Inleiding

Hierdie praatjie is nie bedoel om ’n “crash-course” in Neurobiologie te wees nie. Ek gaan vir julle vertel van die nuwe brein-navorsing.Die onderwerp kan uit verskillende invalshoeke benader word. My benadering sal psigoterapeuties wees, omdat dit is waarmee ek my besig hou om my daaglikse brood te verdien. Om ons onderwerp in ’n konteks te plaas, wil ek julle net eers op ’n vinnige voëlvlug neem oor wat die afgelope 120 jaar in die Sielkunde, wat ’n baie jong professie is, gebeur het.
Voëlvlugoorsig

Sigmund Freud was in die laat 1890’s ’n hoogs gerespekteerde neuroloog wat baie belang gestel het om sy teorieë in die neurowetenskap te begrond, maar die kennis oor die fisiese brein was daardie jare nog so primitief dat hy dit maar gelos het en die breinprosesse gebruik het om sy teorieë te formuleer. Dit het nie te sleg gewerk nie as ’n mens in ag neem dat hy die grondslag vir die moderne psigoterapie gelê het. Ons is nou terug by die punt waar Freud graag wou begin, maar die groot verskil is natuurlik dat ons nou allerlei slim maniere het om nuwe navorsing te doen en antwoorde te vind, byvoorbeeld met behulp van SPECT (= Single Photon Emission Computerized Tomography) wat areas van die brein wat goed werk, meet asook onderaktiewe areas en areas wat te hard werk. Dit werk soos ’n lewendige kaart van die brein en kan ’n waardevolle hulpmiddel wees vir diagnose en behandeling. SPECT het verskeie toepassingsvelde ook in die mediese veld.

Ook met die hulp van die neurowetenskap, ontwikkelingsielkunde, psigoterapie-navorsing en die “Attachment”- en kompleksiteitsteorieë werk ons nou nie meer in suile nie, maar kombineer verwante velde om ’n meer geïntegreerde beeld van menslike funksionering te kry. Maar ons het hoegenaamd nog nie al die antwoorde nie. Ek wonder of ons die brein ooit 100% sal verstaan.

Terug na Freud.

Tot ongeveer 1960 was psigo-analise die inding. Die pasiënt sou jare met die nougesette, neutrale analis terapeut spandeer om onbewuste dryfvere, konflikte, onderdrukte materiaal en oordrag-verskynsels te probeer oplos. Die arme pasiënte met erge geestesversteurings wat nie as geskikte kandidate vir analise beskou is nie, het drakoniese fisiese behandelings ontvang soos ysbaddens, insulienbehandelings, neurosjirurgie en lobotomie. Niemand het toe aandag gegee aan die hoofsaaklik irrelevante voorwerp agter jou voorkop nie. Terwyl die soorte behandelings aan die gang was, het niemand juis daaraan aandag gegee of die behandelings werk, of nie.

Toe verskyn Hans Eysenck op die toneel. Hy vra die vraag of die behandelings werk en begin navorsing doen en kom met ’n skandalige antwoord: “Nee! Dit werk nie.” Die “establishment” het hom totaal geïgnoreer.
Tradisionele psigo-analise het toe ietwat van ’n dinosourus geword. Dis vervang met vermaerde, gevierde terapeute, soos Rogers, Perls, Laing, Erickson, Virginia Satir, Minuchen met verskillende terapieë: Kliëntgesentreerd, eksistensieel, humanisties, “Gestalt”, narratief, ensooorts, waarmee ek julle nie gaan verveel nie.
Drie betekenisvolle gebeurtenisse

In die volgende paar jaar vind daar toe drie baie betekenisvolle gebeurtenisse plaas
Prozak
Prozak kom op die mark vir depressie om “chemiese wanbalanse” te herstel. Dertig jaar later is Prozak en die generiese nageslag daarvan steeds ontsaglik gewild. In die VSA drink 1 uit 20 mans en 1 uit 10 vroue dit tans. Daar het sedertdien natuurlik ’n horde ander anti-depressante op die mark gekom. Psigiatrie is gefassineer deur farmakologie. ’n Eenvoudig pil of kapsule in plaas van terapie sou ’n vinnige oplossing vir byvoorbeeld depressie en baie ander geestestoestande wees. Dit is ’n tipiese Amerikaanse oplossing, nuut, vinnig, maklik, eenvoudig, doeltreffend. Psigodinamiese terapie is gesien as stadig, uitgerek, outyds en bietjie Europees.
DSM
Die DSM III word gepubliseer. (DSM staan vir “Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders”.) Dis die psigiatriese bybel vir die formele diagnose en die klassifikasie van geestesprobleme. Dit word steeds algemeen deur psigiaters en sielkundiges gebruik en word gereeld opgedateer. Ons trek nou by die DSM-V. Mary Sykes, ’n vooraanstaande Amerikaanse joernalis in die Sielkunde-veld beskryf dit as “the book that everybody loves to hate and hates to love, but can hardly do without.” Die DSM het geweldig baie mag — DSM-diagnoses is noodsaaklik in die versekeringsveld, staatsinrigtings, navorsing, die regstelsel, skole, maatskaplike dienste, gevangenisse en natuurlik vir farmaseutiese firmas. As ’n geestestoestand nie in die DSM beskryf word nie, bestaan dit nie en niemand betaal dan vir enige diens nie. Tans woed daar in die VSA ’n “burgeroorlog” in die geledere van die DSM tussen akademici en praktiserende dokters oor ’n nuwe kategorie vir volwassenes wat as as kinders mishandel is, maar die akademici weier al vir jare om dit goed te keur. Die stryd duur voort.
Empiries-gefundeerde terapie
Dit is “evidence-based” terapie wat met empiriese bewyse bewys dat dit werk. Na Prozak moes Sielkunde en gevolglik psigoterapie verander om te kon oorleef. In1970 ontwikkel Aaron Beck toe CBT — “Cognitive Behaviour Therapy” om empiries bewys te kan lewer dat psigioterapie werk. Anders as psigoanalise werk CBT vinnig, is gefokus, prakties, optimisties, rasioneel en nie bekommerd oor onbewuste dryfvere en behoeftes nie. Beck was glad nie geïnteresseeerd in die werking van die brein nie. Hy het homself gesien as ’n dokter met pasiënte en sy behandeling was geestesgesondheid-behandeling, nie psigoterapie nie. Beck se werk het naatloos geswaelstert met die DSM III — die psigiatrie bybel wat gerieflik eenvoudig, duidelik gestruktureerd en gesaghebbend was. Gedurende 1990 is 18 DSM III kategorieë “empiries gevalideer” met voorgeskrewe behandelingsprosesse, wetenskaplik, en dus “evidence based”.

Tog is daar reeds sedert 1980 besware geopper ten opsigte van die Pax Media of mediese model en die superioriteit van CBT word bevraagteken, asook die effektiwiteit van antidepressante. Die wanpersepsies wat met betrekking tot die rapportering van positiewe navorsingsresultate en die verswyg van negatiewe resultate geskep is, is teen die tyd ou nuus. In 2008 is die FDA (die Amerikaanse Medisynebeheerraad) gedagvaar om alle navoringsresutate oor die effektiwiteit van antidepressante in hulle argiewe te publiseer. Die bevinding was dat positiewe resultate 12 x meer kans gestaan het om gepubliseer te word as negatiewe resultate en dat die ou en nuwe generasie antidepressante net 10–15% meer effektief as placebo’s is.

MAAR, die baba moet ook nie met die badwater uitgegooi word nie. Antidepressante werk vir baie mense en kan ’n belangrike rol in behandering van depressie speel. Met “evidence based” navorsing is die terapeutiese verhouding weer onder die loep geneem en empiriese bewyse is gevind dat dit ’n baie belangrike rol speel. Julle kan nou met reg vir my sê: “Jy vertel nou vir ons van die ou paradigmas, gebruik jy dit nog?” Dan moet ek antwoord: “JA, ek doen.” Ek ken die nege DSM kriteria vir depressie uit my kop en gebruik dit daagliks, want omtrent elke tweede persoon wat oor my drumpel stap, is depressief. Dis baie vinnig om met behulp van die vra vas te stel hoe erg die depressie is en wat die logiese volgende stap in die behandelingsproses moet wees. As dit 9/9 is, is selfmoord ’n werklikheid en sal ek met ’n psigiater saamwerk en ’n opname by een van die klinieke reël. Maar ek gebruik ook die nuwe model om op te let of en hoe die vloei van inligting en energie plaasvind en waar die blokkasies lê. Ek gebruik CBT om saam met die kliënt doelstellings te bepaal, ’n terapeutiese program te bepaal en sistematies uit te voer, gereeld saam met die kliënt te evalueer of en hoe ons vorder. Dit is “evidence based” en werk baie goed. Maar ek sal die nuwe navorsing inkorporeer en byvoorbeeld oplet na die “mirror neurons”, kyk hoe die Amygdala (die paniekknoppie in die brein) funksioneer en die kliënt daarvan bewus maak soos ons met die terapie vorder.

Die Nuwe Brein-Navorsing

So vanaf die sestigerjare word daar met al die nuwe gesofistikeerde toerusting wat beskikbaar word, meer en meer navorsing oor die brein gedoen. Soos reeds genoem, werk ons nou nie meer in suile nie. Met behulp van die neurowetenskap weet ons nou dat interpersoonlike verhoudings ’n reuse impak het op die fisiese strukture en prosesse van die brein en dat die brein eintlik by uitstek sosiaal van aard is. As ’n spesie is ons gedurig in mekaar se koppe, beïnvloed ons mekaar se gemoed en emosies — herbedraad ons mekaar se neurale netwerke! By implikasie beteken dit dat die terapeut nou beter kan verstaan hoe liggaam en “mind” mekaar beïnvloed en ’n meer holistiese benadering sal gevolg word.
Ou tegnieke sal steeds gebruik word, soos CBT, maar met ’n verskil: die fokus sal verskuif na wat binne die brein gebeur, eerder as om net met ’n stel uiterlike beginsels en gebeure te werk.

Om ’n beter greep te kry op die onderliggende neuro-prosesse, wil ek hê ons moet eers gaan kyk na ’n paar moontlikhede van wat in die kleinkinderjare kon gebeur het. Die word die “Attachment”-teorie genoem. Die Afrikaans kan seker die verbondenheidsteorie genoem word. Dan Siegel was die baanbreker wat hierdie stuk helderheid op die tafel geplaas het en my geleer het om op ’n heel ander plek te begin kyk hoe en waar my kliënt se probleme begin het en anders na oplosssings te begin soek. Aandag sal ook aan die “mirror neurons” gegee word.
Verbondenheidsteorie (“Attachment”)

Die “Coherant Triangle” – die ideale toestand

Gestel ek is die baba en jy die versorger en ek is honger en ek huil. As jy my boodskap verstaan en vir my redelik vinnig en met ’n sorgsame houding kos gee, word my behoefte vervul en ons altwee is tevrede. Wat dan in my brein gebeur, is dat positiewe neuronlae neegelê word. Dit help skep aan ’n geïntegreerde bein wat koherent/samehangend is:
Kom ons kyk nou na drie voorbeelde van “incoherence” en wat die effek daarvan kan wees.
Die “disconnected” self

Dit kom van ouers wat self nie koherensie en integrasie in hulle vroeë kinderjare ervaar het nie. Hierdie ouers verstaan nie die kind se boodskap nie en kan nie sin daaruit maak of akkuraat daarop reageer nie.
Bogenoemde gee aanleiding tot ’n gediskonnekteerde self, want die respons maak nie sin nie. As die proses honderde kere herhaal, word dit in die later lewe gekenmerk deur iemand wat emosionele kontak in verhoudings moeilik vind en dit gaan probeer vermy.

Die gepreokkupeerde self

Die gepreokkupeerde ouer wat onseker en angstig is. Hy/sy weet nie of die kind ’n bottel moet kry nie, gee dit maar bewe, is onseker en angstig.

Dit belemmer dus ook die vorming van ’n koherente en geïntetreerde self.

Die gedisorganiseerde/gefragmenteerde self

Die gedisorganiseerde self kom van ’n versorger wat onopgeloste bagasie uit die verlede saamsleep en steeds daaroor getraumatiseer is. Die kind vra van die versorger sekuritiet, versorging en rustigteid, kry iemand wat slaan en skree. Die biologiese paradoks hier is onopgeloste vrees. Een deel van die kind se brein sê: gaan na die ouer om versorging te kry en die ander deel van die brein sê: moenie, want dis die bron van my vrees. Die kind kry dus nie die oplossing nie. Die effek op die kind is nie net om honger en doodsbang te wees nie. Dit skep ’n gefragmenteerde, gediskonnekteerde self.
Die verhouding tussen honger wees en doodsbang te wees, is nie alleen verwarrend en diskonnektief nie, maar ook fragmenterend. Die inkoherente kommunikasie skep ’n self wat gefragmenteerd is. Integasie van die verskillende fasette gebeur nie.

As bogenoemde gedrag nie slegs enkele keer nie, maar 100e kere gebeur, graveer die brein dit in die neuronlae wat neergelê word.

Bogenoemde leer ons dat neuronlae in ons brein neergelê word van geboorte af, moontlik nog voor geboorte. Daardie lae bly daar en beïnvloed ons in later jare. Dit is moontlik om nuwe neuronlae neer te lê — ons weet nog nie of die ou lae ooit heeltemal kan weggaan nie, omdat wanneer ons onder druk kom, keer ons maklik terug na ou gedragspatrone. Ons “default” as’t ware. Elkeen van ons was blootgestel aan versorgers en later ander persone wat positiewe en negatiewe neuronlae in ons breine neergelê — miljoene moontlikhede, want elke persoon se lewensverhaal verskil.

’n Ander, baie belangrike ondekking wat ek ook by Siegel geleer het, is die bestaan van “mirror neurons”. Op Afrikaans kan ons dit “spieëlbeeld neurone” noem.

Die werking van “mirror neurons” is verwant aan empatie, maar is veel meer as empatie in die sin dat ek myself kan toelaat om die interaksie tussen my en ’n ander persoon in my eie lyf te laat resoneer. Ek verduidelik met ’n maklike voorbeeld: Ek het eendag Wimbletontennis op die TV gekyk. ’n Toeskouer, ’n mooi jong meisie, gaap. Wat gebeur? Ek gaap hier in SA saam met haar! Ek onthou so goed dat ek baie geamuseerd was om te dink dat ’n meisie in Engeland dit kon regkry om my in SA te laat gaap. Hierdie is ’n regterbrein-aktiwiteit wat op talle maniere manifesteer, maar ons is meesal salig onbewus daarvan. Veral in die terapeutiese situasie kan “mirror neurons” baie handig benut word as die terapeut sensitief daarvoor is.

Kom ons neem dit nou een stap verder en bekyk die kompleksiteitsteorie.
Die Kompleksiteitsteorie

Hierdie term kom uit ’n vertakking van Wiskunde wat komplekse sisteme bestudeer. Dis glad nie ’n Sielkunde-term nie. ’n Wolk is ’n goeie voorbeeld van kompleksiteit — ’n verspreiding van watermolekules (dit kan chaoties wees) wat lig en energie soos wind en hitte van buite kan ontvang (dit is oop) en kan gedurig verander: dit verskyn, dit kan van vorm verander en en dit kan wegbeweeg. Kom ons probeer verstaan hoe kompleksitiet in die brein funksioneer met die hulp van ’n kompleksitietskoor.

Aktiwiteit: ’n Koor tree op en die effek word ontleed.

Fase 1. Ongeveer 30 sekondes. Een person gee ’n noot en die res sing die noot saam.

Fase 2. Die koor druk hulle ore toe sodat hulle mekaar nie kan hoor nie. Ek gee ’n teken en elkeen sing sy eie liedjie.

Fase 3. Die koor kies een lied wat almal ken en sing dit saam.

Die koor is nie my slimmigheid nie. Ek het dit ook by Dan Siegel geleer wat dit gebruik om die belangrike faktor waaroor dit gaan, naamlik integrasie, te verduidelik. Hoe het die koor dit gedemonstreer?

Kom ons ontleed die effekte. Fase 1. Die enkelnoot verander nie en word baie gou vervelig. Die sangers sing wel saam, maar daar is niks wat uniek of individueel is nie. As differensiasie geblok word, vind integrasie nie plaas nie, die hele sisteem beweeg weg van kompleksiteit en harmonie, en word uiteindelik rigied.

Fase 2. Toe die sangers hul ore toegedruk en elkeen hul eie liedjie gesing het. Dit gee ’n kakafonie af; chaotiese klanke wat glad nie lekker is om na te luister nie en dalk ’n bietjie spanning en angstigheid by die toehoorders geskep het. Die klanke het nie die koor saamgebind nie — daar was net differensiasie maar geen integrasie nie. Hier het ons ook wegbeweeg van kompleksiteit, maar nie na rigiditeit nie, maar na chaos!

Fase 3. Die koor sing saam ’n bekende lied. Die stemme het saamgesmelt en ’n harmonie gevorm. Ons wat geluister het, is meegvoer in die sangers se energie en rime en dit het ’n gevoel van vitaliteit in die vertrek geskep. Daar was differensiasie en integrasie, en akoestiese integrasie op sy beste. Elke koorlid het ’n eie, unieke stem, tog smelt dit saam in ’n harmonieuse geheel. Dit is die essensie van breinfunksionering — die middeweg tussen regiditeit en chaos. Die verskillende dele van die brein werk geïntegreerd saam.

Hierdie koorsang, met ander woorde kompeksiteit, demonstreer die essensie van die brein se funksionering in terme van die driehoek: verhoudings, brein en bewussyn. Dis eers wanneer daar integrasie is tussen hierdie drie dele op al die vlakke van funksionering , dat ons “gesond’ kan funksioneer. Siegel skep graag akronieme en noem dit FACES wat staan vir “Flexible”, “Adaptive”, “Coherent”, Energized” en “Stable”. As ons hierdie vyf eendjies in ’n ry kan kry, gaan dit baie goed met met ons!

Hy noem agt domeine van integrasie wat hiervoor nodig is, naamlik horisontaal (linker/regterkant en res), vertikaal (bo na onder), verhoudings, geheue, temporaal (verganklikheid), narratiewe en toestande van wees (fundamentele behoeftes) asook die integrasie van bewussyn. Dis baie interessant om kennis te neem van die agt domeine, maar dis te veel detail vir nou.
Taal

In die Neuroscience Tydskrif van Mei 2010 is daar ’n interessante artikel oor hoe taal in die brein registreer en watter areas van die brein daarby betrokke is. ’n Splinternuwe ontdekking wat ’n voorheen baie kontroversiële teorie uitgeskakel het, is dat selfs die motoriese deel van die brein ook met taal te doen het.

As julle nou na my luister, (dws hoor), my sien, (visueel), woorde op die PowerPoint lees (ander soort visuele stimulasie) spiere gebruik om byvoorbeeld te sit (liggaamshouding = motories) en sin probeer maak uit wat ek sê, is al die dele wat taalprosesse stimuleer, betrokke. Dit lyk so:

 

’n Prentjie van hoe taalprosesse in die brein plaasvind.

Ek het getel: in die menslike brein (boonste prentjie) het taal in 18 verskillende dele geregistreer. In die Sjimpansee se brein in 12 dele en in die Macaque (’n kortstert, stewig-geboude bobbejaan wat in Asië en Noort-Afrika voorkom) in 8 dele.

Praktiese Toepassings van die nuwe brein-navorsing
Gevallebespreking

Kom ons neem ’n 45- jarige geskeide vrou wat tans weer in ’n verhouding is. Uit haar huwelik is net een seun gebore. Hy het getrou en hulle het 2 dogterjies gehad. Kom ons noem die vrou Bessie. Bessie het ’n baie goeie verhouding met haar seun, skoondogter en die 2 dogtertjies is die vreugde van haar lewe.

Een nag vermoor haar seun sy vrou. Die kinders gaan na die ma se ma en word later deur die hof aan die ander ouma toegeken, wat Bessie toegang tot die kinders weier.

Wat het nou gebeur? In een nag het Bessie al die betekenisvolle mense in haar lewe verloor. Daar is skielik chaos in haar lewe.Sy raak geweldig depressief (’n rigiede patroon) en dit begin sleg gaan met haar verhouding ook. Sy word na ’n psigiater/sielkundige verwys. Wat nou?

Tydens die eerste besoek met die afneem van haar kliniese geskiedenis, blyk dit dat haar vroeë kinderjare gekenmerk is deur gefragmenteerde “attachment” figure, dit wil sê met baie angs en aggressie, met die implikasie dat sy van kleins af aan hoë stresvlakke blootgestel was.

Met die kennis wat die nuwe breinnavorsing bied, weet die terapeut dat haar brein ’n neusduik geneem het en tans (asook vir lang tye voorheen) “gemarineer” is in die stres-hormoon, Kortisol en dié hormoon verander die brein se metabolisme en kan uiteindelik ook sy morfologie verander. Afgesien daarvan het die paniek-knoppie in haar brein, die Amygdala afgegaan en maak ’n groot geraas. Die Hippokampus wat soos ’n bibliotekaris werk, kan ook na langdurige stres, nie meer doeltreffend funksioneer nie. Dis moontlik om met behulp van ’n eenvoudige prentjie en verduideliking ’n paar riglyne te trek sodat die kliënt ook verstaan wat besig is om in haar brein te gebeur.

Ek gebruik graag die volgende prentjie uit Goleman se “Emotional Intelligence” om te verduidelik hoe die paniekknoppie werk. ’n Persoon wat die veld en slange ken, sal maklik kan kalm bly en met selfbeheersing optree. ’n Persoon wat ’n obsessie het met slange, se brein sal van die Thalamus kortpad kies na Amygdala, die alarm laat afgaan en die persoon kan histeries word. Dit neem tyd om die ekstra homone wat afgeskei het, te balanseer.

Die prentjie lyk so:
As die Bessie na die eerste gesprek kan uitstap met die boodskap: dit lyk of my terapeut iets verstaan van wat met my aangaan en weet wat om te doen, dan skep sy moed en die terapeutiese proses kan begin. Dit help haar ook verstaan dat dit ’n breinproses is wat kan verander en dat sy nie ellendig en ’n mislukking is nie. Soos die terapie vorder en die terapeutiese verhouding verdiep, leer sy haarself om haar brein meer effektief te gebruik en voel sy weer in beheer van haar lewe.

Ek hoop dis vir julle duidelik dat daar beide rigiditeit en chaos in die vrou se lewe ontstaan het en dat ons aan integrasie werk.
EMDR (“Eye Movement Desentisitation and Reprocessing”)

Dis baie bekend dat die selle in ons liggame gedurig vervang word met nuwes. Die JY wat vandag hier sit, is sellulêr gesproke nie dieselfde jy van ses maande te vore nie. Maar die emosies wat ook in ons ou selle gestoor word, spring oor van die ou na die nuwe selle waar dit vir ’n leeftyd gestoor kan word — positiewe sowel as negatiewe emosies.

Die een kliënt waarmee ek gewerk wie se pa van ’n leer afgeval en dood is toe sy ses jaar oud was, het op 63 jaar, dit wil sê 57 jaar later, nog gehuil as sy oor hom praat en kon glad nie na “O, mein Papa” se musiek luister nie. Dit beteken sy het ’n emosionele geheue (ook implisiete geheue genoem) ontwikkel wat sy soos ’n blok aan haar been saamgesleep het en dit kan baie swaar wees. Navorsing het gevind dat die sinapse in die brein rondom die emosie sluit en om dit te ontsluit, moet die stukkie geheue heraktiveer word. Maar dis net stap een en dis nie genoeg nie. Daarna moet nog ’n kritiese ervaring vinnig plaasvind wat die eerste een neutraliseer. Die ou manier is om dit te verwoord is: die emosie moet deurgewerk word. Terapeute gebruik verskillende maniere om dit te doen. Ek gebruik graag EMDR wat op REM-slaap gebaseer is. Ons kyk ’n bietjie later onder “slaap” hierna en in meer detail na REM-slaap.

In die genoemde geval het ons die insident op die gestruktureerde manier van EMDR deurgewerk en kon die vrou na 57 jaar ophou huil oor haar pa. Die emosies rondom die traumatiese gebeure van 57 jaar gelede is ontsluit, geneutraliseer en in die verlede, waar dit hoort, gebêre. Dis ’n vinnige en effektiewe tegniek om verskillende soorte traumas te verwerk. Máár die tegniek kan nie altyd en vir alle mense gebruik word nie. Dit word nie verniet een van die “Power Techniques” genoem nie. Slegs ’n goedopgeleide terapeut sal weet wanneer en hoe om dit te gebruik.
“Multitasking”

In die Reader’s Digest van Maart 2010 het sommige van julle dalk die artikel oor “Multitasking” gelees. Die skrywer beskryf hoe sy 14-jarige dogter soos miljoene ander tieners, op die sitkamerbank sit met haar laptop op haar knieë terwyl sy inligting soek vir ’n taak wat sy besig is om te skryf. Die TV is aan, sy gaan loer kort-kort op “Face Book”, sy “Twitter”, tussendeur tik sy sms’e, praat op haar selfoon en sit die hele tyd haar Ipod se oorfone op haar ore en haal dit weer af. Ek het getel — sy doen amper sewe take gelyktydig. Die vraag is nou: hoe beïnvloed hierdie funksionering haar breinfunksies en haar resultate?

Die eksperts huldig nog verskillendes menings hieroor, want ons weet nog nie regtig nie. Sommige beskryf dit as “the ultimate in efficiency” omdat dit die brein se vermoë om sy kapasitiet te vergroot, ontwikkel. Die gaping in die mark is natuurlik raakgesien en daar is al 15 mijoen breinkursusse oor die wêreld verkoop om opleiding in “multitasking” te gee.

Aan die anderkant is daar bedenkinge en twyfel of kennis wat op die manier opgedoen word regtig in die geheue vasgelê word.
Slaap

Afdoende wetenskaplike bewyse waarom ons slaap is tot dusver nie gevind nie. Daar is wel navorsers wat gevind het dat slaap iets met die konsolidasie van geheue en die imuunstelsel te doen het. Toe professor William Dement van die Stanford Universiteit na 50 jaar van slaapnavorsing gevra is na die rede waarom ons slaap, was sy antwoord: “The only reason we need to sleep that is really solid, is because we get sleepy.” Ons weet egter almal dat as ons die nag nie goed geslaap het nie, ons gewoonlik die volgende dag nie so lekker voel nie.

In die ontwikkelde wêreld het slaaploosheid tans epidemiese vlakke bereik. Ek weet nie of daar syfers vir RSA bekend is nie, maar in die VSA slaap tussen 50–75 miljoen mense sleg. Gedurende 2008 het dokters in die VSA 56 miljoen meer voorskrifte vir slaappille uitgeskryf as die vorige jaar. Slaapklinieke maak tans 4 biljoen dollers per jaar in die VSA.

Die koste en gevolge van slaaploosheid is erg, bv bestuurders wat agter die stuurwiel van hulle motors aan die slaap raak en ernstige ongelukke veroorsaak, asook produktiwiteit wat afneem. Dis ’n baie duur spulletjie. Ek hoop daarop dat beide die loods en die navigator die vorige nag goed geslaap het as ek die volgende dag/aand in die vliegtuig klim.

Ek het baie begin belangstel in slaapprobleme en by die SA Slaapverening aangesluit en hulle 2010 kongres bygewoon. Ek neem tans ook deel aan ’n kliniese navorsingsprojek oor slaap. As iemand belangstel om ’n proefpersoon te word, kan ek die nodige inligting verskaf. Ek het ook op ons praktyk se webwerf ’n artikel met redes waarom ons sleg slaap en wenke om dit te verbeter, geskryf As iemand dit wil lees vind dit by www.pretoriapsychologists.co.za

In die National Geographic van Mei 2010 het daar die interessantste artikel oor slaap verskyn. Dit laat ons in by die geheimenisse van ingewikkelde chemiese prosesse wat in die brein plaasvind wanneer ons aan die slaap raak en wakker word. Die volgende twee prentjies illustreer dit baie mooi:

Aan die slaap raak Wakker word

As ons aan die slaap raak, stuur ’n klein groepie selle, so groot soos ’n kopspeld se kop (die VLPO genoem) ’n chemiese boodskapper (adenosine genoem) seine na die wakkerbly-sentra van die brein en die boodskap is: “Hou nou op om histamiene en ander wakkerbly-hormone af te skei, sodat hierdie persoon kan slaap.” Dan behoort ons aan die slaap te kan raak, maar ons weet dis nie so eenvoudig nie.

Wakker word is ’n ander proses, georkerstreer deur die liggaam se biologiese klok, SCN genoem. SCN reageer op lig en sê weer vir die VLPO: “Skei nou maar weer histamien en die ander maatjies af, sodat die persoon wakker kan word.” Dit klink baie eenvoudig, maar kom ons kyk na die prentjie wat verduidelik watter sewe dele in die anatomie van die brein daarby betrokke is.


Fases van slaap
Die fases van slaap is baie insiggewend. Die patroon hierbo is van ’n volwasse persoon wat om middernag in die bed klim; ’n rukkie wakker lê; redelik vinnig deur REM slaap gaan asook deur die eerste fase van slaap. (REM staan vir “Rapid Eye Movement” slaap. Dis wanneer ons oë links en regs beweeg wanneer ons droom.) Dan bly die persoon ’n rukkie by fase 1 tot hy net voor 1 uur by die tweede en derde fase kom, waar ons regtig diep en rustig slaap. Dan begin hy droom in die REM fase; hierna af na 2e, weer op na REM. Ongeveer 2 uur word hy vinnig wakker en raak weer vinnig aan die slaap tot by 2e en sporadies ’n bietjie 3e fase. Net voor 3 uur droom hy, daarna keer hy terug na die 2e fase, 2x vinnig wakker en weer terug na die 2e fase tussen 3 en 4 uur. Voor 5 uur droom hy ’n lang droom, gaan terug na die 2e fase, word 3x vinnig wakker, gaan terug na die 1e en 2e fases; droom ’n kort droompie en word wakker om op te staan. Dit lyk of hy ’n besige nag gehad het!
Dis die profiele wat in slaapklinieke gemaak word en gebruik word om slaapversteuring soos slaap-apnee, asook ander probleme te diagnoseeer.
“My Stroke Of Insight” – Jill Bolte Taylor

Danksy Ronel en Antoinette het bogenoemde boekie onder my aandag gekom. Ek gaan net ’n paar gedagtes met julle deel om julle nuuskierig te maak. Diegene wat regtig belangstel kan dit gerus self lees. Ek het myne by Exclusive Books gekoop vir R123.

Miskien het sommige van julle gekyk/luister toe Oprah ’n tydjie gelede met die skrywer gepraat het. Jill is ’n neuro-wetenskaplike en was onder andere ’n dosent aan die Harvard Universiteit in die VSA waar sy mediese studente geleer het hoe die brein werk. In Desember 1996 het sy ’n rare soort beroerte gekry het. ’n Bloedvat het oor haar linkerbrein ontplof en die linkerdeel van haar brein disfunksioneel gelaat. Maar die regterdeel het nog gewerk. Kom ons kyk na die effek wat dit gehad het.

As ek dit kortliks in Weermagtaal kan beskryf, is die linkerbrein nogal soos die kwaai sersant-majoor wat die troepe op die paradegrond rondjaag. Hy skep struktuur en orde; is doelgerig en baie ander mooi dinge. En die troepe sê: “Kom groot reën dat die soldate kan rus!”

Sy beskryf dat sy na die aanval “disjointed from my linguistic and calculating skills of my left brain” gevoel het — so asof sy haar liggaamsgrense verloor het en soos vloeistof was. “Where were my numbers? Where was my language … what had become of the brain chatter, which was now replaced by a pervasive and enticing inner peace.” Maw die linkerbrein sê: “doen, doen, doen!” en die regterbrein sê: “wees, wees, wees!”

Om julle ’n idee te gee waar sy weer moes begin take aanleer:
sy het redelik maklik geleer skottelgoed was, maar dit het jaar ’n jaar geneem om uit te pluis hoe om dit op die droograk te pak.
Om vorms, kleur en dimensies te leer verstaan. Syfers en letters was vir haar net “squiggles” op papier wat niks beteken het nie.
Sy het haar woordeskat verloor en haar vermoë om geld te gebruik. 1+1 het vir haar geen sin gemaak nie.
Sy het voor die aanval graag “Free Cell” op die rekenaar gespeel. Dit het 3 jaar geneem voordat sy dit weer kon doen.
Voordat sy weer met ’n gladde ritme kon loop, het sy vir 4 jaar met gewigte in haar hande 3 km per dag gestap.
Na 4 jaar kon sy begin optelsomme maak. Aftrek en vermenigvuldiging kon sy eers later weer doen.
Na 7 jaar kon sy weer ’n dosentpos aanvaar en weer in plaas van 11 ure net 9 ure per nag slaap.
Na 8 jr kon haar persepsie van haarself as ’n vloeistof na ’n vaste stof skuif en het sy weer begin ski. Sy skryf dat sy dit nogal mis om vloeibaar te voel, want dis wat haar herinner het aan ons interverbondenheid en dat ons almal een is.
Uiteindelik het sy hierdie boek geskryf en kon met talle organisies onderhoude voer en van haar ervaring vertel.

Wat was haar “stroke of insight”? Sy het ontdek hoe haar regterbrein funksioneer. Die werking van die linkerbrein is baie bekend, maar nie die van die regterbrein nie. Sy stel dit so: “At the core of my right hemisphere consciousness is a character that is directly conneced to my feeling of deep inner peace. It is completely committed to the expression of peace, love, joy and compassion in the world. Peace is only a thought away, and all we have to do to access it is to silence the voice of our domineering left mind.”

Met behulp van SPECT is vasgestel dat meditasie in ’n bepaalde deel van die brein registreer.
Integrasie

Hoë vlakke van breinnavorsing vind daagliks oor die hele wêreld plaas en help ons om meer en beter te verstaan wat agter ons voorkoppe aangaan en wat moontlik is en kan wees.

Daar was twee Dan’s in my lewe by wie ek so baie geleer het en vir ewig dankbaar sal wees vir die vernuwing wat hulle in my denke en werkwyse gebring het: Dan Siegel het tien jaar gelede begin suile afbreek en onder andere ’n brug begin bou tussen Neurologie en Psigoterapie. Sy driehoek-paradigma van brein, bewussyn en verhoudings en hoe inligting en energie vloei en gereguleer word en lei na rigiditeit of chaos of albei, maak vir my baie sin. Die “attachment”- en kompleksiteitsteorieë, die belangrikheid van integrasie en hoe dit na “mindfulness” lei, was vir my ’n openbaring. Die heel belangrikste miskien: hy het ’n paradigma geskep wat nie polities of religieus/dogmaties gebaseer is nie, maar suiwer wetenskaplik, daarom bedreig dit niemand nie. Dis daarom dat die Pous met hom wil praat, en die Koning van Thailand en hy en die Dai-Lama gereeld gesprek voer.

Dan Goleman is die tweede Dan in my lewe. Hy het die veld op ander maniere oopgemaak. Hy is ’n kliniese sielkundige met ’n besonderse skryftalent. Sy boek “Emotional Intellence” is in dertig tale vertaal en meer as 5 miljoen kopieë daarvan is verkoop. Hy het die “black box” wat die brein vir baie jare was, oopgemaak en sy kennis en insigte met miloene mense gedeel. Sy doel met die boek was nogal tweeledig: Opvoekundig/voorkomend. Hy wil mense toerus met kennis en vaardighede om van jongsaf emosioneel gesond te wees en goed te funksioneer. Sy tweede doelstelling met die boek was om vir sy seun se studies te betaal. Hy het toe so baie boeke verkoop dat hy uiteindelik vir sy seun ook ’n “College” (ek neem aan dis ’n universiteit) kon koop!

Hy het my onder ander van die Amydala leer verstaan wat ek so gemaklik in terapie benut — in taal wat vir my kliënte verstaanbaar en nie bedreigend is nie. Soos Siegel en Jill Taylor kom Goleman ook by “Mindfulness” uit. Dan koppel hy dit nou met Zinn se mooi werk oor meditasie en CBT, soos heel aan die begin reeds bespreek. Veral die groepwerk-program met mense wat gereeld terugval in depressie lewer sover 50% beter resultate as vorige programme.
Evolusionere ekologie
Dis waarmee die breinnavorsing tans besig is. Goleman se nuwe boek wat eerdaags verskyn, handel daaroor. Ek kan nie veel daaroor sê nie, want ek weet self nog te min daarvan — miskien weet iemand in die gehoor reeds meer hiervan.

Ons leef vandag in hiper-gespesialiserde ekspertise — ons benodig eksperts om ons lewens te laat werk: om ons van elektrisiteit, kos, rekenaars, noem maar op, te voorsien, asook ingenieurs, motorwerktuikundiges, ensovoorts, ensovoorts. Dis goed en wel, maar dit laat ons nog te veel in suile. ’n Magdom subtiele kennis moet hanteer word en ons sal dit meer kollateraal moet doen en mekaar deur middel van spanwerk moet help om ons huidige uitdagings te hanteer. Sê nou maar ons kan ’n manier uitvind om die bevolkingsaanwas in veral die ontwikkelende wêreld te stuit?
Evolusionêre antropoloë is hiervoor nodig en ekologiese en sosiale intelligensie sal gesinkroniseer moet word om dit harmonies te probeer regkry. Dit kom neer op drie dinge:
Weet wat jou impak is;
wees bereid om daarop te verbeter, en
deel wat jy weet.

’n Laaste Opmerking

Sê die nuwe brein-navorsing vir my persoonlik iets? Ja. Baie mense in die NHN het my gehelp om so baie van my neurale netwerke te verander. Ek is baie dankbaar daarvoor omdat dit vir my so ’n bevrydende ervaring was en nog steeds is. Dit het my gehelp om my tradisionele, fundamentalistiese oortuigings te ontgroei. Met behulp van die interessante gesprekke kan ek verder groei en ontwikkel. Ek het hier ook talle mooi, nuwe vriendkappe gesluit.

Siegel maak die opmerking dat ons in die “Global Village” waarin ons nou leef, dit baie nodig het om ’n “tribe”, soos hy dit noem, te hê. Ons moet kan deel vorm van ’n groep waarmee ons kan identifiseer, omdat ons maklik in die massa kan vereensaam en geïsoleer raak. Die huisgroep waarheen ek gaan, is nog ’n kleiner groep wat saam iets eet en drink; ’n onderwerp van die groep se eie keuse bespreek en baie lag. As ek elke tweede Dinsdagaand ongeveer 9-uur van die groep wegry, voel ek asof my batterye gelaai is en ek kan met die lewe aangaan. Talle uitstappies (soos die onlangse een na die Tshwaing-krater nie ver noord van Pretoria nie) en talle ander open weer ’n ander dimensie van saam-wees met gawe mense met wie ek op dieselfde frekwensie resoneer.

Die heel betekenisvolste vir my is dat al die skrywers in hierdie veld die belang van die regterbrein beklemtoon. Ons eie Nirvana, stukkie hemel, noem dit wat jy wil, registreer daar. Dis wat my laat besef: Ek het nie net ’n konneksie met myself en ander mense nie, maar ook met alles om my, uiteindelik met die groot heelal.

Skeep ons die regterbrein af — individueel en as groep?