INLEIDING:

  • In aansluiting by Sakkie Spangenberg se skets van die tradisioneel Christelike mensbeskouing van 21 Januarie: onthou julle nog die Christelik-Nasionale mensbeskouing wat vir sowat drie dekades op ons afgedwing was.
  • Ek wonder of die rasionaal was dat vir die Christelik Calvinistiese beskouing van die mens as minderwaardig, gekompenseer kon word met ‘n Nasionale (sosio-kulturele en sosio-politiese) meerderwaardigheid?
  • Dit daar gelaat – kom ons kyk na hoe ons siening van mense gevorm word.

HOE BEKOM ONS ‘N MENSESIENING?

Mensbeskouing is nie aangebore nie maar word aangeleer, gesosialiseer, geïnternaliseer en deur neurologiese werking geassosieer. NB: In al die, grootliks onbewuste sielkundige prosesse, is die mens ‘n aktiewe agent of bestuurder. Meer hieroor later.

  • Die breinwerking en mensbeskouing
    ‘n Mens het 100- tot 200 duisend miljoen neurone in die sentrale senustelsel (sensoriese, motoriese en assosiasie neurone), met assosiasie neurone by verre in die meerderheid. Assosiasiepatrone is nie aangebore nie, maar ontwikkel geleidelik deur middel van skemas of raamwerke waarin alles wat ons waarneem, ervaar of aanleer geberg word, asook deur prototipes, modelle of figuurlike voorstellings van alle konsepte en objekte. Die brein bou skemas en prototipes deur voortdurende psigies-kognitiewe prosesse van inligtingsortering en kategorisering, vergelyking en soortsoeke en integrasie of indrukvorming. Dit wat bekend is kry altyd voorkeur.So help die brein ons sin maak van ‘n andersins oorweldigende massa waarnemings en indrukke, veral met betrekking tot die mense om ons – hoe hulle is, wat en waarom hulle doen wat hulle doen, wat dit beteken en veral hoe dit ons raak. Vanweë die magdom indrukke en uiterste kompleksiteit van die inligting neem ons kognitiewe prosesse dikwels kortpaaie wat tot voorkeure, selektiewe aandag aan inligting en selfs onakkurate denke en oortuigings lei. Dit alles manifesteer in ons kennis- en ervaringsraamwerke waarvan mensbeskouing een is. Mensbeskouing – ons denke oor en gesindheid teenoor ander, word geskakeer deur ons vooroordele, terughouding en stereotipering of deur ons openheid, gemak en vryer assosiasie, en dit weerspieël ook konteks-, situasie- en groepspesifieke eienskappe.
  • Sosialisering en sosiale leerprosesse
    Verweef in die waarneming- en indrukvormingsprosesse is ook ons sosialiseringsprosesse. Ons is kuddediere en daarvolgens neurologies bedraad. Sosiale leer (dit wat ons waarneem in ander en wat deur belangrike ander aan ons oorgedra word), is van die vinnigste, sterkste en blywendste leerprosesse (dit is byvoorbeeld bekend dat rassistiese gesindhede deur kinders voor die ouderdom van drie jaar reeds aangeleer word). Die brein se leersentra verkies eendersheid, soortgelykheid, bekendheid ens. om raamwerke te skep en inligting te verwerk en aan ons terug te voer. So ontstaan die “ons vs. hulle”-houdings en ons ongemak – selfs vrese – met betrekking tot andersheid in mense.Veroordelende gesindhede, sosiale uitsluiting en ook die stereotipes wat in ons sosiale -ismes manifesteer, spruit uit hierdie kognitiewe ongemak en denkslordigheid wat ons beetpak as iets “anders” is. Kan u verstaan waarom die Christelik-nasionale mensbeskouing so suksesvol op ons afgedwing is en ons dit so maklik geïnternaliseer het?

Die Self as uitvoerende bestuurder
Deur al die voorgenoemde prosesse ontstaan daar ‘n unieke, outonome, geïntegreerde identiteit, ‘n ego of persoonlikheid bekend as “EK”. Die Self staan as aktiewe agent tussen hierdie noodsaaklike innerlike psigiese prosesse en die realiteit van die lewe, konteks, situasie ensovoorts, daarbuite. Die self kan weeg, oorweeg, interpreteer, insig bekom, keuses maak, besluite neem en veral verander na aanleiding van dieper denke. Selfsiening en die vermoë om anders as die prototipes te dink en dan te kies, is sleutelbegrippe hier. Ons kan kies: – of ons outentiek wil wees en of ons ander wil toelaat om ons te beheer, – of ons eienaarskap wil neem en of ons ondergeskik wil leef, – of ons wil dink en bevraagteken en of ons volgens voorskrifte en inskiklik wil bestaan. Iemand, ek dink dit was Maslow, het aan jongmense gesê “I warn you today, if you choose to live a life according to the instructions of other people, if you rely for your happiness on those around you, if you do not fully own who you are and live authentically true to yourself, you will be deeply troubled for the rest of your life”. Selfsiening bepaal mensesiening en hoe oper en gemakliker mense in en met hulself is, hoe minder word hul mensesiening bepaal deur invloede van kultuur, opvoeding, sosiale strukture en vreemdheidsbelewing.

‘N MODERNE MENSBESKOUING

  • Waardes – ‘n Eietydse mensbeskouing is gemaklik geweef rondom universele waardes soos:
    • ‘n Soeke na wysheid en kennis,
    • Lewensmoed en -dapperheid,
    • Menslikheid en medemenslikheid,
    • Geregtigheid,
    • Selfbeheersing en gematigdheid en
    • ‘n Sin vir die transendente.
  • Outentiek – mensbeskouing is gebaseer op ‘n eg en eerlike relasie met die self wat eienaarskap kan aanvaar vir eie denke, keuses en gedrag.
  • Dinamies – mensbeskouing groei voortdurend, is nie staties en rigied nie en word gekenmerk deur ‘n uitbreiding van eie perspektiewe en ‘n oorwinning van vrese vir andersheid of anderswees.
  • Aanpasbaar – mensbeskouing reflekteer aanpasbaarheid en het kontekstuele, situasionele en ander diverse aanpassingskenmerke.
  • Mensbeskouing vertoon die bereidwilligheid om te bevraagteken en bevraagteken te word, om te staan as “a set of attitudes for living, a manifesto, rather than an imposed rule book for relations” (Baro & Byrne, 2005).