Die goeie boodskap van Jesus: God se koninkryk

1. Markus 1:1–5, 9, 14–15

Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”
Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig dat die mense hulle moet bekeer sodat God hulle sondes kan vergewe, en dat hulle hulle moet laat doop. Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en is deur Johannes in die Jordaan gedoop.

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

2. Inleidende opmerking oor die teks

Hier is twee karakters van wie vertel word: (1) Johannes die Doper en (2) Jesus van Nasaret. Johannes word voorgehou as die een wat die pad wat Jesus sou loop, moes voorberei. ‘n Mens sou ook kon sê dat Jesus sy vakleerlingskap as profeet by Johannes kom voltooi het. Verder staan Jesus op gelyke voet met die ander mense – behalwe in een opsig: hy het van Galilea gekom en nie van Jerusalem of Judea nie. Maar hy moes soos die res eers hom bekeer voor hy gedoop kon word.

Dit was vir ouer teoloë wat vas geglo het aan Jesus se sondeloosheid (hy is immers die Seun van God) ‘n moeilike pil om te sluk. Hulle het op allerlei wyses probeer om uit die moeilikheid wat die vers oproep, te kom. Die moeilikheid hang natuurlik saam met die stelling dat mense hulle eers moes bekeer voordat hulle gedoop kon word. Jesus word in die Markusevangelie as ‘n gewone mens geteken. ‘n Gewone mens wat kon faal en fouteer. Ouer teoloë het geredeneer dat Jesus (die tweede persoon van die Drie-eenheid) tog nie sondes kon hê nie. Maar dis omdat hulle die Bybelboeke lees aan die hand van die kerklike leerstellings en as gevolg daarvan ongerymdhede raaklees wat in werklikheid nie in die teks staan nie.

So, hierdie teks hou Jesus inderdaad voor as ‘n gewone mens. Die Markus-evangelie begin daarom ook heel interessant sonder ‘n vertelling van Jesus se geboorte. Kan ons hieruit aflei dat Jesus in werklikheid nie ‘n buitengewone geboorte gehad nie. Waarskynlik ja.

3. Agtergrond tot die preek

Verlede Saterdag (14 Mei), terwyl ek op pad was na Builders’ Warehouse in Atterburyweg, kry ek by die kruising van Gen. Louis Botha en Atterburyweg met ‘n “Gospel”-plakkaatbetoging te doen. Die plakkaatdraers het die ou-ou tyding aan motoriste probeer oordra: “Waarheen is jy op pad: na die hemel of na die hel?”  “Jesus kan jou red.” “Draai of braai!”

Terwyl ek die handvol betogers in my motor sit en dophou het, het ek gewonder hoeveel van hulle bewus is dat navorsing van die afgelope twee eeue aan die liggebring het dat Jesus nie die tradisionele kerklike evangelie en kerklike dogmas verkondig het nie. Jesus het nie verkondig dat hy aan die kruis moet sterf om die ganse mensdom van sonde en dood te red nie. Die evangelie wat ons kan opsom met die woorde “Sondeval-Verlossing-Eindoordeel” het ons grootliks te danke aan teologiese woelinge in die Romeinse Ryk van die vierde en vyfde eeu en die feit dat die Christelike godsdiens in die vyfde eeu staatsgodsdiens van die Romeinse ryk geword het.

Die eenheid in die Romeinse Ryk was besig om te wankel en Keiser Konstantyn (275–337) was van mening dat Christene ‘n rol kon speel om weer eenheid te bewerk.

Op daardie stadium was daar verskeie teologiese strominge en Konstantyn was van mening dat eenheid onder Christene ook die goeie gevolg kan hê dat daar eenheid in die ryk tot stand kan kom. Hy het dus ‘n groot kerklike vergadering byeengeroep en alle biskoppe in die ryk genooi om dit te kom bywoon sodat hulle hul onderlinge geskille kon besleg. Die Belydenis van Nicea hou gedeeltelik verband met dáárdie kerklike vergadering. Die belydenis wat daar opgestel was, is egter by latere kerklike vergaderings verfyn en herformuleer. Daarom wys navorsers daarop dat die belydenis eintlik bekend moet staan as die Niceanum-Constantinopolitanum. Die belydenis wat aanvanklik in 325 in Nisea geformuleer is, is weer in 381 in Konstantinopel hersien en uiteindelik in 451 in Chalcedon finaal vasgelê (Den Heyer 2003:268).

Hierdie belydenis het hoofsaaklik gewentel om Jesus as goddelike persoon. Dit wou sy menslikheid en sy goddelikheid só oortuigend formuleer dat geen mens daarna enigsins kon twyfel daaraan die mens Jesus werklik god is nie. Van toe af is diegene wat enigsins daarvan afgewyk het, tot ketter verklaar en gestraf. Volgens John Hunt het meer Christene aan die hand van Christene in die vierde en vyfde eeu gesterf as wat Christene aan die hand van nie-Christene gesterf het in die voorafgaande drie eeue. “In the fourth and fifth centuries Christians probably killed more of each other than had been killed by the pagans in the previous three centuries” (Hunt 2004:223).

‘n Mens sou ook kon sê dat die kerklike vergaderings van die vierde en vyfde eeu die fokus verplaas het van Jesus en sy prediking na die kerklike prediking oor Jesus. Die evangelie van Jesus het die evangelie oor Jesus geword.
4. Die evangelie oor Jesus
Die onderstaande diagram wat uit vyf pentagone (vyfhoeke) bestaan, vat die vyf hoofmomente van die evangelie wat in die Westerse Christendom ontwikkel is, mooi saam. Ek noem dit ook die meesterverhaal van die Westerse Christendom (Spangenberg 2015). Wat ‘n mens in ag moet neem, is dat teoloë wat die verhaal ontwikkel het, nog nie van die uitdyende heelal en evolusionêre biologie kennis gedra het nie.

Pentagoon

Die vyf hoofmomente van die Christelike meesterverhaal

(kloksgewys te lees)

Die evangelie wat kerke verkondig (oftewel die meesterverhaal van die Westerse Christendom) begin met die kernwaarheid dat die Drie-eenheid die ganse kosmos (die drieverdieping-heelal) gemaak het (pentagoon 1: skepping). In hierdie kosmos is die aarde een van die vernaamste skeppingswerke. Dis immers die ruimte vir plante, diere en mense (die kroon van die skepping). Alles was aanvanklik perfek en afgerond, maar dan tree die Duiwel na vore en verlei die vrou. Sy oortree die verbod om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet. Sy gee ook aan Adam van hierdie verbode boom se vrugte en só moet ook hý die straf vir haar onbesonne daad dra. Deur hierdie daad van ongehoorsaamheid versteur hulle hul verhouding met God, maar dis nie al nie — hul ganse nageslag ly onder hierdie daad. Elke kind wat later gebore word, is besmet met die erfsonde. Hulle word almal “in sonde ontvang en gebore en leef onder God se toorn.” Ons kry hier reeds met die tweede kernwaarheid te doen — die sondeval (pentagoon 2: sondeval). Hierdie oortuiging berus natuurlik op ‘n verkeerde interpretasie van Genesis 2–3. Daardie hoofstukke handel nie oor ‘n sondeval nie, maar oor die feit dat Eva en Adam kennis verkry het deur die toedoen van ‘n baie bekwame en wyse dier. Hulle het geëet van die Boom van Kennis en nie van die Boom van Lewe nie! Het hulle vir laasgenoemde gekies sou hulle onsterflik gewees het soos die gode. Maar nou is hulle egter so wys soos die gode.

Ek haal uit die Heidelbergse Kategismus (1563) aan om die belangrikheid van hierdie kernwaarheid (die erfsonde) vir die res van die meesterverhaal, te onderstreep en om te wys hoe vervleg die verskillende momente van die verhaal is:

Vraag 7: Waar kom hierdie bedorwe aard van die mens dan vandaan?

Antwoord: Uit die val en die ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die paradys waar ons natuur so bederwe is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, sekerlik nie; maar Hy vertoorn Hom verskriklik oor die aangebore sowel as die werklike sondes en wil dit deur ‘n regverdige oordeel tydelik en ewiglik straf soos Hy gesê het: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Die sondeval van Adam en Eva wat hul en hul nageslag se verhouding met God versteur en daartoe gelei het dat alle mense wat daarna gebore is, sterf, word deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding opgehef. Jesus Christus dra met sy kruisdood die straf wat alle mense toekom. Hý sterf namens ál die mense en in hul plek onder God die Vader se toorn. Hy versoen mense weer met God en herstel sodoende die breuk wat tussen God die Vader en die mensdom ontstaan het (pentagoon 3: Jesus Christus & verlossing). Maar meer nog, Hy oorwin ook die dood deurdat Hy uit die graf opstaan. Die opstanding van Jesus Christus word dan ook voorgehou as die eerste vrug van die herstelde skepping (pentagoon 4: opstanding & hemelvaart).

In Sondag 5 (vraag en antwoord 12–19) van die Heidelbergse Kategismus beklemtoon die opstellers dat nie enige persoon namens alle mense aan die kruis kon sterf nie. Dáárdie persoon moes ware God en ware mens wees. Hy moes nie deel hê aan die erfsonde en die erfsmet nie, maar moes tog ‘n mens soos alle ander mense wees. Willie Jonker werk hierdie oortuiging in detail uit in sy boek Jesus, die Middelaar (1977). Jesus Christus is deur die Heilige Gees in ‘n maagd verwek sodat Hy volledig mens kon wees — uitgesonder die sonde.

Die mense van daardie tyd het geglo dat vroue slegs maar as houers opgetree het vir die saadbabatjies wat mans in hulle ingeplant het. Hulle het nie geweet dat vroue ook ‘n deel bydra tot die verwekking van kinders nie. Daardie siening sou eers in gedrang kom toe ontdek is dat vroue eierselle het wat deur mans se sperms bevrug moet word. Die skrywers van die Bybel en die opstellers van die geloofsbelydenisse het geen snars geweet van die moderne biologie en ons kennis van die menslike liggaam nie.

Aangesien die Heilige Gees vir Maria ‘n saadbabatjie gegee het, is hierdie kind nie met die erfsonde besmet nie. Hy word dus nie “in sonde ontvang en gebore” soos die res nie. Hy is dus sondeloos! Só het hulle geredeneer. Jesus kon as die ware middelaar tussen God en mens optree; die straf vir almal se sondes (erfsonde én werklike sondes) dra, en uiteindelik die dood oorwin. Jesus keer dus die gevolge van die sondeval om en herstel sodoende die skepping in sy oorspronklike toestand — ‘n skepping waar dood afwesig is en harmonie weer bestaan.

Die opstanding (pentagoon 4: opstanding & hemelvaart) word beskou as die eerste tekens van die herstelde skepping (terug by pentagoon 1: skepping — maar nou die herstelde skepping). Die opstanding verkondig — in die woorde van Flip Theron — “God se somer kom.” Ons is op pad na die herstelde skepping! Die skepping sal egter eers finaal herstel word wanneer Jesus Christus na hierdie aarde terugkeer (pentagoon 5: wederkoms & eindoordeel) daarom sing Afrikaanssprekende Christene graag die lied “Ek sien ‘n nuwe hemel kom, ‘n aarde nuut en vry …” (Lied 602). Wanneer Jesus terugkeer, sal God hom as regter aanstel om alle mense te oordeel. Diegene wat Jesus en sy verlossing nie aanvaar het nie, sal die ewige straf indie hel tegemoet gaan. Diegene wat egter die verlossing aanvaar het, sal ‘n wonderlike toekoms tegemoet gaan. Hulle sal die nuwe Jerusalem bewoon wat vanuit die hemel na die nuwe aarde sal neerdaal.

Philip Kennedy (2006:ix) tipeer hierdie meesterverhaal as die “Augustiniaanse paradigma” van die teologie en die kerk en hy vat dit soos volg saam: “Im sum, the three pillars of Christinity‘s conventional account of human destiny in relation to God are the doctrines of humanity‘s Fall, engineerde by Adam and Eve; Redemption wrought by the self-sacrificing death of Jesus Christ; and the future Judgement of the enitre human race. The entire latice of traditional Christian doctrine can be condensed into a slogan of two words: ‘Jesus saves’.”

5. Die evangelie van Jesus

Wanneer ons die eerste drie evangelies (Markus, Matteus en Lukas) noukeurig bestudeer, blyk dit baie gou dat Jesus nêrens die soort verhaal verkondig wat Christelike teoloë tradisioneel aan mense voorgehou het en steeds voorhou nie.

Jesus verkondig nêrens in die eerste drie evangelies dat hy gestuur is om homself as ‘n offer aan die kruis te laat spyker sodat die mensdom weer met God die Vader in ‘n goeie verhouding kan leef nie. Die enigste evangelie wat naastenby hierdie boodskap verkondig, is die vierde evangelie — die evangelie van Johannes. Maar hierdie evangelie is geskryf teen die einde van die eerste eeu — dit wil sê, sewe dekades na Jesus se kruisdood toe daar reeds ‘n breuk tussen Christene en Jode plaasgevind het en die Christene hul eie koers ingeslaan het. Waar die vroeë kerk hoofsaaklik uit Jode bestaan het, het dit teen hierdie tyd meer uit bekeerlinge uit die Griekse wêreld bestaan. Dit is moontlik die rede waarom die Johannesevangelie so dikwels van “die Jode” in negatiewe terme praat.

Om die stelling dat Jesus nie die verlossingsboodskap van die kerk verkondig het nie verder te onderbou, sou ‘n mens ook na Jesus se voorspellings van sy kruisdood in die Markus-evangelie kon kyk. Hierdie voorspellings vind ons in Markus 8:31, Markus 9:31 en Markus 10:32–33. In geeneen van hierdie voorspellings maak Jesusdaarvan gewag dat sy sterwe aan die kruis die mensdom van God se toorn gaan red en hulle weer met God sal versoen nie. ‘n Gerekende Rooms-Katolieke Nuwe-Testamentikus skryf soos volg hieroor: “What is especially noteworthy in all these passages [Mark 8:31; 9:31; 10:33–34] is that there is no saving significance attributed to Jesus‘ death, no idea of vicarious sacrifice. The death of Jesus is simply predicted; it has no positive value” (Meier 1991:102).

Vroeë teoloë het wel gedagtes in Paulus se briewe gevind wat daartoe bygedra het dat so ‘n omvattende verlossingsverhaal ontwikkel is. Neem maar as voorbeeld sy boodskap van ‘n eerste Adam en ‘n tweede Adam in Romeine 5:12–21. Maar Paulus het Jesus nie geken nie en was ook nie vertroud met die boodskap wat hy verkondig het nie. Oor Paulus en Johannes en die gemeentes wat hulle tot stand gebrng het, skryf Geza Vermes soos volg: “By the end of the first century, Christianity had lost sight of the real Jesus and of the original meaning of his message. Paul, John and their churches replaced him by the Christ of faith” (2010:30).

Hoe moet ons dan Jesus se boodskap verstaan? Sy boodskap het gewentel om die “koninkryk van God”. Jesus se “intreepreek” soos ons dit in Markus 1:14–15 vind, wys vir ons wat die kern van Jesus se boodskap is. Hy stel die koninkryk van God teenoor die koninkryk van die Romeine — meer korrek die keiserryk. Hy verkonding aan mense dat as God in Palestina sou regeer het, die wêreld anders sou gelyk het. Verarming, onderdrukking en uitbuiting sou nie bestaan het nie. Jesus se prediking oor God se koninkryk is na regte politieke prediking. Anders gestel: dit het definitief politieke implikasies.

Daar is meer en meer Nuwe-Testamentici wat deesdae dié oortuiging deel en dit in hul publikasies beklemtoon. Ek haal slegs enkeles aan.

Bruce Malina skryf soos volg in sy boek The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God in Mediterranean Perspective: “The proclamation of the kingdom of God meant at least that the God of Israel would be taking over control of the country soon. The phrase ‘kingdom of God‘ is a descriptive and concrete way of saying ‘theocracy‘” (2001:1).

Anthony le Donne skryf op sy beurt in sy boek Historical Jesus: What can we know and how can we know it? die volgende: ―Jesus was preaching about theocracy to an oppressed people. In Roman-occupied Galilee, this was a dangerous sermon. In a land where Caesar was considered divine, the ‘good news‘ of God‘s kingdom meant ‘bad news‘ for Caesar” (2011:69).

Jesus het aan die kruis gesterf nie omdat God die Vader dit gewil het of omdat Hy die mensdom weer met Hom wou versoen nie. Jesus sterf aan die kruis omdat die Romeinse owerheid in Palestina sy boodskap goed verstaan het. Jesus sterf die dood van ‘n politieke rebel. Die opskrif bokant die kruis was as spot bedoel. Die Romeinse owerheid wou dit by die Jode tuisbring dat wie Rome uitdaag met sy lewe sal boet. Hulle sê as ‘t ware: “As julle gereken het julle het ‘n koning — daar hang hy aan ‘n Romeinse kruis.”

Heelwat van die vroeë Christene het Jesus se boodskap wél goed verstaan en daarom het hulle groepe tot stand gebring waar rang en stand nie belangrik was nie. Hulle het gemenskappies gevorm waar mense vir mekaar omgee en die nodige lewensmiddele met mekaar deel.

6. Wat maak ons vandag met sy boodskap?

Daar is sommige mense wat hul rug op die Christelike tradisie keer wanneer hulle deur die nuwere navorsing oortuig word. Maar ‘n mens hoef nie noodwendig hierdie pad te loop wanneer jy besef dat die Christelike meesterverhaal ‘n skepping van gewone mense is nie. Ek meen dat ‘n mens steeds iets met die boodskap van Jesus kan doen. Ek hou byvoorbeeld van die wyse waarop Lloyd Geering met die Christelike tradisie omgaan. Hy vernuwe dit en werk mee aan ‘n vergroening van die Christelike geloof. In sy boek Coming Back to Earth: From gods, to God, to Gaia skryf hy soos volg hieroor (Geering 2009:95):

If Christianity is to respond to the challenge contained in the manifesto issued by the ecological scientists, it must put its house in order. It must first reject completely the ancient expectation of a final Armageddon and the literal return of Jesus Christ. Then it must replace this by an appreciative understanding of the real crisis facing humankind – the ecological crisis – and initiate a positive response to it.

En dan hou ek ook van John Hunt se standpunt soos verwoord in sy boek Bringing God Back to Earth (2004) wanneer hy sê:

We‘re only intermittently able to grasp the principle that good religion is based on love and life rather than separation and death, on relationship and respect rather than power and glory. The Jeremiahs and Ezekiels of our time, the prophets of today, are those telling us to repent of what we‘re doing to the rest of creation and change our ways or we as a species won‘t make it through.

 

 

Bibliography Charlesworth, James H. (ed.) 1991. Jesus’ Jewishness: Exploring the place of Jesus in Early Judaism. New York: Crossroad.

Den Heyer, Cees J. 2003. Van Jezus naar Christendom: De ontwikkelsing van tekst tot dogma. Zoetermeer: Meinema.

Geering: Lloyd 2009. Coming Back to Earth: From gods, to God, to Gaia. Salem Polebridge.

Hunt, John 2004. Bringing God back to Earth: Confessions of a Christian Publisher. Winchester: O Books.

Jonker, Willie 1977. Jesus, die Middelaar. Pretoria: NH Kerkboekhandel.

Le Donne, Anthony 2011. Historical Jesus: What can we know and how can we know it? Grand Rapids: Eerdmans.

Malina, Bruce J. 2001. The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God in Mediterranean Perspective. Minneapolis: Fortress.

Meier, J.P. 1991. Reflections on Jesus-of-history research today. In Charlesworth 1991:84–107.

Spangenberg, Izak (Sakkie) J.J. 2015. Die Belharbelydenis, die Bybel en Jesus van Nasaret.

http://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/12/LitNet_Akademies_12-3_SakkieSpangenberg_607-638.pdf (besoek op 20 Mei 2015).

Theron, Phlip 1984. God se somer kom. Kaapstad: Lux Verbi.

Vermes, Geza 2010. The Real Jesus: Then and now. Minneapolis: Fortress.