Midrandbyeenkoms: 4 Junie 2017

Waarom sou ‘n professor in Antieke Studies ‘n lesing aanbied oor die impak van plastiek op ons planeet? Omdat so baie goeie dinge uit jeugtydse belangstellings en passies voortvloei. Nee, nie soos Donald Trump se soort passies nie, inteendeel… dit sou juis ‘n goeie ding gewees het as die huidige President van Amerika (die grootste koolstofverbruikers) in so ‘n lesing sy sit kon kry

Pieter se lesing was “‘n beknopte skeikunde-les” wat een en almal geboei het. ‘n Verwysing na sy kindertydse chemie-boek (waarvoor hy ‘n jaar lank gespaar het!), waaruit hy homself destyds geleer het om plasiek te maak, klink deesdae uiters ironies in die lig van die vernietigende impak wat plastiek oor tyd op die mens en omgewing maak.

In Secrets of Chemistry (1966) maan die outeur dat die maak van plastiek –toe nog ‘n nuutjie – ‘n uiters moeilike proses is en meer nog, dat die hidroverbindings wat in die toerusting agterbly feitlik onmoontlik is om skoon te kry! …wat hom vandag laat vra: “Hoekom máák ‘n mens dit?!”

In vele opsigte is plastiek as ‘n “wonderstof” beskou, al het mense se afhanklikheid van die geriefsprodukte soos ‘n verslawing geword aan ‘n soort ‘alomteenwoordige god’. Vandag is daar sowat drie miljoen verskillende soorte plastiek en polimere (sellulose, keratien, gom) en poliëtileen. (Lees gerus na, oor die studie van Michael Skinner (Universiteit van Wisconsin), ‘Environmental epigenetics affects disease, evolution‘).

Vir ontkenners van menslike impak op die omgewing het Pieter eenvoudig nie genoeg woorde nie.

Die petrochemiese bedryf ‒ alles van ru-olie, verskillende smeermiddels tot ander gebruiksmiddels van plastiek soos die gewilde weggooibekertjies van poliëtileen (wat in die herwinningskategorie 6 sorteer en karsogeniese gasse soos etileen en bensien afgee as dit brand) is seker die grootste besoedelaar van ons land, see en lug. Weggooigoed en wegsteekgoed (soos hitte-isolasie in geboue) het ‘n lewenskultuur geword met die leuse, ‘Out of sight, out of mind’.

Die mens gebruik jaarliks agt tot tien miljard ton koolstof en die gevolglike besoedeling lei tot die vernietiging van plant en dier. Koolstofhidroksied word afgebreek deur ensiemes wat onttrek word uit spesifieke soorte plante in tropiese woude. ‘n Ander ‘natuurlike’ manier van afbreking waarmee geëksperimenteer is, is waswurms wat aan polistireen vreet, dieselfde waswurms wat onlangs ‘n plaag geword het in byekorwe se was en daartoe bygedra het dat die byepopulasie wat reeds bedreig word, deels deur petrochemiese stowwe, verder afneem! Soos by waswurms, skei meeltorwurms se monddele ook ‘n ensiem af wat polistireen afbreek. Daarvoor het ‘n mens 300 000 ton wurms nodig om drie gram polistireen te vreet!

Vandag weet ons dat die natuur se sonlig en water nie veel effek op die afbreek van plastiek het nie en dat enige menslike poging om dit op molekulêre vlak af te breek, eintlik  net kleiner deeltjies maak wat verder versprei.

Die grootste hoeveelheid weggooiplastiek beland in drinkwater en oseane waar reuse ‘rommelhope’ (“garbage packages”) reeds gevorm het en besig is om die Noord-Atlantiese oseaan se plankton, wat vir meer as 50% van die atmosfeer se suurstof verantwoordelik is, te vernietig.

Koolstofvesel, gemaak van koolstofdraadjies geset in ‘n epoksie en gebak in hoëhitte-oonde, is lig, baie hard en onvernietigbaar. Dit is deesdae ‘n gewilde materiaal waarvan renmotors en vliegtuigdele, soos die romp van die nuwe Boeing 787 Dreamliner vervaardig word.

Onlangs is ‘n plastiekglomeraat in klip aangetref wat waarskynlik dui op ‘n studiegroep van wetenskaplikes dat die aarde ‘n nuwe geologiese era ingaan, genaamd die Antroposeen. Dit word beskryf as die geologiese era waarin die mens by die natuur oorgeneem het as die hoofdryfkrag agter globale verandering.

Voor watter soort uitdagings plaas dit die mens? Wat is die eerste oorwinning wat ons moet maak?

Ons sal eerstens ons redelikheid moet herwin. Rede is nie ‘n god nie; dis ‘n kognitiewe deel van elke mens. Besin oor wat werk is, watter waardes ons dryf. Erken die kapitalitiese mite dat alles oor wins en persoonlike (geldelike) voordeel gaan. Erken ons verweefdheid met ander mense en wêrelddele. Doen ons genoeg moeite met ons opvoedingstaak, of werk ons on-kunde in die hand? Wat moes ons kerke en skole éintlik gedoen het ten opsigte van etiese opvoeding? Wat nodig is, is nie méér wapens en oorloë nie, maar ‘n revolusie in Opvoeding ‒ beter wetenskap, beter boeke. Méér filosofie, geskiedenis, biochemie!

Ons sal ons verantwoordelikheid moet besef en opneem. Stop die ‘slow violence’, die slagting van die natuur ‒ ons toksiese lewenstyl. Kies pro-aktiewe politici wat nie traag is om in langtermynprojekte te belê nie. Ontmasker populistiese leiers wat deel is van die probleem. Dra die boodskap oor op elke moontlike manier.