Die NG Kerk is in die moeilikheid, en diep ook – laat dít nou maar vir eens en vir altyd hardop gesê word, sonder om agter valse harmonie en peïtistiese gemeenplasighede te skuil. Twee statistieke is onder die talle tekens van die moeilikheid. Elders in vandag se uitgawe verwys dr. Auke Compaan daarna dat soveel as 50% van die NG-gemeentes in die voormalige Transvaal “in ‘n oorlewingstryd gewikkel is”. En waar 99% van alle Afrikaners in 1980 aan een van drie Afrikaanse susterskerke behoort het, is dit vandag 50%, met die grootste verlies na die kant van die charismatiese beweging – en waarvan die NG Kerk ongetwyfeld die leeueaandeel gelewer het.

In sy verslag van die pas afgelope NG-predikantekonferensie in Bloemfontein verwys Compaan na drie faktore wat die Christelike kerk wêreldwyd teister, naamlik die ineenstorting van die idee van ‘n God wat alles tot in die fynste besonderhede beheer; dat die personalistiese taal waarmee oor God gepraat word vir baie mense nie meer in ‘n postmoderne wêreld iets beteken nie; en dat die kerk sukkel om van ‘n maatskaplike moralisme los te kom. Wat die NG Kerk self betref, verwys Compaan na die volslae afwesigheid van besinning oor die charismatiese verskynsel, die ekonomisering en privatisering van die kerk, of kerkvereniging. Hierby kan ‘n mens nog die kwessie van homoseksualiteit en die hantering van die jeug voeg.

Hierdie krisis woed teen die agtergrond van ‘n gebrek aan leierskap in die NG Kerk; ‘n gebrek aan denke en gesprek met ons tyd; en ‘n teologiese eerder as liturgiese reaksie op die charismatiese verskynsel.

Wat ‘n gebrek aan leierskap betref, is daar al hoe meer tekens dat die huidige moderator, dr. Coenie Burger, op harmonie bo alles ingestel is, in plaas daarvan om die moeilike vraagstukke van reguit te takel. Tot dusver in Burger se moderatorstermyn is daar nie oor ‘n enkele brandpunt ‘n duidelike standpunt ingeneem nie, en dreig die poging om alles vir almal te wees om die NG Kerk die kreeftegang van vele ander historiese Afrikaner-instellings te laat gaan. Burger se onlangse onderhoud met Rapport was ontstellend niksseggend, en het veral mank gegaan aan ‘n deeglike en dapper omgang met die vrae van ons tyd. Wanneer instellings in krisis aan leierskap mank gaan, word die weg altyd vir konserwatiewe elemente voorberei, soos pas weer deur die oorwinning van die konserwatiewe Mahmoed Ahmadinejad oor die hopeloos gekompromitteerde hervormingsgesindes in Iran se presidentsverkiesing bewys is. Daar is juis reeds sprake van ‘n konserwatiewe volkskerkfaksie in die Vrystaat wat hulle oog op die moderatorsamp het.

Wat ‘n gebrek aan denke en gesprek met ons tyd betref, is daar die afgelope jare minstens in openbare standpunte deur meningsvormers in die NG Kerk oorwegend ‘n volslae onvermoë om sosiologies en histories oor die NG Kerk na te dink. Die wel en wee van die NG Kerk is onlosmaaklik verbind aan dié van die Afrikaners, en ‘n polities korrekte versugting om teen die agtergrond van historiese vergrype hierdie band te misken, verdoem die NG Kerk daartoe om nie insig in sy eie situasie te ontwikkel nie. So byvoorbeeld het die verstaatliking van die NG Kerk saam met die breë Afrikanerwêreld na 1948 die vreespsigose wat tussen 1902 en 1948 onder Afrikaners posgevat het, geïnstitusionaliseer. Meer nog het die ontstating wat vanaf 1994 met Afrikaners gebeur het, die NG Kerk ook getref, haas vyftien jaar nadat die charismatiese beweging hom van binne begin rysmier het. Ongelukkig het 46 jaar se knusse verhouding met die staat die NG Kerk se vermoë tot selfkritiese denke klaarblyklik ernstig aangetas. Dit is dan ook waarom die NG Kerk in gebreke bly om met ons tyd te doen wat Danie Goosen vir die kerk as sodanig voorstel, naamlik om ‘n verwoestende aanval op ons tyd te loods. Die neo-liberale wêreldwanorde, die ekologiese krisis, politieke ongeregtigheid, armoede, VIGS en die ontbinding van die Afrikaner as gemeenskap, wat met enorme simboliese ellende gepaardgaan, is dinge waaroor die NG Kerk met ‘n plaaslike tradisie van 350 jaar ongetwyfeld eiesoortige standpunte sou kon stel, maar waaroor daar oorwegend niks of niks besonders gesê word nie. Is dit dan ‘n wonder dat die NG Kerk soveel gesag by sy lidmate ingeboet het en steeds inboet?

Wat die charismatiese verskynsel betref, is dit onmoontlik te verstane sonder die ineenstorting van Afrikaner-nasionalisme vanaf die tweede helfte van die 1970’s en die opkoms van die videosfeer, oftewel die visuele era, onder Afrikaners. Die charismatiese verskynsel is die nuutste inkarnasie van die gnostiek, en dan ‘n gnostiek vir die arm man, of, in hierdie geval, die ryk man. Onder Afrikaners teer die charismate op die simboliese ellende van die Afrikaners wat voortspruit uit die heengaan van ‘n eie simboliese orde, en wat lei tot ‘n gnostifikasie van die Afrikaners, waar mense glo dat hulle individueel regstreekse toegang tot die waarheid kan kry. Op ‘n vraag oor wat die moontlikheid van ekumeniese samewerking met die charismate is, het ‘n besoekende Amerikaanse teoloog onlangs geantwoord: “Geen, dit is die vyand.” Minstens verstaan hierdie teoloog waarmee die kerk vandag te make het. Ongelukkig is die beste antwoord wat die NG Kerk op die gnostifikasie van die Afrikaner gee – charismate vir die rykes, Nuwe Hervormers vir die intelligentsia – ‘n teologiese een, terwyl dit by uitstek ‘n liturgiese antwoord moet gee. Die charismate het geen teologie nie, terwyl die Nuwe Hervormers net ‘n teologie het: gewone mense soek nóg die een, nóg die ander, maar iets soos ‘n nuwe denkende gereformeerde dramatiese ruimte.

Daar is gelukkig blyke van oplaaiende opstand in die geledere van NG predikante en lidmate. Veral jonger en vroulike predikante en teoloë is hier prominent. Mag hulle die waagmoed en die politieke durf hê om die stryd om die siel van die NG Kerk aan te knoop, want so nie is die vergetelheid of historiese koddigheid straks die voorland van die NG Kerk.
Opgedateer op : Sa 06 Aug 11