Opsomming:

Die jongste gebeure binne die NG Kerk, die Hervormde Kerk en die GKSA dui op ʼn gebrek aan refleksie oor die sistemiese nalatenskap van apartheid. Die Bybel word steeds op dieselfde letterlike manier geïnterpreteer as in die tyd toe apartheid teologies geregverdig is. Omdat die Bybel as ʼn wapen van uitsluiting van ander gebruik is in die tyd van apartheid, meen ek ʼn epistemiese breuk is veroorsaak, amper soortgelyk aan die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog. Ons kan dus nie die Bybel soos vroeër gebruik nie. Ons moet die Bybel anders begin lees, want ander mens gaan dalk die merke van ons lees dra. Ons moet begin bewus raak van die effek wat Bybellees op mense het. Bybellees vir en saam met ander mense bring ʼn bepaalde etiese moment na vore waarvolgens die aangesig van die ander die basis vorm vir jou verantwoordelikheid sodat jy hom of haar nie te na kom nie. Die Bybelleser ervaar hierdie etiese moment ook met die Bybelteks self, sodat daar geregtigheid aan die teks kan geskied in die leesproses.

  1. Konteks waarbinne die Bybel met verantwoordelikheid gelees moet word

Na die Tweede Wêreldoorlog, toe die omvang en impak van Auschwitz en die Holocaust bekend geword het, het teoloë begin vra of mens enigsins die Bybel na hierdie gebeure nog kan lees. Die vraag waarmee hulle geworstel het, was hoe dit moontlik is dat ʼn land met ʼn ontwikkelde Bybelwetenskap en met die grootste getal Bybelwetenskaplikes ʼn doodsfabriek soos Auschwitz kon bedink het.

ʼn Soortgelyke vraag is in ʼn ope brief in die laat negentigjare deur Afrikaanse anti-apartheidsstryder soos Beyers Naudé en Nico Smith gevra, naamlik hoe dit enigsins moontlik was dat apartheid kon bestaan as predikante elke Sondag versoening, vrede en geregtigheid verkondig het. En kan mens byvoeg, ʼn land wat op daardie stadium voorgegee het om op Christelike waardes te staan.

Die maklikste uitweg sou wees om mense se sondigheid te blameer. Tog as mens kyk na wat besig is om te gebeur binne die Afrikaanse Reformatoriese teologiese tradisie, nl. die GKSA, die NG Kerk en die Hervormde Kerk, dan lyk dit glad nie of daar by dié tradisie op die oomblik ʼn refleksie is oor die sistemiese nalatenskap van apartheid nie.

  1. Die Hervormde Kerk kon nie tydens hulle Algemene Kerkvergadering verlede jaar onomwonde afskeid neem van apartheid deur die teologiese regverdiging van apartheid as leerdwaling te verwerp nie. Homoseksualiteit word steeds as sonde gesien.
  2. Die NG Kerk, wat wel ʼn voorlegging by die WVK oor hulle rol in die handhawing van apartheid gedoen het, sukkel nog steeds met eenwording met die ander kerke in die NG familie. Die WVK-voorlegging is ook nog nie opgevolg met ʼn postapartheid teologie nie. Homoseksualiteit word weliswaar verdra, solank die dominee selibaat is.
  • Die GKSA (waarvan ek ʼn lidmaat is) bokspring sedert 1988 oor die toelating van die vrou in die amp. Op ʼn Sinode in 2000 is ʼn gemeente geadviseer dat daar nie tot gemeentestigting as vrug van evangelisasie oorgegaan kan word omdat daar nie mans is wat in die ampte bevestig kan word nie. ʼn Latere sinode, wat net uit mans bestaan het, het ook geweier om amptelik na ʼn video te kyk waarin vroue hulle mening uitspreek oor die uitsluiting van die vrou in die amp binne die GKSA. Homoseksualiteit word beskryf as die sonde van homoseksualisme in navolging van alkoholisme as siekte.
  1. Die GKSA openbaar verder ʼn besondere teenstrydigheid. Ons was nie in staat om ʼn voorlegging oor die kerk se ondersteuning van apartheid voor die WVK te maak nie, ten spyte van lidmate wat die NP en KP polities ondersteun het. Tog is daar op kerkregeringsvlak geslaag om gemeentes van verskillende bevolkingsgroepe onder een struktuur te verenig. Maar dis nie sonder probleme nie. Dié nuwe strukture vind nie orals welgevalle nie (soos hieronder sal blyk).

Neels Jackson maak die volgende stelling in Beeld van 16 Oktober 2007:

Apartheid is diep vasgelê in die harte en denke van ʼn beduidende groep Afrikaanse kerkmense.
Dís my indruk nadat ek die laaste paar weke na debatte oor kerkeenheid en die verhouding tussen wit en swart kerke geluister het op die algemene kerkvergadering van die Hervormde Kerk en op die NG Kerk se streeksinodes van onderskeidelik Wes- en Oos-Transvaal. …

Die kernpunt wat ek wil maak, is dat baie lidmate dit nog nooit op ʼn teologiese of godsdienstige vlak verwerk het dat apartheid verkeerd is nie.

Ons gaan aan asof niks gebeur het nie. Apartheid was ʼn onbenullige foutjie wat soos ʼn vergelende koerantfoto teen die muur ons vaagweg aan iets in ons verlede herinner.

Tog het ons hele samelewingsorde radikaal verander sedert 1994. Maar daar kom geen leiding vanuit die Reformatoriese teologie om kerklidmate teologies te help met dit wat gebeur het en besig is om te gebeur nie. Die tradisie bereik my nie in my veranderde konteks nie.

Juis omdat die teologiese denke apartheid nie sien as ʼn sistemiese breuk waarop met ʼn vernuwende teologie gereageer word nie, kan ʼn patriargale denke wat die vrou uit ampte weer nog seëvier en kan ʼn heteroseksistiese moraliteit homoseksualteit steeds tot sonde verklaar.

 

  1. Die Bybel as wapen of as instrument

Dat die eerste vergadering van ʼn nuutgevormde streeksinode binne die GKSA traumaties was vir sommige Afrikaanse predikante, blyk duidelik uit ʼn paar eposse binne ʼn internetgespreksgroep van die GKSA. Die praktyk het anders gebklyk te wees as die belydenis van eenheid. Boonop lyk dit of die dominees wreed uit hulle blanke middelklas bestaan geruk is. Mens moet simpatie met dié gevoelens hê, want vir die eerste keer is dié mense genoodsaak om uit hulle wit kokon te kom. Ongelukkig is dit ook duidelik dat sonder ʼn postapartheidteologie mense baie vinnig na ou argumente teruggryp waarmee rassisme in die gedaante van taal en kultuur by die agterdeur van die kerk in kom.

ʼn Dominee in Natal is beswaard oor die verdringing van Afrikaans tydens die eerste byeenkoms van die nuutgevormde ʼn streeksinode. In sy skrywe impliseer hy dat die swart dominees en ouderlinge wat nie Afrikaans verstaan nie, dit nie kan of wil verstaan nie. Hy meen dit was “broederlik” om konsensus te bereik deur Engels te praat. Maar dié konsensus is verder getrek, sodat met die opening in Zoeloe en in Afrikaans (Sotho wat deel vorm van die streeksinode, is nie geakkommodeer nie) gesing word. En dis hier weaar die beswaardheid intree en syns insiens die ware gesindheid na vore kom: terwyl die Afrikaanssprekendes en die Sothosprekendes hartlik in Zulu saamgesing het, het die Zulusprekende met hulle monde toegestaan toe in Afrikaans gesing is. In beide gevalle is die woorde op ʼn skerm gegooi.

Die dominee meld ook dat hy nie juis vind dat daar eenheid in leer diens en tug is met sy Zulu-geloofsgenote nie en dat hy gevolglik ontuis voel in wat hy ‘my geestelike tuiste’ noem. ʼn Ander dominee, wat pas vanuit Natal in Gauteng ʼn beroep aanvaar het, het sy waarneming en ervaring bevraagteken, maar sy teregwysing is gewoon afgemaak met ʼn binnekring argument: hy was nie daar nie.

Die ‘toegewings’ wat gemaak is, word bloot as ‘polities korrek’ beskou. Hierteenoor stel ʼn gespreksgenoot die eis van die Woord van God (en dis hier waar ʼn teologiese regverdiging vir neo-apartheid na vore kom): “Om saam te vergader met mense wie se taal ons se taal ons nie kan verstaan nie, lyk dit vir my eerder soos ʼn selfopgelegde vloek. Om tussen mense te woon wie se taal jy nie kan verstaan nie is een van die vloeke waarvan ons in Deut. 28 lees. In vers 49 staan daar : ‘Die HERE sal teen jou ʼn nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ʼn arend vlieg—ʼn nasie wie se taal jy nie verstaan nie.’ ”

Die gebruik van Deuteronomium 28:49 illustreer ʼn bepaalde gebruik van die Bybel. In bogenoemde geval word die Bybel as ʼn belangrike hulpbron gebruik waarmee lesers hulle eie wêreld skep en herskep. Die vraag waarvoor mens te staan kom, is of in hierdie soort Bybelgebruik die Bybel as ʼn wapen of as ʼn instrument aangewend word.   Om te bepaal of iets as ʼn wapen of as ʼn instrument gebruik word, moet mens kyk wat gebeur met die oppervlakte waarteen ʼn voorwerp gebruik word. ·   ʼn Wapen word gebruik teen ʼn oppervlakte wat kan voel. ʼn Geweer skiet ʼn koeël na ʼn persoon om seer te maak, of die uiterste, om dood te maak deur daardie persoon sy of haar vermoë om te kan voel, te ontneem. ·   Daarenteen word ʼn instrument gebruik teen ʼn oppervlakte wat niks kan voel nie. ʼn Hamer wat ʼn spyker inslaan teen die muur, is ʼn instrument. Dieselfde hamer word ʼn wapen waarmee ander seergemaak kan word as dit in die lug rondgeswaai word in ʼn geselskap.   ʼn Hand wat deeg knie of klei brei, is ʼn instrument. Maar dieselfde hand wat ʼn gesig inmekaar slaan of kneus, is ʼn wapen. Die mes wat ʼn bees of skaap se keel afsny, is ʼn wapen, want die dier kry seer en sterf, maar ʼn mes wat aan ʼn sappige biefstuk kerf by ʼn buffet, of ʼn mes wat ʼn stukkie biltong in die veld sny, is ʼn instrument, want die vleis wat so gesny word, is nie meer lewendig nie.

Die hamer wat Jesus aan die kruis vasgespyker het, was ʼn wapen, maar die hamer wat die kruis gemaak het, was ʼn instrument.

Gereformeerde geloof impliseer dat mense ontsag sal hê vir die Bybel. Binne die Reformatoriese tradisie het die Bybel grootliks die plek ingeneem wat die Pous voor die Reformasie besit het. Immers, so is geglo, dit was beter om jou te onderwerp aan ʼn teks wat vasstaan as aan die willekeur van menslike gesag.   Teenoor die menslike gesag van die pous word gewoonlik die goddelike gesag van die teks gestel. Om dié rede word aanvaar dat die waardes en norme wat daarin vervat word, heilsaam gebruik word. Daar is ʼn welwillendheid wat aan die Bybelteks toegeskryf word. As geïnspireerde Woord van God word aanvaar dat die Bybel goed bedoel.   Maar nie al die waardes wat in die Bybel vervat word, kan uitgeleef word nie. Die vraag is hoe weet gelowiges nou watter waardes om uit te leef.   Boonop is ons gebruik van die Bybel nie altyd so welwillend nie. Kom ons kyk na daardie denkpatroon wat die Bybel in enige argument of gesprek altyd die laaste sê laat hê. Om God altyd die laaste sê te laat hê, klink vroom en opreg. Mense aanvaar dat sy stem in die Bybel voorkom. Baie gelowiges stel dit wat die Bybel sê, gelyk aan wat God mense aansê om te doen.   Iemand wat opreg glo, sal die oproep wat vanuit die Bybelteks kom nie weerstaan nie. Dit is egter hier waar die probleem kom. Hoe weet so ʼn mens wat die Here eintlik sê as hy of sy net op die teks moet staat maak, terwyl daar ʼn groot gaping tussen sy of haar ervaringswêreld en die teks se verwysingswêreld is? Watter waarborg het so ʼn persoon dat hy of sy nie maar sy of haar eie denkraamwerk, vrese en wense in die teks terugprojekteer nie?   Op die oomblik word die Reformatoriese tradisie bedreig deur ʼn vloedgolf fundamentalisme wat gemanifesteer word  in die handhawing van ʼn outoritêre Skrifbeskouing sonder in agneming van die verskillende kontekste wat ʼn rol speel in die Bybelleesproses.

Die onvermoë om die patriargale sosiale orde in berekening te bring wanneer daar oor vroue in die kerke gepraat word, of om die teks se eie  heteronormatiwiteit te verdiskonteer in die gesprekke oor homoseksualiteit, laat ʼn suggestie van Bybelafgodery wanneer verklaar word dat vroue nie in die ampte mag staan nie of dat homoseksualiteit sonde is.

 

  1. ʼn Etiek van Bybellees

Daar is ʼn gebrek aan samehang tussen Bybellees en die effek wat dit op mense het. Die Bybel word gewoonlik gesien as ʼn welwillende boek met ʼn heilsame effek op mense. Die verlede van apartheid, die gestoei binne my eie kerkverband (GKSA) om die vrou in die ampte te kry en die gespartel oor die plek van gays binne die Afrikaanse kerke in die algemeen getuig na my mening eerder van ʼn onheilsame werking as gevolg van ʼn bepaalde soort Bybellees – ʼn lees wat by sommige mense ʼn litteken laat. Die Bybel is dalk nie so ʼn welwillende boek soos wat ons hoop dit moet wees as Woord van God nie.

Kyk ʼn mens na die gesprek oor die rol van die vrou in die kerke en die plek van gays in gemeentes, dan lyk dit asof dieselfde diskriminatoriese denke geld as wat in die tyd van apartheid gegeld het. Terwyl ons dit nie meer so geredelik teenoor anderskleuriges sal doen nie is dit nogtans gangbaar om in die kerk op grond van geslag en seksuele oriëntasie te diskrimineer. Die Grondwet as ʼn hermeneutiese raamwerk het nog nie inslag gevind nie.

Ek wonder of die leerstuk van die uitverkiesing nie diskriminasie minder van ʼn probleem maak nie, want God word gesien as iemand wat diskrimineer. Terwyl lidmate hulle eie uitverkiesing in vroomheid as blote genade aansien (en die magselement in hierdie bevoorregte posisie miskyk), word die verwerping op die verworpenes se eie brood gesmeer. Hierdie denkpatroon laat mens egter met ʼn leemte, naamlik ʼn onvermoë om met die verworpenes te identifiseer. Wanneer dié denkpatroon op ander diskriminatoriese gebruike toegepas word, soos in die geval van patriargie en heteroseksualiteit, dan is daar ook nie ʼn gevoeligheid vir diegene wat onder hierdie meul uitgeskei word nie.

Laat ek terugkeer na die gebruik van Dtr 28:49 as regverdiging vir afsonderlike aanbidding. Wie word deur die vloek getref? Die Afrikaanssprekende? Wat van die Zulusprekende? Meer nog, watter situasie het tot gesamentlike aanbidding gelei wat die vloek noodsaak? Sekerlik kolonialisme en sendingwerk! Beteken dit dus nie dat iemand moet terugtrek na die plek van herkoms nie? Maar wat die uitspraak hierbo so ontstellend maak, is dat dit kom van iemand vanuit een van die stamlande. Dat hy of sy ouers nooit die stamland moes verlaat het nie, as mens aan die strekking van die teks gehoor wil gee, kom nie te berde nie.

Bybellees deur leiersfigure, soos dominees, ouderlinge, katkisasieonderwysers en onderwyseresse, Bybelstudieleiers, of gewoon ouers vir kinders, het ʼn nadraai by die mense vir wie hulle die Bybellees. Mense dra die merke van ander se Bybellees. ʼn Sinode se interpretasie van die Bybel en ʼn besluit wat daarop gegrond is, veroorsaak merke op ander mense, en in baie gevalle, littekens.

ʼn Etiek van Bybellees vra na die effek wat ʼn bepaalde interpretasie op die lesers het. Die vraag is nie net hoe betekenis gekonstrueer word nie, maar ook wie se belange gedien word, watter waardes aangemoedig word en watter sosio-politieke praktyke gelegitimeer word.

Die volgende het ʼn rigtinggewende invloed op my denke gehad. Teksinterpretasie kan inderdaad tot ʼn mens se dood lei.

ʼn Kollega in die VSA, Danna Nolan Fewell van Drew Universiteit in New York, vertel die volgende verhaal. Studente in Bybelkunde moes die lex talionis (vergeldingsleer) in Genesis 9:5-6 en Jesus se verandering daaraan in Matteus 5:38-39 bestudeer.   Die volgende vraag is gevra: ‘As die vergeldingsleer bedoel was om geweld te beperk, sou Jesus se aanmaning om die ander wang te draai dieselfde funksie kon hê?’   Die meeste studente het hierop ‘ja’ geantwoord. Na aanleiding van die antwoorde is gevra of Jesus se woorde ‘om die ander wang te draai’ inderdaad geweld beperk. Die meeste studente het gesê deur die ander wang te draai, weier ʼn mens om geweld met meer geweld te beantwoord. Hulle het oorwegend gemeen dat geweld op hierdie manier gekortwiek kan word.   Maar ʼn vrou wat werk met vroue wat geslaan word, het hieroor opgemerk: ‘Dit is baie naïef om so te dink. Hierdie teks het meer vroue doodgemaak as wat ons kan tel.’

ʼn Etiek van lees help die leser om die implikasies van sy of haar lees ernstig op te neem.

Eweneens help dit die leser om die gevolge wat die skrywer se skryfwerk vir die gemeenskap waarbinne die teks destyds geproduseer is, na te speur.

Is dit nie dalk ʼn vals bewussyn om te dink dat geweld gestop kan word deur die ander wang te draai nie? Is dit nie dalk die sosiale rol van manwees wat verstaan hiervan bepaal nie?  In die anekdote was dit meesal manlike studente wat van mening was dat geweld gestop kan word deur die ander wang te draai. Dit was ʼn vrou wat hulle aandag gevestig het op die manier hoe hulle lees.

As die manlike geslag die dominante vennoot in ʼn magsverhouding is, dan is dit moontlik dat die effek wat hulle Bybellees op vroue het, nie maklik onder hulle aandag sal kom nie. Hulle werk met ʼn openbare transkrip wat hulle mag voortdurend bevestig. Alles wat dit ondergrawe, word van meet af aan uitgewerk.

Dit het die geval met die manlike sinode wat geweier het om te kyk na ʼn video oor die vroue se stemme wat nie in hulle kerke gehoor word nie, uitdruklik gewys. Die 2003 sinode van die GKSA (gevul met afvaardigings wat net uit mans bestaan) het dit onvanpas gevind om amptelik na ʼn video te kyk oor hoe vroue voel oor hulle uitsluiting uit die amp van ouderling, diaken en predikant.

 

4.     Die etiese moment   Die anekdote van die vrou wat aan die mansstudente in die klas vra of hulle besef hoeveel vroue gesterf het deur die interpretasie van Jesus se woorde oor die ander wang, wat die studente goedkeur, dui op wat Levinas die ‘etiese moment’ noem. Vroue wat aangerand en gemolesteer word, staan hier voor die Bybelleser en roep uit: ‘Moet ook dit nie aan ons doen nie!’   Emmanuel Levinas was ʼn Franse filosoof wat in 1906 in Lithaue gebore is. Hy het die Russiese Rewolusie van 1917 oorleef en uitgewyk na Frankryk. Hy was in staat om onder die groot filosowe van Europa van destyds, soos Husserl en Heidegger, te studeer.   Levinas het die ander persoon, dit is die een namens wie ʼn mens lees of aan wie ʼn mens op die een of ander manier verantwoording moet doen, in die prentjie gebring.    Die beeld van ʼn mens wat so van alles gestroop is, is nuttig om dit wat Levinas die ‘etiese moment’ noem, te illustreer. Enige ontmoeting is van etiek deurdrenk, sodat mens kan sê etiek het te doen met die konkrete vlak van samekoms tussen mense. Die etiese moment ontstaan in die ontmoeting van twee persone.   Dit werk so: Wanneer jy iemand van aangesig tot aangesig ontmoet, is die ander persoon, metafories gesproke, sonder enige familie-, bloed- of gemeenskapsverwantskappe. Daardie persoon word ontmoet as ʼn enkeling. Levinas beskou so ʼn persoon in die ontmoeting as ʼn wees en weduwee, of selfs ʼn vreemdeling, dit wil sê, ʼn persoon in nood en wat om hulp uitroep.   In hierdie ontmoeting is die ander persoon kwesbaar en ontbloot, as’t ware behoeftig en naak, gestroop van alles.   Dit is die gekneusde en verkragte vrou van wie verwag word om die ander wang te draai. Dit is die gay seun wat voor sy familie uit die kas geklim het. Dit is die boemelaar en daklose wat skuiling soek by die GKSA se monument in Rustenburg en waaroor ʼn hartseer verhaal op die GKSA se webtuiste vertel word.

Die aangesig van die ander vorm die basis van die mens se verantwoordelikheid. Die teenwoordigheid van die ander se gesig keer jou om die ander persoon te oorweldig. Die gesig van die ander persoon lê ʼn radikale verpligting op ʼn mens om nie die ander persoon op watter wyse ookal te vernietig of te ontmagtig nie.   Ons weet almal dit is maklik om iets van iemand te sê in ʼn persoon se afwesigheid. Dit is baie moeiliker om dit te sê in daardie persoon se teenwoordigheid. Die weiering van ʼn sinode om na die video te kyk oor hoe vroue voel oor hulle uitsluiting uit die amp is om dié rede betekenisvol.   Die afwysing kom neer op ʼn volslae weiering om verantwoordelik te wees teenoor die mense wat direk geraak word deur ʼn bepaalde soort Bybellees.   Dit is duidelik dat die groep manlike maghebbers geen radikale verpligting voel teenoor die vrou nie, omdat die vrou na haar ‘wese’ geskat word. Haar biologiese of fisiologiese samestelling, naamlik om kinders te baar, verdoem haar skynbaar tot sekere posisies in die samelewing. Dit is asof die ‘aard’ van vroue hulle nie toelaat om in sekere dienste te mag tree nie.   Dit is dieselfde soort denke wat in die dertiger tot tagtigerjare in die vorige eeu geseëvier het in die siening oor Afrikane. Tóé het ons hulle gereduseer tot waterdraers en houthakers omdat hulle swart is en omdat hulle bepaalde tradisies het en omdat ons op hulle kultuur neergesien het.

5.     ʼn Nuwe manier van Bybellees met die teks as ‘Ander’   Levinas se klem op die ‘Ander’ is simbolies vir die hantering van die Bybelteks. Net soos Levinas nie die ander persoon só wil omsluit dat daar niks van die ander persoon oorbly nie of dat die ander persoon sy of haar identiteit heeltemal verloor nie, so behoort Bybellesers hulle daarvan weerhou om die Bybelteks só te lees dat die teks sy vreemdheid en andersheid verloor.   Met ander woorde, die Bybelteks moet nie gereduseer word tot ʼn teks van die 21ste eeu nie. Die Bybelteks en die mense wat beïnvloed gaan word as gevolg van ʼn bepaalde soort Bybellees, staan hier voorop.   Om ʼn teks of ʼn eienskap van ʼn mens te verabsoluteer, is om die teks en die mens se andersheid te ignoreer. Levinas praat hier van totalisering. Totalisering beteken om ʼn persoon te etiketteer voordat daardie persoon gepraat het, of self as die persoon gepraat het, nie die persoon se verklaring te aanvaar nie. Dit is om ʼn mens te verwerp omdat hy of sy anders is.   Met ander woorde, totalisering beteken om andersheid te ontken en die persoon of teks te omvorm tot jou eie denke of standpunt. Wat so ʼn totalisering maklik maak, is die afwesigheid van die gesig. Die weiering van ʼn groep mans, wat as ʼn kerklike vergadering gekonstitueer is, om na ʼn video oor vroue te kyk, dui op só ʼn proses van totalisering.   Ek wil ʼn Bybellees voorstel waar mens God en ideologie makliker kan onderskei. Die Bybellees waaraan ons gewoond is en wat in die kerke gangbaar is, het Bybelinterpretasie verduister en onder verdenking gebring. Ons persoonlike geskiedenis, wat ʼn vervlegting van politiek en godsdiens is, het aan ander mense ernstige pyn en lyding besorg. Nou sit ons met die brokstukke en die skade wat herstel moet word.   Die manier waarop lidmate in die kerk leer Bybellees het, besit net nie meer die nodige integriteit nie. Vroomheid wat met politieke gedienstigheid gepaard gegaan het, het ʼn teologiese denksisteem opgerig wat na 1994 soos ʼn kaartehuis in mekaar getuimel het.   Maar hoe bring mens integriteit weer terug in die Bybelleesproses? Deur denkraamwerke wat al die jare verdoesel is, ideologiese oorwegings wat geïgnoreer word en Bybelkennis wat op grond van die belydenis ʼn verleentheid geword het, op die tafel te sit.   Dit is ʼn Bybellees wat subjektiwiteit ernstig neem: die subjektiwiteit aan die kant van die huidige lesers, die subjektiwiteit wat in die skrywers gesetel het en die subjektiwiteit wat by die eerste lesers teenwoordig was.   Met subjektiwiteit bedoel ek nie daardie soort siening of perspektief wat sonder enige rede of behoorlike ondersoek geformuleer is nie. Ek bedoel met subjektiweit dat die mens by die lees van die Bybel die knooppunt van verstaan is, sodat die teks in interaksie kom met verskeie buite-tekstuele gegewens.   Dié gegewens is enersyds deel van die leser se bestaan en andersyds moet dit deur die leser rondom of buite die teks gesoek word ten einde die teks beter te begryp: ·   Die eerste deel van die subjektiewe gegewens is te vinde in die lesers se opvoeding, kultuur, politieke ideologie, verwysingsraamwerke, persoonlike geskiedenis, geloof en godsdiens. ·   Die tweede deel van die subjektiewe gegewens is daardie konstruksies wat die leser op grond van die eerste gegewens maak ten opsigte van die ontstaanswêreld van die Bybelteks, die aard van die lesers wat die teks eerste sou gehoor het, die kenmerke van die wêreld wat die verhaal skep en die aard van die historiese gebeure waarna die teks moontlik verwys indien dit ʼn sterk historiese onderbou het.   Elke mens wie vir ʼn ander en saam met ʼn ander die Bybel lees, het ʼn openbare en politieke verantwoordelikheid. Om die Bybel te lees, vereis die opstel van belange, waardes en die leser se eie visies. Daar is nie iets soos ʼn waarde-vrye Bybellees nie. Geen mens gaan nie na die Bybelteks met ʼn leë kop nie.   Die mens se sosiale ligging bepaal hoe die mens die wêreld sien en hoe hy of sy uiteindelik hulle eie werklikheid skep. Die sosiale ligging van mense word bepaal deur die magsverhoudinge waarin hulle verkeer. Hierdie magsverhoudinge word weer bepaal deur ouderdom, geslag, ras, rykdom, opvoeding, ensovoorts. Dit beteken nie dat as mens arm is, ʼn mens op ʼn bepaalde manier dink nie. ʼn Mens dink ook nie op ʼn bepaalde manier omdat jy ʼn man, ʼn vrou, wit, swart, jonk of oud is nie.   ʼn Mens dink op ʼn bepaalde manier omdat jy binne ʼn samelewing opgevoed is en omdat daardie samelewing se waardes en denkraamwerk op jou afgedruk is en omdat jy ʼn sekere rol speel in daardie samelewing (as gevolg van sekere waardes en sekere denkraamwerke wat jou beïnvloed het).

Of dit wat ek voorstel waterdig sal wees, weet ek nie. Wat ek wel hoop dit bereik, is dat Bybellees net so deursigtig sal wees soos die Reformastoriese tradisie bely die Bybelteks is. My voorstel is die volgende: kom ons verskuif die klem weg van die gedagte dat tekste betekenis het na daardie faktore wat ons lees en uiteindelike verstaan van die Bybel beïnvloed.   Die faktore wat ons lees en verstaan beïnvloed, is die volgende: ·   die manier hoe ons betekenis in die teks kry; ·   die belange wat gedien word in die Bybelleesproses; ·   die soort wêreld wat voorsien word; ·   die soort rolle, pligte en waardes wat voorgehou word; en ·   die soort sosiopolitiese praktyke wat geregverdig word.   Omdat ons Bybellees sosiale belange dien, moet ons dalk ons belange op die tafel sit. Ek dink aan ras, geslag, kultuur, klas, ekonomiese welvaart, epistemologie. Maar dit beteken dat ons nie meer die Bybel kan lees as sou dit net een ding beteken nie. Ons moet dus ruimte vir meer as een siening laat. Dié soort verdraagsaamheid vra ʼn dubbele etiek van lees, wat ʼn etiek van historiese lees en ʼn etiek van verantwoording genoem kan word.

 

6.     Dubbele etiek van lees   Oor die verantwoordelikhede wat Bybellees meebring, steun ek baie sterk op die presidentsrede van Elizabeth Schüssler-Fiorenza wat sy in 1988 by die Society of Biblical Literature in Amerika gehou het. Sy onderskei tussen ʼn etiek van historiese lees en ʼn etiek van verantwoording. Saam maak hierdie twee die etiek van Bybellees uit.

(a) ʼn Etiek van historiese lees   Vir ʼn etiek van historiese lees is die fokus van teksinterpretasie die volgende vraag: Watter soort lees laat geregtigheid aan die teks in sy historiese omstandighede geskied?   Met ander woorde, watter manier van lees sal die leser noop om die teks te respekteer? Die Bybelteks se ontstaanskonteks is hier belangrik.    Dit wat gewoonlik as die ‘oorspronklike’ betekenis bekend staan, is belangrik, maar om ander redes as wat die geval is vir ʼn letterlike lees. Oorspronklike betekenis gaan nie hier oor die betekenis van die verhaal as sodanig nie, maar oor die betekenis van die verhaal binne die soort wêreld waarbinne die teks geskryf is. Met ander woorde, as mens na die skeppingsverhaal kyk, gaan dit nie maar net om die skepping of wat genoem word die ‘sondeval’ nie, maar om die redes hoekom die ballinge dit nodig gevind het om hulle eie skeppingsverhale te formuleer in kontras met hulle ontvoerders se eie verhale.   Omdat ʼn etiek van historiese lees ʼn onderskeid tref tussen die verstaan van die teks toe dit geskryf is en enige verstaan daarvan deur latere lesers, word ʼn afstand tussen die teks en die leser geskep. Dit skep ʼn irritasie by die latere leser, omdat dit sy of haar vooronderstellings, lewens- en wêreldbeskouing, asook norme uitdaag.   Die betekenis, gesag en waardes wat die leser aan die Bybelteks heg, word volkome gerelativeer en onder die soeklig gestel. Omdat die leser relatief gestel word, kan dit nie anders as dat die ander wêrelde wat betrokke is by die leesproses, ook relatief gestel word nie.   Waarheid is relasioneel. Dit beteken nie dat geen waarheid moontlik is nie, maar eerder dat wanneer waarheid wel bepaal word, dit tydens die moment van bepaling in ʼn bepaalde verhouding staan tot die mense wat die waarheid probeer peil. Verander die moment en die waarheid mag weer anders lyk. Waarheid word bepaal, maar mens moet altyd kyk watter perspektiewe en toestande ʼn rol speel in die konstruksie van betekenis.   (b) Etiek van verantwoording   Omdat waarheid relasioneel is, word die eties-politiese dimensie van die Bybelteks in verskillende historiese kontekste belig en onder die loep geneem. Dit het tot gevolg dat die tradisionele manier van Bybellees nie meer kan voortgaan soos van ouds nie.   ʼn Etiek van verantwoording impliseer verantwoordelikheid nie net vir die manier hoe of die verstaansraamwerk waarmee ons die Bybel interpreteer nie, maar ook die etiese gevolge wat hierdie interpretasie op ander mag hê.   God en ideologie vloei ineen as lesers nie instrumente het om te bepaal wat hulle eie ideologie as lesers is en wat aan die godheid toegedig word in die verhaal nie. As lesers nie in staat is om hulle wêreld van teksontvangs ideologies-krities te ontleed nie, en hulleself nie duidelik van die verhaalwêreld, die historiese wêreld en die wêreld van teksproduksie onderskei nie, dan is dit maklik om jou eie siening uit die teks te haal en aan te bied asof dit net uit die Bybel is.   Daar is altyd iets meer as die teks betrokke wanneer ons Bybellees. Ek aanvaar dat Bybellees hartsgoed is, en nie maar net ʼn oog is wat oor ʼn koue teks gegooi word nie. ʼn Mens kan enigiets uit die Bybelteks vir jouself uithaal. Maar die moment wanneer hierdie privaat oomblik in die openbaar kom sodat ander mense daardeur geraak of beïnvloed kan word, geld ander reëls.

As mens die Bybel lees soos ʼn storie, dan moet mens besef dat geen historiese uitsprake gemaak kan word nie. Die fokus val alleenlik op die storiewêreld en nie op die verband tussen die storiewêreld en die historiese wêreld waarna die storie verwys nie.   As die teks histories gelees word, dan moet mens begryp dat die teks met ander historiese tekste vergelyk behoort te word. Net omdat die Bybel ʼn godsdienstige teks is, beteken nie dat dit op bevoordeling in die historiese beoordeling kan aanspraak maak nie. Goddelike inspirasie wat aan die Bybel toegedig word, waarborg nie ʼn teks wat in alle opsigte histories akkuraat is nie.   As die teks vanuit ʼn feministiese raamwerk gelees word, dan moet mens aanvaar dat die posisie van die vrou in die verhale geproblematiseer sal word. Omdat só ʼn lees ingestel is op die rol van vroue en hoe hulle die onderspit delf in ʼn geslagtelike magspel, sal die magspel vanaf die manlike kant noodgedwonge op ʼn spits gedryf word gedurende die proses van interpretasie.

Dit is onmoontlik om alle gevolge van die leesproses vanuit ʼn bepaalde raamwerk vooraf te weet. Die punt is net dat Bybellesers moet besef dat daar gevolge is wat verreken moet word. Die gevolg van ʼn bepaalde soort lees moet ook ten minste logies uit die gebruik van ʼn bepaalde raamwerk volg.

Die erkenning van die invloed van ʼn bepaalde raamwerk maak dit makliker om sekere gebruike en denke te verklaar. Ons sal gou sê iemand was ʼn kind van sy of haar tyd. Maar ʼn etiek van verantwoording vra ʼn verdere vraag, naamlik wat was die gevolge wat die inname van ʼn sekere standpunt gehad het. Met ander woorde, dit is om navraag te doen oor die verantwoordelikheid vir die etiese gevolge wat ʼn bepaalde manier van Bybelverstaan gehad het.

 

  1. Die mite van ʼn letterlike lees

Die opneem van verantwoordelikheid van interpretasiemodelle ten opsigte van die teks, die gevolge daarvan vir ander mense en ʼn verantwoordelikheid om aan die teks geregtigheid te laat geskied, ondergrawe uiteindelik die leesmodel wat in die kerke aan die lidmate geleer word.

Die leesmodel wat geleer word, word die letterlike interpretasie genoem. Maar lettterlike interpretasie is ʼn mite. ʼn Letterlike lees is ʼn uitvloeisel van die grammaties-historiese metode wat Calvyn by die ou rabbyne gekry het. Hiervolgens is gekyk na wat die teks beteken het in die tyd van die teks se ontstaan. Die oorspronklike taal en die historiese omstandighede tydens die ontstaan van die teks is ernstig opgneem. Maar die onuitgesproke vooronderstelling was dat die ontstaan van die teks min of meer gelyktydig met die gebeurtenis waarvan die verhaal vertel, plaasgevind het. By letterlike lees het die vooronderstelling wat die teks se ontstaan en die gebeure waarna die teks verwys in dieselfde tydsgleuf plaas, sterker begin funksioneer.

Omdat ʼn letterlike lees by voorbaat aanneem dat die Bybel geskiedenis weergee en dat die betroubaarheid van die Bybel afhang van die historiese korrektheid van die weergawe, word die verskil tussen die ontstaan van die teks en die gebeure waaroor die teks handel, heeltemal uitgewis. Die twee val saam, sodat letterlik nie alleen op die mees voor-die-handliggende-betekenis dui nie, maar ook dat dit wat geskryf is, met die werklikheid ooreenstem.

Wanneer ek beweer dat letterlike lees inderwaarheid ʼn mite is, peuter ek aan een van die boustene van die Reformasie. Beteken dit dat ek ook meen dat die gewone leser nie in staat is om behoorlik te lees nie? As die voor-die-handliggende-betekenis nie meer sin maak nie, wat bly oor vir die gewone leser wat moet staat maak op ʼn letterlike lees? Word lees nie vierkantig binne die hande van die kundige geplaas nie? Een van die boustene van die Reformasie was om die Bybel na die gewone mens te bring.

ʼn Letterlike verstaan van ʼn teks berus op ʼn aanname dat dit wat in ʼn mondelinge kommunikasiehandeling gebeur, net so op ʼn skriftelike kommunikasie van toepassing is. Wat die skrywer wou sê of tuisbring, is regstreeks toeganklik soos tydens ʼn mondelinge kommunikasie. Dat skrif  konteks vries en ʼn afstand tussen skrywer, leser en teks kan bring, word nie in berekening gebring nie. Dit is eers as die verhaal opgeteken is en as ’t ware in ʼn besondere vertelling vasgelê is, dat probleme intree.

By Bybelverhale moet ons daarmee rekening hou dat die verhale eens op ʼn tyd mondeling oorvertel is. Met mondelinge verhale is die belangrike element nie soseer die woorde wat gebruik word nie, maar dit wat in die geheel oorgedra word. Op ʼn bepaalde stadium, is dié verhale op skrif gestel. Op daardie moment het die manier waarop die verhale in ʼn bepaalde vorm gegiet is, belangrik geword. Die fokus het al hoe meer op die gebruik van bepaalde woorde geval.

Mens moet dus meer veronderstel by ʼn teks as wat daar staan. Enige uitdrukking word deur mense gemaak in ʼn bepaalde konteks: ʼn spesifieke tyd (dag, maand of jaar), ʼn spesifieke plek (huis, werk, buitelug) en ʼn bepaalde agtergrond (gebeurlikheid). Mens moet altyd maar rekening hou met ʼn breër situasie as waarvan die teks wil rekenskap gee.

Hoekom meen ek dat letterlike verstaan ʼn mite is? ʼn Letterlike verstaan is veronderstel om  perspektiwiteit wat inherent aan menslike kommunikasie is, heeltemal te ignoreer. Maar dit is onmoontlik. Perspektiwiteit speel wel ʼn rol, maar die rol word nooit uitgestippel of erken nie.    Dat die geskrewe teks ingebed is binne ʼn gemeenskap en dat taal ʼn sosiale funksie het wat nou verbonde is aan die aard van die gemeenskap waarbinne die teks ontstaan het, word nie in ag geneem nie. Letterlike betekenis ignoreer enige subtiele sosiale en kontekstuele kenmerke. Met ander woorde, letterlike verstaan vertel nie die volle verhaal nie. Letterlike betekenis kan nie die sosiale inbedding van taal ontkom nie.

ʼn Letterlike betekenis maskeer mag en versluier die heersende ideologie. Deur daardie aspekte verborge te hou, word die belange van wat genoem kan word die heersende elite, onderhou. Hulle is die mense wat op grond van sekere meganismes soos geslag, ras, geld, klas ensovoorts mag uitoefen oor ander. In die meeste gevalle gebeur dit onbewustelik en is die veronderstelling dat die magsuitoefening welwillend is.  In sommige gevalle geskied dit egter ten koste van ander.   In dié gevalle het ons te make met ʼn magsgroep wat die Bybel op só ʼn manier lees dat hulle mag nie ingeperk word nie, terwyl ʼn groep mense van die besluitnemingsproses self uitgesluit word. ·   Wat die apartheidsbestel betref, het ʼn persoon van Europese afkoms die Bybel só gelees dat sy velkleur in die sosiale orde beskerm is. ·   Wat die vroue in sommige kerke betref, het die kerklike vergaderings (sinode, ring, konferensie) tot dusver nog as ʼn groep mans opgetree wat die Bybel interpreteer asof die skepping van man en vrou ʼn sekere magsorde daargestel het. ·   Wat gays betref, is dit mense van heteroseksuele oortuiging wat die sosiale orde seksueel definieer en homoseksualiteit as afwyking daarstel.   Die indruk wat telkens gewek word, is die bevestiging van die magsposisie van ʼn sekere soort mens: die blanke middelklas heteroseksuele man.   8.    Slot   Wanneer niks van buite die Bybel toegelaat word tydens die leesproses nie, word Bybellesers vasgevang in ʼn sisteem waarvan dit moeilik is om uit te breek. Dit eis ʼn monopolie van die verstaan van die Bybel op en dit rig ʼn muur op rondom die interpretasie van die Bybel.   Dit is binne hierdie raamwerk wat ʼn teologiese regverdiging vir apartheid plaasgevind het. Dit is binne hierdie soort Bybelverstaan waar vroue nog steeds tweede kom in die gemeenskap. Die waardes van die Bybelteks het telkens die waardes van die Bybellesers geword. Apartheid is afgelei van die uitverkiesing van Israel wat as Godsvolk hulleself van die res moes afsonder. Die onderwerping van vroue aan manlike gesag word afgelei van die patriargale sosiale orde waarmee die Bybelverhale vertel word.

Dié soort Bybellees het Bybelinterpretasie verduister en onder verdenking gebring. ʼn Manier van Bybellees waar God en ideologie onderskei kan word, het noodsaaklik geword, naamlik ʼn Bybellees wat subjektiwiteit ernstig opneem. Dit is ʼn lees wat die subjektiwiteit aan die kant van die huidige lesers, die subjektiwiteit wat in die skrywers gesetel het en die subjektiwiteit wat by die eerste lesers teenwoordig was, verdiskonteer.   ʼn Etiek van Bybellees gee aan die leser ʼn betekenisvolle rol in die leesproses. Dit is nie ʼn leerdwaling nie maar eerder ʼn verantwoordelikheid. Daar is ʼn verantwoordelikheid om geregtigheid aan die teks te laat geskied en ʼn verantwoordelikheid teenoor diegene wat die merke van ʼn bepaalde Bybellees moet dra. Die teks beteken nie sommer enigiets afhangende van die leser se ideologie nie. ʼn Leser se verstaan van die Bybel geskied binne ʼn verantwoorde raamwerk.