MR Byeenkoms: 26 Februarie 2017

Ons het die avifauna of voëllewe van Egipte onder vier temas bekyk

  • Die voëllewe van moderne Egipte
  • Voëls in antieke Egiptiese kuns
  • Lewe en dood vir mens en dier in antieke Egipte
  • Voëls in hiërogliewe

1  Die voëllewe van moderne Egipte
`n Totale verskeidenheid van 479 voëlspesies word in Egipte erken, waarvan 78 spesies skaars is of “per ongeluk” daar gesien word.
Wat bedreigde spesies betref, is daar drie krities bedreigde spesies, ses bedreigde spesies, 11 kwesbare spesies en 22 amper-bedreigde spesies.

Omtrent 150 spesies is standvoëls in Egipte en die res – ongeveer 250 spesies ‒ is winterbesoekers uit Europa en trekvoëls tussen Europa en Asië en Afrika suid van die Sahara.

Die belangrikste habitats in Egipte is die Nylriviervallei en die Faiyum, die Nyldelta en die oases van die Westelike  Woestyn. Die woestyn self huisves `n aantal woestynspesies.
Voëls wat voorheen in Egipte voorgekom het, maar nou plaaslik uitgewis is, is Volstruise, Rietduikers, Skoorsteenveërs, Kleinkorhane en Waterploeërs. Uitheemse voëls wat hulle in Egipte gevestig het, sluit Ringnekparkiete (inheems in sentraal-Afrika, Indië en suidoos-Asië), Huiskraaie, Indiese Spreeus, Gestreepte Wewers Rooi Avadavatsen Indiese Silverbill (almal uit Indië en Asië) in.
2  Voëls in antieke Egiptiese kuns
Drie klassieke voorbeelde van Egiptiese kuns is bekyk.

  • Nebamun jag eende in die moeras (uit die grafkapel) Thebes, XVIII-dinastie (c. 1350 BCE). Interessante elemente is die mak witreiers in Nebamun se hand, `n Kolgans voor op die boot, `n geelbruin kat wat ook jag en die voëls wat gejag word.
  • Uit die Graf van Khnumhotep III (No. 3) Beni Hasan, XII-dinastie (1991-1783 BCE).  Interessante elemente is twee uitbeeldings van die motief “Voëls in `n Doringboom” met al die voëls wat bo twyfel identifiseer kan word.
  • Die Meidumganse (uit die grafkelder van Nefermaat, seun van Snefru) Meidum Piramiede, IV-dinastie (2610- 2590 BCE). Omstredenheid omring sedert 2015die kunswerk met ses ganse, wat in 1871 ontdek is. Die oorspronklike ontdekker was die Italiaanse argeoloog en kunstenaar Luigi Vasalli. Die uitbeelding bevat besondere simmetriese uitbeeldings van twee Rietganse (weerskante), twee Witblesganse wat na links kyk en twee Rooiborsganse wat na regs kyk. `n Italiaanse kunshistorikus F Tiradritti het in 2015 `n artikel gepubliseer waarin hy beweer het dat dit `n vervalsing was en dat Vassalli die skildery self geskilder het. Die saak is nog nie opgeklaar nie.

3.  Lewe en dood vir mens en dier in antieke Egipte
Honderdduisende voëls is, veral in die periode van die Nuwe Ryk tot in die Grieks-Romeinse Periode in Egipte doodgemaak om gemummifiseer te word. Ten minste veertig verskillende spesies is gemum-mifiseer,  waarvan `n baie groot aantal Skoorsteenveërs is. Ander voorbeelde sluit roofvoëls en uile in.

Voëls was ook `n belangrike bron van kos. Oorblyfsels van `n interessante verskeidenheid voëls is in `n bak in die grafkelder van Tutankhamun gevind, wat waarskynlik moes dien as kos vir die lewe hierna: verskeie soorte ganse, eende en `n Europese Tortelduif.

Die vang van voëls in nette is `n gebruik wat in antieke kunswerke uitgebeeld word, maar dit is vandag steeds `n reuse bedryf wat voëlgetalle van trekvoëls uit Europa ernstig bedreig.

4.  Voëls in hiërogliewe
54 voëls en agt dele van voëls is as hiërogliewe gebruik. Dit staan teenoor 34 soogdiere, 15 amfibieë, 7 visse, 7 ongewerweldes en 44 bome en plante.