Deur: Diek van Wyk

In die rubriek Geestelike Literatuur op LitNet verskyn daar ‘n artikel van Christina Landman onder die titel Kan die Nuwe Hervormers ons gesond maak? waarin sy onder meer verwys na die boek Die Nuwe Her-vorming wat pas verskyn het. In die artikel stel sy die vraag of die alternatiewe diskoerse wat die nuwe hervormers aanbied, mense gesonder maak, of anders gestel: of die nuwe hervormers se Jesus wel aan gesonde mense se kant staan.

Sy betoog in die artikel dat die Suid-Afrikaanse samelewing siek is. En dan gaan dit in die eerste plek om psigies en spiritueel siek-wees, nie soseer om liggaamlike patologieë nie, hoewel dié daarby kan aansluit. Sy voer aan dat daar veral vier diskoerse oor Jesus is wat mense siek maak, nl. diskoerse oor die Jesus van die Piëtisme, die Fundamentalisme, die Charismatici en die apartheidskerke. Sy kyk vervolgens heel simpatiek na die alternatiewe diskoerse en simbole wat die Nuwe Hervorming aanbied, maar besluit dan tog dat dit nie genesing (kan) bring nie. Veral twee dinge pla haar van die nuwe hervormers. Eerstens vind sy dat die naam Nuwe Hervorming pretensieus is omdat wat die nuwe hervormers wil doen iets anders is as wat hervormers in die verlede gedoen het, en omdat hulle van die foutiewe veronderstelling uitgaan dat ons in ‘n post-moderne samelewing lewe. Tweedens beweer sy dat die nuwe hervormers studeerkamerteoloë is wat hulle nie voldoende met die pyn en verliese van mense buite hulle studeerkamers identifiseer nie en dus nie dié problematiek aanspreek nie.

Op die oog af kan dit dalk lyk of daar meriete in haar argumente is. Daar is inderdaad enkele opsigte waarin sy waarskynlik gelyk het. Maar dan vind ek dat daar in elke geval ‘n teenkant is wat oor die hoof gesien word en wat, om die minste te sê, ‘n meer genuanseerde prentjie vra.

Om met haar beswaar teen die naam “Nuwe Hervorming” te begin. Sy argumenteer dat die nuwe hervormers iets heeltemal anders wil doen as wat hervormers in die verlede gedoen het. As dit gaan om iets soos die Protestantse Hervorming van die 16de eeu, het sy gelyk. Die Nuwe Hervorming wil nie terug gaan in tyd nie (al staan dit simpatiek teenoor sekere apsekte van die vroeë Christendom) en dit is ook nie essensieel ‘n volksbeweging nie. En dit is baie waarskynlik dat die publiek “daarbuite” dit met die Protestantse Hervorming verwar. So ‘n verwarring sou egter op ‘n bepaalde, en onvolledige, siening van hervorming berus. Piet Muller wys in Die Nuwe Hervorming daarop dat die Christendom oor die eeue heen verskeie hervormings ondergaan het. ‘n Hele aantal daarvan verskil inhoudelik en struktureel net so veel van die 6de eeuse Hervorming as laasgenoemde van die Nuwe Hervorming. In die heeltemal geldige betekenis wat hy daaraan heg, kwalifiseer die Nuwe Hervorming inderdaad as ‘n hervorming.

Die Nuwe Hervorming veronderstel wel deeglik ‘n post-moderne perspektief. En Christina het groot gelyk dat ons nie in ‘n post-moderne samelewing leef nie. Maar dit beteken nie dat die nuwe hervormers die samelewing verkeerd lees nie. Daar is genoeg Suid-Afrikaners wat in die post-moderne idioom dink en probeer lewe en wat in die Nuwe Hervorming bevryding van pre-moderne godsdienstige diskoerse en nuwe ruimte vir spiritualiteit (kan) vind. Ter wille van hulle – en daar is meer van hulle as wat algemeen besef word – moet die Nuwe Hervorming se diskoerse op die tafel bly. Die post-modernes is egter nogtans ‘n klein persentasie van die samelewing. Sy moet dus gelyk gegee word dat die nuwe hervormers (voorasnog) nie ‘n massale navolging gaan kry nie en dat daar nie ‘n “hele hervorming” op die horison sigbaar is nie. Dit sluit natuurlik nie uit dat dinge later kan verander nie.

Ek glo nie die nuwe hervormers wil die diskoerstafeldoek met al die breekgoed en eetgerei daarop van die godsdienstige tafel aftrek en dit opnuut dek nie. As ek hulle reg verstaan, wil hulle ‘n nuwe alternatief op die tafel plaas terwille van diegene wat nie genesing deur die bestaande diskoerse oor Jesus – en ‘n hele paar ander aspekte van die Christelike godsdiens – vind nie. Dit is juis omdat hulle so ‘n nuwe, alternatiewe diskoers aanbied, dat daar tog ‘n veran-dering in navolging van die nuwe hervormers begin plaasvind, al is dit voorasnog heel beskeie vergeleke met hervormings van die verlede.

Haar tweede beswaar vind ek problematies. Ek is nie seker dat sy dit so bedoel nie, maar dit wil tog lyk of die basis van haar argument rus op die idee dat ‘n diskoers net goed is as dit vir die meeste mense nuttig is of genesing bring. Die diskoers wat die meeste terapeutiese waarde het, is die een wat gevolg moet word. Daarom behoort die nuwe hervormers volgens haar ‘n ander pad te volg. Of dit teologies aanneemlik is, weet ek nie. Dit moet die teoloë maar onder mekaar uitmaak; as leek wil ek my nie daaraan waag nie.

Dan is dit ook nie vir my duidelik watter diskoers volgens haar die aangewese alternatief vir die Nuwe Hervorming is nie, gegewe dat sy vier bestaande diskoerse as siekmakend verwerp. Aan die een kant meld sy van mense wat uit rystoele opstaan en hulle krukke weggooi omdat hulle met God hande gevat het, vermoedelik omdat hulle in die baan van ‘n bestaande diskoers beland het. Aan die ander kant sluit sy af met die gedagte dat teoloë tussen mense in hulle lyding en verliese moet gaan staan en saam nuwe woorde moet ontdek waarmee God se hande gevat kan word. Dit kan net een ding beteken: dat die regte diskoers nog gevind moet word.

Deel van ‘n genesende diskoers behels volgens haar dat Jesus se opstanding as “waar” oorvertel kan (of moet?) word. Die feit dat sy “waar” tussen hakies sit, sê vir my dat sy die opstanding nie as ‘n fisiese, historiese gebeure sien nie, maar, soos sy dit stel, as ‘n wonderlike narratiewe simbool wat helend werk. As dit die geval is, verskil sy nie prinsipieel van die nuwe hervormers nie. Dit sou hoogstens op ‘n aksentverskil en ‘n verskil in metode neerkom, miskien iets soos dat die historisiteit van die opstanding nie ter sake is nie, in plaas daarvan dat dit verwerp word. Dit hang natuurlik ook gedeeltelik saam met hoe die Christus-verhaal gelees word. Wat egter seker is, is dat die meeste nuwe hervormers die opstanding ewe-eens as ‘n simbool en ook as ‘n genesende waarheid beskou.

Die begrip “siek wees” en in verband daarmee “gesond word” moet ook van nader bekyk word. Soos sy dit gebruik, het siekwees betrekking op ‘n spektrum van spirituele, psigologiese en liggaamlike probleme of ongesteldhede wat ‘n skaal van minder na meer ernstig bestryk. Die implikasie is dat ‘n geloofsdiskoers se helende krag daarin lê dat dit mense die moed en die krag gee om hulle aan probleme binne dié spektrum te ontworstel en in uitsonderlike gevalle selfs om hul krukke weg te gooi en uit hul rystoele op te staan.

Die Nuwe Hervorming kan waarskynlik nog nie op dié stadium in sy CV skrywe dat hy genesing aan die ernstige kant van die siekte-spektrum, dit wil sê liggaams- en geesteskrankheid, bewerkstellig het nie. Maar as dit kom by die minder ernstige kant van die spektrum, spirituele eensaamheid, “disembodiment” en ontreddering – haar woorde – wil ek van haar verskil. In dié opsig werk die Nuwe Hervorming tog helend. Ek weet. Ek was self in daardie situasie. Nie geestessiek of liggaamlik krank nie, net in ‘n spirituele lugleegte as gevolg van godsdienstige diskoerse wat ek nie kon aanvaar nie. Dit was eers nadat ek met die Nuwe Hervorming kennis gemaak het dat ek ‘n weg na spirituele heelheid ontdek het wat vir my werk. Ek is nie die enigste een nie. Daar is baie wat dieselfde storie kan vertel.

Ek wil dus aanvoer dat die Nuwe Hervorming tog helend werk, weliswaar nie vir almal nie, nie op die dramatiese skaal van fisieke genesing en moontlik ook nie op die vlak van geestesongesteldheid nie, maar wel waar spirituele heelheid ontbreek. Daarom het dit afgesien van akademies teologiese oorwegings tog bestaansreg; dit moet ter wille van ouens soos ek op die godsdienstige diskoersmark genoteer word. Al sou die nuwe hervormers dan net studeerkamerteoloë wees – wat ek betwyfel – is hulle wel deeglik bewus van die spirituele nood van ons wat nie vat kan kry aan die bestaande diskoerse in die godsdienstige mark nie. In dié opsig staan hulle langs ons in ons nood.

Ek moet saamstem met haar slotsom dat dit nodig is dat teoloë tussen mense in hulle lyding en verliese moet gaan staan en saam nuwe woorde moet ontdek waarmee God se hande gevat kan word. Ek wil egter betoog dat dié nuwe woorde ‘n meta-diskoers, ‘n diskoers oor diskoerse, moet wees wat mense help om langs die weg van diskoerse wat vir hulle werk, genesing te vind, of dit nou piëtisties, fundamentalisties, charismaties, die diskoers van die nuwe hervormers of enige ander diskoers is. Want ek dra ook kennis van mense wat via die diskoerse wat sy afwys, my teëgaan en sekere mense siek maak, in een of ander vorm genesing gevind het. Dié meta-diskoers moet ‘n diskoers wees wat erns maak daarvan dat daar in die huis van die Vader vele woninge is en dat teoloë, elk in die lig van haar/sy insig en oortuigings, die verskeidenheid paaie daarheen moet belig sodat siekes, elk volgens sy/haar behoeftes en geaardheid, ‘n weg kan vind waarlangs genesende tuiskoms plaasvind. Dit is ‘n benadering wat die nuwe hervormers sal onderskywe. Dit blyk nie net uit wat hulle in Die Nuwe Hervorming en op hierdie webwerf te sê het nie, maar ook uit hul standpunt dat die Christelike godsdiens horisontaal, en nie vertikaal nie, teenoor ander religieë gestel moet word. As ander godsdienste blikke op die misterie van God kan hê, volg dit dat daar binne die Christendom ook verskillende invalshoeke op Hom kan wees.

My antwoord aan Christina is dus: Nee, die Nuwe Hervorming kán ons gesond maak en maak ons inderdaad gesond, al is dit (voorasnog) nie op die skaal van ‘n “hele hervorming” nie.
Opgedateer op : Sa 06 Aug 11