gevolgtrekking selfs voordat ek Dawkins gelees het. ’n Mens kan nie ons verband met evolusionêre kontinuïteit ontken nie. Ons liggame, ons brein, ons bestaan, is deel van evolusie. Dit kan nie anders as om ’n invloed en effek op ons denke en handelinge te hê nie. Dis egter ’n indirekte verband. Ek sou by Dawkins hier wou byvoeg dat ons bewussyn en veral selfbewussyn, deur evolusionêr emergensie ’n “lewe van sy eie” ontwikkel het. Met ander woorde, deur evolusie het vryheid van wil en besluit (vrye keuses maar nooit in ’n absolute sin nie) onstaan. Dit klink ietwat paradoksaal — ons is ’n produk van evolusie, maar deur evolusie kan ons die hard wiring in ons transendeer. By die mense het hierdie vermoë veel verder ontwikkel as by “hoër diersoorte”. Die mens ontwikkel geskrewe morele kodes, wette en so meer. Ek wil dit egter beklemtoon dat daar talle hoër diersoorte is waar alles nie maar hard wired is nie. Etiese handelinge kom ook voor by hierdie diere. By hulle is daar ook ’n mate van keuses. Wel het hul nog nie geskrewe kodes soos mense ontwikkel nie. ’n Mens sien dit in die toepassing van morele vereistes, soos hulpverlening in nood (nie net aan lede van dieselfde spesie nie) maar ook aan ander lede wat nie tot dieselfde spesie behoort nie. ’n Sjimpansee sal (volgens Frans de Waal se navorsing by die Yerkes Primate Sentrum) ’n beseerde voël hoog in ’n boom opgetel, sy vlerke reg gebuig sodat hy weer kan vlieg. Dit het ook gebeur. Die punt is, “vlieg” val buite die veld van ʼn sjimpansee se ervaringswêreld. Dis slegs maar één voorbeeld.

Om Dawkins se aanspraak oor die teorie van evolusie en ateïsme in oënskou te neem, laat ons die saak verhelder deur eers na kritiek op die teorie van evolusie te kyk. Kritiek is in die wetenskap nie sleg nie, maar gesond. Wetenskap groei en leef selfs danksy kritiek. Ek onderskei egter tussen ’n kritiese en ’n skeptiese denkhouding. ’n Kritiese denkhouding is oop vir meningsverskil en alternatiewe. Dit is oop vir wysiging. ’n Dogmatiese houding sê “Nee, ek kan nie my sieninge onder kritiek en wysiging stel nie.” Teenoor die ekstreme van ’n dogmatiese houding, staan skeptisisme wat verkondig dat daar geen kennis is nie. Niks kan absoluut waar wees nie. Daar is geen vaste feite nie. Ek sien ’n verskil tussen ’n kritiese ingesteldheid en ’n skeptiese lewensingesteldheid. ’n Kritikus is nie noodwendig ’n skeptikus nie.

Die teorie van evolusie word vanuit sowel ’n kritiese denkhouding as ’n skeptiese denkhouding gekritiseer. Een van die slegste vorme van dogmatisme is wanneer onwetenskaplike strategieë gebruik word om ’n teorie te probeer omverwerp. Die afgelope ses jaar was daar so ’n georkestreerde poging in die VSA teen die teorie van evolusie. Dis veral TV- en radiostasies asook koerante wat inspan word om ’n denkklimaat te skep dat die teorie van evolusie reeds agterhaal is en verval het. Dis ’n sielkundige soort “hype” teen die teorie van evolusie. Meestal was dit fundamentaliste wat van dié soort strategie gebruik gemaak het, maar baie mense is onkant gevang omdat die indruk gelaat is dat die teorie nou wetenskaplik weerlê is. So byvoorbeeld is in “nuusbrokkies” vermeld dat Darwinisme weerlê is (“Darwinism is refuted”). In werklikheid is daar niks van waar nie. Spotprente van Charles Darwin wat op ’n piesangskil aan die gly is, met opskrifte soos: “Het Darwin dit toe na alles tog mis gehad?” dra by tot die klimaat wat geskep word. ’n Heerlike propagandapunt was die totaal valse stelling dat Charles Darwin op sy sterfbed sou gesê het dat hy besef dat evolusie verkeerd is en dat hy alles terugtrek. Dit het Richard Dawkins laat sê dat hy op sy sterfbed ’n bandopnamemasjien gaan plaas om so iets te vermy!

Radikale skeptici (nie net fundamentaliste nie) sê dat niks in die wetenskap waar is of waar kan wees nie. Daar is eenvoudig geen vaste bewyse of onweerlegbare feite nie. Baie gewild is die siening dat evolusie maar net ’n teorie is. Dis nog geen feit nie, want niks is bo alle twyfel bewys nie. Die teorie het dus geen besondere gesag nie. Dit maak nie saak hoeveel jy weet nie, jy sal nooit jou punt kan bewys nie. Ons praat miskien van “gene” en “chromosome”, maar dis benaming wat ons aan bepaalde dinge wat ons waarneem, gee. Ons kan hierdie dinge nooit met sekerheid weet nie. Dis hoe die werklikheid lyk, nie hoe dit werklik is nie. Hierdie mense redeneer ook soos volg: “Daar is nie so iets soos objektiewe weergawes nie, alle weergawes is vanuit ’n bepaalde subjektiewe gesigshoek gedoen. Dus sal jy noodwendig bevooroordeeld wees.”

Hierteenoor wil ek die volgende opmerk. Inderdaad is ons wetenskaplike en ander kennis nooit finaal waar nie. Ons aanvaar dat wat ons tans as seker beskou dalk later gewysig kan word of selfs omvergewerp kan word. Vorige teorieë of kennis kan verkeerd wees. So byvoorbeeld is daar baie goed wat Aristoteles gesê het wat ons nie vandag meer aanvaar nie. Die siening dat die aarde plat is, beskou ons doodgewoon as vals. Dit geld ook van die siening dat die son om die aarde draai. Dit is reeds as vals bewys. Maar daar is wél so iets as feite. Wanneer kennis deeglik getoets is, en dis nie deur evidensie (harde bewyse) weerlê nie, sê ons daardie kennis is bevestig (“corroborated”). Inderdaad is dit nie absoluut waar nie. Inderdaad kan dit deur nuwe evidensie gewysig word. Maar dan deur evidensie en nie allerhande onderduimse strategieë nie. Getoetste kennis is nie absoluut waar nie, maar dis baie stabiel. As dit so was dat niks waar kan wees, of as daar geen feite is nie, net omdat kennis gewysig kan word, dan beteken dit dat NASA se ruimtevaarders nooit op die maan geloop het nie. Ons sal dan moes terugval op die Aristoteliese gedagte van quintessensie. Jy sou nie waag om op die maan te loop nie — laat staan nog die tuie Spirit en Opportunity op Mars laat rondry. Ruimtetuie sou ook nie gebruik kon maak van gravitasie van die planeet Jupiter om hulle vinniger weg van Jupiter te skiet na Saturnus toe nie. Moet ons hou by die siening dat daar net één galaksie in die heelal is, of kan ons aanvaar dat daar miljone galaksies in die heelal is?

Ja, inderdaad wysig ons kennis. Maar soos gesê, getoeste kennis bly stabiel. Ons sal nie sommer vandag of in die toekoms weer kan terugkeer na Aristoteles en Ptolemeus se sienings en standpunte nie. Al is daar baie dinge nog onseker en al is ons soms verkeerd, is daar baie dinge waaroor daar geen redelik twyfel meer kan wees nie. So byvoorbeeld bestaan chromosome en gene wel. Dit geld ook die teorie van evolusie. Natuurlik kan enige wetenskaplike met ’n nuwe hipotese na vore kom wat teenoor die evolusieteorie staan, maar dan moet dit op wetenskaplike gronde gedoen word en nie op grond van drogredenasies en ander simplistiese verklarings nie. Daar moet evidensie (harde bewyse) wees. Met ander woorde, die spel van die weteskap moet gespeel word met die spelreëls van die wetenskap. Talle verdere wysigings binne die teorie van evolusie kan en gaan sekerlik plaasvind, maar dat die teorie van evolusie deur ’n deurbraak omvergewerp gaan word, is baie skraal. Net so skraal soos dat ons sal terugkeer na die sieninge wat vóór Copernicus, Galileo en Newton gewees het. Om te sê dat die teorie van evolusie nie ’n feit is nie, maar slegs ’n teorie, is ook misleidend en foutief. Dis ’n wantoepassing van die begrip “teorie”. ʼn Teorie is ’n bevestigde feit, raamwerk van verklaring en interpretasie. ’n Goeie voorbeeld is die relatiwiteitsteorie. As ons wil sê dat iets slegs voorlopige kennis is wat nie finaal getoets en bevestig is nie, dan praat ons van ’n hipotese. ’n Hipotese is ’n tentatiewe waarheid. Maar ’n teorie asook ander vorme van kennis, is ʼn feit. Dit staan vas. Dis stabiel. Inderdaad is dit so dat ons in die wetenskap vanuit ’n bepaalde gesigspunt werk. Evolusie is so ’n gesigspunt. So is ook die relatiwiteits- of die kwantumteorie ’n bepaalde gesigspunt. Hieruit volg egter nie dat alles subjektiwisties word of dat daar geen objektiwiteit bestaan nie. John Locke het dit baie goed gesê: “As ons alles sou betwyfel, omdat ons nie alles met sekerheid kan weet nie, sal ons word net soos die mens wat nie sy eie bene wil gebruik nie, maar net stil wil sit en vergaan omdat hy nie vlerke het nie.”

In die lig van alles wat tot dusver gesê is — hoe moet ons Dawkins se stelling verstaan dat die teorie van evolusie ateïsme logies noodwendig maak? Kom ons begin met een van sy belangrike stellings wat lui: “Ek aanvaar evolusie, omdat evidensie dit rugsteun, en ek sal dit oornag laat vaar as nuwe evidensie dit vals bewys. Geen ware fundamentalis sal dit sê nie.“ Met hierdie laaste stelling kan ek nie anders as om saam te stem nie. As hy egter sê dat godsdiens ons leer om nie ons sieninge te verander nie, is dit nie noodwendig so nie. Godsdiens hou mense in ’n bepaalde dampkring, maar dit volg nie logies dat godsdienstige mense nie hulle sieninge sal wysig nie. Dit hang alles af. Dawkins sê verder dat hy ’n passie vir evolusie het. In sy boek The God Delusion sê hy: “Die evidensie (bewyse) is só oorweldigend sterk, dat ek passievol ontsteld is dat my opponente dit nie kan insien nie.” Die stelling is myns insiens ook nog verstaanbaar, maar nie sy ander stelling oor ateïsme nie.

Dawkins se vertrekpunt dat evolusie ’n feit is, is reg. Dis egter wat hy hieruit aflei wat problematies word. Ek het gevolglik ’n probleem met sy stelling dat die teorie van evolusie ateïsme logies noodwendig maak. Dis immers nie goeie logika nie. Die bestaan van God (teïsme) of die nie-bestaan van God (ateisme) kan nie wetenskaplik bewys word nie. Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724–1804) is hier nog steeds reg waneer hy sê dat sodra jy die grense van die empiriese en toetsbare verlaat, jy in sirkels begin rondstap. Daar is geen evidensie (bewyse) om toetsbare of weerlegbare stellings oor God te maak nie. Daar is aanduidings wat logies en rasioneel is en wat dui op die bestaan van God as Skepper. Byvoorbeeld die herkoms van alles wat is, die heelal in sy totaliteit. Dis egter nog geen bewys of verifikasie van God se bestaan nie. Dieselfde geld van die ateïstiese tese dat daar goeie logiese aanduiders soos die lyding in die wêreld van mens en dier is om die nie-bestaan van God te aanvaar. Dis egter ook nog nie genoegsame evidensie of bevestiging vir die nie-bestaan van God nie.

Ek meen daar is meer as een spel wat ons kan speel. Die eerste is die spel van die wetenskap met sy spelreëls wat insluit objektiwiteit, rasionaliteit, kritiese distansie, en toetsbaarheid. Onwetenskaplik is ook ’n spel, maar dis ’n onkantspel. Die wetenskaplike reëls word in hierdie spel oortree. Dis om stellings te maak sonder evidensie of om gegewens te verdraai. ’n Onwetenskaplike spel  sou wees wanneer jy probeer bewys dat God bestaan. ’n Onwetenskaplike spel sou ook wees wanneer jy probeer bewys dat God nie bestaan nie. Dis albei onkantspel, want daar word nie van evidensie, logiese redenasie, toetsbaarheid ensovoort gebruik gemaak nie. Dawkins speel hier onkant wanneer hy die stelling maak dat die evolusieteorie logies tot ateïsme moet lei. Die Weense filosoof Karl Popper (1902–??) onderskei tereg tussen wetenskaplik en onwetenskaplik. Ek wil egter ’n verdere kategorie of spel byvoeg en dit tipeer as nie-wetenskaplik. Dis ’n spel met sy eie spelreëls. Dit oortree nie die reëls van die wetenskap nie. As ek glo, maar nie wil bewys dat God bestaan nie, is dit nie onwetenskaplik nie, maar nie-wetenskaplik. As ek insgelyks sê dat ek nie glo dat God bestaan nie (en dit kwalifiseer dat dit ’n oortuiging en nie ’n wetenskaplike stelling is nie) dan speel ek nie-wetenskalplik en is ek ook nie onkant nie. Dieselfde geld van baie gedigte. Wanneer ’n digter oor ’n pragtige seelandskap dig, gaan ons hom nie ondervra oor sy verklaring van seewater en waarom hy nie eerder van die formule H2O gebruik maak nie. Die digter speel ʼn nie-wetenskaplike spel.

As parallel kan ek na Richard Dawkins se voorbeeld in sy boek The God Delusion verwys waar hy na ’n eksperiment kyk wat gemaak is of gebede om genesing verhoor is. Hy vertel dat ’n steekproef van die herstel van ’n aantal pasiënte gemaak is. Ek het die humor geniet waarmee Dawkins die verhaal beskryf en waar hy meen genesing nie na gebed gevolg het nie. Omtrent ewe veel pasiënte is genees as wat nie genees is nie. As ’n mens dit as ʼn legitieme toets kan beskou, sou mens seker kon sê dat dit onbeslis is. My probleem is egter dat dit nie ’n wetenskaplike spel is nie. In sommige gevalle het genesing chronologies na gebed gevolg. In die ander  gevalle nie. Dit kan egter nie gebruik word as bewys vir die bestaan of die nie-bestaan van God nie. Mense wat dit as wetenskap beskou, speel onkant. Om egter oortuig te wees in gevalle van genesing dat God dit bewerk het, beteken bloot dat ’n nie-wetenskaplike spel gespeel is. Of om oortuig te wees dat daar geen God hoegenaamd bestaan nie, is ook nie-wetenskaplik. Dis nie onkantspel nie. As ek praat van nie-wetenskaplike taal, beteken dit egter nie dat ’n mens nou enige onsin (“nonsens”) kan aanvaar en dan sê dis deel van jou nie-wetenskaplike spel nie. In die proses van nie-wetenskaplik speel, gaan ’n mens nie jou verstand en rasionaliteit opoffer nie. Om iets wat lynreg teen wetenskaplike evidensie ingaan (sê maar die vloed van Noag oor die hele aarde, en soortgelyke beskouinge) as nie-wetenskaplik aan te dui en dan te sê dis maar reg, gaan nie op nie. Die nie-wetenskaplike spel hou nie in dat jy jou verstand opoffer nie.

In aansluiting by die voorafgaande gaan ek die volgende onderskeid tref. Dit is tussen sciëntisme en fundamentalisme. Die scientisme maak van wetenskap meer as ’n wetenskap. Wetenskap word dan ’n kwasi ideologie. Of dan ’n “ersatz” ideologie. Dis soos wanneer die teorie van evolusie evolusionisme word. Dit meen ek is wat Dawkins met sy stellig doen dat die evolusieteorie logies tot ateïsme moet lei. Andersyds speel Dawkins die spel van die wetenskap uitstekend. Om te sê dat ateïsme logies volg uit die feit van die teorie van evolusie, moet eers aangetoon word. Hoe kry ’n mens nou evidensie buite die gebied van die toetsbare? Ander voorbeelde van scientisme is behaviorisme en eliminantivisme. Albei meen dat dit logies uit teorie van evolusie volg. Na my mening is dit vals. Dit sal ook eers aangetoon moet word. Charles Darwin werk inteendeel glad nie met behaviorisme nie. Dis val duidelik op in sy uitsprake oor diere en die mens in die boek Descent of man. Hoewel Darwin Newton radikaal omkeer (soos reeds verduidelik) volg dit nie dat Darwin bewussyn elimineer nie. Hy maak dit wel die resultaat van die teorie van evolusie. Dis egter nie ʼn eliminativistiese siening nie. Eliminativisme meen dat sieninge oor bewussyn, emosies, intensies, denke vervang moet word met wetenskaplike uitsprake. In plaas van te sê ek was agtuur vanaand baie bly, moet jy eerder sê: “Neurons het om 20:00 in die linker kwadrant van my brein afgevuur teen ʼn frekwensie van 348.004 bk.” Waar behaviorisme grootliks in die wetenskap gediskrediteer is (behalwe nog by dierebewussyn en -etiek), is eliminantivisme ook nie ʼn lewensvatbare benadering nie. Albei is voorbeelde van sciëntisme.

Fundamentalisme waaroor ons reeds heelwat gepraat het, is die ander ekstreme. Waar sciëntisme van wetenskap meer maak as wetenskap, maak fundamentalisme meer van geloof as wat dit is of kan wees. Afgesien van ’n letterlike interpretasie van baie dinge in die Bybelboeke, word die twee skeppingsverhale gesien as ’n basis vir ’n alternatiewe teorie vir die teorie van evolusie. Dit staan ook bekend as kreasionisme. God skep volgens hierdie siening in ses dae die verskillende spesies en gevolglik is evolusie verkeerd. Die teorie van evolusie word ook afgemaak as ’n “ateïstiese projek”. Ons het hier met ’n soortgelyke denkfout as by Dawkins te doen. Om te glo in God beteken nie noodwendig dat ’n mens kreasionisme (fundamentalisme) aanhang of voorstaan nie.

My slotsom is dat Richard Dawkins ’n baie goeie wetenskaplike is, maar soms die spel van sciëntisme buite die speelveld van die wetenskap speel.