1. VOORLESING:

Die eerste gedeelte kom uit die Bybel, 2,3). Eksodus 3:1-12. Die tweede is ‘n weergawe van ‘n pragtige gelykenis uit die Mahayana Buddisme, “Die Net van Indra.”

Eksodus 3:1-12
1. Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midean, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. 2. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3 En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ‘n bietjie nadergaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” 4. Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” 5. Die Here sê toe vir hom: “moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6. Verder sê Hy : “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. 7. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van die Egiptenare te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land …9. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10 Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” 11 Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” 12 God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dit wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

In die Mahayana Boeddisme is Indra ‘n god van alles wat die lewe voed en oppas. Die Avatamsaka Sutra vertel dié gelykenis:
Ver weg in die hemelse tuiste van die groot god, Indra, is daar ‘n wonderlike net. Dit is deur die kundige vakman só gespan, dat dit oneindig in alle rigtings uitstrek. Volgens die oordadige voorkeure van die gode, het die vakman ‘n enkele blink juweel by elke knooppunt van die net gehang. Omdat die net oneindig van omvang is, is daar ook ‘n oneindige hoeveelheid juwele. Daar hang die juwele, blink soos sterre van die eerste orde, ‘n wonderlike gesig om te sien. As ons nou lukraak een van hierdie juwele kies om te ondersoek, en dit van naby bekyk, sal ons ontdek dat al die juwele van hierdie net in die gepoleerde oppervlakte weerkaats word, oneindig in getal. Nie net dit nie, maar elkeen van die juwele wat in hierdie een weerkaats word, weerkaats ook al die ander juwele, sodat die proses van weerkaatsing oneindig is.

 

2. BOODSKAP: “Ek het …. gesien, … gehoor, … ter harte geneem. Daarom stuur ek jou …”

Daar is plekke in hierdie wêreld wat nie hier of daar is nie, nie bo of onder nie, nie werklik of denkbeeldig nie. Dit is tussen-in plekke wat jy moeilik vind, en moeilik by kan bly, soos in die woestyn by ‘n doringbos wat brand en nie uitbrand nie. Dit is hier waar dinge gebeur, vreemde dinge, buitengewone dinge, kreatiewe dinge. Jy leer goeters wat jy op geen ander plek kan uitvind nie—soos hoe God is, en wat jy is, en wat jy met jou lewe moet doen.

Miskien was jy ook al by só ‘n fase in jou lewe, dat jy jou boeke moet afsluit, of op ‘n nuwe paadjie moet loop waar daar nog nie eers ‘n pad is nie. Skielik val verlede, en hede en toekoms vir jou in perspektief. Jy staan voor jou Rubicon, jou Waterloo. En hier, in Eksodus 3:1-10 is Moses s’n vir ons opgeteken. Groot vrae kom hier aan die orde: Wat is jy besig om met jou lewe te maak? Wat soek jy agter die skape, Moses? Wat doen jy by hierdie byeenkoms vanoggend? Het die Nuwe Hervorming Netwerk ‘n funksie in Suid-Afrika? En in ‘n geglobaliseerde wêreld?

Dis hoekom Moses se storie ons só aangryp, omdat ons soms só ontuis, so vreemd voel, in hierdie wêreld, in hierdie nuwe Suid-Afrika.

Die eerste ding wat in hierdie buitengewoon kritiese oomblik gebeur, is dat God se stem eg hoorbaar word. Soos ‘n wind waai God se Gees in ‘n droë woestyn en vind stembande in die droë blare en takke van ‘n goed-vir-niks doringbos. God is naby, in ons, om ons. En hier ervaar Moses God nie soseer as ‘n persoon nie, maar as ‘n aspek van die werklikheid wat hom aanspreek. Ons noem dit “Panenteïsme,” die krag van die lewe wat voorstu, ten spyte van die vlamme wat lek.

En hoe bekend is God nie! “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Hier kon netsowel gestaan het, “Ek is die God van Sara, van Rebekka, van Petro wie se man haar slaan, en klein Mishak van Soweto wat ‘n koeëlmerk het toe hulle by sy huis in Sowete ingebreek het en hom sommer deur die maag geskiet het. Hierdie God is die bekende God wat vir rondlopers ‘n blyplek gegee het, en moedeloses ‘n nuwe toekoms.

En wanneer Moses God ervaar, ervaar hy God as ‘n kreatiewe krag wat die lewe nuut maak. Luister (verse 3-9): “Ek het die ellende van my volk … gesien en hulle noodkrete … gehoor. Ek het aanskou … hoe Egipte hulle verdruk.” En vandag sou ons dalk hierdie ervaring kon vertaal, en hoor, “ek weet van die mense wat in vuilgoedsakke rondkrap voordat die vragmotors dit kom wegneem; ek hoor die gille van ‘n vrou per minuut wat in Suid-Afrika verkrag word; ek sien die trane by die begrafnisse van die een mens elke halfuur wat vermoor word.” God wil dinge verander.

Dit is presies wat die Godsbewussyn vir my is: dat ons op die een of ander manier in ons woedende stryd om te oorleef, iets soos empatie, iets soos medelye, vir die verloorder, die onderdrukte, die swakke ontwikkel—op een of ander manier die lewe bevorder.

En ja, Moses se ervaring is baie primitief. Sy visie van die beloofde land is ‘n visie ten koste van … Om daar te kan bly, moet hulle uitmoor en verdryf volke wat van die toneel van die geskiedenis af verdwyn het: die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewitiete en die Jebusiete. Van ‘n vlam wat brand, het God in ‘n persoon verander wat baie soos ‘n Joodse patriarg of koning lyk. Teïsme het begin met al die nadele wat dit inhou: ‘n God wat as ‘n meestersimbool funksioneer vir “ons”, vir ‘n samelewing wat vroue en kinders tweederangs hanteer, vir Apartheid wat swarte mense die nageslag van Gam gemaak het, om houthakers en waterputters te wees; en vir haatspraak teen gays.

Dit is wat ons van die tradisionele Christendom moeg maak: die engheid, die eksklusiwisme, die seksisme, die onverdraagsaamheid, die haat, die volgehoue stryd om mense te beheer.

In een van haar gedigte praat Jeanne Goossen oor hoe die kerk mense uitsluit. Dis ‘n ongepubliseerde gedig oor haar pa, wat sy “Bibberende Piet” noem. In die laat tagtigerjare het hy selfmoord gepleeg. Hy het ‘n tuinslang aan sy motor se uitlaatpyn vasgemaak en homself vergas. Toe hy reeds dood was, het diewe by die motor ingebreek en die lyk geplunder. Haar pa is “bibberend” omdat sy klere gesteel is en hy byna nakend sy God moet ontmoet.

Maar daar is ook ‘n ander rede hoekom sy haar pa bibberend noem. Hy was godsdienstig ‘n buitestaander. Die kerk het hom ‘n koue skouer gegee. Hy het hom nooit juis tuis in die kerk gevoel nie. Toe die familie iemand soek om hom te begrawe, wou geen predikant dit doen nie. In haar gedig vra sy die Here wat Hy gaan doen as haar pa voor Hom kom staan. Sy wil as’t ware die Here help om hom te erken:

“Hy stap effens mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir u poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra ‘n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy blou oë
Dié het hulle blou vrae behou.”

Dan vra sy die Here:

“Is dit u opdrag dat u herders hom nie moet begrawe nie
omdat hy hom nooit tuis gevoel het nie?”

Die gedig eindig met ‘n gebed:

“Here,
U wat die oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak u genade aan hom duidelik …”

 

Daarom is die gelykenis van Indra se Net relevant, want dit reflekteer die allesomvattende struktuur van die werklikheid, van die lewe self. My sin van “ek” verruim sodat ek nie langer vreemd en uitgesluit voel nie; ek is hier en deel van alles. Vir baie mense is dit juis ‘n egte Godservaring: die besef dat ek deel is van groter gehele.

Die Christendom het al baie verandering beleef. Toe my vrou en ek verloof is, het al die vroue nog hoede kerk toe gedra—presies soos Paulus in 1Kor 11 voorskryf. En ons het daaroor gesels en besluit dit geld darem nie meer vandag nie. Toe het my vrou sonder hoed begin kerk toe gaan. Daar was groot moeilikheid. My oorlede pa het gesê die grootste sondes in die kerk word deur die predikante se vroue begin! En kyk net, vandag dra vroue nie meer om godsdienstige redes hoede nie; dis maar meer vir die mode.

Iewers het ek op korrespondensie van my oorlede oupa afgekom. In die veertigerjare as ek reg onthou, is manelpakke vir ouderlinge en diakens afgeskaf. Vir die van julle wat nie weet nie, dit was sulke baadjies waarvan die agterpante tot in die waai van die bene gehang het. So tussen ons, die mense van dié tyd het dit “gatjaponne” genoem, en dis waar die naam “gatjieponders” vandaan kom. My oupa het in sy brief aangehaal uit die kleredragvoorskrifte van Levitikus en Numeri en Deuternomium. Hy het gesê dis ‘n groot sonde om hieraan te verander, want, het hy gesê, daar word van “ewige insettinge” gepraat. As jy nou met God se eueoue voorskrifte begin te peuter, dan peuter jy met jou saligheid.

En tog het my oupa ook met ‘n stukkie liberale teologie vorendag gekom. Hy het vertel, voor een van die groot veldslae in die boereoorlog, hoedat ‘n boerekryger moes lees en bid die aand voor die geveg. Hy het gebid: “Here, dis seker vir u moeilik om te besluit aan wie se kant u môre moet wees. Die Engelse is ook Christene. Ek wil voorstel: bly liewers uit die geveg uit, en laat ons dit maar sake self uitbaklei.”

Oorspronklik is die doop geïnterpreteer as ‘n afweermiddel vir bose geeste, of ‘n toegangskaartjie hemel toe. Self het ek al ‘n sogenaamde nooddoop uitgevoer, op ‘n babatjie wat pas gebore is, en net ‘n paar ure sou leef—nie omdat ek self daaraan geglo het nie, maar omdat dit baie vir die ouers beteken het.

Die tipiese werklikheidsontvlugting van die Christendom—dink maar aan die formuliere wat steeds sê, dat hierdie lewe niks anders is as ‘n gestadigde dood nie—het ook al hoe meer begin plek maak vir ‘n meer hier-en-nou visie.

En as ek ‘n patroon hierin kan raaksien, lyk dit my, is dit ‘n beweging weg van vormgodsdiens af, want vormgodsdiens skep identiteit wat jou afgrens van ander af. Vorm staan ondergeskik aan die inhoud. En die inhoud van godsdiens, dit waaroor dit eintlik gaan, word: geregtigheid, gelykheid, liefde, medemenslikheid—groterwordende eenhede. In die lig hiervan sê Gerd Lüdemann:

“‘n Fragment van godsdiens wat ervaar is en herken is, is meer werd as ‘n ortodoksie wat ten volle geken word. ‘n Klein ligstraatjie van die lig van Jesus in my lewe is meer werd as enige ortodoksie.”

God sê nie vir Moses: ek sal julle help as jy die regte geloof oor my huldig nie. God sê bloot vir Moses en vir ons, “Daarom stuur ek jou na die Farao toe sodat jy my volk kan bevry.” “Ek wil, Ek wil, Ek wil … daarom stuur ek jou.” Al die wonderlike goeters wat God wil beplan, moet Moses gaan uitvoer.

Hoor jy dit? Ons kry hier byna ‘n teologie van God se onmag! God stuur ‘n hakkelende en lafhartige Moses om die job te gaan doen.God gebruik nie net die blare en takke van ‘n nuttelose doringbos as sy stembande nie. God besiel ook vir Moses daarvoor.

Om die waarheid te sê, dit is wat ek ook in Jesus raaksien: dat God in ons wêreld inkom, in ons inkom, om sy ideale te verwesenlik. Eensklaps vind God se wonderlike voornemens gestalte in die gevaarlike werk wat mense moet doen.

Die Nuwe Hervorming is vir my dit: dat ons God herontdek, opnuut ervaar, om in die klein en die groot krississe van ons bestaan vir ons sin te help ontdek. Vir elke mens kan dit iets anders wees. Dit kan wees as jy raadop is met ‘n kind en nie weet of jy te streng of te vry opvoed nie. Of as jy radeloos is met haar toekomsmoontlikhede in die nuwe Suid-Afrika. Of dit wat met jou as kind gebeur het laat jy voel jy moet swem met gewigte om jou nek.

Jy probeer sin maak van die brokstukke van jou voosgeslaande lewe; jy huil elke dag traanloos oor hoe dinge anders kon gewees het; jy is spyt oor mooi dinge wat stukkend agter jou lê … dis tyd vir ‘n Braambos ervaring om God te beleef, in ‘n gedaante, in ‘n vorm, in ‘n metafoor, op ‘n manier wat net jy van weet en sal raaksien.

Dit vat moed om tussen-in plekke te trotseer, en ‘n mate van dwaasheid om jou veilige ruimtes te verlaat en die woestyn aan te durf. Dit kan vandag of môre of hierdie week met jou gebeur: as jy na ‘n pasgebore baba kyk, of langs kabbelende water sit, of opkyk en iemand te sien wat vir jou glimlag, of na die geweld van Beethoven se Negende Simfonie luister, of na ‘n donderstorm. Jy raak bewus van wat verkeerd is: ‘n gevaarlike oorgang naby jou kind se skool, dronkbestuurders op ons paaie. En dan hoor ons God se stem, “Ek het gehoor …, ek het gesien, … ek het ter harte geneem… Daarom stuur ek jou.”

En só begin ons reageer, nie op ‘n leerstellige God nie, maar op dié God wat só naby ons is. Op een of ander eenvoudige manier begin ons om ‘n verskil te maak, omdat ons in liefde uitreik na ons omgewing. Want net liefde is groot genoeg om die al die pyn van hierdie wêreld te omvat.
Opgedateer op : Sa 06 Aug 11