Deur: Hansie Wolmarans

Die debat oor die Nuwe Hervorming soos dit in die pers, in kerke en rondom braaivleisvure gevoer word, raak nog net aan die oppervlak. Vir baie mense is die kern van die debat Jesus se geboorte uit ‘n maagd en sy opstanding uit die dood. Ten diepste gaan dit vir ander of God nou iewers buite hierdie werklikheid wat ons ken, woon of nie. Wesenlik gaan die Nuwe Hervorming egter daaroor om God op eietydse maniere te herontdek; om teologies ongeskoolde gelowiges te betrek by ‘n herverbeelding van God; dit gaan oor afskeid van primitiewe dogmas; oor die beëindiging van die tirannie van die “swakke broer” ter wille van wie nuwe insigte in die Bybel van lidmate weggehou is. Dit is ‘n avontuur waarin ons enigste sekerheid soms ons onsekerheid is.

Dit is veral die wyse waarop die Bybel in die debat funksioneer, wat nog nie tot sy reg gekom nie. Fundamentaliste beweer die Bybel is woord vir woord deur God gedikteer. As ons dit aanvaar, moet ons ook aanvaar die aarde is plat en die hemel staan op pilare.

Vanuit ‘n modernistiese wetenskapsbeskouing sê die meeste tradisionele teoloë die Bybel is God se Woord in mensetaal. Ons moet net tydgebonde dinge in die Bybel afstroop (soos die plat aarde), dan kom ons by God se Woord uit. Ook hierdie siening is nie sonder probleme nie. Al glo ons die Bybel moet die laaste woord hê, is dit ‘n geldige vraag: “Watter woord in die Bybel?” Was Jesus se oupa nou Jakob (Matt. 1:16) of Eli (Luk. 3:24)? Was dit die duiwel wat vir Dawid verlei het om ‘n volkstelling te hou (1 Kron. 21:1) of die Here wat hom gelei het (2 Sam. 24:1)? Het Jesus ná sy opstanding eerste aan Maria Magdalena verskyn (Joh. 20:14), aan Petrus (1 Kor. 15:5), of aan Kleopas (Luk. 24:15–18)?

Die vrae sny nog dieper. Nuwe navorsing oor die beginjare van die Christendom wys duidelik dat dit ‘n tyd was waarin baie belangrike mense volgens oorlewering uit ‘n maagd gebore is: die bekende wiskundige Pitagoras, die filosoof Plato, en selfs keiser Augustus. Is die geboorte uit ‘n maagd nou iets eietyds wat ons moet afstroop om by die ware Jesus uit te kom of is dit ‘n biologiese feitelikheid? Waarom praat Paulus en Jakobus en Johannes glad nie daarvan nie? Is dit nie maar net ‘n manier om oor die besondersheid van Jesus te praat nie?

Ook die kruisdood as ‘n soenoffer en die opstanding was tipiese gebeure in die eerste eeu n.C. In al die misteriekultusse was die sentrale tema juis een waarin ‘n held soos Dionisus, Orfeus of Mithras sterf, net om te herleef. Hierdie “offers” het mense se skuld weggeneem.

Wat is die oorsprong van hierdie offerteologie? ‘n Primitiewe opvatting waarin daar van mense verwag is om ‘n seun of dogter te offer sodat die gode hulle goedgesind kan wees? Spore hiervan vind ons in die Ou Testament. In Gen. 22:2 word Abraham beveel om sy seun Isak te offer. In Rig. 11:30–39 offer Jefta inderdaad sy dogter aan die Here.

As ons nou ook hierdie sake afstroop as tydgebonde (en dit is onafwendbaar met ‘n modernistiese Skrifbeskouing), kom ons by ‘n godsbeeld wat ook tydgebonde is, want God lyk maar net soos ‘n antieke koning op ‘n troon met ‘n tweede in bevel (middelaar) aan sy regterhand. As ons dit ook afstroop, bly daar niks oor nie – en sit ons met ‘n nihilisme wat soos die bufferplakker sê: “Stop die wêreld, ek wil afklim!”

‘n Postmoderne siening van die Bybel is daarom meer aanvaarbaar. Dit sê die Bybel bevat mensewoorde oor God. Hierdie siening is bevrydend. Dit is skille wat van jou oë afval as jy verstaan jy hoef nie alles in die Bybel soos geskiedenis te lees nie. Soek mooi, en jy sal God se voetspore daarin vind.

Hierdie insigte help ons om nuut na die vorm van ons godsdiens te kyk. Dit is nodig om ondersoek te doen oor hoe ons die essensie van die Christendom in eietydse simbole en vorme kan vertaal. Met die Nagmaal kan byvoorbeeld gesê word: “Laat ons ook vir mekaar die lewensbrood breek en mekaar se lewensbekers met vreugde laat oorloop.” Die opstanding kan as simbool van vernuwing en vooruitgang funksioneer. Wat Jesus histories gesê en gedoen het, kry nou vir ons nuwe betekenis. Ons verstaan dat ‘n klein ligstraaltjie van Jesus in ons lewe meer werd is as ‘n Ortodoksie wat ten volle geken word.

Die volgende weergawe (my eie) van Psalm 23 gee uitdrukking aan ‘n panenteïstiese opvatting van God, waar God alles in almal is:

Die aarde versorg my soos ‘n herder.
Daar is genoeg vir almal.
Dit het groen graslande waar ek kan rus
en waters wat my kalmeer.
Dit lei my om nuut te leef.

Ek kyk om my, en weet wat regverdigheid is.
Ek verwonder my oor alles.
Selfs al moet ek swaarkry of sterf
sal ek nie bang wees nie,
want die dood en lyding is nuwe beginne.
Hier is ek veilig.

My lewe op aarde is ‘n fees,
waar selfs hulle wat nie van my hou nie,
saam met my kan aansit.
Ek voel altyd baie spesiaal.
My beker loop van vreugde oor.

Ek weet, solank ek lewe,
sal die aarde vir my sorg.
Daarom is ek is tuis in die heelal
nou en vir altyd.
Opgedateer op : Sa 06 Aug 11