In die lig van die misleidende assosiasie met die Jesus Seminar waarvan die Nuwe Hervorming beskuldig word, het Pieter Botha die volgendie stuk opgestel:

Die Jesus Seminar se ontstaan moet verstaan word in die lig van twee algemene oogmerke, naamlik om Fundamentalisme te bekamp en om wetenskaplike navorsing oor die Nuwe-Testamentiese tekste na die publiek te bring. Dit is hierdie twee motiewe wat gemaak het dat daar steun was vir Robert W. Funk se planne en hoekom die Jesus Seminar nog steeds ondersteuning geniet.
Daar is dus alreeds twee goeie redes om die publikasies van die Jesus Seminar te bestudeer: om uit te vind of jy ‘n Fundamentalis is of nie, en om meer te wete te kom oor die wetenskaplike ondersoek van die Nuwe Testament. Let op: hierdie is net goeie redes om hulle publikasies te lees, en geen aanduiding van ons boodskap nie; ons verkondiging nie dat Funk en kie die alfa en omega van Bybelstudie is nie.

 

Die twee motiewe wat die Jesus Seminar dryf is nie onbelangrike sake nie. Fundamentalisme IS ‘n dodelike kwaal en baie mense is ernstig daaroor om hierdie manier van dink (en glo) uit die gestel te kry. Om diegene wat nie fundamentalisties wil wees nie, as ongelowig te beskryf, is nuttelose etikettering. Mens kan met vrymoedigheid die boeke van die Jesus Seminar lees want dit kan jou geloof en skrifgebruik net goed doen.
Let op: die werk van die Jesus Seminar is nie die finale antwoord nie; dit is deel van ‘n proses waardeur ‘n mens kan vorder.

Die gebrek aan toegang tot die wetenskaplike navorsing oor die Bybel en bybelse geskiedenis is iets wat ons (die nuwe hervormers) ook pla, en waaraan ons werk om die situasie te verander. Dit is veral hierdie aspek van die Jesus Seminar se publikasies wat ons aandag getrek het en waarom ons dink mens moet kennis dra van wat hulle doen. Dié aspek kan vertaal word in ‘n uitdaging: wat weet u van die wetenskaplike ondersoek na die Nuwe Testament af?

Kom ons raak heel konkreet: dit staan enigiemand vry om die twee-dokument hipotese (dat Matteus en Lukas by Markus en die sogenaamde “Q evangelie” afgeskryf het) te ontken, maar dan moet mens óók bereid wees om die alternatief ingelig en met toepaslike metodes binne die reëls vir wetenskaplike kennis , uit te stippel en kritiek te beantwoord.

Oor die vloei van wetenskaplike navorsing sê Funk: “The level of public knowledge of matters biblical borders on the illiterate. The church has failed in its historic mission to educate the public in the fourth “R,” religion. Many Americans cannot even name the four canonical Gospels. The public is poorly informed about any of the assured results of critical scholarship, although those results are commonly taught in colleges, universities, and seminaries. In this vacuum, drugstore books and magazines play on the fears and ignorance of the uninformed. Radio and TV evangelists indulge in platitudes and pieties. In contrast, the Jesus Seminar is a clarion call to enlightenment. It is for those who prefer facts to fancies, history to histrionics, science to superstition, where Jesus and the Gospels are concerned”.

Dit is ‘n bietjie oordadig gestel na my smaak, maar die punt is geldig.

 

Meer spesifiek het die Jesus Seminar die oogmerk om die historiese Jesus te bestudeer, en het die volgende twee doelstellings daarvoor geformuleer:
(1) om volledige lyste saam te stel van al die woorde en dade wat aan Jesus toegeskryf word in die eerste drie eeue, en dan
(2) om deur hierdie lyste te werk om te bepaal watter items, “on the basis of scholarly consensus” verteenwoordig die lewe van die historiese Jesus en watter het voortgespruit vanuit die oorvertel van en besinning oor die woorde en dade van Jesus deur sy volgelinge ná sy dood.

Wat, byvoorbeeld, die uitsprake van Jesus betref het die Seminar 518 verskillende items geïdentifiseer, waarvan meer as die helfte net een keer in die bronne gerapporteer word, omtrent ‘n tiende in vier of meer bronne en die res word elkeen so twee of drie keer vermeld.

Hoekom al die bronne deurgaan? Want om wetenskaplik te wees, moet al die moontlike getuienis ingesamel word (ook die van die Tomasevangelie en die Petrusevangelie en so aan). Hoekom nie al die getuienis summier glo nie? Want mens wil verantwoordelik wees: nie alles wat in ‘n hof vertel word, is waar nie. Die uitsprake moet geweeg word en volgens betroubaarheid gerangskik word.

Hierdie proses veronderstel dat historiese feite belangrik is. Die vraag is nie soseer of die Jesus Seminar “afwyk” of nie, maar hoe wil jý historiese kennis verkry.

 

Die metode wat die Jesus Seminar toepas om die betroubaarheid van ‘n uitspraak of gebeurtenis te bepaal staan bekend as die historiese metode. Dit is nie ‘n nuwe ding nie, of ‘n lukraak proses nie. Dink aan enige historiese ondersoek. Hoe maak mens as daar meer as een weergawe is wat nie lekker met mekaar rym nie? Hoe maak mens as ‘n verslag foute bevat, of vreemde dinge beweer? Of as dieselfde uitspraak/gebeurtenis aan uiteenlopende kontekste verbind word?
Enige een wat in die openbaar, volgens die reëls van historiese kennis, ‘n voorstelling van iemand of ‘n gebeurtens wil aanbied, behoort al die inligting bymekaar te maak en dit dan te beoordeel om die relatiewe waardes daarvan te bepaal. Hierdie metode is deel van die meeste van ons se daaglikse lewens, verweefd met hedendaagse professionele aktiwiteite en ‘n hoeksteen van die wetenskap. Die metode word al eeue lank in die Nuwe-Testamentiese wetenskap gebruik, en onderlê, byvoorbeeld, die samestelling van die Hebreeuse en Griekse tekste waarvan alle moderne vertalings van die Bybel gemaak is.

Daar word dikwels deur sommige Suid-Afrikaanse sogenaamde geleerdes beweer dat die werk van die Jesus Seminar “verdag” is. Mens moet net ‘n oomblik jou verstand gebruik om te besef hoe irrelevant so ‘n beskuldiging is. Die meerderheid “Fellows” van die Jesus Seminar is dosente aan universiteite. Anders as wat die algemene sinodale kommissie en ander sogenaamde professore suggereer, het universiteite en akademiese instellings reëls. [ek gebruik die woord “sogenaamd” soos wat ons die woord in die ASK se sogenaamde “standpunt” vind].

Indien ‘n navorser onprofessioneel optree sal sy of hy probleme optel. Daar is voorwaardes verbonde aan die voorlegging van navorsing vir akademiese publikasie. Nogal streng voorwaardes. ‘n Navorser wat, byvoorbeeld, getuienis vervals sal deur haar/sy instansie gedissiplineer word. ‘n Navorser wat probeer publiseer met ‘n onwetenskaplike metode word tereg gewys.

Die akademiese proses in Funk se woorde: “This is the way of critical scholarship: propose, review, reformulate, publish, test, test, test. ! The mills of scholarship grind slowly, but they grind exceedingly small. The end product of this process is something called the scholarly consensus”.

Daar is nog iets oor die historiese metode wat opgeklaar moet word. Party probeer die metode weerstaan deur ‘n onderskeid te tref tussen sogenaamde “hoër kritiek” en “laer kritiek”. So lank mens “laer kritiek” beoefen, is die historiese metode aanvaarbaar, maar die oomblik as dit “hoë” dinge aanraak, is dit onaanvaarbaar en “misleidend”. Die sogenaamde “hoër” en “laer” het NIKS MET DIE METODE TE DOEN HET NIE, maar met die konklusies. As die konklusies nie te lekker is nie, is dit “hoër” maar wanneer dit onskadelik geag word, is dit “laer”. (Die beskrywings hoog en laag het te doen met sogenaamde belangrikheid, met ander woorde, dinge soos belydenisse en wonderwerke is “hoë” goed en die manuskripte van die Bybel is “lae” goed. Ekself sal nooit die tekste van die Bybel as iets “laag” beskou nie).

 

Elk geval, die Jesus Seminar vergader sedert 1985, het meer as 200 lede en die resultate van hulle deliberasies tot dusver is in die volgende drie boeke gepubliseer: • Funk, F. W., Hoover, R. W., & The Jesus Seminar. (1993). The five Gospels: the search for the authentic words of Jesus. New York: Polebridge Press.
• Funk, R. W., & The Jesus Seminar. (1998). The acts of Jesus: the search for the authentic deeds of Jesus. New York: Polebridge Press.
• Funk, R. W., & The Jesus Seminar. (1999). The gospel of Jesus according to the Jesus Seminar. New York: Polebridge Press.

Die Jesus Seminar het ‘n webblad waar meer inligting te vinde is.

Daar het ook al ‘n respons verskyn vanuit die kringe van die Jesus Seminar oor al die sogenaamde kritiek: • Robert J. Miller (1999), The Jesus Seminar and its critics . New York: Polebridge Press (isbn 0-944344-78-X). Miller wys daarop dat die meeste kritici vyandige retoriek gebruik om ongemaklike vrae oor die Evangelies se historiese betroubaarheid te ontduik. Lees gerus ook sy artikel (‘n internetpublikasie) in die verband.

Let op, die Jesus Seminar is ‘n belangrike medium van inligting en stimulus tot refleksie. Dit is nie die belangrikste of die enigste sentrum van ondersoek en bron van inligting nie en allermins verhewe bo kritiek — ek herhaal maar die punt ‘n paar keer, want sommige mense (en sogenaamde geleerdes) wat met ons wil “praat” kan nie verstaan dat daar ‘n verskil is tussen iets aanbeveel as die moeite werd en mens se eie opvatting en benadering nie.

Die Westar Institute (wat die Jesus Seminar borg) publiseer ook ‘n paar tydskrifte , waarvan The Fourth R baie lesenswaardig is en dikwels goeie inligting in baie leesbare formaat aanbied. (Die naam “Fourth R” sinspeel op die Amerikaanse slagspreuk oor opvoeding: “The three R’s : r eading, w r iting and a r ithmetic”. Die tekortkoming is dan ” r eligion”.)

 

Daar moet ook onderskei word tussen die Jesus Seminar (en Robert Funk) se standpunte en die voortgaande gesprek en navorsing wat dit gegenereer het tussen die lede van die Seminar. Die lede van die Jesus Seminar beskou die Seminar se produkte as beginpunte , as tekste waarmee en waaroor dialoog gevoer kan word op soek na verdere insig. Met ander woorde, nadat mens die probleme en basiese aspekte met behulp van die Jesus Seminar verken het, is daar nóg veel te leer vanuit die publikasies van John Dominic Crossan en Marcus Borg, om maar net twee uit te sonder.
Nie een van ons (die nuwe hervormers) is lede van die Jesus Seminar nie — alhoewel daar ander Suid-Afrikaanse geleerdes is wat wél lede is. Ons standpunt spruit (onder andere) voort uit die onkunde wat rondom die historiese metode bestaan. Maar vir ons is vrae na historisiteit nog nie genoeg is nie. Historiese ondersoek handel nie net oor dit en dat wat in die verlede gebeur het nie, maar ook oor historiese verstaan . Om iets histories te verstaan, behels ook om jou in ‘n ander wêreld te kan verplaas; om te besef dat mense in ander sameleweings anders gedink het, ‘n ander verwysingsraamwerk gehad het, en op ‘n unieke wyse anders as ons geglo het. Daar is heelwat vanuit hierdie perspektief gedoen deur ons, byvoorbeeld in terme van geskiedenisfilosofie, antieke Judaïsme, mondelinge tradisies ensomeer, maar die voorwaarde om sulke besinning oor die Jesus Seminar te kontekstualiseer, is begrip van wat die probleme is en wat die stand van die kritiese beskouing is . ‘n Bietjie worsteling met konvensionele Nuwe Testamentiese wetenskap is onvermydelik. Die soort van gesprek wat ons wil voer is in die lyn van: Wat regtig gebeur het en wie wat wanneer gesê het, is uiters belangrike vrae. Maar dan moet daarna óók gevra word, wat beteken hierdie verhale/briewe/woorde? Nie net wie, wat en wanneer nie, maar veral ook waarom .

In die trant van die implikasies van die historiese Jesus ondersoek wil ek graag die volgende publikasies van die Jesus Seminar ook aanbeveel:

• The Jesus Seminar (2000). The once and future Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-80-1).
• Fellows of the Jesus Seminar (2001). The once and future faith. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-85-2).
• Roy W. Hoover (ed) (2002). Profiles of Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-94-1).
• Kathleen Corley (2002). Women and the historical Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-93-3).

‘n Volledige lys van al die publikasies van die Jesus Seminar en die lede daarvan is beskikbaar.

Daar is ook ander webbladsye wat sinvolle besprekings van die Jesus Seminar aanbied; ek beveel die volgende aan:
www.religion.rutgers.edu/jseminar/quest.html

Daar is natuurlik ‘n kleinhuisie vol webbladsye wat die Jesus Seminar afkraak. Ten spyte van heelwat pretensie het die goed nie veel om die lyf nie; die beskuldigings is bykans verbatim dieselfde (die Seminar se lede is onnosel en inkompetent, hulle ontken die bestaan van God, verwerp wonderwerke en die Bybel word bevraagteken; hierteenoor word beklemtoon dat Jesus het tog vir ons “sondes” gesterwe, en vir “ons” (lees: “net hulle”) siele opgestaan). Die Jesus Seminar se publikasies en hierdie teensprake praat net nie oor dieselfde goed nie. Vir my is meeste van dié blaaie bra vervelig, want dit verwys nie juis sinvol na die probleme waarmee ek worstel nie. Maar dis my opinie. Voorbeelde van die soort van reaksie op die Jesus Seminar is:
www.jesus-seminar.net
www.leaderu.com/orgs/probe/docs/jesussem.html
www.str.org/free/commentaries/ apologetics/bible/jsuf.htm

‘n Meer gesofistikeerde reaksie is die van Birger Pearson, wat hom toespits op die “nie-apokaliptiese” Jesus wat sigbaar word in die Jesus Seminar se voorstelling. Maar dit is nie kritiek om die Jesus Seminar se “veronderstellings” te verwerp net omdat dit nie joune is nie . Van Pearson se ander kritiek is vreemd, want hy deel heelwat van die konklusies van die Jesus Seminar.

 

Die Jesus Seminar en hulle navorsingsuitsette kan nie maklik geïgnoreer word nie. Selfs al voel mens verontrus oor wat hulle doen, moet daar erns met hulle werk en veral met hulle vraagstukke gemaak word. Die afsnypunt is nie hoe “ortodoks” die Jesus Seminar is nie, maar die vraag of die geskiedenis belangrik is of nie. As die geskiedenis belangrik is dan moet jou metodes en bronhantering dieselfde wees as waarmee ander historiese kennis verkry word. Wees tog net eerlik en gee òf die aanspraak op historiese feitelikheid op, óf sê duidelik en ondubbelsinnig wat is dan onhistories en hoekom.
Daar was ‘n tyd en ‘n plek toe baie mense alles in die Nuwe Testament op dieselfde lyn geplaas het: elke woord (van die vertaling) is presies net so waar en het presies net so gebeur. Iemand mag dalk so ‘n benadering vandag nog moontlik ag, maar daar is diegene wat nie meer so na die Nuwe Testament kan kyk nie, nie meer so daarna wil kyk nie, en ook oortuig is mens mag nie meer so na die Nuwe Testament kyk nie (as gevolg van waardes oor waarheid, geskiedenis, realisme, eerlikheid). Dit help nie om met ons te raas omdat ons dit nie so wil of kan doen nie.

Ek sluit af met twee aanhalings. Van Robert Funk: To be sure, I am not of the opinion that facts of themselves will provide us with the ultimate truth about Jesus, about ourselves, and about our world. But whatever we come to believe about those ultimate issues should be informed by the facts, insofar as we can discover them. I am not an empiricist, much less a positivist, contrary to some of my critics. But the pressure to discover all we can know about our past, about the history of Jesus, and about the physical universe has a cathartic way of disciplining our imaginations. En van Sallie McFague: “all theology must be rooted in the sense of reality current in our time.”
Opgedateer op : So 07 Aug 11