Midrandbyeenkoms: 29 Jan 2017: 

Opsomming van videos

Die kriteria vir die seleksie van hierdie videos was: 1) ‘n Uitmuntende aanbieding; 2) ‘n Insiggewende boodskap; 3) Genderbalans ‒ gesamentlik 30 minute.

  1. Carl Sagan, die bekende astrofisikus met die fluweelstem het in 1991 ‘n lesing gegee met die titel van “The Pale Blue Dot”, https://www.youtube.com/watch?v=jbkSRLYSojo. Hy het die eerste fotobeeld van die aarde vanuit die ruimte soos geneem uit Voyager 1 gebruik as sy tema vir die lesing en dit in 1994 gevolg met ‘n boek met dieselfde titel. Sy tema was die nietigheid van die aarde en sy mense teen die onmeetlikheid van die heelal, al dink die mens hy is groot en slim en doen goeie (en slegte) dinge. Die eerste deel van sy kommentaar by die video is: ‘Look again at that dot. That’s here. That’s home. That’s us. On it everyone you love, everyone you know, everyone you ever heard of, every human being who ever was, lived out their lives. The aggregate of our joy and suffering, thousands of confident religions, ideologies, and economic doctrines, every hunter and forager, every hero and coward, every creator and destroyer of civilization, every king and peasant, every young couple in love, every mother and father, hopeful child, inventor and explorer, every teacher of morals, every corrupt politician, every “superstar,” every “supreme leader,” every saint and sinner in the history of our species lived there‒on a mote of dust suspended in a sunbeam’. (Vir meer sien: http://www.planetary.org/explore/space-topics/earth/pale-blue-dot.html en https://www.goodreads.com/work/quotes/1816628-pale-blue-dot-a-vision-of-the-human-future-in-space).
  2. The Birds of Paradise, https://www.youtube.com/watch?v=YTR21os8gTA&t=28s, gee ‘n videobeeld van 39 fassinerende voëlspesies in die reënwoude van Nieu-Guinea wat nêrens anders voorkom nie. Hierdie voëls het die pragtigste kleure en die vermoë om hulle vorm te verander, veral gedurende hulle hofmaakproses in die vorm van ‘n verruklike dans ‒ alles tekens van ekstreme ewolusionêre aanpassing. Hierdie tien jaar navorsingsprojek van die ornitoloog Ed Scholes en sy kameraman Tom Latham staan bekend as die Cornell Laboratory of Ornithology. Daar is geen paaie nie en hulle toerusting moes in die digte bos ingedra word. Om die voëls waar te neem is ‘n platvorm hoog bo in die bome gebou wat baie klim- en touwerk behels. Vir meer inligting sien http://www.birdsofparadiseproject.org/.
  3. Gretta Vosper is ‘n Kanadese predikant van die United Church. Sy vertel haar storie by die Idea City Conference (https://www.youtube.com/watch?v=go9zwqmUiY0&t=11s). Sy meld dat sy haar teologiese opleiding in die twee hemisfere van haar brein verwerk het. Die linkerbrein bevat die feitelike van die Christelike godsdiens, soos die ontstaan en aard van die Bybel, ontstaan van dogma en die geskiedenis van die kerk. Die regterhemisfeer behels die mistiese en die kreatiewe, soos die gebruik van kerse, besondere kleure en materiale, musiek en hoe om daardeur die gemeente te lei in inklusiwiteit en die skep van gemeenskap. Weldra het hierdie twee sektore, wat haar belewenis betref, nie meer met mekaar gepraat nie. Die kreatiewe deel het sy gebruik om haar dienste in te rig, maar wanneer sy gepreek het, het sy dit wat sy geleer en verstaan het, begin voordra, soos dat God ‘n menslike konstruk is, dat elke deel van die Bybel deur mense in ‘n spesifieke situasie geskryf is met die doel om die probleme van daardie tyd aan te spreek en dat dit nie letterlik ontvang of selfs geïnspireer is nie. In 2000 het ‘n beplanningspan in haar gemeente die situasie ontleed en tot hulle verbasing gevind dat lidmate nog hulle godsdiens ervaar soos hulle dit in Sondagskool geleer het. Sy het toe besluit om ‘uit die kas’ te klim en in ‘n preek duidelik gemeld dat daar nie ‘n bonatuurlike god is wat in mense se belang optree nie; dat daar geen maagdelike geboorte was nie; dat Jesus nie die enigste seun van God is nie; dat hy nie vir ons sonde gesterf het nie, ensovoorts. Talle reperkussies het hieruit voortgevloei, onder andere klagtes van kettery. Sy is steeds leraar van haar gemeente, maar sommige lidmate het ander heenkome gaan soek.

Sy rig nou haar bediening op  die boodskap van diensbaarheid aan alle mense, waarin wysheid ‘n groot rol speel. Sy benoem die aksie met die saamgestelde begrip ’empak’ (Eng: empact = empathy + impact) en verduidelik dit as ‘n passievolle benadering tot die behoeftes van alle mense wat met empatie gedryf word om ‘n invloed (impak) op die wêreld te maak. Sy gebruik die narratief van die verlede en span dit in as metafore. ‘n Gemeenskap (community) is ‘n ideale plek waar die aksies kan plaasvind; dit begin by die huis en kring verder uit. Die kerk weet gewoonlik hoe om die gemeenskap te bereik maar kan dikwels nie effektief leiding gee waar dit die eise van die werklikheidslewe aangaan nie, nie as dit steeds by ‘n fiktiewe wese daar bo in die hemel bly vassteek nie. Sy sien haar lewensdoel om hierdie transisie in haar omgewing te verwesenlik. Vir meer inligting sien http://www.grettavosper.ca/ .

  1. Hans Rossling is ‘n Sweedse professor in volksgesondheid by die Karolinska Gesondheidsinstituut. Hy is as mediese dokter opgelei. Gedurende sy opleiding het hy ‘n groot belangstelling in statisiek ontwikkel en daarna ook die vermoë om die statistiek te gebuik om kragtig en effektief te kommunikeer. Hy is Voorsitter van die Gapminder Vereniging wat die Trendalyzer sagtewarestelsel ontwikkel het. Dit word veral gebruik om ontwikkelingsprobleme te ontleed en te kommunikeer. In hierdie kort video (https://www.youtube.com/watch?v=jbkSRLYSojo) gee hy ‘n briljante visuele oorsig van die ontwikkeling van 200 wêreldlande oor die laaste 200 jaar in terme van lewensverwagting (soos deur verbetering in gesondheid bepaal word) en rykdom (inkomste per kapita). Hy toon aan dat Westerse lande met die nywerheidsrewolusie (laat 19de eeu) geweldig ten opsigte van die twee parameters verbeter het en grafies onder al die ander lande ‘uitbeweeg’ het. Maar hierdie ontwikkeling is gedeeltelik deur die twee wêreldoorloë tot stilstand gebring. Groot verbeterings het na 1948 voorgekom waarin eerstens die Verre Ooste aansienlike vordering getoon het. Maar weldra het alle lande, ook in Afrika, aansienlik verbeter en is die wêreld tans ‘n baie beter plek vir almal in vergelyking met 200 jaar gelede. Hy sluit sy lesing af met die woorde: “We have become an entirely new converging world. I see a clear trend into the future of aid, trade, green technology and peace. It is fully possible that everyone can make it to the healthy wealthy corner (of the graph). This was a story of 200 countries over 200 years, plotting 120,000 numbers that illustrates the power of statistics.” Is Trump besig om hierdie proses om te draai of uit te kanselleer?

Opgesom deur Johann Basson