Inleiding

Is daar ‘n S/satan in die Ou Testament? Inderdaad. Om die waarheid te sê, daar is ‘n hele paar satans. Maar of daar werklik ‘n Satan is, dit wil sê ‘n spesifieke wese met ‘n persoonlike identiteit wat Satan heet, is egter te betwis. Hierdie teo-artikel ondersoek die verskillende kontekste waar ‘satan’ in die Hebreeuse Bybel voorkom om meer duidelikheid oor die onderwerp te kry.

Satan in die Ou Testament


Volgens die Hebreeuse woordeboek kan ‘satan’ ‘n werkwoord of ‘n selfstandige naamwoord wees. As werkwoord is die betekenis ‘om ‘n wrok te koester’ of ‘vyandig te wees’ (vgl Ps 38:21). ‘Satan’ as selfstandige naamwoord beteken ‘teenstander of ‘aanklaer’ en kan ‘n aardse mens of ‘n hemelse wese aandui. Wanneer die konteks dit baie duidelik maak dat die satan ‘n mens is, is die betreklik voor-die-hand-liggend om ‘satan’ eenvoudig met ‘teenstander’ te vertaal. Slegs twee voorbeelde word hieronder uitgelig: daar is ‘n paar meer. Wanneer ‘n bonatuurlike wese betrokke is, raak die vertaling egter meer kompleks. In die Hebreeuse Bybel is daar slegs drie voorbeelde waar die satan ‘n bonatuurlike wese is (Num 22:22 en 32; verskillende verse in Job 1 en 2; Sagaria 3:1 en 2), en een geval waaroor daar nie sekerheid is of dit ‘n mens of ‘n bonatuurlike wese is nie (1 Kron 21:1).

 

Menslike satans


2 Samuel 19:23  
(in die Hebreeuse Bybel, v 22a in die Afrikaanse vertaling): ‘Maar Dawid het geantwoord: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruja? As julle so praat, is julle my teenstanders.”’
Hierdie teksvers val binne die onstuimige troonopvolgingsgeskiedenis van Juda/Israel. Absalom het teen sy vader Dawid in opstand gekom, burgeroorlog aangehits en Dawid moes voor sy seun vlug. In hierdie traumatiese omstandighede is hy boonop liederlik deur Simeï vervloek (2 Sam 16:5-13). Nou is Absalom dood en Dawid is op pad terug na sy paleis. Simeï het intussen berou gekry oor wat hy gedoen het, en vra die koning om vergifnis. Abisai, een van die seuns van Seruja wat Dawid vergesel, meen dat Simeï doodgemaak moet word, maar Dawid is bereid om hom te vergewe. Abisai wat ‘n ander mening as Dawid koester, is dus ‘n satan, ‘n teenstander van die koning.

1 Konings 5:18 (in die Hebreeuse Bybel, v 4b in die Afrikaanse vertaling): ‘Daar is nêrens enige teëstander of gevaar wat my bedreig nie.’
Salomo het Dawid opgevolg. Koning Hiram van Tirus stuur gesante na Salomo toe, en Salomo gebruik die geleentheid om Hiram te versoek om hom van sederhout op die Libanon te voorsien, sodat hy die tempel kan bou. Die rede is dat ‘n tydperk van relatiewe rus en voorspoed aangebreek het (vgl 1 Kon 4:20-28), ‘n tydperk waarin daar vir Salomo geen satan, geen teëstander of gevaar is nie.
Net soos in die vorige teks word hier na ‘n menslike opponent verwys, wat gelukkig in hierdie geval afwesig is.
Soos aangedui, is die Hebreeuse woord ‘satan’ in albei bogenoemde gevalle gebruik wat met ‘teenstander’ vertaal is. Die konteks maak dit verder baie duidelik dat dit hier om menslike opponente gaan, en nie bonatuurlike wesens nie. Om die teks te verstaan en te vertaal, is dus relatief ongekompliseerd.

 

Bonatuurlike satans


Numeri 22:22
‘Maar die toorn van God het ontvlam toe hy weggetrek het; en die Engel van die Here het gaan staan in die pad as sy teëparty
Numeri 22:32 ‘Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty

Miskien kom hierdie verwysing as ‘n verrassing. Albei Numeri-tekste is uit die Ou Vertaling geneem aangesien dit ‘n meer letterlike weergawe van die Hebreeuse teks is. Hierdie episode gaan oor Bileam en sy eselin. Balak van Moab het Bileam gehuur om Israel te vervloek. Bileam raadpleeg die Here maar die Here verbied hom om Balak te gehoorsaam. In die verhaal is dit nie heeltemal duidelik waarom die Here vir Bileam kwaad word as hy deurgaans gedoen het wat Hy sê nie, maar hierdie probleem is nie hier ter sake nie. Wanneer Bileam met sy eselin op pad is, verskyn daar plotseling ‘n Engel van die Here met ‘n ontblote swaard in die pad voor hom – as sy ‘satan’, sy teëparty (v 22). Bileam sien niks, maar die eselin gewaar die Engel en draai uit. Bileam vererg hom, en slaan die dier. Dit gebeur ‘n paar keer, en dan laat die Here die eselin praat. Terwyl sy verduidelik, maak die Here Bileam se oë oop, en ook hy sien die Engel. In die gesprek tussen Bileam en die Engel, vertel die Engel dat hy as teëparty – as ‘satan’ opgetree het omdat hy gesien het Bileam is op ‘n gevaarlike pad (v 32).

In hierdie geval het die vertalers gekies om ‘satan’ ook met ‘teenparty’ te vertaal, ten spyte daarvan dat dit sonder twyfel ‘n bonatuurlike wese is.  Verder is die satan nie die Here se aartsvyand nie – volgens sommige geleerdes is die Engel van die Here die Here self, wat sou impliseer dat die satan en die Here een en dieselfde wese is!

Hierdie voorbeeld is baie belangrik om aan te toon dat ‘satan’ vir die oorspronklike lesers van die Hebreeuse Bybel iets radikaal anders beteken het as vir die Christelike leser in die een en twintigste eeu. Verder behoort dit ook iets te laat deurskemer van hoe ingewikkeld die hele proses van vertaling is: een woord in een taal het nie eenvoudig ‘n ekwivalent in ‘n ander taal nie.

 

Job 1:6 – 2:7 ‘Die satan’
Die satan in die Jobboek is ‘n besonder problematiese figuur. Opvallend is die gebruik van die bepaalde lidwoord, ‘die’: in Hebreeus, ‘ha’ – dus, ‘hassatan’, oftewel ‘die satan’. Die aanwending van die lidwoord maak dit baie duidelik dat satan nie ‘n eienaam is nie. Dis ook belangrik om te onthou dat Hebreeus nie tussen hoof- en kleinletters onderskei nie, die gebruik van die hoofletter in hierdie tekste is dus eintlik ‘n foutiewe vertaal-interpretasie. Iemand se spesifieke identiteit wat meestal in die Hebreeuse Bybel aan ‘n eienaam gekoppel word, is in hierdie verhaal, wat ‘die satan’ betref, nie van toepassing nie. Veel eerder gaan dit om die rol wat hy in die plot speel. Die satan se rol is dié van aanklaer, of teenstander.

In Ou Israel en Mesopotamië se regspraktyk was die ‘aanklaer’, ofskoon so ‘n persoon nie ‘n satan genoem is nie, ‘n werklike status. Dit was egter bloot tydelik, nie ‘n permanente pos nie. Verskillende mense kon binne verskillende omstandighede as ‘aanklaer’ opgetree, maar as die saak afgehandel was, was die ‘aanklaer’ ook van sy status onthef.

In die Jobboek lyk dit inderdaad asof ‘n hemelse raadsaal beskryf word. Die Here is die hoof, en die ‘seuns van God’ – onder wie ook die satan – is voor Hom. In die verhaal vra die Here vir die satan of hy sy voorbeeldige kneg Job gesien het. Die satan antwoord bevestigend maar lê ‘n kousale verband tussen Job se vroomheid en voorspoed. Word Job se vroomheid nie bloot deur sy hebsug gemotiveer nie? Anders gestel, die satan wil die optimistiese vergeldingsleer van ‘n morele orde uitdaag waar vroomheid met voorspoed beloon word. ‘n Toets vir ware opregtheid sou beteken dat die Here gedien word, sonder enige beloning.

Die Here aanvaar die uitdaging en laat die satan toe om die skakel tussen vroomheid en beloning te breek: in volkome onskuld verloor Job alles, sy rykdom, sy kinders, sy gesondheid. Hy kom bitterlik in opstand, maar moet uiteindelik in sy armoede en ellende stilbly voor dié God in Wie se wêreldorde geregtigheid nie vergeld hoef te word nie. Die satan is dus verkeerd bewys. Dus, alhoewel die satan ‘n bonatuurlike wese is, die Here op ‘n uiters diepgaande kwessie uitdaag, en ‘n mens aan sinlose lyding onderwerp, mag hy niks sonder God se toestemming doen nie. Dus, ook hy is aan God onderworpe en nie ‘n onafhanklike vyandige mag nie.
Die Jobboek verwys nie na historiese gebeure nie. Volgens geleerdes is dit in die post-eksiliese tyd geskryf om die teodisee-vraag aan te spreek wat veral tydens en na die Ballingskap uiters aktueel was: hoekom gebeur slegte goed met goeie mense?

 

Sagaria 3:1 ‘Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs voor hom het die satan gestaan, besig om Jesua aan te kla.’
Sagaria 3:2 ‘En die Here het vir die satan gesê: “Mag die Here vir jou, die satan straf …”’ (letterlike vertaling uit Hebreeus).
Sagaria 3 beskryf ‘n visioen van die profeet Sagaria. Weereens lyk dit soos ‘n hemelse geregshof waar ‘n verhoor plaasvind. Die hoëpriester Jesua staan voor die engel van die Here en die satan is besig om hom aan te kla. Dan spreek die Here ‘n bestraffing oor die satan uit. Die engel gee opdrag dat Jesua se besmeerde klere uitgetrek en hy met skoon klere aangetrek word. Net soos in die Jobboek word ‘die satan’ deurgaans met die bepaalde lidwoord aangedui. Ook hier kan ‘satan’ beslis nie as ‘n eienaam gelees word nie, nie eers in die bestraffing van die Here (soos in Afrikaanse vertalings) nie.

Die historiese konteks van Sagaria is – net soos Job – post-eksilies. Op hierdie stadium wil die Sadokitiese priesters die tempel laat herbou, maar ervaar ‘n negatiewe gesindheid van sekere groepe in die gemeenskap wat reken dat dit hulle – die priesters – is wat die land se ondergang beteken het. Sagaria se visioen wil die Sadokitiese priesters, van wie Jesua die verteenwoordiger is, van blaam onthef. Die satan en daarmee saam die gemeenskap se besware teen Jesua en die bou van die tempel, is dus ongeldig.
‘n Verdere moontlikheid is dat Jesua se hoëpriesterskap werklik deur sekere groepe teengestaan is. Moet Jesua die hoëpriester word, of nie? Met hierdie visioen wil Sagaria die saak in die hemelse hooggeregshof self besleg: die satan wat Jesua teenstaan het, het die stryd teen die engel van die Here verloor.

 

1 Kronieke 21:1 ‘Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.’
In hierdie teks verskyn ‘Satan’ sonder die bepaalde lidwoord en is moontlik die enigste plek in die Hebreeuse Bybel waar dit wel ‘n eienaam kan wees. Nogtans is geleerdes verdeeld: Hebreeus het nie ‘n onbepaalde lidwoord – ‘n – nie. Die moontlikheid dat dit ‘n menslike ‘satan’ of selfs ‘n hemelse ‘satan’ is, kan nie heeltemal uitgesluit word nie. Dit is dan bloot ‘’n satan’ wat Dawid aanhits om die volk te tel.

1 Kronieke 21:1 moet egter saam met 2 Samuel 24:1 gelees word: beide tekste vertel van ‘n volkstelling wat onder Dawid se regering onderneem word, veroordeel dit, laat die volk met ‘n pes gestraf word, en eindig met ‘n altaar wat op Arauna se dorsvloer gebou word. Maar in 2 Samuel 24:1 is dit die Here se toorn wat teen Israel ontvlam, en dis Hy wat Dawid aanhits om die volk te tel. Geleerdes is betreklik eens daaroor dat Kronieke die Samuelteks as bronteks gebruik het: daarom moet die vraag gevra word, waarom die verandering van agent?

Die Kronis, in teenstelling met die Samuelboeke, skilder Dawid as die volmaakte ideale koning wat baie naby aan die Here leef. Enigiets wat Dawid moontlik in ‘n twyfelagtige lig sou kon stel, word verswyg, soos byvoorbeeld die episode van Batseba, owerspel en moord. Wat die volkstelling betref, net soos in 2 Samuel 24:24-25, eindig die storie met die altaar op Arauna se dorsvloer. Die hele insident van die volkstelling, die pes as straf en die koop van die dorsvloer kan dus nie geïgnoreer word nie. Maar om Dawid se beeld en sy verhouding met die Here ongeskonde te laat, pas die Kronis sy bronteks aan. Nie die Here nie, maar Satan, of ‘n satan hits Dawid aan om die volk te laat tel. Verder laat die Kronieke-vertelling dit lyk asof die volkstelling per se nie die sonde was nie, maar wel die feit dat Joab die Leviete en Bejaminiete nie bygereken het nie. En laastens,die plek waar Dawid die altaar bou, interpreteer die Kronis as die bouplek vir die tempel.

Dit lyk dus asof die Kronis deurgaans ‘n suiwer beeld van Dawid en sy verhouding met die Here wil handhaaf. Ook teen hierdie agtergrond is dit onmoontlik om ‘n satan, of selfs Satan, indien dit as ‘n eienaam gelees word, as ‘n bose entiteit of as God se aarstvyand te sien.

 

Slot


Die woord ‘satan’ kom dus op verskeie plekke in die Hebreeuse Bybel voor, en kan ‘n menslike of bonatuurlike wese wees. Tekste wat na ‘n menslike ‘satan’ verwys, is betreklik ongekompliseerd om te vertaal: die algemene woord vir ‘satan’ is teenstander. Bonatuurlike ‘satans’ lewer egter probleme op, aangesien die satan verskillende rolle inneem: hy is die Engel van die Here self, soos in Numeri 22, of hy is een wat ‘n mens teister (Job) of aankla (Jesua). In laasgenoemde twee tekste word die bepaalde lidwoord voor die selfstandige naamwoord gebruik: die satan. Dit is dus onwaarskynlik dat satan ‘n eienaam kan wees, en aangesien Hebreeus nie tussen hoof- en kleinletters onderskei nie, is ‘Satan’ met ‘n hoofletter die vertaler se interpretasie, selfs die teks van 1 Kronieke.
Die konsep van die satan as ‘bose’, as die Here se aartsvyand in die Ou Testament moet afgewys word. Selfs waar die hy die mens leed aandoen of beskuldig, staan hy steeds onder gesag van die Here, en tree nie as sy teenpool op nie. Satan as persoon, as vyand van die Here was nie deel van Ou Israel se geloof nie. Wanneer ons die Ou Testament lees, moet ons hierdie wêreld in gedagte hou, en versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees. Want die Ou Testament ken hom nie.