Lank voor die ontdekking van hominied-fossiele, het bioloë reeds besef dat die mens nie slegs aan die ape verwant is nie, maar nog steeds ‘n aap is.  Aristoteles en Hippokrates het reeds meer as 2200 jaar gelede die ooreenkomste tussen mense en ander ape raakgesien.  Galenus van Pergamum was reeds ongeveer 1800 jaar gelede die eerste wetenskaplike wat deur disseksies die ooreenkomste tussen mense en ape bewys het en het geskryf: “Die aap is die naaste aan die mens wat interne organe, spiere, slagare, are, senuwees en beenvorm betref.”  Die ape waarmee Aristoteles, Hippocrates en Galenus te doen gekry het, was almal natuurlik stert-ape (“monkeys”), aangesien grootape nie in Europa, Noord-Afrika of die Midde-Ooste (die Klassieke bekende wêreld) voorkom nie.  Die eerste groot-aap wat tot aandag van die Westerse wetenskap deurgedring het, was ‘n sjimpansee wat in 1699 deur Edward Tyson gedissekteer is.  Hy het gedink dat hulle uiteindelik die pigmeë ontdek het wat deur die Klassieke Grieke beskryf is, en beskryf sy “pygmie” as “geen mens nie, en ook nie ‘n gewone aap nie, maar ‘n soort dier tussen albei”.

Die woord primaat, wat ons allerweë met ape verbind, was oorspronklik deur die agttiende-eeuse bioloog Carl Linnaeus geskep om die mens saam met die res van die diereryk te klassifiseer.  Carl Linnaeus wat bekend geword het as die vader van die taksonomie, het in 1758 die Orde Primata geskep om die mens, Homo sapiens, die ”kroon van die skepping” onder die soogdiere te huisves.  Die woord primaat is van die Latynse woord “primus”= eerste afgelei, en is geensins ‘n belediging nie aangesien dit die eerste of belangrikste van alle skepsels sou aandui, trouens die pous se titel is die “primaat van die kerk”.  Linnaeus het alle ape, dws. stertape en grootape soos die sjimpansee, gorilla en orangoetang, lemurs en nagapies saam met die mens as primate op grond van ons morfologiese ooreenkomste geklassifiseer.

Die klassifikasie van organismes word op grond van hulle homoloë, d.w.s. gemeenskaplik verworwe, morfologiese eienskappe gedoen.  Deesdae speel genetiese studies ‘n groot rol in die bepaling van die genetiese ooreenkomste (en verskille) en dus verwantskappe tussen spesies.  Morfologiese navorsing sluit die studie van vergelykende morfologie, embriologie en paleontologie in.  Beide morfologiese en genetiese navorsing het oorweldigende bewyse gelewer dat mense en ander ape, veral die grootape, naverwant is.  Die fisiese ooreenkomste tussen mense en grootape is so groot dat kenmerke slegs in graad verskil maar nie in aard nie – ons het bv. korter arms, langer bene, groter brein en is minder harig as die ander ape.  Geneties is daar eweneens ‘n groot ooreenkoms tussen veral die mens en die sjimpansee, ons naaste lewende verwant – ons aktiewe gene verskil met so min soos 1.2% en teoreties sou dit moontlik wees om mense en sjimpansees te kruis.

Aangesien die res van die ape anatomies en fisiologies so na aan mense is, word daar tans meer as ‘n kwartmiljoen ape per jaar in laboratoriums verbruik om inentings, medisyne, grimeermiddels, sepe, orgaanoorplantings en nog meer op te toets voordat dit aan mense beskikbaar gestel word.  Die inligting wat ons verkry uit die studies van ape se endokrinologie, neurologie, gedrag, sielkunde, anatomie en fisiologie stel ons in staat om die mens en sy herkoms beter te verstaan.

Dis belangrik om te onthou dat die ooreenkomste tussen mense en ander ape reeds vir meer as twee duisend jaar reeds bekend is, lank voor die ontdekking van aapmensfossiele of die ontstaan van paleoantropologie as vakgebied.  Groot vordering op die terrein van paleoantropologie was oor die afgelope eeu gemaak na die ontdekking van die eerste aapmens-fossiel in 1924 deur ‘n mnr. De Bruin by die kalkmyn naby Taung in Noordwes.  Tans is die hominied stamboom veel meer bosserig as wat oorspronklik voorspel is aangesien ons reeds ten minstens 15 verskillende spesies hominiede, wat oor die afgelope 4.5 miljoen jaar geleef het, kon identifiseer.  Hominiede is al die mensagtige spesies wat ontstaan het vanaf die gemeenskaplike voorouer, wat ons met die sjimpansees deel, tot by die anatomies moderne mens.  Hominiede sluit dus aapmense, oermense en die moderne mens in.  Tans is daar reeds duisende fossiele van ten minstens 600 individuele Australopithecus africanus-aapmense by Sterkfontein Grotte alleen ontdek.  Tesame met die hominied fossiele, wat by tientalle opgrawings in Afrika en Eurasië ontdek is, kan ons ‘n redelike akkurate prentjie van die evolusie van die mens en verwante spesies bymekaarbring.

Baie van hierdie hominiede was tydgenote en dit was nie vreemd om tot drie tot vier spesies hominiede terselfdertyd op aarde te vind nie.  As dit snaaks klink dink maar aan sentraal Afrika waar daar vier verskillende antropoïed-aap spesies nl. die bonobo, sjimpansee, gorilla en mens voorkom – die leser moet net in gedagte hou dat benewens die eersgenoemde twee spesies, die bogenoemde voorbeelde verder van mekaar geneties verwyder is as wat die tydgenootlike hominiede in die oertyd was.

Die aapmens Australopithecus africanus het ongeveer 2.2 miljoen jaar gelede aan die eerste oermense – Homo habilis – oorsprong gegee.  Hierdie oermense was ook die eerste hominiede wat wapens en gereedskap nie slegs kon gebruik nie, maar ook kon maak.  Hulle was ook die eerste hominiede wat in grotte gebly het – duisende van hulle werktuie is in die oergrotvulsels by Sterkfontein en Swartkrans opgegrawe.  Voor die besetting van grotte deur oermense was grotte bewoon deur karnivore soos sabeltandkatte, luiperds en die talle hiëna-spesies wat toentertyd in suider Afrika voogekom het.  Daar is ‘n rede vir die hoë voorkoms van aapmensreste in die oergrotte – te oordeel aan die tandmerke aan die bene was aapmense deur karnivore in die grotte opgevreet.  Homo habilis kon m.b.v. sy wapens die karnivore uit die grotte dryf en self dit beset wat tot groot voordeel vir hulle was.  Trouens die gewoonte van die mens om in grotte te bly was die reël eerder as die uitsondering vir die afgelope twee miljoen jaar en mens vind vandag nog grotbewoners.

Aapmense was die eerste hominiede wat regop geloop het.  Regoplopendheid was ‘n besondere evolusionêre deurbraak wat ons in staat gestel het om op grasvlaktes te oorleef.  Ongeveer 4.5-5 miljoen jaar gelede het die klimaat sodanig verander dat Afrika begin verdroog het – ‘n proses wat vandag nog steeds voortduur.  Grasvlaktes wat meer droogtebestand is, het mettertyd die oerwoude, wat die grootste deel van Afrika bedek het, begin verdring.  Die naasverwante grootape het steeds in die oerwoude gebly en was van die staanspoor optimaal aangepas vir oorlewing in die reënwoude van Afrika en Asië.  Ongeveer 4.5 miljoen jaar gelede het die eerste hominiede hul verskyning gemaak en volgens die skelette was die aapmense ten minstens teen 3.5 miljoen jaar gelede reeds goed aangepas vir regoplopendheid.  Die vermoë om regop te loop het aapmense in staat gestel om oor die grasvlaktes te kon sien en sodoende prooi en predator te kon raaksien.

Naas ‘n spesiaal heraangepaste bekken, ruggraat, voete en skedelbasis om regoplopendheid moontlik te maak, moes die snoet ook verklein.  Die verkleining van die snoet was genoodsaak sodat die hominiede met randsig tot by hul voete kon sien – as die snoet so groot soos dié van ‘n sjimpansee was sou hulle heeltyd oor graspolle, klippe en gate struikel omdat hulle nie tot by hulle voete sou kon sien nie.  In die verkleiningproses van die snoet het die groot slagtande, wat tipies van alle ander grootape is, in die slag gebly en in die plek daarvan het hominiede verpotte klein oogtandjies oorgehou.  Ape se natuurlike vyande, in woude en op grasvlaktes, is katte en ape se enigste verweer is hulle groot slagtande.  Meeste ape is nie karnivore nie maar spesialis herbivore, nl. vrugtevreters en kan mens dus aflei dat die rede vir die groot slagtande selfverdediging is.

Met die verlies van hulle groot slagtande was aapmense uitgelewer aan die genade van die groot katte en hiënas op die grasvlaktes, dikwels vêr van bome waarheen hulle naasverwante grootape toevlug kan neem as hulle bedreig word.  Vir meer as 4 miljoen jaar tot vandag het hominiede klein oogtande waarmee hulle hulself beswaarlik kon verdedig teen die groot katte wie se prooi hulle was. Dit is dan ook die rede vir die groot getalle aapmens-oorblyfsels by karnivoorlêplekke soos Sterkfontein.  Aapmense moes, as ‘n populêre dieëtkeuse van groot katte, ‘n ander oorlewingstrategie ontwikkel – soos menige ander spesie onder aan die voedselketting, het aapmense soos rotte en hase begin aanteel.  Alhoewel hominiede nie meer as een, hoogstens twee babas op ‘n keer gekry het nie, ovuleer vrouens maandeliks en is ons regdeur die jaar seksueel aktief, pleks van net een keer per jaar soos baie ander aapspesies.  ‘n Hoë aanwasvermoë was ons enigste verweer teen predasie in ‘n omgewing waar daar baie groot karnivore en min wegkruiplek was. Geneties is die mens geprogrammeer om hiperseksueel te wees in vergeleke met ander groot soogdierspesies.

Met behulp van ons tegnologie soos wapens en vuur, verplaas en dood hominiede die diere wat ons bedreig wat uiteindelik tot die uitwissing van grotbere, sabeltandkatte en -tiere en die drastiese vermindering van ander groot katspesies gelei het.  Die mens, soos die res van die ape, bly steeds die groot katte se natuurlike prooi.  Talle mense word jaarliks deur leeus, tiere of luiperds aangeval en, les bes, gevreet.

Die mens tree boonop nog steeds soos ‘n prooispesie op.  Die rede vir die oorbevolking van die aarde is direk te wyte aan die optimale voortplantingstrategie van die mens en die gepaardgaande uitwissing van die predatore wat die ekologiese teëwig is wat ons getalle in toom moet hou.  Nie eers oorloë stuit die mens se aanwas nie – trouens, ongeag die dood van tot miljoene mense is daar gewoonlik ‘n skerp styging in bevolkingsgetalle na ‘n oorlog weens die verhoogde seksuele aktiwiteit van mense wat in haglike toestande leef.

Hierdie hiperseksuele geaardheid word ook in ons religieë bespeur.  Meeste volkere het verskeie religieuse seksuele taboes en voorskrifte en sosiaal-religieuse rites rondom volwassewording wat met inisiasie van adolessente gepaardgaan en die geslagtelike beklemtoon.  Afhangende van die verwysingsraamwerk van die groep, word die seksuele óf beklemtoon, óf onderdruk.  Mens vind selfs ‘n mengsel van beide neigings in sekere groepe afhangende van die seisoen, of feesdag, of invloed van naburige religieë, maar selde vind mens ‘n religie wat totaal neutraal teenoor die seksuele staan.

Vrugbaarheidskultusse val in die kategorie van die religieë waar die seksuele beklemtoon word.  Die vrugbaarheidsbeeldjies van die Paleolitiese tydperk is ‘n sprekende voorbeeld van hierdie neiging.  Die Venus van Willendorf (ongeveer 25 000 jaar oud) met haar voluptueuse figuur met groot boude en borste en duidelik beklemtoonde vulva is maar een van die talle soortgelyke beeldjies wat op verskeie plekke in Eurasië ontdek is.  In rotskuns in Afrika, Eurasië en Australië word vroulike figure met vergrote geslagdele en borste, dikwels in die proses van baring, uitgebeeld terwyl manlike figure dikwels met ereksies uitgebeeld word.  Religieë waarin vrugbaarheidsrites ‘n belangrike rol speel was algemeen in Eurasië en bestaan steeds hier en daar veral in die Ooste, die tuiste van die beroemde Khajuraho-tempel met sy erotiese standbeelde en waar offers vandag nog by lingam of fallus-standbeelde neergesit word.

‘n Verwysing na ‘n Moeder Aarde en ‘n Vader Lug is ‘n algemene verskynsel onder die Indo-Germaanse volke en weerspieël moontlik iets van die oorspronklike religie van hulle voorsate in Sentraal Europa.  Moeder Aarde is gesien as die skepper en onderhouer van lewe en offers is vir haar gebring om volop kos en vrugbaarheid te verseker.  Moeder Aarde was die natuurlike aanknopingspunt of inspirasie van vrugbaarheidskultusse waarin verwysings na seks en selfs openlike seks ‘n belangrike rol gespeel het.  In hierdie religieë speel die vrou ‘n belangrike rol en in sekere gevalle was sy die middelpunt van die sosiale en religieuse bestel, ten minstens op sekere seisoene en vir sekere rites.  Priesteresse en vroulike shamans (soms was daar na hulle verwys as “tempelprostitute” deur vyandige naburige volke) is nie vreemd in hierdie religieë nie en het as verteenwoordigers van Moeder Aarde opgetree.

Boerdery-bedrywe dateer terug na die Neolitiese tydperk (12000-9000 jaar gelede) en ontstaan in die suidweste van Asië en Sentraal Europa met die domestikering van diere.  Oorspronklik het Neolitiese mense met skape en bokke geboer, maar teen 9000 jaar gelede was beeste ook reeds gedomestikeer en die eerste landboubedrywe het begin met die domestikering van sekere plante, soos koring en gars.  Landbou het ook tot die oorsprong van die eerste permanente of semi-permanente nedersettings gelei. Teen ongeveer 8000 jaar gelede het groot stede soos dié by Çatal Hüyük en Ur die lig gesien.

Die Vader Lug religieë kom ook sterk na vore vanaf die aanbreek van die Bronstydperk ongeveer 5000 jaar gelede toe landbougereedskap en wapens reeds in die Midde-Ooste uit brons vervaardig is.  Teen ongeveer 2800 jaar gelede was yster en later staal gebruik om gereedskap en wapens te maak.  Daar is ‘n sterk korrelasie tussen die manlike beheer van die metaalsmeltery en die werktuigvervaardiging-industrieë en religieuse ontwikkeling.  Vanaf die Bronstydperk was meeste Indo-Europese religieë reeds deur manlike priesters en shamans beheer en was die fokuspunt ‘n manlike deïteit.  Met tegnologiese ontwikkelings soos die ploeg en eg het die mens beheer gekry oor die vrugbaarheid van die aarde. Moeder Aarde se vrugbaarheid is getem en van misterie gestroop en die vroulike religieë is daarmee saam deur die manlik-gedomineerde Vader Lug religieë verdring.

Die tegnologiese revolusie in die landbou het tot die domestikering van verskeie gewasse soos koring en rys en verskeie ander groentesoorte gelei.  Een van die gevolge van ‘n landboukultuur was die totstandkoming van stede, die vervaardiging van ‘n landbousurplus wat opgegaar en verhandel kon word wat, benewens die ontstaan van ‘n middelklas en ‘n handelaarkaste, ook meer vrye tyd vir die gemiddelde mens gegee het.  Beide handel en vrye tyd skep die teelaarde vir die ontwikkeling van syfers en skrif.  Alhoewel Moeder Aarde nou deur manlik-beheerde instrumente gepenetreer, bevrug en haar opbrengs daarmee gestroop kon word, kon die mens nog nie die weer beheer nie.  Die mens het in moeilike tye, soos droogte, hulle oë van die grond gelig en na die hemele opgeslaan vir hulp.

‘n Algemene kenmerk van hierdie manlike luggode soos Tiwe, Thor, Baal, El,  Brahman, Zeus en Jupiter was dat hulle die weer en spesifiek weerlig beheer het.  Dus bid mense vir reën en nie om die verspoeling van die bogrond te keer, of die vrugbaarheid van hulle gewasse en vee te verseker nie.  ‘n Mens sien dit ook duidelik in die Bybel waar Elia en die Baalprofete op die berg Karmel vir hul onderskeie deïteite bid om hul brandoffers met weerlig aan die brand te steek.  Daar is verwysings in die Bybel na Moses wat teen die berg opgegaan het om die tien gebooie op die bergtop, gehul in ‘n wolk en weerlig te ontvang en toe Moses teen die berg afkom, na sy interaksie met El, het sy gesig soos weerlig gestraal.  Tot onlangs toe was dit ‘n algemene verskynsel onder Afrikaanssprekendes om te glo dat mens die aangesig van God in ‘n weerligstraal sou sien en was gordyne toegetrek, blink voorwerpe soos spieëls en skêre (wat die aangesig van God sou weerkaats) toegegooi of gebêre.  Alhoewel die sinkritisme tussen die Noorse en Christelike religieë bykans soomloos is, is die taboe onder baie Afrikaanssprekendes om die weer te vloek en die feit dat woorde bliksem en donder as vloekwoorde beskou word, eerder ‘n oorblyfsel van die Germaans/Noorse Thor-aanbidding as ‘n verwysing na ‘n Midde-Oosterse deïteit.

‘n Meer sinistere nadraai van die religieë wat om manlike deïteite wentel,  is dat daar ‘n onderdrukking van seksualiteit en ander normale liggaamlike behoeftes soos voeding en blote oorlewing voorkom.  Die onderdrukkig kring verder uit na die aftakeling en onderdrukking van die individu, die jeug en veral vroue.  Religieë het bitter weinig te doen met die esoteriese, buiten die afleiding dat dat ons waarneembare liggaamlike in die weg staan van die onwaarneembare en haas onbereikbare geestelike en die liggaamlike dus onderdruk moet word om die geestelike te bereik.

Die onderdrukking van normale oorlewingsdrange in hierdie religieuse konteks wek ‘n tipe skisofrenie.  Mense is geprogrammeer om bv. seksueel hiperaktief te wees, maar hulle mag nie.  Dit lei uiteraard tot allerlei seksuele afwykings, inhibisies, skuldgevoelens en sporadiese promiskue uitbarstings – genoeg daarvan om vir etlike eeue nog aan duisende huweliksberaders, seksoloë, maatskaplike werkers, pastorale sielkundiges ens. werk te verskaf.

‘n Paar voorbeelde van die negatiewe gevolge van die onderdrukking van die seksdrang is bv. die vergrype, seksueel en andersins wat dikwels tydens ‘n tradisionele karnaval plaasvind.  Die karnaval (letterlik vleisfees) vind plaas na die Pase waartydens mense in Katolieke lande vas en hulle van seks onthou.  Tydens die karnaval maak hulle op vir die ontbering waardeur hulle die vorige weke gegaan het, met rente.  Die onderdrukking van die seksdrang kan ook oorsprong aan afwykende gedrag gee – dink maar aan die onlangse skandaal in die Katolieke kerk toe dit tot die lig gekom het dat talle priesters in verskeie lande met jong seuns pedofilie gepleeg het.  Almal wat koerant lees sal weet dat pedofilie nie net tot die Katolieke kerk beperk is nie, maar dat dit ook sporadies in Afrikaanse kerke voorkom.  Dit is waarskynlik meer algemeen as wat mens dink in gemeenskappe waar die individu bykans geen regte het nie, die jeugdige nog minder, en die seksueel-onderdrukte geestelike leier in ‘n magsposisie jeens die lidmate staan.

Wat noop mense om te dink dat die manlike deïteit die onderdrukking van die seksdrang vereis en in sekere gevalle selfs seksuele onthouding goedkeur?  Seksuele onderdrukking is nie uniek aan die mens nie en kom in baie ander sosiale soogdiergroepe voor.  Aaptroppe word, soos meeste ander sosiale soogdiere, gewoonlik deur ‘n dominante mannetjie wat die alfa-mannetjie genoem word gelei.  Manlike dominansie kom algemeen by sosiale soogdiere voor maar nie by almal nie – in die geval van wildehonde en hiënas word die trop deur ‘n alfa-wyfie gelei en in die geval van wildehonde mag slegs sy as ‘n reël voortplant.  Soms laat ‘n alfa-wyfie ander ondergeskikte wyfies voortplant maar dan neem sy dikwels die werpsel oor as sy nie die kleintjies doodbyt nie.

Die verskynsel van die alfa-mannetjie gaan gepaard met die onderdrukking van die ander mannetjies.  Hierdie onderdrukking manifesteer op verskeie maniere maar behels ‘n kombinasie van fisiese en emosionele afknouery, sosiale manipulasie en gaan oor die beheer oor die individu se sosiale posisie, sy vermoë om voort te plant, te eet en veilig te voel.  In baie gevalle is die afknouery van so ‘n aard dat die submissiewe mannetjies se groei beperk word en selfs hulle hormoonproduksie wat hul voortplantingsvermoë beheer, geïnhibeer word.  In die geval waar ondergeskikte wyfies deur ‘n alfa-wyfie afgeknou word, word hulle ovulasie onderdruk.

Alhoewel baie individue nooit die kans kry om te paar nie en met ‘n gamma-status vir die res van hulle lewe tevrede moet wees, is hulle sosiale status in meeste spesies nie permanent nie en kan ons ‘n individu kry wat deur sy leeftyd vanaf ‘n gamma-mannetjie status as jongeling tot by beta-mannetjie status as volwassene vorder.  As hy die bou en die geaardheid het, kan hy die alfa- mannetjie uitdaag vir leierskap van die trop.  Indien hy nie slaag nie kan hy onttrek en volgende jaar weer probeer of weggaan en saam met ander individue ‘n nuwe trop begin.  Wanneer die mannetjie oud word en sy leierskap verloor, word hy weer ‘n gamma-mannetjie.

Die uiterste geval van sosiale gedrag, of eusosialisme, in soogdiere is sekerlik die naakte molrot.  Net soos in die sosiale insekte soos bye, miere en termiete, plant slegs die koning en koningin voort en word die ander individue as slawe gebruik wat die nes moet skoonmaak, kos moet versamel, tonnels bou, ens.  Die slawe word konstant afgeknou deur die koning en koningin wat ‘n diepgaande emosionele, fisiologiese en uiteindelik fisiese uitwerking op die slawe het – hulle bly klein, submissief en word steriel nes werkerbye, -miere en -termiete.

Hoekom sou ‘n individu hom- of haarself aan sulke omstandighede onderwerp?  Die alfa-mannetjie beskerm die trop en die individue onder hom voel relatief veilig.  Die alfa-mannetjie neem al die besluite en sekere risikos names die trop.  Nes ape, smag mense na ‘n leier, soos Elsa Joubert se boek “Ons wag op die kaptein” se titel dit so goed uitdruk.  Ongeag hoe groot die gemiddelde mens se vryheidsdrang is, is die versugting om geregeer te word nog groter.  Meeste mense hou nie daarvan om uiteindelik verantwoordelikheid en radikale besluite te neem nie en verkies om agter ‘n sterk leier aan te loop.

Ongelukkig is meeste alfa-mannetjies jaloers en is ingestel op eie gewin.  Hy beskerm die trop, maar mag ook van ander individue verwag om hulself op te offer.  Hy eet ook eerste en die beste kos en hy bepaal wanneer ondergeskiktes mag eet.  Dikwels is dit net hy wat mag paar en toegang tot al die wyfies het en sodoende sy gene oordra.  Indien ondergeskikte mannetjies toegelaat word om te paar mag dit slegs met sy goedkeuring geskied.  Mense, met die genetiese bedrading van ape, beleef die manlike deïteite soos ondergeskikte ape die leierskap van ‘n alfa-mannetjie van hul trop ervaar.  Ons konstruksie van manlike deïteite is ‘n alfa-mannetjie omdat ons deïteite in ons beeld skep.

Soos die alfa-mannetjie besluit wie wanneer, wat en waar mag eet, doen religieë dit deur allerlei voedselreëls oor byvoorbeeld kosjer- of halaalkos en gebedsrites met etes. In verskeie religieë word uithongering soos vas beskou as ‘n metode om die spirituele te voed en die liggaamlike te onderdruk.  Die priesterkaste vanaf die Weste tot die Ooste word dikwels gekenmerk aan hulle asketiese lewenswyse en baie peïtistiese gelowiges volg hulle voorbeeld.

Soos alfa-mannetjies die trop se voortplanting beheer, vind ons dat baie van die post-Neolitiese Indo-Germaanse religieë gekenmerk word aan die onderdrukking en beheer van seksualiteit.  Dit kan wissel vanaf seksuele onthouding, kastrasie, genitale mutilasie tot die beheer van seks deur godsdienstige rites soos troues en gedwonge monogamie.  Jesus was oorspronklik ook nie deur die vroeë Christelike kerk as God beskou nie maar as ‘n spirituele leier en voorbeeld vir die mensdom, daarom is dit ook belangrik vir Christene dat Jesus nie sou trou of kinders hê nie.  Jesus kan dus nie die voorreg geniet om soos El met ‘n vrou omgang te hê nie, trouens dit sal allerlei absurde en insesagtige implikasies hê as Jesus as deel van die drie-eenheid deur Maria homself verwek het.

Daar word van priesterkastes van verskeie religieë, wat as voorbeeld vir die gemeenskap moet dien, verwag om selibaat te wees soos in die geval van die Eseense priesterkaste en Christelike en Boeddistiese monnike en nonne en Vestaalse maagde.  Dit is belangrik om te let op die feit dat die priesterkaste sentraal staan in hierdie onderdrukking en beheer van seksualiteit.  Dit is die priesterkaste wat troues bevestig, besnydenisse en soms selfs kastrasies doen, masturbasie afkeur en selibasie voorskryf.  Die priesterkaste hou dit voor dat die deïteit hierdie onderdrukking vereis.  In teenstelling kon die manlike deïteit soos Thor, Heimdal, Zeus, Jupiter, El na willekeur met menslike vroue omgang hê.  Die Vestaalse maagde was dienaresse van Vesta die Romeinse godin van gesondheid.  Vesta was egter ‘n mindere godin wat onder die heerskappy van ‘n promiskue Jupiter geval het.

Hierdie onregverdige bevoordeling van die alfa-mannetjie bo die res van sy volgelinge lyk slegs paradoksaal vir mense wat gesteld is op individuele vryheid soos die moderne Westerling.  Hierdie digotomie sien mens duidelik in die Middeleeuse gebruik waar die landheer met sy kneg se bruid op die huweliksaand omgang had.  ‘n Welvarende Moslem het dikwels meer as een vrou en ‘n sjeik het dikwels ‘n harem.  Veelwywery en die toegang tot ander mans se vroue is duidelik die voorreg van die alfa-mannetjie terwyl sy volgelinge, die beta-mannetjies meestal slegs een vrou het en slawe, wat as gamma-mannetjies beskou kan word, dikwels van seks weerhou was en in die geval van eunugs, selfs gekastreer was.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld van so ‘n alfa-mannetjie wat eenvoudig Batseba vir hom geneem het, benewens die feit dat hy reeds verskeie ander vrouens gehad het.  Toe Absolom Dawid verslaan het en Jerusalem oorneem, laat hy ‘n tent op die dak van die paleis opslaan sodat hy voor die aanskoue van die volk met sy pa se harem kon seks hê.  Die oorwinning oor ‘n ander mannetjie word bevestig deur die seksuele onderwerping van sy wyfies – dit geld vir meeste sosiale soogdiere, insluitende die mens.  In muise kom die Bruce-effek voor waar dragtige wyfies spontaan aborteer om hulself vir bevrugting deur die nuwe alfa-mannetjie voor te berei nadat hy die mannetjie, wat hulle oorspronklik bevrug het, doodgemaak het.  Dit is dieselfde drang wat oorwinnaars noop om die oorwonne volk se vrouens tydens ‘n oorlog te verkrag.

Een van die mees afstootlike religieuse gebruike wat wydverspreid in die Eurasië, Afrika en Australië voorkom is genitale mutilasie wat op seuntjies en dogtertjies uitgevoer word.  Manlike besnydenis, of die verwydering van die voorhuid, kom in baie kulture in hierdie drie lande voor.  Die oudste afbeelding van besnydenis is in ‘n muurskildery van ongeveer 4300 jaar oud in Egipte gevind.  Alhoewel dit tans die oudste bewys van besnydenis is, het die gebruik heelwaarskynlik lank voor dit reeds ontstaan.  In ieder geval, was besnydenis reeds etlike eeue voor Abraham in gebruik.  Vandag kom besnydenis wydverspreid in Afrika, Suidoos Asië en Australië voor en vorm dit deel van die inisiasierites van jong seuns, wat ook deel van die sosio-religieuse milieu van daardie kultuur uitmaak.  In die Midde-Ooste en Noordoos Afrika is dit ‘n geloofsvoorskrif van die Jode, Moslems en Koptiese Christene om seuntjies te besny om hulle by God se verbond in te lyf.

Die onderliggende doel van hierdie tipe genitale mutilasie wat deur die Torah en die Hadith voorgeskryf word, is hoofsaaklik om seksuele verkeer te inhibeer, te stigmatiseer of minder aangenaam te maak.  As besnydenisse nie deur die priesterkaste self uitgevoer word nie, word dit ten minstens deur hulle voorgeskryf of goedgekeur.  Besnydenis-apologete se verweer is dat dit noodsaaklik is in droë woestynagtige gebiede waar sand onder die voorhuid kan inkom en dat dit meer higiënies is om die voorhuid te verwyder om besmetting te voorkom.  As hierdie stelling waar was, sou natuurlike seleksie gesorg het dat geen woestynlewende soogdier ‘n voorhuid gehad het nie.  Dit verduidelik ook nie die verskynsel dat besnydenis wydverspreid in die tropiese gebiede van Afrika en Suid-Oos Asië voorkom nie.  Die voorhuid van soogdiere is juis daar om die eikel van die penis teen besering te beskerm en om die sensitiwiteit daarvan te behou.  Die verwydering van die voorhuid stel die besnedene juis aan infeksies bloot en benewens die voorkoms van allerlei sekondere beserings, maak die permanente blootstelling van die eikel dit minder sensitief en seks dus minder genotvol.

Nader aan die waarheid word daar ook erken, nadat mens verby al die geloofsretoriek geworstel het, dat besnydenis masturbasie sal inhibeer, wat ook dan ‘n taboe is in die besnydenis-kultusse.  Daarbenewens is besnydenis nie die skoon sjirurgiese prosedure wat menige mense wil glo nie.  In die Joodse religie is daar ‘n spesiaal-opgeleide priester, die Mohel, wat besnydenisse doen.  Die prosedure is as volg: die Mohel trek die voorhuid op verby die eikel en sny dit met ‘n skerp mes (nie skalpel nie) af, dan skraap hy die sagte rou vleis wat daardeur blootgestel is uit met sy duimnael en daarna suig hy die bloed uit die wond met sy mond.  Sonder om uit te wy oor die walglikheid van die prosedure, laat ons net ‘n oomblik reflekteer oor die moontlikheid van die oordraging van verskeie siektes, soos sifilis, HIV, Hepatitis ens. aan die baba sowel as aan die Mohel.  Die verweer van die apologete is dat El die oordraging van sulke siektes sal verhoed tydens die uitvoering van hierdie sakrament.  Verskeie jong mans word jaarliks vir die res van hulle lewens geskend of sterf selfs weens infeksies wat opgedoen word tydens besnydenis-seremonies.  Dikwels word besnydenis in Afrika met ‘n lemmetjie, glasstuk, mes of selfs met skerp klippe gepleeg.  Dieselfde instrument word oor en oor op verskillende jong mans gebruik sonder dat dit gesteriliseer word.

Van al hierdie besnydenisprosedures is sekerlik die mees verwerplike die besnydenis van dogtertjies wat in Afrika en die Midde-Ooste voorkom.  Alhoewel hierdie gebruik nie in die Koran voorgeskryf word nie vind dit meestal in Moslem gemeenskappe plaas en word gewoonlik deur die dogtertjie se eie ma, tantes en soms ‘n ouer vrou of priesteres uitgevoer.  Hierdie prosedure word bloot eufemisties vroulike besnydenis genoem en mense vergelyk dit verkeerdelik met manlike besnydenis.  In die geval van dogtertjies word besnydenis op een van drie wyses gedoen: slegs die klitoris word afgesny, of die labia minora en die klitoris word afgesny, of die labia minora, labia majora en die klitoris word afgesny.  In laasgenoemde geval word die bloeiende gat eenvoudig met gare toegewerk sodat daar slegs ‘n gaatjie oorbly waardeur urine en menstruele bloed uitgelaat kan word.  Op die huweliksnag sny die bruidegom die skendweefsel met ‘n mes oop om sy bruid te penetreer.  Die uitsluitlike doel van hierdie prosedure is om die meisie se kuisheid te bewaar tot haar huweliksnag en om haar te omskep in ‘n gedweë, submissiewe vrou wat uitsluitlik leef vir haar man se genot.

Meeste Indo-Germaanse religieë word gekenmerk aan die aggressiewe afdwinging van hulle dogma en die marginalisering van dissidente.  Daar is weinig, indien enige toleransie teenoor afwykendes wat as ketters beskou word.  Die priesterkaste sal self, of deur die aanhitsing van gelowiges, ketters vervolg tot die dood toe, die Spaanse Inkwisisie, die verbranding van Bruno en Servetus, die vervolging van die hekse van Salem, die dood van geloofsoortreders onder Jode en Moslems is maar ‘n paar voorbeelde hiervan.  Die eksklusiwiteit wat religieë kenmerk lei tot ‘n onverdraagsaamheid nie slegs teenoor dissidente binne die gemeenskap nie, maar agressie jeens ander groeperinge wat as sektes, ketters, heidene, ongelowiges en uiteindelik die aartsvyand beskou word.  Meeste religieë glo dat hulle eksklusief reg is terwyl al die ander verkeerd is.  Hulle het dan ook die enigste weg na die deïteit en is sy uitverkore volk.  Die uitverkorenes het dan ook die heilige opdrag om andersdenkendes uit te wis.  In hierdie gemeenskappe word die totale onderwerping aan die oppergesag, wat gewoonlik uit ‘n kombinasie van die manlike priesterkaste en sekulêre leiers bestaan, vereis.  In hierdie gemeenskappe het vrouens en jeugdiges weinig of geen regte nie, daar word van die lede verwag om te konformeer en individualisme word onderdruk.  Menselewens is oor die algemeen niks werd nie en almal is sondig en onwaardig.

Een van die weinige maniere hoe ‘n individu in hierdie gemeenskappe die deïteit se guns kan

bekom benewens om die basiese oorlewingdrange te probeer onderdruk is om hom/haarself emosioneel en fisies te beseer en in uiterste gevalle selfs aan die deïteit in ‘n heilige oorlog te offer.  Selfbesering soos geseling en verwonding en self-offering kom algemeen in Indo-Germaanse religieë voor om die ondergeskiktheid aan die manlike deïteit te bewys en so sy guns te verwerf – dink maar aan die Ashura van die Sjiitiese Moslems waar die mans hulself met swaarde, kettings en swepe slaan en hulle koppe met messe en lemme oopsny sodat die bloed letterlik oor hulle liggame stroom.  Gewoonlik vind hierdie rites onder die toesig van imams plaas en vind dit dikwels in moskees self plaas.  Klein babaseuntjies se koppe word deur imams oopgesny onder die trotse blik van die moeder.  Die tema van selfbesering om die goedkeuring van ‘n manlike deïteit te bekom is reeds duisende jare oud – dink maar aan die Baal priesters wat hulself met messe en swaarde sny om die medely van die deïteit te bekom.

In die Christelike sfeer vind mens pelgrims wat die hele lydensweg op hulle bebloede knieë deurkruip.  Sommige Christen gelowiges ontwikkel stigmata waaruit bloed drup op die plekke waar mense gedink het die spykers, spies en doringkroon Jesus se liggaam deurboor het.  Of dit nou bedrog, psigosomaties of selfverwonding is, is nie hier ter sprake nie, maar wel die behoefte om dit te ervaar.  Katolieke priesters en nonne het dikwels in die verlede as deel van hul boetedoening (soms selfopgelê) hulself oor die rug met allerlei voorwerpe geslaan tot die bloed geloop het.

Selfbesering is ‘n emosionele hanetree van self-offering en die offer van ander mense aan ‘n deïteit.  Wêreldwyd, vanaf Wes Europa tot die Verre Ooste, vanaf die Midde Ooste tot Meso-Amerika, is daar voorbeelde van die offer van mense aan deïteite.  Meestal is hierdie deïteite, waaraan mensoffers gebring word, manlik, maar in die uitsonderlike gevalle waar mense aan ‘n vroulike deïteit geoffer was, val sy onder die heerskappy van ‘n manlike metgesel soos Kali onder Shiva val.  Self-offering is die inspirasie vir heilige oorloë soos die djihad en die kruistogte.  Volgens die Noorse geloof gaan dapper gevalle krygers na Valhalla in Asgard, die tuiste van die gode, terwyl mans, wat op die skandelike wyse van ouderdom of siekte sterf, soos die siele van gestorwe vrouens en kinders na die doderyk, Nilfheim, gaan.  Nilfheim is bykans identies aan Hades en Sheol en word as ‘n ysige goor plek beskryf waar siele in limbo bly vir die res van tyd.  Let op dat vrouens in die Noorse, sowel as die Moslem verwysingsraamwerk nie eens in aanmerking kom om aan die genietinge van daardie manlike gedomineerde sfeer – die hemel – deel te hê nie.  Die enigste vrouens in die Noorse of Moslem hiernamaals vervul ‘n dienende rol en moet hulle dan as Valkure drank, of as maagde seks, aan die gevalle krygers verskaf.

Manlike deïteite soos Mars, Wotan, Tiwe, Thor, Shiva, El, Allah is allerweë in beheer van oorloë en beveel dat oorloë, die banvloek en self-offering moet plaasvind.  Hy put genot uit die mensoffers wat tydens ‘n oorlog na hom gebring word en die dapper geloofskrygers word in die hiernamaals in sy teenwoordigheid onthaal.  Geloofskrygers sien hulself dan ook as die “Swaard van God” wat nie bloot sy wil doen nie, maar tipies sy geregtigheid op die mensdom afdwing.

Strydende gelowiges roep op die vooraand en tydens die oorlog hulle onderskeie deïteite op (soms dieselfde een) en vra sy beskerming tydens die oorlog.  As die afloop van die oorlog in hulle guns is, word die oorwinning aan die deïteit opgedra en as hulle verloor het, dan is dit duidelik dat die deïteit hulle daardeur gestraf het.  Hierdie gelowiges argumenteer dat dit die deïteit se wil was as onskuldige slagoffers in die proses gesterf het, en dat as gelowiges sterf, hulle in elk geval bereid sou wees om vir die heilige oorlog te sterf.  In die geval van ongelowiges, het hulle gekry wat hulle verdien het.  Dit is die argument van die Moslem terroriste wat bomme aan hul lywe tussen ander mense laat ontplof.

Waar kom die oorlogsugtigheid van die mens vandaan?  Daar is onlangs waargeneem hoe twee sjimpansees die moord op ‘n ander beplan en uitgevoer het.  Skermutselings wat mens as voorlopers van oorloë kan beskou is ook al tussen sjimpansee-troppe waargeneem.  Die sosiale opset van ‘n sjimpansee-trop is soortgelyk aan die van ‘n klein menslike sosiale groep, m.a.w. daar is 6  tot 12 volwassenes waarvan omtrent helfte mannetjies is en wat onder die gesag van ‘n alfa-mannetjie staan.  Wanneer twee troppe mekaar konfronteer veg die mannetjiesape tot die dood toe of tot een groep op die vlug slaan.  Om die alfa-mannetjie se guns te behou (wat veiligheid, toegang tot kos en ‘n paringsmaat insluit), moet die beta-mannetjies uithaal en wys tydens so ‘n konfrontasie.  Sou die leier van ‘n trop verslaan word kan die ander trop se beta-mannetjies met genoeg vernedering en kruipery die seëvierende alfa-mannetjie se guns wen en na ‘n tydperk van afknouery en marginalisering, deel van die nuut saamgestelde groep word.  Daar is genoeg voorbeelde in ons meslike samelewing wat mens met hierdie gedragspatrone kan vergelyk.

Dit maak geen sin dat ‘n deïteit ‘n voorhuid sou skape, net om daarna vir mense te beveel om dit af te sny.  Dit is ook totaal onlogies dat ‘n deïteit oorlewingsdrange soos veg, vlug, voeding en voortplanting sou skep, net om daarna dit te onderdruk.  Vanuit ‘n wetenskaplike invalshoek bots hierdie religieuse praktyke lynreg met ons oorlewingsinstinkte en lei dit tot ‘n emosionele skisofrenie waar mens die verhewe gees moet kies bo die sondige vlees.  Desondanks voel baie mense tevrede om hulle daaraan te onderwerp, omdat hulle ook emosioneel geprogrammeer is om hulself te onderwerp aan die beskerming, genade en straf van die alfa-mannetjie.  Die teenwoordigheid van ‘n dominante manlike leier skep ‘n gevoel van veiligheid by meeste mense, al is dit ten koste van hulle vryheid of gaan dit gepaard met seksuele inhibisies, pyn en selfs die dood.  Hierdie emosionele behoefte om gelei en gedomineer te word het tot die manlike deïteit-gedomineerde religieë aanleiding gegee.

Die doel van hierdie essay was om die herkoms van die mens se religieë en die behoud van ons evolusionêre wortels in ons gedrag selfs t.o.v. sogenaamde hoër religieuse gedrag uit te wys.  Die religieuse gebruike wat in Indo-Germaanse kultuur voorkom toon baie ooreenkomste met ander religieë soos dié in Afrika, Meso-Amerika en Australië.  Indo-Germaanse religieë is egter as vertrekpunt gebruik om die ooreenkomste tussen verskillende religieë vanaf die Nore in Noordwes-Europa tot die Hindus in Suid-Oos Asië uit te wys.  Natuurlik val die Joodse/Christen/Moslem religie mooi in die middel van hierdie gebied en maak dit deel van die vergelyking uit.  Ongelukkig verkeer baie mense steeds onder die indruk dat daar een ware geloof is wat in die Midde-Ooste ontstaan het wat eerstens die oorspronklike en tweedens die enigste ware religie is.  Hierdie essay sal hopelik bydra tot die dekonstruksie van hierdie dogma deur om eerstens te wys op die talle ooreenkomste tussen die basiese vertrekpunte, aannames en rites van verskillende religieë in Eurasië wat vanuit die oorspronklike Indo-Germaanse kultuur van ons voorouers ongeveer 7500 jaar gelede in die Bronstydperk ontstaan het, lank voor die bestaan van die Semitiese volkere, die Hebreeuse volk, die Torah, of enige verwysing na El of Jahweh.

Daar is ‘n ook sterk korrelasie tussen die sosiale struktuur en hiërargie in aaptroppe en die sosiale en religieuse strukture van mense.  Hierdie verskynsel sal verklaar hoekom die mens wêreldwyd dieselfde gedrag, behoeftes en vrese toon en soortgelyke sosiale strukture, insluitende religieuse rites, ontwikkel.  Mense is soos alle ander organismes slawe van hulle genetika.  Ons kan oppervlakkig ons gedrag modifiseer en met tegnologie verdoesel, maar net onder die vel is ons steeds ape – anatomies en emosioneel.  Dit is futiel vir die mens om te poog om daardie perfekte sport op die sieleweg kan bereik, wat millenia lank aan die mens voorgehou is, waar ons ons liggaamlike behoeftes en drange kan afsweer en waar ons slegs ‘n spirituele lewe kan lei.

Ons sal ‘n dieper insae in mensgedrag kry as ons die herkoms van ons oerinstinkte en -gedrag kan naspeur wat hopelik tot ‘n groter empatie en verdraagsaamheid onder mense sal lei.  Die dekonstruksie van die religieuse verwysingsraamwerk van die Indo-Germaanse gemeenskappe lewer geen kommentaar oor die bestaan aldan nie van ‘n metafisiese dimensie nie.  Religieë is steeds deurweek van aapbehoeftes, -drange en –vrese en dit is moeilik om te sien hoe ‘n deïteit, wat sekerlik vêr verhewe bo die versugtinge en vergrype van ‘n aapspesie moet wees, daarin vasgestrengel kan wees.