Waarnemersnotas by die NHN se Lente-seminaar

Tema: Kalmte in die malle gejaag: Leef bewustelik in die hede

Gespreksleier: Johannes de Villiers

Die onlangse een-dag seminaar op Lentedag in Midrand was in vele opsigte uitsonderlik. Al die gesprekke het rondom een hoofgedagte gedraai, naamlik ‘stilword’. Al drie sessies is deur ‘n enkele persoon gelei – die skrywer van die boek met die titel:

Kalmte in die malle gejaag: Mindfulness vir besige mense deur Johannes de Villiers

‘Mindfulness’: Vir vele inligtingsgedrewe mense maak dié woord gedagtes los oor modegiere en tydmors. Maar, bo alle verwagting, het die gehoorsaal met geboë rye uitswaaistoele vinnig voller geword. Die gedruis het stil geword; die slimfone is stilgemaak; die gespreksleier is bekend gestel en het hom ewe gemaklik bo-op die breë katederblad sitgemaak. In ‘n oogwink is die formele lesingruimte in ‘n ontspanne atmosfeer gehul. Onder Johannes se ingeligte verteltrant het vooropgesette weerstande geleidelik begin verkrummel.

Johannes de Villiers is ‘n joernalis wat briljant kommunikeer. Vanuit die staanspoor verdryf hy alle gedagtes dat die inoefening van ‘n bewustelike, gefokusde lewenswyse iets bonatuurliks inhou. Die opvatting dat mens se ‘gees’ iets aparts van die liggaam is, beskou hy as nadelig, omdat elke mens wat bewustelik lewe ‘n geestelike benadering tot ander mense en die omgewing kan uitleef. Hy vind dit ook jammer dat baie mense se vermoë tot kreatiwiteit en empatiese gevoelens gedurig deur knaende selfone, rekenaars en die fisiese eise van die dag verdring word. So ‘n lewe impakteer noodwendig negatief op die geestelike vermoë van die mens: ons gevoelens van deernis, verhoudings met ander mense, ons verbeelding en kreatiwiteit. Hy maak die stelling dat “mindfulness” byna onafwendbaar in “kindfulness” oorgaan. Die alledaagse lewe, as ons dit toelaat, kan so propvol waarnemings en indrukke word wat tegelyk ons aandag verg, dat ons kwalik tyd vir die dissipline van stilword kan inruim.

Hy deel klein rosyntjies uit en neem die gehoor deur ‘n vorm van meditasie, terwyl hy hulle aanmoedig om hulle sintuiglike waarnemings op allerlei aspekte van die enkele, klein rosyntjie in hulle handpalm te fokus. Hy noem vlugtig ook ander vorms of tegnieke van meditasie soos stap-meditasie, asem-meditasie en pyn-meditasie en lig sekere voordele uit. As een van die belangrikste voordele gebruik hy die dissipline van weggee – om jou lewe van onnodige ‘clutter’ of materialisme te stroop (impulsbeheer) – en die besondere uitkoms van  deernis wat dit meebring.

Dan volg ‘n bespreking oor bewustheid ten opsigte van materialisme versus minimalisme wat lang relase en emosionele sienings ontlok.

Uit sy persoonlike ervaring as voorganger vir meditasiegroepe en as aktiewe altruïs, deel hy nuttige bronneverwysings soos: Peter Singer en William McAskill se boek oor effektiewe altruïsme, ‘Doing Good Better’; David Loy se ‘The Great Awakening’; Marie Kondo se “The Life-Changing Magic of Tidying-Up”; Amy Blankson se ‘The Future of Happiness: 5 Modern Strategies for Balancing Productivity and Well-being in the Digital Era’; sy gunsteling skrywer, die filosoof en neurowetenskaplike Sam Harris se ‘Waking Up’; Piet Müller se ‘Meditasie, die gawe van stilte’ en ten opsigte van Christelike meditasie noem hy Willem Nicol se ‘Stem in die Stilte (het ek gehoor)  en Ronel Bezuidenhout se ‘Woestynwysheid’.

Laastens op die program was ‘n begeleidingsessie vir “binne-liggaamlike ervaring van kalmte”.  Hierdie tegniek van meditasie is om op die geringste sensasie te fokus wat jy  in jou verskillende liggaamsdele kan waarneem of indink, van jou tone tot jou kop. Die eintlike oefening lê glo nie in die vermoë om totaal aan niks anders te dink nie, maar juis in die oefening om telkens elke afdwaalgedagte te erken, te gaan haal en weer terug te bring na die plek van fokus. (Dit was so effektief dat ‘n paar van die deelnemers ingesluimer het!).

Johannes belemtoon dat daar min voorskrifte oor die praktyk van meditasie is en dat selfs tien minute ‘n dag waarde het. Daar is ‘n aantal selfoontoepassings beskikbaar soos Insigt Timer, Budahafy en The Mindfulness Bell wat kan help met die strukturering van die sessie. Elkeen moet sy eie benadering ontwikkel en volharding hierin sal oor tyd heelwat voordele inhou in terme van ‘n ryker lewe met meer dinge wat waargeneem en beleef word in die proses om in die nou te leef. Hy beveel aan dat elk gaan kyk na John Cage se Silent Symphony op YouTube en dié wat vinnig wil vorder, om by ‘n begeleide meditasiegroep aan te sluit. Renaissance se nuusbrief verwys na die groepe van Piet Müller en Kobus Krüger, terwyl daar ‘n hele aantal gemeentes is wat meditasiedienste aanbied.

Tydens die aandete se geskarrel om kosbakke uit te dra en glasies rooi en wit te skink, was hierdie waarnemer effens oorweldig – enersyds deur die rojale uitdeel van alles wat goed is, die lekker gevoel van omgee en saamdoen, die opvallende oordaad van alles – en andersyds, die gedagte dat dit vir vele mense nie beskore is nie en dat die ongeërgdheid van hulle wat het nog geil staan. En iewers skril ‘n slimfoon.

Babs Basson. 2018-09-01